Jesus Christus, die verhoogde Heer, die groot Aanwesige!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2010-04-11
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 18
Reference: 
HK 18-2
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Perspektief – hoe belangrik is dit nie om sake in die regte perspektief te plaas nie, om die groter prentjie raak te sien. Dit is altyd goed om ook jou lewe in perspektief te plaas: waaroor gaan my lewe? Waar pas ek in binne die groter geheel van die lewe? Perspektief – broers en susters, dit is presies wat Sondag 18 vir ons wil bied. Die eerste vraag en antwoord van Sondag 18 help ons naamlik om die groter prentjie raak te sien waarbinne die wêreldgeskiedenis asook elkeen van ons se lewens afspeel, naamlik die perspektief van hemelvaart en wederkoms. Ja, hierdie twee is die begin- en die eindpunt van die wye perspektief wat v/a 46 vir ons kom aanbied.

Aan die een kant is daar die beginpunt: Christus se hemelvaart – die Kategimus doen moeite om hierdie beginpunt as ‘n historiese feit weer te gee; die hemelvaart was nie maar net ‘n hallusinasie of ‘n droom nie; nee, Christus is voor die oë van sy dissipels van die aarde af na die hemel opgeneem. En aan die ander kant is daar die eindpunt van die perspektief: die wederkoms – totdat Hy weer kom om oor die lewendes en die dooies te oordeel; ‘totdat’ – hiermee wys die Kategismus dat daar ‘n vasgestelde tyd is vir Christus se wederkoms. Dus, hemelvaart en wederkoms, beginpunt en eindpunt… En êrens tussen daardie twee punte speel ons lewens af. Êrens binne die tweeduisend jaar wat alreeds verloop het vanaf die hemelvaart, én die jare wat nog gaan verloop tot by die wederkoms, êrens daar tussen-in pas my lewe van sewentig of – as ek sterk is – tagtig jaar. Dit is die wye perspektief wat ons vanmiddag in die oog moet hou: ek, klein mensie, mag lewe tussen hemelvaart en wederkoms, en ek dien ‘n verhoogde Here wat in die hemel is vir ons ten goede. ‘Ten goede’ – dit bring ons inmiddellik by v/a 49, wat gaan oor die nut van Christus se hemelvaart; ja, as Hy ten goede vir ons in die hemel is, dan beteken dit dat sy hemelvaart vir ons nuttig is, ek vind baat daarby… Nou, wat is dan die nut?

Tema: Jesus Christus, die verhoogde Heer, die groot Aanwesige! Hy is aanwesig in…
1. die reg van die hemelvaart (“ten eerste” van v/a 49)
2. die krag van Pinkster (“ten derde” van v/a 49)
3. die glorie van die wederkoms (“ten tweede” van v/a 49)

1. Daar is iets opmerkliks aan Jesus se gebed in Johannes 17. Hy bid naamlik hierdie gebed terwyl Hy nog op die aarde is, Hy staan op die punt om sy versoeningswerk te voltooi. Maar tog bid Hy asof Hy nie meer op die aarde is nie: “Ek is nie meer in die wêreld nie” – só sê Hy in vers 11. En Hy bid asof sy werk reeds voltooi is: “Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring” – só sê Hy in vers 4. En juis vanuit hierdie perspektief van sy voltooide arbeid kan Jesus dan ook in vers 1 vir die Vader sê: “Vader, die uur het gekom; verheerlik u Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik.” Nadat die Seun Homself dus verneder het deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem, sien ons dat daar nou ‘n nuwe fase in sy werk aanbreek. Die fase van vernedering is verby, nou volg die fase van verheerliking waarop Jesus in sy gebed by die Vader aandring.

