In die eerste bede bid ons dat God die plek kry wat Hom toekom!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2008-02-10
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 47
Reference: 
HK 47-1
Preek Inhoud: 

Sondag 47

Ds HH van Alten - Sondag 10 Februarie 2008

Lees: Openbaring 5:1-8, 8:1-6, 15; Filippense 1:9-11, Psalm 8
Teks: HK Sondag 47
Sing: Sien liturgie

Tema: In die eerste bede bid ons dat God die plek kry wat Hom toekom! Dat God hierdie plek kry, gebeur:

  1. deur sy eie optrede
  2. deur ons lewens

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Onder die ses bedes van die Onse Vader, wat in die komende weke aan die orde kom, neem die bede om die heiliging van God se Naam die eerste plek in; nie slegs in orde nie, maar ook omdat hierdie bede uiteindelik die doel is van al die ander bedes. In alle ander bedes vra ons iets met die oog op die heiliging van God se Naam. Dus, die kern, die hoogtepunt van ons gebed vind ons al reg hier aan die begin; dadelik by die eerste bede al bereik ons gebed sy piek. Kyk maar na die volgende bedes: laat u Koninkryk kom. Hoekom? Sodat u Naam geheilig kan word. En daarna: laat u wil geskied. Hoekom? Sodat u Naam geheilig kan word. En vervolgens: gee ons vandag ons daaglikse brood. Hoekom? Sodat ons die krag mag kry om u Naam te heilig. En gaan maar deur al die bedes – al hierdie bedes vra om gebid te word, sodat God se Naam geheilig kan word. Broers en susters, dit is uiteindelik die doel waarop nie slegs ons gebede nie, maar al ons dade, gedagtes en woorde gerig behoort te wees, dit is uiteindelik die doel van ons lewe, naamlik: die heiliging van God se Naam!  

Dit is ‘n groot uitspraak. Maar wat beteken dit presies: “Laat u Naam geheilig word”?

  • Om mee te begin: wat bedoel ons met God se Naam? Wel, met God se Naam word enersyds na God self verwys. Dink maar aan Psalm 5:12, waar ons lees: “… laat in U juig die wat u Naam liefhet.” U Naam – dit is duidelik dat dit hier oor God self gaan, Hóm het ons immers lief. Andersyds verwys God se Naam ook na sy eienskappe en na sy werke. Kyk maar na Exodus 34:14: “… jy mag jou nie neerbuig voor ‘n ander god nie; want die HERE se Naam is Jaloers – ‘n jaloerse God is Hy.” Goddelike jaloesie is dus ‘n eienskap van God en dit kom ook uit in sy optrede. Dus, wanneer ons van God se Naam praat, dan gaan dit oor Homself en alles waarvoor Hy staan en wat Hy gedoen het.

  • Maar wat beteken dit dan om daardie Naam te heilig? Dit beteken dat God afgesonder word van, ja meer nog: uitgelig word bo alle afgode en ander onrein dinge, en dat Hy erken, geprys en grootgemaak sal word vir Wie Hy is, en wat Hy gedoen het. En hoe mooier as in die woorde van Romeine 11:33-36: “o, Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid.” Dit is heiliging: om uit te sonder as volkome uniek, volkome ondeurgrondelik, volkome heerlik.

En as ons dié twee nou saamvoeg (dus, enersyds wat sy Naam beteken, en andersyds wat dit inhou om daardie Naam te heilig), dan verstaan ons waarom hierdie bede voorop staan in die Onse Vader. Laat u Naam geheilig word – dit is eenvoudig om aan God alle eer en lof te gee vir Wie Hy is en vir wat Hy gedoen het! Dit is om aan God die plek te gee wat Hom toekom!

