Efésiërs 3:18-19
Ds DM Boersma - Sondag 8 Junie 2008 - Intreepreek
Lees: Efésiërs 3
Teks: Efésiërs 3:18-19
Sing: Sien liturgie
Tema: Die liefde van Christus motiveer ons om die evangelie te versprei
-
- wees verruk oor sy liefde
- ons verstaan dit eers regtig saam.
Broers en susters in die Heer,
Hoekom het ek Afrika toe gekom? So ’n paar weke terug, toe ons huise gekyk het, het ’n vrou vir ons gesê: ‘Julle het na SA toe geëmigreer?! Wie doen dit nog?’ Ek weet. Baie mense het al die land verlaat. Baie mense is moeg, het moed verloor. Dit lyk asof dit al hoe slegter raak. Party het sinies geword en maak grappies oor die ergste dinge. Dit lyk asof hulle nie omgee nie, maar inwendig is daar tog die pyn. Waar is die hoop?
Vir die wat deur die geweld bang en boos geword het?
Vir die kinders van ouers wat aan Vigs gesterf het? Vir die families wat hulle oor die kinders van hul broers en susters ontferm? Vir die wat armoede verduur en geen verandering sien nie?
Die feit dat Rinette en ek na SA toe gekom het, is ’n weerspieëling van die hoop wat julle, gemeente van Maranata, het. Julle het my geroep.
Dit het lank gevat, maar ons is nou hier. Ek mag nou aan die werk spring. Ek is dankbaar dat julle agter my staan. Ek weet ek het aanmoediging nodig. En ek weet julle het ook voortdurend aanmoediging nodig. Ons moet saam bly besef dat daar net hoop is in Jesus Christus. Deur Hom het ons vergewing van sondes, maar nie net dit nie: Hy bring ons by die Vader, Hy regeeer die wêreld en verslaan sy vyande. En hy het belowe om hierdie wêreld te vernuwe.
Die evangelie, saam met die krag van die Heilige Gees, is die vernuwingskrag in ons lewens. En van Hom verwag ons ook verandering in Suid-Afrika. Hy gee hoop vir die wat verwagtend na Hom bly uitsien.
Ons weet dat Jesus die enigste is wat hoop vir hierdie wêreld gee.
Op watter wyse die verandering kom, weet ons nie presies nie. Maar Jesus is aan die werk en hy werk op maniere wat jy nie verwag nie.
Die geheim lê in sy liefde.
Tema: Die liefde van Christus motiveer ons om die evangelie te versprei
-
- wees verruk oor sy liefde
- ons verstaan dit eers regtig saam.
1. Wees verruk oor sy liefde
Wat is vir jou die belangrikste van die Christelike geloof?
As mense met jou praat en jy wil dat hulle net een ding onthou – wat is dit?
vir jou vriende by die werk, jou besigheidskontakte, die vrou wat langs jou sit op die bus, of iemand in die kerk van wie jy wonder of hy wel glo. Waaroor gaan dit as jy Christen is? Wat is vir jou die belangrikste?
Ek is seker jy dink aan hierdie tipe dinge:
- dat God sy kerk vergader?
- dat jy elke dag met die Here leef en kerk toe gaan?
- dat jou sondes vergewe is?
- dat Jesus aan die kruis gesterf het?
Dit is alles belangrik.
Maar wat skuil agter hierdie dinge?
Wat maak dat ons christene geword het?
Dit is die liefde van Christus!
Dit is die grootste verrassing van die evangelie.
Paulus kan net nie ophou om daaroor te praat nie.
Eers het hy oor die misterie, die geheim van Christus gepraat; God het in die verlede hom net met die Jode bemoei. Die res van die wêreld het nie die ligskynsel van die evangelie ontvang nie.
Maar nou skyn dit in die hele wêreld en God roep almal om sy koninkryk in te gaan!
Die geloof in Christus gaan nie oor ’n blote registrasie op papier, soos by ’n sensus nie. Dit gaan oor ’n verhouding met Jesus. Deur die geloof behoort jy by hom en mag jy by God woon. Die verhouding met God is herstel. Sy toorn oor die sonde is weggeneem, jy mag nou sy liefde ontvang.
