Behou die regte perspektief op die goddelose en die regverdige!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2008-08-03
Text: 
Psalm 52
Preek Inhoud: 

Psalm 52

Ds HH van Alten - Sondag 3 Augustus 2008

Lees: Psalm 52, 1 Samuel 21:7 & 22:6-23
Teks: Psalm 52
Sing: Sien liturgie

Tema: Behou die regte perspektief op die goddelose en die regverdige!

  1. ‘n ‘broeder’ wat geen kind van die Here is nie
  2. ‘n kind van die Here wat sy plek inneem onder broeders

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Het jy al ooit op ‘n Sondag hier in die kerk gesit en om jou heen gekyk na die broers en susters wat saam met jou in die kerk sit? Het jy al ooit gewonder hoe dit met hulle geloof gaan? Het jy al ooit, terwyl na ‘n spesifieke broeder of suster kyk, in jou hart gedink: “Ek wonder of hy of sy werklik ‘n kind van die Here is; ek wonder of sy of haar saak met die Here reg is. Ja, hulle kan dalk mooi daaroor praat, maar wat gebeur alles in hulle lewens, en wat leef daar werklik in hulle harte?” Miskien het iemand ‘n openbare sonde begaan, en vra jy jouself af: “Is hy eintlik nog my broeder? Is sy werklik nog my suster?” Of dalk kom jy op ‘n punt waar jy moet sê: “Hy is nie meer my broeder nie, ek kan haar nie meer my suster noem nie.”

Gemeente, die situasies wat ek hierbo geskets het, is heeltemal realistiese situasies; die waarskynlikheid is groot dat u al in so ‘n situasie was of nog gaan kom. Immers, onder die ware gelowiges is daar altyd die skeinheiliges, die huigelaars wat in die kerk met die goeies vermeng is (NGB, art. 29); onder die kinders van die Here gaan daar selfs van tyd tot tyd dié wees wat hulleself as ongelowiges bewys. Ja, die kerk bly tot by die wederkoms van die Here Jesus ‘n gemengde geselskap. 

Iemand wat hierdie feit ook ervaar het, was Dawid in sy kontak met Doëg. Ek noem dit nou kontak, maar waarskynlik het Dawid nooit werklik kontak met Doëg gehad nie. Volgens wat ons weet het hy hom een maal gesien en ‘n paar keer iets oor hom gehoor, dit was al. En tog kan ons sê dat Dawid kérklik met Doëg omgegaan het. Doëg, die Edomiet – ja, vyf van die ses keer wat sy naam in die bybel voorkom, word sy afkoms op dié manier aangedui – Doëg, die Edomiet, word deur Dawid behandel as ‘n broeder. Immers, dít was die opdrag van die Here in Deuteronomium 23:7, waar ons lees: “Die Edomiet moet jy nie as ‘n gruwel beskou nie, want hy is jou broer.” Ja, gemeente, die Edomiete was afstammelinge van Esau, die broer van Jakob, die stamvader van die volk Israel. En as sodanig moes hulle behandel word. En dit is wat Dawid dan ook doen – hy behandel Doëg as broeder.

En tog het Dawid sy twyfels oor hierdie broeder van hom gehad. Twyfels wat hy aanvanklik net in sy hart gebêre het, maar wat hy ná die gebeure in 1 Samuel 22 teenoor sy volgelinge uitspreek met die woorde: “Ek het daardie dag toe Doëg, die Edomiet, daar was, geweet dat hy dit sekerlik aan Saul sou vertel.” En dan verwys Dawid na die dag toe hy by die priester Ahimeleg gekom het om vir kos en wapens te vra (ons het na hierdie geskiedenis gekyk in die preek oor Psalm 34). Op daardie selfde dag – so lees ons in 1 Samuel 21:7 – “was daar ‘n man uit die dienaars van Saul opgesluit voor die aangesig van die Here, en sy naam was Doëg, die Edomiet, die opsigter oor die veewagters van Saul.” Doëg moes daardie dag gehoor het waaroor Dawid en Ahimeleg gepraat het, en hy het daarna sy kans afgewag om hierdie inligting, wat nie vir sy ore bedoel was nie, aan Saul oor te dra – met die rampspoedige gevolge vir Ahimeleg en sy gesin en die inwoners van Nob waaroor ons gelees het.

