God laat nie gras onder sy voete groei om die duiwel in die stof te laat byt nie!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2011-08-07
Text: 
NGB 17
Reference: 
NGB 17
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – NGB artikel 17; lees Genesis 3

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Doel en werkswyse – dit is onder andere waaroor ons afgelope Sondagaand met die jongmense gepraat het tydens die sprekersaand oor die gesprekke tussen gemeentes van die VGKSA en gemeentes van die GKSA. Doel en werkswyse. Die doel van hierdie gesprekke is volle kerklike eenheid – dit is waarheen ons oppad is. En ons wil dit bereik deur middel van gesprekke en samewerking – dit is die werkswyse.

Doel en werkswyse – dit geld eintlik maar vir alle terreine van die lewe. As ek ‘n kas wil bou, dan is die voltooide kas die einddoel. Maar om daarby uit te kom, koop ek die hout, saag ek die planke, en verbind ek die verskillende dele met behulp van lym en skroewe. Dit is die werkswyse. Of: as ek ‘n ambisieuse besigheidsman is, dan is my einddoel om ‘n besigheid van naam op te bou. Maar om dit te  kan bereik, moet ek hard werk en moet ek kwaliteit produkte en goeie diens lewer – dit is die werkswyse. En ‘n mens sou nog talle voorbeelde kon toevoeg…

 

Nou goed, broers en susters, God het ook ‘n doel en ‘n werkswyse. In die voorafgaande artikels van die NGB het ons gelees van God se doel – mense wat hulleself in die verderf gestort het (artikel 14 en 15), word deur God uitverkies tot saligheid (artikel 16). Dit is God se doel – Hy wil mense red. En hoe gaan Hy daardie doel bereik? Wat is sy werkswyse? Wel, daarvan vertel artikel 17 ons. Om die saligheid van die uitverkorenes te verseker, belowe God sy Seun om ons salig te maak. Dus, Jesus Christus is – met alle eerbied en respek gesê! – die manier of die werkswyse waardeur God sy doel met mense bereik. Jesus Christus is die Een wat God se plan van die ewige uitverkiesing in die tyd kom realiseer! God het besluit om mense te red, en Hy doen dit deur Jesus Christus. Dit is waaroor dit in artikel 17 van die NGB sal gaan…

Tema: God laat nie gras onder sy voete groei om die duiwel in die stof te laat byt nie!

1.      “waar is jy?” (Gen. 3:9)

2.      “Ek sal vyandskap stel” (Gen. 3:15)

3.      “die mens het sy vrou Eva genoem” (Gen. 3:20)

 

1. Gemeente, is dit nie ‘n opmerklike reaksie wat Adam en Eva in Genesis 3 ná die val in sonde vertoon nie? Die belofte van die slang in vers 5, naamlik dat hulle oë sou oopgaan wanneer hulle van die vrugte van die verbode boom sou eet, het toe waar geword. Hulle oë hét oopgegaan (vers 7). Maar het dit die verligting gebring waarop hulle gehoop het? Nee, die opening van hulle oë bring nie verligting nie, maar eerder verduistering en verwydering. Enersyds word Adam en Eva verwyder van mekaar – in die besef van hulle skuld, kry hierdie eerste egpaar skaam vir mekaar. En dit word gesimboliseer deur hulle skielike ywer om naaldwerk te begin doen: aanmekaar gewerkte vyeblare moet die skaamte vir mekaar bedek. Maar andersyds is daar ook die verwydering van God, ‘n verwydering wat na vore kom wanneer hulle skielik wegkruipertjie begin speel tussen die bome van die tuin. Asof ‘n mens vir God kan wegkruip?! “Waar sou ek heengaan van u Gees, en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar”(Ps. 139:7-8). Adam en Eva moes dit tog sekerlik geweet het? Voorwaar ‘n opmerklike reaksie.

 

Maar, gemeente, God se reaksie is selfs nog opmerkliker as dié van Adam en Eva...