Paulus is nie daarmee tevrede as mense christene word of kerk toe kom nie. En jy is ook nie klaar nie as jy Gods plan van verkiesing en regverdiging verstaan.
Hoekom nie? Omdat agter en in al hierdie dinge die liefde van Christus skyn. Dit is die basis en die klimaks
En Paulus wil dat elke gelowige die liefde van Christus sal ontvang, verstaan, en koester. Jesus wil dat sy liefde die grootste ding in jou lewe is.
Hy maak dit vir ons duidelik dat God se wil en sy begeerte is dat ons Jesus se liefde sal leer ken en daarin sal groei.
Dit is ’n geheim.
Ons kan Jesus se liefde vir ons en ander mense nie verklaar en beredeneer nie.
Maar as jy regtig in hom glo en beindruk is met sy liefde, verbaas is daaroor, en weet dat jou lewe daarvan afhang, …dan WIL jy groei in sy liefde, dan VERLANG jy daarnaar om met sy liefde vervul te word, om daarop te mediteer, jou daaroor te verwonder, daarnaar te soek, en hom daarvoor te dank.
Paulus praat nie net van die ‘afmeting’ van Jesus se liefde nie. Dit sou wetenskaplik klink.
Hy is meer poëties, uitgebreid: die breedte en lengte en diepte en hoogte van die liefde van Christus.
Daar is ’n Hollandse kinderliedjie wat sê: sy liefde is so wonderlik. Dis so hoog, jy kan nie daaroor klim nie; dit is so diep, jy kan nie daar onderdeur nie; so wyd dat jy nie daaromheen kan stap nie. Dis wonderlik groot!
Paulus is self vol van Jesus se liefde, hy spreek sy bewondering daarvoor uit en wil ons in die verwondering saamneem.
Inderdaad: probeer maar gougou iets oor die liefde van Christus te sê. Verduidelik dit vir jou vriende op die Universiteit, of die ou by die werk wat vra wat jy nou eintlik glo.
Ek hoop jy kan dit wel in ’n paar sinne saamvat – dis belangrik dat jy iets kan sê. Maar jy besef tegelyk dat jy nog nie alles gesê het nie.
Psalm 63, wat ons na die preek gaan sing, spreek van die verlange na God:
O God, u is my God. U soek ek. My siel dors na u, my vlees smag na u, in ’n dor en uitgedroogde land, sonder water.
En dan sing ons van God se goedertierenheid. Dis ’n outydse woord vir God se liefde wat nie ophou nie:
“Want u goedertierenheid is beter as die lewe. My lippe moet u prys.”
Dit is ’n mens in doodsgevaar. Dawid was deur Saul agtervolg en hy probeer Dawid ombring. Dawid is geteiken. Maar hy besef: daar is iets wat kosbaarder is as my lewe. God se troue liefde is die basis en inhoud van sy bestaan.
En dan verander sommer die woestyn en sien hy die doodsgevaar in die regte perspektief: hy dink aan die skoonheid van Gods liefde. Hy peins, lê wakker op sy bed, dink daaroor. Nie die angs regeer sy hart nie, maar dit is vol van die liefde van God.
Dit is wat Paulus wil hê dat ons doen: dat ons die liefde van God, van Christus beter sal leer ken, sal oorpeins, en ons daarin sal verheug. Dan sal ons hoop hê.
Kyk hoe groot is dit:
a) Hoe breed!
Juis in hierdie hoofstuk: hoe breed is dit!
Vanaf Abraham to Pinkster, het God die uitdrukking van sy liefde tot die Jode beperk. Net plek-plek ’n paar ‘outsiders’ (Ragab, Rut, Naaman)
Dan kom ’n groot wending: die Pinksterdag wys dat die Gees in almal wil werk. En Jesus stuur sy kerk in die hele wêreld uit.
Dit was ’n groot skok vir die Jode.
Hulle het gedink die Messias was net van hulle en vir hulle, maar hulle was nie langer die enigste nasie in die volk van God nie.
Die apostels en ander joodse christene het dit moeilik gevind dat skielik ook die heidene tot die volk van God behoort. ‘Maar almal moet mos die wet hou!’ – het hulle gedink. Maar toe die heidene die Heilige Gees ontvang het, was hulle oortuig dat dit regtig God se bedoeling was.
