Die vierde gebod en ons erediens!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2007-10-14
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 38
Reference: 
HK 38-1
Preek Inhoud: 

Sondag 38

Ds HH van Alten - Sondag 14 Oktober 2007

Lees: Exodus 31:12-18;  Exodus 35:1-3;  Numeri 28:1-10;  Exodus 39:32, 42-43
Teks: HK, Sondag 38
Sing: Sien liturgie

Tema: Die vierde gebod en ons erediens!

  1. Die dag van die Here lei ons na die huis van die Here
  2. Die dag van die Here vra ‘n dubbel porsie
  3. Die dag van die Here laat ons uitsien na wat kom

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

“Wat gebied God in die vierde gebod?” – so lui die vraag van die Kategismus in Sondag 38. Die antwoord wat ons op hierdie vraag kry, kom vir ons dikwels effens uit die bloute. Want ons almal ken die vierde gebod: Gedenk die sabbatdag dat jy dit heilig; ses dae moet jy arbei en al jou werk doen, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy geen werk doen nie. En die rede? Wel, die rede in Exodus 20 is dat die Here, nadat hy alles geskape het, op die sewende dag gerus het; en die rede in Deuteronomium 5 is dat die volk daaraan moes dink dat hulle slawe in Egipte was en die Here hulle daarvandaan uitgelei het.

So lui die vierde gebod. Maar as ons nou lees wat die Kategismus oor hierdie gebod sê, dan sukkel ons om die verklaring van die vierde gebod in die Kategismus te laat strook met die vierde gebod self soos ons dit in die Skrif vind. Ja, die sewende dag is die sabbat van die Here, dan mag jy geen werk doen… Maar hoe bring die Kategismus dít nou uit by ons eredienste hier in die kerk? Immers, die vierde gebod sê mos niks oor kerk toe gaan nie? 

Gemeente, hierdie onduidelikheid bring dan ook mee dat ons sukkel om vir onsself, maar ook teenoor ander, te verantwoord hoekom ons Sondae kerk toe behoort te gaan, en hoekom ons dit selfs twee keer op ‘n Sondag moet doen. Wanneer mense vir ons sê dat hulle die Here eer deur die hele Sondag in die natuur deur te bring, of dat hulle die Sondag heilig deur nie te werk nie maar tyd saam met familie deur te bring, dan sukkel ons om goed te verwoord waarom ons wél in die kerk behoort te wees. En dikwels sus ons onsself deur te sê: “Ja, maar ten minste wil hulle die Here eer en wil hulle sy dag heilig.” Só word kerkgang stadig maar seker ‘n minder belangrike aspek van ons kerklike lewe… 

Maar, gemeente, die Kategismus bepaal ons vanmiddag in Sondag 38 by die verband tussen die vierde gebod en ons kerkgang, ons erediens. Kom ons luister na wat die Skrif ons hieroor wil leer.

Tema: die vierde gebod en ons erediens!

  1. Die dag van die Here lei ons na die huis van die Here

  2. Die dag van die Here vra ‘n dubbel porsie

  3. Die dag van die Here laat ons uitsien na wat kom

1. [Kom ons lees eers uit Exodus 31:12-18 en 35:1-3] Gemeente, in Exodus 20 vind ons die geskiedenis van die afkondiging van die wet deur die Here; dit is ook gewoonlik dié hoofstuk waaruit Sondag-oggende die tien gebooie voorgelees word. En uiteraard vind ons tussen hierdie tien gebooie ook die vierde gebod: “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig.”

Maar nou is dit opvallend dat ons in Exodus 31 wéér die vierde gebod vind – hierdie keer in ‘n redelike uitgebreide vorm, maar in wese tog presies dieselfde as in Exodus 20. En dan, in hoofstuk 35:2-3, hoor ons die vierde gebod wéér. Is die Here nie besig om die vierde gebod oorbodig te herhaal nie? Ja, as die volk nou in allerhande nuwe situasies gekom het, dan was dit nog verstaanbaar as die Here hierdie gebod sou herhaal, maar in die tyd tussen Exodus 19 en Exodus 40 het die volk die hele tyd op dieselfde plek gebly, naamlik in die woestyn Sinai by die berg Horeb. Was dit dan nodig om hierdie gebod so dikwels aan die volk voor te hou? 

