Laat ons die belydenis eggo van die stem uit die wolk!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2011-05-22
Text: 
NGB 10
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – NGB artikel 10; lees Miga 5, Mattheus 16:13-17:13

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Nadat Guido de Bres in twee artikels (art. 8 en 9) die leer van die Drie-eenheid behandel het, lyk dit asof hy vervolgens na ‘n ander onderwerp oorgaan. Ja, dit lyk so… Maar as ons mooi kyk, dan sien ons dat hy in feite nóg twee artikels gebruik om die leer van die Drie-eenheid deeglik voor ons af te skilder en in ons harte te laat wortel skiet. Immers, in artikel 10 gaan dit oor die Godheid van Jesus Christus, en in artikel 11 oor die Godheid van die Heilige Gees. En dit is allermins onderwerpe wat losstaan van die leer van die Drie-eenheid. Inteendeel, dit het alles daarmee te make. Want as jy nie bely dat Jesus Christus God is nie, wat bly daar dan nog van die Drie-eenheid oor? Dan hou jy in teorie hoogstens ‘n twee-eenheid oor… In die praktyk, egter, verwerp jy die Drieheid van God. En presies dieselfde geld wanneer jy die Godheid van die Heilige Gees ontken.

Dus, artikel 10 en 11 is ‘n logiese uitvloeisel uit artikel 8 en 9. As ons die Drie-eenheid van God erken en bely, dan moet ons noodwendig ook Jesus Christus as God erken en bely. En dan moet ons noodwendig die Heilige Gees as God erken en bely. Kom ons fokus vandag in besonder op die belydenis van die Godheid van Jesus Christus, onder die volgende tema:

Tema:  Laat ons die belydenis eggo van die stem uit die wolk!

  1. Dit is my geliefde Seun
  2. Luister na Hom

 

1. Gemeente, die belydenis van Christus as die eniggebore Seun van God is ‘n ryk belydenis met baie fasette. Maar wanneer ons tot die diepste kern van hierdie belydenis deurdring, dan stuit ons op die vraag na die Godheid van Christus. Is die eniggebore Seun van God sélf God, of staan hy in die sfeer van die geskape werklikheid? Is Hy Skepper of is Hy skepsel? Aan watter kant van die skeidslyn staan Hy – aan die kant van God, of aan die kant van die mens? En dit is nie maar net vrae wat ek opmaak nie, broers en susters; dit is ook nie vrae wat nou maar onlangs hulle verskyning gemaak het nie. Nee, reeds tydens Christus se lewe op aarde was hierdie vrae brandpunte.

Hierdie vrae was brandpunte binne Jesus se eie dissipelkring, soos blyk wanneer Jesus aan sy dissipels die vraag stel: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” Waarop Petrus dan hierdie pragtige belydenis uitspreek: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Matt. 16:16). Maar hierdie vrae was ook brandpunte binne die groot “teologiese fakulteit” van Jerusalem, en ons sien dit wanneer Jesus die Fariseërs uitdaag met die vraag: “Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?” En wanneer hulle Hom vervolgens antwoord dat Hy die seun van Dawid is, dan wil Jesus tereg by hulle weet: “Maar hoe is dit dan dat Dawid Hom in die Gees Here noem…” (Matt. 22:42-46).

