In die nagmaal ontvang ons die voedsel vir die lewe oppad na die nuwe hemel en die nuwe aarde!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2012-02-19
Text: 
NGB 35
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – NGB, artikel 35

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Barak Obama, die president van Amerika het nodig om te eet. Die koningin van Nederland het nodig om te eet. Die staatspresident van Suid-Afrika het nodig om te eet. Die koningin van Engeland het nodig om te eet. Elke mens het ‘n liggaam wat met gewone, aardse voedsel onderhou moet word, selfs die magtigste en mees invloedryke mense op aarde. Of: dalk juis die magtigste en mees invloedryke mense op aarde. Dit is immers hulle wat die tempo en die druk van ‘n propvol program met waardigheid moet kan volhou; hulle kan nie sommer net vakansie gaan hou nie, hulle kan nie eenvoudig siekverlof vat nie. Nee, die konings en koninginne van hierdie wêreld moet kan volhou!

Nou, broers en susters, die christen het buiten die gewone, liggaamlike lewe ook nog ‘n ander lewe in hom. Volgens artikel 35 is daar in die christen ook nog ‘n geestelike en hemelse lewe, die lewe van die wedergeborene, wat God in ons werk deur die Woord van die evangelie. En vir daardie lewe gee God óók kos – geestelike en hemelse kos. En ons het dit nodig, broers en susters, want konings en koninginne moet immers kan volhou! Ja, dit is wat ons is! Christus het van ons konings en priesters gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers (Openb. 5:10). En daarvoor is die brood en die wyn van die nagmaal onmisbaar. Die nagmaal is die kos van konings en koninginne wat oppad gaan na die nuwe hemel en die nuwe aarde. Die nagmaal is koningskos vir die geestelike lewe!

Tema: In die nagmaal ontvang ons die voedsel vir die lewe oppad na die nuwe hemel en die nuwe aarde!

  1. Die Lam word ‘n Leeu
  2. Die Leeu bly ook ‘n Lam

 

1. Gemeente, ons belydenis dra duidelik die spore van die tyd waarin dit opgestel is. En dit blyk in besonder in artikel 35, wat gaan oor die nagmaal. Hier kom na vore watter sentrale rol die nagmaal in die eeu van die Reformasie gespeel het. As ons vandag opnuut ‘n belydenis sou moes opstel, sou ons hoogswaarskynlik nie so baie aandag daaraan bestee het nie, eenvoudig omdat dit ‘n minder sentrale strydpunt in ons tyd is. Maar, let wel, dit beteken nie dat hierdie uitgebreide behandeling vir ons sy relevansie verloor het nie. Inteendeel, in hierdie behandeling, waarin veral die stryd teen die Roomse kerk na vore kom, lê daar vir ons ‘n beginsel wat vandag nog steeds baie belangrik is! Kom ons kyk weer vinnig wat die kern van die stryd tussen Rome en die Reformatore was…

Volgens Rome verander die brood en wyn fisies in die liggaam en bloed van die Here Jesus – ons het waarskynlik almal al hiervan gehoor. Wanneer die priester die woorde uitspreek “dit is my liggaam” (in Latyn), dan vind daar een of ander bonatuurlike verandering plaas, wat met ‘n groot woord ‘transsubstansiasie’ genoem word. En omdat die brood en wyn fisies verander in die liggaam en bloed van Christus, daarom is die breking van die brood en die vergieting van die wyn elke keer weer ‘n offer! Wat Christus destyds aan die kruis gedoen het, dit herhaal homself by elke viering van die mis (die Roomse nagmaal). Elke keer weer gee Christus Homself oor soos ‘n Lam wat na die slagplek gelei word.

 

Maar… is dit nou nie wonderlik nie? Christus, so naby aan ons! Hy kom plant op dié manier sy kruis in die middel van ons lewens! Word die offer van Christus op dié manier nie ‘n geweldige werklikheid nie? Vergelyk dít nou met wat óns glo van die nagmaal. Christus is, volgens ons nagmaalsleer, liggaamlik in die hemel aan die regterhand van die Vader – sjoe, dit is nogal ‘n groot afstand, ‘n groot afstand tussen sy glorie in die hemel en ons moeitevolle bestaan hier op aarde. En verder vier ons aan die nagmaal maar net die gedagtenis aan sy dood – ja maar, dit was dan so lank gelede! Dit wil dus voorkom asof die nagmaal spreek van ‘n Christus wat hoog en ver is, terwyl die Roomse mis spreek van ‘n Christus wat tot by ons neergedaal het. Sou ons nie almal geneig wees om die Roomse weergawe van die nagmaal te verkies nie?