Want dink bietjie hieroor na: wat sou jy gedoen het as jy ‘n meisie het, en sy besluit op ‘n dag om, sonder enige verdere verduideliking, met ‘n ander ou te begin uitgaan? Sy verkies iemand anders bo jou! Baie van ons sal waarskynlik, stert tussen die bene, die aftog blaas – gebroke hart, maar wat kan jy doen? Miskien is daar enkele moediges onder ons wat die meisie nog sal opsoek om haar te smeek om steeds met hom verder te gaan. Maar wie van ons sal dit durf om die meisie op te soek en vol oortuiging te sê: “Kom, ek gee jou nog ‘n kans”? Jy is mos nie in die posisie om so ‘n aanbod te maak nie!? Dis sy wat jóú gelos het, nie jy vir haar, sodat jy haar nou ‘n tweede kans kan gee nie!?

En tog is dit presies wat God doen!

Selfs ná die sondeval gaan wandel God oudergewoonte in die tuin, in die aandwindjie (vers 8). Só het hulle dit mos elke aand gedoen – God en Adam en Eva. Hoekom sou Hy dit vanaand nie doen nie? Die Tuinier het nie sy tuin verlaat nie. Die Skepper het nie sy skepping verlaat nie. Die Formeerder van mense blaas nie die aftog nie wanneer hulle daarvoor kies om ‘n ander een te volg nie. Nee, hoor Hom roep: “Waar is jy?” (vers 9) In sy liefde is God onwillig om die voorwerp van sy liefde op te gee, selfs wanneer sy liefde nie die gewenste uitwerking het nie. In sy trou soek God die mens op, selfs wanneer die mens willens en wetens daarvoor kies om ‘n ander te volg. Mens, waar is jy?

 

Waar is jy? – gemeente, watter wêreld van liefde en genade skuil daar nie in hierdie paar woorde nie. Waar is jy? – dit is nie maar net die roep van iemand wat nie weet waar die ander hom bevind nie. Nee, dit is die roep van die Alwetende God: “Mens, Ek weet wat jy gedoen het! Ek weet waar jy is. Maar nogtans, hier is Ek, kom na My toe!” Waar is jy? – hoe sou hierdie soekende roep nie dwarsdeur die eeue ‘n eggo vind nie. Eeue se afval, eeue se keuse om ‘n ander te volg, eeue se hardnekkige verbondsongehoorsaamheid – en elke keer was God maar weer daar met sy soekende liefde.

Een van die treffendste plekke waar ons dit vind, is in die boek Hosea. Jy onthou mos nog wat daar gebeur het – die profeet Hosea moes, in opdrag van die Here, met ‘n hoer trou. Want, sê die Here in hoofstuk 1:2, die land het grootliks owerspel bedrywe deur van die Here afvallig te word. Israel was die hoer, die vrou wat rondgeslaap het terwyl sy met die Here getroud was, die flerrie wie se oë altyd aan die dwaal was, wat altyd op soek was om weereens met ‘n ander te ‘flirt’. En nogtans wil die Here met haar verder gaan, en verklaar Hy aan haar sy liefde wanneer Hy in hoofstuk 11:4 sê: “Met mensebande, met koorde van liefde het Ek hulle getrek.” En hoor later die Here Jesus wanneer Hy sê: “Jerusalem, Jerusalem, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaar maak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaar maak, en julle wou nie” (Matt. 23:37).

 

Waar is jy?

Broers en susters, die God van Genesis 3 is vandag nog steeds dieselfde. Die eggo van Genesis 3 klink ook vandag nog, en dit klink selfs nog sterker as destyds. Want intussen het Christus mens geword en onder ons kom woon. In Christus roep God nog sterker as in Genesis 3; sy stem het nou ‘n luidspreker gekry, ‘n kragtige klanksisteem sodat niemand sy stem kan mis nie. Pinkster het gekom, en die Gees laat God se stem kragtig oor die hele aarde klink. Elke preek, elke Skriflesing, elke bybelstudie is God se roep: waar is jy? Hy roep na die harte van mense wat hulleself, deur na die woord van die duiwel te luister, willens en wetens aan die sonde en daarmee aan die dood en vervloeking onderwerp het (só sê artikel 14 van die NGB).