Gemeente, deur in daardie tyd Jesus as ‘Seun van God’ te bely óf te ontken, het jy sy Godheid bely óf ontken. Dit is baie belangrik dat ons dit verstaan: ‘Seun van God’ het vir die mense in Jesus se tyd dieselfde beteken as God self. Ja, ook vir sy vyande! Ook húlle het geweet wat Jesus bedoel wanneer Hy Homself die Seun van God noem, en presies daarom wou hulle Hom doodmaak. Ons lees byvoorbeeld in Johannes 5:18: “Hieroor het die Jode toe nog meer probeer om Hom dood te maak, omdat Hy nie alleen die sabbat gebreek het nie, maar ook God sy eie Vader genoem het en Hom met God gelykgestel het.” En in Johannes 19:7 sê die Jode vir Pilatus: “Ons het ‘n wet en volgens ons wet moet Hy sterf, omdat Hy Homself die Seun van God gemaak het.” Jesus se uitspraak dat Hy die Seun van God is, het Hom uiteindelik sy lewe gekos, want dit was vir die teoloë van Jerusalem ‘n godslasterlike uitspraak. Geen mens mag homself Seun van God noem nie, en geen mens mag God sy Vader noem nie – want dit het geïmpliseer dat jy jouself aan God gelykstel, dit het geïmpliseer dat jy self God is. Die vraag in daardie tyd was dus nie of die mense vir Jesus reg verstaan het nie; nee, die vraag was: het hulle dít geglo waarop Hy aanspraak gemaak het…

 

Ook in die kerkgeskiedenis sien ons die stryd rondom hierdie leerstuk. Dink maar net aan die stryd wat hom rondom die leer van Arius afgespeel het in die 4de eeu na Christus – Arius wat gesê het dat Christus nie God is nie, maar slegs die eerste van al God se skepsels; daar was dus, volgens Arius, ‘n tyd toe die Seun van God nog nie daar was nie. En hierdie stryd het in verskillende geure en kleure deur die eeue weer kop uitgesteek. Nader aan ons eie tyd, kan ons dink aan die Jehowa-getuies wat hulle ontkenning van die Godheid van Christus byna letterlik op ons voordeure kom afdruk. En dalk nog relevanter vir ons is die ‘wegvertaling’ van die Godheid van Christus uit die nuwe psalmberyming, asook uit verskeie onlangse Bybelvertalings. Die vertrekpunt by hierdie vertalings is dat Christus nie God is nie, en ons sy Godheid daarom ook nie in die Bybel moet probeer ‘inlees’ nie.

Ek het nou maar net ‘n paar voorbeelde genoem, maar onthou dit maar vir die toekoms, gemeente: in álle stryd rondom die leer van die Skrifte kom dit uiteindelik neer op hierdie een kernvraag: wat dink jy van die Christus? Is Hy vir jou die Seun van God, God sélf? Of is Hy maar net ‘n blote mens, iemand soos jy en ek? By die beantwoording van hierdie vrae staan of val die inhoud van die hele Skrif, en staan of val ook ons geloof. Kom ons kyk wat sê die Skrif self oor hierdie vrae…

 

In Mattheus 17 lees ons hoe Jesus vir Petrus, Johannes en Jakobus saamgeneem het op ‘n hoë berg in die eensaamheid, met die doel om hulle te leer oor sy Persoon en sy taak. En hier op die berg is die dissipels getuies hoe Jesus se voorkoms op ‘n besondere wyse verander het – sy gelaat het geblink soos die son, en sy klere het met ‘n bo-aardse lig gestraal. En dan skielik sien die drie dissipels ook vir Moses en vir Elia, wat besig is om met Jesus te beraadslaag. Let wel, dit is nie Jesus wat met hulle beraadslaag nie, dit is Moses en Elia wat met Jesus beraadslaag. Die hemel – want dit is waarvandaan Moses en Elia gekom het – kom pleeg oorleg met Jesus op aarde! Jesus is dus nie maar net ‘n jong kollega wat die geleentheid gegun word om met sy wyse voorgangers oorleg te pleeg en hulle raad te vra nie. Jesus is nie maar net ‘n mens wat vanuit die hemel advies ontvang vir sy taak hier op aarde nie. Nee, Jesus is God, sy bestaan gaan terug tot ver vóór Moses en Elia; Hy is die Gestuurde wat hier op aarde die belange van die hemel kom verteenwoordig! Moses en Elia het daarom belang daarby om met Hóm te kan praat, en nie andersom nie.