Maar kom ons dink bietjie verder, broers en susters. Dink bietjie hieraan: die nagmaal is nie slegs bedoel vir daardie oomblik van die viering nie, maar dit is bedoel vir die lewe van elke dag; elke dag – by my werk, by die skool, by die huis – is ek veronderstel om die krag en waarde van die nagmaal te kan beleef. Maar wat het die Roomse lidmaat vir die lewe van elke dag aan ‘n Christus wat elke dag weer geoffer moet word? Elke dag opnuut moet Christus deur sy offer die weg na God oopmaak; dus, elke dag opnuut staan die Roomse gelowige weer voor dieselfde muur wat hom van God skei; elke dag opnuut moet hy die sleutel gaan haal om die hemel oop te sluit, net om die volgende dag maar weer te vind dat die hemel gesluit is. Nooit kom hy hiermee klaar nie, nooit het hy vrye toegang tot God nie, vir die grootste deel van sy tyd hier op aarde lewe hy onder ‘n geslote hemel. Ja, dan mag dit vir die Roomse miskien voel asof hy Christus vir daardie oomblik van die misviering baie naby aan hom het, maar dit is enkel en alleen gesigsbedrog. Want wat maak hy wanneer hy kort daarna met moeite sy werk moet gaan doen, wat maak hy wanneer hy swaarkry, wanneer hy ‘n geliefde aan die dood moet afstaan, of wanneer hy probleme in sy gesin of in sy huwelik of by die werk ervaar? Ja, wat dan? Waarheen gaan hy dan? Want dan is Christus skielik baie, baie ver. Dan is Christus maar net ‘n offer wat nog wag om gebring te word, nutteloos vir daardie oomblik in sy lewe wanneer hy dit so bitter nodig het…

 

En ons dan? Ons sê Christus het eenmaal aan die kruis gesterf en Hy is nou in die hemel – bied dit enigsins iets méér vir die lewe van elke dag as wat die Roomse lidmaat het? Wel, gemeente, om vir jou iets te wys van die waarde van die nagmaal, soos wat ons dit op grond van die Bybel verstaan, het ons saam uit Openbaring 5 gelees, want daarin lê vir ons ‘n belangrike aanwysing met Wie ons te make het in die nagmaal, maar vervolgens ook vir ons gewone lewens. Kom ons kyk…

In Openbaring 5 sien Johannes in God se regterhand ‘n boekrol. Hierdie boekrol is van binne en van buite beskrywe, wat ‘n aanduiding is dat alle beskikbare skryfruimte benut is. Dit was ongewoon in daardie tyd om ‘n boekrol aan beide kante te beskrywe, en dit maak ons nuuskierig na die inhoud daarvan. Wat is so belangrik dat alle beskikbare ruimte opgebruik moet word? Maar die inhoud bly vir eers nog ‘n geheim, want die boekrol is goed verseël met sewe seëls. Die inhoud is skynbaar topgeheim. En tóg is dit die bedoeling dat hierdie geheime inhoud bekend moet word, want die boekrol word in God se regterhand aangebied aan iemand wat waardig is om dit oop te maak. Maar – helaas! – niemand beskik oor die vereiste bevoegdheid om die boekrol oop te maak en die inhoud daarvan te lees nie. En wanneer hierdie realiteit tot Johannes deurdring, begin hy huil…

 

Kom nou, Johannes, is dit nou nie ‘n bietjie oordrewe nie!? As die boek toebly, nou ja, dit is mos ook nie die einde van die wêreld nie!? Of is dit dalk wel? Ons moet onthou, gemeente, waarvoor Johannes hier in die hemel is. Volgens hoofstuk 4:1 het Johannes gekom om die onthulling van die toekoms mee te maak; ons lees daar: “Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur.” In hierdie einste boekrol vind ons dus die openbaring van wat in die toekoms gaan gebeur; die hele geskiedenis vanaf Jesus se hemelvaart tot by die wederkoms – ook jou en my eie lewensgeskiedenis – word in hierdie boek beskrywe. En as hierdie boek toebly, wat word dan van die geskiedenis, en wat word dan van God se ingrype in die geskiedenis? Nee, broers en susters, die boek kan en mag nie toebly nie; dit sou inderdaad rede wees om grootliks te huil! Want dit sou beteken dat die hele geskiedenis eenvoudig aan die noodlot oorgelaat word – niemand wat meer daaroor beheer het nie, niemand wat meer die geskiedenis lei na sy bedoelde voltooiing nie. Konings en koninginne moet nou maar self hulle pad deur hierdie lewe probeer vind. Dit sou inderdaad ‘n groot ramp wees!

