Christus self lê die Vader-naam op ons lippe.

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2008-01-27
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 46
Reference: 
HK 46-1
Preek Inhoud: 

Sondag 46

Ds HH van Alten - Sondag 27 Januarie 2008

Lees: Lukas 11:1-13
Teks: HK Sondag 46
Sing: Sien liturgie

Tema: Christus self lê die Vader-naam op ons lippe. Wie daardie Vader-naam gebruik:

  1. bid tot die lewende God
  2. bid tot die heilige God

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die Onse Vader – sekerlik die mees bekende gebed in die bybel, en een wat tot vandag toe nog deur christene gebruik word. Hoekom is hierdie gebed so bekend en geliefd? Daar is tog ook ander mooi gebede in die bybel? Ja, ons het dit enkele weke gelede nog gesien toe ons in verband met Sondag 45 Daniël se gebed in hoofstuk 9 gelees het.

Maar gemeente, die bekendheid van die Onse Vader is geen verrassing nie, wanneer ons besef dat hierdie gebed deur die Here Jesus self aan ons geleer is in Matt. 6 en Luk. 11 – in Mattheus 6 is dit die hoogtepunt van Jesus se onderwys oor die gebed, en in Lukas 11 volg dit na ‘n versoek van sy dissipels om hulle te leer bid. Jesus self, die egte en ewige Seun van die Vader, leer ons bid, leer ons om te sê: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word, laat u Koninkryk kom, laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Ons sien ‘n duidelike struktuur in hierdie gebed: 1. die aanspraak (Onse Vader wat in die hemel is), 2. drie bedes gerig op die heerlikheid van God (laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied), 3. dan drie bedes gerig op ons behoeftes (gee ons vandag ons daaglikse brood, vergeef ons ons skulde, en lei ons nie in versoeking nie), 4. en ten slotte die doksologie, die lofprysing (want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid).  

Is ons dan verplig om hierdie gebed woordeliks te bid? Ons kan…, en ons doen dit ook dikwels. Maar, broers en suster, dit was nie Jesus se bedoeling dat ons gebede altyd ‘n woordelikse herhaling van sy volmaakte gebed sou wees nie. En dit blyk ook duidelik wanneer ons die verskillende weergawes van die Onse Vader in Mattheus 6 en Lukas 11 met mekaar vergelyk. Op verskeie puntjies gebruik Lukas ‘n ander bewoording as Mattheus, en baie opvallend is dat die lofprysing en die amen by Lukas heeltemal ontbreek.

Nee gemeente, die Onse Vader was nooit bedoel om ons ons selfstandigheid te ontneem nie; die Onse Vader was nooit bedoel om ons eie gebede te vervang nie, maar wel om ons eie gebede te vorm. Die Onse Vader is die model vir ons eie gebede. Die volmaakte gebed help ons om ons eie gebede reg in te vul. En wanneer ons daarom in die komende weke die verskillende bedes van die Onse Vader nader gaan bekyk, dan beteken dit nie noodwendig dat ons in die kerk, by vergaderings, by die huis of in my binnekamer presies die woorde moet gebruik wat Jesus gebruik het nie, maar dan beteken dit wel dat die inhoud en die vorm van sy gebed, die grondtoon daarvan, wel in ons gebede aanwesig moet wees. Laat ons deur ons Heiland geleer word wat werklik gebed is, wat dit is om met die Vader in die hemel in gesprek te gaan. En wanneer ons dit doen, dan besef ons – soos Calvyn sê – “dat ons Hom niks belagliks, niks vreemds of onvanpas – kortom: niks wat vir Hom onaanvaarbaar is, vra nie aangesien ons byna uit sy eie mond daarom vra.” Byna uit sy eie mond – ons bid selfstandig, maar tog laat ons ons gebede vorm ooreenkomstig die volmaakte gebed van ons Here Jesus.

Ons let vandag vanuit Sondag 46 op die aanspraak van ons gebed, d.w.s hoe ons ons gebed begin. 

