Die Bybel: verstommende wonder van ‘n onveranderlike God!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2011-03-13
Text: 
NGB 4
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – NGB artikel 4; lees 2 Timotheus 3:10-17 en Mattheus 5:17-18

 

Seuns en dogters,

Julle weet almal wat ‘n lineaal is, en wat ‘n mens daarmee doen. ‘n Mens meet daarmee. Dieselfde doen ‘n mens ook met ‘n maatband – een soos wat jou ma byvoorbeeld gebruik wanneer sy naaldwerk doen, of een soos wat ‘n bouer of ‘n skrynwerker gebruik wanneer hulle iets bou of maak. Maar wat sou gebeur wanneer ons aan hierdie meet-instrumente sou begin torring? Wat sou gebeur wanneer ek skielik sou besluit dat ‘n 30 sentimeter-lineaal skielik net 29 sentimeter lank is? Of wat sou gebeur wanneer ek sou bepaal dat ‘n kilometer nou skielik nie meer uit duisend meter nie, maar uit negehonderd meter sou bestaan? Julle stem waarskynlik saam met my: niks gaan meer pas nie. Jou broeke en hemde gaan almal te klein wees, die paaie in ons land gaan almal uit teer uithardloop, en die deure in jou huis gaan waarskynlik net ‘n meter hoog wees.

Nou, veronderstel ons doen dieselfde met die Woord van die Here, met die Bybel? Kom ons sê ons skeur die boek Romeine uit. Of ons skeur al die Psalms of sommer die hele Ou Testament uit. Of andersom: ons besluit om ‘n ander boek aan die Bybel toe te voeg – kyk hoe dik is die bybel dan? Gemeente, ons stem hooplik saam dat ons dit nie kan doen sonder rampspoedige gevolge nie. Niks kan by die Bybel bygevoeg word nie. En niks kan daaruit weggehaal word nie. God se Woord, hierdie 66 boeke, is ons maatstaf vir leer en lewe. En daaroor gaan dit vanaand. Verlede week het dit veral gegaan oor die feit dát God vir ons sy woorde laat neerskryf het, vandag gaan dit meer oor wát God vir ons laat neerskryf het.

Tema: Die Bybel: verstommende wonder van ‘n onveranderlike God!

  1. Die eenheid van die Skrif
  2. Die gesag in al die boeke

 

1. Ons belydenis begin artikel 4 soos volg: “Ons vat die Heilige Skrif in twee dele saam: die Ou en die Nuwe Testament.” Ja, dink jy miskien, dit is redelik vanselfsprekend. Dit is mos ‘n gegewe, niemand van ons wat daaraan twyfel nie. Wel, gemeente, in die kergeskiedenis was dit beslis nie altyd ‘n gegewe nie. Reeds in die eerste eeue het Marcion die Ou Testament verwerp – dit was, volgens hom, slegs ‘n stuk literatuur oor die wraaksugtige god van die Jode, wat die knie moes buig voor die liefdevolle God van die Nuwe Testament. In die tyd van die Reformasie het die Anabaptiste (die Wederdopers) die Ou Testament ook verwerp – volgens hulle sou God slegs ‘n aardse verbond met Israel gesluit het, en daarom weet die Ou Testament ook slegs van aardse beloftes en seëninge. As begronding het hulle hulself dikwels beroep op 2 Korinthiërs 3:6: “want die letter maak dood, maar die gees maak lewend.” Vervolgens sien ons dat die liberalisme van die 19de eeu die Ou Testament ook algemeen verwerp het – en opmerklik genoeg is dit juis in hierdie tyd dat die Gideons ontstaan het, daardie organisasie wat soveel doen aan bybelverspreiding. Maar hoe lyk hierdie bybels deurgaans? Dit bevat slegs die Nuwe Testament en die psalms – dit is al! En nog so onlangs as die twintigste eeu het christene in Duitsland die Ou Testament as pornografie na die ashoop verwys.

