Deur middel van die instelling van die sabbats- en die jubeljaar bepaal die Here ons by die diepte van die agste gebod

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2007-11-25
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 42
Reference: 
HK 42-1
Preek Inhoud: 

Sondag 42

Ds HH van Alten - Sondag 25 November 2007

Lees: Levitikus 25:1-24
Teks: HK, Sondag 42
Sing: Sien liturgie

Tema: Deur middel van die instelling van die sabbats- en die jubeljaar bepaal die Here ons by die diepte van die agste gebod.

  1. Ons werk nie om te eet nie
  2. Ons gee omdat die Here gee
  3. Ons styl volg die Here se styl

Broers en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

Dit is Sondag vandag – die dag van die Here. Maar Sondag 42 van die Kategismus wat ons vandag behandel, plaas ons in die middel van die werksweek; dit plaas ons weer in die middel van die drukte van elke dag. Daar waar ek verlei word om my maat se pen te “vat” by die skool, daar waar die verleiding groot is om by ‘n mede-student af te kyk in die eksamen, daar waar ek my belastingvorm eerlik moet invul,  daar waar ek probeer om die beste prys vir my produkte te kry, daar waar ek teenoor onkundige mense eerlik moet wees oor die produk wat ek aan hulle probeer verkoop…

Hier kom ons op die rusdag om ons God te ontmoet en Hy gooi ons weer terug in die daaglikse lewe met sy moeites en verleidings, met sy etiese probleme en grys areas, waarvan ons gehoop het om vir ‘n paar uur los te kom. Maar gemeente, die Here gooi ons nie maar net liefdeloos terug in die sleur van elke dag nie. Nee, die Here se Wóórd lei ons terug daarheen; die evangélie laat ons ons daaglikse lewe in oënskou neem. En die Here doen dit omdat Hy ons hele lewe wil heilig; Hy wil hê dat elke deel van ons lewe onder sy heerskappy moet staan, ook wanneer dit kom by ons aardse besittings en ons omgang daarmee. Ook dán wil die Here kragtig ingryp deur sy Woord en Gees en aan ons die regte weg kom voorhou.

Maar dit is moeilik; die sondes op hierdie terrein is legio en dit is dikwels sondes wat in die samelewing algemene praktyk is; dit is sondes waarvan ons die sondigheid dikwels nie eers meer raaksien nie. Die praktyk en die samelewing is egter nooit ons riglyn nie, dit bepaal nooit ons optrede nie. Die algemene praktyk moet juis deur die kinders van die Here ondersoek word, om te toets of dit ook Skriftuurlike praktyk is. Daarom wil ons vandag na die onderwys van die Here luister soos wat dit na ons kom in Sondag 42 van die Heidelbergse Kategismus.

Tema: Deur middel van die instelling van die sabbats- en die jubeljaar bepaal die Here ons by die diepte van die agste gebod.

  1. Ons werk nie om te eet nie

  2. Ons gee omdat die Here gee

  3. Ons styl volg die Here se styl

1. Ons werk nie om te eet nie… Maar hoe moet ons dán ons kos en ons inkomste kry? Ek kan mos nie verwag dat, as ek vir ‘n maand lank nie werk toe gaan nie, my baas tog vir my ‘n salaris sal betaal nie? En sê Paulus nie in 2 Thessalonicense 3:10 dat as iemand nie wil werk nie, kan hy ook nie eet nie? Inderdaad, en die Here het ook duidelik arbeid en inkomste aan mekaar verbind. Maar, gemeente, daarmee het my daaglikse brood en my maandelikse salaris nog nie die doel van my arbeid geword nie. Die uiteindelike doel waarom ek my daaglikse arbeid verrig, is nie om aan die einde van die maand ‘n salaris te kan ontvang nie. Want wat dan van die werklose? Wat van die bejaarde of die arbeidsongeskikte? Wat van die klein kinders? Húlle arbei nie, en tog mag hulle eet… 

Broers en susters, kom ons draai die verhouding arbeid-inkomste ‘n slag om. Eers die inkomste, eers die daaglikse brood, en daarná en daaróm die arbeid. Wat dink u daarvan? Wel, die lui persoon sal dink: “Wonderlik, dan hoef ek ook nie meer so hard te werk nie!” Die werkesel daarenteen sal dink: “Nee, dit is nie reg nie, dit kweek mos net luiheid as jy jou kos kry voordat jy daarvoor gewerk het.” En tog is dit goed om dit ‘n slag vanuit hierdie perspektief te sien: eers die daaglikse brood, daarna die arbeid. So was dit in die begin!

