Die Gees bewerk ‘n intieme band tussen ons en die Vader!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2008-05-11
Text: 
Romeine 8:14-15
Preek Inhoud: 

Romeine 8:14-15

Ds HH van Alten - Sondag 11 Mei 2008 - Viering van die Heilige Nagmaal

Lees: Romeine 8:1-17, Markus 14:32-42
Teks: Romeine 8:14,15
Sing: Sien liturgie

Tema: Die Gees bewerk ‘n intieme band tussen ons en die Vader!

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Vandag vier ons die heilige nagmaal van ons Heiland, Hy wat homself oorgegee het vir ons sondes. En almal wat in die kerk ingestap het, en nog nie geweet het dat ons vandag nagmaal vier nie, kon dit sommer dadelik raaksien. Die nagmaalstafel is immers duidelik sigbaar hier voor in die kerk. Wat u waarskynlik nie gesien het toe u vanoggend in die kerk ingestap het nie, is dat ons vandag, behalwe nagmaal, ook Pinksterfees vier, die fees van die uitstorting van die Gees.

Nagmaal en Pinksterfees – die een sigbaar, die ander nie. En tog ‘n besondere kombinasie om dit saam op een dag te kan vier. Hoekom? Want, gemeente, hier aan die nagmaalstafel gaan ons net hierna die hoogtepunt vier van die intieme verbondenheid, van die ware gemeenskap met God en met mekaar. Ons besef dit dalk nie altyd meer nie, maar die nagmaal is die plek waar die gemeenskap tussen God en mens en tussen mense onderling sy hoogste vreugde behoort te bereik. Hier is ons veronderstel om werklik fees te vier met God en mekaar! Dit is daarom ook nie vreemd dat die Here nie sommer enige iemand aan die nagmaal toelaat nie – immers, egte gemeenskap vind slegs plaas tussen geliefdes!  
 

Maar wat het Pinksterfees nou met dit alles te make? Wel, op die Pinksterfees ontvang ons van die Here die Gees wat hierdie einste gemeenskap laat realiseer; die Gees is die Een wat die band lê tussen my en God en tussen my en my broeder en suster wat saam met my aan die tafel sit. Die Gees is die groot brugbouer! En daarom die besondere kombinasie van nagmaal en Pinksterfees op een dag, want die nagmaal is die maaltyd van die hoogste gemeenskap waarvan die Gees die bewerker is. Hierop wil ek dan ook vandag in die prediking fokus. Op hierdie gedeelde Pinkster- en nagmaalsondag let ons op die gemeenskap met God (dit sal in vanoggend se prediking aan die orde kom), en op die gemeenskap met mekaar (daarop let ons vanmiddag in die tweede erediens).

Tema: Die Gees bewerk ‘n intieme band tussen ons en die Vader!

In Romeine 7 beskryf Paulus die swakheid van die mens – van elke mens! – wat nie in staat is om sy ‘vlees’ met die gepaardgaande hartstogte en begeerlikhede te oormeester nie. Ook al het hy God se goeie wet nog so lief na die innerlike mens, tog gehoorsaam sy ledemate dikwels maar weer die sonde wat in hom is. En ook al is die wet van God nog so goed, nogtans is daardie wet nie in staat om die sonde in die mens te oorwin nie. Broers en susters, u ken mos hierdie stryd? Aan die einde van hoofstuk 7 juig Paulus egter dat God ‘n manier gevind het om die heerskappy van die sonde in die mens te oorwin: “Ek dank God deur Jesus Christus, ons Here.” Jesus Christus is God se antwoord op die sonde in ons.

Maar, is die vraag dan, wat verander eintlik wanneer ‘n mens hom onder die heerskappy van Jésus stel? Immers, die wet van God was goed, en tóg het die mens deur daardie wet gesterwe (Rom. 7:10-12). Sal die geskiedenis homself nie herhaal onder die nuwe Heer, Jesus, nie? Is Jesus, wat in ons is, dan méér en béter as die wet, wat by ons was?  

