Die twee geboortelyne

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2008-07-13
Text: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 3
Reference: 
HK 3-0
Preek Inhoud: 

Sondag 3

Ds HH van Alten - Sondag 13 Julie 2008

Lees: Genesis 4:25-5:5, Johannes 2:23-3:6
Teks: HK Sondag 3
Sing: Sien liturgie

Tema: Die twee geboortelyne

  1. Die aardse geboortelyn (die horisontale lyn)
  2. Die hemelse geboortelyn (die vertikale lyn)

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Adam en Eva – ons almal ken hulle vanuit Genesis 1-3. Ons ken hulle ook vanuit die prentjies van die kinderbybel; daar word grappies gemaak oor Adam en Eva in die paradys, en daar het selfs al advertensies op TV verskyn waarin Adam en Eva die hoofrolle vertolk het.

Maar besef ons nog altyd die belangrike posisie van hierdie twee mense? Besef ons nog die sentrale rol wat hulle vervul in die geskiedenis van die mens? Of het hulle, vanweë Skrifkritiese aanvalle, in ons kringe effens op die agtergrond verdwyn? Want wie glo vandag nog dat Adam en Eva werklike persone was? – dit is wat die Skrifkritiek ons vertel. Adam en Eva – ja, hulle is ‘n illustrasie van elkeen van ons se lewensgeskiedenis; elkeen van ons is deur God geskape, elkeen van ons vlug van God af weg, God soek elkeen van ons weer op. Adam en Eva staan simbool vir die geskiedenis van die mensdom en van elke individu. Maar werklik die eerste mense…? Nee, gemeente, dit word op min plekke vandag nog geglo.  

En tog is dit só belangrik om hier vas te hou aan wat die Skrif ons leer. Die Skrif leer ons dat Adam en Eva werklik bestaan het, dat hulle die eerste mense was wat deur God gemaak is. En die Skrif leer verder dat hulle ‘n sentrale posisie vervul in die geskiedenis van God se omgang met die mens. Tydens hulle lewe is een van die belangrikste bladsye in die geskiedenis van die mensdom omgeblaai: Adam en Eva het oorgegaan van ‘n posisie van sondeloosheid, na ‘n posisie van totale verdorwenheid – ‘n bepalende moment in die geskiedenis.

Nou, broers en susters, oor die posisie van sondeloosheid weet ons nie baie nie, ons was nooit deel daarvan nie; maar ons kan aanneem dat dit hemel op aarde moes gewees, een groot fees om in volmaakte harmonie met God te kan wandel; geen hartseer nie, geen sonde nie, en ook geen dood en trane nie. Maar oor die posisie van verdorwenheid weet ons alles; óns staan immers in die lyn ná die sondeval, uit dáárdie lyn kom ons voort, óns is gebore in die posisie van verdorwenheid.

En daarom moet ons aan God se Woord oor Adam en Eva vashou – dit wys ons waar ons vandaan kom, dit wys ons in watter verdorwe lyn ons staan. En ja, as ons mooi luister, dan ontdek ons in hierdie verhaal ook nog ‘n ander lyn.

Tema: Die twee geboortelyne

  1. Die aardse geboortelyn (die horisontale lyn)

  2. Die hemelse geboortelyn (die vertikale lyn)

1. Genesis 5:1 begin met: “Dit is die stamboom van Adam.” Ons kan hier ook vertaal met “geslagsregister”. En dan verwag ‘n mens eintlik dat die skrywer direk sal oorgaan tot ‘n beskrywing van daardie geslagsregister. Maar nee, dit kom eers in vers 3. Die skrywer voeg eers iets in; voordat hy daartoe oorgaan om te beskryf wie uit Adam voortgekom het, wys hy eers waar Adam self vandaan kom. Dus, voordat hy vanaf Adam vorentoe beweeg, gaan hy eers terug na die dag toe God Adam gemaak het.

Baie het verander sedert daardie eerste dae, maar dit is vir die Gees skynbaar belangrik dat ons tog herinner word oor hoe dit in daardie prille begin was. Dit is skynbaar belangrik dat ons daaraan herinner word dat Adam na die gelykenis van Gód gemaak is. En dit geld nie slegs vir Adam nie, maar dit geld vir beide man én vrou, soos God hulle onderskeidelik gemaak het (Gen. 5:2). Die mens, want dit is wat God hulle genoem het, het die beeld van sy Sképper gedra. Die mens het die vermoë gehad om die geregtigheid en heiligheid van sy Maker te weerspieël. En soos in Genesis 1:28, lees ons ook hier weer dat God die mens geseën het – die mens het van God vrugbaarheid en die vermoë tot voortplanting gekry.  

