Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Daar sit ‘n verkondigingselement in die nagmaal. Deur die nagmaal verkondig ons die dood van die Here totdat Hy kom, só sê Paulus in 1 Korinthiërs 11:26, waarmee die nagmaalsformulier begin. Wanneer ons dus net hierna hier aan die tafel gaan sit om van die brood te eet en uit die beker te drink, dan verkondig ons, dan ‘preek’ ons! En om te verkondig beteken om belangrike nuus in die openbaar bekend te maak, te proklameer.
Nou was daar in die afgelope week verskeie sake wat hoofnuus gehaal het, opspraakwekkende sake wat op die voorblad van die koerante geproklameer is. Die belangrikste hiervan was waarskynlik die gespanne rasseverhoudings binne ons land na aanleiding van die moord op die AWB-leier, en daarmee gepaardgaande die uitsprake van die leier van die ANC-jeugliga. Elke dag se nuus is daardeur gedomineer. Maar in al hierdie nuusuitsendings en debatte was die dood van die Here nog nie hoofnuus nie. Nog nie eenmaal hierdie week het die nuus begin met die woorde: “Hier volg die hooftrekke: Die Here het gesterf vir die sondes van die mensdom, en dit word komende Sondag in die kerk gevier” nie. Nee… Daar was ook geen verslaggewer wat ‘n onderhoud gevoer het met ‘n gelowige wat geleentheid gekry het om die landsburgers tot geloof in Jesus Christus op te roep nie. Nee…
Maar het ons dan nie die belangrikste nuus agterweë gelaat nie? Hoe kon hierdie voorbladnuus, wat ons land in tye soos hierdie só bitter nodig het, hoe kon dit net verdwyn het – dit is nie eers in ‘n bylae nie, dis net weg? Ag, gemeente, natuurlik gaan die televisiestasies en die dagblaaie van ons land nie die evangelie as hoofnuus aankondig nie. Natuurlik gaan die viering van die nagmaal nie die voorblaaie haal nie. Nee, óns – die kerk – moet dit gaan verkondig! En dit is waartoe Jesus sy dissipels in ons Skrifgedeelte oproep. En as ons iets verstaan van die nood van ons tyd, dan sal ons saamluister na Jesus se onderrig, sodat ons nagmaalsviering net hierna ook waarlik verkondiging kan wees! Die tema vir die preek is:
WIT OF SWART? NEE, GELOOF OF ONGELOOF! (u sal hoor, dit is ‘n tema wat baie konkreet is in ons huidige situasie, maar daarmee wil ek die Woord ook werklik in ons tyd bring)
Gemeente, ons leef in ‘n pragtige tyd! Dit klink waarskynlik na ‘n skrille kontras met wat ek sopas gesê het – en wat ons die afgelope week ervaar het – oor die toestand in ons land. En tog is dit – geestelik / bybels beskou – waar dat ons in ‘n pragtige tyd lewe. Jesus Christus het immers die wêreld met God versoen; die weg na die hemel lê oop vir elkeen wat waarlik in Hom glo. Daar is ware verlossing vir jonk en oud, vir die hele kosmos. Dit is daarom tyd vir die wêreld om te glo. Niks is beter as om op die weg van verlossing te gaan wat God vir die mensdom oopgemaak het nie.
‘n Mens sou dan ook verwag dat die dissipels op die dag van die opstanding onmiddellik en met blydskap na Jesus in Galilea sou gegaan het, soos wat Hy hulle voor sy dood opgedra het. Maar niks is minder waar nie. Die boodskap van die opstanding loop vas teen die ongeloof van die leerlinge. Alreeds op paassondag sien ons die teenkragte van die ongeloof. Maar gelukkig is Jesus geduldig met sy leerlinge – Hy stuur twee betroubare getuies: Maria Magdalena uit wie sewe duiwels uitgedryf is, en die twee broeders wat tydens hulle wandeling in die veld die heerlikheid van die Here aanskou het. En toe die dissipels daarna nog steeds halsstarrig was, het Jesus hulle persoonlik kom besoek. Hy het hulle verwyt oor hulle ongeloof, maar Hy het hulle terselfdertyd ook toegerus vir die toekoms. Hulle moet verstaan: ongeloof is sonde, ongeloof is opstand teen God se liefde.
