Die Here skenk ‘n psalmboek aan sy gelowiges wat oppad is na die saligheid! 

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2008-01-27
Text: 
Psalm 2:12b
Preek Inhoud: 

Psalm 2:12b

Ds HH van Alten - Sondag 27 Januarie 2008

Lees: Psalm 1 en 2
Teks: Psalm 2:12b
Sing: Sien liturgie

Tema: Die Here skenk ‘n psalmboek aan sy gelowiges wat oppad is na die saligheid.

  1. Die doel van hierdie psalmboek (psalm 1)

  2. Die boodskap van hierdie psalmboek (psalm 2)

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Op 12 Mei 2008 begin die volgende sinode van ons kerkverband. Altyd weer ‘n belangrike tyd vir die kerke. En een van die punte op die agenda is die saak van gesange. Die deputate vir liturgiese musiek, wat met hierdie saak gemoeid is, het van die vorige sinode die opdrag gekry om ‘n aantal gesange te selekteer en vir toetsing aan die gemeentes voor te lê. Dit het hulle gedoen. Augustus/September verlede jaar het ons ‘n seleksie gesange ontvang om te toets; miskien onthou u nog dat die kerkraad u genooi het om ons te help met die toetsing (terloops, daardie uitnodiging staan nog steeds). Nou is die doel egter nie om op hierdie punt die proses van toetsing te bespreek nie. Maar wat ons wel moet besef, is dat die saak van gesange nie een van die makliker agendapunte is nie; hierdie saak maak heelwat emosies onder lidmate los. Sommige verwelkom met vreugde die koms van gesange, want dit gee volgens hulle die moontlikheid om God se groot dade, veral ook sy dade in die Nuwe Testament, nog voller te kan besing. Ander weer stry teen die invoering van gesange, aangesien dit volgens hulle dikwels die eerste tekens van verval in die kerk is. Ten slotte is daar argumente vir sowel as teen die invoering van gesange in die erediens. 

Maar in hierdie hele diskussie “vir of teen gesange” moet ons egter nie die psalms vergeet nie. Die psalms mag nooit die slagoffer word van ons gebrekkige worsteling met die saak van gesange nie. Die psalms is en bly altyd die skatkis van die kerklied. As ons eendag as kerke gesange kry, dan moet dit gesange wees wat voortbou op hierdie skat; en as ons nooit gesange kry nie, wel, dan behou ons nog steeds die skat!

En dáár lê dikwels ons probleem: ons ken die rykdom van die skat nie meer goed genoeg nie. Ons sing nog die deur-en-deur bekende klanke van die psalms, maar ons is nie altyd meer vertroud met die inhoud van die woorde nie. En dit is nie ‘n sing-probleem nie, gemeente. Nee, dit is ‘n lees-probleem. Ons ken die Skrifte nie goed genoeg nie, en daarom word die taal van die Skrifte vir ons vreemd. Dit word vir ons vreemd om met die digter van Psalm 137 te sing: “gelukkig hy wat nou jóú kroos verpletter teen die rots”, of om met die digter van Psalm 139 te sing: “sou ek nie haat van ganser hart wie in hul hoogheid U wil tart? Sou ek my nie met afsku keer van dié wat teen U opstaan, HEER?” Ons sukkel om hierdie woorde oor ons lippe te kry; ons sukkel om die taal van die Skrif na te spreek en ons eie te maak. Hoekom? Omdat ons dikwels nie meer eie is met die volheid van die Skrifte nie. Ons moet daarom weer begin lees en begin luister na die sprekende God! 

Broers en susters, oor minder as vier maande begin die sinode; een van die agendapunte waaroor afgevaardigdes hulle sal buig, is die seleksie van gesange. Maar kom óns leer intussen weer die psalms ken; kom óns leer intussen om die Godgegewe skatkis weer oop te maak en die rykdom te ontdek wat Hy daarin gee. En wanneer ons die psalms leer léés, dan gaan ons hulle ook weer met hart en siel leer síng.