En hét die mens nie hiervan gebruik gemaak nie…?! Ons het nou nie die hele Genesis 5 gelees nie, maar gaan lees dit maar ‘n slag op u eie, en dan hoor ons telkens die refrein terugkeer: “En hy het seuns en dogters gehad.” Skynbaar was daar groot gesinne in daardie tyd, baie kinders, seuns en dogters – mense soos Adam en Eva. Met een groot verskil… Waar ons van Adam en Eva lees dat hulle na Gód se beeld en gelykenis gemaak is, lees ons in vers 3 van Set die volgende: “Toe Adam honderd-en-dertig jaar oud was, het hy ‘n seun verwek na gelykenis, na ewebeeld, en hom Set genoem.” Dit is ‘n groot verandering… Skynbaar is Adam se kinders nie meer na die gelykenis van God gemaak nie, of in elk geval nie meer op die manier soos wat Adam en Eva dit was nie. En die rede vir hierdie verandering, is dat ons tussen Genesis 1 en Genesis 5 ook nog Genesis 3 vind – die sondeval van die mens, Adam en Eva se afval en ongehoorsaamheid van die Here.

Wanneer die skrywer in Genesis 5 dus eers daaraan herinner dat Adam en Eva na Gód se beeld gemaak is, net om daarna duidelik te stel dat Set na die gelykenis en ewebeeld van sy gemaak is, dan herinner hy ons daaraan dat daar intussen ‘n groot verandering in die geskiedenis van die mensdom plaasgevind het; die mens is nie meer soos wat hy oorspronklik deur God gemaak is nie. Die oorspronklike beeld wat die mens deur God se genade vertoon het, is aan skerwe, stukkend; die vermoë om die geregtigheid en heiligheid van God te vertoon, die vermoë om God reg te ken, Hom van harte lief te hê, Hom te loof en te prys (soos die Kategismus in antw. 6 sê) – daarvan het niks oorgebly nie.  

En omdat daar niks van daardie heerlike beeld oorgebly het nie, daarom kan Adam dit ook nie deurgee aan sy nageslag nie. As Adam en Eva staande sou gebly het in gehoorsaamheid aan God, dan sou hy aan sy nageslag deurgegee het wat hy uit genade van God ontvang het. Maar nou gee hy slegs deur wat hy deur sy eie hoogmoed bewerk het. Die verwronge beeld wat Adam ná die sondeval oorgehou het, dít gee hy deur aan sy hele nageslag. Set het nie meer soos God gelyk nie; nee, hy het soos sy pa gelyk: vol sonde, vol ongehoorsaamheid, vol rebelse hoogmoed. En elke kind daarna het so gelyk, elke seun daarna is in die toestand van verdorwenheid gebore, elke dogter daarna het soos haar pa en ma gelyk, vol sonde.

En as u ‘n bewys daarvoor soek, luister maar na die ander refrein wat ons in hierdie hoofstuk teëkom: “… en hy het gesterwe.” Gaan lees maar Genesis 5: met vaste reëlmaat keer hierdie refrein terug: “… en hy het gesterwe”, “… en hy het gesterwe”. Elkeen wat in Adam se lyn gebore is, met uitsondering van Henog wat deur God weggeneem is, het die straf op die sonde gekry – die dood! Elkeen het gesterwe, want elkeen was sondig! 

En gemeente, sedert daardie tyd was (en is) dit die toestand van elke mens; gaan kyk maar na die geskiedenis van die Ou Testament: die volk was so trots op hierdie geskiedenis, maar dit is geen roemryke geskiedenis nie, dit is geen geskiedenis waarop die volk trots kon wees. Nee, dit is ‘n geskiedenis van sonde en afval. En ook Jesus ervaar dit tydens sy lewe op aarde – ons het daarvan gelees in die laaste verse van Johannes 2: baie het in Hom geglo vanweë die tekens wat Hy gedoen het, baie het hulle aan Hom toevertrou. En tóg was die vertroue nie wedersyds nie; Jesus neem ‘n gereserveerde houding in. Hulle vertrou hulself aan Hom toe, maar Hy vertrou Hom nie aan húlle toe nie. En hierdie terughoudendheid van Jesus is nie die gevolg van onsekerheid of ‘n swak selfbeeld nie, dit is nie maar net die gevolg van slegte ervarings met mense nie; nee, dit is die gevolg van sy besondere mensekennis. Hy is God, Hy het geweet wat daar in die mens aangaan, Hy het geweet wat die mense beweeg het om in Hom te glo, naamlik die tekens wat hulle Hom sien doen het. Die Here Jesus was bewus van die motiewe wat hulle beweeg het, Hy het die mense in hulle sondigheid geken

