Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.
Preek – Rigters 11
Geliefde gemeente,
Verlede week Sondagmiddag het dit in die prediking vanuit Hebreërs 11 gegaan oor Abel; hy was die eerste in die lys van geloofsvoorgangers. Nou, Abel is inderdaad die eerste, broers en susters, maar hy is beslis nie die laaste nie. Hebreërs 11 het nog baie ander name. Ja, daar is so baie dat die skrywer later nie eens meer die moeite doen om besonderhede by elke naam te voeg nie. Hy sê in vers 32: “Die tyd sal my ontbreek as ek moet vertel van al die mense wat deur die geloof koninkryke oorweldig het, geregtigheid uitgeoefen het en beloftes verkry het…”, en dan volg daar ‘n hele lys met name. En in daardie lys, half weggesteek tussen ou bekendes soos Simson en Dawid, vind ons die naam van die rigter Jefta. Jefta – in ere gehou deur die Gees van die geloof.
Maar dit is nie die enigste plek waar Jefta in ere gehou word nie. Nee, selfs ín die rigtertyd alreeds word daar in positiewe sin na hom verwys, naamlik deur Samuel, die laaste rigter. In 1 Samuel 12 gee Samuel verslag van sy werksaamhede, en dan sê hy in vers 11: “En die Here het Jerubbaal (dit is Gideon) en Bedan (‘n onbekende vir ons) en Jefta en Samuel gestuur en julle uit die hand van julle vyande rondom gered, sodat julle veilig gewoon het.” Jefta se opname in die lys van Hebreërs 11 is dus nie ‘n geval van iemand wat eeue later veridealiseer word nie; nee, selfs Samuel, ‘n jonger tydgenoot, het al geweet van die belang van Jefta se plek in die heilsgeskiedenis. Genoeg rede vir ons dus om, in ons behandeling van die boek Rigters, vandag vir ‘n oomblik by hierdie rigter stil te staan…
Tema: Jefta, stryder vir ‘n bedreigde erfenis!
- Geknelde land
- Bedoelde land
- Gelofteland
Lees Rigters 10:6-18
1. Gemeente, as u gedink het dat dit in die boek Rigters op ‘n stadium beter sal gaan, dat daar in hierdie boek een of ander opwaartse kurwe of positiewe ontwikkeling gaan wees, dan moet ek u helaas teleurstel. Die boek Rigters vertel ‘n geskiedenis van voortgaande agteruitgang en deformasie. Dit word net erger. En die konteks waarbinne Jefta as rigter moes optree, is ‘n besonder hartseer fase in Israel se geskiedenis. ‘n Mens sou dit nie regtig sê wanneer jy vers 6 van hoofstuk 10 begin lees nie: “En die kinders van Israel het weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here…” Want teen dié tyd ken ons al hierdie refrein – dis maar weer dieselfde ou verhaal. Maar wanneer ons vervolgens verder lees, dan besef ons hoe diep Israel in werklikheid in daardie tyd gesink het.
Dis reg, vroeër het die volk ook alreeds die Baals en Astartes gedien, maar nou het hulle buiten hierdie twee nóg vyf gode van die omringende nasies begin dien. In totaal dus sewe afgode. En interessant, wanneer die Here in verse 11 en 12 op Israel se hulpgeroep reageer, dan noem Hy teenoor die sewe afgode sewe groepe onderdrukkers waarvan Hy Israel in die verlede bevry het. Dit herinner ‘n mens aan die bekende lys van sewe nasies uit Deuteronomium 7:1 (die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaaniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete). Kyk maar na die papiertjie wat voor die diens uitgedeel is. Sewe vreemde gode, sewe onderdrukkende nasies, en tot op daardie stadium was daar ook presies sewe rigters. Sewe, die getal van volheid – hier nie in ‘n positiewe sin nie, maar as ‘n aanduiding van Israel se totale geestelike korrupsie.