En, broers en susters, hierdie verandering van vernedering na heerlikheid bring onder andere mee dat Jesus se biddende voorspraak vir ons van nou af ook ‘n ander karakter kry. Jesus het vóór die voltooiing van sy werk ook al vir sy volgelinge gebid – wanneer Hy Petrus in Lukas 22 waarsku dat die Satan begeer om hulle soos koring te sif, dan voeg Hy dadelik by: “Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie…” (Luk. 22:31-32) Ja, ook tydens sy vernedering was Jesus die Voorspraak by die Vader. Maar die verskil is wel dat Hy toe nog nie op grond van sy voltooide werk voorbidding kon doen nie. Hy kon nog nie sy regte by die Vader laat geld nie, want Hy moes daardie regte nog eers verdien.

Nou egter, is Jesus in die posisie om sy heerlikheid op te eis. Hy het God hier op aarde verheerlik, Hy het sy Naam aan die mense geopenbaar. En Hy het dit goed gedoen, want hulle het – volgens vers 6 – die woord bewaar, en hulle het erken dat die Seun van die Vader uitgegaan het, en hulle het geglo dat die Vader die Seun gestuur het (vers 8). Só het die Vader dus sy heerlikheid teruggekry; só het die Seun die Vader se heerlikheid vir Hom terugverdien. En nou: Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was (vers 5). Dit is Jesus se bede, dit is sy eis op grond van sy voltooide arbeid!

En as antwoord op hierdie gebed het die Vader die Seun na die hemel laat opvaar, en het die Vader Hom aan die wêreld geopenbaar as God lofwaardig tot in ewigheid! Dit was nie vir die Seun nodig om nog langer die gestalte van ‘n dienskneg te dra nie; nee, Hy kon nou weer skitter in sy heerlikheid as God. Daarmee het God in die openbaar uitgespreek dat Hy die regsaanspraak, wat Jesus in hierdie Hoëpriesterlike gebed in Johannes 17 maak, dat Hy daardie regsaanspraak erken. Die Vader erken dat die Seun verdien om verheerlik te word: “My Seun, jy het My getrou verheerlik, nou sal Ek jou verheerlik; jy mag weer, soos voorheen, op die troon van God sit.” En só sien ons gevolglik, gemeente, dat Jesus nie meer ons Voorspraak in sy slawe-gestalte is nie; nee, Hy is vandag in die hemel ons Voorspraak as Heer! Nie as lydende kneg nie, maar as verheerlikte Seun! Wanneer die Seun na die hemel opvaar, dan sê die Vader: “Eis van My, en Ek sal dit vir jou gee. Eis van My, my Seun!” Jesus Christus het sy werk volbring, en daarom het Hy sedert sy hemelvaart reg daarop om deur die Vader verhoor te word.

Gemeente, dít wat ons sopas gehoor het, het geweldige konsekwensies vir ons hier op aarde. Christus het reg op verhoring in die hemel, en Hy handhaaf daardie reg. Wanneer jy dus vanaand op jou knieë gaan en in geloof bid vir die vergewing van die sondes wat jy vandag gedoen het, dan sê Christus: “Vader, Ek wil hê dat U hom moet vergewe; want die feit dat daardie sondaar dáár op die aarde homself op sy knieë voor Ons verootmoedig, dit is my werk! Verheerlik My, en vergewe hom.” En wanneer jy hier op aarde worstel met jou geloof, dan sê Christus: “Vader, Ek het aan haar u Woord bekend gemaak, en U sien hoe sy worstel om daaraan vas te hou. Verheerlik My, en gee haar vastigheid in die geloof.” En as jy hier op aarde stry teen jou sonde en swaar aanvegtings moet verduur, dan sê Christus: “Vader, dit is danksy my werk dat daardie persoon u wet erken en daarvolgens wil lewe. Verheerlik My en hou hom staande in die stryd.” Ja, broers en susters, elke keer wanneer ons bid, dan wys die Seun vir die Vader: “Kyk daar, U word verheerlik; U woord vind ‘n antwoord; dit is My werk.” En dan antwoord die Vader sy Seun: “Ek sal U verhoor!”