Hierdie les moet goed in die dissipels se verstand gegrif wees wanneer Jesus hulle vervolgens uitstuur om die evangelie aan die ganse mensdom te gaan verkondig. Hulle kan vanuit eie ervaring baie begrip hê vir ongeloof en vir kleingeloof en vir halsstarrigheid. Maar wanneer hulle hiervandaan uitgaan om die dood van die Here te verkondig, dan sal hulle tog moet uitgaan van die les van hulle Meester: geloof is normaal en verpligtend. Jy staan skuldig wanneer jy die verkondiging langs jou neersit. Ja, dis waar, die evangelie is vol liefde, maar dit is nooit vryblywend nie. Ja, die evangelie word verkondig deur swak mense, maar daarin spreek die Almagtige en Hy vra gehoorsaamheid. Elkeen wat met die evangelie te make kry, kom in aanraking met sy of haar Skepper! En dan kan jy nie stilbly of jou rug draai nie. Nee, dan moet jy kies. Vír Jesus Christus of téén Hom… En dit is ook presies wat Jesus in vers 16 sê: “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.” Dít is die keuse, en daar is niks tussen-in nie!
Broers en susters, dit is woorde wat vir ons dikwels effens te sterk in die ore klink, veral om dit so aan ander te gaan oordra. Ons leef naamlik in so ‘n polities-korrekte samelewing, en ons is self dikwels so deurdrenk van politiese korrektheid, dat ons nie meer gehoorsaamheid durf opeis nie. Ons leef in ‘n samelewing van vryblywendheid en persoonlike keuses, ‘n samelewing van mondigheid en menseregte. Ons is so bang vir polarisasie dat ons maar liewer stilbly. Selfs hier in die kerk durf ons nog skaars om vir iemand te sê dat sy lidmaatskap van die kerk nie vryblywend is nie; ons sukkel om mekaar te vermaan, ons het moeite om vir mekaar te sê: “Só sê die Here, dít is die weg wat jy behoort te gaan.” Of om vir mekaar te sê: “Wat jy daar doen, is sonde! Bekeer jou van jou verkeerde weg!”
Maar ook daarbuite, teenoor die ongelowiges, sukkel ons om eenvoudig op te roep tot geloof – nie as óns eis nie, maar as die eis uit die hemel: “Dit is my geliefde Seun, in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom!” Wat ons eerder doen, is om die evangelie aan te bied as ‘n soort ‘bargain’, ‘n winskopie. Ons probeer mense oortuig dat geloof die moeite werd is, ons wys vir hulle die bybelse voordeleskema van hierdie geloofspakket. En daarby bly die toon maar alte dikwels vryblywend: “wonderlik as jy dit wil aanneem, maar indien nie, dan gaan ons met respek uit mekaar uit; ek sal bly wees as jy tot geloof kom, maar indien nie, is nog steeds goeie vriende.” Broers en susters, dit is in wese ‘n vreemde manier van omgaan met die evangelie. Nee, dit is nie vreemd dat ons vriendelik en uitnodigend teenoor gelowiges én ongelowiges is nie, dit is nie vreemd dat ons vir hulle sigbaar maak hoe wonderlik dit is om die Here te dien nie. Maar dit is wel vreemd dat ons nie duidelik kan maak dat geloof nie sommer iets ouliks is nie, maar iets verpligtends. Ek móét glo! Sonder geloof gaan ek verlore!
En daarom, wanneer ons hier aan die nagmaal sit en die dood van die Here verkondig totdat Hy kom, dan verkondig ons dit nie as ‘n opsie tussen baie ander nie. Ons sê nie maar net: “Dit is ons keuse; wat jy daarmee maak, is jou keuse” nie. Nee, wanneer ons nagmaal vier, dan verkondig ons die enigste weg tot saligheid. En dan stuur die Heiland ons in die wêreld in met ‘n fundamenteel-verpligtende goeie boodskap! Ons word geroep om die wêreld te konfronteer met hulle Skepper – nee, ons konfronteer die wêreld nie met onsself nie, hulle hoef geen verantwoording teenoor ons te doen nie. En andersyds hoef ons ook nie vir hulle bang te wees nie. Hulle staan, net soos almal van ons, voor hulle Skepper, voor hulle Maker – want dit is Hy wat die see en die winde beheer, dit is Hy wat die babatjie weef in die skoot van die moeder, dit is Hy wat die seisoene mekaar laat opvolg, dit is Hy wat die miere lei en wat aan die krokodil sy skubbe gee; dit is Hy wat Jesus Christus gebore laat word het uit die maagd Maria. En hierdie Skepper het ‘n regsgeding met sy skepsele. In sy vertrapte Majesteit kom bied Hy vir sy skepsele vrede aan; Hy kom wys in sy goedheid vir hulle die weg na die ewige lewe. En in antwoord daarop eis Hy geloof! En dit is ‘n eis wat ek – as Christus se getuie, as christen-profeet – ook moet oordra. Ek moet vir kennisse en kollegas, vir my huishulp en my tuinman vertel: Jy kan nie maak asof Hy nie jou Skepper is nie – jy moet glo en jou laat doop! Om dit nie te doen nie, is lewensgevaarlik.
