Lewe toekomsgerig!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2008-01-06
Text: 
2 Petrus 3:13-14
Preek Inhoud: 

2 Petrus 3 : 13-14

Ds HH van Alten - Sondag 6 Januarie 2008

Lees: 2 Petrus 3
Teks: 2 Petrus 3 : 13-14
Sing: Sien liturgie

Tema: Lewe toekomsgerig! Daarvoor is nodig:

  1. ‘n Duidelike beloftebesef
  2. ‘n Suiwer normbesef

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die tyd rondom die draai van die jaar is altyd ‘n tyd wat mense gebruik om te reflekteer en te besin. Dit is asof mense daarin slaag om rondom Kersfees en nuwejaar hulleself vir ‘n wyle uit te lig bo die voortsnellende rivier van die lewe en ‘n oorsig te kry van die jaar wat verby is, asook wat hulle van die nuwe jaar verwag. Mense staan vir ‘n oomblik terug, hulle dink na oor die lewe en die sin van die lewe, maak voornemens van wat hulle sou wou verbeter, en hulle werk aan verhoudings waarvoor daar andersins nie tyd was nie. Dit is asof mense rondom die tyd van die jaarwisseling net in ‘n totaal ander sfeer lewe – en jy sien dit in die manier waarop mense met mekaar omgaan.

Maar goed, hierdie tyd lê ook al weer agter ons; vir die jaar 2007/2008 is hierdie besinningstyd iets van die verlede. Vir baie van ons begin die normale lewe hierdie week weer; Woensdag begin die skole weer, en voor ons ons oë uitvee is ook die kerklike lewe weer voluit aan die gang. Min tyd om dan nog te besin… En dan is dit asof ons lewens, wat tydens die feesseisoen vir ‘n kort tydjie op ‘n hoër vlak gekom het – ‘n vlak waarop ons perspektief kon kry op waarvandaan ons kom en waarheen ons oppad is – dan is dit asof ons lewens skielik weer neerplons in die stroomversnelling van die gewone lewe. Daar gaan ons weer: eet, werk, slaap; eet, werk, slaap; en almal spartel verwoed om kop bo water te hou.  

Gemeente, ‘n vraag wat dan onwillekeurig na vore kom, is: is ons as kerk, en as individuele gelowiges, anders? Kán ons in ons gejaagde wêreld nog anders wees, of word ons eenvoudig deur die stroom saamgetrek? Of, kom ons stel die vraag op ‘n ander manier: doen ons nog moeite om anders te wees as die wêreld? Hoe hanteer ons, as christene, ons gang deur die geskiedenis? Dus, wat is ons lewensuitkyk wanneer die son opkom en ‘n nuwe dag aanbreek, of wanneer die son ondergaan en die aandskemer om ons daal? Hoe lewe ons binne die tyd wat gedurig aan die voortskry is na… Ja, waarheen eintlik? Broers en susters, hierdie soort vrae is die fokus van die Woordverkondiging op hierdie eerste Sondag van 2008. 
 

Tema: Lewe toekomsgerig! Daarvoor is nodig:

  1. ‘n Duidelike beloftebesef

  2. ‘n Suiwer normbesef

1. In die eerste gedeelte van hoofstuk 3 waarsku Petrus sy lesers teen – wat hy noem – “spotters … wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel.” Volgens die apostel sal hierdie spotters aan die einde van die dae hulle opwagting maak. Die einde van die dae – broers en susters, dit is presies die tyd waarin Petrus se lesers gelewe het; immers, vanaf Jesus se hemelvaart alreeds lewe die gelowiges in die laaste dae, en hierdie laaste dae sal voortduur tot by die wederkoms van Jesus Christus. En dit is in hierdie periode wanneer die spotters hulle opwagting sal maak. Die verskyning van hierdie spotters moes Petrus se lesers dus voortdurend daaraan herinner het dat hulle aan die einde van die dae lewe, dat hulle hulself in die laaste fase van die geskiedenis bevind, dat die geskiedenis alreeds ‘n vergevorderde stadium bereik het – ook al was dít nou presies wat die spotters betwyfel het.

Ja, gemeente, die spotters het betwyfel of die einde ooit gaan kom. Hulle het gesê: “Waar is die belofte van die wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af” (vers 4). Volgens hierdie spotters het daar vanaf die skepping en sedert die dae van die aartsvaders niks noemenswaardig in die wêreld gebeur nie. Ja, God het wel belowe dat Hy sou kom, maar in al hierdie eeue het hulle nog niks daarvan gesien. Daarom het hulle hulself en ander gerus gestel dat dit ook nie meer sou gebeur nie, en dat hulle daarom maar volgens hulle eie begeerlikhede kon wandel. Wat hierdie spotters dus in wese in twyfel getrek het, was die betroubaarheid van God se belofte! Is die Here se woord ooit betroubaar? Kan ons regtig staatmaak op sy woord? 

