Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.
Preek – NGB artikel 22; lees
Geliefde gemeente,
Ons is in Suid-Afrika goed bekend met die begrip ‘onteiening’. Ons kom dit veral teë in die landbou-sektor, waar daar deur die regerende party gepraat word oor die onteiening van plase. Vir húlle beteken dit dat grond van voorheen-bevoordeelde blanke boere gevat word en aan voorheen-benadeelde swart boere gegee word. Nou, gelukkig is daar in óns land nog sekere reëls wat hierdie proses reguleer; daar moet byvoorbeeld billike kompensasie plaasvind. Maar in ons buurland, Zimbabwe, het hierdie proses van grond-onteiening heeltemal hand-uit geruk het. Boere word sonder enige kompensasie en gewelddadig van hulle plase af verdryf. Hoe dit ook al sy, onteiening beteken dus die wegvat van iets wat wettiglik aan iemand anders behoort. Die keersy van ‘onteiening’ is natuurlik ‘toeëiening’. En dit beteken om iets in besit te neem wat nie aan jou behoort nie.
Toeëiening – nou, gemeente, in die lewe met die Here is daar ook so iets soos toeëiening; in die lewe met die Here neem gelowiges ook iets in besit wat nie aan hulle behoort nie. En wat is dit? Wel, in artikel 21 het ons gesien dat Jesus Christus alle sondes op Hom geneem het en God se straf daaroor gedra het. Deur hierdie werk is Christus volmaak regverdig voor sy Vader. Maar hoe word ek nou vervolgens geregverdig voor God? Hoe word ek bevry van God se straf oor die sondes? Wel, ek word geregverdig deur die toeëiening van Christus se geregtigheid, ek word bevry van God se straf deur in besit te neem wat Christus aan die kruis verdien het. Ek neem in besit wat nie aan my behoort nie; ek eien toe dít wat aan Christus behoort, en ek maak dit my eie. Só is ek regverdig voor God!
Maar hoe gebeur hierdie toeëiening presies, broers en susters? Hoe maak ek Christus se verdienste my eie? Deur die geloof! Geloof is die hand waardeur ek in besit neem dít wat nie aan my behoort nie, om dit vervolgens my eie te máák. En dit is waaroor dit in vanoggend se preek sal gaan.
Tema: Ek neem Christus se geregtigheid in besit… deur die geloof!
- Die Outeur van my geloof
- Die Voorwerp van my geloof
- Die aard van my geloof
1. Die toeëiening van Christus se verdienste vind plaas deur die geloof. Dit is wat ons sopas hierbo gesê het, en dit word bevestig deur wat ons in artikel 22 lees: “Die gelóóf omhels Jesus Christus met al sy verdienstes. Dit [dus, die geloof] maak Hom ons eie en soek na niks anders as na Hom nie.” En in artikel 35 bely ons dat, in die nagmaal, Christus deur die gelóóf geestelik toegeëien en ontvang word. Maar nou lees ons op ander plekke ook iets anders… Ons lees onder andere in die doopsformulier dat dit die Heilige Géés is wat tot ons eiendom maak wat ons in Christus het. En in Sondag 20 van die Kategismus lees ons dat dit die Géés is wat my aan Christus en al sy weldade deel laat kry. So, wat is nou die regte antwoord? Hoe vind die toeëiening dan nou eintlik plaas: deur die Gees, of deur die geloof?
Wel, gemeente, dit is in elk geval nie so dat die Heilige Gees en die gelowige elkeen ‘n aandeel het in die toeëiening van Christus se werk nie; daar is nie sprake van ‘n soort werksverdeling waarin ek en my venoot elkeen ons deel bydra nie. Nee, die suiwer manier om hierdie vraag te beantwoord, is om te sê dat ek deur die geloof Christus se verdienste (sy geregtigheid) in besit neem. Dit is immers hoe die Bybel daaroor praat; dink maar net aan Romeine 1:17: “Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe”. Deur die geloof eien ek Christus se verdienste myself toe, máár dan moet ek onmiddellik byvoeg dat my geloof ‘n gawe is van die Heilige Gees. Dit is wat Paulus ons leer in Efesiërs 2, wat ons saam gelees het: “… uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” En Paulus beklemtoon nogmaals die Goddelike oorsprong van geloof wanneer hy so pragtig in 1 Korinthiërs 12:3 sê: “Niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.” Die feit dat jy en ek glo en dat ons in staat is om ons geloof in die Here Jesus te bely, is die werk van die Heilige Gees; Hy is die Outeur van ons geloof, Hy is die Skepper van ons geloof, Hy verander harte van klip in harte van vlees.