Maar dan sien ons in vers 5 hoe Johannes deur een van die vier-en-twintig ouderlinge toegeroep word om op te hou huil. Hoekom? Want iemand het oorwin! Daar is dus ‘n kandidaat wat voldoen aan die eise om die boekrol, met die verloop van die geskiedenis daarin, te kan oopmaak. En kyk hoe Hy in ves 5 genoem word: “die Leeu wat uit die stam van Juda is…” Hier word die profesie van vader Jakob oor sy seun Juda in Genesis 49 in herinnering geroep. Uit die stam van Juda sal immers ‘n Koning en ‘n Redder voortkom wat so sterk is soos ‘n leeu. En nou hoor ons in Openbaring 5 dat hierdie profesie werklikheid geword het; die Leeu het gekom, en Hy het oorwin! Verder word Hy ook nog genoem: die wortel van Dawid. Let wel, Hy kom nie uit die wortel, Dawid, nie. Nee, Hy is self die wortel van Dawid. Die Messias wat dus uit die stam van Juda voortgekom het, uit die nageslag van Dawid, Hy is nie slegs ‘n nákomeling van Dawid nie, maar ook sy vóórloper. Hy is die Ewige wat aan Dawid voorafgaan.

 

Gemeente, dit is vir almal duidelik met Wie ons hier te make het. Die ewige Seun van God, wat die wortel is waaruit die koningslyn van Dawid sou voortkom, Hy het in sy menswording en vernedering sélf ‘n nákomeling van Dawid geword. Hy het mens geword uit die geslag van Dawid en het as sondelose Lam die sondes van die wêreld gedra! Hy het aan die kruis gehang, Hy het neergedaal na die hel, Hy het gesterf en is begrawe – ter wille van ons sondes! Máár, broers en susters, toe was sy werk ook klaar! Geen herhaling was nodig nie: dit is volbring! En dit is vanweë daardie voltooide werk aan die kruis, dat ons in Openbaring 5 oog in oog staan met die Leeu van Juda, die Koning van die konings en die Heer van alle here! Die Lam het die sonde en die dood oorwin, en daarom mag Hy as Leeu nou volledige beheer neem van die geskiedenis tot aan die einde. Die Lam het ‘n Leeu geword!

En, gemeente, dít is wat ons aan die nagmaal mag vier, in teenstelling tot die Roomse mis. Die Roomse sê: “Ek het Christus naby my, elke dag offer ek Hom weer.” Nee, verkeerd! Christus het eenmaal as Lam gesterf, en daarom mag ons sê: Die Leeu – Christus! – regeer oor die hele geskiedenis, ook oor myne, ook oor dié van my geliefdes. Hy is aan die regterhand van die Vader in die hemel; dáár regeer Hy nou oor alle geskiedenis. Ons dien dus nie ‘n offerlam wat gereed staan om geoffer te word nie, een waarvan ons die voordeel en nut nog moet ontvang nie. Nee, ons dien Hom wat reeds gesterf en opgestaan het, en daarom mag ons vandag die seën daarvan ervaar, want Hy regeer! Daar is niks in die geskiedenis wat sy heerskappy ontgaan nie. Sterker nog: Hy máák geskiedenis – Koninkryksgeskiedenis!

 

Alles wat hier op aarde gebeur, is die geskiedenis wat Christus in hierdie wêreld maak. Wanneer Libië ‘n nuwe regering kry, dan maak Christus geskiedenis tot verwesenliking van sy Koninkryk. Wanneer amper 400 gevangenes in ‘n tronk in Honduras doodbrand, dan maak die Leeu van Juda geskiedenis. Wanneer ons staatspresident die parlement open, dan gebruik die Seun van God dit om die geskiedenis te rig na sy doel. Wanneer ons deur moeilike tye gaan, siekte en huweliksprobleme en finansiële probleme ervaar, geliefdes verloor – ja, broers en susters, hoe moeilik dit alles ook al mag wees, dan bely ons steeds: dit is alles deel van die weg na die hemelse Koninkryk. En die Seun van God het aan die kruis die reg verwerf om dit alles volmaak te lei en te beheer.

