God se ekstreme maatreëls om sy volk terug te wen

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2010-08-08
Text: 
Eségiël 24:24-27
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Esegiël 24:24-27; lees Esegiël 24 en 33:21-33

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus, 

Met hoofstuk 24 het ons by ‘n belangrike punt in die boek Esegiël gekom. En daarom is dit goed om vir ‘n oomblik stil te staan en na die struktuur van hierdie boek te kyk. Ja, wanneer ‘n mens hierdie lang boek vir die eerste keer deurblaai of deurlees, dan voel jy asof jy besig is om in ‘n vreemde en onbekende wêreld te verdwaal. Nou goed, kom ek gee vir jou so ‘n bietjie van ‘n padkaart, sodat jy in hooftrekke jou weg kan vind. Let wel: die hooftrekke! Ek gee dus die hoofpaaie, die snelweë. Die klein tussenpaadjies wat hierdie boek so boeiend maak, moet jy self probeer ontdek…

Ons kan die boek Esegiël in drie hoofdele verdeel (sien dit op uitgedeelde blaadjie). Die eerste hoofdeel strek vanaf hoofstuk 1 t/m 24, en bevat hoofsaaklik onheilsprofesieë teen Israel; Esegiël moet verkondig dat God se oordeel oor Israel is, en dat Hy Jerusalem gaan verwoes. Die dérde hoofdeel strek vanaf hoofstuk 33 tot aan die einde (hoofstuk 48), en bevat hoofsaaklik heilsprofesieë, boodskappe van verlossing en hoop vir God se volk. Nou sien ons dat daar tussen hoofstuk 24 (die laaste hoofstuk van die eerste deel) en hoofstuk 33 (die eerste hoofstuk van die derde deel) ‘n duidelike verband is. In hoofstuk 24 moet Esegiël naamlik aan die ballinge vertel dat Nebukadnesar Jerusalem beleër het (kyk vers 2), en in hoofstuk 33:21 verneem ons van die resultaat van hierdie beleëring, naamlik dat die stad ingeneem is. Maar tussen die beleëring en die inname van die stad lê daar ‘n periode van rofweg twee jaar. Twee spannende jare, twee jare van uitkyk na boodskappers met enige nuus. 

Nou, gemeente, om daardie spannende jare te vul, vind ons tussen hoofstuk 24 en hoofstuk 33 die tweede hoofdeel – hoofstukke 25 t/m 32 – wat bestaan uit onheilsprofesieë teen ánder nasies (dit is waarna ons, as die Here wil, volgende week sal kyk). Vandag wil ons egter let op die Here se optrede in hierdie spannende tyd van beleëring en inname, soos wat ons dit vind aan die einde van die eerste hoofdeel en aan die begin van die derde hoofdeel.

Tema: God se ekstreme maatreëls om sy volk terug te wen…
1.
Esegiël se voorbeeld word nagevolg
2.
Esegiël se stomheid word opgehef

1. Gemeente, ek het al ‘n paar keer in die preke oor Esegiël genoem dat daar by sowel die ballinge as by die agtergeblewenes in Jerusalem ‘n totale verkeerde indruk bestaan het oor die toekoms van Jerusalem. Die ballinge, enersyds, het gemeen dat hulle binnekort na Jerusalem sou terugkeer; hulle ballingskap sou van korte duur wees. Die agtergeblewenes, andersyds, was van mening dat hulle God in hul midde gehad het, en Hy sou hulle mos nie sommer net verlaat nie?! Beide hierdie groepe, hoewel elkeen vanuit hulle eie perspektief, het nie erns gemaak met God se voorspelde oordeel oor die stad en die tempel nie. Esegiël se profete-stem het nog geen gehoor gevind nie. 