Gemeente, om te verduidelik wat presies verander, skryf Paulus in hoofstuk 8 wat Jesus Christus in die gelowige doen; hy skryf oor hoe Jesus te werk gaan om die sonde in die lewens van die gelowiges te oorwin. En dit lei dan tot ‘n lang beskrywing van die werk van die Heilige Gees in ons. Ja, dit is deur die Géés in ons dat Christus die sónde in ons oorwin. Deur die Géés in ons kom infiltreer Jesus die sterk vesting van die sonde in my lewe. Deur die Géés in ons kan ons die werke van die liggaam doodmaak. Deur die Géés in ons mag die gelowige weet dat hy God se kind is, want, sê Paulus in Romeine 8:14, elkeen wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. Wat ‘n heerlike besef vir die gelowige dat sy intense stryd teen die sonde – en dit word intens, gemeente, onthou maar die “ek, ellendige mens” aan die einde van hoofstuk 7 – dat daardie stryd nooit ‘n verlore stryd is nie. Die gelowige stry teen sy eie vlees in die krag van die Gees, wat nie langs of buite hom staan nie, maar wat in hom is! 

Maar hoe weet ek nou dat ek die Gees het? Hoe weet ek dat my nuwe Meester deur sy Gees by my is in die stryd? Dit is ‘n reële vraag, broers en susters, in besonder wanneer die stryd teen die sonde baie hewig word, wanneer dit voel asof my drie doodsvyande besig is om die oorhand oor my te kry. Dit is ‘n reële vraag wanneer ek so graag die wil van God wil nakom, maar so dikwels weer struikel in sondes wat my van myself laat walg. Hoe weet ek dan dat ook ék die Gees het? 

Gemeente, om hierdie vraag te beantwoord, leer Paulus ons in ons teks om te let op die aard van die Gees. Die Gees wat ons, as gelowiges, ontvang het, is nie een wat daarop uit is om by ons vrees in te boesem en opnuut slawe van ons te maak nie. Soos wat Paulus in vers 15 sê: “Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie…” Nee, gemeente, die Gees wat ons ontvang het, die Gees wat in ons woon, is die Gees wat ons op die mees intieme manier aan die Vader verbind. Sondaars, rebelle, word aangeneem tot kinders. Die band wat deur die sonde verbreek is, word herstel; die kloof wat deur die sonde ontstaan het, word oorbrug. Ons word weer kinders!

En, gemeente, wat doen kinders wanneer hulle in nood is? Wat doen kinders wanneer hulle nie meer weet waarheen nie? Hulle roep vir pappa! En dít is nou presies wat die Gees ons laat doen. Die Gees is die een wat ‘n band skep tussen die Vader en sy aangenome kinders, en Hy is die Een wat hulle gevolglik tot Hom laat roep in hulle nood en moeite: Abba, Vader. Só, my broer en my suster, weet jy dat jy die Gees in jou het! Só weet jy dat die Gees in jou hart woon, wanneer jy in geloof die Vadernaam op die lippe neem, want niemand doen dit as hy nie die Gees van Christus het nie. Hoe weet jy of jy die Gees het om jou by te staan in jou persoonlike stryd teen die sonde? Let in verwondering op die feit dat jy die Vadernaam in geloof kan en mag uitspreek! 

Vader…

Gemeente, dit is goed om vir ‘n oomblik stil te staan wanneer Paulus ons hierdie Naam leer. Paulus sê in vers 15 dat ons deur die Gees roep: “Abba, Vader!” Abba, Vader – eers die Aramese en dan die Griekse vorm van die woord ‘vader’. Is dit nie effens vreemd nie? Ons weet immers dat die gemeente in Rome net uit christene uit die heidendom bestaan het, en hulle het Grieks gepraat. Daar was geen joodse christene in die gemeente in Rome nie. Daarom was dit ook nie nodig vir Paulus om die Jode te akkomodeer deur die Vader-naam in hulle taal ook weer te gee nie. Maar hoekom doen hy dit?