Want die psalms kan ons nooit koud laat nie. Calvyn praat pragtig van die psalmboek as “’n anatomie van alle dele van die siel”. “Want – sê hy – daar is geen emosie wat nie, soos in ’n spieël, hierin verteenwoordig word nie. Die Heilige Gees bring hierin bymekaar alle moeites, hartseer, vrese, twyfels, hoop, sorge, verbystering, kortliks, alle verwarrende emosies waardeur die verstand van mense besiggehou word.” Wie dus in geloof die psalms leer lees, moet homself hierin kan vind, dit kan nie anders nie. Kom ons leer om in die komende tyd weer die psalms te lees en onsself met hart en siel daarin te vind. Ons begin vandag met psalm 1 en 2.

Tema: die Here skenk ‘n psalmboek aan sy gelowiges wat oppad is na die saligheid! 

Voordat ek die verskillende punte noem waarna ons gaan kyk, eers iets oor die woord ‘Psalmboek’, soos ek dit in die tema gebruik. Ons is nie gewoond daaraan om die psalms op dié manier te beskryf nie. Die psalms is mos daar om maklik gelees te word vir allerlei verskillende situasies? As ek byvoorbeeld deur ‘n moeilike tyd gaan, lees ek Psalm 23; as ek oppad gaan, lees ek Psalm 121; wie die Here wil loof vir sy goedheid, lees Psalm 150; en wie swaar gesondig het, lees Psalm 51. Dit is dikwels hoe ons die psalms hanteer, nie waar nie? Ons kies hulle so uit soos wat ons hulle nodig het.

Maar, gemeente, ons maak ‘n fout as ons dink dat die Here sommer ‘n los-vaste klomp liedere gegee het, waaruit ons te kus en te keur kan gryp soos wat die situasie hom voordoen. Nee, die psalms is ‘n boek; dit is ‘n boek met ‘n struktuur – daar is ‘n inleiding en verskillende hoofstukke; daar is ‘n duidelike ontwikkeling in hierdie boek, en ‘n slot aan die einde. En dit is belangrik om dit raak te sien, broers en susters, sodat ons die individuele psalms nie misbruik vir óns doeleindes nie, maar sodat ons dit binne die konteks van die geheel sal verstaan. Kom ons kyk kortliks na hierdie psalm-boek… 

Om mee te begin is daar ‘n inleiding – psalm 1 en 2 (ons kom net hierna weer op hierdie inleiding terug). Vervolgens is daar vyf hoofstukke in die psalmboek, en elkeen van hierdie hoofstukke sluit af met lof op die Here en met ‘n Amen (u kan saam met my blaai). Hoofstuk 1 strek vanaf psalm 3-41, en in psalm 41:14, die laaste vers van hierdie eerste hoofstuk, lees ons dan: “Geloofd sy die HERE, die God van Israel, van ewigheid tot ewigheid! Amen, ja amen” – dit is dus die afsluiting. Hoofstuk 2 beslaan die psalms 42-72, en aan die einde van psalm 72 lees ons: “En geloofd sy vir ewig sy heerlike Naam. En laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word! Amen, ja amen.” Hoofstuk 3 strek vanaf psalm 73-89, waar laasgenoemde psalm afsluit met: “Geloofd sy die HERE vir ewig! Amen, ja amen.” In hoofstuk 4 vind ons die psalms 90-106, en weereens word dit afgesluit met: “Geloofd sy die HERE, die God van Israel, van ewigheid tot ewigheid! En laat die hele volk sê: Amen. Halleluja!” En dan die laaste hoofstuk: psalm 107-150, waar ons aan die einde van psalm 150 die bekende woorde vind: “Laat alles wat asem het die Here loof! Halleluja!” Dit is dan ook tegelykertyd die slot van die boek.  

