Die stelligheid van die Kategismus mag ook my sekerheid wees!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2010-04-25
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 20
Reference: 
HK 20-2
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Wat glo jy van die Heilige Gees? – dit is die vraag van die Kategismus in Sondag 20. En die antwoord? Wel, ten eerste is Hy saam met die Vader en die Seun ware en ewige God – waarskynlik is dit nie ‘n probleem vir enige van ons nie. Maar, ten tweede, is Hy ook aan my gegee. Ja, nou word dit baie meer persoonlik – Hy is aan my gegee. Só sê die Kategismus baie stellig, met groot sekerheid. Maar… is Hy ook aan my gegee? Is Hy aan jou gegee? Hoe weet ons dit? Hoe kan ons sekerheid daaroor hê?

Broers en susters, dit is goed om reg aan die begin al duidelikheid hieroor te kry, aangesien daar dikwels verwarring hieroor bestaan. Vanuit die Pinksterbeweging en charismatiese kringe word naamlik vir ons gesê dat ons die Gees as ‘n soort ‘tweede genadewerk’ (‘n ‘second blessing’), naas en ná die geloof in Christus, moet ontvang. Die lewe van die gelowige is dus ‘n twee-stap plan – eers geloof in Christus, en daarna die doop / ontvang van die Heilige Gees. By sommige volg die doop met die Gees sommer vinnig nadat hulle tot geloof gekom het, by ander vat dit langer. Daar is selfs mense wat jare nadat hulle tot geloof in Christus gekom het, nog steeds nie met die Gees gedoop is nie.

Maar, gemeente, hoeveel invloed hierdie gedagtegang wêreldwyd ook al mag hê, dit is eenvoudig onbybels. Luister maar na die Here Jesus in Johannes 7:37-39: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo…” Ons mág nie skeiding maak tussen geloof in Christus én die doop met die Heilige Gees nie. Die doop met die Heilige Gees is nie, soos sommige leer, ‘n “tweede genadewerk” náás die geloof in Christus nie. Nee, elkeen wat in Christus glo, ontvang die Heilige Gees; of anders gestel: word gedoop met die Heilige Gees.

Om daarom vir iemand, wat waarlik ‘n kind van God is, te vra of hy al met die Gees gedoop is, is bybelse onsin. Want iemand wat in Christus glo, hét die Heilige Gees. Christus en sy Gees kan nie van mekaar geskei word nie, want die Heilige Gees is die Gees van Christus (Rom. 8:9). As jy daarom in nederigheid en in erkentlikheid teenoor die Allerhoogste God, wat die geloof as genadegawe skenk, kan sê: “Ek glo in Jesus Christus”, dan mag jy ook met sekerheid sê: “Die Heilige Gees is ook aan my gegee, sodat Hy my deur ‘n ware geloof aan Christus en al sy weldade deel laat kry, my troos, en ewig by my bly.” Jy mag dit sê. Meer nog: jy moet dit sê, want God het dit belowe!

Tema: die stelligheid van die Kategismus mag ook my sekerheid wees!
In die verskillende punte wil ons vervolgens kyk hoe ons in hierdie sekerheid behoort te lewe:
1. Moenie die Gees bedroef nie
2. Word vervul met die Gees
3. Dra die vrugte van die Gees

1. Broers en susters, kan ons – kan jy – Jesus Christus navolg? Die Nederlander, Thomas a Kempis, het op hierdie vraag ‘ja’ geantwoord. Hy het hieroor ‘n boek geskryf, getiteld: Oor die navolging van Christus. En dit is nou presies waaroor ons Skrifgedeelte – Efesiërs 4:17-5:21 – gaan. In hierdie gedeelte gaan dit oor die navolging van Christus. Paulus noem dit ook eksplisiet so in hoofstuk 5:1 en 2: “wees dan navolgers van God soos geliefde kinders; en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het.” Dit gaan hier oor ons manier van lewe in navolging van Christus, en dan noem Paulus baie konkrete dinge, alledaagse dinge. Hy praat onder andere oor ons werk, oor ons taalgebruik, oor ons houding ten opsigte van seksualiteit, oor ons drankgebruik. Konkreet – ons hou mos van konkreet? Of nie?