Gemeente, as ons goed wil verstaan hoekom die gebod tot heiliging van die sabbat verskeie kere deur die Here herhaal word, moet ons goed kyk na die konteks waarin Hy dit gedoen het. Kom ons ondersoek die konteks…

Die volk het ná ‘n lang reis by die berg Horeb aangekom (Ex. 19). Dáár ontvang hulle die tien gebooie (Ex. 20), en ook nog ‘n aantal ander wette (Ex. 21-23). In Exodus 24 kry Moses die opdrag om op die berg te klim na die Here toe. Dáár, op die berg, ontvang Moses die opdrag om ‘n woonplek vir die Here te bou – die tabernakel. Tot in die fynste besonderhede wys die Here vir Moses hoe die tabernakel met al sy by- en toebehore moes lyk. Daarvan kan ons lees in Exodus 25-31. Blaai maar ‘n slag op u eie tyd deur hierdie hoofstukke, en kom onder die indruk van die noukeurigheid en skoonheid van die woonplek van die Here. En dan – merkwaardig! – sluit die Here sy instruksies oor die tabernakel in hoofstuk 31 af met ‘n uitgebreide verwoording van die vierde gebod (31:12-17). Direk nadat die Here al die instruksies gegee het vir die bou van sy woonplek onder die volk, volg daar: “Julle moet sekerlik my sabbatte onderhou…” En dit is nie sommer ‘n geïsoleerde tussenvoegsel nie, gemeente; nee, die Here herhaal juis op hierdie punt die sabbatsgebod, omdat Hy wil duidelik maak dat sy beplande woonplek, op die sabbat sentraal moet staan. Die Here wys dus vir Moses in Exodus 25-31: só en só moet my huis lyk! En dan sluit Hy af: en juis hier moet julle my sabbatte heilig en deurbring.

Gemeente, natuurlik was die tabernakel elke dag van die week in die midde van volk, elke dag van die week het die priesters hulle diens daar verrig en is daar geoffer. Maar, so lees ons in Exodus 31:15, “op die sewende dag moet dit wees ‘n dag van volkome rus, heilig aan die Here.” Die Here gee aan sy volk rus van die daaglikse arbeid om juis by sy woonplek bymekaar te kom. 

Lees ons nou verder in Exodus, dan sien ons ná Exodus 31 die geskiedenis van die sonde met die goue kalf (Ex. 32 en 33). Klaarblyklik het Moses te lank weggebly – 40 dae en 40 nagte – en het die volk maar besluit om hulle diens aan God self vorm te gee. In Exodus 34 moet Moses weer na God toe opklim. In sy genade gee die Here dan sy tien gebooie vir ‘n tweede maal op kliptafels, nadat Moses uit woede die eerste stel stukkend gegooi het – dus, die gebooie van die Here geld nog onverkort, ook die vierde gebod.

In Exodus 35 tot 40 sien ons vervolgens dat die prentjie van die tabernakel, wat Moses op die berg ontvang het, nou ook realiteit word. Daar word uitvoering gegee aan die opdrag van die Here om vir Hom ‘n woonplek te bou. In hoofstukke 35-39 word die verskillende dele apart vervaardig, en in hoofstuk 40 voeg Moses dit alles saam; die tabernakel kry sy plek in die midde van die volk.