Dit is ‘n wonder van genade wat ons nie mag verag nie, gemeente. Wanneer God jou opsoek, sien dit dan raak! Wanneer jy bybel lees, dan is dit nie maar net ‘n paar versies wat jy lees nie. Wanneer daar gepreek word, is dit nie maar net die gebrekkige poging van die predikant nie. Wanneer julle saam bybelstudie doen, dan gaan dit nie maar net oor die menings van mense nie. Nee, hoor agter dit alles God se soekende roep en sy roepende soeke na jou hart. En reageer daarop! Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie. Hou op wegkruipertjie speel, kom agter die bome vandaan, en gaan na God toe. Dit is die begin van alle bekering – om God se stem te hoor, en daarop te reageer. En sien dan watter plan Hy het om ons van ons liggaamlike en geestelike dood te verlos.

Dit is ons tweede gedagte: “Ek sal vyandskap stel”

 

2. Met die sondeval het Adam en Eva, en saam met hulle die hele mensheid, aan die kant van die satan gaan staan. Hulle-twee – en ons almal – het vir die duiwel gekies. Ons het ‘n verbond met die satan gesluit. Daarom is ons van nature ‘addergeslag’. En van die kant van die mens is dit eenvoudig onmoontlik om hierdie alliansie te verbreek. Maar God laat nie gras onder sy voete groei nie; Hy laat eenvoudig nie toe dat hierdie vriendskap floreer nie. Hy gryp onmiddellik in met sy teen-aanval, daar in die paradys alreeds. Met ‘n kragtige besluit, wat niemand kan weerstaan nie, verbreek Hy die verbond tussen die duiwel en die mens, en trek Hy die mens aan sy kant.

Ja, gemeente, dit is wat God doen: God stel vyandskap. Hy stel ‘n antitese. Hy laat nie toe dat Adam en Eva verder met die duiwel heul nie. Hy gryp hulle van die duiwel af weg, en plaas hulle aan sy kant: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou…” Dit is asof God by wyse van spreke sê: “Ek bou ‘n hoë muur, ek grawe ‘n diep kloof, ek stel prikkeldraad op, ek plant landmyne tussen die duiwel en die vrou.” Wat jy dit ook al wil noem, die slang en die vrou word geen kans gegun om gemaklik met mekaar te raak nie.

En God doen dit nie slegs met Adam en Eva nie; nee, in hulle hele nageslag loop hierdie selfde lyn van vyandskap. “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, tussen jou saad en haar saad” (Gen. 3:15). Daar sal ‘n ewige en kollektiewe stryd wees tussen die Satan en sy volgelinge, én die vrou en haar volgelinge, tussen duisternis en lig, tussen kwaad en goed. Vanaf Genesis 3 is die hele mensdom permanent in twee gemeenskappe verdeel: die ware gelowiges aan die een kant, die ongelowiges aan die ander kant. Die verdelingslyne van hierdie wêreld loop nie via ras of kleur of taal of kultuur of via jou gunsteling sportspan nie. Die één verdelingslyn wat vanuit die hemel gegee is, skei geloof en ongeloof van mekaar. En hierdie twee kan en sal nooit in vrede met mekaar lewe nie. Die verdeling en die stryd sal voortduur tot die jongste dag.