En daarom is die toorn van die Here hierdie keer ook besonder swaar: “Daarom het die toorn van die Here ontvlam teen Israel, en Hy het hulle verkoop in die hand van die Filistyne en in die hand van die kinders van Ammon” (10:7). ‘n Dubbele onderdrukking dus – dit is die eerste keer dat dit in die boek Rigters gebeur! Israel het as’t ware in die middel van ‘n knyptang beland – vanuit die weste het die Filistyne gekom, en vanuit die ooste die Ammoniete. En dit is dan ook presies waaroor die volgende hoofstukke in die boek Rigters gaan – hoofstukke 11 en 12 gaan spesifiek oor Jefta se stryd teen die Ammoniete uit die ooste, en hoofstukke 13 tot 16 gaan oor Simson se stryd teen die Filistyne uit die weste. En dit was nie ‘n kwessie van éérs die Ammoniete en daarná, ná ‘n hele aantal jare van vrede, die Filistyne nie; nee, chronologies oorvleuel hierdie twee geskiedenisse mekaar. Gelyktydig en van weerskante word die volk van die Here deur vyande bedreig.
Dus, die sonde was swaar, die toorn was hewig, en die straf was verskriklik. Israel was voorwaar in die knel, ‘n geknelde land. Wat sou daar nog oorbly van die erfenis, die land, wat die Here aan sy volk gegee het? Sou hulle in hierdie knyptang, ingedruk tussen Ammoniete en Filistyne, fyngedruk word, verpletter word? Dít, gemeente, is die benarde toestand van Israel in die tyd van Jefta. Maar ook in sy persoonlike lewe moes Jefta intussen ‘n soortgelyke beknelling deurmaak; immers, sy eie (stief)broers het hom uit Gilead weggejaag omdat hy die seun van ‘n hoer was; hy was ‘n basterkind, en hulle wou hom daarom nie saam met hulle laat erf nie. Jefta moet vlug; hy word ‘n bendeleier in die land Tob. Sy eie, Godgegewe erfenis was, net soos die erfenis van die volk, onder ernstige bedreiging!
Broers en susters, só kan dit gaan in die lewe van God se volk. God se kinders, jy en ek, kan in die knel kom, ons kan in geweldige verdrukking kom vanweë die Here se straf oor ons ongehoorsaamheid en sonde. En hierdie beknelling kan so erg word, dat ons erfenis, ons kindskap, daardeur in gedrang kom. Die lewende verhouding met God word bedreig wanneer jy en ek die sonde in ons lewens ophoop asof dit die gewoonste ding in die wêreld is. Wanneer die Here Christus nie meer ons eksklusiewe en heelhartige aanbidding kry nie, wanneer ons naas God of in die plek van God ook nog ander gode het, dan word ons erfenis ernstig bedreig. En dan gaan dit nie net oor die erfenis van die ewige lewe eendag nie; nee, dan gaan dit oor die heerlike en onvervangbare lewe met die Here nou, vandag! Dan gaan dit oor die troos en die vreugde van kind-wees! Dis ons erfenis, dit is wat Christus vir ons verdien het. En dít kom onder geweldige druk vanweë ons sonde. ‘n Geknelde land, ‘n geknelde erfenis – dit is wat ons volharding in die sonde meebring. Moenie ligtelik daarmee omgaan nie!
Dit bring ons by ons tweede gedagte: bedoelde land.
Lees Rigters 11:1-27
2. Gemeente, daar is oorlog in die lug – die Ammoniete het laer opgeslaan in Gilead. Maar intussen het daar ook ‘n verandering by die volk gekom – hulle het hul skuld teenoor die Here bely en die afgode onder hulle uit verwyder. Vervolgens neem hulle met vertroue stelling in teen die Ammoniete. Ja, die erfenis word dalk bedreig, maar Israel gaan dit nie net weggee nie, hulle gaan daarvoor veg. En tog het Israel ‘n probleem, hulle is leierloos… Wie moet in hierdie oorlog die leiding neem? Eintlik was dit nie ‘n werklike vraag nie, want almal het geweet dat Jefta ‘n dapper held was, die mees geskikte persoon om hulle in die oorlog te lei. Maar ja, dis ‘n lastige situasie: nie te lank terug nie het hulle Jefta nog weggejaag, en nou het hulle hom weer nodig om hulle te help!? Jefta willig daarom ook nie sommer voetstoots in wanneer die leiers hom kom vra om hulle te lei nie – nee, eers is daar iets uit die verlede wat reggemaak moet word. Hy is nie daar om die kastaiings uit die vuur te krap, net om daarna weer verdryf te word nie. “As julle my laat terugkom om teen die kinders van Ammon te veg en die Here hulle aan my oorgee, dan moet ek julle hoof word”, sê hy in hoofstuk 11:9. Jefta was moontlik ‘n baster, maar hy was nogtans deel van die volk van God, hy het deel gehad aan die erfenis wat die Here aan sy volk gegee het. Daardie plek wou hy gelowig inneem. Plegtig en onder eed belowe die leiers dat Jefta hulle hoof sal word.
