Die volk in nood bid in verlange tot hulle God

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2008-05-25
Text: 
Jesaja 64:1
Reference: 
Dag van Verootmoediging
Preek Inhoud: 

Jesaja 64:1

Ds HH van Alten - Sondag 25 Mei 2008 - Dag van verootmoediging

Lees: Jesaja 63:7-64:12
Teks: Jesaja 64:1
Sing: Sien liturgie

Tema: die volk in nood bid in verlange tot hulle God

  1. die volk kla oor God se omkeer
  2. die volk smeek vir God se terugkeer
  3. die volk pleit op God se eer

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die probleme en die nood in ons land hou ons almal besig; daar is niemand onder ons wat sal beweer dat stygende pryse, misdaad en geweld, en xenofobiese aanvalle hom nie raak nie. Almal van ons word op een of ander wyse beïnvloed deur die situasie in ons land; dit is ‘n byna daaglikse realiteit, en dit blyk ook uit die hoeveelheid gesprekke wat aan hierdie soort onderwerpe gewy word.

Maar, gemeente, ‘n vraag wat ons te midde van hierdie neerdrukkende realiteit eerlik aan onsself moet stel, is: hoe groot is vir ons die realiteit van God in dit alles? Hoe belangrik is dit nog vir ons dat Hy betrokke is by ons nood, en dat die bron is van die oplossings? Soek ons nog na Hom in hierdie tyd? Of het die realiteit van die dag – jou werk, jou besigheid, jou veiligheid – het dit dalk vir ons groter geword as die realiteit van die God van die dag? Het die drang tot oorlewing dalk sterker geword as die drang om die God van die lewe aan die werk te sien? Hoe sterk verlang ons nog na die teenwoordigheid van God in die huidige situasie van ons land? 

Gemeente, oor hierdie verlange gaan dit ook in Jesaja 63 en 64, wat ons saam gelees het. Die profeet Jesaja het meer as 100 jaar voor die ballingskap geleef en geprofeteer. Maar in baie van sy profesieë, spesifiek die laaste aantal hoofstukke, neem hy die volk in gedagte saam na die tyd van die ballingskap. In hoofstukke 63 en 64 is dit ook die geval. Dus, hoewel hierdie hoofstukke lank voor die ballingskap uitgespreek is, plaas dit ons midde in die ballingskap, en moet ons onsself probeer inleef in die atmosfeer van die ballingskap – die gevoel by die volk dat hulle deur God verstoot is, die besef dat hulle nou tussen heidene moet lewe, dat hulle nie meer na God se huis toe kan gaan nie, dat die Beloofde Land hulle ontneem is.

En, gemeente, dit is in hierdie konteks dat Jesaja vanaf hoofstuk 63:7 namens die volk ‘n gebed uitspreek, ‘n gebed van verlange tot God. Kom ons leer op hierdie dag van verootmoediging uit daardie gebed.

Tema: die volk in nood bid in verlange tot hulle God

  1. die volk kla oor God se omkeer

  2. die volk smeek vir God se terugkeer

  3. die volk pleit op God se eer

1. Jesaja – terwyl hy in sy gees in die ellende van die ballingskap sit – begin sy gebed met ‘n loflied op God se genadige dade in die verlede. Hy prys die goedertierenhede van die HERE, sy roemryke dade, sy veelvuldige goedheid, wat Hy aan Israel bewys het. En – in vers 8 en verder – begin Jesaja om hierdie genadige dade van die Here konkreet in te vul, hy wys wat dit konkreet behels het. Dit het konkreet behels dat die Here ‘n verbond met Israel gesluit het – uit alle ander volke het Hy húlle Vader geword, hulle het sý kinders geword. Die Here het ‘n intieme verhouding van vertroue tot stand gebring, ‘n verhouding van vertroue tussen ‘n Vader en sy kinders.