Ons sien dus vyf duidelik gemerkte hoofstukke met ‘n slot. Verder sou ons ook nog kon aantoon dat daar ‘n duidelike lyn en ontwikkeling in hierdie boek is; die hoofstukke is met ‘n spesifieke rede gerangskik – maar daarvoor is nie nou tyd nie. Eers iets meer oor die inleiding – hoe weet ons eintlik dat psalm 1 en 2 die inleiding vorm? Wel, in die eerste plek kan ons daarop wys dat al die psalms in hoofstuk 1 – dus, psalm 3-41 – as titel het: ‘n psalm van Dawid. Psalm 1 en 2 het egter nie so ‘n titel nie – dus, dit plaas hulle apart van die volgende psalms. En verder is dit ook goed om raak te sien dat psalm 1 en 2 duidelik aan mekaar verbind is. Die herhaling van welgeluksalig in psalm 1:1 en weer in psalm 2:12 omarm hierdie twee psalms sodat dit ‘n eenheid vorm. Ons sou ook nog ander aspekte kon noem, maar die genoemde punte is genoeg om te wys dat psalm 1 en 2 die inleiding van die psalmboek vorm. Alles met alles is daar dus genoeg inligting om ons daarvan te oortuig dat die psalms nie maar ‘n willekeurige saamraapsel van los liedere is nie, maar ‘n duidelik gestruktureerde boek, ‘n Godgegewe eenheid.

Nou terug na die tema van die preek:

Tema: Die Here skenk ‘n psalmboek aan sy gelowiges wat oppad is na die saligheid.

  1. Die doel van hierdie psalmboek (psalm 1)

  2. Die boodskap van hierdie psalmboek (psalm 2)

[Lees eers psalm 1]

1. Terwyl ons hierdie psalm gelees het, het dit u miskien opgeval hoeveel ooreenkomste daar is tussen die taalgebruik van hierdie psalm en die taalgebruik van die wysheidsgeskrifte, spesifiek die boek Spreuke. Byvoorbeeld die woord ‘welgeluksalig’ in vers 1 is uit en uit ‘n wysheidsbegrip, wat ons op verskeie plekke in Spreuke terugvind. En verder is die kontrastering van die weg van die regverdige met die weg van die goddelose ‘n motief wat in al die wysheidsgeskrifte voorkom – die woord ‘weg’ byvoorbeeld kom 75 keer in die boek Spreuke voor. Dus, reg vanaf die begin sluit die psalmboek aan by die wysheidsgeskrifte. Maar wat is die rede hiervoor?

Wel, gemeente, om dit te verstaan, moet ons insien dat die hoofdoel van die wysheidsgeskrifte is om te onderrig. Dink maar net aan ‘n vers soos Spreuke 1:8: “My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie.” Die wysheidsgeskrifte wil aan mense onderrig gee. En daarom ook dat Psalm 1 aan die begin van die psalmboek geplaas is; dit wys vir ons wat die doel van hierdie boek is: hierdie boek wil onderrig. Die psalmboek met sy 5 hoofstukke en sy 150 psalms is ‘n instruksie-boek. En dit word bevestig wanneer ons in Psalm 1:2 lees: “maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag.” Die Hebreeuse woord wat hier met ‘wet’ vertaal is, torah, beteken letterlik ‘instruksie’ of ‘onderrig’. Dus, broers en susters, die gelowiges word sommer reg aan die begin genooi om die psalmboek te lees en te oordink as bron van onderrig en instruksie. Het u al ooit so na die psalms gekyk? Ek is seker die meeste van ons lees die psalms omdat dit vir ons mooi is, en omdat ons daarin troos en bemoediging vind. Heeltemal tereg! Maar probeer dan ook om die geheelbeeld voor oë te hou: die psalmboek is bedoel vir gelowiges oppad na die saligheid. En terwyl ons oppad is, word ons onderrig, ontvang ons instruksie van die Here. Maar… instruksie waarvoor? 

Wel, die Here wil aan die gelowiges instruksie gee om ware geluk te kan verkry. Geluk – gemeente, daar is geen aspek van die lewe wat begeerliker is as geluk nie. Alle mense wil graag gelukkig wees, en daarom streef alle mense na wat hulle dink hulle gelukkig sal maak – goeie gesondheid, ‘n mooi uiterlike, ‘n ideale huwelik, kinders, ‘n gemaklike huis, sukses, beroemdheid, finansiële onafhanklikheid – en u kan maar self aanvul. Maar, opmerklik, nie almal wat hierdie dinge vind, vind ook werklik geluk nie. Wat is dan ware geluk? En hoe verkry ‘n mens dit? Psalm 1 gee antwoorde op hierdie vrae.