Tema: In die eerste bede bid ons dat God die plek kry wat Hom toekom! Dat God hierdie plek kry, gebeur:

  1. deur sy eie optrede

  2. deur ons lewens

1. Ons bid dus dat ons God die plek sal kry wat Hom toekom. En, gemeente, bloot die feit dát ons dit bid, is vir ons die bewys dat dit nie gebeur nie. As God die plek sou gekry het wat Hom toekom, het die eerste bede oorbodig geword, was dit vir ons nie meer nodig om dit te bid nie. Maar in ons sondige wêreld en in ons sondige lewens is dit bitter nodig. Ons lewe in ‘n wêreld waar God se Naam gelaster en gevloek word, waar sy Naam onteer en misbruik word, waar Hy genegeer en doodgeswyg word. Ons lewe in ‘n tyd waarin daar vir God geen plek meer is nie; en wanneer daar wel vir Hom plek gemaak word, dan is dit naas liggewigte soos Allah, Boeddha en watter ander sogenaamde gode ook al. In die politiek, onderwys en maatskaplike optrede word God nouliks nog genoem; in die daaglikse lewe van die burgers van hierdie land is daar weinig ruimte meer om na God se gebooie te luister; en by die heersers van hierdie wêreld is daar ook nie meer tyd vir God nie, want hulle het dan self ‘god’ geword.  

Let op, gemeente, met dit alles sê ons nie dat God se Naam nie heilig is nie. Nee, God se Naam is heilig. En niks wat ons of enige iemand anders daaraan doen, gaan iets daaraan verander nie. Net so min as wat ons die son van sy hitte en lig kan beroof, net so min kan ons God van sy heiligheid beroof. Maar dit is wel so dat, soos wolke die lig en hitte van die son op ‘n bewolkte dag kan verberg, só kan die sonde en ongehoorsaamheid van die mensdom ook die altyd-heilige Godsnaam verduister. En dit kán nie slegs gebeur nie, maar dit gebeur ook daadwerklik! En daarom bid ons – nie dat God se Naam heilig sal word nie, want dit is al heilig – maar dat God se Naam in sy heiligheid erken sal word, dat volke en nasies sal bely dat hierdie God sy verhewe posisie verdien, dat hulle sal bely dat Hy werklik is wat Hy pretendeer om te wees. Ons bid dat volke en nasies sal ophou met hulle volstruis-politiek, sal ophou om hulle kop in die sand te steek vir die heiligheid van God – wat uiteindelik niemand kan ontken nie. Ons bid dat alle mense so ver sal kom om saam met die vier lewende wesens in Openbaring 4 dag en nag te sê: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom!” Dáárvoor bid ons, broers en susters!

En wie beter om hierdie bede werklikheid te laat word as die Heilige self? 

Ons sien dit pragtig uitgewerk in die gedeeltes wat ons saam uit die boek Openbaring gelees het. Openbaring, gemeente, is indrukwekkende boek, ‘n boek van perspektiewe. Openbaring is soos Tafelberg – as jy ‘n oorsig wil kry van Kaapstad, dan gaan staan jy op Tafelberg; en as jy vervolgens ‘n spesifieke deeltjie van Kaapstad nader wil bekyk, dan loer jy deur een van die teleskope wat daar bo-op Tafelberg geplaas is. Só kry jy perspektief, ‘n soort voëlvlug, oor hierdie besondere stad. Nou, presies dít doen die boek Openbaring ook – dit gee vir ons perspektief, ‘n voëlvlug, oor die geheel van die wêreldgeskiedenis vanaf Christus se hemelvaart tot by sy wederkoms. En dit wys vir ons Wie daardie wêreldgeskiedenis beheer – Jesus Christus, die Lam van God wat waardig is om die boek oop te maak en sy seëls te breek. In die boek, broers en susters, is die geheel van die wêreldgeskiedenis beskrywe; maar Johannes kom tot sy ontsteltenis agter dat hierdie boek verseël is. Wie kan hierdie seëls breek, dus wie is in staat om die wêreldgeskiedenis te onthul en te beheer. Die Lam van God, Jesus Christus….