En net soos wat God, van sy kant af, trou bly in die verbond, so het Hy dit van sy kinders ook verwag – nie soseer in die sin dat Hy dit van sy kinders geëis het nie, maar meer in die sin dat Hy eenvoudig daarop gereken het. Dit was vir God vanselfsprekend dat sy liefde met wederliefde beantwoord sou word; Hy wou nie eens daarmee rekening hou dat sy kinders ontrou sou kon word nie, dit het vir God na ‘n onmoontlikheid gelyk dat sy kinders ontrou sou word: “Hulle is tog my volk, kinders wat nie sal lieg nie…” (vers 8). God het dus, toe Hy Homself met hierdie volk geïdentifiseer het, slegs goeie reaksie van hulle kant af verwag… 

En, gemeente, dit wil voorkom asof dit in die eerste tyd ook so was. Vers 9 beskryf ‘n soort heerlike wittebrood in die verhouding van God met sy volk. God word vir sy volk ‘n Heiland, ‘n Verlosser, wat – so blyk uit die vervolg – sy volk uit Egipteland bevry het, wat hulle uit die slawehuis gered het. En ook nadat Hy hulle verlos het, was Hy trou aan hulle – dit dui waarskynlik op die tyd na die uittog uit Egipte. Só nou was Hy met hierdie volk verbonde dat Hy in al hulle benoudheid ook benoud was. Soos wat ‘n vader ly wanneer sy kind seerkry, so het die Here as’t ware saam met sy volk gely. En verder het Hy hulle deur sy Engel verlos; sy liefde en medelye was die dryfveer vir Hom om hulle te verlos; Hy het hulle opgehef en hulle gedra, al die dae van die ou tyd

Al die dae van die ou tyd – duidelik grens Jesaja met hierdie woorde die ou tyd af van die huidige tyd. Ja, in die ou tyd was dit so, toe was dit die wittebrood. In daardie tyd was God vrygewig bo enige verwagting, Hy het uitgereik om ‘n volk, wat geen waardigheid gehad het nie, te verlos, Hy het hulle persoonlik naby Hom gebring en hulle gelei na ‘n toekoms vol belofte. Maar die huidige tyd is anders… Die huidige tyd is anders omdat een van die partye nie trou was, soos wat ‘n mens sou kon verwag nie; die huidige tyd is anders omdat een van die partye wederstrewig geword het, omdat een van die partye gerebelleer het! God het verwag dat sy volk hulle soos die volk van die HERE sou gedra, maar die werklikheid het anders geblyk – hulle was wederstrewig en het die Heilige Gees van God bedroef.  

En, broers en susters, dít laat God nie toe nie! God laat nie toe dat sy volk soos ondankbare en geniepsige kinders kan maak en breek soos wat hulle wil, sonder om die konsekwensies te dra nie. Verwerp deur die wat Hy liefhet, het God daarom gereageer met die passie van iemand wat volledig aan die verhouding toegewy is: God het hulle vyand geword, God self het teen hulle gestry (vers 10). Die God wat eers hulle Heiland was, wat vír hulle gestry het, het nou hulle vyand geword. Hosea beskryf dieselfde realiteit in beeldende taal in hoofstuk 13 van sy profesie; luister wat sê hy: “Tog was Ek, die HERE, jou God van Egipteland af, en buiten My het jy geen God geken nie, ja, behalwe My is daar geen Heiland nie…; [maar] toe hulle versadig was, het hulle hart hoogmoedig geword; daarom het hulle My vergeet. Toe het Ek vir hulle soos ‘n leeu geword, soos ‘n luiperd lê Ek by die pad en loer. Ek val hulle aan soos ‘n beer wat van kleintjies beroof is, en Ek skeur hulle borskas oop; en soos ‘n leeuin verslind Ek hulle daar, die wilde diere van die veld sal hulle verskeur. Dit is jou verderf, o Israel, dat jy teen My, jou helper, is.”  

Ja, gemeente, dit kan gebeur… Dit kan gebeur dat die Here teen ons draai! Die Here kan verander van Heiland na vyand – juis omdat Hy so lief is vir sy volk, juis omdat Hy so ‘n jaloerse God is, juis omdat Hy hulle harte wil terugwen! As die Here nie so ‘n passie vir die verhouding met sy kinders gehad het nie, as die verhouding met elkeen van ons en met sy volk as geheel nie vir Hom dodelike erns was nie – ag, hoekom sou Hy Homself daaroor ontstel het? Maar nou kan die Here nie aanvaar dat sy volk hulle teen Hom verset nie, Hy kan dit nie aanvaar dat hulle los van Hom verder lewe nie! Hy soek hulle terug, Hy wil hulle weer die lewe gee! En daarom word Hy hulle vyand, daarom gaan Hy oppad soos ‘n verskeurende leeu…