Immers, toe God vir Adam gemaak het, het Hy éérs vir hom sy kos gegee – lees maar Genesis 2:9: “En die Here God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, heerlik om te sien en goed om van te eet…” En daarná stel God die mens in die tuin om dit te bewerk en te bewaak. Adam het vir geen oomblik daaraan gedink dat hy vir sy daaglikse brood moes werk nie. Stel u self voor dat Adam die tuin bewerk en bewaak het met die uitsluitlike doel om te kan eet, om kos te kan verdien… Nee, Adam het nie gewerk om te kan eet nie, hy het geëet om te kan werk! Gemeente, dít is die grondwet van die agste gebod, die grondwet soos wat dit in die begin suiwer volbring is. Nie: eers werk, dan brood nie. Maar: eers brood, dan werk. Dit is die regte volgorde vanaf die begin.

So gaan dit mos ook in u gesin: u kind hoef tog nie te werk vir sy brood nie? Nee, hy krý dit van sy pa. Nie uit eie verdienste nie, maar uit liefde gee die pa dit. En as jou kind onder die indruk is dat hy vir sy brood moet werk, dan sal jy hom as pa tog gerus stel en sê: “My kind, ek sorg vir die brood. Werk jy hard, maar moet jou nie bekommer oor jou daaglikse brood nie.” Nou, só staan ons ook in die verbond met die Here. Ons is God se kinders, wat seker is van ons daaglikse brood. Die Here sê: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet…” Uit verdienste? Vanweë jou harde werk? Dit sou mos absurd wees! Nee, gemeente, van al die bome van die tuin mag jy vry eet – uit genade om Christus wil! 

Gemeente, wanneer ons só daarna kyk, kom sowel ons daaglikse brood as ons arbeid in ‘n ander lig. Want wanneer ons sien dat ons éérs ons daaglikse brood ontvang, en met die krag dáárvan aan die werk spring, dan begin ons die genadige en voorsienige hand van God raaksien. Hy is die Gewer wat altyd gee wat sy kinders nodig het; aan Hom behoort die aarde en sy volheid, die wêreld en die wat daarop woon (Ps. 24:1). En soos wat ons lees in Psalm 104: “Hulle almal wag op U, dat U hulle voedsel kan gee op die regte tyd. U gee dit aan hulle, hulle tel dit op; U maak u hand oop, hulle word versadig met die goeie.” Eers die voedsel, en dan nie uit verdienste nie, maar uit die Here se genade.

En, broers en susters, presies dit moes die volk Israel ook leer toe hulle oppad was na die beloofde land. Reeds voordat hulle Kanaan binnegegaan het, maak die Here in Levitikus 25:23 dit baie duidelik aan die volk: “die land is myne, omdat julle vreemdelinge en bywoners by My is.” Dit is as’t ware die kern van Levitikus 25; baie duidelik: die land is myne! En dan sorg die Here verder daarvoor dat die volk voortdurend by daardie realiteit bepaal word met die wetgewing van die sabbatsjaar en die jubeljaar. Elke sewende jaar was die volk verplig om die land volkome rus te gee. Ses jaar lank kon hulle saai en oes, maar in die sewende jaar was hulle nie toegelaat om dit te doen nie; dan het die hele land gerus. Dieselfde het ook gegeld vir die jubeljaar – dus, aan die einde van sewe sewe-jaar periodes.  