Dawid se twyfels was dus reg; hy het Doëg daardie dag by Ahimeleg gesien, en gewonder: wat leef in hierdie man se hart, wat is sy motiewe? Wel, Doëg se optrede in 1 Samuel 22 spreek vanself. En dan is Dawid se reaksie wanneer hy dit hoor: “Ek het dit geweet!” En gevolglik verander sy verhouding met Doëg, en moet hy sê: hierdie man is nie meer my broeder nie. En, gemeente, dít is nou presies waaroor Psalm 52 gaan. In hierdie psalm vind ons Dawid se getuienis dat daar ‘n definitiewe skeiding tussen hom en Doëg gekom het. Edomiet of nie, afstammeling van Esau of nie, maak nie saak nie… ‘n Broeder in die geloof is Doëg in elk geval nie meer nie; meer nog, Doëg het Dawid se vyand geword.

Tema: Behou die regte perspektief op die goddelose en die regverdige!

  1. ‘n ‘broeder’ wat geen kind van die Here is nie

  2. ‘n kind van die Here wat sy plek inneem onder broeders

1. Psalm 52 dra ‘n duidelike historiese verwysing. In vers 2 word vir ons vertel wánneer Dawid hierdie psalm gedig het, naamlik toe Doëg die inligting oor Dawid se besoek aan Ahimeleg aan Saul gaan verklap het. Dawid dig hierdie psalm dus nie op grond van vermoedens wat hy oor Doëg koester nie; nee, eers wanneer Doëg in sy dade wys hoe sleg hy is, sit Dawid pen op papier. En dan beskryf hy Doëg se slegte karakter onder drie verskillende eienskappe.  

In die eerste plek toon Dawid Doëg se trots aan; ons lees immers in vers 3: “Wat beroem jy jou in die kwaad, o geweldige?” Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word, dui op iemand wat selfvoldaan is, iemand wat volkome oortuig is van sy eie voortreflikheid en meerderwaardigheid. Doëg is baie ingenome met homself; hy dink dat hy baie slim is. Hy is soos die man in Spreuke 20:14, waar ons lees: “Sleg, sleg! sê die koper; maar as hy wegloop, beroem hy hom.” Hierdie koper, waarvan die Spreuke-digter praat, is baie trots oor die saketransaksie wat hy sopas met listigheid beklink het; hy prys homself omdat hy die verkoper om die bos kon lei om ‘n goeie prys te beding. Op soortgelyke wyse is Doëg ook baie tevrede oor die manier waarop hy die onregmatige inligting, wat hy in Nob bekom het, gebruik het.

En, gemeente, ons moet erken: Doëg was nogal slim. Hy het dít, wat hy in Nob gehoor het, nie sommer by die eerste die beste geleentheid uitgeblaker nie. Nee, hy het geduldig gewag vir die regte oomblik. Op die moment toe Saul – in die begin van hoofstuk 22 – homself sit en bejammer omdat hy in die duister gehou word deur sy vertrouelinge, en hy by hulle wou weet of Dawid vir hulle dieselfde hoë posisies en byvoordele sou gee as hy, toe sien Doëg sy kans om munt te slaan uit sy geheim. Ja, Doëg het geweet wanneer om te praat! En ons kan aanneem dat dit hom ‘n bevordering, of dalk ekstra lande en wingerde in die sak gebring het – presies waarop hy gehoop het. Dawid slaan dus die spyker op die kop wanneer hy in vers 9 sê dat Doëg op die grootheid van sy rykdom vertrou het en sterk was in sy begeerlikheid.

