Profete van die Here, die Woord van die Here het altyd die belissende woord!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2011-04-10
Text: 
NGB 6
Reference: 
NGB 06
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – NGB artikel 6; lees 1 Konings 13:11-34

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die apokriewe boeke – altyd weer ‘n interessante onderwerp. Katkisante wil dikwels weet hoekom die artikel oor die apokriewe boeke in ons belydenis opgeneem is, en of ons hierdie onbekende boeke ooit mag lees. Hier en daar vind ‘n mens inderdaad iemand wat dit al gelees het, maar vir die grootste deel het ‘apokrief’ ‘n baie negatiewe klank onder ons gekry. Kanoniek is goed, apokrief is sleg. En dit is ongenuanseerd, want ons belydenis praat glad nie so negatief oor hierdie boeke nie; ons belydenis sê selfs dat die kerk hierdie boeke mag lees en daaruit lering kan trek…

Maar goed, voordat ons verder gaan, kom ons sê eers kortliks vir mekaar waaroor dit hier gaan. Die apokriewe boeke dui op ‘n aantal geskrifte – hulle name vind u in artikel 6 – wat teen die einde van die ou testamentiese tyd ontstaan het, rofweg in die periode tussen Maleagi en die geboorte van Christus. In die oorspronklike Grieks beteken die woord ‘apokrief’ iets soos ‘verborge’, en dít is presies hoe hierdie geskrifte van die begin af genoem is. En hulle is juis só genoem, omdat daar vanaf hulle ontstaan onsekerheid bestaan het oor hulle herkoms en outeurskap, én ook omdat hierdie boeke gevolglik by die voorlesing in die gemeente verborge moes bly. Hierdie boeke is dus beskou as té twyfelagtig van inhoud en afkoms om God se Woord te kan wees.

 

En tog het hulle in ‘n vroeë stadium alreeds in die bybel beland… Hoe het dit gebeur? Wel, die vertalers van die Septuagint – die Griekse vertaling van die Ou Testament, wat rond 200 v.C. ontstaan het – dié vertalers het hierdie apokriewe boeke in hulle vertaling opgeneem. Hoekom? Ons weet nie. En tog is dit baie duidelik dat die Joodse gemeente asook die vroeë kerkvaders hulle nooit tot die kanon gereken het nie, en verder het Jesus en sy apostels ook nooit daaruit aangehaal nie. Maar met verloop van tyd het die Roomse Kerk hierdie boeke egter as deel van die bybel begin beskou; die Roomse kerk het hulle deutero-kanonieke boeke genoem – kanoniek dus, maar wel van ‘n tweede rang. In lyn hiermee het die roomse Konsilie van Trente in die tyd van die Reformasie uitgespreek dat hierdie boeke as deel van die kanon beskou moes word.

Die reformatore, daarenteen, het hierdie boeke nie as Goddelik beskou nie. Sonder om radikaal met die gebruik van die apokriewe boeke te breek, het die reformatore wel duidelik gemaak dat hulle nie deel van die kanon is nie. Ook toe hierdie boeke in die sewentiende eeu in die Nederlandse Statevertaling opgeneem is, was dit slegs heel aan die einde, ná die kanonieke boeke, in fynskrif en met ‘n duidelike voorafgaande waarskuwing. Die roomse kerk het hierdie boeke vandag nog steeds in hulle bybels, maar in die protestantse bybelvertalings het hulle met verloop van tyd heeltemal verdwyn, sodat baie van ons vandag nuuskierig wonder: waaroor gaan die apokriewe boeke presies?

 

Gemeente, dit is in kort die agtergrond. Dit is waarskynlik vir almal duidelik dat artikel 6 ‘n sterk historiese konteks het. Dit word gekleur deur die stryd tussen Rome en die Reformasie. Maar daardie stryd is, wat betref die apokriewe boeke, vir die grootste deel uitgewoed. Daar is min van ons wat vandag nog opgewerk raak oor die apokriewe boeke. Om die waarheid te sê, die apokriewe boeke het argiefstukke geword. Maar wat is daar dan nog meer om te sê? Baie…! As ons maar net kan raaksien wat die onderliggende beginsel is.