Maar, opvallend, die volledige beskrywing van die konstruksie van die tabernakel begin nie voordat die Here eers in hoofstuk 35:2 en 3 weer die sabbatsgebod herhaal nie. Dit is duidelik dat die Here nie wil hê dat hierdie werk om die tabernakel te bou, op die sabbaat verrig moet word nie; selfs hierdie heilige werk vra rus op die sabbatdag. Maar wat belangrik is om raak te sien, is dat die Here wéér die vierde gebod aan die tabernakel koppel, wéér is daar die verband tussen sy huis en die rus op die sabbat.  

Gemeente, ons het nie meer ‘n tabernakel of ‘n tempel nie. Nee, vandag is óns die huis van die Here. Vandag is óns sy tempel. Nie hierdie gebou nie – laat ons dít goed besef. Selfs sonder hierdie kerkgebou bly ons gemeente die Kuriakos oikos, die huis van die Here. Terloops, dit is waarvan ons woord ‘kerk’ afgelei is.

En daarom, broers en susters, bly die beginsel staan: die Here wil hê dat ons op die rusdag by sy huis vergader. En aangesien óns vandag die huis van die Here is, daarom beteken dit dat óns op Sondae bymekaar moet kom, óns moet saam vergader, óns moet erediens hou. En dan kan dit in die oop veld wees, soos wat in die tye van geloofsvervolging gebeur het; of dit kan in iemand se huis wees, soos wat die vroeë kerk dit gedoen het; of dit kan in ‘n kerkgebou wees as die Here ons daarmee seën. Maar saamkom as gemeente op die Sondag om God te ontmoet, dít moet ons doen! Op dié manier gee ons uiting aan die verbintenis tussen die tabernakel en die sabbat, soos wat die Here dit in Exodus vir ons wys.  

Kerkgang is dus nie vryblywend nie. Die Here was daaroor baie duidelik in Exodus: bou my huis, en vergader op die sabbat dáár! In vandag se terme: gemeente van Maranata, wéés my huis, en kom op Sondae saam om My te ontmoet. En, let op, die straf van die Here op verontagsaming van hierdie gebod was baie streng: die doodstraf het gewag op die een wat die sabbat ontheilig het. En die beginsel agter daardie straf geld vandag nog net so: wie nie hierdie gebod gehoorsaam om op Sondae saam met die gemeente te vergader nie, hy bewerk uiteindelik vir homself die dood. Want wanneer ons hier saam vergader, ontvang ons die lewe deur die Woord van God; hier is lafenis en verkwikking, hier is gemeenskap met God. As jy dít ontbeer, dan gaan jy uiteindelik dood.

En daarom, broers en susters: die dag van die Here lei altyd na die huis van die Here. Soos wat Sondag 38 ons leer: “Ook moet ek veral op die rusdag ywerig met die gemeente van God saamkom…” Wanneer die gelowige dus op ‘n Sondag-oggend opstaan, is hy heeltemal daarop gerig om kerk toe te gaan. En dit blyk uit die tyd wanneer hy opstaan, dit blyk uit die maaltyd wat hy eet voordat hy kerk toe gaan, dit blyk uit sy kleredrag. Ja, die gelowige sing saam met Psalm 122: “Ek was verheug toe die geluid, weerklink het bo die ruimtes uit: Kom, laat ons optrek hiervandaan, om na die HEER se huis te gaan!”

Vervolgens: die dag van die Here vra ‘n dubbel porsie.  

2. Goed, kerkgang is nie vryblywend nie, maar twee keer op ‘n Sondag? Dit kan tog seker nie vanuit die Skrif begrond word nie. Dit is sekerlik een van die mees gewraakte argumente in die diskussie oor kerkgang: Waar in die bybel staan dat ons twee keer op ‘n Sondag kerk toe moet gaan? Dit is ‘n tipiese uitspraak wat iemand sal gebruik om sy eie laksheid in kerkgang te regverdig. En dikwels werk dit… Want ons weet nie mooi wat om daarop te antwoord nie; ook vir die kerkraad is dit dikwels ‘n moeilike saak. Maar, gemeente, is dit ook so dat die Skrif niks hieroor sê nie? Kan ons geen beginsel vanuit die Skrif aflei, soos wat ons hierbo vanuit Exodus gedoen het nie? Kom ons kyk na wat die Here ons leer in Numeri 28:1-10 [kom ons lees hierdie gedeelte] 