En dit is belangrik dat ons dit beklemtoon, broers en susters, want in ons stryd teen die Roomse leer kan ons so maklik sélf weer Rooms word. In ons stryd teen enige vorm van werkheiligheid en eie verdienste, verval ons so maklik in ons eie, gereformeerde vorm van werkheiligheid. Vol oortuiging bely ons dan: ons word geregverdig deur die geloof sonder enige werke… net om vervolgens van die geloof sélf ‘n nuwe werk te maak, net om vervolgens te begin spog met ons geloof, hoe subtiel en hoe onbewustelik ook al. En Guido de Bres, die opsteller van die NGB, het hierdie gevaar raakgesien. Want nadat hy in artikel 22 bely het dat ons deur die geloof sonder die werke gered word, neem hy die tyd om homself te verduidelik; hy sê: “Om presies te wees: ons bedoel nie dat die geloof self ons regverdig maak nie, want die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels…” Geloof mag dus nooit die nuwe verdienste word wat die goeie werke van Rome vervang nie.
Hoe sou dit in elk geval ooit moontlik wees? As jy die bank miljoene rande skuld, en ek kom sit ‘n tjek voor jou op die tafel neer met die bedrag wat jy skuld, en jy vat dit met jou hand… kan jy dan weggaan en dink dat jy iets tot hierdie tjek bygedra het bloot omdat jy dit met jou hánd gevat het? Ons almal weet mos dat dit belaglik sou wees. Maar moet dan ook nie van die hand iets maak wat dit nie is nie; moet nie aan die hand van die geloof ‘n erkenning gee wat dit nie toekom nie. Die sola fide (deur die geloof alleen), wat so kenmerkend was van die Reformasie, is ‘n erkenning dat enige roem uitgesluit is. Niks uit myself nie, selfs nie my geloof nie! Dit kom sonder enige verdienste van die Heilige Gees af. Wie daarom wil roem, moet altyd in die Here roem!
Maar hoe werk die Gees die geloof dan in my?
Dit is dieselfde vraag wat in Sondag 25 van die Kategismus gevra word. En die antwoord wat daar gegee word, wil ek ook hier beklemtoon: “Die Heilige Gees werk die geloof in ons harte deur die verkondiging van die heilige evangelie en versterk dit deur die gebruik van die heilige sakramente.” Die Heilige Gees werk geloof in jou hart, en Hy doen dit deur die Woord. Die geloof, só sê Paulus in Romeine 10:17, is uit die gehoor, en die gehoor is deur die Woord van God. En daarom is die prediking op Sondae só belangrik – goeie, Skriftuurlike verkondiging van die beloftes van die Here. Dit is my opdrag; dit is elke prediker se opdrag.
En jou opdrag? Moenie wegbly nie. Moenie dink dat dit maar ‘okay’ is om elke nou en dan ‘n erediens mis te loop nie. Moenie dink die ampsdraers gaan dit aanvaar as jy maar net wegbly nie. Want dit wat ons hier doen, broers en susters, is nie maar net om met mekaar in gesprek te gaan nie; dit is nie maar net ‘n klompie menslike handelinge nie; die kerk is nie dieselfde as die posseël-vereniging nie.