Die kerk na Pinkster het geleer dat God se liefde baie breër was as wat hulle gedink het. So breed dat die heidene ook gered was. En hulle was bly daarmee!
’n belangrike les vir ons: ons kan maklik dink in terme van ‘ons’ teenoor ‘hulle’. Dit word al klaar teveel gedoen in ons land as dit gaan om rasseverhoudings. Dit lei tot ’n vyanddenke en laat geen plek vir die liefde nie.
Ons moet voortdurend meer beindruk raak met die liefde van Christus vir sondare in hierdie wêreld. Ons dink dikwels te klein daarvan. Die dissipels het eendag vir Jesus gevra: ‘Is daar min wat gered word?’
Ons sal verbaas wees as ons sien vir wie God sy liefde gee: leuenaars, moordenaars, mense wat net vir geld lewe, maar ook vir die man wat sy vrou verlaat, en die handwerksman of huisvrou wat dink hulle is voorbeeldige burgers – die liefde van Christus bring mense tot bekering en laat ons verbaas staan. Ons denke in hokkies en groepsgees word deurbreek.
Dis tog hoekom ons sendingwerk doen en dit belangrik vind?
As dit nie was vir die liefde van Christus nie en as ons nie sou weet dat daar hoop is vir die wat in die sonde gevang is en hulle teen hom verset, dan sou ons nie eers daarmee begin nie. Dan kan ons tou opgooi en probeer ’n plek soek waar ons lekker onder mekaar kan wees, en skuil teen die magte van die kwaad en die bose.
Maar nee. Die evangelie dryf ons uit ons skuilkelders uit en vanonder ons aangename lapas na die wêreld: die besigheidsdistrik, die townships, die woonbuurte aan die rand van die stad, die ryk buurte waar mense geld het maar geen rus vir hul siele het nie.
Ek ken heel wat mense wat dit doen; hulle is ’n voorbeeld vir my. Hulle het hoop en bring die liefde van Christus na die mense wat dit nodig het.
Sending (en evangelisasie) is ’n uitdrukking van die liefde van Christus. En daarom gaan ek met hoop en oortuiging met my werk begin. Saam met julle wat my uitstuur, Maranata én die ander kerke in SA en Nederland.
b. Dis lank
Die liefde van Christus is ook lank.
Kom ons dink in terme van tyd: Jesus se liefde is van ewigheid.
Dit is een van die wonderlikste ontdekkings wat mens kan maak.
Ons sukkel om net die woord ‘ewigheid’ te verstaan. Ons is gevang in tyd en kan net dink in terme van vroeër en later. Wat is die ewigheid? Dis onvoorstelbaar. Ons lewe het ’n begin; daar was ’n tyd dat ons nog nie daar was nie. Maar Jesus en sy Vader was altyd daar. Hulle het geen geboortedag nie.
God word nooit deur omstandighede of gebeurtenisse onkant gevang nie. En syy liefde is nie ’n emosie wat skielik in sy hart opkom nie, soos ons gevoel van lief raak vir iemand wat aantreklik is. Dis nie ’n ‘spur of the moment’ nie.
Sy liefde is van ewigheid.
Efesiërs 1 oortuig ons van die lengte van die liefde van Christus:
“Hy het ons in Christus uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor hom in liefde te wees, deurdat hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir homself aan te neem in Jesus Christus, na die welbehae van sy wil.” (v. 4-5)
God se verkiesende liefde is van ewigheid.
Hierdie is die bron van my sekerheid as christen: my geloof en my sekerheid dat ek kind van God is, hang nie af van my keuse of my aktiwiteite nie,my behoud lê vas in die ewige liefde van God die Vader en die Seun.
Die Vader het ons en baie ander mense in liefde uitverkies, en die Seun het in liefde homself toegewy om hierdie uitverkorenes ook metterdaad van die sonde te red deur aan die kruis te sterwe.
Elke gelowige kan dit sê: ‘God het my van ewigheid af liefgehad. Ek het geen rede om aan sy liefde te twyfel nie. Nooit.’
Sy liefde hou nie op nie en word nie onderbreek nie.
Met ’n sterk belofte in Rom 8 het God ons absolute sekerheid van sy liefde gegee:
“Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal hy nie saam met hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (v. 32)
“Wie sal ons skei van die liefde van Christus – verdukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?” (v. 35)
Hierdie belofte kan jy memoriseer vir as jy gaan slaap of soggens in die motor klim.
