NGB Art 1

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2011-02-20
Text: 
NGB 1
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – NGB artikel 1; lees Hebreërs 11:1-6

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Verlede week het ons die behandeling van die Heidelbergse Kategismus afgesluit. Vandag haal ons ‘n ander ou boek uit die kas uit. Die Nederlandse Geloofsbelydenis (afgekort: die NGB). Dink bietjie hieroor na: voordat ons nou vanoggend artikel 1 gelees het, wanneer laas het jy die NGB oopgemaak en daaruit gelees? Hoe dikwels gebruik jy hierdie dokument om jouself op te skerp oor wat jy – en die hele kerk saam met jou – bely? Kom ons wees eerlik: hierdie belydenisgeskrifte van ons is in vandag se tyd nie baie gewild nie. Verskeie kerkgroepe om ons heen het hierdie belydenisgeskrifte nog as hulle grondslag, maar weinig gebruik dit nog in die praktyk. Dit sluit onsself dikwels in!

En die sogenaamde leerdienste – dus, die prediking na aanleiding van die belydenisgeskrifte – is nie vir ons altyd ewe opwindend nie. En met die eerste oogopslag help artikel 1 van die NGB ook nie werklik om ons aandag te trek nie. Dit klink sommer na swaar stof waarmee ons hier te make kry, die beskrywing daarin voel vir ons afstandelik en filosofies. Luister maar na sommige van die bewoording: ‘n enige en enkelvoudige geestelike Wese wat ons God noem; ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig… Wat moet ek nou hiermee doen? Hoe moet ek dít nou in my gewone, alledaagse geloofslewe gebruik?

 

Wel, broers en susters, eintlik gee artikel 1 sélf vir ons die antwoord met hierdie opmerklike openingswoorde: “Ons glo almal met die hart en bely met die mond…” Dít is die reaksie – die gemeenskaplike reaksie van die hele kerk, maar tog ook my persoonlike reaksie – wat hierdie eerste artikel oor God by ons wil oproep. Dis reg: die NGB begin by God. Maar is dit dan so opmerklik? Ja, want die Heidelbergse Kategismus begin met die mens (“wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?”). Die NGB, egter, neem sy vertrekpunt in die teologie, in die kennis van God. Meer presies: met die werklikheid dat God bestaan. En om nou terug te gaan na daardie eerste sinnetjie: hierdie werklikheid dat God bestaan, wil geglo en bely word! Ons glo met die hart en ons bely met die mond…

Hierdie woorde kom direk uit Romeine 10:10, en ons vind dit nêrens anders in hierdie belydenis nie, as slegs hier in artikel 1. En ons moet deeglik daarvan kennis neem. Dit is nie sommer ‘n onbelangrike inleiding tot hierdie artikel nie; nee, hierdie eerste woorde bepaal die hele gees van die artikel. Ons glo almal – almal wat hierdie belydenis onderskryf – dat God bestaan, dat Hy ‘n werklikheid is! En hoewel artikel 1 die bestaan van God vir ons gevoel met afstandelike terme beskryf, het hierdie belydenis nogtans ons hartlike instemming! Ons glo met die hart! Nou was daar in die spannende en gevaarlike tyd van die Reformasie mense wat gesê het: “Presies, juis omdat dit ‘n saak van die hart is, is dit nie nodig om daaroor te praat nie.” Hulle het gemeen dat hulle op dié manier aan die gevaar van geloofsvervolging kon ontkom. En dan sê Calvyn in reaksie daarop: “Nee! Want kan daar ooit ‘n vuur wees, waar daar geen vlamme en geen hitte is nie?” Calvyn noem hierdie mense daarom Nikodemiete – want, net soos wat Nikodemus in Johannes 3 in die nag na Jesus gekom het, so wil hierdie mense hulle geloof in die geheim koester en beleef.