En dit is presies wat Christus ook doen – Hy maak die sewe seëls een vir een oop. Die opening van die eerste vier seëls bring vier ruiters op hulle perde – dit is die magte van oorlog en rewolusie, van hongersnood en pes. Die opening van die vyfde seël bring vervolging van die kerk; die opening van die sesde seël bring wêreldchaos. Die opening van die sewende seël in hoofstuk 8 mond vervolgens uit in sewe engele, elkeen met ‘n basuin. Sewe basuine – elkeen bring ‘n ramp of ‘n plaag wanneer dit geblaas word: hael en vuur, ‘n brandende berg, ‘n vallende ster ensovoorts, u kan dit self gaan lees. En dan is daar in Openbaring 15 ook nog sewe engele met sewe skale wat die laaste plae van God se grimmigheid oor die wêreld bring.  

Skrikwekkende beelde, nie waar nie? Beelde waarvan ons liewer nie wil weet nie, waarby ons verkieslik nie stilstaan nie. Maar, broers en susters, ons word geforseer om hierby stil te staan. Want dit is opvallend om te sien dat elkeen van hierdie reekse van sewes – die sewe seëls, die sewe basuine en die sewe skale – dat elkeen van hierdie reekse strawwe en plae op gang gebring word deur die gebede van die heiliges, deur u en my gebede! Kyk maar na Openbaring 5:7 en 8 – ons sien daar hoe die Lam die boek van die wêreldgeskiedenis neem, en op die moment dat Hy dit doen, val die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor Hom neer. En wat is in die hande van die ouderlinge? Skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is! En dit is in antwoord op hierdie gebede dat die Lam begin met die opening van die seëls.

Dieselfde sien ons in Openbaring 8 – in vers 1 ontstaan daar ‘n halfuur se stilte in die hemel; ja, die engele ontvang basuine, maar hulle doen nog niks daarmee nie. Eers wanneer, in vers 3, die engel die gebede van die heiliges op die goue altaar voor die troon kom neerlê, dan eers kom daar beweging en word die basuine een vir een geblaas. En kyk ook na Openbaring 15 – in vers 1 word vir ons vertel van die sewe engele met die sewe laaste plae, maar eers nadat die oorwinnaars die lied gesing het, en tot die Here gebid het: “Wie sal U nie vrees nie, Here, … want U alleen is heilig…”, eers dan gaan die tent van die getuienis in die hemel oop en kom die sewe engele met die sewe plae van God se grimmigheid na buite.  

Sien u dit? Dit is na aanleiding van óns gebede dat God optree; dit is wanneer ons bid: “Laat u Naam geheilig word … want U alleen is heilig” dat die Heilige opkom vir sy Naam, en die ontheiliging daarvan met groot krag neerslaan. Al hierdie goddelike energie kom los op die geroep van die gelowiges. Ongelooflik, nie waar nie, wat God alles doen op die gebede van sy kinders!?

Maar, gemeente, skielik besef ons ook hoe ‘n moeilike gebed die eerste bede is: “Laat u Naam geheilig word.” Want daarmee bid ons dat die Here sal opstaan tot die stryd, dat Hy sy haters ver en wyd sal laat wegvlug voor sy oë. Ons bid dat die Here sal optree om aan Homself die plek te gee wat Hom toekom – met alle plae en slae wat nodig is om dit te bereik. Maar … ons ly ook soms onder daardie plae, ook gelowiges word getref wanneer die Here opstaan tot die stryd. En skielik bid ons hierdie bede nie meer so maklik nie, of hoe? Hierdie bede is moeilik, broers en susters, en hierdie bede word in ons vervalle wêreld elke dag moeiliker. Want die implikasie van ons gebede om die heiliging van God se Naam is dat die verdrukking meer gaan word, dat die moeites en die hartseer gaan toeneem… En veral as die slae van die lewe ons vuisvoos gemaak het, dan wil ons eintlik net rus hê, dan verlang ons net na vrede. Dan sien ons nie kans vir nog meer onheil en ellende in die wêreld, in die kerk en in ons persoonlike lewens nie, en dan bid ons liewer nie vir die heiliging van God se Naam nie.