Maar, sê Petrus vir hierdie spotters, nie so vinnig nie; julle vergeet iets baie belangriks. En dit is dat die hemel en die aarde juis deur hierdie einste woord van die Here ontstaan het, en in stand gehou word. Julle dink God is onbetroubaar omdat daar niks noemenswaardigs op die aarde gebeur nie; wel, presies dít, naamlik dat die aarde nog bestaan, is die bewys dat God se woord dit in stand hou! En dan gee Petrus vervolgens ‘n pragtige illustrasie hiervan.

Kyk maar na die skeppingsgebeure, sê hy. Daar sien ons dat die aarde deur God se woord uit die water te voorskyn gekom het. Die Here het naamlik op die tweede skeppingsdag gesê dat daar skeiding moes kom tussen die water bo die uitspansel en die water onder die uitspansel. Verder het Hy op die derde dag gesê dat die water onder die uitspansel hulle op een plek moes versamel, sodat die droë grond sigbaar geword het. God het dus deur sy wóórd aan die water sy grense gestel – boontoe, maar ook sywaarts – sodat die aarde sigbaar en bewoonbaar geword het. En daardie hele sisteem van waterskeiding word gedra deur God se almagtige woord! As bewys hiervan, sê Petrus, kan ons maar net kyk na die geskiedenis van die sondvloed – dáár het God toegelaat dat die waterdigte skeiding, wat Hy deur sy woord gehandhaaf het, vir ‘n tyd lank opgehef word, sodat die ewewig van die kosmiese watertoestand verbreek is. Waar die vroeëre wêreld bly bestaan het terwyl dit deur water omring is, het dit by die sondvloed onder water gekom.

Gemeente, wat Petrus hier wil sê, is dat die skepping nie deur eie krag ontstaan het nie, en dat dit ook nie op eie krag voortbestaan nie. Dit is nie so – soos wat die spotters beweer – dat die skepping maar eenvoudig op eie krag voortstoom nie. Nee, God die Skepper kan deur sy wóórd die skepping maak of breek. Sodra Hy die stabiliteit van sy woord onder hierdie wêreld wegneem, dan verloor dit sy ewewig. Dan verdrink die aarde in die water en word die kosmos ‘n chaos. Altyd weer bly die woord van die almagtige God die draende beginsel van die wêreld. Onthou dít, julle spotters, wat sê dat God nie sy woord hou nie! Die hele skepping word gedra deur God se woord – dit geld van die wêreld vóór die sondvloed, maar dit geld ook van die huidige wêreld… 

Want, sê Petrus in vers 7: “… die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.” Deur dieselfde woord! Dieselfde woord van God wat die eertydse wêreld teen die water beskerm het, beskerm nou die aarde teen die vuur van God se oordeel. Maar die teendeel is ook waar: net soos wat die Here eertyds toegelaat het dat water die wêreld oorspoel het, so gaan daar ‘n tyd kom dat Hy aan die vuur die vryheid gaan gee om te verwoes, en die ondergang van die goddeloses te bewerkstellig. Dit is wat die Here op verskeie plekke deur die profete belowe het. Of die spotters dit nou raaksien of nie, dit gáán kom!

Die hele geskiedenis van die skepping, broers en susters, hang dus af van die sprekende God. God se woord is beslissend vir die toekoms van die wêreld. En daarom skaar ons ons nie by die spotters wat net afgaan op wat hulle sien – of nie sien – nie. Nee, ons skaar ons by die gelowiges wat volgens sy belofte – sy wóórd – nuwe hemele en ‘n nuwe aarde verwag, waarin geregtigheid sal woon. Dít is dan ook wat ons nodig het, gemeente, om in 2008 werklik toekomsgerig te kan lewe: ‘n duidelike besef van die beloftewoord van die Here! 

En ja, dit is waar, dit is nie altyd ewe maklik om op hierdie belofte te bly bou nie; Petrus weet ook dat hierdie moeites onder sy lesers lewe. Immers, dit duur al so lank sedert daardie belofte gegee is, en nog steeds sien ons nie die vervulling daarvan nie. Ons sien nog nie die ondergang van die goddelose nie, ons sien nog nie hoe geregtigheid seëvier nie. En intussen wag ons … vir ons gevoel tevergeefs!