Nee, broers en susters, die eenheid van Ou en Nuwe Testament is nie ‘n gegewe nie, dit is nie vanselfsprekend nie. Ook vandag is daar talle opregte christene wat bewustelik of onbewustelik hierdie twee uitmekaar haal, en wat vervolgens onvermydelik ‘n ander weg inslaan op verskeie punte van die christelike leer. Hulle slaan byvoorbeeld ‘n ander weg in as dit gaan oor die posisie van die volk Israel – want, sê hulle, omdat Ou en Nuwe Testament nie ‘n eenheid is nie, loop God gevolglik ook twee verskillende paaie, een met Israel en een met die kerk van die Nuwe Testament. Hulle slaan verder ‘n ander weg in wat betref die doop – want, sê hulle, in die Ou Testament was kinders vanaf geboorte deel van die nasionale volk Israel, maar in die Nuwe Testament het God ‘n ander toegangsweg: geloof, waarop dan die doop volg. Hulle slaan ‘n ander weg in wat betref die posisie van die wet – die wet was tipies vir die Jode, ons is egter deur Christus vrygemaak van die wet, en daarom het ons die wet nie meer in daardie vorm nodig nie. Hulle slaan ook nog ‘n ander weg in wat betref hulle visie op die eindtyd – want, sê hulle, omdat daar baie Ou Testamentiese beloftes oor land en volk is wat nog vervul moet word, daarom sal daar eers ‘n duisendjarige ryk kom waarin Christus Koning gaan word in die hedendaagse Jerusalem, voordat Hy finaal terugkom om die wêreld te oordeel.

 

Nou is dit nie my doel om op hierdie verskille in te gaan nie, maar ek hoop dat duidelik word watter gevolge dit het wanneer ons die Ou en die Nuwe Testament uitmekaar haal. Dan word nie net Ou en Nuwe Testament geskei nie, maar dan skei die paaie ook op baie ander punte… Maar voordat ons nou verval in ‘n gesprek oor ‘ons’ en ‘hulle’ (“óns erken wel die eenheid van die Ou en die Nuwe Testament, húlle nie”), kom ons bring die vraag eerder nader aan onsself, kom ons maak dit persoonliker: is óns nog van harte oortuig van hierdie eenheid? En weet ons nog hóékom ons daarvan oortuig is?

Ons het naamlik gelees uit 2 Timotheus 3. Daar roep Paulus vir Timotheus op: “bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.” Die heilige Skrifte – waarna verwys dit? Wel, gemeente, tot op daardie stadium was in feite nog net die Ou Testament op skrif; dus, die heilige Skrifte verwys na die Joodse bybel, dit wat ons vandag as die Ou Testament ken. En wat sê Paulus van hierdie Ou Testament? Paulus sê: hierdie Skrifte kan jou wys maak tot saligheid deur die geloof in Jesus Christus! Maar… praat die Ou Testament dan al van Jesus Christus? Ja, natuurlik! Maar… hoe weet ons dit dan? Want Christus self vertel dit vir ons!

 

Kom ons gaan gou saam ‘n paar Skrifgedeeltes na…

Ons begin met Johannes 5:39 [lees]: “Julle ondersoek die Skrifte (sien jy, daar het ons weer dieselfde woord ‘Skrifte’) omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig.” Pragtig, nie waar nie? Die Ou Testament getuig van Jesus Christus. Maar het die kerk – die dissipels – dit dadelik verstaan? Nee, en daarom dat Jesus ná sy opstanding die tyd neem om saam met hulle bybelstudie te doen. Kyk maar saam met my na Lukas 24:26-27 [lees]: “Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie? En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte (!) die dinge wat op Hom betrekking het.” En ook in verse 44-45 [lees]: “En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms (dít is tradisioneel gesien as die drie onderafdelings van die Skrifte, die OT), vervul moet word. Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte (!) te verstaan.” Op verskillende plekke wys Jesus dus vir sy dissipels en vir die skare: dit wat julle in julle Skrifte lees – in julle Bybel lees – gaan oor My, dit getuig van My. En juis omdat die Skrifte van Christus getuig, juis omdat die Ou Testament in sy wese oor Christus gaan, daarom kan Hy in Mattheus 5:17 sê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.”

 

Wat sou Jesus hiermee bedoel?

Wel, gemeente, kom ons vergelyk die Bybel met ‘n bouplan vir die geskiedenis. God is die Boumeester wat besig is om ‘n paradyslike wêreld te bou. En selfs na die opstand en afval van die mens, laat God hierdie plan nie vaar nie. Nee, Hy gaan daarmee voort; God hou sy bouplan ongewysig vol! Maar ag, die bouproses oppad na die nuwe paradys word ‘n lang pad van stagnasie en teëwerking, met die gevolg dat God se vorderingsverslag ook voortdurend langer word. In sy bouplan doen God onder andere verslag van Kaïn, die sondige generasie van die sondvloed, die bouers van die toring van Babel; Hy doen verslag van die afval in Israel, hulle kleingeloof en ongehoorsaamheid, van die baie konings wat nie in sy weë gewandel het nie, en van die afval ná die terugkeer uit ballingskap. En wanneer Johannes die Doper uiteindelik optree as die voorloper van die Messias, ja, dan moet ons erken dat die plan nog nie baie verder gevorder het nie as ‘n oproep tot boetedoening: “Bekeer julle!” Ons sien dus dat God se bouverslag eintlik maar ‘n aaneenskakeling is van stakings en vandalisme. So dikwels word dít wat God opbou, weer deur die mense afgebreek, en nie die minste deur sy eie volk nie. En tóg bly die plan staan…