In Numeri 28:1-8 gaan dit oor die daaglikse offer. Elke oggend – so om en by 9 uur – en elke namiddag – so rond 3 uur – moes daar ‘n brandoffer aan die Here gebring word, met ‘n gepaardgaande spysoffer en drankoffer. Vir die oggend het dit behels: ‘n jaaroud lammetjie as brandoffer, ‘n tiende van ‘n efa fynmeel as spysoffer, en ‘n kwart-hin olie as drankoffer. En presies dieselfde vir die namiddag. Hierdie more- en aandoffer moes elke dag gebring word. Só is dit deur die Here bepaal as ‘n ewige insetting.

En die sabbat dan? Wel, hierdie daaglikse offer moes ook op die sabbat gebring word – ook twee maal. Maar vir die sabbat moes die hoeveelhede verdubbel word. Dus, vir die oggend van die sabbat twee jaaroud lammers, twee-tiendes van ‘n efa fynmeel, en ‘n halwe hin olie. En dieselfde het gegeld vir die namiddag van die sabbat. Die volk, spesifiek dan die priesters, moes daarvoor sorg dat die voortdurende offer aan die Here voortgaan, selfs met ‘n dubbel porsie op die sabbatdag.  

Maar wat van die tyd toe die volk in ballingskap was? Toe was daar natuurlik nie ‘n tempel nie. Wel, gemeente, ons weet vanuit die geskiedenis dat die volk in ballingskap veral op die sabbatdag, die rusdag, saamgekom het. Op watter tye? Baie opvallend: op die tye van die sogenaamde sabbatsoffer. Die sabbatsoffer was eenvoudig die daaglikse offer met sy unieke spesifikasies vir die sabbatdag. Waar vroeër om 9 uur soggens en 3 uur in die middag die daaglikse brandoffer gebring is, het die volk in ballingskap spesifiek op hierdie tye saamgekom. En tydens hierdie samekomste het hulle in gebed en lofsang die groot dade van die Here gedenk; die Skrifte het oopgegaan en die volk het op grond van die beloftes van die Here gepleit vir terugkeer uit ballingskap.

En juis by hierdie gewoonte, wat uit nood gebore is tydens die jare van die ballingskap, vind ons die oorsprong van die latere sinagoge-dienste, twee maal op ‘n sabbat. Soos wat die daaglikse offer die hele dag gekenmerk het – dit het naamlik sentraal gestaan by die eerste sowel as die tweede dagdeel – só het die dubbele sabbatsoffer die sabbat gekenmerk, en later ook die twee sinagoge-dienste. En, gemeente, hieruit het dan ook die twee dienste op ‘n Sondag vir die vroeë kerk voortgevloei. Want ons lees in Handelinge dat Paulus, in sy verbreiding van die evangelie, altyd eers na die sinagoges gegaan het. Vandaaruit het die gewoonte van twee dienste op die sabbat ‘n plek gevind in die sondagse eredienste van die kerk. Natuurlik, tydens die eerste eeue van die christelike kerk was dit nie altyd maklik nie. Die Sondag is in die Grieks-Romeinse Ryk nie as rusdag erken nie, en daarom moes die christene dikwels op hierdie dag hulle werk verrig. Maar ons sien dat hulle bereid was om soggens baie vroeg en saans laat saam te kom om hulle God te ontmoet. Hierdie praktyk het homself voortgesit tot in ons tyd. Ook in ons kerkverband, en in dié van ons susterkerke, gaan ons steeds twee maal op ‘n Sondag kerk toe – hoewel dit op verskillende plekke steeds meer onder druk kom…

Gemeente, die grond vir ons twee eredienste per Sondag lê dus in die dubbel porsie van die daaglikse offer wat op die sabbatdag gebring moes word. Vandaar af het dit ontwikkel – via die ballingskap, die erediens in die sinagoges, totdat dit uiteindelik in die eerste eeue deur die christelike kerk oorgeneem is.  