Hierdie belofte gee jou sekerheid wanneer jy worstel met die land se probleme, wanneer misdaad jou lewe verskeur en ontwrig, wanneer jy siekte, vervolging, of dood in die gesig staar. Die Here het vir ons voorsien in Christus en gee ons hoop. In sy liefde sal Hy ons alles gee wat ons benodig om staande te bly en Hom te kan bly volg, omdat Hy al klaar sy liefste Seun vir ons gegee het.
c) En diep
Paulus se woorde oortuig ons ook van die diepte van Jesus se liefde.
Sy liefde flonker soos ’n diamant met sy baie skitterende kleure wanneer ons bedink in watter toestand ons ons bevind het.
Paulus beskryf dit in Titus 3,3-5:
“Want ons was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op ’n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat.
Maar toe die goedertierenheid van God, ons verlosser, en sy liefde tot die mens verksyn het – nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees…”
Dink jy nie partykeer in ons kerk nie: ‘Hoekom moet ons altyd maar oor ons sondes praat? Het ons nie daarvan ontslae geraak nie? Ons lewe mos in die vryheid van Christus!’
Ja, laat ons die vryheid van Christus meer raak sien en daarin lewe, en nie die sonde toelaat om ’n plek in ons hart te verower nie. Maar ons vergeet vinnig waaruit Jesus ons gered het en kan maklik aan die vryheid gewoond raak en dit nie meer raaksien nie.
Daarom is dit belangrik om ons sondige toestand te onthou pleks van om dit te vergeet of klein daaroor te dink.
’n Voorbeeld: toe ons in Nederland was en vir ons visum gewag het, was dit die dodeherdenking op 4 Mei. Daar was ’n stil tog na ’n monument vir die mense wat in die konsentrasiekamp Amersfoort vermoor is. 60 Jaar later gebeur dit steeds! Die mense wat tydens die 2e Wêreldoorlog hulle lewens opgeoffer het, word dankbaar onthou.
Ek blaai laasweek in ’n boek met fotos van monumente van die 2e Wêreldoorlog. Die mense wou die gebeure vaslê, uit dankbaarheid en om ons wat nie daar was nie, te laat onthou wat gebeur het.
Almal moet weet hoe erg die onvryheid, die konsentrasiekampe, die dood en die vertrapping van die reg was.
Dis vir baie van ons ook moeilik is om die gruwele van die apartheidstyd te onthou – party van ons het dit nie eers geweet terwyl hulle daar middein gelewe het nie. Is dit moontlik om die belang van demokrasie en vryheid te waardeer as jy nie die verlede ken nie?
Net so moet ons weet waarvan ons bevry is. Dan sien ons die diepte van Jesus se liefde.
Jesus het vir sondaars gesterwe. Paulus sê: ‘Ek was wel die grootste sondaar, ek het mos die gemeente van Christus vervolg!’
Wat sal jy sê? Is jy en ek ook bereid om ons sondes te erken, of sal ons sê ‘maar ek is nie die ergste nie, dis nog nie te bad met my nie.’
Oor ons almal sê Paulus in Romeine 5:
“Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe. God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (vs 6.8)
Ek dink in die mate waarin ek my sondes raaksien, erken en bely en dit erg vind, in dieselfde mate sal ek die diepte van Jesus se liefde begin raaksien en waardeer.
Die christene wat ver gevorder is op die weg van heiliging en ons beïndruk met hul heilige lewenswandel is nie die wat hul sondes ontken nie, maar wat alhoe meer die diepte van hul sondige aard raaksien.
En dit versterk mekaar:
In die lig van Jesus se liefde kan jy jou sondes duideliker sien, en wanneer jy jou sondes erken kan jy beter die diepte van Jesus se liefde leer ken en waardeer.
Paulus gee vir ons die regte HOUDING.
Hy skryf briewe met diep insigte in die waarheid. Ons kan dit probeer saamvat en die kennis vir mekaar deurgee. Maar sal ons nie vergeet om te doen wat Paulus altyddeur gedoen het terwyl hy die onderrig deurgegee het nie? Hy het hom verwonder en die Here geloof en gedank. Sy briewe het baie keer uitgeloop op lofsange.