Sedert Christus se hemelvaart staan agter elkeen van ons gebede Christus se reg op verhoring. Alles wat ons bid en wat Hy vir ons begeer – dus, alles wat Hy weet goed en reg is vir ons op daardie oomblik – dit dien Hy in as ‘n eis by die Vader. Dit is amper soos wanneer ek ‘n versekering uitneem op my huisinhoud, en wanneer daar dan die dag by my huis ingebreek word, dan kan ek my eis by die versekeringsmaatskappy gaan indien. Dan het ek reg daarop om vergoed te word, aangesien ek my maandelikse premies betaal het. Nou, op soortgelyke wyse – en ons sê dit met die grootste eerbied vir God en vir die harmonie wat daar binne die Drie-eenheid bestaan – op soortgelyke wyse het Christus reg daarop om deur die Vader verhoor te word, want Hy het betaal! En op dáárdie betaling pleit ons elke keer wanneer ons bid: verhoor ons, om Christus ontwil. Verhoor ons, asseblief, Vader – ja, vir ons is dit louter genade, maar vir Christus is dit ‘n reg. Alles wat ons uit onverdiende genade van die Vader vra, dit word deur Christus ingedien as ‘n regmatige eis. En die Vader kan en wil Hom dit nie weier nie. Die dag wanneer die Vader ons nie meer wil verhoor nie, dan sal Hy eers Christus uit die hemel moet werp, dan sal Hy ‘n streep moet trek deur Christus se voltooide werk. Maar dit kan en dit wil die Vader nie doen nie, want Hy sélf het Christus verheerlik; Hy sélf het die duiwel uit die hemel gewerp, en aan ons groot Voorspraak onbeperkte toegang verleen.

Probeer jouself dit voorstel: wanneer ons volgens die Skrifte bid vir alles waarvoor Christus ons beveel het om te bid (die woorde van Sondag 45), wanneer ons sê: “Vader, ons smeek dit van U”, dan sê Christus op daardie selfde oomblik: “Vader, Ek eis dit van U.” Wanneer ons sê: “asseblief, Vader…”, dan sê Christus: “Dit moet gebeur, want Ek is die geslagte Lam!” Gemeente, dit is die waarborg van die hemelvaart; dit is die reg van die hemelvaart. Moet daarom nie huiwer om te bid nie, moenie die gebed afskeep nie, moenie maak asof die gebed tog nie help nie. Ons bid soms so bittermin, broers en susters; ons het soms so min vertroue in die Middelaar van ons gebede. Maar in Christus se hemelvaart het ons die versekering dat God diegene wat Hom opsoek, nooit sal afwys nie. Christus sórg daarvoor dat ons nie afgewys word nie. 

Ons let vervolgens op die krag van Pinkster.

2. Gemeente, Christus se hemelvaart beteken ‘n skeiding van hierdie wêreld – in elk geval na sy menslike natuur. As mens is Hy nie meer hier op aarde nie – dit is waaroor v/a 47 en 48 gaan, waar die stryd aangegaan word met die Lutherse leer dat Christus ná sy hemelvaart alomteenwoordig is, ook na sy mensheid. Maar dan sê die Kategismus nugter en eenvoudig: “wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer op aarde nie.”

Nou, hierdie feit bepaal dan ook die volgende deel van Christus se gebed in Johannes 17. Hy sê naamlik in vers 12: “Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar. Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie…” “Maar – só vervolg Hy in vers 13 – nou kom Ek na U toe…” Nou is die tyd verby dat Christus hulle self/persoonlik kan bewaar, en daarom bid Hy ook tot die Vader vir krag om die gelowiges te kan vashou; kyk maar na vers 15: “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar.” En wat, dink jy, is die antwoord van die Vader op hierdie regmatige eis van die Seun? Wel, die Vader het hierdie gebed beantwoord op die Pinksterdag! Christus het gebid vir krag om sy kerk te kan bewaar; Hy het geweet dat ons dit sou nodig hê, omdat – vers 14 – die wêreld ons haat; Hy bid daarom vir kragte van bewaring. En die Vader beantwoord hierdie gebed van die Seun met die uitstorting van die Heilige Gees, Hy wat die krag van bewaring in eie Persoon is!