En, gemeente, hier kom dikwels ons menslike en kortsigtige vrae en moeites na vore. Want, as ons nie mag werk nie, hoe moet die rekeninge dan betaal word? Hoe gaan ons voorsien in die behoeftes van ons gesin as daar geen werk is nie? Wie gaan nou sorg dat daar kos op die tafel is as niemand uitgaan om dit te verdien nie? Dit is presies die vrae wat die Here voorsien het in Levitikus 25:20: “En as julle sê: Wat moet ons in die sewende jaar eet as ons nie mag saai nie en ons oes nie mag insamel nie?” En die Here se antwoord hierop? “… dan gebied Ek my seën vir julle in die sesde jaar, en dit sal die oes vir die drie jare oplewer.” Drie jaar se oes in een jaar – eers vir die sesde jaar soos normaalweg; dan vir die sewende jaar waarin jy die land nie mag bewerk nie; en ten slotte ook vir die agste jaar, die jaar waarin jy eers weer kan begin plant, maar nog nie die opbrengs daarvan kan geniet nie.

Gemeente, met hierdie wetgewing wys die Here vir sy volk dat as hulle trou is aan Hom, hulle nie vir hulle kos hoef te werk nie. Ja, natuurlik moet hulle werk, maar hulle arbeid het nie as hoofdoel om kos te kan kry nie; hulle werk nie om te eet nie. Dít is wat die heidene doen, volgens Jesus se onderrig in Mattheus 6; die ongelowiges meen dat hulle moet swoeg en sweet vir hulle inkomste. Maar vir die gelowiges word die saak omgedraai: die Hére sorg vir julle. Die Vader weet wat julle nodig het selfs voordat julle daarvoor vra. Dus, deur die onderbreking van die jaarlikse terugkerende patroon van saai en maai, van oes en dors, van druiwe pluk en druiwe trap, word Israel se aandag op ‘n radikale wyse gevestig op Hom, van wie hierdie stakingsbevel afkomstig is: “Kyk na My, Ek ken julle nood, selfs voor julle vra. En Ek voorsien daarin, selfs voordat julle daarvoor gewerk het.”  

Gemeente, dit laat ons met ‘n totaal ander oog kyk na ons inkomste, na ons daaglikse brood, na ons besittings. Ons het dikwels die houding van die wêreld oorgeneem: ek het hard gewerk, en daarom verdien ek my nuwe huis, of my nuwe kar, of my nuwe hemp. Of as dit swaar gaan, dan dink ons dat ons nog harder moet werk om die besigheid te laat vlot en om genoeg inkomste te kan verdien. Dikwels vergeet ons dan dat ons in Christus rééds ons brood ontvang het, uit genade. En dan maak ons asof ons nog daarvoor moet werk.

Ja, in die geestelike dinge is ons deeglik geleer: ons lewe van genade alleen; ons kan nie ons eie verlossing bewerk nie, Christus moet dit doen. Maar in die vleeslike dinge is die leer van die verdienste dikwels nog springlewendig onder ons. Ons bíd wel vir ons daaglikse brood, want ja, so het Christus ons dit immers geleer. Maar dikwels gaan ons visie op arbeid en inkomste lynreg teen hierdie gebed in – swoeg ons en sweet ons van soggens vroeg tot saans laat om genoeg te kan verdien. Maar dan sê die Here: “Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet – net so goed gee Ek dit aan my beminde in die slaap” (Ps. 127:2). Die Here leer ons: my kind, jy hét jou brood! Of jy nou ‘n handwerker is of ‘n direkteur, ‘n bejaarde of ‘n gestremde, ‘n werklose of ‘n oorwerkte – Ek gee jou uit genade jou brood!

En, broers en susters, wanneer ons dít raaksien en beleef en uitleef, dán word ons daaglikse arbeid mooi. Want dan gaan die angs en onrus weg, dan begin die bekommernis verdwyn. En dan bly die liefdedevolle dankbaarheid tot die Vader oor. Ja, mense sê: as iemand voor die tyd al sy inkomste gekry het, dan word hy lui. Maar die Skrif leer: die gelowige wat genadebrood eet, werk so hard as wat hy kan … uit dankbaarheid! Vervolgens: ons gee omdat die Here gee. 