Wanneer ons oor Jesus se liefde mediteer, groei dit in ons hart en leer ons om die diepte daarvan te sien en hom daarom te eer.
d) Die hoogte van Jesus se liefde
Jy kan dan na die resultaat kyk: Jesus plaas ons op ’n hoogte wat buite ons bereik gelê het.
Ons het die lewe verloor, die paradys se hekke was toegemaak, en die hemel was soos koper vir sondaars sonder God.
Die dood het oorgeneem, en ons leef in die realiteit van die dood. Ons voel dit rondom ons. Elke dood is teennatuurlik, elke moord, elke padongeval en elke dodelike siekte herinner ons daaraan van watter hoogte ons geval het. Die dood het in die land kom bly en ons kon hom nie verjaag nie.
Maar Jesus het! Sy liefde is hoog.
Soos ons in Psalm 103 sing:
“Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid (guns, liefde) oor die wat hom vrees.”
Daar is die belofte van die opstanding van die dood. Maar daar is nou reeds die voorbode: die vernuwing wat ons van die Heilige Gees kry begin nou reeds ons lewens verander. Die Heilige Gees plaas elke dag die opstandingskrag van Jesus op ons voorstoep, nee in ons hart, en laat die krag daar werk.
So bring hy glans en lig terug in ons daaglikse bestaan wat so hopeloos en vol rampspoed is. Die dood probeer steeds by die venster in klim, maar Jesus gee deur sy opstanding nuwe krag en laat sy lewenskrag in ons werk.
Sy liefde maak dinge moontlik wat ons onmoontlik ag.
Ek het dit self nodig. Uit angs sou mens deesdae nie meer die moed hê om in Suid Afrika te gaan bly.
In jou hartseer, pyn en teleurstelling kan jy moedeloos en depressief raak. Wat keer jou om al jou moed te verloor?
Dis Jesus wat ons die lewe gee. Ons droom nie. Sy liefde waarborg dit. Sy liefde trek ons op na die hoogtes van die Here se opstandingslewe. Hy plaas jou op ’n berg en wys jou sy krag nou én hy wys jou die toekoms, doer ver: ‘Sien, ek maak alle dinge nuut. Ek sal die trane van jou oë afwis, ek sal jou wys dat ek ’n ander wêreld kan maak, sonder onreg, sonder haat en dood. Daar is die mens nie in die sentrum nie, daar word nie mag misbruik nie, maar daar regeer ek. Dis my koninkryk van liefde.’
Jy leef al klaar in díe koninkryk en mag elke dag met hoop en vertroue lewe.
Die liefde van Christus – ek voel ek kan maar net dit aandui maar nie volledig vir jou verduidelik nie.
Die jongmense kan seker wel onthou dat as jy ’n seekoei in die wildtuin soek, jy nie net moet kyk vir ’n groot dier met ’n groot mond nie. As die dier onder water is, sien jy net die oortjies.
Baie mense sien die liefde van Christus nie raak nie. Maar as jy dit eers leer ken het, maak hy jou oë oop en gee hy jou die verlange om meer daarvan te sien. En dan begin jy dit raaksien:
- in die hulp wat jy van ’n ander ontvang
- in die opregte interesse als iemand vra hoe dit met jou gaan
- in die bereidvaardigheid van hierdie gemeente om meer geld vir sending uit te haal sodat ’n vierde sendeling beroep kon word
- in die mense in Soshanguve en Mamelodi (en ander dele van Pretoria) wat die Here volg en nie meer vir hulself lewe nie
- en in die toekoms mag ons, as die Here dit gee, dit sien in die lewe van nóg meer mense wat hebsug, mag, misdaad of voorspoed los om die Here te volg.
Voel jy hoe in jou hart ook die begeerte groei om die liefde van Jesus in sy volle breedte en lengte en diepte en hoogte te ontdek en Jesus daarvoor te loof?
2. Ons verstaan dit eers regtig saam
Het jy al in die berge gestap en skielik op ’n pragtige uitsig afgekom? Het jy al Tsitsikamma se branders soggens vanuit jou tent gehoor en gesien? Of Namakwaland se blommetapyt gesien?