En die Here kry presies die reaksie wat Hy soek. Die volk in ballingskap begin weer dink oor hulle verhouding met die Here, hulle dink terug aan die dae van die ou tyd. Kyk maar na verse 11-14: hulle dink terug aan die tyd toe die Here sy volk deur die Skelfsee gelei het, toe Hy die waters voor hulle gekloof het, toe Hy hulle sonder struikeling deur die woestyn laat trek het, toe Hy hulle soos skape na die rustige weiveld van die beloofde Land gebring het. Ons sien sommer die heimwee op die gesigte van die volk wanneer hulle terugdink aan die goeie oue tyd. En dit alles ontlok by die volk die versugting: “Maar waar is Hy dan?” “Waar is Hy wat hulle uit die see laat optrek het saam met die herder van sy kudde? Waar is Hy wat sy Heilige Gees in hulle midde gegee het?” Die volk kla in hulle nood oor God se omkeer – van Heiland tot vyand…  

Is dit ‘n ongelowige klag? ‘n Klag uit hoogmoed? Nee, gemeente, dit is ‘n klag in die besef dat ons sonder hierdie God nie kán lewe nie. Skielik besef die volk dat daar vir hulle, sonder hierdie God, géén heil is nie. En daarom kla hulle: “Waar is Hy dan? – ons het Hom nodig as ons Heiland!”

Broers en susters, gelukkig is daar binne die verbond ruimte vir sodanige klag; let wel, geen aanklag nie, maar ‘n klag, ‘n roep uit nood, ‘n roep uit die diepte van ons sonde, ‘n roep tot die God van ons heil. Wanneer die Here Hom as gevolg van ons gemeenskaplike afval teen ons keer – juis omdat Hy ons wil behou! – laat ons dan nie nog verder van Hom af wegloop met die gedagte dat ons nou maar self sal regkom nie; moenie die Here se afwesigheid gelate aanvaar en dink dat jy nou maar self moet sien kom klaar nie. Nee, wanneer ons besef dat die Here Hom teen ons gedraai het, of besig is om Hom teen ons te draai, dan het ons juis nodig om na Hom terug te keer. Roep dan na Hom, kla by Hom, spreek Hom aan op sy beloftes: “Here, sonder U kán ons nie staande bly nie, sonder U is ons nie by magte om die verhouding in stand te hou nie. Moet Uself daarom nie verberg nie. Waar is U, HERE?” 

En, gemeente, op hierdie dag van verootmoediging oor die moeites en die probleme in ons land, is dít presies die reaksie wat pas by God se kerk. Ons kla vandag by God oor die feit dat Hy besig is om sy rug op ons land te draai. En dan wys ons nie met die vinger na die ander nie: “Julle… dit is julle skuld!” Dit is onvanpas om onsself as kerk hooghartig téénoor die probleem te plaas, asof ons nie deel het daaraan nie – dáár is die probleem, en ons, ons is slegs die slagoffers. Nee, broers en susters, ons kla vandag in die besef van óns sonde. Ons kla soos wat die gelowige Daniël dit gedoen het in hoofstuk 9:5 van sy profesie: “… óns het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en veroredeninge afgewyk. En óns het nie geluister na u knegte, die profete, wat in u Naam gespreek het tot ons konings, ons owerstes en ons vaders en tot die hele volk van die land nie.” Ja, óns! Ons is deel van die probleem, ons is mede-verantwoordelik vir wat in ons land aan die gang is. Ons erken dit, en nogtans kla ons gelowig by God dat Hy sy rug op ons land gedraai het. Ons kla by God, omdat ons weet dat Hy die oplossing is vir al die probleme waaraan óns medeskuldig staan: “Here, ons verdien nie dat U u vriendelike aangesig oor ons laat skyn nie, maar tog vra ons: waar is U? Moenie u rug draai op ons en ons land nie!”