Nee, ons verkeer hier in die kragveld van die Heilige Gees. Hierdie is die saailand van die geloof waarop die Gees sy saad uitstrooi op die grond van ons harte. Hierdie is die Gees se geloofshoofkwartier van waaruit jy en ek in die res van die week kan gaan lewe. Hierdie is die Gees se vyfster restaurant waar jy en ek verniet kan kom eet, so veel as wat ons wil, terwyl daar hongersnood daarbuite heers. Hierdie is die Gees se pottebakkerswiel, waar Hy jou en my geloof brei en vorm tot iets moois. En ons sê dit nie maar net omdat hierbuite ‘n bordjie hang met die naam ‘VGK’ daarop nie. Nee, hierdie is die die saailand, die hoofkwartier, die restaurant, die pottebakkerswiel van die Gees, omdat hier die Wóórd verkondig word. En dit is wat jy nodig het om deur die geloof Christus se verdienste aan die kruis jouself toe te eien. Hoe dwaas en naief is dit om te sê: ek het nie die kerk nodig om ‘n christen te wees, soos wat vandag so dikwels gesê word nie. Maar aan die ander kant: hoe wys is dit om saam met artikel 28 te bely dat daar buite die kerk geen saligheid is nie. Hoekom nie? Want hier is die Outeur van jou geloof werksaam deur die verkondiging van die Woord.
Vervolgens let ons op die Voorwerp van my geloof.
2. Gemeente, waarop rig my geloof homself? Wat is die voorwerp van my geloof? Wat is dit presies wat ek met die hand van my geloof in besit neem / toeëien? Kom ons probeer dit vir onsself konkreet maak. Ons het sopas gesê dat die Heilige Gees geloof werk deur die verkondiging van die Woord, deur die prediking, deur dít wat ons hier en nou doen. Daar moet dus iets in die prediking wees wat ek kan huistoe vat; daar moet iets in die preek van vanoggend wees wat meebring dat u nie leëhande hier hoef weg te gaan nie; daar moet iets in die verkondiging van die evangelie wees wat ek myself kan toeëien. As ons vervolgens na Sondag 7 van die Kategismus kyk, wat gaan oor die ware geloof, dan word daar die vraag gestel: “wat moet ‘n christen glo?” En dan lui die antwoord: “alles wat in die evangelie aan ons beloof word” (v/a 22).
Daar het ons dit, broers en susters! Alles wat in die evangelie aan ons beloof word: die beloftes van die Here – dít is wat ek vanoggend in die geloof mag vasgryp en huistoe kan vat. Die geloof begin altyd by die beloftes. Ek gaan dit weer sê, want dit is geweldig belangrik dat ons dit sal hoor, ook al verstaan ons dit miskien nog nie heeltemal nie: die geloof begin altyd by die beloftes! Ook al is ons nog hoe klein en ook al kan ons nog nie glo of verstaan nie, selfs dan alreeds begin God in die doop deur sy beloftes aan ons te gee. En dan moet ons nie aan beloftes dink op die manier wat dit tussen mense funksioneer nie: jy belowe dat jy môre by my sal kom kuier… en dan moet ek maar sien of jy regtig gaan opdaag. Nee, God se beloftes is nie maar afwag en kyk of hulle werklikheid gaan word. God se beloftes is die werklikheid, God se beloftes bevat die werklikheid… maar dit vra jou geloof, dit vra dat jy dit met die hand van die geloof sal vat!
En wat vat jy dan eintlik wanneer jy die beloftes jou eie maak? Dus, wat is die inhoud van daardie beloftes? Jesus Christus! Immers, in Hom is al God se beloftes ja en amen (2 Kor. 1:20)! En nou het ons by die hart van ons behandeling van die geloof uitgekom. In die prediking kom God na jou toe met sy beloftes, en wanneer jy daardie beloftes in geloof jouself toeëien, dan doen jy niks anders nie as om Jesus Christus met al sy verdienste te omhels; dan maak jy Hom jou eie en soek na niks anders as na Hom nie (soos wat ons lees in artikel 22). Die geloof gee jou deel aan Jesus Christus!