En die beginsel wat onder artikel 6 lê, is dat die Woord van die Here altyd die beslissende woord het. Dit is wat artikel 6 sê: ons mag die apokriewe boeke lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem. Kortweg: as die Woord van die Here ‘A’ sê, en ‘n ander bron sê ‘B’, dan is die Woord van die Here reg, en die ander bron is verkeerd. Of vanuit ‘n ander hoek belig: as ‘n ander bron ‘A’ sê, en ná ondersoek blyk dat die Woord van die Here ook ‘A’ sê, dán kan ons weet dat daardie ander bron betroubaar is. En dan glo ons ‘A’, nie omdat die ander bron dit sê nie, maar omdat die Woord van die Here dit leer. Want – sê artikel 6 – die apokriewe boeke “het geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie.” Dit is die beginsel! Nou, as ons daardie beginsel raaksien, dan word duidelik wat die aktualiteit van hierdie artikel vir ons vandag is.

Tema: Profete van die Here, die Woord van die Here het altyd die belissende woord!

Die Here bewys dit in 1 Konings 13…

  1. deur ‘n geskeurde altaar
  2. deur ‘n vreedsame leeu

 

1. Dit is ‘n merkwaardige verhaal wat ons vind in 1 Konings 13, dink u nie so nie? ‘n Verhaal wat ‘n geweldige klomp vrae by ons oproep, sonder dat die outeur noodwendig antwoorde vir ons gee. Vrae soos: hoekom was die man van God nie toegelaat om enige vorm van gasvryheid aan te neem nie? Hoekom jok die ou profeet vir die man van God? Hoekom gaan die man van God saam met die ou profeet sonder om sy woorde enigsins te bevraagteken? Hoekom was sy straf so swaar? Broers en susters, welkom in die interessante wêreld van die Hebreeuse vertelkuns. Meer nog: welkom in die Woord van God, waar Hy bepaal wat belangrik is vir ons om te weet, en wat nie.

Maar, ook al is daar baie onbeantwoorde vrae, die outeur is ten minste duidelik oor sy tema in hierdie hoofstuk. Ons word ten minste ingelig oor die saak wat saakmaak. Immers, nege keer in hierdie hoofstuk word daar verwys na ‘die Woord van die HERE’ (vv. 1, ,2, 5, 9, 17, 18, 20, 26, 32). Verder is daar ook verskeie verwysings na wat die Here gespreek (vv. 3, 26) of beveel het (vv. 9, 21), verskeie kere word die fomule ‘so spreek die Here’ gebruik (vv. 2, 21), en ook word daar enkele kere verwys na ‘die mond van die HERE’ (vv. 21, 26). Die tema is dus baie duidelik: dit gaan hier oor die woord van die Here. As ons dít as ons kompas vashou, dan sal ons verseker by die eindbestemming aankom.

 

Nou goed, die agtergrond tot hierdie verhaal is die volgende: die twaalf stamme van Israel het in twee geskeur deur die sonde van Salomo, en Jerobeam kom aan bewind in die ryk van die tien stamme. Kort voor lank begin hy egter nadink: as my onderdane elke keer na Jerusalem moet opgaan om dáár hulle offers te bring, dan gaan ek in die probleme kom. As hulle elke keer in die hart van die tweestammeryk aan die Here moet gaan offer, dan gaan hulle op ‘n stadium begin terugverlang na die koningshuis van Dawid. Dan is my posisie in gevaar! En daarom maak Jerobeam ‘n plan: hy rig twee altare op, een in Dan en een in Bet-el. So ja, nou hoef julle nie meer na Jerusalem te reis nie; hier is julle gode!

En dít is waar ons Jerobeam aantref wanneer ons by 1 Konings 13 die verhaal binnestap. Jerobeam het op daardie oomblik ‘n goed geordende erediens daar in Bet-el aan die gang, wanneer daar skielik ‘n ongenooide gas opdaag. Jerobeam se uitgewerkte liturgie word ontwrig deur ‘n goddelike woord van die man van God, wat sê: ‘n nakomeling van Dawid met die naam van Josia sal Jerobeam se nuwe-generasie priesters op hierdie einste altaar slag en hulle bene daarop verbrand. En om hierdie toekomsprofesie te bevestig, volg daar ook nog die aankondiging van ‘n korttermyn-teken: die altaar sal uitmekaar skeur en die as wat daarop is, sal afgegooi word.