Maar nee, sê Petrus, ons moenie God se belofte in óns tydraamwerk inforseer nie, want by die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. Petrus gebruik hier ‘n sin uit Psalm 90 om te wys dat die Goddelike klok anders tik as ons klok. Vanuit menslike oogpunt lyk dit asof God traag is om die belofte na te kom, maar volgens God se tydsberekening is hier nie van vertraging sprake nie. Nee, die Here van die belofte – so staan dit letterlik in vers 9 – die Here van die belofte vertraag nie die belofte nie. Hy sal sekerlik doen wat Hy belowe het, maar as Here van die belofte is Hy volkome vry om dit te doen op die tyd en die wyse wat Hy goed dink. Wanneer die spotters daarom vra wat daar van God se beloftes geword het, dan antwoord Petrus dat God nie traag van aard is nie. Nee, as Here van die belofte staan Hy waarborg vir sy beloftewoord.

Maar hoekom duur dit dan so lank? Omdat God vir die mense wag! Dit is dus nie – soos wat die spotters beweer het – húlle wat tevergeefs vir Gód gewag het nie, maar dit is God wat vir ménse wag! Hy wag geduldig, soos wat ‘n vader wag vir sy kind wat sloer. Die ewige God het langdurige geduld, en in sy geduld skep Hy ruimte in die tyd sodat mense geleentheid kry om hulleself tot Hom te bekeer. God se geduld is ‘n voortdurende appél op mense om hulle tot Hom te bekeer. Dit is veral ‘n appél op ons, broers en susters, ons wat die belofte ken, ons wat daarmee opgevoed is. Bekeer jou daagliks tot die Here! Elke nuwe dag in die geskiedenis van hierdie wêreld is ‘n kans tot bekering, van ‘n God wat nie wil hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering kom!  

En tóg is God se geduld nie eindeloos nie. By Hom is dit nie so dat van uitstel afstel kom nie. Lees maar vers 10: “Maar die dag van die Here sál kom…” Hierdie dag van die Here sal ‘n wêreldwye brand bring waardeur aan die sonde en goddeloosheid definitief ‘n einde gemaak sal word. Die ou gebou van die teenswoordige wêreld word deur God onbewoonbaar verklaar en gesloop. Slegs op die puinhope van die ou wêreld kan God se belofte van ‘n nuwe wêreld gerealiseer word. Die ontbinding van die wêreld in sy huidige gedaante lei, volgens God se belofte, na ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon. Dít verwag ons, broers en susters.

Moet u self daarom nie blindstaar op wat daar in hierdie wêreld gebeur nie – waar dit lyk asof mense oorgeneem het, waar dit voorkom asof mense kan doen wat hulle wil sonder dat hulle gestraf sal word, waar dit voorkom asof God nie meer ‘n deel van die groter plan van hierdie wêreld is nie. Moenie u oog daarop vestig nie – en dit gebeur wanneer ons meer die koerante lees as wat ons die bybel lees. Want as ons dit doen, is die gevaar baie groot dat ons binnekort soos die spotters gaan begin dink, dat ons gaan begin dink dat ons maar kan lewe soos wat ons wil, dat ons ons nie meer oor God en sy beloftes hoef te bekommer nie, dat God eintlik maar ‘n onbetroubare God is – en die gevolg is dat ons onsself begin stort in die stroomversnelling van die lewe, waarvan ek in die inleiding gepraat het; ons begin deelneem aan die dolle gejaag van ons 24-uur ekonomiese en sosiale lewe. Maar nee, om op ‘n daaglikse basis – dus, om vandag die 6de Januarie 2008, en môre die 7de Januarie, en oormôre die 8ste Januarie, ensovoorts – om só konkreet soos dít nuwe hemele en ‘n nuwe aarde te verwag, vra van ons dat ons ‘n duidelik beloftebesef sal hê, dat ons geloofsoë hulle voortdurend sal rig op die belofte van die Here! Wie in God se belofte glo, verwag elke nuwe môre dat vandag die dag is van die realisering van daardie belofte. En hy lewe ook so asof elke dag die laaste kan wees! Of dalk moet ons dit anders stel: hy lewe so asof elke dag die begin kan wees van God se nuwe wêreld! 

Maar, let op gemeente, om dít te verwag beteken nie om passief te sit en afwag nie. Nee, Petrus sê in vers 12 dat diegene wat die dag van God verwag, daardie dag selfs kan verhaas. Dus, wanneer ons elke nuwe dag die groot dag van God verwag, dan is ons ook aktief betrokke by die koms van daardie dag. Wanneer ons onsself elke dag bekeer en in ons daaglikse leefpatroon en in ons gebede onsself op die koms van die koninkryk instel, dan is God sekerlik in staat om in sy Goddelike tydsrekening ‘n duisend jaar saam te pers tot een dag! Rig jouself op God se beloftes, lewe met sy beloftes – en sien hoe jou fokus verskuif van die huidige hemel en aarde na die nuwe hemel en aarde!