2. Dus, gemeente, alles wat ons het – ons daaglikse brood, ons maandelikse inkomste, ons bonus aan die einde van die jaar – dit kom alles van die Here af. Hy gee dit uit genade. Bloot die feit dat Hy in staat is om drie jaar se oes in een jaar te gee, bewys dit. Bloot die feit dat Hy voorsien wanneer niemand werk nie, wanneer niemand selfs toegelaat was om te werk nie – bewys dit nie dat die Here die Gewer is nie? En in besonder tydens die sabbats- en die jubeljaar is die volk weer hierby bepaal. Die Here gee, die Here voorsien; dit wat ek het is nie myne, ek het dan nie eens daarvoor gewerk nie, ek het níks daarvoor gedoen nie. En, gemeente, dáárdie ingesteldheid wou die Here by sy volk kweek. Hy wou hê dat hulle dit moes verstaan, sodat hulle ook uiting kon gee aan wat Hy vervolgens met betrekking tot die sabbats- en jubeljaar aan hulle opgedra het.  

Die Here het naamlik gebied dat niemand tydens die sabbats- en jubeljaar mag oes nie; wanneer daar wel iets aan jou gewasse sou groei, dan was dit die voorsienigheid van die Here. Daarvoor kon jy dan dankbaar wees, maar jy was nie toegelaat om dit af te oes nie. Jy was ook nie toegelaat om enige iets aan jou gewasse te doen nie; dus, geen arbeid nie. Probeer jouself hierdie totale rus voorstel; niemand het gewerk nie, elkeen het onder sy vyeboom en onder sy wingerdstok gesit en geniet. Dit sou in ons gejaagde lewe ondenkbaar wees; ek dink baie van ons sou nie weet wat om met onsself te maak nie. Hoe dit ook al sy, geen arbeid nie. Wat wel toegelaat was, was om dít wat aan die gewasse gegroei het, as voedsel af te pluk en te eet en te geniet. Dus, ter wille van alle duidelikheid: oes as arbeid, as boerdery-aktiwiteit, was nie toegelaat nie, maar jy kon wel die land instap en vir jou gaan kos kry. Geen arbeid nie, maar wel gebruik.

Maar, opvallend, die gebruik is nie slegs vir jouself nie. Nee, van jou gewasse mag ook jou slaaf en jou slavin en jou dagloner en die bywoner geniet. En nie net mense nie, ook die vee en die wild mag die opbrengs van die land nuttig, wat die Here gee tydens die jaar van rus (Lev. 25:6-7). Dus, nadat die Here duidelik gemaak het dat Hy die Gewer is – Israeliet, jy het dit nie sélf bymekaar gemaak nie – leer Hy die volk vervolgens ook om onbevange met mekaar te deel. Hy het gegee, sodat hulle ook kon gee. Alles wat op die lande gegroei het, was in daardie sewende jaar gemeenskaplik – sowel vir die ryke as vir die arme, sowel vir die Israeliet as vir die vreemdeling, sowel vir die mens as vir die dier. Niemand kon in daardie jaar inhalig en gierig sy opbrengs binnehaal en in die skuur wegbêre nie. Nee, in daardie jaar was daar in hierdie opsig geen grense nie; geen grense tussen die opbrengs van my buurman en my opbrengs nie; geen grense aan die goedheid van die Here vir ‘n volk wat besig was om, op sy bevel, te rus nie.  

En, gemeente, hier lê ‘n slaggat waarin ons so dikwels val. Juis omdat ons redeneer vanuit die beginsel dat ons die aardse en stoflike dinge na verdienste besit, sukkel ons om ander daarin te laat deel – ek het dan so hard daarvoor gewerk. En ons trek duidelike grense tussen myne en joune. En tereg, dit is nodig om daardie grense te trek – ek is immers rentmeester oor wat die Here my toevertrou het, en nie oor wat Hy aan my buurman toevertrou het nie. Maar daarmee verloor ons dikwels die perspektief dat ons met al daardie grense tussen myne en joune tog maar net rentmeesters is. Ons is nie eienaars nie, ons is nie besitters nie; nee, die Eienaar – God – het van ons rentmeesters gemaak van sy eiendom, uitdelers van sy genade.