En, gemeente, dit is deur daardie Gees en sy krag dat ons die dinge kan soek wat daarbo is, soos wat die Kategismus sê in navolging van Kolossense 3:1. Ja, in Kolossense 3 roep Paulus ons op: “… soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie” (vers 1-2). Christus bid dus in feite vir krag sodat ons hemelsgerig kan lewe! En hoe sukkel ons nie daarmee nie! Ons soek so graag die dinge hier op aarde, ons bedink so graag die dinge van die wêreld. En dan gaan dit natuurlik nie daaroor dat ons nie mag geniet van die dinge wat God hier op aarde geskape het nie. Dit gaan nie daaroor dat ons nie ‘n huis mag koop en nie aardse dinge bymekaar mag maak nie.

Nee, wanneer ons opgeroep word om die dinge te soek wat daarbo is en nie wat op die aarde is nie, dan gaan dit oor die rigting van ons lewe: lewe jy vertikaal, gerig op Christus in die hemel? Of lewe jy horisontaal, gerig op die sondige plesier en begeerlikhede van hierdie wêreld? En dáármee sukkel ons: ons loop met ons blik na die aarde, na die dinge van hierdie wêreld, ons blikveld gaan soms net sover soos wat die modes en die giere van ons tyd gaan. Ons hardloop dikwels nog vinniger as die ongelowiges om deel te neem aan die begeerlikhede van die wêreld; ons is dikwels nog meer wêrelds as die wêreldse mense self. En dan roep Paulus ons toe: Maar daarbo is julle lewe! Dáár is Christus! En Hy het deur sy werk die Pinksterkrag verdien waardeur ons hemelsgerig kan lewe. Kyk op na Hom, bid elke dag met verlange vir sy krag uit die hoogte (Luk. 24:49), die Heilige Gees, sodat jy die dinge kan soek wat daarbo is.

Maar, broers en susters, wanneer ons praat van die dinge daarbo, dan verstaan ons hooplik almal dat dit nie in die eerste plek gaan oor die siel en die hemel en die hiernamaals is nie; ons moenie die dinge daarbo vergeestelik nie. Om te soek wat daarbo is en nie wat op die aarde is nie, beteken nie dat ons die lewe hier op aarde loslaat of as minder belangrik beskou nie. Christus bid juis in vers 15: “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie…” Ons mag dit dus ook nie bid nie. Nee, wanneer ons die dinge daarbo soek, dan soek ons die krag van Christus, die krag van sy Gees, om voluit in hierdie wêreld te kan lewe, tussen ongelowige bure en ongelowige kollegas, in die goddelose raadsale van ons land en op ‘n sportveld vol ongelowiges. Dan put ons uit sy kragbron om sodoende van die Bose bewaar te word, soos wat Christus in vers 15 bid. Krag om van die Bose bewaar te word in die kantoor en agter my rekenaar; krag om in God se waarheid geheilig te word in die sitkamer en in die slaapkamer; krag om God te ken by die skool en in die swembad. Ja, Christus pleit daarvoor dat, in ons hele lewe hier op aarde, kragte van bewaring ons sal omring.
En toe Hy dit gebid het, toe het dit Pinkster geword, en die Vader het kragte van bewaring na die aarde gestuur in sy Gees. Mense wat glo in die hemelvaart vermy daarom nie die wêreld nie, hulle vermy nie die politiek van die dag en die nuus in ons koerante nie, hulle loop nie met hulle koppe in die wolke nie. Inteendeel, mense wat glo in die hemelvaart is mense vol van die Gees, die Gees van Christus. En as Geesvervulde mense gaan werk ons hier op aarde tot eer van die Here. En dan soek ons nie wat hier op aarde is nie, maar dan soek ons wat hier nog nie is nie, die dinge van die hemel. Dan soek ons daarna om hier op aarde – in my huis en in my straat en in my werksplek – reformerend en helend besig te wees deur die krag van die Gees.
Gemeente, stel u self voor: as ons werklik gerig is op die hemel, en die dinge soek wat daarbo is, watter suiwerende en heiligende invloed kan ons nie hier op aarde hê nie. Hoe mooi en nuut gaan die lewe dan nie word nie; mooi en nuwe huwelike en gesinne, mooi en nuwe kerkgemeenskappe, pligsgetroue arbeiders en leerlinge. Dit sal soos ‘n suurdeeg werk wat deurwerk na alles om ons heen. Ons sal dan iets begin sien van die hemel op aarde. Let wel, ek sê: iets! Want vir die volle glorie wag ons totdat – u onthou antwoord 46 – totdat Hy weer kom… Dit bring ons by ons laaste gedagte.
Die glorie van die wederkoms.