En dit word alreeds in Miga 5 voorspel. In hierdie hoofstuk verkondig Miga aan die volk, wat ballingskap in die gesig staar, dat daar ‘n Heerser, ‘n Koning in Betlehem gebore sal word. Maar dit is nie sommer enige koning nie; nee, hierdie koning se uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid! Dus, wat sy mensheid betref, is daar ‘n aantoonbare geboortedag en geboorteplek, maar in sy Godheid is daar geen begin van dae of jare nie. Hierdie Heerser is van ewigheid af, en sal tot in ewigheid regeer! Nou, iets hiervan proe die dissipels daar bo-op die berg van verheerliking.

 

Maar ag, die arme Petrus – in sy verwarde reaksie stel hy voor om vir aldrie manne wat daar in gesprek was, ‘n hut te bou. Met hierdie dwase voorstel plaas hy Jesus, Moses en Elia nog steeds op een lyn met mekaar. Totdat die stem uit die helderligte wolk, wat oor die berg neerdaal en wat God se heerlikheid aandui, vervolgens duidelik maak dat Jesus gróter is as die grootste profete: Hy is die geliefde Seun van God! Die Vader self kom lewer getuienis aan die dissipels dat hulle rabbi nog soveel meer is as net ‘n rabbi.

Gemeente, vir sowel die dissipels as vir ons vandag is daar dus hemelse getuienis dat die mens Jesus terselfdertyd die ewige en natuurlike Seun van God is. En as Seun van God is Hy een in wese met die Vader, ewig saam met Hom, die ewebeeld van die Persoon van die Vader en die afskynsel van sy heerlikheid en in alles aan Hom gelyk (art. 10)! Op die berg van verheerliking word dus nie ‘n mens verheerlik nie, maar word God verheerlik, want aan Hom behoort immers die Koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid!

En ja, dis waar, sy verskyningsvorm op daardie stadium in sy lewe is nie heeltemal wat ons van God sou verwag nie. Terwyl hulle van die berg afgeklim en Jesus sy dissipels oor sy lyding onderrig gegee het, noem Jesus Homself daarom ook nie ‘Seun van God’ nie, maar noem Hy Homself ‘Seun van die mens’ (Mt. 17:9 e.v.) Die Seun van God het die Seun van Adam geword om vir die skuld van die mense – wat deur Moses en Elia nie uitgewis kon word nie – te sterf. Jesus se taak as die Seun van Adam het op hierdie stadium voorrang bó sy glorie as die Seun van God. Maar dit doen nie afbreuk aan sy Godheid nie. As God word Hy mens, om mense by God te bring.

 

En dit is van die grootste belang vir ons saligheid dat ons hierdie belydenis sal vashou – die Seun van God is sélf God. Want wie anders sou sondige mense soos ons na God toe kon bring as slegs God self? As mense is ons immers almal soos die trop varke in die verhaal van Jesus se genesing in Gadara; almal saam storm ons by die krans van die lewe af en kom ons om in die see van sonde en dood. Geen mens kan uit sy eie by God uitkom nie, en geen mens wil by God uitkom nie. En as die mens nie homself by God kan of wil bring nie, wie moet dit dan doen? Net God self!

En dit is presies wat Hy gedoen het, “want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Dit is deur die Persoon en werk van hierdie eniggebore Seun van God dat jy en ek weer toegang tot God het. God se aksie tot redding van die wêreld is volledige eensydig; dit is ‘n Goddelike aksie, in die Persoon van sy eie Seun. Nog nooit in die geskiedenis van die mensdom was daar so ‘n eensydige reddingsaksie soos hierdie nie. Maar dank die Here daarvoor, want daardeur is daar vir weeskinders weer ‘n familie, kry hulle weer ‘n Pa in ons hemelse Vader, kry hulle ‘n groot Broer in Jesus Christus, kry hulle weer broers en susters – en noem hulle maar by die naam soos wat hulle hier sit. Die Godheid van Christus is nie ‘n minder belangrike deel van ons belydenis nie. Inteendeel, dit raak die hart daarvan – want daarmee wil God jou hart raak.

Vervolgens: Luister na Hom!