Wel, of ons nou daarvan hou of nie, Paulus ag dit nodig om in baie konkrete taal die gemeente van Efese te wys op die radikale onderskeid tussen die vorige lewenswandel in die duisternis, en die nuwe lewenswandel in die lig. Hy is soos iemand wat in ‘n donker kamer die lig eers aansit, en dan weer afsit – aan, af, aan, af. Die oorgang van die lig na die duisternis en andersom is totaal; elke keer leef jy in ‘n ander wêreld. En dit is pressies wat Paulus hier wil skets: twee totaal verskillende wêrelde. Lig en duisternis. En die oproep is om, as navolgers van Christus, in die lig te wandel – radikaal, volledig.

Maar dan kom die vraag weer op wat ons sopas gestel het: is ons in staat om Christus so radikaal na te volg? En dan moet ons, op grond van hoofstuk 4:30, saam met Thomas a Kempis sê: ja, ons kan! Want ons is verseël deur die Heilige Gees – só sê vers 30. Paulus het alreeds in hoofstuk 1:13 gesê dat ons verseël is met die Gees van die belofte, en hier in vers 30 herhaal hy dit. En daarmee bedoel hy dat ons in en deur die Gees goddelike krag ontvang om werklik navolgers van Christus te kan wees.

Christus het persoonlik sy waarmerk – sy Gees – op ons geplaas, sodat dit vir ons moontlik is om in die nuwe wêreld van die lig te kan wandel. In die krag van die Gees word dit moontlik – word dit ‘n realiteit – om die ou mens af te lê en onsself met die nuwe mens te beklee, soos wat Paulus oproep in Efesiërs 4:22 en 24.
En, let wel gemeente, dit is geen uitspraak van selfvertroue nie; as ons dit sê, dan kyk ons beslis nie selfvoldaan na onsself nie. Nee, dit is ‘n geloofsuitspraak, ons kyk in vertroue na Christus wanneer ons dit sê. In die geloof moet dit vir elke Christen moontlik wees om te sê: “Ek is tot alles in staat, deur Christus wat my krag gee” (Fil. 4:13). Natuurlik, vroeër was ons duisternis, maar nou is ons lig in die Here – wandel dan ook soos kinders van die lig, só sê Paulus in hoofstuk 5:8. Dit het moontlik geword deur die Gees van Christus!

En in dié verband moet ons goed besef, broers en susters: wanneer ons dit nie doen nie, wanneer ons in die wêreld van die duisternis bly wandel, wanneer ons nie die leuen aflê nie, wanneer daar steeds vuil woorde uit ons mond uitgaan, wanneer bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering steeds deel van ons mondering is, dan bedroef ons die Heilige Gees waarmee ons verseël! Wie aan die ou lewensstyl vashou, bedroef die Gees van God. Ons kan ook sê: ons blus die Gees van God – dit is die woord wat Paulus in 1 Thessalonicense 5:19 gebruik. Ja, die Gees is soos ‘n vuur wat in elke gelowige aan die brand gesteek word – jy onthou mos nog die tonge van vuur destyds op die Pinksterdag? Wel, hierdie vuur wil in ons hele lewenswandel – in al ons woorde, al ons dade, en al ons gedagtes – tot uitdrukking kom. Hierdie vuur wil in my hele lewe sigbaar word, Hy wil al hoe hoër en sterker brand! Maar wanneer ons die Gees verhinder om op so ‘n manier tot uitdrukking te kom – deurdat ons onsself nog steeds besig hou met die dinge van die duisternis – dan blus ons die Gees, dan bedroef ons Hom. Want dan word Hy nie as goddelike krag – as God self! – in my lewe geëer nie. En wanneer ons aanhou om Hom te bedroef, wanneer ons aanhou om water op hierdie vuur te gooi, dan kan daar ‘n punt kom dat Hy ons verlaat.  

En daarom, broers en susters, is dit nie genoeg om onsself maar te verskoon, en te sê: “Ons is ook maar net sondige mense” nie. Nee, jy het dan die Gees as geskenk ontvang! As ons hierdie verskoning bly gebruik, dan is ons soos iemand wat by die betaalpunt van die winkel kom om sy inkopies te betaal, en agterkom dat hy geen geld by hom het nie. Maar gelukkig vir hom is daar ‘n vrygewige man agter hom wat vir hom die volle bedrag gee sodat hy sy inkopies kan betaal. Wonderlik, nie waar nie? Maar tot ons verbasing stap die persoon, wat geen geld gehad het nie, weg, selfs nadat hy geld ontvang het. En vervolgens gaan verkondig hy vir almal dat hy nie sy inkopies kon betaal nie, omdat hy geen geld gehad het nie. Dit is eenvoudig ‘n verdraaiing van die feite! Natuurlik het hy nie geld gehad nie, maar hy het dit dan gekry!