Wat doen jy dan? Kyk jy daarna, draai jy jou om, en gaan huis toe?
Terwyl jy daar is, wil jy vir die ander wat saam met jou gekom het, wys: ‘Kyk, sien jy daai vlinder, die brander, hierdie uitkykpunt? Pragtig, nè?’
Jy geniet nog meer daarvan wanneer jy dit deel met ander. Dis hoekom ons ook vakansiefotos neem, om ander mense te wys.
As ons nou die liefde van Christus ontvang en ontdek, dan maak ons mos ook so? Ons wil dit deel met ander.
Dis wat ons doen wanneer ons saamkom in die kerk. Nie net om die Woord te hoor nie, maar ook om saam die Here te loof en ons saam oor sy liefde te verwonder. Wat sou dan natuurliker wees as om na die diens vir mekaar te sê: ‘Was dit nie mooi nie? Wat beteken dit vir jou? Kom ons praat nog meer daaroor.’
Ek weet, dis moeilik. Ons is skaam. Ons het die gewoonte om na kerk oor heel ander dinge te gesels. Dis dikwels meer ’n sosiale gebeure as ’n napraat oor die preek.
Wanneer ons die grootheid van Jesus se liefde leer ken, het ons mekaar selfs nodig om dit ten volle te kan ontdek en waardeer. Dit sê Paulus: saam met alle heiliges sal jy in staat wees om “ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is”.
Hier sê God self vir ons dat ons dit nooit alleen kan verstaan nie.
Kyk maar na die dimensies van Jesus se liefde:
Byvoorbeeld die breedte kan jy eers goed raaksien as jy al die verskillende mense in die kerk sien. En nie net jou plaaslike kerk nie.
Ons het in Suid Afrika die voorreg dat ons in een kerkverband saamlewe. As ons ons nie blindstaar op die verskille nie, kan ons verwonderd raak: wat ’n verskeidenheid! Al die mense is almal hier vanweë Jesus se liefde! Nie net jy nie, nie net mense wat lyk soos jy nie, maar soveel ander. In die wêreld rondom ons lewer dit net probleme op: ons was gewoond aan rasseskeiding en vyanddenke, en in die Nuwe Suid Afrika is vreemdelingehaat nog steeds moontlik en ’n realiteit. Maar in die kerk maak Jesus ’n nuwe begin: ’n nuwe gemeenskap wat op sy liefde gebou is.
Hier sien jy ook dat sending vir ons belangrik is.
Nie net is dit nodig dat ander die evangelie hoor, omdat hulle gered moet word nie.
Maar ons het dit ook nodig: sonder hulle wat nog daarby geroep gaan word, kan ons nie die volheid van Jesus se liefde verstaan nie!
Ek het self gesien dat jy eers regtig met God se liefde en grootheid beindruk raak as nuwe mense daarby kom. Hulle praat anderste oor die liefde van Christus. Hulle sien die verskil met hul ou lewe, terwyl ek in die kerk grootgeword het en dikwels sukkel om die verskil regtig te ervaar.
Dit is ’n groot bevestiging van jou geloof as jy vir ’n vriend of onbekende die evangelie vertel en die persoon kom tot geloof. Om die verandering in hulle te sien en te besef dat jy persoonlik ’n rol daarin mog speel, dit is wonderlik.
So mag ons, die gemeentes wat die sendingwerk ondersteun, ook besef dat ons ’n rol speel in die bekering van mense in Soshanguve en Mamelodi, en in die verandering van Suid Afrika.
Ons sien al die dimensies van Christus se liefde en God gee ons die genade dat ons deel daarvan kan wees!
Ons sien nog nie die volledige grootheid van Christus se liefde nie.
Maar dit wek in jou ’n verlange om sy liefde meer te leer ken en te ervaar.
Dis is my gebed dat julle in díe verlange mag groei en dat die Here ons saam die voorreg sal gee dat ons dit saam met nog meer van sy kinders mag raaksien en loof.
Amen
Liturgie (aand)
Na groet: Ps 138: 1.3.4
Skriflesing: Ef 3
Ps 103:1,2,3 en 6
Sing na die preek: Ps 63:1-3
Geloofsbelydenis: SB 27
Einde: Hymn 32 (Kanadese Book of Praise); SB 33 kan ook.
(kyk in preek)