 

Maar… is dít regtig wat ons soek, broers en susters? Mense wat vermoeid is van die lewe, wat daagliks hard moet werk vir oorlewing, wat in ‘n samelewing van geweld en haat lewe – dink jy hulle soek daarna dat God hierdie kollektiewe en blywende vyandskap stel? Vrede en versoening is die slagspreuk in ‘n wêreld waarin oorloë woed, bomme ontplof en mense doodgaan van honger. Moet God nou kom en ‘n kombers van vyandskap oor die hele mensdom gooi? Hoe teenstrydig dit ook al mag klink, gemeente, in hierdie God-bewerkte vyandskap lê vir ons die ware vrede, die vrede wat alle verstand te bowe gaan. Want elke oorlog, elke bomaanval, elke hongersnood, elke siekte en dood is die gevolg van ons keuse om aan die kant van die satan te gaan staan. Maar in die vyandskap van Genesis 3:15 klink juis die evangelie – deur hierdie vyandskap, deur hierdie onoorbrugbare kloof, word mense juis bevry van die bande van die satan en vir God gewen; deur hierdie vyandskap maak God van die addergeslag weer sy geslag. Vir mense wat in Adam geval het, beteken dít die heil.

Hoekom? Want uit die vrouesaad – uit die geslag van Eva – gaan daar uiteindelik één voortkom wat die kop van die slang gaan vermorsel, wat die duiwel gaan verslaan, wat die rede vir alle onheil en onreg in hierdie wêreld gaan wegneem. Ja, God kondig hier alreeds die stryd van kampioene aan wanneer Hy voorspel dat daar ‘n individu uit die lyn van die vrou gaan kom, wat die stryd teen die satan sal aansê. En dit gaan ‘n bloedige stryd wees. Hierdie individu uit die vrouesaad sal lyding verduur, Hy sal bloei in hierdie stryd, Hy sal in die hakskeen gebyt word, maar uiteindelik sal Hy die oorwinning behaal wanneer Hy die kop van die slang vermorsel.

En ons weet vandag dat hierdie belofte werklikheid geword het in Jesus Christus. Uit die geslag van die vrou is Hy gebore – gaan kyk maar na die geslagregisters van die Here Jesus in Mattheus 1 en Lukas 3. Uit Eva het daar ‘n saad gekom, uit Maria is daar ‘n seun gebore, en by sy geboorte roep die engele: Ere aan God, en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae! Dít is hoekom die vyandskap heilsaam is – dit bring vrede, ewige vrede.

 

En juis ter wille van daardie vrede moet ons vandag die stryd voort sit, gemeente. In Christus is die oorwinning behaal, maar die stryd gaan verder. Lees maar Openbaring 12: nadat die groot draak neergewerp is, die ou slang wat genoem word duiwel en satan, sê hy vervolgens die stryd aan teen die ander nakomelinge van die vrou (teen die res van haar saad) wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou (Openb. 12:17). Dus, God stel die vyandskap, God behaal die oorwinning, maar jy en ek word geroep om deel te neem in die stryd wat sal voortduur tot by die wederkoms. En daarom: trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug (Ef. 6:11-12). En hierdie stryd, gemeente, is iets van elke dag. Daar is nie ‘n dag in jou lewe dat jy nie met hierdie stryd besig is nie; daar is nie ‘n dag dat jy vakansie kan vat van hierdie stryd nie. Elke dag moet jy – deur jou lewenswyse, deur die keuses wat jy maak by die werk en by die skool, deur jou onbeskaamde getuienis – wys aan watter kant van die stryd jy staan.

Maar weet dat jy hierdie stryd nie alleen voer nie. In die eerste plek stry jy en ek skouer aan skouer. Die hele vrouesaad, die hele kerk, staan saam in hierdie stryd – ons voer ‘n kollektiewe stryd. Maar belangriker nog, ons voer hierdie stryd in die Naam van die lewende God. God het die verbond wat ons met die satan gehad het, verbreek. En in die plek daarvan skenk Hy aan ons ‘n ewige verbond met Homself. ‘n Ewige verbond met ewige beloftes van verlossing in Jesus Christus. Daarin lê die waarborg dat ons nie alleen stry nie. In die woorde van Paulus in Romeine 16:20: “Die God van vrede sal Satan spoedig onder julle voete verbrysel. Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle.”

Ten slotte: die mens het sy vrou Eva genoem.