Maar dan breek die uur van waarheid aan, waarin blyk dat Esegiël se profete-stem die waarheid gepraat het. “Die koning van Babel het hom hierdie selfde dag op Jerusalem gewerp” (vers 2) – dít moet Esegiël vir die ballinge vertel. Die beleëring het dus begin. Maar dit is interessant hoe Esegiël hierdie onheilsboodskap as’t ware moet begelei met iets wat lyk soos ‘n vrolike kookliedjie: sit die pot op, gooi die water in, voeg die beste stukke vleis by, maak die houtjies reg, steek die vuurtjie aan, en laat die gekook begin. Opmerklik… Want onthou u nog dat Esegiël vroeër in sy profesie ook van die beeld van die kookpot gebruik gemaak het? In hoofstuk 11 – daar het ons gesien dat die agtergeblewenes gemeen het dat Jerusalem die kookpot en dat hulle die goeie stukke vleis was, en toe moes Esegiël vir hulle vertel dat hulle nie die vleis in hierdie pot sal wees nie. Maar hoe dan nou? Het Esegiël dalk van gedagte verander? Want nou is die inwoners van Jerusalem skielik wel die vleis in die pot! Sou Jerusalem dan tog nog verlos word van Nebukadnesar se magte? Is Esegiël se kookliedjie dalk die voorspel tot ‘n groot oorwinningsfees?

Maar, gemeente, so vrolik soos wat hierdie kookliedjie begin, so abrup eindig dit ook weer: “Wee die bloedstad, die pot waar roes in is en waarvan die roes nie afgegaan het nie.” Oombliklik is die droom van oorwinning verby, en is ons terug in die werklikheid van Jerusalem se verskriklike sondes. Die pot is só vuil dat die kok besluit om maar eers die stukke vleis uit te haal en die pot te probeer skoonkóók. Maar wanneer dit nie werk nie, gooi die kok ten einde raad nog hout by en voer die vuur op tot ‘n verwoestende brand. En dan laat hy die pot met die vleis daarop staan, totdat dit rooi-warm gloei en uiteindelik wegsmelt en verbrand met alle ongeregtighede daarin. Die enigste gepaste lot vir Jerusalem en sy inwoners is verwoesting. Die Here se geduld is op: “… dit kom, en Ek sal dit doen; Ek sal nie ophou nie en sal nie verskoon of berou hê nie…” (vers 14)

Dit is verskriklik wat hier gebeur! Wat sal die volk se reaksie hierop wees? Wel, gemeente, die Here laat die volk nie eens toe om self te reageer nie; Hy laat nie toe dat hulle aan hulle eie emosies uiting gee nie. Hý sal hulle léér hoe hulle moet reageer op die verwoesting van Jerusalem, Hý sal vir hulle die voorbeeld gee van die gepaste reaksie. En om dit te doen, laat die Here iets gebeur wat elkeen van ons, wat ‘n lewensmaat van harte liefhet, tot in ons siel toe sal laat seerkry. Vir die doel van sy boodskap aan sy volk neem die Here Esegiël se vrou binne een dag van hom af weg. En dis nie sommer ‘n vrou uit ‘n huwelik wat tog nie alte waffers was nie, dis nie ‘n vrou uit ‘n gebroke huwelik nie; nee, die Here neem die lus van Esegiël se oë van hom af weg. Esegiël se liefde vir sy vrou word hier beskryf as ‘n diepgewortelde emosie, ‘n intense deernis vir die maat wat die Here aan Hom geskenk het. Daardie lewensmaat neem die Here weg. Kan jy jouself dit voorstel? En asof dit nie erg genoeg is nie, volg daar nog hierdie skokkende opdrag: Esegiël word deur die Here verbied om oor sy vrou se skielike dood te treur. Hy mag geen tekens van rou wys nie, hy mag ook nie die aandag aanvaar van enige iemand wat hulle meegevoel kom betuig nie (selfs nie eens die kos wat hulle, volgens gewoonte, sou bring vir die periode van die begrafnis nie). Esegiël moes die dood van sy vrou aanvaar asof daar niks ernstigs gebeur het nie.  