En só leef ons land daagliks in lewensgevaar, broers en susters. Ons sien die ellende om ons heen, ons sien die dood en die siekte, ons sien die haat en die woede tussen wit en swart. En wat doen ons? Wat behoort ons te doen? Waartoe dring die brood en die beker, die vlees en bloed van ons Here Jesus Christus ons? Wel, ons gaan verkondig in elk geval nie – en moet dit nooit doen nie, ook nie in ons sitkamers of rondom die braaivleisbure nie! – ons gaan verkondig nie ‘n keuse tussen wit en swart nie; laat ons nie so dwaas wees om in die slaggat van die huidige polarisasie te trap nie. Nee, ons gaan verkondig die reddende evangelie van Jesus Christus vir wit en swart en elke ander kleur. En ons gaan verkondig dit met opregte liefde, maar ook met die oproep tot ‘n daadwerklik keuse: glo jy, of glo jy nie? En as jy tot geloof kom, bevestig dit dan ook deur jouself te laat doop. Laat jouself dan aan jou Heiland verbind.
Maar die fókus hier lê op die geloof. Geloof en ongeloof is die twee keuses wat lei tot redding of veroordeling. Jesus se verwyt oor die elf is vir ons en die hele skepping ‘n voorbeeld. God neem jou dit kwalik wanneer jy die verkondiging ignoreer, omdat jy eiewys is en jou visie belangriker ag as syne. Wie nie glo nie, sal veroordeel word: verskriklik is dit om te val in die hande van die lewende God. Ons kan maar gerus sidder wanneer ons dít hoor. Want veronderstel jy word afgewys op die dag van die oordeel; veronderstel jy beland in die buitenste duisternis omdat jy God nie op sy woord wou glo nie; veronderstel jy word gedoem tot die keuse wat jy hier op aarde alreeds gemaak het: ‘n lewe buite God, wat die Lewende is! Dit is met reg ‘n skrikwekkende gedagte…
Maar, broers en susters, Jesus beloon ook almal wat wel glo. Hy prys almal salig wat glo sonder om te sien: “wie glo en hom laat doop, sal gered word.” En dit is mos waaroor alles in die lewe gaan, nie waar nie? Sien ons nog raak dat dit nie daaroor gaan dat ons hier op aarde voorspoed ken nie, want dit is verganklik. Dit gaan nie daaroor dat ons aansien by die mense het nie, want die dood vreet ook daardie geluk weg. Nee, dit gaan daaroor dat ons die geluk ken van die lewe met God, dat ons mag deel in sy rykdom en welvaart en wysheid en lig. Wat is heerliker as dat vir jou en my gesê word: Mooi so, gaan in in die rykdom van jou Heer! Salig daarom wie glo en gedoop is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele wat Jesus Christus verdien het. Kom proe dit hier aan die nagmaal, en gaan verkondig dit daarbuite. Want ons lewe in ‘n pragtige tyd, selfs in ‘n diep-versteurde Suid-Afrikaanse samelewing!
Amen
Liturgie (oggend)
Votum: sing Ps. 121:1
Seën: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus.
Sing Ps. 92:1 en direk daarna Ps. 122:1 (twee liedere wat spesifiek oor die sabbat/rusdag gaan)
Kort gebed
Lees: Markus 16:9-20
Teks: Markus 16:15-16
Preek
Sing Ps 67
Lees formulier + wet
Na lesing van die wet, sing Ps. 32:2, 3 en 6
Vervolg lesing van formulier
Terwyl die tafel in gereedheid gebring word, sing Ps. 23:3, eerste beryming, alternatiewe wysie
Viering van die nagmaal
o Eerste tafel – “ellende”, sing Ps. 139:12
o Tweede tafel – “verlossing”, sing Ps. 124:4
o Derde tafel – “dankbaaheid”, sing Ps. 116:7
Voltooi formulier & dankgebed
Kollekte (lees 2 Kor. 9:6-8)
Slotsang Ps. 150:1 en 3 (loof God saam met die hele skepping)
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
(kyk in preek)