Maar, gemeente, sien dan ook die groter perspektief van hierdie bede – elke keer wanneer nog ‘n seël oopgebreek word, elke keer wanneer ‘n volgende basuin blaas of ‘n volgende skaal met plae leeggegooi word, dan beweeg ons nader na die einde, dan sit ons ‘n treetjie vorentoe oppad na die finale val van die groot hoer, Babilon, en oppad na die koms van die verheerlike bruid, Jerusalem. Elke keer wanneer ons bid vir die heiliging van God se Naam, en Hy na aanleiding daarvan in beweging kom met sy strawwe, dan kom óns verder op die pad van lyding tot heerlikheid, kom óns nader aan die tyd wanneer alle trane van ons oë afgevee sal word.  

Die bede om die heiliging van God se Naam is dus ook tot ons redding. Want wanneer God optree om sy Naam te heilig, dan beteken dit enersyds verwoesting van die goddelose en die goddeloosheid, maar andersyds beteken dit heil vir die gelowiges onder die vriendelike aangesig van die Vader in die hemel. Gemeente, mag God ons daarom voortdurend sterk maak om hierdie bede met oortuiging te bid; mag Hy ons sterk maak dat ons, in volle besef van die moontlike implikasies, tog van harte sal bly bid dat God sy regmatige plek sal ontvang. En so mag ons met die eerste bede, soos wat ons sing in Psalm 68:2, as’t ware die weg vir Hom berei wat deur die wye vlaktes van hierdie geskiedenis ry, oppad na die nuwe hemel en die nuwe aarde.

Ons het nou gesien dat die Here sy regmatige plek in die eerste plek ontvang deur sy eie optrede; maar vervolgens wil ons daarop let dat dit ook gebeur deur ons lewens.  

2. Gemeente, die Kategismus lê in Sondag 47 sterk klem op die implikasies wat die eerste bede het vir die lewe van die gelowige. Dus, u en ek het ook ‘n rol om te speel in die heiliging van die Naam van die Here. En natuurlik, dit is geen selfwerksaamheid nie, ons ontvang dit op grond van die gebed. Maar ons gebed bring ons wel tot aktiewe werksaamheid. Deur ons hele lewe – gedagtes, woorde en werke – behoort ons daartoe by te dra dat die Here die plek kry wat Hom toekom.  

En dit begin, volgens Sondag 47, baie eenvoudig by kennis van die Here. Ja, inderdaad, baie eenvoudig. Wie die Here wil regdoen – aan Hom die plek wil gee wat Hom toekom – moet weet Wie Hy is. Dit is presies wat Paulus die gemeente in Filippi toewens in Filippense 1:9. Hy bid dat hulle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring. Kennis – hier gaan dit nie slegs oor teoretiese kennis nie, maar dit gaan oor kennis van God, geloofskennis. En verder: ervaring – dit is fyngevoeligheid, sensitiwiteit, die vermoë om persone en situasies goed te kan aanvoel en inskat.

En, gemeente, wanneer die liefde tot hierdie intensere bekendheid met God lei en tot ‘n fyn aanvoeling van die Here en sy wil, dan sal dit ons daartoe bring om te kan onderskei waarop dit aankom; ons sal leer om vas te stel wat werklik die moeite werd is om in praktyk te bring. Dus, die regte geloofsinsig en ‘n goeie oordeelsvermoë help die gelowige om presies te kan onderskei waarop dit in die lewe met die Here aankom. En só sal die gelowige vervul word met die vrug van geregtigheid. En die uiteindelike doel daarvan is die heerlikheid en die lof van God. In die lewe van die gelowige behoort God, die Heilige, weerkaats te word.  