Gemeente, selfvoldaanheid en trots was ‘n kenmerk van Doëg, dit is eie aan dié wat sonder die Here lewe. Maar dit pas nie by kinders van die Here nie, dit pas nie by ‘n gemeente wat volgende week weer gaan nagmaal vier nie. Om nagmaal te vier beteken juis dat jy jou saligheid buite jouself in Christus soek. Dit is deur Hóm dat ek mag lewe. Wie daarom wil roem, moet altyd in die Here roem! 

‘n Tweede eienskap van Doëg se karakter is dat hy die kwaad lief gehad het; in vers 5 word naamlik gesê: “Jy hou meer van kwaad as van goed…” Hierdie aspek kom in besonder na vore in Doëg se koelbloedige vermoording van die priesters. Daardeur het hy duidelik gewys dat hy ‘n hater is van diegene wat geregtigheid voorstaan. Immers, Ahimeleg was die priester van die Here en die een wat in goedertrou opgetree het toe Dawid sy hulp kom soek het. Maar Doëg was, in navolging van Saul, daarop uit om sulke soort mense te elimineer om sodoende in die koning se goeie boekies te kom. Doëg was, wat die Bybel noem, ‘n hater van wat goed is, en ‘n liefhebber van wat sleg is.

Nodeloos om te sê dat hierdie eienskap nog minder by die kinders van die Here pas. En tog is dit goed om onsself ook op hierdie punt te ondersoek: soek ek werklik na die goeie, begeer ek die goeie? En wat van die kwaad – haat ek dit werklik, of is ek in my hart tog nog maar ‘n liefhebber daarvan?  

En dan die derde eienskap van Doëg se slegte karakter: sy gebruik van die tong as wapen. Wanneer ons mooi na die eerste deel van Psalm 52 kyk, sien ons dat dit selfs die eienskap is waarop die meeste klem geplaas word: “Jou tong beraam onheil, soos ‘n geslypte skeermes, o werker van bedrog. Jy hou meer van kwaad as van goed, van die leuen meer as om geregtigheid te spreek. Jy hou net van woorde wat verslind, o bedrieglike tong.” Hieruit leer ons, gemeente, dat woorde nooit neutraal is nie. Woorde is altyd ‘n krag, hetsy vir die kwaad, hetsy vir die goeie. En vir Doëg was dit duidelik ‘n meganisme om kwaad te bedrywe. Nie dat hy noodwendig gejok het nie; nee, dit wat hy gesê het, was waar. Maar hy het dit gebruik om kwaad aan te rig, om die gesalfde van die Here te vervolg.

Van die drie eienskappe wat Dawid in Psalm 52 uitlig, lê in hierdie derde eienskap van Doëg se karakter vir ons waarskynlik die ernstigste waarskuwing, broers en susters. Hoe gebruik ons die tong? Dit is nie verniet dat Jakobus in hoofstuk 3 van sy brief uitgebreid hieraan aandag gee nie: met ons tonge loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom seën vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie. Nee, inderdaad, dié twee gaan nie saam nie. En tog probeer ons dit dikwels kombineer. Ons tonge is dikwels ongedissiplineerd en los, terwyl ons mense behoort te wees wie se gesprekke opbouend en betroubaar is. Ondersoek jouself, in stilte, op hierdie punt.  

Drie eienskappe – hoogmoed, liefde vir die kwaad, en ‘n slegte tong. Dus: ‘n verkeerde houding, verkeerde dade, en verkeerde woorde. Eienskappe wat nie pas by die lewe van ‘n kind van die Here nie. Met hierdie beskrywing wys Dawid, die kind van die Here, dat daar ‘n skeiding tussen hom en Doëg gekom het; hierdie eienskappe bring altyd skeiding tussen regverdiges en goddeloses. Hulle paaie skei, en hulle uiteindes sal radikaal verskillend wees. Ja, Dawid sien in vers 7 duidelik waarheen Doëg oppad is.