 

Jerobeam is woedend oor die vermetelheid en die boodskap van hierdie onwelkome profeet, en met uitgestrekte arm en wysvinger gee hy aan sy onderdane die opdrag: “Gryp hom!” Maar oombliklik weet Jerobeam dat daar iets verkeerd is – hy kan sy arm nie na sy liggaam toe terugbring nie. En op daardie selfde oomblik word ook die korttermyn-toesegging bewaarheid: die altaar skeur uitmekaar en die as word daarvan afgegooi. Jerobeam is ‘n vinniger leerder; hy verstaan dat hy nie teen die Here kan veg nie, en daarom verander hy dadelik sy taktiek: hy vra dat die man van God vir hom sal bid, ‘n gebed wat aan hom weer die gebruik van sy arm teruggee.

Gemeente, wat ‘n kragtige ingryping in die kerkdiens te Bet-el! Maar dink u Jerobeam het die boodskap gekry? Ons weet nie, maar die boodskap was in elk geval baie duidelik! Die man van God het naamlik oor iets in die toekoms geprofeteer (vers 2). Maar hoe kon Jerobeam weet dat hierdie voorspelling waar sou word? Wel, om hom daarvan te verseker, gee die Here ook nog ‘n meer onmiddellike voorspelling: die altaar sal skeur en die as sal afgegooi word (vers 3). Wanneer hierdie laaste voorspelling kort daarna bewaarheid word, moes Jerobeam sekerlik een en een bymekaar gesit het, en moes hy sekerlik die gevolgtrekking gemaak het: soos wat die korttermyn-voorspelling waar geword het, so sal die langtermyn-voorspelling ook waar word. Die God wat wys dat sy woord op die korttermyn beslissend is, Hy kan dit ook doen in die langer termyn. En geen vingerwysende koning gaan Hom daarin keer nie!

 

Broers en susters, of Jerobeam nou die boodskap gekry het of nie, dink net watter geweldige bemoediging dit vir die man van God moes gewees het. Hierdie profeet moes, teen alle sosiale norme in, by Jerobeam se goed-geoliede erediens gaan inbars met sy boodskap. Hy moes homself tussen al die kerklidmate van Bet-el deurwurm om voor uit te kom om sy boodskap teenoor Jerobeam te kan uitspreek. Hy moes die koninklike woord gaan weerspreek met die Goddelike Woord! Hy moes gaan sê dat die pasvoltooide, splinternuwe altaar nie nog ‘n dag langer só sou bly staan nie. Hy moes… ja, hy moes sekerlik gedink het: wat is ek besig om te doen? En dan bevestig die Here hom op ‘n wonderlike wyse: “Ook al moet jy teen konings profeteer, ook al moet jy die woorde van hooggeplaastes weerlê, my Woord het altyd die beslissende woord. Gaan gerus, en jy sal sien dat my Woord bepalend is.” En dit was so! Die geskeurde altaar het dit bewys…

In ons profetiese amp mag hierdie geskiedenis ook óns bemoedig, gemeente. Ons kry miskien nie die direkte korttermyn-versekering wat die man van God in 1 Konings 13 gekry het nie. Maar sý korttermyn-versekering is ook óns versekering. Ons mag in hierdie wêreld die Woord van die Here spreek, ook al word dit uit talle oorde weerspreek. Ons mag getuig – meer nog: ons moet getuig – ook al word ons getuienis as onwaar en oudtyds veroordeel. Ons mag ‘A’ sê, ook al sê die hele wêreld ‘B’. Ons mag die Skepper van hemel en aarde bely, ook al sê die grootste deel van die wetenskaplike wêreld dat die feite eerder wys op ewolusie. Ons mag dit alles weerspreek, want ons het die Woord van die Here aan ons kant. Ons het die kanon, die maatstaf, die lineaal aan ons kant. Laat ons dan ook meet! Laat elke ander geskrif, elke ander opinie, elke ander teorie die toets van die Woord deurstaan. En dan laat ons onsself nie die swye oplê omdat die algemene opinie verskil van die Woord van die Here nie. En ons verander nie ons gedrag omdat dit sosiaal aanvaarbaar is nie. Die Woord is die maatstaf vir leer en lewe, nie die wêreld nie! Wees daarin moedig, broers en susters. En word bemoedig deur die woorde in Markus 16:20: “En hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het.”  