Die nuus van die afsterwe van Esegiël se vrou moes soos ‘n veldbrand versprei het. Vriende, familie en volksgenote het waarskynlik na sy huis gestroom. Hulle het verwag om Esegiël daar aan te tref, terwyl hy uiting gee aan sy emosies op die wyse wat in daardie kultuur normaal was, naamlik deur middel van harde gehuil, lang rouklagtes, met ‘n kaalgeskeerde hoof en kaalvoete, terwyl sy gesig bedek is. Maar wat vind hulle? Hulle vind Esegiël besig met sy daaglikse bedrywighede asof niks gebeur het nie. Hy weier om aan die kos te raak wat hulle vir hom bring. Dit moes ‘n skokkende en ontstellende ervaring vir die mense gewees het. Dit is mos nie normaal om op só ‘n manier op jou vrou se dood te reageer nie? Wat gaan aan met Esegiël? Maar dan begin die mense iets aanvoel; jare se omgang met Esegiël het hulle al geleer wanneer daar ‘n boodskap na hulle kant toe gaan kom. En daarom hulle vraag in vers 19: “Sal u ons nie te kenne gee wat dit vir ons beteken dat u so maak nie?” Hulle verstaan dat die dood van Esegiël se vrou en sy reaksie daarop ‘n teken vir hulle is… maar ‘n teken van wat?  

En dan verduidelik Esegiël vir sy mede-ballinge: soos wat die Here die lus van my oë van my af weggeneem het, so sal Hy met julle ook maak. Die Here sal julle vreugde en die lus van julle oë wegneem. En wat was presies die lus van hulle oë? Wat was dit waarna die volk die meeste verlang het? Natuurlik, na Jerusalem! En in besonder na die tempel! Die tempel was die glorie van hulle sterkte, die lus van hulle oë, die medelyde van hulle siel (vers 21). Dit alles sal die Here van hulle wegneem. En hoe sal hulle daarop reageer? Op presies dieselfde wyse as wat Esegiël nou gereageer het op die dood van sy dierbare vrou. In die persoon van Esegiël gee die Here aan sy volk ‘n voorbeeld van hoe hulle moet reageer wanneer Hy binnekort die mees kosbare van hulle gaan wegneem. 

Ja, die mees kosbare… Dit is hoe die volk daarna gekyk het. Maar was dit werklik die mees kosbare? Die Here was immers nie meer in sy tempel nie; die heerlikheid van die Here het die stad verlaat, soos wat ons in Esegiël se visioen gesien het. Maar dan ontstaan die vraag: kon Jerusalem en die tempel dan nog die mees kosbare wees? Kon dit dan nog werklik die glorie van die volk se sterkte en die lus van hulle oë wees? Nee, gemeente! En dit is dan ook die belangrike les vir die volk; die Here sê in feite vir hulle: “julle is verknog aan Jerusalem, julle is verknog aan die tempel, maar Ek is nie meer daar nie!” Natuurlik was Jerusalem histories die stad van die Here, en natuurlik was die tempel die woonplek wat Hy uitverkies het, maar Jerusalem en die tempel is uiteindelik slegs sigbare tekens vir ‘n volk wat getrou die Here wil dien; Jerusalem en die tempel ontvang hulle waarde slegs omdat Gód daar wil woon. Maar, soos ons reeds gesê het, God het intussen hierdie bloedstad verlaat. En daarom mag die volk ook nie meer hulle hart plaas op die stad en die tempel nie. Die volk moet leer om hulle hart te plaas op die Here hulle God! Die Here, wat in ‘n huwelik staan met sy volk, wil graag hê dat Hy die glorie van sy volk se sterkte, en dat Hy die lus van hulle oë sal wees. Hy wil hê dat hulle na Hóm moet kyk! En juis dáárom hoef daar oor die stad en die tempel geen rouklag te wees, want God is nie meer dáár nie. Moenie rou oor iets wat in sigself geen waarde het nie! Die Here het reeds vroeg in die boek Esegiël gewys dat sy heerlikheid nie meer in Jerusalem en die tempel is nie, maar eerder by die ballinge in Babilonië. En as die Here nie meer daar is nie, dan is Jerusalem maar net nog ‘n stad en dan is die tempel maar net nog ‘n gebou van klippe. Moenie daaroor treur nie! 