Gemeente, leer weer om te kla! Nee, nie die ongelowige klag van mense wat oor alles kritiek het en oor alles ongelukkig is nie, nie die ontevrede klag van mense wat net na ander vinger wys nie, maar die gelowige klag tot die Here op grond van sy verbond: Waar is U, Here? Waar is U, God van hierdie land, Suid-Afrika?

Vervolgens let ons daarop dat die volk smeek vir God se terugkeer. 

2. In hoofstuk 63:15 rig Jesaja hom tot die Here in die hemel. Sien u, gemeente, die sonde het skeiding gemaak tussen die Here en sy volk, en gevolglik het die Here na sy woonplek in die hemel teruggekeer. Eintlik was daar nie meer ‘n woonplek op aarde by sy volk nie; die woonplek wat daar was – die tempel – is vernietig; Jesaja sê dit self in vers 18: “… ons teëstanders het u heiligdom vertrap”. En ons weet dit ook vanuit die geskiedenis – die Babiloniërs het die tempel van die Here verwoes vanweë die sonde en afval en gruweldade van die volk (lees maar die beskrywing daarvan in 2 Kronieke 36:11-21).

Die Here het daarvoor gesorg dat sy woonplek onder sy volk verwoes is, Hy het sy woonplek oorgegee in die hande van Nebukadnesar, Hy wou nie meer by sy volk woon nie – en daarom het Hy teruggekeer na sy woonplek in die hemel. Die Here sê dit ook letterlik so in Hosea 5:15: “Dan gaan Ek heen, Ek keer na my woonplek terug, totdat hulle skuld beken en my aangesig soek. In hulle nood sal hulle My soek.” Die Here verwyder Homself dus van sy volk, daar het afstand gekom, met die gevolg dat sy teenwoordigheid ook nie meer sigbaar is nie. Gevolglik ook Jesaja se vraag: “Waar is u ywer en u magtige dade? Waar is die ontroering van u hart en die barmhartigheid teenoor u volk?”  

En nou gebeur inderdaad wat die Here in Hosea 5:15 gesê het: “In hulle nood sal hulle My soek.” Jesaja, in die gees verplaas na die ballingskap in Babilonië, verwoord die nood van die volk. Nie net hulle fisiese nood nie, nie slegs hulle verwydering van Jerusalem en die tempel nie. Nee, hulle geestelike nood, hulle verwydering van God af! – dit is as gevolg van God se afwesigheid dat die volk weggedwaal het van sy weë, dit is as gevolg van God se afwesigheid dat die volk hulle harte verhard het, dit is as gevolg van sy afwesigheid dat hulle Hom nie meer vrees nie (lees vers 17).

Natuurlik, dit is nie die Here se skuld nie; die Here dra nie die skuld vir die volk se afval nie. Maar wat die profeet hier doen is om deur middel van ekstreme uitsprake te erken dat hulle sonder die Here verlore is. Sonder die Here kan hulle nie op sy weë bly nie, kan hulle nie hul harte aan Hom toewy nie, kan hulle Hom nie reg vrees nie. Ons het u nodig, Here. Keer daarom terug! – dit is ten slotte die profeet se uitroep. Keer terug, ter wille van u volk – ja, heeltemal reg, daar is geen woonplek meer nie, dit is verwoes; ja, heeltemal reg, ons het geword soos al die ander volke en ons bevoorregte posisie verloor; ja, heeltemal reg, U het ons verlaat en teruggekeer na u woonplek in die hemel – en ons het dit verdien. Maar nogtans Here, keer terug! Laat asseblief die skeiding opgehef word: “Ag as U maar die hemele wou skeur en wou neerdaal…” – dit is die emosionele wens in hoofstuk 64:1.  

Gemeente, in geweldige emosionele bewoording bid Jesaja hier namens die volk dat die Here sal terugkeer van sy omkeer, dat Hy weer van vyand hulle Heiland sal word. Hierdie is die gebed van iemand wat tot in sy diepste wese verstaan dat die volk van die Here sonder sy teenwoordigheid nie kán bestaan nie. Hulle volksbestaan beteken niks sonder die Here nie; selfs hulle voorvaders na die vlees, Abraham en Jakob, wil volgens vers 16 niks van hulle weet nie. Maar Here, Vader, as U maar net wou neerdaal (64:3)!