Nou, so is ons ook, wanneer ons elke keer weer sondig en soos varke in die modder rondrol, en dan die verskoning gebruik dat ons ook maar sondige mense is – dit is ‘n verdraaiing van die feite, dit is nie waar nie. Want hoewel dit waar is dat jy ‘n sondige mens is, hoewel dit waar is dat jy swart is van die sonde, mag jy nie nalaat om te vertel dat jy deur Jesus Christus verlos is nie, en mag jy nie verswyg dat Hy aan jou die gawe van die Heilige Gees gegee het. Jy hét die krag van die Gees! Hy is vir jou gegee! Moet Hom nie blus en bedroef deur eenvoudig voort te gaan in jou ou lewe nie. Nee, léwe uit sy krag! Hy is daar vir jou – want jy glo mos in Jesus Christus?

Dit bring ons by die tweede gedagte: word vervul met die Heilige Gees.

2. Ons het dus die Gees ontvang, maar dit is nog nie die laaste woord nie. Want nou vind ons aan die einde van ons Skrifgedeelte ook nog ‘n ander oproep van Paulus met betrekking tot die Heilige Gees; kyk maar na hoofstuk 5:18: “Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.” Ons sal nou-nou terugkom na die konteks waarin Paulus hierdie woorde uitspreek, maar eers moet ons vir onsself afvra: wat beteken dit om met die Heilige Gees vervul te word? Ons het Hom mos ontvang!? – wat behels dit dan dat ons met Hom vervul moet word? Wat beteken dit wanneer van die sewe manne in Handelinge 6:3 gesê word dat hulle vol moes wees van die Gees? En wat word bedoel wanneer van Stefanus in Handelinge 6:5 en van Barnabas in Handelinge 11:24 gesê word dat hulle vol van die Heilige Gees was?

Wel, gemeente, om vol te wees van die Gees, beteken om jou lewe volledig te laat beheers deur die Gees. Dan is Hy die Een wat die stuurwiel van jou lewe oorgeneem het; Hy bepaal dan die rigting van jou lewe. Om met die Gees vervul te wees, kan ons ook in ander woorde stel, naamlik “om deur die Gees te wandel” of “om deur die Gees te lewe”. Dus, om met die Gees vervul te wórd, beteken dat jy jouself hoe langer hoe meer deur Hom laat beheers, hoe langer hoe meer toelaat dat Hy jou lewe lei en regeer. As jou lewe daarom nog nie vol is van die Gees nie – en wie van ons se lewens  is? – dan beteken dit nie dat jy maar net ‘n halwe Gees ontvang het nie; nee, jy ontvang as christen die volle Gees, maar die vraag is wel in watter mate jy jou deur daardie Gees laat beheers. Daar moet groei wees in die mate waarin jy jouself deur die Gees laat beheers, daar moet voortuitgang wees.

En dit is nou presies die doel van Paulus se oproep, wanneer hy sê: word vervul met die Gees. Dit beteken nie dat jy meer van die Géés moet kry nie, maar eerder dat jy jouself meer deur die volheid van die Gees moet laat behéérs, meer en meer moet toelaat dat die Gees seggenskap in jou lewe het. En uiteraard verskil die mate waarin verskillende mense in die gemeente hulleself deur die Gees laat beheers – net soos daar verskil is in die hoeveelheid geloof wat gemeentelede het, so is daar ook verskil in die mate waarin gemeentelede hulle deur die Gees laat beheers. Ook kan daar in jou eie lewe periodes wees waarin jy jouself meer deur die Gees laat beheers as tydens ander periodes. Daarom bly Paulus se oproep te álle tye relevant vir álle gelowiges; niemand kan sê: “Ek is vol van die Gees, en daarom hoef ek nie meer na hierdie oproep te luister nie.” Nee, want selfs al is jy vol van die Gees – en dit word in die Skrif van verskeie persone gesê – dan nog moet jy vol bly.