Gemeente, waaroor rou ons? Of ander gestel: wat is vir ons kosbaar, wat is die lus van ons oë? Ons kerk-wees en ons kerklike gebruike, die VGK Maranata en die VGKSA, die vorm van ons liturgie en die invulling van ons Sondae, die doop en die nagmaal – sonder die Here is al hierdie dinge absoluut leeg en sinneloos. Ons geloof vind nie sy sekerheid in al hierdie dinge nie; laat ons daarom ook nooit ons harte hierop plaas nie, laat ons nie daaraan verknog raak nie. Hierdie gemeente of die kerkverband is nie die lus vir my oë nie. Die Here is die lus vir my oë! Ek moet Hom soek, ek mag Hom aanhang, ek mag in Hom my sterkte vind. En dit is presies wat die Here sy volk wou leer in die verwoesting van Jerusalem en die tempel: dan sal julle weet dat Ek die Here HERE is (vers 24)! As die ware godsdiens ontaard in vormgodsdiens, of nog erger: as die volk van die Here afwyk en ander gode begin dien, dan verlaat Hy die vorm, en dan word die vorm leeg. En dan verskyn Hy aan sy volk in ballingskap – sien julle, die vorm is leeg, maar hier, hier is Ek in al my heerlikheid en majesteit! 

Laat ons baie mooi nagaan, broers en susters, of die vorm wat ons hier op aarde het in terme van die kerk en die kerklike lewe, nie leeg geword het nie. Want anders roem ons in dít wat op sigself geen enkele waarde het nie. Ons is daarom nie verknog op die naam van ons kerk of op ons manier van doen nie. Ons is verknog aan die Here – uiteraard óók in die naam wat Hy ons gee, en uiteraard óók in die vorme waaraan ons gewoond geraak het – maar ons is verknog aan die Here! Kom ons soek Hom dan, en Hom alleen! Dán is daar rede om te huil en te rou, soos Sagaria in hoofstuk 12 van sy profesie sê: as ons opkyk na Hom vir wie ons deurboor het, as ons opkyk na die gekruisigde Christus, dan mag ons oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind. Laat die trane maar vloei as ons dink wat ons ons Here aangedoen het, en hoe daar op dié manier vir ons vrede gekom het. Maar ons treur nie oor enige iets anders, as dit nie in die Here is nie, want sonder Hom is alles tevergeefs. Dit moes die ballinge leer, dit moet ons ook leer.

In die tweede plek let ons daarop dat Esegiël se stomheid opgeheg word.

2. Gemeente, die boodskap wat die Here hier vir sy volk oordra, mag vir ons hard oorkom. Hierdie arme ballinge, alles is van hulle af weggeneem. Al wat hulle eintlik nog gehad het om aan vas te hou, was die herinnering aan die geliefde vaderland en die pragtige tempel, en nou word dít ook nog van hulle af weggeneem. Maar die Here is nie hard nie. Wanneer Hy die vertroue op stad en tempel uit die hande van die volk geneem het, dan laat Hy hulle nie met leë hande agter nie. Nee, sê die Here vanaf vers 25, die dag as Ek hulle vesting van hulle af wegneem, hulle heerlike vreugde, die lus van hulle oë en die verlange van hulle siel, die dag as ‘n vlugteling vanuit Jerusalem kom om dit te kom verkondig… Ja, wat dan? Dan, só lees ons in vers 27, sal die mond van Esegiël geopen word, dan sal hy spreek en nie meer stom wees nie. Afgesien nog van die vraag wat nou so wonderlik hieraan is, moet ons seker eers die vraag stel: maar was Esegiël dan stom?

Wel, u sal miskien onthou, broers en susters, dat die Here in hoofstuk 3:26 vir Esegiël gesê het: “Ek sal jou tong aan jou verhemelte laat klewe, sodat jy stom sal word en vir hulle geen bestraffer sal wees nie.” Dit is moeilik om jouself voor te stel wat presies met Esegiël gebeur het, maar as ons die Woord ernstig vat, dan moet ons aanneem dat hy vir amper sewe jaar lank – vanaf sy roeping as profeet tot die val van Jerusalem – slegs gespreek het wanneer die Here hom opgedra het. Buiten dit het hy geen enkele woord gespreek nie. En ja, dit wat die Here in daardie eerste sewe jaar van Esegiël se bediening te sê gehad het, was nie werklik ‘n boodskap waarvan ‘n mens vrolik raak nie. Maar dit was al wat Esegiël toegelaat was om te spreek; jy sal stom wees, totdat die boodskapper kom. Dít is wat die Here voorspel het… 

En wanneer ons dan blaai na hoofstuk 33 en in vers 21 die boodskap van die vlugteling hoor: “die stad is ingeneem”, dan lees ons vervolgens in vers 22 die vervulling van wat die Here belowe het: “en Hy het my mond geopen teen die tyd dat die vlugteling in die môre na my gekom het. So is dan my mond geopen, en ek was nie meer stom nie.” Natuurlik, Esegiël het in die eerste 24 hoofstukke nog elke keer die Woord, wat die Here hom opgedra het, verkondig. As die Here spreek, wie kan dan in elk geval swyg? 