 

2. Saam met die verklaring uit die hemel dat Jesus Christus die Seun van God is, en daarmee God self (dit was vanselfsprekend vir almal wat daar aanwesig was), kom daar ook ‘n opdrag: “Luister na Hom!” Ja, as Hy die God is wat red en wat ons kinders van die Vader maak, dan het Hy ook seggenskap oor ons lewe, dan is Hy inderdaad “ons Here”, soos wat die Apostoliese Geloofsbelydenis van Hom praat (“en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here”).  

In die konteks van Mattheus 17 het hierdie opdrag van die stem uit die wolk om na Jesus te luister ‘n baie spesifieke betekenis. Immers, net hiervoor in Mattheus 16 wou Petrus, nadat hy Jesus Christus as die Seun van God bely het, nie aanvaar dat dieselfde Jesus na Jerusalem moes gaan om daar te ly nie. Hy wou dit ten alle koste verhoed (“Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie!”). In werklikheid wou hy dus nie na Jesus se lydensaankondiging luister nie. Maar nadat hy minder as ‘n week daarna in hoofstuk 17 die hemelse getuienis uit die wolk gehoor het, verstaan Petrus soveel te meer dat die Persoon wat hierdie lydensaankondiging gedoen het, self God is; as God weet die Here Jesus wat Hom te wagte staan en kan Hy vry-uit daaroor praat. Wanneer Jesus vervolgens ná die verheerliking saam met die drie dissipels van die berg afgaan, hervat Hy sy lydensaankondiging wat enkele dae gelede so wreed deur Petrus onderbreek is. En hierdie keer luister Petrus; nee, hy verstaan nog nie alles nie – soos blyk uit die vraag van vers 10 – maar hy is bereid om onderrig te word. Hy luister na sy Heer!

 

Gemeente, om Jesus as Seun van God te bely, het dus baie praktiese implikasies. Pétrus moes dit op ‘n harde manier leer, maar óns moet dit net so goed leer. Dit het die praktiese implikasie dat hierdie Heer die bepalende woord in ons lewens behoort te spreek, en dat ons onsself gewillig aan daardie woord moet onderwerp. Ons sien dit byvoorbeeld baie duidelik in die profesie van Miga 5.

Nadat Miga in vers 1 van hierdie hoofstuk die koms van ‘n Heerser aangekom het, is dit opmerklik dat hy hierdie Heerser in vers 3 vergelyk met ‘n herder en sy kudde. Dit is opmerklik, aangesien die Here Jesus in Johannes 10 ook hierdie beeld vir Homself gebruik. En dan sê Hy onder andere hierby: “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My” (Joh. 10:27). Om Jesus as verlossende Seun van God te erken, beteken dat ons ook na sy woord luister en Hom volg waar Hy ook mag gaan. Wie “Seun van God” sê, sê terselfdertyd “Heer en Meester van my lewe”. En in die gedeelte net voor Mattheus 17 wys Jesus hoe radikaal hierdie keuse is: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg” (Matt. 16:24).

 

Hierdie radikaliteit blyk ook uit Miga 5. Nadat Miga die koms van die Heerser verkondig het, wys hy vervolgens dat hierdie Heerser radikaal sal ingryp in die lewe van die volk. Vreemde invloede en praktyke sal uit die midde van die volk uitgeroei word. Hy sal die volk reinig van hulle vertroue op militêre mag: “En in dié dag, spreek die HERE, sal Ek jou perde uit jou midde uitroei en jou strydwaens vernietig” (vers 9) Ja, daar is min dinge wat die vertroue in God so vinnig afbreek as die moontlikheid om jouself te beskerm en na jouself om te sien. Hy sal die volk reinig van okkulte praktyke: “Verder sal Ek uitroei die towerye uit jou hand, en jy sal geen goëlaars meer hê nie” (vers 11) Weereens gaan dit hier oor die vertroue van die volk: waarop stel hulle hul vertroue? En ten slotte sal die Heerser ook die afgodery uit die volk uitroei: “En Ek sal uit jou midde uitruk jou heilige boomstamme en jou stede verwoes” (vers 13), sodat die volk Hom alleen kan dien en na Hom alleen sal luister. Radikaal? Ja. Maar om die gestuurde Koning en Heerser te kan ontvang, het inderdaad radikale konsekwensies! Om die Seun van God in jou lewe te mag ontvang, het radikale gevolge vir jou lewe.