En dit is presies wat die Here gedoen het! Hy hét die hemele geskeur en neergedaal – miskien nie letterlik soos wat Jesaja dit in simboliese taal beskryf het nie, miskien nie in die magsvertoon van hierdie wêreld nie. Maar Hy het neergedaal in die stal in Betlehem. Dáár het God ‘n begin gemaak om die tentdoeke van die hemel oop te skeur. En Hy het dit voortgesit op die dag toe Jesus gedoop is in die Jordaan – lees maar Markus 1:10: “En dadelik toe Hy opgeklim het uit die water, sien Hy die hemel skeur en die Gees soos ‘n duif op Hom neerdaal.” En ten slotte is die hemele heeltemal oopgeskeur met Christus se kruisiging – toe het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder geskeur en het die hemel vir ons oopgegaan. Dít was God se antwoord op die volk se roep om terugkeer. Deur Jesus Christus het God die hemele geskeur en die skeiding opgehef. In Hóm lê daarom ook die sleutel van herstel van die verhouding met God, ook vir ons land. Mense moet by Jesus Christus wees om weer naby aan die Vader in die hemel te kan wees. Jesus Christus – God se antwoord vir Suid-Afrika! 

Gemeente, kom ons konfronteer daarom ook mense met hierdie Jesus, kom ons stel mense voor die keuse – óf geloof, óf ongeloof. Geen persoon kan neutraal staan teenoor God wat op dié manier uit die hemel neergedaal het nie; geen landsburger kan koud gelaat word deur die evangelie nie. Nee, Jesus Christus is ‘n krag wat óf lei tot geloof, en dan gaan die hemel vir jou oop en straal die vriendelike aangesig van God op jou, óf dit lei tot ongeloof, en dan bly die hemel vir jou geslote, en val jy onder God se regverdige oordeel.

En daarom, broers en susters, moet ons self ook deurdronge wees van die besef dat ons en ons land sonder God nie kan lewe nie. Jou besittings, jou werk, jou familie, jou huwelik – dit is alles sinneloos as die hemel vir jou toe bly! As God se vriendelike aangesig nie oor jou skyn nie, dan kan jy die wêreld besit, maar jou siel het jy verloor… Laat ons daarom in hierdie tyd van nood die Here soek; laat ons sy neerdaling na hierdie aarde in geloof omhels, laat ons Jesus Christus in geloof omhels – Hy is God se krag in hierdie wêreld. ‘n Krag wat ons nie vir onsself hou nie, maar wat ons uitdra vir die behoud en vir die vrede van die hele Suid-Afrika. Kom ons maak ons stem dik met die evangelie, kom ons bring die nuus – nee, nie die nuus van sabc of e-tv nie – maar die nuus wat mense nodig het. Kom ons vertel vir mense van God se krag in Jesus Christus. ‘n Onweerstaanbare krag tot redding vir elkeen wat in geloof sê: Daal neer, Here!

Ons let ten slotte daarop dat die volk pleit op God se eer. 

3. Hoofstuk 64:5-7 is ‘n skuldbelydenis. Jesaja erken dat die volk in ‘n toestand van sonde verkeer – en nie sommer vir ‘n kort tydjie nie; nee, “in dié toestand was ons baie lank”. Hy beskryf in vers 6 hierdie sonde-toestand in beeldende taal: ons het almal geword soos ‘n onreine, al ons ongeregtighede soos ‘n besoedelde kleed, ons het almal verdor soos blare. In hierdie toestand was daar niemand wat die Naam van die Here aangeroep het nie.

Jesaja draai geen doekies om oor die sondigheid van die volk nie, hy draai nie doekies om oor die feit dat hulle sondigheid die oorsaak van alle ellende is nie, dat deur hulle sondigheid die heilige stede van die Here, Sion en Jerusalem, ‘n woestyn geword het, dat deur hulle sondigheid die tempel met vuur verbrand is en ‘n puinhoop geword het nie. Nee, dit bely Jesaja openlik namens die volk.  