 

En wanneer Jesus op aarde kom, dan gaan Hy nie teen hierdie plan in nie; Hy wysig nie die plan nie, Hy gooi ook nie die plan weg nie. Ook al mag die skare en die leiers van die volk moontlik so dink… ook al mag sy leer en sy lewenswandel moontlik daardie indruk wek. Nee, Jesus wil nie die bouplan weggooi nie, en die skare moet dit baie goed besef: “Ek het nie gekom om die wet of die profete (dus, die bouplan) te ontbind nie.” Die woord wat hier vir ‘ontbind’ gebruik word, beteken letterlik “ongedaan maak” of “verwoes”. Christus maak nie God se plan met die wêreld ongedaan nie. Inteendeel, “Ek het gekom om te vervul!” By vervulling gaan dit dus oor die realisering van dít wat nog oopgestaan het; dit gaan oor dié dinge waarvan die wet en die profete alrééds gespreek het, maar wat nog móés gebeur. Jesus gee in hierdie verklaring, dat Hy gekom het om te vervul, dus die waarborg dat alles wat in die wet en die profete nog onaf was, nog oopgestaan het, dat dit deur Hom gerealiseer sou word. Hy neem dit op Homself om God se plan – tot in die nuwe paradys – te voltooi!

 

En daarom is Jesus Christus die samebindende faktor van alles wat geskrywe is. Sy Naam bring alle bybelboeke onder een noemer; sy Naam staan as’t ware bo-aan God se bouplan. In Hom, só sê Paulus in 1 Korinthiërs 1:20, is al God se beloftes ‘ja’ en ‘amen’. Van Hom het al die profete van Samuel af en verder gespreek – só sê Petrus vir die Jode in Handelinge 3:24. Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid – só leer die Hebreërskrywer ons in hoofstuk 13:8. En dáárom is die Ou en die Nuwe Testament ‘n eenheid, die een Woord van God. Jesus Christus staan borg daarvoor. Hy bind al hierdie 66 boeke, wat oor eeue heen ontstaan het, saam tot ‘n hegte harmonie. Want in al 66 boeke gaan dit oor Hom!

Nog nie oortuig nie? Wel, gaan maak dan soos die mense van Berea. Wanneer Paulus die evangelie van Jesus Christus aan die Jode in hierdie stad verkondig, dan gaan hulle huistoe, hulle gaan haal die boekrolle uit die kas, en hulle ondersoek elke dag die Skrifte om te sien of hierdie dinge so was (Hand. 17:11). Sien jy dit? Wanneer Paulus aan hulle die Middelaar van die nuwe verbond verkondig, dan gaan hulle terug na die ou verbond om seker te maak of Paulus inderdaad die waarheid praat. En dan sien hulle: maar dit staan daar! Paulus verkondig nie ‘n nuwe leer nie. Nee, Paulus verkondig dat die roosknop, wat in die Ou Testament reeds aanwesig was, nou oopgegaan het tot ‘n pragtige roos. Die hele Nuwe Testament verkondig dat die skaduwees van die Ou Testament nou nie meer net skaduwees is nie, maar dat die Persoon agter die skaduwees onthul is. En dit kan jy tog nie skei nie? Jy kan tog nie die roosknop weggooi en dink jy kan die roos hou nie? Jy kan tog nie die skaduwee van die persoon skei nie? Probeer dit maar ‘n slag; probeer maar ‘n slag om van jou eie skaduwee af weg te hardloop. Dit is nie moontlik nie. So is dit ook nie moontlik om Ou en Nuwe Testament van mekaar te skei nie, want hulle word onlosmaaklik aan mekaar verbind deur die Persoon van Jesus Christus, die Woord wat vlees geword het.

 

Broer en suster, waarna soek jy wanneer jy bybel lees? ‘n Opbouende verhaal om jou te inspireer? ‘n Pitkossie vir die dag – is dit hoekom ons vir mekaar sulke los bybeltekste stuur? Soek jy dalk ‘n goeie voorbeeld om na te volg? ‘n Duidelike reël om jouself aan te bind? As dít is waarna ons soek, dan is ons presies net soos die Jode waarvan Paulus praat in 2 Korinthiërs 3:14: “Hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word. Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart; maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem.” Paulus sê: die Jode lees Bybel met oogklappe op – hulle dink hulle weet wat hulle lees, maar hulle weet nie. Want hulle glo nie in Christus nie, en net Christus kan die oogklappe wegneem. Hulle moet daarom bekeer word!