Dus, nou is almal reg vir die geveg…
Nee, tog nie heeltemal nie. Jefta was inderdaad ‘n dapper man, maar hy gryp nie onmiddellik na die swaard nie. Eers tree hy in onderhandeling met die Ammoniete; hy vra die voor die handliggende vraag: hoekom val julle ons eintlik aan? Wel, sê die koning van Ammon, omdat julle by die uittog uit Egipte my land gevat het, van die Arnon af tot by die Jabbok en tot by die Jordaan; gee dit dan nou in vrede terug (vers 13). Dit is ‘n ernstige beskuldiging… maar Jefta word nie so maklik geïntimideer nie; hy ken sy kerkgeskiedenis. “In die eerste plek, o koning, het ons nie jou land gevat nie – inteendeel, ons het die Ammoniete en Moabiete juis as broedervolke behandel; nadat hulle geweier het dat ons deur hulle land trek, het ons rondom hulle verbygetrek. In die tweede plek, o koning, die land wat ons in besit geneem het, was nie van die Ammoniete nie, maar van die Amoriete. En daarby was dit nie deur ons toedoen nie, maar ons het dit in besit geneem nadat hulle óns aangeval en ons hulle oorwin het. In die derde plek, liewe koning, het Gód ons hierdie land gegee. Dit is Hy wat ons dit toebedeel het. As jy nie tevrede is met jou land nie, dan moet jy maar met jou god, Kamos, daaroor praat. En ten slotte, dit is nou al driehonderd jaar ná die inname van die land, hoekom bring julle hierdie saak nou eers op?”
Sien u, gemeente, Jefta maak baie duidelik dat Israel se oorwinning en inname van dié betrokke gebied oos van die Jordaan die Here se werk is. Jefta ken sy heilsgeskiedenis, ook hierdie hoofstuk, uit sy kop uit. En selfs al het sy eie broers hom uit hierdie einste land verjaag, bly hy nogtans bely dat die Here dit aan Israel geskenk het. Dít is Israel se bedoelde land. So word dit ook pragtig in Psalm 136 besing: “Hy het koninge gedood wat geweldig was en groot; want sy goedertierenheid sal bestaan in ewigheid. Hy het voor sy volk gegaan – Og en Sihon neergeslaan; want sy goedertierenheid sal bestaan in ewigheid. En hul land is toe geheel aan sy Isr’el toegedeel; want sy goedertierenheid sal bestaan in ewigheid (Ps. 136:15-17 ber.). Hierop beroep Jefta hom, om daarmee aan die Ammoniete die boodskap te gee: julle het geen reg om ons aan te val nie. Hierdie stukkie heilsgeskiedenis is Jefta se weerwoord in die onderhandelingsproses met Ammon. Dit is ‘n weerwoord wat die historiese feite weerspieël, maar dit is ook ‘n weerwoord wat geloof weerspieël. Met hierdie woorde eis Jefta gelowig die erfenis op wat die Here uit genade aan sy volk gegee het. Dis waar, hierdie erfenis staan onder ernstige bedreiging, dit is ‘n geknelde land vanweë die sonde van die volk, maar by Jefta is daar geen twyfel oor die besitreg van hierdie erfenis nie. In geloof sê hy daarom vir die vyand: “Hou julle hande tuis, hierdie is ons land! Mag die Here, die Regter, vandag oordeel tussen die kinders van Israel en die kinders van Ammon” (vers 27).