So sien ons, broers en susters, dat die aardse geboortelyn, die geboortelyn via die geslagtelike voortplanting een van sonde en verdorwenheid is. Vanaf Genesis 3 is daar geen mens, wat op hierdie manier gebore is, wat sondelóós is nie. Elke mens, ook u en ek, staan skuldig voor God. Ons vertoon van nature, dus deur geboorte, nie meer God se beeld nie; ons lyk van nature nie meer soos God nie. Nee, ons lyk soos ons pa’s en ons ma’s – en dan bedoel ek nie ons uiterlike gelaatstrekke nie, maar dan bedoel ek die toestand van ons lewens, ons posisie voor God. In dáárdie opsig lyk elkeen van ons soos die een uit wie ons gebore is, lyk ons soos elke ander mens wat ooit geleef het: sondig en skuldig. Selfs die kleinste babatjie, klein Eben wat vanoggend gedoop is, staan in daardie lyn van verdorwenheid. Ek weet, dit is swaar om dit te erken as ons na die gesiggies van ons pasgebore babetjies kyk – is dit moontlik dat in daardie mensies enige kwaad skuil? Wel, die praktyk bewys dit maar alte gou en alte goed – die verdorwenheid sit diep.  

En, gemeente, dan gaan dit nie daaroor dat die sonde geneties voortgeplant word nie – indien dít die geval sou wees, sou ons niks daaraan kon doen nie, en sou ons onsself voor God kon verontskuldig. Nee, dit gaan daaroor dat elkeen van ons in Adam gesondig het, daar in die paradys het ons natuur so verdorwe geraak dat ons almal in sonde ontvang en gebore word; elkeen van ons staan skuldig.

En elke keer wanneer daar ‘n babatjie gebore word, dan staan hy of sy in daardie lyn. Dit is ‘n ononderbroke lyn van sonde en verdorwenheid, ‘n lyn sonder enige toekoms, ‘n lyn wat ons nie kan verbreek deur genetiese manipulasie of veredeling van volke nie. Geen ewolusionistiese lyn van ontwikkeling nie, geen stygende lyn oppad na die volmaakte mens nie, maar ‘n dalende lyn waarvan die uiteinde altyd maar weer is: “… en hy het gesterwe”, “… en sy het gesterwe”. En in ‘n land soos Suid-Afrika behoort ons dit te weet – die koerante is vol daarvan, die televisie skreeu dit uit, en ons beleef dit eerstehands… “en hy het gesterwe”.  

En daarom, broers en susters, is ons geslagslyne, ons stambome, nie ‘n saak van trots en aansien nie. Laat ons, hier in die gemeente, onsself ook nooit beroem op ons afkoms of familienaam nie. Dit is wat die Jode ook gedoen het – ons het Abraham as ons vader! Dus, alles is reg met ons, want ons is in die goeie lyn! Maar dan moet hulle van Johannes die Doper die verdoemende uitspraak hoor dat God mag het om uit die klippe kinders vir Abraham op te wek.

Ook daardie stambome en familiename wat onder die mense hoog in aansien staan, ook dáárdie lyne kom voort uit die een lyn van Adam en Eva, daardie eerste mense wat na die gelykenis van God gemaak is, maar deur hul ongehoorsaamheid en hoogmoed slegs kinders van die dood voortbring. Geen volk is beter as ‘n ander nie, geen volk is meer vatbaar vir die evangelie as ‘n ander volk nie, geen ras of kleur is edeler as ‘n ander nie… Ons staan almal saam in die lyn wat geen toekoms het nie! Onthou dit, broers en susters! Laat die wêreld roem in hulle stambome en geslagsregisters, laat hulle maar onderskeid maak in status op grond van naam en volk en afkoms. Maar laat ons, hier in die kerk, verenig word in die besef van ons gemeenskaplike verdorwenheid in Adam. En laat dit ons almal saam op ons knieë bring voor God se troon. Jy is sondaar, maar ek is dit net so goed. Van nature, vanuit onsself, is ons saam oppad na nêrens…

Ons let nou vervolgens op die hemelse geboortelyn, dit is die vertikale lyn.  