Dit is wat Jesus so pragtig vir ons illustreer in Johannes 15, wat ons saam gelees het. Hy noem Homself daar die ware wynstok (15:1). En diegene wat in Hom glo, hulle is die lote – sê maar die uitlopers of die takkes – wat in Hom ingeënt is (15:5). Die persoon wat nie in Jesus Christus glo nie, kan nie as loot aan die wynstok verbonde bly nie; daardie loot word uitgewerp en verdroog (15:6). Sonder geloof in Jesus Christus is jy geestelike dood. Maar wie wel in Jesus Christus glo, daardie persoon kry deel aan Christus. En omgekeerd word Christus ook deel van daardie persoon. Hy in my en ek in Hom! Of in die beeld van die wynstok en die lote: deur die geloof word die loot ingeënt op die wynstok, hy vergroei as’t ware met die wynsstok. En vervolgens mag die loot dan ook deel in al die sappe van die wynstok. Want onthou: dit is die wynstok wat met sy wortels in die grond geplant is, en wat van daaruit alle nodige voedingstowwe haal. Hierdie voedingstowwe word dan via die sappe van die wingerdplant na alle lote vervoer, sodat die lote gesond kan wees en druiwe kan voortbring. Die loot kan nie op sy eie bestaan nie, hy het die wingerdplant, die wynstok, nodig om te bestaan en om vrugte voort te bring.
Vir jou voortbestaan as mens, vir jou regverdiging voor God, is dit onontbeerlik dat jy Jesus Christus in die geloof omhels en na niks anders soek nie. Broer en susters, groei daarom in die band wat jy met Jesus Christus het. Laat daardie band al hoe stewiger en hegter word, want slegs deur daardie band is die vloei van lewenssappe vanaf Hom na jou gewaarborg; slegs deur daardie band kan jy werklik lewe. En laat daardie band groei deur Jesus Christus se woorde in jou te laat woon – kyk maar na Johannes 15:7: “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry”, en vers 3 wys ook op die reinigende krag van hierdie woorde: “Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het.” Sien jy, daar het ons dit weer: die Woord, die prediking.
Wees daarom besig met God se Woord, deur saam in u huwelik bybelstudie te doen – soggens en saans. Laat ná die maaltyd die bybel oopgaan in jou gesin, lees dit, verduidelik dit vir jou kinders, wys vir hulle wie die Here Jesus is en wat die gebooie van sy koninkryk is. Neem die tyd om saans voor bedtyd met jou kinders uit die kinderbybel te lees, bring hulle onder die indruk van die verhale, en van wat Jesus gedoen het. Soek na maniere om een van die bybelstudiegroepe in die gemeente te besoek, en leer om voor mekaar te getuig wat Jesus in jou lewe bewerk het.
Dit is wat die geloof doen: dit maak die Woord oop, dit vind daarin Jesus Christus, en dit omhels Hom volledig. Volledig – ons dien dus nie ‘n halwe Verlosser nie. Moet daarom nie terughou nie, moenie nog geloof vir iets of iemand anders bewaar nie. Nee, Christus verlos volmaak; gee jouself volledig aan Hom oor! En dan hoef jy jou verder nie te bekommer oor die lewe en die liggaam nie, want saam met Christus kry jy ook al sy verdienstes. Christus is uiteraard die grootste van alle skatte, maar saam met Hom kry jy nog soveel meer. Jy kry alles wat jy vir jou saligheid nodig het. Soek allereers die Koninkryk van God – soek Jesus Christus – en alles wat jy nodig het sal vir jou bygevoeg word.
Ten slotte: die aard van my geloof.
3. Tot twee keer toe aan die einde van artikel 22 word gepraat van die geloof as ‘n ‘middel’: “die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels…” en verder: “die geloof is die middel wat ons in die gemeenskap aan al sy weldade aan Hom verbind.” Wat word bedoel met die geloof as middel? Is die geloof iets wat ek gebruik maar wat terselfdertyd ook los van my staan? Amper soos ‘n skêr: ek hou dit vas in my hand terwyl ek iets knip, maar sodra ek klaar geknip het, sit ek dit weer neer? Is die geloof ‘n blote instrument wat ek kan vat of kan los soos wat dit my pas?
Nee, gemeente, al wat Guido de Bres hiermee wil beklemtoon, is dat daar geen verdienste in die geloof is nie; my geloof verdien my regverdiging nie. In dáárdie opsig is geloof ‘n middel. Maar dit maak geloof nog nie ‘n koue instrument nie wat ek kan vat en los nie. Inteendeel, geloof is na sy aard deel van my lewe, van my volledige mens-wees. En dit sien ons reg aan die begin van artikel 22: ons glo dat die Heilige Gees ‘n opregte geloof in ons harte laat ontvlam om die ware kennis van hierdie groot geheimenis te verkry.” Hier het ons dieselfde twee elemente as wat in Sondag 7 van die Kategismus beklemtoon word: geloof is nie slegs ‘n vasstaande kennis nie, maar ook ‘n vaste vertroue. Verstand en hart.