In die tweede plek let ons op die vreedsame leeu.

 

2. Na hierdie magsvertoon van die Here probeer Jerobeam om die man van God deur middel van manupilasie aan sy kant te kry. Hy nooi hom vir ete en bied vir hom ‘n geskenk aan. Maar die man van God weet baie goed wat die Here vir hom gesê het: “Jy mag geen brood eet of water drink nie, en jy mag nie terugkeer met die pad waarmee jy gegaan het nie” (vers 8). Gehoorsaam aan daardie woord keer hy met ‘n ander pad terug.

Dan kom daar ‘n derde karakter in die verhaal in – ‘n ou profeet uit Bet-el. Hy hoor by sy seuns wat sopas tydens die erediens gebeur het en met watter pad die man van God terug gereis het. En hy is agterna. Wanneer hy die man van God onder die terpentynboom opspoor (vers 14), dan nooi hy hom, net soos Jerobeam, vir ete. Weereens gee die man van God die regte antwoord: jammer, ek het ander bevele ontvang (verse 16 en 17).

 

En dan doen die ou profeet iets baie vreemds – hy jok vir die man van God. Hy swaai met sy profetiese geloofsbriewe, en maak op grond daarvan aanspraak op ‘n openbaring van God wat sê dat die man van God wél saam met hom moet gaan vir ete. Dit was ‘n blatante leuen, maar wonder bo wonder: die man van God val daarvoor. Terwyl hulle vervolgens besig is om te eet, ontvang die ou profeet ‘n openbaring, hierdie keer ‘n ware openbaring – God kondig sy oordeel aan oor die ongehoorsame profeet uit Juda. Hy sal nie vredig sterf en in die graf van sy vaders neergelê word nie.

En dan volg die vervulling van hierdie woord. Die man van God vertrek op ‘n geleende donkie, kom ‘n leeu teë, en word deur die leeu doodgemaak. Maar opmerklik, die leeu het verder geen aptyt vir die man van God of selfs vir die donkie nie. Vervolgens bereik die berigte van hierdie seldsame gebeurtenis die stad, en die ou profeet gaan opnuut op reis. Hy neem die liggaam van die man van God terug huistoe, doen alles wat nodig is vir die begrafnis, en verseker sy seuns dat die woorde van hierdie man van God sekerlik sal uitkom. Leeus mag moontlik die Here se ongehoorsame profeet uitskakel, maar niks kan die Here se woord laat ontspoor nie.

 

Wat ‘n verhaal…

Maar weereens, gemeente, moet ons die tema van hierdie hoofstuk in die oog hou. Dit gaan hier oor die woord van die Here. Die man van God hét die woord van die Here ontvang oor wat hy presies moet doen (tot tweemaal toe gee hy getuienis daarvan: ek mag nie saam met julle gaan eet nie), maar dan laat hy homself ompraat deur iemand wat aanspraak maak op ‘n teen-openbaring. ‘n Kontra-openbaring, een wat verskil van die openbaring wat die man van God reeds ontvang het. Maar in plaas daarvan om daardie nuwe sogenaamde ‘openbaring’ te toets aan die bestaande openbaring, aanvaar die man van God eenvoudig die liegstorie van die ou profeet. Dit was sy probleem! Hy was ‘n getroue profeet toe hy die Here se woord aan Jerobeam verkondig het, maar dit het hom nog nie onthef van die verantwoordelikheid om ook sélf aan daardie woord gehoorsaam te wees nie. Die Here het duidelik tot hom gespreek (moet nêrens iets eet of drink nie) – daarby moes hy gebly het! Ook al het die woorde van die ou profeet hoe gesagvol geklink, dit het ingedruis teen die geopenbaarde woord van die Here, en dit moes al vir hom genoeg gesê het…