 

Die Seun van God het ons immers van die slawediens van die sonde en die dood verlos en vrygekoop, nie met goud of silwer nie, maar met sy kosbare bloed – tot sy eiendom! Dit is belangrik om dit raak te sien, broers en susters. Die vryheid waarin die Seun ons plaas, die vryheid om nou ‘n kind van God te mag wees, is geen ongebrydelde vryheid nie, dis geen vryheid sonder grense nie, dis nie ‘n vryheid waarin ek vervolgens kan doen wat ek goeddink nie. Nee, ons word vrygekoop om nou aan Christus te behoort – Hy word nou die nuwe Here van ons lewens!

Maar gaan ons op dié manier nie maar net oor van die een slawediens na die volgende nie? Hoe ons ook al daarna kyk, ons staan nog steeds onder ‘n meester. En in ‘n geëmansipeerde wêreld hou ons nie daarvan nie! Maar dit is nie waar nie, gemeente, want waarvan het Christus ons verlos en vrygekoop? Van die sonde en die heerskappy van die duiwel (antw. 34). Dit was ‘n dodelike slawediens waarin ons verkeer het, ‘n slawediens waarvan die uiteinde die ewige hel is. Dáárvan word ons verlos! En die nuwe heerskappy waaronder ons nou staan, is dié van die Seun van God – ‘n lewegewende heerskappy! Ons het hierbo al gesien watter geweldige rykdom dit is om aan Christus te behoort – kind van die Vader, deel van ‘n liefdevolle familie!

 

Gemeente, ons is dus deur die Seun van God vrygekoop om kinders van God te wees. Maar besef baie goed dat ons kindskap slegs veilig is in diensbaarheid aan ons Here. Slegs binne die grense wat Hy stel, is daar ware vryheid. Want onthou: ons is aangenome kinders! En ons bly dit slegs wanneer ons in Hóm bly wat ons daardie status in die eerste plek gegee het. Ons word tot kinders aangeneem deur die werk van die Seun van God, en ons bly dit slegs deur gehoorsaamheid aan daardie selfde Seun. Hy is ons Here – nie om ons weer slawe te maak nie, maar om ons te hou binne die vryheid wat ons as kinders het.

Kinders van een Vader, ons kan dus nie net lewe en praat en dink soos wat ons wil nie. Dit is nie maar net ‘n kwessie van in die regte leer staan, terwyl die lewensinvulling my eie saak bly nie. Om die Seun van God as Gód te bely en vervolgens my eie lewe te gaan lei, is lippediens. En God haat lippediens! Te veel word ons lewens nog gekenmerk deur lippediens, te veel word die ortodoksie (die regte leer) beskerm terwyl die ortopraksie (die uitlewing daarvan) aan die goeddunke van die gelowige oorgelaat word.

 

Gemeente, laat ons ons nie skaam om ook in ons lewenswandel uit te staan nie, ongeag die konskwensies wat dit mag hê vir jou lewe by die werk, die universiteit of die skool. Te dikwels wil ons nog ons lewens red – maar, sê Jesus in Mattheus 16:25, dit is dan wanneer jy dit sal verloor. Doen eenvoudig wat jou Goddelike Heer van jou vra. Kom ons verloor eerder ons lewe om Christus ontwil, en dan sal ons dit vind. ‘n Lewe in ewigheid saam met die ewige Seun van God. Amen

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 2:4-6

Votum Ps. 121:1

Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 106:20

Gebed

Lees:    Miga 5

            Mattheus 16:13-17:13

Kollekte

Teks: NGB, art. 10

Preek

Amenlied Skr. 5

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Slotsang Skr. 24:2-4

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)