Psalm 1 begin naamlik met die woord ‘welgeluksalig’. Welgeluksalig – of anders gestel: gelukkig – is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie…” Wat is hierdie geluk waarvan die digter praat? Om dít te verduidelik gebruik die digter in vers 3 die beeld van ‘n boom: “hy (dit is die persoon wat ware geluk ken) sal wees soos ‘n boom…” Maar nie sommer enige boom nie, nee, “’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie.” Dit is ‘n besondere prentjie wat die digter hier vir ons skilder. Die boom, waarvan die digter praat, is ‘n boom vol lewe; aan alles blyk dat hierdie boom lewendig is – hy staan immers by water, hy gee gereeld sy vrugte, en sy blare is immergroen. En dit is nie sommer ‘n kortstondige lewe wat hierdie boom het nie; nee, dit is ‘n altyd-voortgaande lewe; immers, sy blare verwelk nie. En daarby dra hierdie lewende boom ook gereeld vrugte, hierdie boom vervul dus die primêre doel van sy bestaan.

Broers en susters, mense wat waarlik gelukkig is, is soos hierdie boom – dit is mense wat die lewe optimaal ervaar soos wat die Skepper dit bedoel het; die geluk van hierdie mense dui op ‘n lewe wat werklik sin maak, wat werklik beantwoord aan sy doel, elke dag opnuut. Hierdie geluk dui op ‘n toestand van welsyn op elke terrein van die lewe. En dit is iets wat in hierdie lewe alreeds begin, maar wat uiteindelik sy volheid sal vind in die ewigheid. Só is die mens wat welgeluksalig is, wat waarlik gelukkig is. Daarteenoor staan die kaf, die kaf wat dood is, wat geen doel meer dien nie, en wat deur die wind verstrooi word – só is die lewe van die goddelose.

As ons dus alles saamvat, gemeente, dan kan ons op grond van psalm 1 sê dat die Here, deur middel van die boek van die psalms, aan sy gelowiges wil leer wat ware geluk is; die psalmboek is ‘n instruksie-handboek oor hoe om ‘n waarlik gelukkige lewe te kan lei. En besef goed, dit is nie die geluk wat die wêreld najaag nie; hierdie geluk is nie geleë in uiterlike dinge wat vergaan nie.

Nee, ons sien dit wanneer ons maar net na die geheel van die psalmboek kyk. Leer hierdie instruksie-boek ons op enige punt dat rykdom en aansien en gesondheid die bron van geluk is? Inteendeel, hierdie instruksie-boek leer ons van swaarkry en moeites, dit leer ons van die dal van doodskaduwee en van swaar vervolging, dit leer ons van trane en skuld, van eensaamheid en verlatenheid. Nee, broers en susters, ware geluk bereik ons nie via die patroon van die wêreld nie. Die Here se instruksie tot ware geluk bring soms baie swaar tye, tye waarvan ons nie weet of ons staande kan bly nie. Maar uiteindelik volg tog die vreugde van die geloof; uiteindelik kóm die geluk! Kyk maar net na die ontwikkeling in die psalmboek: die eerste deel van die psalmboek getuig van swaarkry en vervolging, van hartseer en moeite; daardie eerste klomp psalms is vir ons gevoel dikwels baie swaarmoedig. Maar hoe verder ons in die psalmboek vorder, hoe duideliker kom die geloofsvreugde van die digters na vore, hoe meer groei die lof en die eer en die dank aan die Here, totdat dit sy hoogtepunt bereik in die ‘halleluja’ van psalm 150: “Laat alles wat asem het die Here loof. Halleluja!” Dít is ware geluk, broers en susters, om die Here te loof. Dán lewe jy in harmonie met jou Skepper, en vervul jy jou doel as skepsel. Welgeluksalig is hierdie mens! 