Maar ten spyte hiervan vind Jesaja tog gronde om die Here te kan oproep. Kyk na vers 8: “Maar nou, HERE, U is ons Vader…” En as Vader is God ook die Maker van Israel, die Pottebakker wat die klei formeer. As kinders van hierdie Vader, as maaksels van hierdie Formeerder, mag die volk daarom mos verwag dat die Here Hom die lot van sy volk sal aantrek? Hulle mag mos sy bewoënheid oor hulle verwag? En gevolglik die woorde aan die einde van vers 9: “… aanskou dit tog dat ons almal u volk is.”

Jesaja beroep hom dus op die verbondsverhouding waarin die volk met die Here staan; meer nog: hy beroep hom op die eer van die Here. Dit is immers die eer van die Here dat Hy sy volk gemaak het – al die omringende nasies het daarvan gepraat, almal het gepraat oor die God van Israel; dit is sy eer dat Hy vir hulle ‘n Vader is, dit is sy eer dat Hy ook sodanig met hulle omgaan. Maar as Hy Homself in hierdie haglike situasie van die volk sou verberg, as Hy sou swyg en toelaat dat hulle verdruk word, sou dit dan nie sy eer te na wees nie?  

Gemeente, die volk pleit hier in Jesaja 64 op dieselfde grond as waarop Moses gepleit het net ná die geskiedenis met die goue kalf. Toe wou die Here sy volk vernietig, Hy wou slegs met Moses voortgaan. En toe het Moses Hom herinner aan sy eer: “Waarom sou die Egiptenaars spreek en sê: In kwaadwilligheid het Hy hulle uitgelei om hulle in die berge om te bring en hulle van die aardbodem af te vernietig?” En: “Gedenk aan Abraham, Isak en Israel, u knegte, vir U by Uself gesweer en aan wie U gesê het: Ek sal julle nageslag vermenigvuldig soos die sterre van die hemel, en hierdie hele land waarvan Ek gespreek het, sal Ek aan julle nageslag gee, dat hulle dit vir ewig kan beërwe” (Exodus 32;12-13). Sien u, dit is die eer van die Here dat Hy gevrees word onder die nasies, dit is die eer van die Here dat Hy sy beloftes nakom. En daarop beroep die volk in die ballingskap hulle dan ook. Wil die Here toelaat dat hulle in die heidense land moet vergaan? Wil Hy toelaat dat die nasies Hom spot as die klein ou godjie van Israel wat deur Nebukadnesar verslaan is. Soos Jesaja in 64:12 sê: “HERE, sal U by hierdie dinge U bedwing? Sal U swyg en ons uitermate verdruk?  

En daarom het die volk pleitgrond – nie in hulleself nie; immers, hulle sonde is groot. Maar hulle vind pleitgrond in die Here self! En dit, gemeente, het ons vandag nog. Die Here verskaf self die pleitgrond waarop ons gebede seker is. Jesus Christus – Hy is ons pleitgrond. Ons bid tog: om Christus ontwil? Dan bid ons mos op God se eer, dan bid ons dat Hy sal optree vir ons, dat Hy ons sondes sal vergewe, dat Hy ons sal versorg, dat Hy ons Vader sal wees – nie omdat ons dit verdien nie – maar op grond van sy eer in Christus Jesus.

Bid daarom, broers en susters, spreek u verlange na die Here uit, sê vir Hom dat ons na Hom verlang, nie as ons vyand nie, maar as ons Heiland. As u voel dat die moeites van die daaglikse lewe in ons land te veel raak, as u ervaar hoe die gebrokenheid van die lewe diep spore laat, wanneer dit vir u voel of daar vir ons geen toekoms in ons land is nie, pleit dan op die eer van die Here: “Here, sal u toelaat dat u kinders hier vergaan? Wat sal die ongelowiges sê, Here, as U u eiendom laat verskeur? Ontferm U oor ons, sodat u geprys mag word! Bewerk vir Uself ‘n Suid-Afrika waarin u lof opklink uit baie stemme. Ag, Here, skeur die hemel en daal neer!”

Amen 

Liturgie (oggend) 
Groet en afkondigings
Votum: Sing Ps. 124:4
Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 144:2, 5 en 6
Wetslesing
Antwoord met Ps. 107:1, 3, 8 en 10
Gebed
Lees: Jesaja 63:7-64:12
Sing Ps. 78:13, 14, 19 en 20
Teks: Jesaja 64:1
Preek
Amenlied Ps. 18:3, 5 en 15
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 123
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)