Tema: Christus self lê die Vader-naam op ons lippe. Wie daardie Vader-naam gebruik:

  1. bid tot die lewende God

  2. bid tot die heilige God

1. Tot wie bid ons, broers en susters? Dit is geen onbelangrike vraag nie. Immers, ons het alreeds vanuit Sondag 45 gesien dat dit een van die vereistes van ‘n aanvaarbare gebed is, naamlik dat ons slegs die enige ware God moet aanroep, soos wat Hy hom in sy Woord geopenbaar het. Dus, ons moet baie goed bewus wees tot wie ons bid. Hier lê dan ook dikwels een van die eerste probleme van mense se gebedslewe, naamlik dat hulle nie meer deeglik weet met wie hulle praat nie. Ja, hulle glo dat daar iets is, ‘n hoër mag wat regeer. Of hulle roep ‘n opperwese aan. Maar in die praktyk van die daaglikse gebed word duidelik dat só ‘n gebed nie werklik suksesvol kan wees nie.

Maar ook by ons kom hierdie probleem voor, broers en susters, miskien meer verfynd, maar tog… Dit kan naamlik gebeur dat God vir ons ‘n dogma word, ‘n leerstuk in ons koppe. God is daar, ons weet van hom – hoe kan dit dan ook anders as jy sewe jaar lank by Johannes Calvyn skool gegaan het, sewe jaar se katkisasie deurloop het en elke dag verskeie kere uit die bybel lees. Natuurlik weet jy wie God is. Maar intussen, wanneer jy saans jou oë toemaak om te bid, voel dit asof jou gebed nie verder kom as die plafon nie. Jy bid, ja, maar jy ontvang niks nie; jy soek, maar jy vind nie; jy klop, maar daar word nie oopgemaak nie. Broers en susters, besef baie goed dat jou gebed reg aan die begin alreeds ‘n mislukking kan wees, dat jou gebed by die eerste woorde alreeds kan platval. Wie nie weet tot wie hy bid nie se gebed beland in ‘n lugleegte. En wie weet, dalk bereik dit êrens ‘n god… 

Maar die Skrif leer ons anders; die Skrif leer ons, dat wie reg bid, nie in ‘n lugleegte bid nie, nie tot die ‘niks’ bid nie. Nee, wie reg bid, aanbid ‘n baie spesifieke God, naamlik die Lewende God, die God wat lewe! En dit is nou presies wat Jesus, nadat Hy aan sy dissipels die volmaakte gebed geleer het, vir hulle wil duidelik maak. Want Jesus weet dat die “Onse Vader” so maklik sleur kan word, dat die aanspraak ‘onse Vader’ so gou ‘n niksseggende aanspraak kan word; so gou word ook die volmaakte gebed in die lugleegte gebid tot iemand wat ons nie meer ken nie. En daarom vertel Jesus aan sy dissipels ‘n kort gelykenis om vir hulle te leer by Wie hulle aankom wanneer hulle hierdie gebed bid.

Gemeente, die gelykenis wat Jesus vertel, gaan oor iemand wat by ‘n vriend kom aanklop vir brood, omdat ‘n ander vriend, wat op reis is, in die middel van die nag by hóm opgedaag het, en huisvesting en kos nodig het. Huisvesting was nie ‘n probleem nie, maar brood het hierdie man skynbaar nie meer gehad nie.  

Voordat ons verder gaan met Jesus se toepassing van hierdie gelykenis, net ‘n kort ompaadjie… Lyk die gelykenis nie vir u ook effens omslagtig nie. Hoekom vertel Jesus nie maar eenvoudig dat ‘n man op reis gegaan het en vir homself by sy vriend gaan brood vra het nie – een op een, baie eenvoudig? Hoekom moet dit nou juis so wees dat ‘n man by sy vriend opdaag, en dat hý nou weer by ‘n ánder vriend moet gaan brood vra? Is daar nie ‘n vriend te veel in die verhaal nie? Broers en susters, dit mag omslagtig lyk, maar hierdie skynbare omslagtigheid leer ons iets baie belangriks oor die gebed, en dit is dat ons nooit individualisties vir brood vra nie; dit is nooit net ‘ek’ nie. Ons bid altyd in gemeenskap met mekaar en ten behoewe van mekaar. Die gelykenis teken vir ons pragtig die verbondenheid van ‘n reisende vriend wat brood nodig het met ‘n ontvangende vriend wat bereid is om vir hom brood te gaan vra. Die middelman gaan klop by sy vriend aan ten behoewe van sy ander vriend. En sy versoek is daarom in wese ook in die meervoud: ons – ek het brood nodig vir my vriend, en my vriend het brood nodig want hy is op reis. Ons het jou hulp nodig! Daarom dat Jesus ook die volmaakte gebed begin met: Onse Vader. Let dus daarop, gemeente, dat u gebede altyd gemeenskap-gerig behoort te wees. Natuurlik is die gebed diep persoonlik, maar die gebed is ook altyd in verbondenheid met die ander gelowiges wat u gebed nodig het! Maar dit daar gelaat. Terug na die gelykenis… 