En só kan ons na die gebeure van elke dag in ‘n ander lig kyk; ons lees nou die koerant met ‘n dieper begrip. Die antwoord wat ons kan gee op die aanhoudende televisie-nuus oor die skokkendste wêreldgebeure, vind ons in Christus se oopbreek van die sewe seëls wat jy in die hoofstukke ná Openbaring 5 kan lees: oorlogsperde galop oor die wêreld, die siele van die martelare roep voortdurend om wraak; ons sien aardbewings; die son word swart soos ‘n harige sak, en die maan word soos bloed. Ons weet dat die sterre gaan wyk en dat die hemel gaan wyk soos ‘n boek wat opgerol word. Dit alles gáán kom; terloops, dit is alreeds hier.

 

En daarom word ek getroos deur ‘n verhoogde Christus. My troos lê nie in ‘n Lam wat elke dag maar weer geslag moet word nie. My troos lê in die Leeu, wat vanuit die sentrum van sy Koninkryk alles regeer. Niemand sal hierdie Leeu van Juda onderkry nie, niemand sal sy volgelinge onderkry nie. Die geskiedenis is in sy hande. En daarom, broers en susters, soos wat die nagmaalsformulier sê, laat ons nie vaskyk in die sigbare tekens van brood en wyn nie, want dit is presies dit: gewone brood en gewone wyn! Maar laat ons in geloof ons harte ophef na die hemel, waar Jesus Christus aan die regterhand van die Vader is. Die wete dat Hy die wêreld en my lewe regeer, is soos kos vir die siel. Ek kan verder gaan, ek kan môre gaan lewe. Ek is nie bang vir Dinsdag en Woensdag nie. Ek kan my werk by die kantoor gaan doen, en ook my huiswerk is deel van Christus se beheersing van die geskiedenis. Tuinwerk en kosmaak – alles is dit opgeskrywe in die boek van die geskiedenis. Gaan daarom vanaf die nagmaalstafel verder, broers en susters, en lewe! Want die Lam het ‘n Leeu geword, en Hy regeer tot heil van al sy kinders!

Vervolgens: Die Leeu bly ook ‘n Lam.

 

2. Op aanwysing van een van die ouderlinge kyk Johannes vervolgens om hom heen om te sien wie hierdie oorwinnaar is waarvan sopas gepraat is. En dan, reg in die sentrum van die hemelse troonsaal, sien hy ‘n Lam staan op wie almal gefokus is. Dit moes vir Johannes nogal ‘n verrassing gewees het: want hy soek na die Leeu, die koning onder die diere, en hy vind ‘n Lam, wat die spore van slagting dra. Hy het die krag van die Leeu verwag, maar hy vind die liefde en opoffering van die Lam. Gemeente, by Johannes se aanskouing van die Lam word as’t ware twee beelde inmekaar geskuif – die beeld van vernedering én die beeld van oorwinning. Enersyds is daar die tekens van slagting en van vernedering (“‘n Lam asof Hy geslag is”), maar andersyds ook die tekens van oorwinning, want hierdie Lam staan regop, en Hy het sewe horings as teken van sy krag, en sewe oë wat die hele aarde oorsien. Dit is ‘n unieke beeld: vernedering gevolg deur verhoging, heerskappy as gevolg van die offer. En dit is presies hoe Jesus Christus regeer: sy heerskappy is inderdaad ‘n heerskappy van liefdevolle selfopoffering. Hy is koninklik en tog ook kwesbaar, sterk en tog ook weerloos.

 

En, gemeente, hier leer ons iets baie belangriks oor die manier waarop die Leeu die wêreldgeskiedenis beheer en regeer. Ons het in die eerste punt gesien dat Hy die Leeu is wat alles lei en beheer, maar Hy doen dit nie deur in blindelingse krag alles voor Hom te verslind nie; hierdie Leeu maak nie misbruik van sy krag om sy doel te bereik nie. Die Koninkryk van die Leeu wat tog Lam gebly het, is in dié opsig anders as die koninkryke van hierdie wêreld. Die koninkryke van die wêreld soek daarna om naam te maak en hulleself te bevestig deur krag en deur geweld; dit gaan oor wie die meeste geld en die meeste wapentuig kan vertoon; en daarby probeer die koninkryke van hierdie wêreld aanhangers en burgers wen deur middel van allerhande wêreldse propoganda. Dit gaan oor magsvertoon, soos wat Iran die afgelope week weer gedoen het, deur met hulle skepe verby Israel se grense te vaar.