Wat nou opmerklik is van Paulus se oproep in vers 18, is dat dit enersyds in die passiewe vorm gestel is, maar andersyds tog ook as opdrag gegee word. Dus, ons moet onsself láát volmaak met die Gees; dit moet áán ons gedoen word, dit is nie iets wat ons self kan doen nie. Jesus Christus doen dit, want dit is sy Gees wat Hy ryklik vanuit die hemel aan sy kerk uitdeel. Maar aan die ander kant moet ek nogtans persoonlik daarna soek, kry ek die duidelike opdrag om vervul te word. Hoe moet ons hierdie twee met mekaar versoen? Hoe kan dit tegelykertyd gawe en opdrag wees?

Gemeente, dit is hier waar die konteks van Paulus se woorde vir ons belangrik is. Paulus roep naamlik die Efesiërs in hoofstuk 5:15 en 17 op om nie onwys en onverstandig te wees nie. Inteendeel, hulle moet verstaan wat die wil van die Here is. En om dít te kan doen, moet hulle die tyd uitkoop (vers 16) – hulle moet goeie geleenthede skep en aangryp om na te gaan wat die wil van God is; hulle moet dus die tyd neem om God se Woord te ondersoek. Gelowiges is nie veronderstel om hulleself te laat bedwelm met grappe en liedjies aan ‘n tafel waar die wyn ryklik vloei nie; hulle moet nie dronk word van wyn nie. Nee, hulle moet eerder die tyd uitkoop om met die Woord van die Here besig te wees. Want dáárin – in die Woord! – sal hulle die wil van die Here vind, en dáárin lê vir hulle dan ook die bron om met die Gees vervul te word, om al hoe meer deur Hom beheer te word.
 
En, gemeente, dit is so belangrik dat ons onsself met hierdie wete sal bewapen, veral teenoor die charismatiese gevoelskultuur. In hierdie kultuur is die Gees iets wat maar net oor my kom en my met ‘n heerlike gevoel laat. En natuurlik is dit so dat die Gees oor my kom, want Christus skenk Hom dan vanuit die hemel. Maar tegelykertyd word ék opgeroep om Hom te gaan soek by die bron, by die Woord, in die evangelie van Jesus Christus. Die werking van die Gees is voorwaar bonatuurlik, maar die weg daarheen is baie eenvoudig die weg van die Woord, die weg van bybelstudie en van gebed. Dit beteken doodeenvoudig dat jy die tyd moet maak om die Skrif te bestudeer – dáár in jou binnekamer, en ook saam met broers en susters. As jy die Godgegewe begeerte het om jou lewe al hoe meer deur die Gees te laat beheers, om werklik ‘n Geesvervulde lewe te lei, dan is dít die weg om te gaan. Geen visioene nie, geen drome nie, geen ekstatiese ervarings nie. Nee, eenvoudig die Woord.

Ervaar jy dit as ‘n antiklimaks? Alweer bybel lees? Miskien voel dit so, maar ons het sopas gesien dat gevoelens nie bepalend is nie. Dít is die weg waarop God besluit het, dit is sy wysheid, en sy wysheid is nooit ‘n antiklimaks nie. As jy jouself in nederigheid voor hierdie besluit buig, dan sal jy ervaar wat die beteken dat die Here sy Gees wil gee aan elkeen wat Hom met hartlike versugting daarom bid en daarvoor dank, en dat Hy diegene wat Hom soek nooit sal afwys nie. Dan sal jy ervaar dat jou lewe al meer onder die beheer kom van Hom wat Here is en lewend maak. Lees daarom jou Bybel, maak die nodige tyd daarvoor, en word op dié manier vervul met die Gees.

Ten slotte nog kortliks: dra die vrugte van die Gees.