Deur na die ou profeet te luister, was die man van God ongehoorsaam. En die ergste was: hy het sy eie prediking van sopas ondermyn. Hy het die woord van God aan Jerobeam skade berokken. Want ons kan maar weet dat die berig van die man van God se ongehoorsaamheid ook koning Jerobeam bereik het; hy het sekerlik ook hiervan gehoor. En dit kon maklik die gevolg gehad het dat hy die Here se woord nie meer ernstig geneem het nie: “Ag, kyk wat het die bringer van die goddelike woord gedoen… Ek hoef my ook nie aan God se Woord te steur nie.” Maar die Here sorg daarvoor dat die berig van die vreedsame leeu óók die koning bereik. Die Here laat nie toe dat sy eie woord deur ongehoorsaamheid ondermyn word nie. En die vreedsame leeu is die bewys: die woord van die Here het altyd die beslissende woord, ook al is die profetiese boodskapper ongehoorsaam. God se Woord is bepalend, veral óók vir sy eie kinders.

 

Die waarskuwing is duidelik…

Moenie ‘n getuie van die Woord wees, maar intussen nie self by daardie Woord lewe nie. Laat ons daarom bly by die Woord van die Here! En laat ons elke ander woord daaraan toets. Gee gehoor aan die oproep van Johannes in 1 Johannes 4:1: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.” Stel op die proef, beoordeel, toets. En die toetsingskriterium is die Woord van die Here.

As iemand verkondig dat die Here Jesus êrens aan die einde van Mei van hierdie jaar gaan terugkeer, dan gaan ons na die Bybel en dan gaan toets ons. En dan mag ons bepaal dat die Woord van die Here iets anders leer: niemand, nie eens die Seun, weet watter tyd die Vader bepaal het nie. Einde van alle teëspraak. As iemand jou probeer wysmaak dat dit nie verkeerd is om voor die huwelik seksuele omgang met jou kêrel of meisie te hê nie, dan gaan luister jy fyn na wat die Here sê. En dan gaan plaas jy God se woord teenoor mensewoord, en jy beoordeel reg en verkeerd. As jy in jou besigheid iets wil doen waarvan jy nie seker is of dit eties verantwoord is nie, dan gaan vra jy die Here se leiding en dan volg jy dit. Apokrief – en dit sluit alle geskrifte, opinies, wetenskap en teorieë van mense in – apokrief mag, volgens artikel 6, nie in die minste aan die gesag van die heilige boeke afbreuk doen nie. Niks staan bo die Woord nie; die Woord, daarenteen, staan bo alles. Daarmee toets jy alles en beoordeel jy alles, ook jou eie lewe voor die Here.

 

In jou en my lewe het die Woord van die Here altyd die beslissende woord. In jou en my lewe het Christus die laaste sê. Ja, gemeente, want Hy is die Woord wat vlees geword het. En dit is ook wat dit so wonderlik maak om die Woord van die Here die laaste woord te laat spreek. Want dit beteken eenvoudig om Christus in alles na te volg. En dit is geen las nie, dit is nie ‘n opgawe nie, dit doen ons nie met ‘n ontevrede uitdrukking op ons gesigte, soos wat jy by ‘n tiener kry wat sy huiswerk moet gaan doen nie. Nee, vir die christen is daar niks mooier en niks begeerliker as dit nie. Ek mag Christus volg! Apokrief, kom hier, laat ek jou deeglik toets. Want ek wil niks doen of sê of dink wat nie volgens sy wil is nie! Hy is my kanon, my maatstaf. Hom wil ek prys my lewe lank!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 95:4-6

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 81:1 en 2

Gebed

  • Kort nagmaalsformulier
  • Terwyl tafel in gereedheid, sing: Geloofsbelydenis (staande)
  • Voltooi formulier aan tafel
  • Sing Ps. 81:3 en 6

Teks: NGB, art. 6

Lees: 1 Konings 13

Preek

Amenlied Ps. 81:9 en 15

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 33:2 en 5

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)