Hier is dus ‘n man wat by sy vriend kom brood vra vir ‘n ander vriend wat by hom oornag. Hoe reageer die man aan die binnekant van die huis? Sê hy: “Moenie my lastig val nie; die deur is al gesluit, en my kinders is saam met my al in die bed; ek kan nie opstaan om vir jou te gee nie”? Is dit sy reaksie? Nee, sê Jesus, hierdie man sál opstaan om die gevraagde drie brode aan sy vriend te gee. Ook al doen hy dit nie omdat dit sy vriend is wat dit van hom vra nie, sal hy dit nogtans doen vanweë die onbeskaamdheid / die vrypostigheid van hierdie vriend om hom in die middel van die nag te kom wakker klop. En die kloppende vriend weet dit, en daarom het hy ook gekom. Die hoofstrekking van hierdie gelykenis gaan dus oor die vertroue wat met die vraag vir brood gepaard gaan. Die vraer reken op ‘n positiewe reaksie van sy vriend; die vraer reken op vriendediens! 

En hiermee wil Jesus ons iets leer oor die aard van die God tot wie ons bid. Die God tot wie ons bid, is soos die vriend in die huis. Nee wag, Hy is nog meer as die vriend, Hy is die Vader in die hemel. En, sê Jesus terwyl hy na die skare voor Hom kyk, wie van die vaders hier voor My sal ooit iets skadeliks gee aan sy vraende kind? Dit is tog ‘n retoriese vraag!? Hoe die vraag vir brood, of ‘n vis, of ‘n eier ook al beantwoord mag word, nooit sal dit met ‘n klip, of ‘n slang, of ‘n skerpioen beantwoord word nie; nooit sal ‘n ouer sy vraende kind op dié manier beantwoord nie. Dit sit nie in die natuur van pa of ma om vir hulle kinders doelbewus slegte dinge te gee nie. Inteendeel, hulle soek vir hul kinders die beste! Nou, as dit alreeds geld vir aardse ouers – pappas en mammas wat sondig is en foute maak – as dit alreeds vir hulle geld, hoeveel te meer sal die hemelse Vader (wat slegs goed is) goeie dinge gee aan dié wat Hom vra. Elke gelowige bidder mag dus met die grootste vertroue en vrymoedigheid na hierdie Vader toe gaan – met ‘n groter vrymoedigheid as wat die man in die gelykenis na sy vriend toe gegaan het. Die gelowige bidder wat na hierdie Vader gaan, bid nie verniet nie, soek nie vrugteloos nie, en klop nie tevergeefs nie. Want die Vader aan die ander kant van die gebedsdeur is die Lewende God!  

Die Lewende God – gemeente, daarmee bedoel ek dat daar lewe is in hierdie Vader, Hy het ‘n hart; hoe anders dink u het Hy sy eie Seun gegee om sondaars te red? Die Vader wat ons aanbid, is nie onbeweeglik en emosieloos nie. Wanneer ons bid, dan laat dit Hom nie koud nie; wanneer ons soek, dan verberg Hy homself nie vir ons nie; wanneer ons klop, dan hou Hy homself nie doof nie. Hoe is dit in elk geval moontlik? “Sou Hy wat die oor plant, nie hoor nie, of Hy wat die oog formeer, nie sien nie?” (Ps. 94:9). Natuurlik, as ons tot Hom roep, dan is sy hart bewoë oor ons, soos wat die profeet Hosea daaroor praat in hoofstuk 11:8: “Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel? Hoe kan Ek jou maak soos Adma, jou gelykstel met Seboïm: my hart is omgekeer in My, tegelykertyd is my medelyde opgewek.”  Ja, hierdie God ontferm Hom oor ons: “Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees” (Ps. 103:13).