Ten spyte van alles wat Dawid as gevolg van Doëg moes verduur, kan hy dus verder kyk as die lyding van nou. Dawid staar homself nie blind op die leuens en bloedbad van Doëg nie, maar hy behou perspektief. Bepalend vir Dawid is immers nie wat Doëg gesê en gedoen het, en wat hy daarmee verwerf het nie. Vir Dawid is bepalend: wat dink Gód van Doëg? Kyk God gunstig na hom? Wat gaan God met die goddelose mense doen? En, gemeente, wanneer ons hierdie soort vrae leer stel, wanneer ons hierdie perspektief kan hê, dan sien ons wat die werklike staat van die goddeloses is, hulle posisie. Dit is van die grootste belang dat ons dít sal raaksien: nie die goddelose se selftevredenheid en hoogmoed nie, nie die rykdom wat hy verwerf het nie, nie wat hy ons aangedoen het nie. Kyk verder as dit: wat is sy posisie voor die Here?

Ons word in ons kleingeloof en kortsigtigheid so dikwels mislei deur die uiterlike en die tydelike, deur mense se selfvoldane en trotse houding. Ons kan so magteloos voel wanneer ons sien dat mense doen wat hulle wil sonder om daarvoor gestraf te word – moordenaars, rowers en ons toekomstige staatspresident… Daar groei ‘n wrok in ons harte wanneer ons mense woorde hoor spreek wat sny soos ‘n geslypte skeermes. Maar gemeente, dan het ons nog nie geleer waaroor dit werklik gaan nie; dan het ons nog nie die groter prentjie raakgesien nie. Want dit gaan nie oor wie ek is en wat ek het in hierdie wêreld nie, maar dit gaan oor my posisie, voor God! Dit gaan oor wat ek voor God is; dit gaan oor die verhouding waarin ek tot God staan, want dít is uiteindelik wat tel.  

Dan sê u miskien: “Maar vir die ongelowige maak dit nie saak wat sy posisie voor God is nie.” Nee, inderdaad, dit leer die Skrif ons baie duidelik. Kyk maar net na die volgende psalm, psalm 53:2, waar die dwaas in sy hart sê: “Daar is geen God nie!” Nee, vir die ongelowige maak dit nie saak nie, hy steur hom nie aan God nie. Maar, gemeente, ook die ongelowige sal leer dat dit wél saakmaak; soos wat Psalm 53:6 ons leer: “Dáár het skrik hulle oorweldig, … want God het hulle verwerp.” Uiteindelik kan geen mens van die aangesig van die Almagtige wegkom nie; uiteindelik is elke mens, vandag reeds, oop en bloot voor die aangesig van God.

En daar waar jy voor God staan, kom die vraag in alle erns op jou af: wat is die aard van jou verhouding tot hierdie God? Wat is jou posisie voor die Allerhoogste? Staan jy dalk in die Doëg-posisie van “sondaar en trots daarop”, van “onregwerker met vreugde”? Dit is ‘n belangrike vraag waaroor elkeen van ons onsself deeglik moet besin. Moenie Doëg afmaak as die ou daarbuite, waarmee ek niks te make het nie. Nee, dink baie mooi! Doëg was immers iemand wat homself voor die Here afgesonder het, soos wat ons gelees het in 1 Samuel 21:7, Doëg was ‘n kerkmens…

Broers en susters, Doëg is nie dood nie. Ondersoek jouself. 

Dawid is egter baie duidelik daaroor dat hierdie sondaar-en-trots-daarop nie voor die aangesig van God sal kan bestaan nie; dit is die perspektief wat Dawid as gelowige mag hê. Hy stapel in vers 7 vier werkwoorde opmekaar om by die leser geen twyfel te laat oor die toekoms van die goddelose nie. Hierdie vier werkwoorde skets as’t ware stap vir stap vir ons die val en ontworteling van ‘n groot boom.