Dit is wat die geloof doen, broers en susters. Dit eien homself die erfenis toe; dit mág en dit móét homself die erfenis toeëien! Ja, die Here gee aan sy kinders hulle erfenis, hulle deel. Ook ons het ons deel, ons bedoelde land – nog beter as Israel van ouds. Ons het naamlik ons erfenis in Christus, ons is kinders van die Vader en daardeur erfgename van die ewige lewe. Die Here géé dit vir ons! Maar leer by Jefta en kén jou erfenis – wéét wat God jou skenk in Christus, ken dit uit sy Woord. Ken die heilsgeskiedenis, die geskiedenis van die kruis en die opstanding van Jesus Christus. Moenie daaraan twyfel nie. En lê dan ook beslag daarop, eien dit jouself toe, maak dit deur die geloof jou eie. En spreek daarvan met oortuiging wanneer die vyand jou anders wil laat glo, wanneer mense jou wil laat twyfel aan jou kindskap, aan jou deelgenootskap aan Christus. Sê vir elkeen wat dít doen: “Ek weet verseker dat Jesus leef, Hy het my sonde uit liefde vergeef – dit is my erfenis, my kindsdeel!” Laat niemand, soos Paulus vir die Kolossense sê, laat niemand julle van hierdie prys beroof nie. Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie (Openb. 3:11).
Gemeente, ongehoorsaamheid en afval maak mense onverskillig met die Godgegewe erfenis, maar ware geloof maak mense heilig-jaloers oor die erfenis. Wanneer die ongelowige wêreld ons daarom na die rant van die samelewing wil skuif, wanneer hulle sê dat ons geen bestaansreg en geen plek hier het nie, wys hulle op die Regter wat sal oordeel. “Hy, die sterkte God, kies vir ons ons lot: Jakobs pronkjuweel, Kanaan word ons deel. Dit is aan sy kneg gunstig toegeseg” (Ps. 47:2 ber.).
En dan ons laaste gedagte: Gelofteland
Lees Rigters 11:28-40
3. Wanneer die onderhandelings met die Ammoniete misluk, word dit uiteindelik tyd vir oorlog. Dat die Here hieraan sy goedkeuring verleen het, blyk uit die feit dat die Gees van die Here op Jefta gekom het (vers 29). En dit is die Gees wat Jefta in beweging bring vir die stryd. Maar dan, net voordat die oorlog uitbreek, doen Jefta eers ‘n gelofte aan die Here: “As U werklik die kinders van Ammon in my hand gee, dan sal wat uitkom, wat uit die deur van my huis uitkom my tegemoet, as ek in vrede terugkom van die kinders van Ammon, aan die Here behoort, en ek sal dit as ‘n brandoffer bring.”
Nou, gemeente, baie is oor hierdie gelofte van Jefta geskryf, baie verwarrende dinge. Dit ís ook nie ‘n maklike gedeelte om te verstaan nie. En die kern van die verwarring lê waarskynlik by die misverstaan van die woord ‘brandoffer’. Het dit hier werklik gegaan oor ‘n offer wat met vuur verbrand moes word? Was dit werklik Jefta se intensie om die eerste persoon wat uit sy huis uitkom, op ‘n altaar te verbrand? En dit nogal teen die Here se uitdruklike verbod teen enige vorm van menseoffers (Lev. 18:21, 20:1-5, Deut. 12:31, 18:10)? Nee, gemeente, die kenmerkende van die brandoffer – in Hebreeus olah – is nie die aspek van verbranding nie, want dit het by die ander offers ook gebeur. Dit is nie wat uitgestaan het by die brandoffer nie. Die kenmerkende van die olah is eerder die aspek van algehele toewyding aan die Here. Want dit is wat by die olah gebeur het: by hierdie offer is elke denkbare deel van die offerdier op die altaar geplaas en in sy geheel verbrand. Hierdie aspek van die ‘totale’ kry ons by geeneen van die ander offers nie.
En op hierdie totale toewyding lê Jefta dan ook die klem. Vir hom gaan dit daaroor dat as die Here die Ammoniete volledig in sy hand oorgee – terloops, let op hoe Jefta se dogter in vers 36 hierna terugverwys wanneer sy sê dat die Here volkome wraak verskaf het op die kinders van Ammon – dus, as die Here die Ammoniete volledig in sy hand oorgee, dan gee hy die eerste van sy huisgenote wat uit sy huis uitkom volledig, as blywende besit, aan die Here. En dit is duidelik dat Jefta hierby aan ‘n mens gedink het, want wat anders sou hom tegemoetgaan na ‘n oorwinning? Nee, dit was ‘n persoon, en daardie persoon sou hy aan die Here skenk as ‘n olah – totaal aan God gewy!