2. Ons het gesien dat die aardse geboortelyn ‘n lyn sonder uitsig is, ‘n lyn wat reguit op die hel afpyl. As daar ooit uitkoms uit hierdie negatiewe spiraal is, dan moet dit van êrens anders af kom, dan moet dit van buite die menslike geslag kom. En dit is presies wat Jesus aan Nikodemus probeer duidelik maak tydens hulle nagtelike ontmoeting.

Nikodemus is ‘n hooggeplaaste persoon in Jerusalem, ‘n Fariseër, ‘n lid van die Sanhedrin en daarby ook ‘n leraar van Israel, soos wat Jesus hom in vers 10 noem. En juis hy sien in Jesus ‘n leraar wat van God af kom. Hoe anders sou Jesus sy wonders en tekens kon doen? En daarom spreek Nikodemus Jesus ook aan as ‘n hooggewaardeerde kollega, van wie selfs hy nog iets kan leer: “Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het.” In sy reaksie haak Jesus in op hierdie woorde van Nikodemus. Hy maak duidelik dat dit nie slegs Hý is wat van God af moet kom nie; in feite geld vir elke mens die reël: wie nie as’t ware ‘van God af kom’ nie, mis die ingang na God se koninkryk. As iemand hierdie koninkryk wil binnegaan, dan moet dit aan hom vanuit die hemel gegee word. Die reg op toegang tot die koninkryk is nie aangebore nie, maar moet vanuit die hemel geskenk word! 

Jesus wys hier dat om die hemelse koninkryk te kan binnegaan, dus om uit die doodloopstraat van die aardse/horisontale geboortelyn verlos te kan word, elke mens van bo-af gebore moet word [ons vertaling sê dat ons weer gebore moet word, maar die woord wat hier met ‘weer’ vertaal is, word deur Johannes in sy evangelie deurgaans gebruik om ‘n beweging van bo-af aan te dui]. Ons moet dus van bo-af, vanuit die hemel, gebore word.

Hiermee sluit Jesus Hom aan by die prediking van Johannes die Doper, wat duidelik gemaak het dat gebore Jode nie outomaties burgers van God se koninkryk is nie. Met sy wortels diep in die aarde, sou die stamboom van Abraham nooit tot in die hemel kon groei nie. En dit is wat Jesus ook in vers 6 sê: “Wat uit die vlees gebore is, is vlees.” En dit is elkeen van ons; elke mens is vlees, verwek deur sy vader, en deur sy moeder in die wêreld gebring; en daarom word elke menselewe bepaal deur erflikheid en sterflikheid. Nooit kan ‘n mens bo homself uitstyg nie, nooit kan hy self God se koninkryk binnegaan nie; sy aardsheid en sondigheid maak hom loodswaar. En daarom moet hy van bo-af gebore word! 

Maar Nikodemus het moeite met hierdie uitspraak van sy kollega; ‘n volwasse mens kan tog nie weer in die moederskoot ingaan om dan nog ‘n keer gebore te word nie? Die geboorteproses is onherhaalbaar en niemand kan sy lewe oordoen nie. Maar Jesus wys aan Nikodemus dat hy moet leer om nie horisontaal nie, maar vertikaal te dink. En dan herhaal Jesus in ander woorde wat Hy eintlik bedoel: “… as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.”

Só het Esegiël dit ook alreeds geprofeteer in hoofstuk 36:25-27: “Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.” Water wat reinig, en die Gees wat vernuwe – reiniging en vernuwing, beide kom van bo-af uit die hemel. Slegs deur hierdie dubbele impuls vanuit die hémel kan ‘n mens van bo-af begin lewe en só die Koninkryk van God binnegaan! 