En deur middel van die reëling van gemeenskaplike opbrengs tydens die sabbats- en die jubeljaar, het die Here sy volk geleer dat die rentmeesterskap altyd verantwoordelikheid teenoor Hom, teenoor mekaar en teenoor die omgewing meebring. Ek is altyd rentmeester met die oog gerig op my Gewer en sy wil, met ‘n hart vir my naaste in sy nood, en met ‘n besef dat ons die omgewing moet oppas. Die rentmeester wat besef dat hy presies dít is, naamlik ‘n rentmeester, sal leer om al hoe minder na homself te kyk, en al hoe meer na diegene om hom heen; hy kry ‘n oog vir die nood van sy naaste, en hy kan dan ook vrygewig uitdeel.  

Gemeente, wanneer ons dus verniet ontvang, dan moet ons ook vrygewig uitdeel. Die Kategismus leer dit ons ook in antwoord 111: “Ek moet die belange van my naaste waar ek kan en mag, bevorder en hom so behandel soos ek wil hê dat die mense my moet behandel.” Waar ek kan en mag – inderdaad, nie altyd wanneer ek iemand kan help, mag ek dit ook doen nie; immers, ek mag nie met my geld en goed iemand help om te sondig nie. En verder, nie altyd wanneer ek iemand mag help, kan ek dit doen nie; dit is nie altyd binne my finansiële vermoë om iemand te help nie. Maar tog bly die beginsel staan: bevorder die naaste se belange, soek waar jy hom kan help sodat hy werklik bevoordeel word; en in besonder – so sluit antwoord 111 af – moet ons die naaste in hulle nood help.

Broers en susters, ons hoef vandag nie meer ‘n sabbatsjaar te hou nie. Ons hoef nie meer ‘n hele jaar met ons werk te stop nie. Die Horebverbond behoort tot die verlede, en daarom is ons vry van die waarneem van vaste dae, maande en jare. En tog moet ons die beginsel daaruit saamneem dat ons naaste van ons voordeel moet kan trek. Ons naaste in nood moet weet dat by hierdie gelowige ‘n helpende hand is; die naaste moet weet: ek kan met vrymoedigheid na hom toe gaan. Die naaste moet weet dat hy by hierdie gemeente kan kom aanklop as hy finansiële sorge ken. Daarom is die diakonie ‘n belangrike instelling van die Here om die vrygewigheid van die gemeente te mobiliseer en aan te wakker, asook om dit vorm te gee en te struktureer. Só kan  almal wat in nood is daarin deel. Die Here het ryklik gegee – veral in hierdie gemeente – deel nou ook ryklik uit.

Ten slotte: ons styl is die Here se styl. 

3. U het miskien al agtergekom dat ons intussen gehoor het van wat ons alles ontvang en wat ons as gevolg daarvan moet gee, terwyl daar eintlik nog niks gesê is oor ons arbeid nie. Ten slotte nog iets daaroor. Want Levitikus 25 gee duidelike aanduidings oor die arbeid van die Israeliet in die jare tussen die jubeljare – in besonder oor die styl van arbeid.

Die jubeljaar is elke 49ste of 50ste jaar onderhou – sommige sê dit is die 49ste jaar, ander meen dit is die 50ste jaar. Hoe dit ook al sy, ná sewe sewe-jaar periodes was daar ‘n jubeljaar. In daardie jubeljaar moes alles grondbesittings weer aan die oorspronklike eienaars teruggegee word. Ons moet onthou, die Here het aan elke stam ‘n spesifieke stuk grond in die beloofde land toegewys; dit was vir altyd daardie stam se Godgegewe porsie. Maar dit kon gebeur dat ‘n Israeliet, om watter rede ook al, in nood gekom het en verplig was om sy grondbesit te verkoop. En dan moet ons daarby in gedagte hou dat die grond van die beloofde land eintlik nie verkoop kon word nie, aangesien dit die eiendom van die Here was. Dus, wanneer iemand uit armoede sy grond moes verkoop, het hy in werklikheid nie sy grond verkoop nie, maar slegs die opbrengs van daardie grond vir die aantal jare tussen die jaar van verkoop en die komende jubeljaar. Dus, slegs die oeste is verpag vir ‘n sekere aantal jare.  