Die eerste werkwoord is ‘omverwerp’ – dus, die goddelose word omgegooi soos ‘n boom; sy trotse, hooghartige houding kom tot ‘n val. Die tweede werkwoord is ‘wegruk’ – dit het die gedagte van uitruk, soos wat ‘n mens soms ‘n boom, wat reeds omgeval het, om en om sal draai en rondpluk om hom uit die grond te kry. Die derde werkwoord is ‘uitsleep’ – en dan word daar bygevoeg ‘uit jou tent’; dus, die bekende plekkie waar hierdie boom gestaan het, ken hom nie meer nie. En ten slotte volg nog die werkwoord ‘ontwortel’ – dit vat eintlik maar net saam wat in die vorige werkwoorde alreeds na vore gekom het. Vir Doëg is daar geen plek meer in die land van die lewendes nie.

Gemeente, uiteindelik lewer die Doëg-posisie dus niks op nie; soos ‘n groot boom wat ontwortel en uitgesleep word, so ondergaan die mens, wat God nie tot sy toevlug maak nie, ‘n soortgelyke lot. Waar hierdie persoon so hard probeer om hier op aarde iemand te wees, sal hy stap vir stap agterkom dat hy vanweë God se toorn oor sy lewe niemand is nie. Is jy iemand? Of is jy niemand, ook al is jy hier op aarde ‘n iemand…? Wees verseker dat ‘n kind van die Here iemand is! ‘n Kind van die Here het nie nodig om met ‘n selfvoldane houding, slegte dade en skerp woorde homself te bewys nie. Nee, ‘n kind van die Here verloor alle geldingsdrang, want hy is iemand in die Here!

[Sing Ps. 37:1, 4, 6 en 12] Vervolgens: ‘n kind van die Here wat sy plek inneem onder broeders. 

2. Na die skets van Doëg en die beskrywing van sy einde, gee Dawid in die laaste paar verse van Psalm 52 ‘n skets van die regverdiges. En die kontras tussen die twee is opvallend, ‘n kontras wat in vers 10 ook aangedui word met die woordjie ‘maar’. Teenoor die omgegooide, ontwortelde en weggesleepte boom – wat simbool staan vir die lewe van die goddelose – vind ons die regverdige – ‘n groen olyfboom in die huis van God.

Nou, gemeente, vanweë die eienskappe van die olyboom is dit ‘n besonder geskikte beeld wat Dawid hier gebruik. Immers, die olyfboom was die enigste boom in Israel wat dwarsdeur die jaar groen blare gehad het; dus, immergroen. Verder was dit ‘n boom wat baie oud kon word en vir eeue lank vrugte kon voortbring, en daarby was die vrugte ook kosbaar en baie geliefd. Maar behalwe die beeld van die boom, sê Dawid verder ook nog dat hierdie boom geplant is in die huis van God.

Histories weet ons dat daar van sulke bome in die voorhof van die heiligdom gestaan het. In hierdie heilige grond was die olyfboom beveilig teen die elemente en teen enige geweld en kon dit welig groei en vrugte voortbring. Dus, gemeente, vanweë sy nabyheid by die Here sien Dawid homself – en alle gelowiges – as olyfbome wat ‘n pragtige toekoms het. Dawid is ‘n kind van die Here, en daarom is sy lewe veilig, en kan dit groei en vrugdra. Die gelowige het dus, in kontras met die goddelose, wél ‘n plek in die land van die lewendes. Die gelowige verkeer immers in die teenwoordigheid van die Lewende! Teenoor die haglike posisie van die goddelose, staan die gelowige in ‘n gesonde posisie voor die Here. U en ek is naby ons God en daarom het ons ‘n heerlike toekoms.  