Maar, broer en susters, dan moet jy wel besig wees met die instruksie van die Here. Onthou wat ons gesê het: psalm 1 wys vir ons die doel van die psalmboek aan, naamlik dat dit die Here se instruksie is vir ware geluk. Oordink daarom die psalmboek, mediteer daaroor, dag en nag. Studie van die psalmboek is onontbeerlik vir die verkryging van ware geluk – persoonlike studie, maar ook gesamentlike studie. Wees besig met die psalms, sing dit (hardop en in gedagte) en laat dit, soos die boom van vers 3, ook vrugte voortbring in jou lewe van elke dag. Langs hierdie weg van instruksie wil die Here aan jou ware en duursame geluk skenk.

Dit oor die doel van die psalmboek aan die hand van ps. 1: daardeur gee die Here instruksie vir ware geluk. [sing Ps. 78:1-4] Vervolgens kyk ons aan die hand van ps. 2 na die boodskap van die psalmboek. [lees daarna eers psalm 2] 

2. Goed, ons het nou gehoor dat die Here in die psalmboek aan sy gelowiges instruksie wil gee vir ware geluk. Maar hoe weet jy, die gelowige, dat as jy by hierdie instruksie bly, jy ook werklik die geluk sal ontvang? Wat gee jou die versekering? Want die praktyk is dikwels so anders… En jy weet dit miskien maar al te goed. Die praktyk van die daaglikse lewe is dikwels een van seerkry, een van terugslae, een van teleurstellings en aftakeling. Hoe weet ek dat ek die ware geluk sal ontvang? En, gemeente, juis daarom is dit so belangrik om psalm 2 saam met psalm 1 as die inleiding te lees. Want waar psalm 1 gewys het dat God in die psalmboek vir ons instruksie gee vir ware geluk, wys psalm 2 dat Hy die geluk ook kán gee, want Hy regeer! Dit is dan ook die sentrale boodskap van die psalmboek soos dit in psalm 2 beskryf word: God is Koning! En daarom waarborg Hy die ware geluk.  

In die konteks van die Ou Testament was God Koning deur middel van sy gesalfde koning in Jerusalem, op die berg Sion. Hierdie gesalfde koning, naamlik Dawid (en sy nakomelinge), was as’t ware die bemiddelaar van die ware geluk; deur hierdie koning wou God geluk aan sy volk skenk. En daarom word die konings van die omringende nasies, en die regters, in verse 10-12 opgeroep om die Here te dien met vrees, en onderdanig te wees aan Dawid en sy nakomelinge, sodat hulle ook in die geluk kon deel.

Maar hierdie bedoeling van God het in die dae van die Davidiese koningskap nie gerealiseer nie. Die realiteit van daardie dae was dat God se heerskappy deur middel van sy gesalfde nie ‘n onbetwiste heerskappy was nie. Daar was dikwels rebelle. Die digter van psalm 2 praat in verse 1-3 van die nasies en die volke, die konings en die vorste, wat in opstand was teen die Here, wat hulle nie deur Hom en sy gesalfde wou regeer nie. Dawid se koninkryk was dikwels in oorlog gewikkel met die omringende nasies, en daar was selfs tye dat hierdie koninkryk aan vreemde magte onderworpe was. En tóg was die boodskap van Psalm 2 vir Israel dat God in beheer is, ten spyte van die feit dat die omstandighede moontlik anders gesuggereer het. Die boek van die psalms het die Israeliete opgeroep om ‘n lewe te lei van geloof in die regering van God – geloof dat ‘n lewe van ware geluk moontlik is vir almal wat by Hom skuil! 