Maar geloof is nie maar net iets van jou binnekamer nie; geloof kan jy nie maar net vir jouself hou nie, dit is nie ‘n vuur wat slegs in jou hart brand nie. Geloof is daar om bely te word, vir jou geloof kom ‘n mens mos uit. Die vuur in jou hart word sigbaar in die vlamme, en dit word voelbaar in die hitte wat dit uitstraal. En daarom: ons glo met die hart, dit is waar, maar ons bely ook met die mond! Ook al kos dit jou jou lewe. En Guido de Bres, die opsteller van hierdie belydenis, het baie goed geweet waarvan hy praat. Op 31 Mei 1567 – dus 6 jaar nadat hy hierdie belydenis opgestel het – is hy vir sy geloof aan die galg opgehang. In blymoedige geloofsvertroue het hy sy belydenis met die marteldood beseël. Maar die werklikheid van die bestaan van God was vir hom – en is vandag vir ons nog steeds! – onopgeefbaar. God is nie ‘n gedagte wat maar in die verstand kan bly nie, God is nie ‘n teorie waaroor ons maar met mekaar kan spekuleer nie. Nee, God is ‘n werklikheid in ons lewens!

 

Maar hoe weet ons dit? Kan die bestaan van God dan bewys word?

Gemeente, deur die eeue was dit een van die mees brandende vraagstukke in die teologie. Tientalle sogenaamde ‘Godsbewyse’ is bedink en bespreek. Sommige het, byvoorbeeld, probeer om God se bestaan te bewys vanuit die natuur: die natuur is so mooi en intelligent ontwerp, die natuurwette is so wys en goed, daar moet eenvoudig Iemand wees wat dit gemaak het. Ander weer het God se bestaan probeer bewys vanuit die mens: immers, mense het ‘n aangebore besef van wat goed en kwaad is, van wat reg en verkeerd is. Ons bely dit ook in die Dordtse Leerreëls: selfs ná die sondeval het daar in die mens tog nog ‘n bietjie van die lig van die natuur oorgebly. Daardeur het hy ‘n mate van kennis van die onderskeid tussen die betaamlike en die onbetaamlike bly behou. Nou, waar sou dit vandaan kom? Daar moet ‘n God wees wat daaragter sit. Dan was daar ook nog ‘n poging om God se bestaan te bewys vanuit die geskiedenis: alle dinge in hierdie wêreld het immers ‘n oorsaak, dus by die allereerste begin moes alles ontstaan het uit iets wat geen oorsaak het nie – en dit is God. Of aan die ander kant van die spektrum: alles in hierdie wêreld is gemaak met ‘n doel en is oppad na daardie doel toe, en daardie doel is weereens… God.

En só, het hulle gedink, kan hulle die bestaan van God bewys. En die gedagte agter hierdie Godsbewyse was natuurlik edel en opreg. Dikwels het mense dit ook met goeie bedoelings in evangelisasie-pogings gebruik om ongelowiges van die bestaan van God te oortuig en só tot die geloof te bring. Maar, gemeente, God laat Hom nie bewys deur ons menslike denke nie. God is nie ‘n wiskundesom waarvan jy, as jy sekere vaste reëls volg, sonder twyfel by die regte konklusie moet uitkom nie. Die bestaan van God is nie ‘n wetenskapsprojek waarvoor ons met ons denke bewyse kan aanvoer nie. Indien die bestaan van God inderdaad bewys kon word, dan was God nie werklik God nie, want alles wat ons kan bewys, is aan óns insig en denke onderworpe. Dus, nee, geen Godsbewyse nie… Ons glo nie in God omdat Hy vooraf eers aan ons verstand bewys is nie.

 

En tóg, gemeente, praat Hebreërs 11 van ‘’n bewys’. Kyk maar saam met my na vers 1. Eers sê die Hebreërskrywer in vers 1: “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop…” Dus, die geloof is die stewige fondament waarop ek staan, waardeur ek seker mag wees van die toekoms wat God aan my en al sy kinders belowe het. Ek hoef nie te wonder oor die heerlike toekoms saam met God nie, ek hoef nie daaraan te twyfel nie. Geloof is sekerheid oor die toekoms! Maar vervolgens sê die skrywer ook nog in vers 1 (en dit is nou waarna ons baie mooi moet luister): “die geloof is [ook] ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie”. Daar het jy dit nou – ‘n bewys! ‘n Bewys waarvan? ‘n Bewys van die dinge wat ons nie sien nie – dus, die onsienlike dinge. En wat staan heel bo aan die prioriteitslys van die onsienlike dinge? Natuurlik, die onsienlike God sélf! (en die woord ‘onsienlik’ is nie iets wat ek uitgedink het om God mee te beskryf nie; nee, ons vind hierdie beskrywing terug in die rytjie waarmee artikel 1 vir God beskryf).