Let egter op, gemeente, dat om naby God te wees nie maar net ‘n passiewe saamwees tydens sekere tye van stilte is nie. Om naby God te wees is nie slegs bedoel vir my stiltetyd nie; dit is nie iets waarvoor ek aparte tyd in my skedule maak nie. Nee, om naby God te wees, is ‘n werklikheid van elke dag. Immers, die olyfboom is mos geplant in die huis van die Here, sy wortels is stewig ingeslaan in die heilige grond rondom God se woning. So is die nabyheid aan God ‘n voortdurende werklikheid vir die gelowige. Dit is ‘n werklikheid by die kantoor waar die goddeloses groot praat oor hulle rykdom, en selfvoldaan is oor hulle prestasies; dit is ‘n werklikheid by die skool en universiteit waar jou mede-studente meer daarvan hou om kwaad te doen as om goed te doen; dit is ‘n werklikheid in ‘n samelewing waar die tong soms skerper is as die swaard; dit is ‘n werklikheid vir elke stadium van ons lewe, wanneer ons jonk en sterk is, maar ook wanneer ons oud en bejaard is en die dood nader kom. Ja, gemeente, om naby God te wees, is ‘n werklikheid in ‘n wêreld waar dit lyk asof die goddeloses floreer en onbekommerd voortleef. In hierdie wêreld is die nabyheid van God dié werklikheid waarby die gelowige mag lewe.

En waarin kom hierdie nabyheid van God mooier tot uiting as in Jesus Christus. Hy het só naby aan ons gekom, sodat ons nie meer ver van God sou wees nie; Hy is deur God verlaat sodat ons nooit meer deur God verlaat sou word nie. Besef ons dit nog? Ja, ons kan soms so ver van God af voel, ons wonder soms of Hy ons hoor wanneer ons roep, ons wonder soms of Hy ons sien wanneer ons ly. Gemeente, onthou dan dat God, behalwe jou lewensboom, ook nog ‘n ander boom geplant; daar was ‘n houtkruis op Golgota, daar was ‘n Redder aan ‘n houtkruis vasgeslaan. Hierdie Redder aan ‘n houtkruis is God naby aan ons! Hierdie lewende Redder het sy Gees gestuur – God in ons! Deur Hom kan jy, volgens vers 10, vir ewig en altyd op God se goedertierenheid – sy goedheid – vertrou! 

En sien dan ook raak, broers en susters, dat die groen olyfboom daar in die voorhof van die heiligdom nooit op sy eie staan nie. Nee, die olyfboom is daar geplant saam met talle ander olyfbome. As kind van die Here mag jy jou plek inneem onder broeders. En dit is presies waarin Dawid hom verheug in vers 11: hy weet dat hy mag verkeer in die teenwoordigheid van gunsgenote, in die teenwoordigheid van ander wat die guns van die Here mag smaak. Teenoor die goddeloses, wat elkeen vir hulleself veg, wat elkeen daarop uit is om eie belange te bevorder, mag die gelowige skouer aan skouer staan met ander wat saam met hom hulle identiteit in God soek.

Saam met my broeders en my susters mag ek, volgens vers 11, die Here loof vir alles wat Hy gedoen het. Saam met my broeders en my susters mag ek die Here verwag. Gemeente, ons word aan mekaar gegee, juis ter wille van die bemoediging en die versterking wat ons nodig het in ‘n wêreld wat wemel van Doëg-figure wat daarna soek om ons te onderdruk. Die gelowiges staan onder voortdurende druk, ons word dikwels seergemaak, daar word te pas en te onpas op ons getrap, en die hartseer kan baie groot wees. Moenie dit alleen probeer dra nie, moenie alleen jou moeites wil hanteer nie. Soek die teenwoordigheid van God se gunsgenote! Laat ons wees wat ons is: die liggaam van Christus waar die verskillende lede saam bly is en saam ly. Gaan soek jou mede-gunsgenote op in die komende week; gaan besoek hom of haar wat alleen is, of wat gebuk gaan onder die seer van die lewe. En laat ons volgende week in harmonie om een tafel gaan sit en sáám van die brood eet en uit die beker drink.

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 92:1 en 2
Wetslesing, en v/a 96 oor 2de gebod
Sing Ps. 50:4, 8 en 11
Gebed
Lees:  Psalm 52
      1 Samuel 21:7 & 22:6-23
Sing Ps. 94:9 en 10
Teks: Psalm 52:7 en 10a
Preek

  • Na 1ste punt Ps. 37:1, 4, 6 en 12
  • Amenlied Ps. 92:6 en 7

Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 94:11 en 12
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)