En, broers en susters, God het dit ook bewys; God het bewys dat Hy in beheer is toe Hy sy Seun na die aarde gestuur het. Hy is die volmaakte Gesalfde, die Messias, die Christus. Hy is die Een wat deur sy werk aan die kruis, deur sy opstanding en hemelvaart, heerskappy ontvang het – nasies het sy erfdeel geword, en die eindes van die aarde sy besitting. God regeer vandag deur hierdie Seun, Jesus Christus. En ook al is daar, ook vandag nog, baie weerstand teen hierdie heerskappy, is dit ‘n sinnelose en futiele weerstand. God lag by die vooruitsig dat die nasies hulle aan sy heerskappy wil ontworstel (vers 4), en in sy toorn wys Hy hulle op sy Gesalfde wat oor alles regeer (vers 5). Hy sal alle rebelle verpletter met ‘n ysterstaf, Hy sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot (vers 9). Ja, broers en susters, die realiteit van hierdie wêreld is dat Christus regeer! Ook al wil die wêreldheersers en die volkere dit nie erken nie, ook al dink hulle dat hulle dit self sal regkry, elke keer maar weer wys Christus dat Hy regeer, deurdat daar dinge gebeur waaraan die mense niks kan doen nie, deurdat daar dinge gebeur waardeur die mense op hulle knieë gebring word.  

Maar weereens, die praktyk is dikwels nog so anders. En die psalmboek reflekteer ook hierdie realiteit. Lees maar, ná die pragtige en vertroostende inleiding, verder in psalm 3. Hier tref ons ‘n skreiende kontras met die belydenis van God se regering in psalm 2. Psalm 3 se opskrif is: “‘n Psalm van Dawid toe hy gevlug het vir sy seun Absalom.” Is dit nou die gesalfde van die Here, aan wie die Here ware geluk belowe het? Is dit nou die gesalfde deur wie die Here regeer? En psalm 3 is nie die enigste met hierdie negatiewe toon nie. Wat van psalm 5: “o HERE, luister na my woorde, let op my versugtinge. Gee ag op die stem van my hulpgeroep…” En luister na psalm 7: “… verlos my van al my vervolgers en red my; sodat hy nie soos ‘n leeu my verskeur en wegruk sonder dat iemand red nie.” En wat van psalm 13: “Hoe lank, HERE, sal U my altyddeur vergeet? Hoe lank sal U vir my u aangesig verberg?”

Dit wat ons beleef is dus dikwels baie anders as die belydenis in psalm 2. En tog gee die psalmboek ook hierin perspektief, want aan die einde van die psalmboek vind ons weereens die hoë tone van lof: “Die HERE is vir ewig Koning; jou God, o Sion, is van geslag tot geslag! Halleluja!” (Ps. 146:10) “Laat hulle die Naam van die HERE loof! Want sy Naam alleen is hoog; sy majesteit is oor aarde en hemel (Ps. 148:13). “Laat die kinders van Sion juig oor hulle Koning! (Ps. 149:2).  

Dus, gemeente, reg aan die begin, in psalm 2, is daar die belydenis: God regeer deur Jesus Christus. En van daar af sien ons ‘n beweging; ‘n beweging van klag tot lof, van lyding tot heerlikheid. Wanneer ons op dié manier na die hele psalmboek kyk, dan leer ons dat, alhoewel die ware geluk wat in die instruksie van psalm 1 aangebied en in die Godsregering van psalm 2 gewaarborg word, nie op elke punt van die lewensweg ervaar word nie, dit nogtans sekerlik die bestemming is van sowel Israel as die nasies. Ons bestemming is glorie, omdat ons Koning vandag alreeds regeer! Gemeente, lees met hierdie vaste belydenis die psalms. Huil saam met die digter trane van hartseer, bely saam met die digter u sondes, roep saam met die digter om hulp tot God. Maar bly in dit alles onwankelbaar vashou: die ware geluk is ons s’n deur Jesus Chrisus, ons Koning.  

Dus, gemeente, die inleiding tot die psalmboek leer vir ons 1. die doel van die psalmboek, naamlik dat God vir ons instruksie wil gee vir die ware geluk, en 2. die boodskap van die psalmboek, naamlik dat God in beheer is en dat die ware geluk, ten spyte van die realiteit, binnekort deur Hom verwerklik sal word. Met hierdie inleiding as basis delf ons binnekort verder in die skatkis van die Psalms.

Amen 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 67
Wetslesing
Gebed van skuldbelydenis
Sing Ps. 32:1, 3 en 6
Preek

    • Lees Psalm 1 voor eerste punt
    • Sing Ps 78:1-4
    • Lees Psalm 2 voor tweede punt
    • Amenlied Ps. 99:1-3

Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 98:2-4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)