Gemeente, ‘Abba’ kom slegs op twee ander plekke in die bybel voor – die een is in Galasiërs 4:6 waar dit op presies dieselfde wyse as hier in Romeine 8 gebruik word, naamlik om te wys dat dit die Gees is wat ons daardie Naam laat uitspreek. Dus, Romeine 8 en Galasiërs 4 se gebruik van ‘Abba’ is presies dieselfde. En daarom moet ons na die derde geval gaan waar ‘Abba’ gebruik word. En dit is in Markus 14, wat ons saam gelees het. Daar hoor ons Jesus se roep tot sy ‘Abba’, toe Hy in doodsnood in Getsemane verkeer het: “Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik; neem hierdie beker van My weg…” (Mk. 14:36). Maar nee, die beker is nie weggeneem nie. Vir een keer het die Vader nie geantwoord op die roep van sy eniggebore Seun nie, vir een keer was sy wil anders. Jesus moes die dood ingaan, Hy moes sy liggaam aan die kruis laat spyker, en sy bloed moes gestort word.

En juis dáárom gebruik Paulus in sy brief aan ‘n volledige Griekssprekende gemeente die Aramese ‘Abba’. Daarmee wil hy sy lesers herinner aan die ‘Abba’ van die Seun in Getsemane, en daarmee wil hy hulle herinner dat húlle Griekse ‘Vader’-roep gegrond is op die Seun se Aramese ‘Abba’-roep.  

Op grond van sy lyding en dood, op grond van sy gekruisigde liggaam en uitgestorte bloed, bewerk die Gees vir ons die band met die Vader. Wanneer jy daarom aan die tafel sit en van die brood eet en uit die beker drink, dink dan daaraan dat God sy eniggebore Seun weggegee het, sy ‘Abba’ nie verhoor het nie, sodat jy ook God se seun of dogter kon word. Wie in geloof Jesus Christus kom eet en drink, ervaar deur die werking van die Heilige Gees die band met die Vader in die hemel. En, gemeente, dit is onverbreekbare band, want die Gees van Pinkster is self daardie band. Hy skep nie net die band nie, Hy is ook die band. Die Gees is die band met die Vader deur die bloed van die Seun – wat ‘n heerlike gemeenskap kom geniet ons nie hier aan die tafel nie, gemeenskap met God Drie-enig!

Gemeente, die nagmaal is aan ons gegee om ons te verseker dat ons God se kinders is. Kom eet en drink van die liggaam en bloed van ons Here Jesus Christus, wat hy gegee het vir jou sondes wat jy elke dag maar weer doen. En as jy volgende keer weer in verleiding kom, as jy weer in ‘n situasie kom waar die sonde jou van alle kant omring, as jy wonder of die Heilige Gees nog met jou is – roep dan! Roep tot die Vader! Sy aanneming van jou was nie maar net ‘n juridiese aanneming nie; nee, Hy het jou aanvaar as ‘n ware kind. En daarom mag jy roep, hard roep. Jou noodroep het sin, want jy het ‘n Vader wat nie doof is vir sy kinders nie; jou S.O.S.-berig het betekenis, want jy het ‘n Vader wat die seine van sy kinders suiwer opvang. Die Heilige Gees is die band wat jou roep oorbring aan ‘n Vader wat hoor en help. Al het almal jou verlaat in hierdie lewe, ook al voel jy hoe alleen, “nogtans sal’k altyd by U bly; niks sal my van u liefde skei – U wat my regterhand gevat het, vir wie’k van harte liefgehad het” (Ps. 73:10 ber.). Dít is die band met die Vader, gewerk deur die Gees, wat ons mag ervaar in die liggaam en bloed van die Seun.

Amen 

Liturgie (oggend)

Votum: sing Ps. 121:1
Seën: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus.
Sing Ps. 113
Wetslesing
Sing 114:1 en 4 (ons sing hierdie psalm as God se volk wat Hy uit die slawehuis verlos het)
Kort gebed
Lees:  Romeine 8:1-17
      Markus 14:32-42
Sing Ps. 115:6-8
Teks: Romeine 8:14-15
Preek
Sing Ps. 116:1-3
Lees formulier
Terwyl die tafel in gereedheid gebring word, sing ons Ps. 117
Viering van die nagmaal

  • Eerste tafel – Ps. 118:3
  • Tweede tafel – Ps. 118:4
  • Derde tafel – Ps. 118:9

Voltooi formulier & dankgebed
Kollekte
Slotsang Ps. 118:13 en 14
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)