 

3. Adam het die waarde van hierdie God-bewerkte vyandskap verstaan. Ten spyte van God se vloek – ten spyte daarvan dat die vrou-wees van sy vrou met groot moeite gepaard sou gaan, en dat hy in sy eie arbeid met dorings en distels te make sou kry, en dat hy enige oomblik tot stof kon terugkeer – nogtans het Adam hoop gehad. God het vir hom hoop gegee. En daardie hoop verwoord Adam wanneer hy sy vrou Eva noem. Hy herdoop haar – eers was sy mannin (“sy sal mannin genoem word” – 2:23), maar nou is daar rede om haar ‘n ander naam te gee: Eva, die moeder van alles wat lewe. Die dood sál verslaan word, die lewe sál oorwin!

Probeer jouself voorstel wat hier gebeur, broer en suster. Al wat Adam kry, is ‘n belofte van ‘n paar woorde. En vanuit Adam se perspektief ook nog ‘n baie vae belofte, een wat dalk meer vrae oproep as wat dit antwoorde gee. Onthou, Adam het nog nie die insig gehad wat ons vandag het nie. Maar wat doen hy? Adam glo daardie belofte, hy klou daaraan vas, en hy bewys dit wanneer hy vir sy vrou ‘n naam gee wat van hoop en lewe spreek. Adam was vas oortuig van die koms van Jesus Christus, ook al kon hy dit nog nie so goed verwoord soos wat ons dit vandag kan doen nie.

Daarom is dit nonsens wanneer mense vandag sê dat die ou verbond net oor aardse beloftes – beloftes van land en nageslag – gegaan het nie. Dit is nie waar nie. Die hele ou verbond was geestelik van aard! Die hele ou verbond was ‘n geleidelike ontvouing van hierdie eerste belofte, hierdie moeder van alle beloftes. Hierdie eerste belofte is soos ‘n roosknop wat nog styf toe is. En soos wat die geskiedenis vorder, begin hierdie roosknop al hoe meer oopgaan, en word die skoonheid van hierdie blom al hoe meer sigbaar. Maar die roos is alreeds ten volle aanwesig in Genesis 3. Adam het dit verstaan, en by daardie belofte kon hy gaan lewe. Ja, dis waar, die paradys was nou vir hom verbode. Gerubs met vlammende swaarde het, soos sekuriteitswagte, gesorg dat niemand daar ingaan nie. En nogtans kon Adam gaan lewe – hy kon gaan bewoon en bewerk, hy kon vrugbaar wees en vermeerder, hy kon die aarde onderwerp en daaroor heers. Dit alles was nie verniet nie!

 

Nou, gemeente, as Adam, wat maar net die roosknop gekry het, so gereageer het, hoe moet ons dan nie reageer nie? Ons lewe in die tyd van die vervulling. Jesus Christus hét gekom, die duiwel ís reeds uit die hemel uitgewerp, ons koning regeer reeds oor hemel en aarde. Het ons enige rede om met minder geloof te lewe as Adam? Nee! Ons het baie meer gekry as Adam! Laat dit dan ook sigbaar word in die manier waarop ons hier in ons omgewing lewe. Laat ons in geloof bewoon en bewerk, laat ons in geloof vrugbaar wees en vermeerder, laat ons in geloof die aarde onderwerp en daaroor heers. Altyd met die antitese – waak teen die verwêreldliking, waak teen die sekularisasie. Maar nogtans met vrymoedigheid en oorgawe. Laat ons vrug dra vir ons God – kerklik, polities, maatskaplik en kultureel. En dit alles in afwagting op die finale vervulling van al God se beloftes.

Amen

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 80:1, 3, 8 en 10

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 48:4 en 5

Lees Kort nagmaalsformulier

  • Voor die viering Ps. 87:1 en 4
  • Aan tafel: voltooi formulier + gebed
  • Sing Ps. 87:5

Lees: Genesis 3

Teks: NGB, art. 17

Preek

Amenlied Skr. 33

Gebed

Belydenis van geloof (singende)

Kollekte

Slotsang Skr. 4:3 en 5

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)