Dus, my en jou geloof – die feit dat ons glo – is die bewys dat God, wat ons nie met ons oë kan sien nie, nogtans werklik bestaan. Geloof begin daarom nie met die sienlike dinge nie, geloof begin nie met aanskouing nie. Paulus sê immers in 2 Kor. 5:7: “ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.” Jy glo nie in God omdat jy Hom gesien het nie, of omdat jy ‘n bewys het dat Hy bestaan nie. Nee, sê die Hebreërskrywer, die geloof sélf is die bewys van die onsienlike, van dít wat ek nie kan sien nie! Die feit dát jy glo, bewys die bestaan van God. Maar oppas nou, dit is geen wiskundige, teoretiese bewys nie. Dit is nie die soort bewysmateriaal wat die hedendaagse wetenskap van ons vereis nie, want die geloof is nie harde, wetenskaplike feite nie. Nee, die geloof is ‘n innerlike oortuiging. Dit is ‘n verligting van die verstand, ‘n sagmaak van die hart, ‘n lewendmaking van die wil. Die gevolg is – só sê die Dordtse Leerreëls – dat almal in wie se harte God op hierdie wonderlike wyse werk, sekerlik, onfeilbaar en kragdadig weergebore word en daadwerklik glo! En daarom is dit vir die geloof self helder en duidelik: God bestaan, en Hy is ‘n werklikheid in my lewe!

 

Ja, maar hoe kan die geloof dit weet? Hoe kan die geloof weet dat God werklik bestaan? Wel, gemeente, daarvoor moet ons verstaan wat die aard van die geloof is. Want geloof in bybelse sin is nie dieselfde as wat óns dikwels van geloof praat nie, naamlik as iets wat onseker is, omdat ons dit nog nie gesien het nie: “Gaan die ekonomie hierdie jaar ‘n opbloei vertoon? Ja, ek glo so.” Of: gaan jy jou eerstejaar op universiteit maak? Ja, ek glo so.” Maar dit is nie wat die bybelse geloof is nie. Nee, geloof in bybelse sin beteken om vas te vertrou. En meer nog: dit beteken om jouself aan Iemand toe te vertrou, jouself aan Iemand oor te gee. Dít is wat geloof in die bybel beteken. Wie na bewyse soek vir die bestaan van God, sal nooit vaste grond onder sy voete kry nie; daardie persoon sal altyd bly twyfel, want God laat Hom nie bewys nie. Maar wie homself in geloof aan God oorgee – volledig oorgee! – hy kry sekerheid. En vir die gelowige is die bestaan van God dan nie eens meer ‘n diskussie werd nie; dit word dan eenvoudig sy vertrekpunt: God bestaan werklik. Omdat Hy so sê in sy Woord. En omdat ek myself volledig aan Hom toevertrou het!

En weet verseker, broers en susters: God sal aan daardie persoon bevestiging en sekerheid skenk. O ja, Hy doen op verskillende maniere en op verskillende tye. Maar Hy sál sy kinders seker maak! Hoe? Deur die geloof. Die geloof gee vaste grond onder jou voete. Dikwels wil ons dit andersom hê, nie waar nie? Ons wil eers sien, en dan glo. So was Thomas ook. Thomas wou eers die gate in die Here Jesus se hande en in sy sye sien, voordat hy dit kon glo. En wie van ons neem hom dit kwalik? Maar Jesus leer vir Thomas: dit is eers glo, dan sien. Dít is die regte volgorde. Eers God op sy Woord vat en die sprong waag – nee, nie ‘n sprong in die duister nie, nie ‘n sprong in die onsekerheid in nie, maar ‘n sprong na Iemand toe. God steek sy hand uit, en geloof is om vir daardie hand te gaan in die vertroue dat God sy hand nie sal terugtrek nie. Om te glo, is om te verwag, te verwag dat God sy beloftes hou. En dan sal die bewyse – die geloofsbewyse – vanself volg. God sal daarvoor sorg!