Ons moet ook bekeer word! Bybellees is voortdurende bekering tot die Here. En dan neem Hy die bedekking weg wat ook so maklik óns sig belemmer, sodat ons Christus kan raaksien. Christus in die skepping, Christus in die wette van Moses, Christus in die offers en ander seremonies, in die geskiedenis van die koningskap, in die boek Prediker, in die boek Hooglied. Christus, van begin tot einde, van skepping tot voleinding, die Alfa en die Omega. Bybellees is om Christus te soek – Christus, sonder wie ek nie kan lewe nie. Christus, Hy wat vir my alles beteken. Christus, vir wie ek van harte liefhet. Die hele Bybel gaan oor Hom! In Hom is al wat ons uitskeur: die paar wit bladydjies tussen Maleagi en Mattheus. Sodat almal kan weet: die Ou Testament loop oor in die Nuwe Testament. Die roosknop breek oop in die pragtigste roos!

In die tweede plek: die gesag in al die boeke.

 

2. Ons belydenis gaan verder in artikel 4: “Dit is die kanonieke boeke waarteen niks ingebring kan word nie.” Dit is dalk goed om hier net die woord ‘kanon’ te verduidelik. Let wel, hierdie woord gaan jy nie in die Bybel vind nie, maar die saak waaroor dit gaan, is wel in die Skrif aanwesig. Die woord ‘kanon’ kom naamlik van ‘n Griekse woord wat beteken ‘maatstaf’ of ‘lineaal’ of selfs ‘gids’. In die kerk het hierdie woord gevolglik die betekenis gekry van maatstaf of standaard vir leer en lewe. Die 66 boeke van die kanon gee dus vir ons die maatstaf vir wat ons glo, en vir hoe ons vanuit die geloof moet lewe. Die Skrif is die riglyn en standaard vir die kerk.

En Guido de Bres, die opsteller van die NGB, het dit doelbewus so geformuleer, want in die Roomse kerk was – en is dit vandag steeds – presies andersom. In die Roomse kerk is nie die Skrif die maatstaf vir die kerk nie, maar is die kérk die maatstaf vir die Skrif! Die kérk bestaan vóór die Skrif. Die gesag van die Woord kom van die kérk af (deur middel van die Pous), en dit is nie so – soos wat ons dit bely – dat die kerk vanuit die Woord gebore word nie. In die Roomse kerk vind jy ook nie die saligheid in die Woord nie, maar is dit die kerk wat jou saligheid bepaal. Daarom is die Skrif in die Roomse kerk nie noodsaaklik nie. Bybellees word wel aangemoedig, maar is nie lewensnoodsaaklik nie. Jy kan gered word deur, byvoorbeeld, slegs die sakramente te gebruik.

 

Nou, daarteenoor bely ons: die Skrif met al 66 boeke is die maatstaf, die lineaal vir leer en lewe. En is dit nie presies wat Paulus ook vir Timotheus sê nie? Hy begin in vers 16 deur te sê: “Die hele Skrif is deur God ingegee…” Letterlik staan hier: die hele Skrif is deur God geasem, geïnspireer. Die Skrif – dit wat jy in jou bybel lees – is daarom nie ‘n dooie letter nie, maar dit is die woord van die lewende God. Sy lewensasem het dit tot stand gebring. Dit is as’t ware asof elke bybelboek asemhaal! Dit is die vitaliteit, die lewendigheid, van die goddelike Woord, waarin die Here sy Gees geblaas het.

En juis daarom kan Paulus vervolgens van die hele Skrif en van elke afsonderlike bybelboek sê dat dit nuttig is, dat dit bruikbaar is. Wat daar ook al geskryf staan – wette, geskiedenis, wysheid, profesie, poësie – dit alles het ‘n bepaalde gebruikswaarde vir die kerk en vir die gelowige. Dit is bruikbaar om te leer en te onderrig – daarom dat ons by die katkisasies saam die Skrif oopmaak. Dit is bruikbaar om dwaalleer te weerlê – daarom dat ons nie kerklike uitsprake of tradisies voorhou wanneer ons met mense in gesprek gaan oor dwaalleer nie. Dit is bruikbaar om tereg te wys en te verbeter – daarom gaan ampsdraers met die Woord op huisbesoek. Dit is bruikbaar om op te voed in die geregtigheid – daarom is almal van ons hooplik gereeld met die Skrif besig, sodat ons kan groei in ons kennis en liefde.