Om toekomsgerig te kan lewe, is vervolgens nodig: ‘n duidelike normbesef. 

2. Broers en susters, Petrus beskryf in verse 10-12 in helder beelde hoe die dag van die Here gaan aanbreek. Die aanbreek van God se dag het ingrypende konsekwensies vir hemel en aarde. Hemel en aarde is immers die dekor van die wêreldgeskiedenis. Alles wat mense doen, speel hom af op die werkvloer van hierdie aarde en onder die huidige hemelgewelf. Maar hierdie dekor sal nie vir ewig vir die mens vaste grond onder sy voete en ‘n veilige dak bo sy kop bied nie. Op God se groot dag sal die hele gebou van hemel en aarde in sy huidige konstruksie afgebreek word. Kom ons kyk wat Petrus hieroor sê, en probeer u self inleef in die heftigheid daarvan… 

Wat die hemel betref, lees ons in vers 10 dat dit “met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan.” Dit wil amper voorkom asof die hemel soos ‘n groot boekrol opgerol word; dit gebeur egter nie geruisloos nie. Nee, knetterende vlamme laai hoog op; die vuur van God se gerig laat hierdie enorme boekrol opkrul. Daarby word ook die sterrestelsel ontwrig; die son verberg sy gesig en die maan verander van kleur. Sterre val van die hemel af soos herfsblare van ‘n boom afval. Die hele firmament is in vuur en vlam, sodat die hitte van die wêreldbrand kookpunt bereik.

Vervolgens, wat die aarde betref, lees ons dat die aarde en die werke daarop sal verbrand. Soos in oorlogstyd die taktiek van die verskroeide aarde toegepas word, só sal eendag op hierdie aarde alles tot die grond toe afgebrand word. Die versengende hitte van die vuur sal alles op aarde verteer en ontbind. Dit geld ook vir die werke op die aarde, die menslike dade dus.

En, gemeente, God se oordeel móét ook so ingrypend en rampspoedig wees vanweë die enorme skade wat in sy skepping deur die goddelose werke van mense aangerig is. Petrus besef dat God se oordeel oor die sonde in die wêreld so diep ingryp dat ‘n wêreldwye brand nodig is om aan alle goddeloosheid radikaal en definitief ‘n einde te maak. Die vuur van God is ‘n oordeelsvuur, dit is ‘n soewereine daad van God waardeur alle sonde en goddeloosheid verdelg word.  

Hoekom hierdie beskrywing, broers en susters? Wel, dit is vir Petrus geweldig belangrik dat sy lesers die vernietigende effek van die wêreldbrand sal verstaan, dat hulle iets sal aanvoel van die totale skaal van God se oordeel. Want eers dan kom daar ruimte om die oproep van vers 11 aan sy lesers te laat uitgaan: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan (dit is die oordeel), hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie (dit is die reaksie op die oordeel)?” Heilige wandel en godsvrug – om te doen wat God van ons vra, geregtigheid dus – dít is waartoe Petrus sy lesers oproep, want dít is al wat tydens die oordeelsbrand sal bly bestaan!

Alles sal vergaan! Slegs geregtigheid kan die vlamme van God se toorn weerstaan, en hierdie geregtigheid sal daarom in die nuwe bedeling ook ‘n sentrale plek inneem. Dit is immers wat vers 13 sê: ons verwag nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon. En daarom, gemeente, moet gelowiges vandag reeds daarvoor ywer om regverdig te wandel. Die koms van die nuwe hemel en die nuwe aarde deur die vuur heen, vra vandag alreeds nuwe bewoners! Bewoners wat ‘n suiwer normbesef het, bewoners wat weet hoe die Here wil hê dat hulle moet lewe. Broers en susters, ons kan nie maar net lewe volgens ons eie begeerlikhede nie, maar ons word opgeroep om te alle tye te lewe volgens die norm van die Here! Laat elke gelowige hom dus daarop toelê om met die uiterste kraginspanning homself solank te begin gedra volgens die styl van die hemelse koninkryk – op dié manier word die tyd van wag en verwagting die beste bestee! 