 

Ons sien dit pragtig in die eerste klompie verse van Hebreërs 11. Vat byvoorbeeld die skepping – vers 3. Hoe het hierdie wêreld ontstaan? Is dit geskape? Het dit deur ewolusie ontstaan, was daar miljoene jare gelede ‘n ‘big bang’? As gelowiges sê en bely ons dat God die wêreld deur sy Woord geskape het. Ja, maar hoe weet ons dit? Het ons enige harde en wetenskaplike bewyse daarvoor? Nee, ons het nie bewyse daarvoor nie. Ons het nie bewyse wat ons kan aanvoer, sodat mense vervolgens oortuig word om in die Skepper te glo nie. Ons glo dit eenvoudig! En dáárom kan ons dit ook sien! Lees maar vers 3: “deur die gelóóf verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is…” Eers glo wat ons nie kan sien nie, en deur die geloof laat die Here ons dan ook sien en verstaan. Eers glo, en dít gee die bewys. Eers glo, en dan kan ons in elke detail van hierdie skepping God se hand sien. Eers glo, en dán kan ek sien dat my pasgebore babatjie ‘n wonderwerk van God is, dán kan ek sien dat elke boom en blom in my tuin deur God gemaak is, dán kan ek sien dat die oorstromings wat die wêreld die laaste maande getref het, God se werk is. Maar eers glo…

Ons vind dieselfde by die eerste twee geloofsgetuies waarvan Hebreërs 11 ons vertel. In vers 4 lees ons van Abel, die eerste martelaar van die kerk, doodgemaak deur sy broer. Uit geloof het Abel aan God ‘n offer gebring. En dan lees ons dat hy daardeur getuienis ontvang het dat hy regverdig was. Deurdat God sy offer aangeneem het, het Hy gewys dat Hy Abel liefhet. Abel het nie eers gesien nie. Nee, in geloof het hy geoffer, en die Here het aan hom vervolgens ook die bewys gegee! In vers 5 kom ons ook nog vir Henog teë; Henog, wat nooit gesterf het nie, maar wat deur God weggeneem is. Juis dáárdeur kon Henog sien dat God behae in hom gehad het. Het Henog dit eers gesien? Nee, Henog het eenvoudig in geloof met God gewandel, en daardeur het die Here vir Hom gewys dat Hy behae in hom het.

Dus, gemeente, vir wie glo, kom die bewyse vanself. By Abel die bewys deurdat sy offer aangeneem is, by Henog die bewys deurdat hy nie nodig gehad het om te sterf nie. Ja, die een gelowige word op ‘n ander manier bevestig as die volgende gelowige. Maar elke gelowige ontvang bevestiging. Vir elkeen wat glo, volg daar ook die sien! Die Here belowe dit! Dit is dus nie nodig om vooraf alreeds ‘n bewys te kry van die bestaan van God nie. Nee, die geloof is op sy eie genoeg bewys. Die geloof is sy eie bewys!

 

Dus, waartoe roep artikel 1 van die NGB ons op, broers en susters?