En selfs wanneer die volk gesondig het, en die Here homself van hulle afgekeer het, dan beroep Jesaja hom spesifiek op hierdie vaderlike bewoënheid van die Here. Hy sê in hoofstuk 63:15: “Waar is u ywer en u magtige dade? Die ontroering van u binneste en u barmhartighede het hulle jeens ons ingehou.” En dan vervolg hy in vers 16: “Want Ú is ons Vader! Want Abraham weet van ons nie, en Israel ken ons nie. Ú, o HERE, is ons Vader…” Jesaja weet dus baie goed wat om te sê om God diep te tref – hy beroep hom op God se binneste, die hart van sy Vaderskap. In daardie Vaderhart léwe dit, is daar voortdurende beweging van emosies jeens die kinders wat Christus deur sy bloed verwerf het.  

Gemeente, wie dus hierdie Vader aanroep, roep nie in ‘n lugleegte nie. Sodra die gelowige gebed tot “onse Vader” opgaan, begin sy hartsnare te roer. Want hierdie God lewe; Hy is dáár om na ons te luister. Ons kan op Hom vertrou, ons kan na Hom toe vlug, ons kan onsself vir Hom gee – ons sorge, ons vrae, ons hartseer, ons vreugdes. Ons mag dit alles by Hom bring, en dit ook daar laat. Gemeente, ken jou lewende Vader, weet Wie Hy is in en deur Jesus Christus, sodat jy reg aan die begin van jou gebed alreeds mag weet dat jy ‘n luisterende oor het.

Wees baie bewustelik besig met die opening van jou gebed, die aanspraak. Ons begin nie maar net met ‘onse Vader’ omdat ons nou eenmaal êrens moet begin nie. Die gevaar van sleur is hier baie dreigend, en wie met in sleur die Vader-naam gebruik, sondig teen die derde gebod – die ydellike gebruik van God se Naam. Weet wie jy aanbid, en dan mag jy ook met kinderlike vrees en vertroue verder gaan.

Vervolgens: wie daardie Vader-naam gebruik, bid nie slegs tot die lewende God nie, maar ook tot die heilige God. 

2. Onse Vader… ja, wat in die hemel is. Hierdie laaste woorde is in sommige Griekse tekste van Lukas 11 weggelaat – dan staan daar slegs ‘onse Vader’. En volgens verskeie geleerdes moet ons eintlik hierdie korter lesing volg. Want die langer lesing met die woorde “wat in die hemel is” is volgens hulle te plegtig en dit skep afstand. Daarteenoor is die weergawe wat slegs ‘onse Vader’ het, baie intiemer en vertrouliker. Nou het ons reeds in die eerste punt gesien hoe intiem en vertroulik die omgang met ons Vader is en mag wees – daaroor hoef daar by ons geen twyfel te bestaan nie.

Maar beteken dít dat ons maar die ander woorde kan weglaat? Is die feit dat God in die hemel is, onbelangrik vir ons gebedsaanspraak? Nee, gemeente, die woorde “wat in die hemel is” wys ons op ‘n aspek van God wat ons nie mag verwaarloos nie. Wanneer ons die lewende God aanroep, dan moet ons weet dat ons daarmee tegelykertyd ook die heilige God aanroep.  

Die heilige God – heilig, dit beteken ‘hoog verhewe’. Só hoog en só verhewe dat ons dit nie kan bevat nie. Hy is so groot dat ons eintlik maar net kan stotter: God is … GOD! Ons kan Hom nie meet nie, ons kan Hom nie êrens in ‘n groep of kategorie indeel nie. Soos die Here self in Jesaja 40:25 sê: “By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees, sê die Heilige.” En daarteenoor is ons mense stof en as. Het ons enige reg om Hom persoonlik aan te spreek, om in gebed voor sy troon te nader?

Hierdie vraag word nog klemmender wanneer ons besef dat die sonde – ons sonde – die afstand tussen God en mens nog verder vergroot het. Want heilig, dit beteken nie slegs hoog verhewe nie, maar ook vlekkeloos, sonder sonde. By die Here word daar geen onreg gevind nie, en die bose mag by Hom nie vertoef nie. En as ons dit besef dan word die moontlikheid om tot God te nader nog kleiner. Want ons is nie heilig nie, in ongeregtigheid is ons gebore en in sonde het ons moeders ons ontvang. Die gesindheid van ons vlees is onheiligheid, vyandskap teen God.  