Gemeente, ons natuurlike lewens word hier op aarde langs ‘n horisontale lyn bepaal, maar ons lewens as gelowiges word van bo-af, langs ‘n vertikale lyn bepaal. Ons leef hier op aarde ‘n nuwe lewe waarvan die Heilige Gees die verwekker is, ons dra hier op aarde ‘n hemelse stempel. Die onverganklike lewe waarin ons mag deel, is in die hemel gewortel, vas en seker in Jesus Christus! Slegs op dié manier kan ons verlos word van die verganklikheid van die aardse geboortelyn wat ‘n afwaartse neiging vertoon, afwaarts na die verderf waarin ons almal van nature deel. Ons lewens mag nou ‘n opwaartse neiging vertoon, deurdat dit in die hemel gewortel is en na die hemel oppad is.  

Maar weet u wat is nou die mooi van hierdie nuwe lewe? Die mooi is dat God daarmee nie die aardse lewe weggooi nie. God verag nie die aardse en stoflike nie. Immers, Hy het dit dan self gemaak, dit is sy handewerk! Die aardse lewe, die lewe op hierdie aarde, was vanaf die begin die lewe soos God dit wou gehad het. Dus, in plaas daarvan om die aardse en die stoflike weg te gooi, soek God juis daarna om dit te reinig en te vernuwe! En dit geld ook vir die aardse geboortelyn, die horisontale lyn. Hierdie lyn het, soos ons in die eerste punt gesien het, in homself geen toekoms nie, dit bring slegs die dood voort, maar wanneer God begin om te reinig en te vernuwe, wanneer God begin om van bo-af die lewe te gee, dan doen Hy dit via die horisontale lyn, deur die geslagte heen, van kind tot kind!

Ons sien dit so pragtig in die laaste verse van Genesis 4. Daar lees ons dat, ná Kain en Abel, daar vir Adam en Eva weer ‘n seun gebore is, wat hulle Set genoem het. En ook vir Set is ‘n seun gebore, wat hy Enos genoem het. En dan volg die laaste woorde van Genesis 4: “Toe het hulle die Naam van die HERE begin aanroep” – dit wil sê, toe het hulle begin erediens hou. Dus, die geslagslyn wat ons in Genesis 5 aantref, is die lyn van die gelowiges, die kerk van daardie tyd. Deurdat God van bo-af ingegryp het, elkeen van die mense in hierdie geslagsregister se lewens vertikaal bepaal het, daarom kon daar horisontaal, deur die geskiedenis heen, ‘n kerk groei, ‘n geslag van God! ‘n Geslag waaruit uiteindelik ons Verlosser gebore is – lees maar Lukas 3. Dáár sien ons hoe Jesus se geslagslyn heeltemal teruggevoer word na Enos, die seun van Set, en – só lees ons dan – Set was die seun van Adam, en Adam was die seun van God! “Die seun van God” – deur God se genade! En dit mag ons ook wees!  

Gemeente, dit is die genade van bo-af! Ons hoef nie bang te wees om voort te plant nie, kinders te kry nie, want hoewel hulle van nature in sondes ontvang en gebore word, gee God deur die geslagte heen, die nuwe lewe van bo-af deur sy Woord en Gees. Ons sien dit so pragtig in die berymde Psalm 105:5: “Al sy beloftes bly van krag (die vertikale lyn) tot in die duisendste geslag (die horisontale lyn). Verbond met Abraham sy vrind (vertikale lyn), bevestig Hy van kind tot kind (horisontale lyn).” God bou vir Hom ‘n kerk, ‘n volk van gelowiges; en dit doen Hy baie eenvoudig: via huwelike, via gesinne, via families. Maar dit kom van bo-af; die verlossing, die redding, is nooit aards nie. Nee, dit is hemelse verlossing!

En daarom kom ons kerk toe om hier die hemelse verlossing te hoor. Maar ons doen dit nie een-een nie; nee, ons kom met ons gesinne; ouers sit saam met hulle kinders, kinders sit langs oupa en ouma, pa en ma sit styf teen mekaar, en saam luister hulle na die Woord. En daarom doen ons ook huisgodsdiens, saam as gesin om die tafel, en ons hoor van die Woord wat vlees geword het. In die lyn van die geslagte kom die redding van bo! 

Amen  

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 135:1, 2 en 8
Gebed
Lees: Genesis 4:25-5:5
          Johannes 2:23-3:6
Teks: HK, Sondag 3
Sing Ps. 51:3 en 4
Preek
Amenlied Ps. 105:2, 4 en 5
Gebed
Belydenis van geloof
Sing Ps. 9:1, 7 en 10
Kollekte
Slotsang Ps. 100
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)