Maar dit is asof daar vanaf hoofstuk 33 net ‘n geweldige stuk vryheid in Esegiël se spreke kom; dit is asof die hoop en die heil en die verlossing wat nog die hele tyd in die Here geborrel het, nou skielik opening kry om uit te stroom in die persoon en deur die mond van Esegiël. En gevolglik sien ons dan ook dat die profesieë vanaf hoofstuk 33 ‘n baie sterker heilskarakter kry as die profesieë daarvoor. Wanneer die Here die stad en die tempel van die volk af wegneem en hulle verbied om daaroor te treur – juis omdat Hy nie meer daar is nie – dan laat Hy hulle nie met leë hande nie; nee, dan vul Hy hulle met sy heerlike verlossingswoord! Esegiël se stomheid word opgehef om aan die volk, wat niks meer oorgehad het nie, die Woord van die Here te bring. Ja, gemeente, eers slaan die Here alle houvas uit hulle hande weg, en dan vul Hy dit vervolgens met heil en verlossing. Dis waar, as die Here sy kinders slaan, dan slaan Hy hard en dan slaan Hy seer, maar Hy slaan nooit dood nie. Aan ‘n moedelose volk wat geen houvas meer gehad het nie en wat hard deur die Here geslaan is, mag Esegiël vervolgens woorde van heil en verlossing bring. Sy stomheid word opgehef, sodat hy vir hulle kan preek van verlossing en nuwe lewe. En dít is waaraan hulle moet vashou! Hulle mag nie vashou aan dooie dinge soos ‘n stad en ‘n tempel nie. En net so min mag ons dit doen. Daar is geen houvas in die dinge waaraan ons so dikwels vashou nie. Daar is slegs houvas in die Woord van die Here, in sy beloftewoord wat alle dinge oortref. Op ‘n aardskuddende en ekstreme wyse verskuif die Here die fokus van sy volk – weg van die leë vorm, terug na die Woord wat borrel van die Here se liefde en genade. 

Dit is eintlik hartseer om in Esegiël 33 te sien dat die volk wel na Esegiël gekom het om daar die Woord van die Here te hoor (einde van vers 30: “Kom tog en hoor wat die woord is wat van die Here uitgaan.”), en dat hulle as volk saamgestroom het om na Esegiël te luister, maar dat die Here tog uiteindelik tog moet sê dat daardie woorde nie hulle harte het nie. O, hulle het graag geluister, Esegiël se woorde was vir hulle soos ‘n minnelied, soos een skoon van stem, maar helaas was hulle nie daaraan gehoorsaam nie. 

Gemeente, alle dinge vergaan, maar die Woord van die Here hou stand in ewigheid. Dít is wat die Here as houvas aan ons gee. Maar laat ons dan ook luister en gehoorsaam wees. Mag die Here gee dat die Woord ons harte sal tref – die gepredikte Woord, die Woord wat die ampsdraers tydens huisbesoeke bring, die katkisasie-Woord, en die Woord in die persoonlike bybelstudie. Mag die Here gee dat daardie Woord ons diep onder die indruk sal bring van sy genade en heerlikheid. En dan hoef ons nie te bou op uiterlike dinge nie, maar dan mag ons in geloof sê: “Waarlik, die Here is in ons midde!”

Amen

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 95:1, 3 en 4

Gebed

Lees kort nagmaalsformulier

Terwyl tafel in gereedheid sing Ps. 116:4 en 5

Voltooi formulier + gebed aan tafel

Lees: Esegiël 24

Esegiël 33:21-33

Teks: Esegiël 24:24-27

Preek

Amenlied Ps. 63:1 en 2

Gebed

Kollekte

Belydenis van geloof

Slotsang Ps. 63:3 en 6

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen. 

Liturgie: 

(kyk in preek)