3. Die Kategismus sê in antwoord 49 dat ons ons menslike natuur in die hemel as ‘n betroubare waarborg het dat Hy as die Hoof ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem. Nou, ook hierdie punt word deur Jesus in sy gebed in Johannes 17 aangeraak. Hy sê in verse 22 en 24: “Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het… Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees…” Gemeente, sien u Christus se wonderlike onbaatsugtigheid? Hy het sy heerlikheid as ‘n reg by die Vader opgeëis: “Verheerlik u Seun…” Maar Hy doen dit nie slegs vir Homself nie: “Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was. Maar, Vader, Ek kom nie alleen na die glorie toe nie. Nee, almal wat U My gegee het, dra Ek saam. Ek wil dat waar Ek is, hulle ook saam met My sal wees.”

Gemeente, ook hierdie gebed is in beginsel deur God verhoor; daarvan is Christus se hemelvaart die waarborg. Maar die volledige en feitlike vervulling sal ons eers op die dag van die wederkoms beleef. En daarom is dit so belangrik dat ons toekomsgerig sal lewe. Ja, inderdaad, ons lewe hier op aarde, en Christus wil ons ook nie hier wegneem nie. Maar waar ons hier op aarde lewe, word ons ook opgeroep om met oë van geloof na die toekoms te kyk, daarna uit te sien. Ons mag daarna uitsien dat Christus, die Hoof, ook ons, sy lede, na Hom sal neem.

Maar, broers en susters, wanneer ons so uitsien na die toekoms, dan is dit geen selfsugtige uitsien nie. Ons sien nie in die eerste plek uit na die wederkoms om daardeur van óns hartseer en pyn verlos te word nie. Dit natuurlik ook, maar ons sien heel eerste uit na die wederkoms en na ons verheerliking omdat daarmee Christus se heerlikheid tot volheid sal kom! Christus is in sy verheerliking die eersteling, ons moet nog volg. Maar as ons nie verheerlik sou word nie, dan sou sy heerlikheid daardeur skade ly. Sy glorie beteken vir Hom niks, as ons nie in daardie glorie mag deel nie. En dáárom begeer ons met groot verlange na sy verskyning in heerlikheid, en ons begeer met groot verlange na ons eie verheerliking, want eers in ons verheerliking word sy heerlikheid volmaak. Dit gaan oor sy eer!

Natuurlik, Christus het ons nie nodig om heerlik te wees nie. Hy is heerlik in Homself! Ons verheerliking, daarenteen, is uit en uit genade. Maar weet, dat elke keer wanneer jy huil oor die ontluistering van die liggaam – van jou liggaam – en elke keer wanneer jy treur oor die hartseer van siekte en dood en verminking, dan begeer Christus saam met ons die verheerliking van ons vlees. En sy begeerte is geen onrealistiese wens nie, maar ‘n toekomstige werklikheid, want aan Hom behoort immers die koninkryk en die krag en die heerlikheid, tot in ewigheid!

Amen

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Geloofsbelydenis (na seëngroet van Drie-enige, bely ons geloof in Drie-enige)
Gebed
Lees: Johannes 17
Teks: HK, Sondag 18
Sing Skr. 11:3-5
Preek
Amenlied Ps. 68:7 -9
Kort nagmaalsformulier
• Terwyl tafel in gereedheid sing Ps. 103:1 en 2
• Voltooi formulier aan tafel
• Aan tafel sing Ps. 103:3
Kollekte
Slotsang Ps. 47:3 en 4
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)