Broers en susters, ons moet met hierdie kant van God deeglik rekening hou. Ons kan dit nie maar net ligvaardig ignoreer met die gedagte dat die Heilige ons onheiligheid sal ignoreer nie. Wie soos Jesaja die driemaal Heilige God gesien het – heilig, heilig, heilig – daardie persoon kan nie eenvoudig maar net voortgaan nie. Nee, daardie persoon roep saam met Jesaja: “Wee my, ek is ‘n man onrein van lippe…” (Jes. 6:5). Ons moet deurdronge wees van die heiligheid van God, broers en susters.

Maar het daarmee ons gebed nou onmoontlik geword? Het dit daarmee onmoontlik geword om tot God te nader? Is die kloof nie te groot tussen die heilige God en onheilige mensies nie?  

Dit sou inderdaad so gewees het as God se heiligheid nie ook ‘n ander kant gehad het nie. God is immers nie slegs heilig in sy sondeloosheid en heilig in sy toorn oor die sondes nie, maar Hy is ook heilig in sy liefde en in sy ontferming. Hy is in sy geheel die Heilige! Hy het in sy heiligheid gesorg dat die monsterverbond wat die mens met die duiwel gesluit het, verbreek word: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad.” Hy het in sy heiligheid sy volk deur die Rooi See gelei, sodat hulle kon sing: “o HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen?” (Ex. 15:11). Hy het in sy heiligheid die volk, wat ballingskap in die gesig gestaar het, getroos met die woorde: “By wie sou julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? Sê die Heilige” En dan vervolg Hy net daarna: “Ek (die Heilige) gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie” (Jes. 40:25 en 29). En Hy het uiteindelik in sy heiligheid sy eniggebore Seun gestuur omdat Hy die sonde nie kon verdra nie; dit moes weggeneem word, sodat sondige mense weer heilig kon word. Broers en susters, só heilig is God… tot ons verlossing! 

Dus, is God se heiligheid slegs verskrikking? Is dit ‘n belemmering vir ons gebede? Nee, want in sy heiligheid het God die deure van sy hemelse heiligdom, wat vanweë ons sondes toegegaan het, weer oopgemaak en gesê: “… roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer” (Ps. 50:15).

Ja, ons God is hoog verhewe, want Hy is heilig. Ons God is sondeloos, want Hy is heilig. Maar Hy is ook die God wat groot dinge doen vir sy volk, want Hy is heilig. Hy troos en Hy maak lewend, want Hy is heilig. “Laat ons daarom [soos die Hebreërskrywer sê] met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” In kinderlike vrees, want Hy is heilig. In kinderlike vertroue, want heilig is sy Naam.  

Gemeente, laat ons dankbaar wees vir hierdie heilige kant van God. ‘n Kant wat ons laat besef dat die God tot wie ons bid nie sommer ‘n-vriend-op-gelyke-vlak is nie. Hy is die Skepper, ek die skepsel; Hy is die volmaakte, ek die sondige. Maar hierdie heilige kant van God het ook gesorg dat die hemel weer oop is bo ons. God se heiligheid was die enigste manier om die geslotenheid wat die sonde gebring het, te deurbreek. Sy heiligheid is ons redding, sy heiligheid maak dit vir ons moontlik om te kan bid. Sy heiligheid is een en al krag wat werksaam is vir sy kinders.

Gebruik daarom die Vader-naam, beoefen met Hom die innige verbondenheid wat in Christus vir ons ‘n werklikheid geword het. En die kinderstem wat in geloof roep, bring die Vader in beweging. Hy gaan oor tot aksie, Hy kom op vir ons! En Hy kan dit doen, want Hy is nie die vader wat wil help, maar wie se hande gebind is deur onvermoë nie. Nee, Hy is die Vader wat in die hemel is – so bid ons. En dan bedoel ons met die hemel nie in die eerste plek die gebied waar God woon nie; God kan immers deur niks ingeperk word nie. Nee, wanneer ons bely dat ons Vader in die hemel is, dan sê ons daarmee: Hy oorstyg die beperkings van hierdie wêreld, Hy is groter as hierdie wêreld, Hy oorsien alles wat in hierdie wêreld gebeur, Hy is magtig om op te tree! Moet daarom ook nooit dink dat u van God die onmoontlike vra nie. Deernis en almag verbind hom skitterend in “Ons Vader wat in die hemel is”!

Amen 

Liturgie (aand) 

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 93
Gebed
Lees: Lukas 11:1-13
Sing Skr. 28:1
Teks: HK, Sondag 46
Preek
Amenlied Ps. 103:7, 10 en 11
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 89:6 en 11
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)