En die doel van hierdie inspanning is, volgens Petrus, uiteindelik om vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind te mag word in vrede. Ja, gemeente, op die dag van die oordeel sal alles openbaar word. God se heilige oog ontdek feilloos alle vlekke en smette wat aan die christelike lewe kleef. Ook ons houding in die huidige wêreld, en ons betrokkenheid by die kultuur en die omgewing laat Hom nie onverskillig nie. En die groot vraag is dan: As die groot dag aangebreek en die uur van waarheid geslaan het, tot watter bevinding sal die hoogste Regter kom? Wát sal God by ons vind, en hóé sal Hy ons vind?

Ons weet hoe Hy die spotters en die dwaalleraars sal vind – hulle is skandvlekke en smette, soos wat ons lees in hoofstuk 2:13. Hulle aktiwiteite is ‘n skandvlek vir die gemeente, hulle aanwesigheid is besmetlik. Van hulle sal daar niks oorbly nie. Maar wat dan van ons? Sal ons bly bestaan? Is ons dan so regverdig? Weet dan, broers en susters, dat God magtig genoeg is om alle smette en vlekke uit die christelike lewe te verwyder, en om gehawende mense weer in onberispelike staat voor sy heerlikheid te laat verskyn. En Hy doen dit deur Jesus Christus, die Lam sonder gebrek en vlekkeloos (lees maar 1 Petrus 1:19). Sy kosbare bloed haal alle blaam weg. Wat God van Christus dink, sal Hy ook dink van elkeen wat aan Christus behoort. Almal wat in Jesus Christus glo, sal wees soos Hy is: vlekkeloos en onberispelik.  

Watter heerlike oomblik sal dit nie wees nie, broers en susters, wanneer ons by die eindoordeel mag bly lewe, wanneer ons mag hoor dat ons sonder vlek of rimpel is. Dit sal wees soos wanneer vandag ‘n attestaat aan iemand gegee word wat na ‘n ander gemeente vertrek. Wanneer so iemand in sonde lewe of onder die tug staan, dan kry hy nog steeds sy attestaat, maar daarop word wel ‘n aantekening gemaak, sodat die volgende kerkraad kan weet dat hierdie persoon in sonde lewe of onder die tug staan. Maar wanneer dit nie die geval is nie, ontvang hy ‘n sogenaamde ‘skoon attestaat’. En dít is wat ons in die oordeel sal ontvang: ‘n skoon attestaat. Daarop sal slegs staan: onberispelik van lewenswandel. En hierdie attestaat sal geteken wees met die bloed van Jesus Christus!

Met hierdie getuienis kan die gelowige dan heengaan na die ewige vrede. Met hierdie attestaat sal hy toegelaat word in die ewige vrede. Gemeente, met hierdie woord ‘vrede’ beskryf Petrus die volkomenheid van die ryk van God, waar die gelowiges deur die Goddelike oordeel heen, ongeskonde mag binnegaan. Danksy Christus verkeer ons weer in ‘n perfekte toestand, sodat God werklik tevrede met ons kan wees. Lewe daarom vandag alreeds die christelike lewe, ‘n lewe van geregtigheid, waarin duidelik word dat u ‘n suiwer normbesef het. ‘n Lewe waarin duidelik word dat u weet hoe die Here wil hê u moet lewe.  

Broers en susters, wanneer ons in die komende week weer die daaglikse bedrywighede hervat, dan hoef ons nie soos drenkelinge met die stroomversnelling saam te gaan nie. O ja, ons staan voluit in hierdie wêreld, ons is voluit betrokke by ons werk en by die lewe van ons kollegas; ons onttrek is ons nie van die gebeure in ons land en ons versuim nie ons politieke verantwoordelikheid nie; ons gee onsself vir die kerklike lewe en vir die nood en vreugdes van broers en susters. Maar in dit alles kyk ons tog verder!

Met ‘n duidelike beloftebesef en ‘n suiwer normbesef lewe ons toekomsgerig. Ons finale rusplek is nie hier nie, maar op die nuwe hemel en aarde – daarheen is ons oppad. Ywer daarvoor dat die gevraagde belofte- en normbesef ‘n daaglikse besef is. Vra jouself elke dag opnuut af: waarheen is ek oppad? Hoe gaan ek daarheen oppad? Moenie hiermee wag nie, want voordat jy dit besef, sal ons die woorde hoor van Openbaring 21:1: “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan.”

Amen

Liturgie (oggend) 

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 72:3, 4 en 10
Wetslesing – vir dié wat in hierdie gebooie van die Here wil wandel, lees ons die troosryke woorde van Psalm 73:27 en 28:…
Sing Ps. 37:2, 4-6
Gebed
Lees: 2 Petrus 3
Sing Ps. 90:1 en 2
Teks: 2 Petrus 3:13 en 14
Preek
Amenlied Skr. 36:2, 4 en 5
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 34
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)