Verstand – want hoe kan ek die Here liefhê as ek Hom nie ken nie? Sal ek sommer aan die eerste die beste meisie in die Kollonade my liefde betuig, ook al het ek haar nog nooit gesien of met haar gepraat nie? Nee, natuurlik nie! Hoekom dink so baie mense dan vandag dat ons dit met die Here kan doen? Hoekom dink so baie mense vandag dat kategese en bybelstudie oorbodig is? O, ek ken die antwoord: “die Here soek mos ons harte!” ‘n Hart sonder kennis is ‘n dwase hart, gemeente. ‘n Gemeente met gebrekkige kennis gaan te gronde. Ons is ryk met ‘n gereformeerde laerskool, en die beskikbaarheid van ‘n gereformeerde hoërskool. Ons is ryk met die kerklike kategese. Maar ons is dubbel so arm as ons nie met die kennis, wat ons daar opdoen, verder gaan werk om steeds te bly groei nie. Mag die Here deur sy Heilige Gees van ons almal weer studente maak. “Ja, maar ek is nie regtig ‘n leser nie, ek is nie die tipe om te studeer nie; ek los dit vir die boekwurms.” Nonsens! Jesus maak van eenvoudige vissermanne sy dissipels, sy leerlinge, sy studente. En dit wil Hy met elkeen van ons doen; Hy wil van elkeen van ons studente maak. Topstudente! Studente wat almal daarna strewe om met die hoogste lof te slaag, die lof op ons God!
En dit bring ons onmiddellik by die ander kant van die muntstuk: die hart. En dit is ‘n noodsaaklike kant, want geloof is natuurlik nie ‘n wetenskap nie, hoe baie ons ook al studeer. Geloof is nie onwetenskaplik nie, dit is waar, maar dit is ook nie ‘n wetenskap wat ek by die universiteit kan bestudeer nie. Ek kan nie ‘n gelowige wees enkel en alleen op grond van my rede nie. Daar is grense aan my rede, daar is grense aan my vermoë om die geloof te beredeneer. Soos die kerkvader Augustinus so pragtig gesê het: die hart het redes, waarvan die rede niks verstaan nie. En daarom moet my studie van die Skrif ook in die hart land. My kennis van die Skrif moet tegelykertyd gelowige oorgawe aan die Here wees. In die hart ontvang die geloofskennis haar plek; daar word sy vasgelê en onwrikbaar veranker. Dit is in die hart dat die geloofskennis ‘n deel van my lewe word. Dit is in die hart dat die Gees ‘n klankruimte skep sodat die evangelie in my lewe kan weerklink. En natuurlik het dit ook alles met my gevoel te make. Geloof bring my tot ervaring.
Uiteraard moet die gevoel en die ervaring groei. Geloofservaring beteken nie om aan my emosies vrye teuels te gee nie. Want ook ons gevoelslewe bly in hierdie lewe gestremd. Ook ons gevoelslewe moet geheilig word. Maar die Heilige Gees, waarvan die Geloofsbelydenis van Nicea sê dat Hy “Here is en lewend maak”, Hy wil ook daardie deel van my mens-wees vernuwe. Hy wil dit vernuwe sodat ek my Here en my Verlosser, wat ek in sy Woord leer ken het, ook in my hart kan ervaar en met my hande kan dien.
Dít is die aard van geloof, broers en susters: hoof, hart en hande. Die Heilige Gees skakel my hele mens-wees in om my die geheimenis te leer verstaan van die regverdiging deur Jesus Christus. Daardie regverdiging mag ek met my hoof leer ken, ek mag dit met die hart myself toeëien, en ek mag dit met die hande gaan uitleef in my daaglikse lewe. Wie kan nou nog sê: “my lewe is my eie, ek doen wat ek wil”? Nee, ek behoort na liggaam en siel, in lewe en in sterwe aan my getroue Verlosser, Jesus Christus!
Amen
(kyk in preek)