En met daardie gelofte nog vars in die ore het Jefta gaan veg. Hierdie keer word daar nie, soos by van die ander verhale in die boek Rigters, enige bloedige besonderhede van die geveg gegee nie. Net ‘n baie kort weergawe: die Here het die vyand in Jefta se hand gegee, sodat die kinders van Ammon verneder is voor die kinders van Israel. En dan gaan Jefta huistoe… Maar by sy huis gebeur daar iets waarop hy nie gereken het nie. Want die eerste van sy huisgenote wat hom tegemoetkom, is sy dogter. Met tamboeryn en koordanse het sy haar pa tegemoetgegaan om sy oorwinning te vier – wie kan haar dit kwalik neem? Maar in plaas daarvan dat hy saam met haar bly is, het Jefta sy klere geskeur uit droefheid. Want hy was nou verplig om sy dogter as olah, as offer aan die Here te wy – volledig, lewenslank, totaal. In ooreenstemming met die totale oorwinning wat die Here hom geskenk het.
En die rede waarom Jefta so bedroef was, was omdat hy geen seun of dogter buiten haar gehad het nie (só sê die skrywe met nadruk in vers 34). Hierdie dogter was dus sy enigste kind, en nou sou hy haar nooit kon uithuwelik om vir hom ‘n erfgenaam te verwek nie. En daardeur sou die plek, die eervolle plek, wat Jefta sopas nog onder God se volk en in God se land teruggekry het, weer verlore gaan. As dit nie gebeur het nie, dan sou die kinders van Jefta se dogter volgens die reël die erfgename wees, dan sou Jefta se naam en sy erfbesitting kon voortgaan, maar daardie hoop was nou verlore. Omdraai was vir Jefta nie moontlik nie. Hy moes sy gelofte uitvoer – daaroor was die Here in sy wet baie duidelik. Gelukkig het sy dogter dit nie vir hom moeilik gemaak nie; nadat sy haar pa se gelofte gehoor het, het sy haarself gehoorsaam aan die Here gegee. ‘n Geloofsdaad wat bewondering oproep – nie net vandag nie, maar ook in haar eie tyd. Immers, vanaf daardie tyd is sy elke jaar, vier dae lank, deur die dogters van Israel besing oor haar gelowige toewyding.
Gemeente, Jefta was so ernstig oor die totale onderwerping van die vyande van God se volk, dat hy bereid was om die eerste persoon uit sy huis op soortgelyke wyse totaal aan die Here te wy. En dit het hom baie pyn veroorsaak, dit het hom baie gekos, dit het meegebring dat sy nuutverworwe erfenis onder God se volk by sy dood óók sou uitsterf. Die lewe van Jefta, stryder vir ‘n bedreigde erfenis, kom tot ‘n hartseer einde… Die bedreigde spesie het uitgesterf… Of nie?
Gemeente, hartseer is die verhaal inderdaad, maar die einde is dit beslis nie… Want hoewel Jefta sy dogter aan God gewy het en daardeur sy tydelike erfenis in die beloofde land verloor het, was hy tegelykertyd draer van die belofte dat God sy Seun sou gee sodat Jefta die ewige erfenis sou ontvang. Jefta word in Hebreërs 11 genoem as een van diegene wat deur die geloof beloftes verkry het – beloftes van ‘n vaderland en ‘n beter opstanding. Jefta het deur die geloof die gelofteland ontvang! Inderdaad, Jefta se gelofte het nie die resultaat gehad wat hy gehoop het nie, sy aardse erfenis was inderdaad in ernstige gevaar, maar daarmee het Jefta se lewe nie uitsigloos geword nie. Hy het geglo in dinge wat hy nie kon sien nie (Hebr. 11:1), en daarvoor was hy bereid om alles op te gee, hoe pynlik ook al!
En wat óns hieruit moet leer, broers en susters, is nie wat baie predikers vandag hiervan maak nie; hulle sê dat ons uit Jefta se gelofte moet leer om nie onbesonne geloftes te doen nie, om nie te vinnig te belowe nie. Tel jou woorde, oppas wat jy sê! Nee, dis nie wat ons hieruit moet leer nie. Dit gaan hier nie oor ‘n ondeurdagte gelofte nie, dit gaan hier oor toewyding, totale toewyding. Jefta het opgegroei in ‘n land wat deur die sonde geknel was, maar hy was nogtans deur die geloof oortuig dat dít Israel se bedoelde land was, en dáárom sy gelofte, sy volledige oorgawe aan die Here. En dít is die oproep aan ons!