En juis op hierdie punt sien ons iets van die styl wat die Here aan ons voorhou wanneer ons met mekaar omgaan met betrekking tot aardse goedere. Die Here sê in Levitikus 25:14 dat as iemand ‘n stuk grond van ‘n ander gekoop het, of aan ‘n ander verkoop het, hierdie twee volksgenote mekaar nie moes verdruk nie. Die gevaar was naamlik wesenlik dat die koper die nood van die verkoper sou kon uitbuit, of dat die verkoper ‘n te hoë koopprys kon vra. Ja, gemeente, skelmheid sou maklik hier sy kop kon uitsteek. ‘n Verkoper sou sy grond ‘n paar jaar voor die jubeljaar teen ‘n hoë prys kon verkoop, met in sy agterkop die wete dat hy sy grond tog oor ‘n paar jaar weer sou terugkry. Die koper sou die prys kon afdruk terwyl hy tog nog meer as veertig jaar van die grond gebruik sou kon maak.

En op hierdie punt leer die Here aan sy volk dan die styl van die koninkryk. Hy wys in vers 15 en 16 dat as daar nog ‘n groot aantal jare van gebruik oor was, die koopprys dienooreenkomstig vermeerder moes word. As daar ‘n kleiner aantal jare van gebruik oor was, moes die koopprys verminder word, want – so lees ons in die laaste woorde van vers 16 – hy verkoop aan jou die aantal oeste. En dan lees ons vervolgens in vers 17: “Laat niemand dan sy naaste verdruk nie, en vrees jy jou God; want Ek is die HERE julle God.” Dit is die agtergrond: Ek is julle God, julle is my kinders. Vertoon dan my styl van omgang, ook wanneer dit oor aardse en stoflike aangeleenthede en oor arbeid gaan.  

Gemeente, wanneer ons more weer aan die werk gaan, dan het die Sondag nie plek gemaak vir die gewone besigheid van elke dag nie. Nee, dan werk die styl van die Here, waarvan ons in die prediking gehoor het, deur na ons arbeid van elke dag. Ons vroomheid moet ook sigbaar wees in ons saketransaksies, in die betaling en hantering van ons werkers, in die benutting van ons werksure, in die pligsgetrouheid waarmee ons ons skoolwerk doen. Die Here wil hê dat ons soos christene sal besigheid doen, dat ons soos gelowiges sal arbei. Al die skelmstreke en liste waarvan antwoord 110 praat, pas nie by kinders van die Here nie. Woeker en gierigheid en verkwisting strook nie met die styl wat God aan ons voorhou nie.

Broers en susters, soek aktief in die Woord van die Here na sy styl in ons omgang met aardse goed. Moenie slegs doen wat almal doen, omdat dit nou eenmaal aanvaarde praktyk is nie. Dit is ook die rede waarom die Here, toe sy volk op die punt gestaan het om Kanaan binne te gaan, vir hulle wette gegee het wat verskil het van dié van die volke rondom. Laat die kombinasies christelike besigheidsman, christelike arbeider, christelike student vir ons normale en mooi kombinasies word. Totaal anders as die wêreld, maar wel volgens die styl van die koninkryk.

Amen 

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 121
Gebed
Lees: Levitikus 25:1-24
Sing Ps. 24:1, 3 en 5
Teks: HK, Sondag 42
Preek
Amenlied Ps. 8:1, 4-6
Gebed
Belydenis van geloof
Ps. 9:7, 8 en 10
Kollekte
Slotsang Ps. 85:3 en 4
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)