Dus, broers en susters, jou en my lewe is volop ingeskakel in die realisering van die eerste bede. Die eerste bede mag in ons lewens nooit net ‘n bede bly nie. Natuurlik, heel eerste is dit ‘n bede. Maar vervolgens moet die bede ook konkreet word in ons lewens.

Dit moet in die eerste plek konkreet word in jou ywer om die Here te leer ken. En daarom dat bybelstudie vir die Here – en in gehoorsaamheid aan Hom, ook vir die kerkraad – van die grootste belang is. Jy het nodig om die Here se woorde aan jou te lees en te oordink. Jy het nodig om, waar moontlik, in te skakel by ‘n bybelstudievereniging. Jy het nodig om beide eredienste op Sondae by te woon. Want só leer jy die Here ken vir Wie Hy werklik is, en kan jy – soos wat die Kategismus vra – Hom heilig, roem en prys in al sy werke waarin sy almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid so skitter. Dit is ‘n mond vol, ja, maar die gelowige wat die Here ken, sal weet wat om homself daarby voor te stel.

Maar in die tweede plek moet hierdie bede ook konkreet word in ons lewenswandel, ‘n lewenswandel wat daarop gerig sal wees dat die Here se Naam om ons ontwil nie gelaster nie maar geëer en geprys word. Jou hele lewe is belangrik wanneer dit kom by die heiliging van die Naam van die Here! Die heiliging van die Here se Naam moet sigbaar word in die heiliging van jou daaglikse lewe. Die goeie werke moet tasbaar en voelbaar in jou lewe na vore kom, jy moet die kuns aanleer om elke treetjie van jou dag met die Here te wandel, en jy moet werke voortbring wat by die bekering pas – nie slegs vir die openbare oog nie, maar ook in jou binnekamer.  

Gemeente, God bewerk op kragtige en selfs skrikwekkende wyse self die heiliging van sy Naam (so het ons in die eerste punt gesien), maar dit maak my nog nie oorbodig nie. My lewe behoort daarvan te getuig dat ek aan God se Naam ‘n plek wat elke ander naam is. En die wêreld hou ons, veral op hierdie punt, met arendsoë dop, broers en susters. Die Here se eer hang af van jou optrede wanneer jy môre-oggend weer werk toe ry, en van jou woorde wanneer jy môre weer met jou mede-studente omgaan, en van jou houding wanneer jy jou daaglikse werk verrig. Saam met God mag ons bydra dat sy Naam nie gelaster nie, maar geëer en geprys word! 

En, gemeente, die heerlike resultaat van hierdie heiliging van God se Naam sien ons in wat ons gelees het in psalm 8. Wanneer God die plek kry wat Hom toekom, dan maak Hy daardeur die vyand en wraakgierige stil, en Hy berei vir Homself lof uit die mond van kinders en suiglinge. Die wêreld word op dié manier weer aan die herskape mens onderwerp – skape en beeste, die diere van die veld, die voëls van die hemel en die visse van die see, wat trek deur die paaie van die see. Ja, die paradys keer weer terug! Die paradystoestand, waarin God God is, en die mens mens is – dit word weer sigbaar. En dán bly daar slegs ruimte oor vir een woord, een jubel: “o HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!”

Ja, die eerste bede word langs die weg van bloed en trane uiteindelik verhoor; die kerk sal ingaan in die herstelde paradys. En die gebed tydens die stryd (“laat u Naam geheilig word”) sal uitmond in die glorie van die aanbidding: hoe heerlik is u Naam!

Amen 

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Skr. 10:1 en 2
Lees kort nagmaalsformulier

  • Sing wanneer tafel in gereedheid Skr. 10:3 en 4
  • Voltooi formulier en gebed aan tafel
  • Aan tafel sing Skr. 10:5 en 6

Lees:  Openbaring 5:1-8, 8:1-6, 15
      Filippense 1:9-11
      Psalm 8
Sing Ps. 148:1, 3 en 5
Teks: HK, Sondag 47
Preek
Amenlied Ps. 8:2, 4, 5 en 7
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 68:1 en 2
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)