Ons hoef nie ons kinders te wy tot ‘n selibate lewe, sonder huwelik en sonder kinders nie. Nee, ons word geroep om onssélf, met alles wat ons is en het, in algehele diens aan die Here te wy. Stel jul liggame as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is Paulus se oproep in Romeine 12. En ons doen dit omdat ons Godgegewe erfenis – ons verlossing deur Christus en ons kindskap van die Vader – vir ons vas en seker en baie kosbaar is. Juis daarom stry ons die goeie stryd van die geloof, en juis daarom dien ons God met hoof, hart en hande.
Gemeente, in die geknelde land sien ons die ellende van die sonde, in die bedoelde land sien ons die verlossing deur Christus wat ons onsself deur die geloof mag toeëien, en in die gelofteland sien ons die dankbaarheid van die gelowige. En daardie dankbaarheid gee nie net ‘n deel nie, daardie dankbaarheid kan nie maar net ‘n aspek van die lewe aan die Here wy nie. Nee, daardie dankbaarheid gee alles! Broers en susters, moenie daarvan wegskram, moenie bang wees om jou hele lewe aan God te wy nie. Neem my lewe, laat dit Heer, U gewy wees, meer en meer. Laat dit sigbaar word in jou lewe deurdat jy die afgode wat daar nog in jou lewe oorgebly het, daaruit verwyder. Of soos Paulus oproep in Kolossense 3:5: “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is.” Dit is die toewyding waartoe die Here ons roep.
En dit kos stryd en dit kos pyn – Jefta se geskiedenis bewys dit. Maar nogtans is Jefta ryk! Hy is ‘n erfgenaam van die lewe. Voeg jou daarom by Jefta en die ander lede van die geloofsgeselskap in Hebreërs 11. Die Hebreërskrywer sê immers in vers 40 dat hulle nie sonder ons volmaak kan word nie. Voeg jou daarom by hulle, en word ‘n erfgenaam van God se gelofteland.
Amen.
Liturgie (oggend)
- VOORPSALM Ps. 18:1-4
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 117
Wetslesing + v/a 94 en 95 (fokus op 1ste gebod)
Sing Ps. 81:10 en 11
Gebed
Preek
- Lees Rigters 10:6-18
- Lees Rigters 11:1-27
- Lees Rigters 11:28-40
Amenlied Ps. 116:7-9
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 18:11, 16 en 19
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.
7 VREEMDE GODE
(RIGT. 10:6)
7 ONDERDRUKKERS
(RIGT. 1O:11-12)
LYS VAN 7 NASIES
(DEUT. 7:1, SIEN RIGT. 3:5)
Baals
Egiptenaars
Hetiete
Astartes
Amoriete
Girgasiete
gode van Aram
Ammoniete
Amoriete
gode van Sidon
Filistyne
Kanaaniete
gode van Moab
Sidoniërs
Ferisiete
gode van Ammon
Amalekiete
Hewiete
gode van die Filistyne
Maoniete
Jebusiete
7 VREEMDE GODE
(RIGT. 10:6)
7 ONDERDRUKKERS
(RIGT. 10:11-12)
LYS VAN 7 NASIES
(DEUT. 7:1, SIEN RIGT. 3:5)
Baals
Egiptenaars
Hetiete
Astartes
Amoriete
Girgasiete
gode van Aram
Ammoniete
Amoriete
gode van Sidon
Filistyne
Kanaaniete
gode van Moab
Sidoniërs
Ferisiete
gode van Ammon
Amalekiete
Hewiete
gode van die Filistyne
Maoniete
Jebusiete
7 VREEMDE GODE
(RIGT. 10:6)
7 ONDERDRUKKERS
(RIGT. 10:11-12)
LYS VAN 7 NASIES
(DEUT. 7:1, SIEN RIGT. 3:5)
Baals
Egiptenaars
Hetiete
Astartes
Amoriete
Girgasiete
gode van Aram
Ammoniete
Amoriete
gode van Sidon
Filistyne
Kanaaniete
gode van Moab
Sidoniërs
Ferisiete
gode van Ammon
Amalekiete
Hewiete
gode van die Filistyne
Maoniete
Jebusiete
(kyk in preek)