 

En wat is die resultaat van al hierdie Skrifgebruik? Wel, volgens Paulus in vers 17 is daar ‘n tweeledige resultaat. In die eerste plek: dat die mens van God volkome kan wees. Nee, dit gaan hier nie oor ‘n perfeksionistiese lewensideaal nie. Ons word in hierdie lewe nie volmaak en sonder sonde nie. Dit gaan daaroor dat die mens, wat vanuit die Skrifte lewe, geskik is vir sy taak. In my Grieks-Engelse woordeboek staan daar as verklaring van hierdie woord: ‘fully qualified’, ‘volledig gekwalifiseer’. Daardie persoon weet wat daar van hom verwag word, hy weet wat die Here van hom vra. In die tweede plek is so iemand vir elke goeie werk volkome toegerus. So iemand kry dus vanuit die Skrif al die nodige gereedskap om die goeie wil van die Here te soek en te doen.

En só, broers en susters, is die Skrif vir ons die kanon – die lineaal, die maatstaf, in leer en lewe. Dit maak my en jou geskik om mét God te lewe en ook vír Hom te lewe… soos wat Hy dit wil hê! En het ons dit nie nodig nie? Want ons lewe het vanaf die sondeval letterlik skeef-geloop. Ons weet nie meer hoe om te meet nie. In sake van die leer meet ons soms te veel, sodat ons dinge leer wat die Skrif nie leer nie. Maar ander kere meet ons weer te min, sodat ons dinge nalaat wat die Skrif wel uitdruklik aan ons voorhou. En in sake van die lewenswandel is ons meet-vermoë amper nog slegter. Dikwels gebruik ek maar die lineaal van die wêreld om te bepaal hoe ek moet lewe. En die wêreld se lineaal sê: “Wel, almal doen dit, hoekom sou ek dit nie doen? Almal slaap voor die huwelik saam, en as ons lief is vir mekaar, wat is dan die probleem?” Die wêreld se maatstaf sê: “Solank niemand agterkom dat ek my belastingvorm nie heeltemal eerlik invul nie, dan is daar mos geen krisis nie?” Die wêreld meet met hulle lineaal die Sondag, en hulle kom tot die konklusie dat dit heeltemal binne die grense pas om inkopies te gaan doen en langs die sportveld te gaan sit. Die wêreld gebruik ‘n maat-eenheid wat sê dat my geld myne is, en dat ek daarmee kan doen soos ek goeddink.

 

En dan sê die Here: “My mens, as jy wil kwalifiseer om te lewe, werklik te lewe as verloste, dan kán jy nie daardie lineaal gebruik nie. Daardie lineaal is skeef, hy’s krom, hy kom eenvoudig te kort aan My mate.” Want, gemeente, die Here meet totaal anders as die wêreld om ons heen. Die Here meet volmaak, sy lineaal is perfek op standaard. Deur die geloof in Jesus Christus maak sy lineaal jou wys tot saligheid! Gebruik daarom sy maatstaf, die Bybel. Dra dit saam met jou. Gebruik dit wanneer jy met jou geld werk – hoe is ek ‘n goeie rentmeester? Waarvoor gebruik ek my geld? Gebruik hierdie lineaal wanneer jy saam met jou meisie of jou kêrel is – hoe hou ons ons liggame rein en heilig? Hoe is ons verhouding tot eer van die Here? Gebruik hierdie lineaal wanneer jy boeke lees of agter jou rekenaar sit, wanneer jy vakansie hou of huiswerk doen, wanneer kos maak of skottelgoed was.

Teenoor ‘n skewe en krom lineaal gee die Here die lineaal wat perfek op maat is. 66 Bybelboeke, ‘n volmaakte eenheid in Jesus Christus, en daarom nuttig om die mens toe te rus vir elke goeie werk. Meetkunde was nog nooit so mooi en so eenvoudig nie.

Amen

 

Liturgie: 

(Aand)
Votum en seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Skr. 34:1 en 2

Lees:    2 Timotheus 3:10-17

            Mattheus 5:17 en 18

Sing Ps. 110:1, 2 en 5 (in Christus vervul)

Teks: NGB, artikel 4

Gebed

Preek

Amenlied Ps. 119:2, 5 en 7

Gebed

Belydenis van geloof (singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 105:4 en 6

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.