3. Maar wat kan jy nou verwag wanneer die Gees jou al hoe meer in beslag neem, en jou lewe al hoe meer begin beheer? Wat is die uitwerking daarvan? Weereens moet ons hier ‘n gevaar uitwys wat vanuit die charismatiese hoek op ons afkom. Want, soos ek hierbo alreeds gesê het, gaan die vervulling met die Gees volgens daardie groepe veral gepaard met besondere ervarings en emosies en ekstase. Ons het waarskynlik almal al gehoor van mense wat lag in die Gees, of mense wat val in die Gees of mense wat allerhande onverstaanbare klanke voortbring. Sulke emosies en ervarings word dikwels opgewek met opswepende toesprake en ‘n baie spesifieke soort musiek.
En dit is belangrik dat veral ons jeug baie goed hiervan bewus sal wees. Want julle in besonder leef in hierdie einste gevoelskultuur, julle word daagliks hiermee gekonfronteer. En die gevaar is baie groot dat julle ook jul geloof op emosies laat begin dryf – iets is goed wanneer dit goed voel, iets is oudtyds en stowwerig wanneer dit nie my gevoel opwek nie, en die Gees is daar waar ek Hom ervaar. Sien julle, die aanwesigheid van die Gees word hier gelyk gestel aan my emosionele belewing. Of andersom gestel: my emosionele belewing word die maatstaf om te bepaal of ek die Gees het, of nie. En daardie ander een, wat sonder baie emosie die psalm sing, hy het dan seker nie die Gees nie… - ja, dit is die konklusie waartoe ‘n mens moet kom.

Maar is dit noodwendig die gevolg wanneer jy deur die Gees beheers word? Wanneer ek al meer met die Gees vervul word, word dit dan sigbaar in emosies en gevoelens? Nee, gemeente, dit is nie wat die Skrif ons leer nie. Die Nuwe Testament leer ons dat, om beheers te word deur die Gees, sigbaar word in sekere effekte in my lewenswandel, eerder as in sekere emosies. Mense wat deur die Gees beheers word, vóél nie slegs iets nie; nee, hulle word totaal deur Hom verander. Hulle kry ‘n nuwe identiteit, hulle word nuwe mense (ook al bly die ou mens nog aanwesig). Wanneer die Gees ons beheer, dan kan ons saam met Paulus sê: “ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my” (Gal. 2:20). En dit kan raakgesien word! In die lewens van diegene wat deur die Gees beheer word, groei die vrug van die Gees, waarvan Paulus praat in Efesiërs 5:9: “Want die vrug van die Gees bestaan uit alle goedheid en geregtigheid en waarheid” (sien ook Galasiërs 5)

Ja, mense se lewens word anders, en hulle begin nou werklik vir God te lewe. Mense word heilig, en hulle groei steeds meer en meer in heiligmaking. En só ontstaan daar waarna die Here nog altyd gesoek het: ‘n heilige priesterdom, volk wat met Hom leef, volgens sy wette. Só maak Christus deur die Gees moontlik dat God en mens weer saam kan woon: Ek is julle God, en julle is my volk.  

Broers en susters, dít is wat die Here by ons soek wanneer Hy aan ons sy Gees skenk – Hy soek die vrugte, Hy soek gehoorsaamheid. En natuurlik mag ons dit voel, natuurlik mag ons dit ervaar – daar is niks verkeerd daarmee wanneer jou geloof in jou emosies na vore kom nie. Die Gees vernuwe immers ook ons emosies. Maar laat ons, in ons tyd, in besonder daarteen waak dat ons vervulling met die Gees opgaan in gevoel en emosie. Die Here soek nie mense wat in ekstase kan roep: “Here, Here” nie, maar Hy soek mense wat die wil doen van die Vader wat in die hemel is. En laat dit ons bede wees, dat die Here ons lewens sodanig deur sy Gees sal vernuwe dat die goeie boom nou ook goeie vrugte begin dra. Vrugte wat by die bekering pas. Kom ons spoor mekaar daartoe aan in die gemeente. Ja, ons het soms ‘n irritasie met mense wat net te heilig, net te vroom, in ons oë is. Maar dit behoort eerder ons strewe te wees om almal in daardie heiligheid te wandel. Laat ons deur die krag van die Gees gehoorsaam wees aan die oproep van die Here op verskeie plekke in die Skrif: “Wees heilig, want Ek is heilig.”

Amen

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 107:1, 3 en 10
Gebed
Lees: Efesiërs 4:17-5:21
Sing Skr. 33:1 en 3
Teks: HK, Sondag 20
Preek
Amenlied Ps. 25:2, 3 en 5
Gebed
Belydenis van geloof (singende)
Kollekte
Slotsang Skr. 14
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)