Iets anders waarop ons is in hierdie verband nog moet let, gemeente, is dat die hoeveelhede van die daaglikse offer op die sabbat verdubbel word, as teken van toewyding aan die Here… juis op hierdie dag. Juis op die sabbat moes die volk toon dat hulle graag met die Here by sy huis wou saamkom deur aan Hom ‘n dubbel-deel van die normale porsie toe te wy – in totaal vier lammers per sabbat, plus die verdubbelde spys- en drankoffers.

En, gemeente, daaruit leer ons dan ook dat ons nie slegs Sondae kerk toe gaan om daar iets te ontvang nie. In ons verbruiker-samelewing neig daardie idee om ons sig op die ontmoeting met die Here te vertroebel. Nee, ons hou nie erediens om uitsluitlik te ontvang nie, maar meer nog: om iets gaan bring, om te gaan offer! In ons eredienste offer ons op Nuwe-Testamentiese wyse aan die Here. En dan hoef ons nie onmiddellik te dink aan die kollektes nie. Daar is immers nog meer waardevolle offers wat ons in die erediens kan bring. Dit is ‘n offer aan die Here om vir ‘n halfuur lank te luister wanneer die Here tot jou spreek, en te oorpeins wat jy in die komende week met daardie woord kan doen. Dit is ‘n offer om gekonsentreerd saam tot die Here te bid, mekaar se nood aan die Here op te dra. Dit is ‘n offer om van harte saam te sing, nie slegs uit gewoonte omdat jy die psalm al so goed ken nie, maar bewustelik. Dit is ‘n offer om die geloofsbelydenis as jou belydenis op te sê. Dit is ‘n offer wanneer jy sonder teësin jou gawes aan die Here gee tydens die kollekte. Dit is ‘n offer om met groot dankbaarheid die nagmaal te geniet as die offer van Christus vir jou.

Die Kategismus beskryf dan ook my betrokkenheid in die eredienste in aktiewe terme: ek moet ywerig met die gemeente van God saamkom, om die Woord van God te hoor, die sakramente te gebruik, die Here openlik aan te roep en die Christelike liefdegawes te gee. So offer ons elke Sondag tydens die erediens.  

En, broers en susters, hierdie offerwerk is natuurlik iets van elke dag, maar juis op die Sondag, wanneer ons met God en sy gemeente saamkom, verdien God dat ons ‘n dubbel porsie aan Hom wy. Twee keer op ‘n Sondag ‘n dubbel deel vir die God wat die grond van ons hele bestaan is, vir die God sonder Wie ons nie wil lewe nie.

Ten slotte: die dag van die Here laat ons uitsien na wat kom [kom ons lees in verband daarmee Exodus 39:32, 42-43, asook Jesaja 66:20-24] 

3. Ons lees in Exodus 39:32 dat die volk die tabernakel – die woonplek van God waar hulle elke sabbatdag moes vergader – klaar gemaak het. En dan is dit waardevol om goed te luister na die bewoording van vers 32: “So is dan al die werk aan die tabernakel van die tent van samekoms voltooi…” Hoor ut dit? Dit wil voorkom asof Moses, die skrywer van die boek Exodus, hier doelbewus teruggryp op die taal van die skepping; ons hoor naamlik in hierdie woorde ‘n weerklank van Genesis 2:1: “So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag” – dit skryf Moses op die sewende dag. Dieselfde sien ons in Exodus 39:43: “En Moses het die hele werk bekyk – en hulle het dit gemaak soos die HERE beveel het, so het hulle dit gemaak. Toe het Moses hulle geseën.” Hoor u die bekende klanke: “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en – dit was baie goed” (Gen. 1:31), “en God het die sewende dag geseën en dit geheilig” (Gen. 2:3). Skeppingstaal – paradystaal op die sewende dag, die sabbat – word hier gebruik by die voltooiing van die tabernakel vir die saamkom van God en sy volk op die sabbatdag.  