Maar, gemeente, die Leeu van Juda, Koning van die hemelse koninkryk, het op die mees unieke wyse sy koninkryk ingelui – nee, nie deur krag of deur geweld nie, maar deur selfopoffering. Hy het Homself gegee, Hy het Homself opgeoffer en sy eie bloed gestort. En hoe werf Hy nou burgers? Deur hulle te laat hoor en sien en proe wat Hy vir hulle gedoen het en hulle onder die indruk te bring van sy selfopoffering vir hulle. Ja, die Lam wat Leeu geword het, bly ook Lam; Hy bly die tekens van sy slagting dra tot in alle ewigheid. Nee, Hy word nie elke keer opnuut geoffer nie, maar dit wat Hy eenmaal gedoen het, bly sigbaar en tasbaar as herinnering vir al sy koninkryksburgers.

 

En daarmee is ook die uitnodiging vir ons vandag baie duidelik: kom eet in geloof van die brood en kom drink in geloof van die wyn, want daardeur kry jy deel aan My en aan my Koninkryk. Dit is wat artikel 35 ook sê: “so waarlik as wat ons die sakrament ontvang en in ons hande hou en dit met ons mond eet en drink en dit daarna ons lewe in stand hou, net so waarlik ontvang ons vir ons geestelike lewe in ons siele deur die geloof die ware liggaam en die ware bloed van Christus, ons enigste Verlosser.” Wie dus in geloof eet en drink, kry deel aan die Lam – aan sy vernedering, maar ook aan sy oorwinning en verhoging. Wie in geloof homself met die vernederde Lam wil assosieer wanneer ons nagmaal vier, mag vervolgens ook as oorwinnaar gaan lewe. Hy mag koning en priester wees, want dit is presies wat die Lam verdien het; Hy is, volgens Openbaring 5:9 en 10, geslag en het ons vir God met sy bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.

Broer en suster, moet jou dus nie skaam vir die Leeu, wat steeds Lam is nie. Want dit is jou behoud, by Hom vind jy die ingang na die grootste en mooiste en magtigste koninkryk wat daar ooit was. Gaan haal jou paspoort na hierdie Koninkryk by die Lam, en regeer vervolgens saam met die Leeu as koning! Wees priester en koning in jou lewe van elke dag. Offer jou as priester aan God in gebed en ‘n heilige lewenswandel, en regeer as koning oor die sonde wat reeds oorwin is.

 

Gemeente, dit is die wyse waarop Jesus Christus regeer en waarop Hy sy koninkryk vol maak met burgers. Ons mag daarom nie slegs spreek van oorwinning nie; nee, ons begin altyd by die vernedering, ons begin by die bloed, ons begin by die slagting, want dít is die manier waarop Christus mense trek. Dít is ook die manier waarop ons sendingwerk doen – ons dwing mense nie met geweld nie, ons forseer hulle nie om kerk toe te kom nie, ons getuig nie met stokke en gewere in ons hande nie; nee, deur middel van die verkondiging van die gekruisigde Lam, bring ons mense om deel te hê aan die oorwinningslewe met de Leeu.

Laat ons en alle mense daarom leer om aanbidders van die Lám te wees, sodat ons ook konings saam met die Leeu kan wees. En waar mooier om dit te sien en te beleef as aan die nagmaal. Wanneer ons daar van die brood eet en uit die beker drink, dan bewerk Christus dat ons sy liefde en genade en wêreldheerskappy kan voel en gryp. Hy maak die saligheid wat daar in Homself bestaan vir ons sigbaar en tasbaar. Kom beleef dit, konings en koninginne! Kom geniet van hierdie koningskos, en gaan lewe dan ook daaruit! ‘n Lewe van lof en aanbidding: “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid.”

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 23

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 123

Wetslesing + Sondag 38 (oor die vierde gebod)

Sing Ps. 92:1 en 6

Gebed

Teks: NGB, artikel 35

Lees: Openbaring 5

Sing Skr. 8:1 en 2

Preek

Amenlied Skr. 45:1, 8-10

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 9:1, 5 en 6

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)