Artikel 1 roep ons nie op om God se bestaan te bewys nie. Artikel 1 roep ons op tot geloof (“ons glo almal met die hart…”), dit roep ons op om onsself aan God oor te gee. Dit roep ons op, in die woorde van Hebreërs 11:6, om na God te gaan. Klink dalk bietjie vreemd in ons gereformeerde ore, of hoe? God kom mos na ons toe? O ja, beslis. En die Here het alreeds soveel treë in ons rigting gekom. God het al so naby aan ons gekom deur sy Seun, Jesus Christus. God het beslis nie gewag totdat ons eendag die eerste stap sou plaas nie. Nee, dít het Hy al lankal gedoen. Maar nou roep Hy ons vervolgens ook op om na Hom te gaan, om sy hand aan te gryp. “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader”, leer Jakobus ons in hoofstuk 4:8 van sy brief. En om dít te doen, moet jy glo dat God bestaan. Eintlik sê ek dit nog nie reg nie, want die duiwel glo ook dat God bestaan. Nee, Hebreërs 11:6 stel dit anders: “… hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is.” Hy is! “Wat is u Naam ook al weer?”, het Moses gevra. “Ek is wat Ek is”, het God geantwoord. Ek is! Ek is daar vir jou, Ek is by jou. Ons kan met hierdie God oppad gaan. Ons kan hierdie God aanspreek – die NGB sê mos: “‘n enige en enkelvoudige geestelike Wese wat ons God noem…” Jy kan Hom benoem, jy kan met Hom in ‘n verhouding staan. Jy kan met Hom praat, want Hy praat met jou! Ja, Hy maak Homself aan jou bekend.

Kyk maar na die rytjie met eienskappe in artikel 1 waaraan ons God kan ken. Dit is beslis geen volledige rytjie nie, en so het Guido de Bres dit ook nooit bedoel nie. Wie sou in elk geval die heerlikheid van God volledig kon benoem. Immers, die aarde is vol van sy heerlikheid, en sy majesteit straal ons tegemoet op elke bladsy van die bybel. Maar juis in die onvolledigheid daarvan lê die rykdom. Want dit beteken daar is nog veel meer! Ons sou nog God se genade en heerlikheid kon noem, sy barmhartigheid, sy geduld, sy liefde ensovoorts, ensovoorts. God kan geken word, want Hy het Homself bekend gemaak! En sy openbaring vra van ons geloof met die hart. Maar dit vra vervolgens ook belydenis met die mond. Dit vra dat ons die bestaan van God en sy teenwoordigheid in ons lewens as die heel eerste werklikheid van ons lewe teenoor die wêreld sal bely. Teenoor ‘n agnostiese wêreld (wat sê: “ons kan God nie ken nie”), en ‘n ateistiese wêreld (wat sê: God bestaan nie) bely ons: “Ons glo in God, en Hy is die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.” Moet jou nie daarvoor skaam nie! Geloof – met die hart en met die mond.

 

Gemeente, ek hoop dat ons almal vandag kon sien dat geloof nie is: eers sien, eers bewys nie. Geloof vra ‘n stap wat jy moet neem. En dan belowe God dat jy deur die geloof sal sien. God belowe dat daar deur die geloof bewyse sal volg. En dan kan jy nie meer neutraal bly nie. Baie van ons ken waarskynlik die prentjie wat ‘n mens soms op jou rekenaarskerm sien. Dit is ‘n blokkie wat jy moet invul met jou naam en wagwoord, voordat jy toegang kan verkry tot, byvoorbeeld, jou bank. Sonder hierdie besonderhede kry jy geen informasie oor jou banksake nie. Nou, op ‘n soortgelyke manier werk dit met die geloof. Jy kan nie ontdek dat God bestaan en dat Hy ook in jou lewe wil wees, as jy nie persoonlik betrokke is nie. Nee, jy moet jou eie naam daar invul. Aktief. En wat is dan die wagwoord? Die wagwoord is ‘geloof’! As jy eenmaal ‘ingelog’ het in die geloof, en dit steed weer doen, dan sal jy meer en meer van die Here ontdek. Maar geloof bly die sleutel. Sonder geloof kan jy die Here nie leer ken nie. Eers glo, dan sien. Eers glo, dan weet. Doen dit, en jy sal dit ervaar. Jy sal ervaar dat God ‘n Beloner is van die wat Hom soek (vers 6). Moet dus nie twyfel nie, maar gaan na hierdie God toe. En Hy sal Homself verseker aan jou bewys!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 74:5, 9, 12, 15 en 16

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 27:2 en 4

Wetslesing + genadeverkondiging uit Rom. 3:10-12, 19-24

Sing Ps. 14:1, 2, 5-7

Gebed

Lees: Hebreërs 11:1-6

Teks: NGB, art. 1

Preek

Amenlied Ps. 100

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 73:11 en 12

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)