Moses sien hier dus deur die inwerking van die Heilige Gees dat, by die voltooiing van die tabernakel, iets van die paradys-toestand besig is om terug te keer. Wanneer God, ná die sondeval, weer ‘n woonplek by sy volk kry, en hulle in besonder op die sewende dag dáár met Hom kan vergader, dan wys dit iets van die herstel wat God besig is om te werk. God kom weer by die mense, hulle kan weer – op beperkte wyse – met Hom gemeenskap hê, en dít in besonder op die sabbat.

En, gemeente, hierdie wonderlike boodskap word nog duideliker wanneer Jesus Christus, God self, woning onder ons kom maak, soos wat ons lees in Johannes 1:14: “En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon …  vol van genade en waarheid.” Deur Hom mag ons, as die Nuwe Testamentiese gemeente, op ‘n baie intieme wyse met God saamkom, soos wat ons op hierdie oomblik besig is om te doen. Ons mag weer met God gemeenskap hê. Hier in die erediens mag iets sigbaar word van die heerlike omgang wat op ons wag. Hier mag ons beleef wat die Kategismus sê, naamlik dat die ewige sabbat reeds in hierdie lewe begin. God is besig om ons terug te bring na die heerlike en ewigdurende rus en genieting en verwondering van die sewende skeppingsdag. Daarheen is ons oppad, nie om niks te doen nie, maar om in alle ewigheid gemeenskap met Hom te beoefen. Straal ons eredienste dít uit? Wel, as ons na onsself of om ons heen kyk, moet ons erken: nee, nie altyd nie… Miskien het dit tyd geword om weer meer bewustelik erediens te hou… 

Gemeente, ons ontvang in die Sondag ‘n groot rykdom van die Here – ons mag saamkom, Hy wil ons ontmoet. Die volk het dit klaarblyklik twee maal op ‘n sabbatdag gedoen. Is daar vir ons enige rede om ons ontmoeting met die Here met die helfte te verminder? Bied die nuwe lewe in Christus dan minder as die lewe in die Ou Testament, sodat ons ons offers van dankbaarheid oorenkomstig kan verminder? Nee, gemeente. As ons daarom ons kerkdienste gaan versuim, dan beperk ons daarmee ons diens aan God. So iemand doen homself en sy kinders ‘n onreg aan. Jy bly weg waar die Here jou juis wil hê! Wanneer die Here sy volk vergader, en jy bly weg, is jou sitplek leeg. Jy gee die boodskap dat jy – in elke geval op daardie oomblik – nie deel is van God se volk nie. En hierdie realiteit mag ons gerus weer ernstig begin neem. Dit is daarom ook heeltemal moontlik dat die kerkraad diegene wat die eredienste nie getrou bywoon nie, ook van die nagmaal af weerhou. Jy kan nie week in, week uit teen die Here en die gemeente sondig deur van die eredienste weg te bly, en dan verwag dat jy wel die gemeenskapsmaaltyd mag bywoon nie. Laat ons daarom erns maak met ons kerkgang, ons opgaan na die huis van die Here. En dit kos soms opoffering, net soos wat dit die Israeliet in die Ou Testament ‘n offer gekos het. Maar dit is ‘n offer met ‘n groot opbrengs. Die ewige sabbat wink vir jou!

Amen

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 92:2, 6 en 7
Gebed
Lees: HK, Sondag 38
Preek – lees tydens die preek:
      Exodus 31:12-18
      Exodus 35:1-3
      Numeri 28:1-10
      Exodus 39:32, 42-43
Amenlied Ps. 84:1, 2, 4 en 5
Gebed
Belydenis van geloof
Sing Ps. 9:5, 7 en 10
Kollekte
Slotsang Ps. 122
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)