Wie naas Jesus Christus sy saligheid in iets anders soek, verloor Christus

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2007-06-10
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 11
Preek Inhoud: 

Sondag 11, Vraag en Antwoord 30

Ds C Kleijn - Sondag 10 Junie 2007

Lees: Galasiërs 1:1-10; Galasiërs 5:1-15;
Sondag 11, Vraag en Antwoord 30.
Sing: Ps 95:1,4; Ps 115:7,8; Ps 85:3,4;
Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 92:6,7.

Tema: Wie naas Jesus Christus sy saligheid in iets
anders soek, verloor Christus

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

’n Mens sou dink dat hulle ons, geen moeite met die
tweede vraag van Sondag 11 sou hê nie. Ons soek tog nie ons
saligheid en heil by enigiemand buite Christus nie? Ons verkondig
tog Jesus Christus as die enige naam waardeur ons gered moet word?
Ons soek tog ons saligheid buite onsself in Jesus Christus?

Bowendien, die kat spreek duidelik die RK praktyke aan. Kan jy
jou voorstel dat een van ons die heiliges sou aanroep om
voorspraak vir ons te doen. Kan jy jou voorstel dat ons ons werke
as betaling vir ons sondes sou beskou? Ja, sou ons ons saligheid
iewers anders soek bv by die kerk, by die priesters of by die
Roomse mis? Dis tog iets wat ander doen en nie ons nie?

Broers en susters, moenie julle vergis nie. Die dwaling
waarteen die kat waarsku is vir ons nie so vreemd nie. Die kerk,
die lidmate van die kerk word voortdurend deur dieselfde dwaling
bedreig. Dat dit die geval is word duidelik wanneer jy bedink
waaroor die RK dwaling gaan. Ons kom maklik tot die
gevolgtrekking dat die RK Jesus Christus aan die kant skuif en
hul saligheid van hul eie goeie werke of van die heiliges verwag.
Is dit ’n juiste konklusie? Nee. Die RK wil heeltemal nie
Jesus aan die kant skuif om Hom te vervang deur hulleself of
ander nie. Dit is ’n growwe wanvoorstelling van hul
opvattings. Die RK wil werklik Jesus Christus as hul verlosser
eer.

Wat is dan hul dwaling? Hul dwaling is dat hulle dink dat nog
iets nodig is naas hul groot verlosser Jesus Christus. Daarom
soek hulle nie ’n vervanging nie, maar ’n aanvulling
van Jesus Christus. ’n Soort samewerking. Jesus doen iets,
en moenie dit onderskat nie, kyk maar hoe belangrik hul
kruisbeelde vir hulle is, maar die gelowiges, die heiliges moet
ook iets doen. Die RK is daarom van oordeel dat hulle vashou aan
Jesus Christus as Verlosser. Hulle dink net dat hulle ook die
bydrae van ander en van hulleself moet meetel.

Wel, gemeente, hierdie dwaling: Jesus Christus plus iets
anders, is ’n voortdurende bedreiging vir die kerk. Ons kan
teruggaan na die apostel Paulus se kragtige prediking bv in sy
brief aan die Galasiërs. Aan die hand daarvan wil ek vir julle
verkondig: Wie naas Jesus Christus sy saligheid in iets anders
soek, verloor Christus.

Paulus moet die aandag van die Galasiërs op ’n baie
ernstige saak vestig. Daarom wys hy in sy opskrif heel nadruklik
op die goddelike gesag van sy woorde. Laat niemand die evangelie
wat hy verkondig ignoreer nie. Want hy is ’n apostel nie
vanweë mense of deur ’n mens nie, maar deur Jesus Christus
en God die Vader (vers 1).

Onmiddellik na die seëngroet noem Paulus sy groot bekommernis.
Mense in Galasië wyk te maklik van die evangelie af. Te gou en
sonder weerstand laat hulle hulleself afvallig word van Hom wat
hulle geroep het, na ’n ander evangelie. God het hulle deur
die genade van Christus geroep. Nou is hulle besig om hulle van
God te vervreemd. Hierdie afval van God blyk uit die feit dat
hulle die evangelie van genade nie onvervals vashou nie, die
evangelie van wat Christus reeds vir ons gedoen het om ons van
alle slawerny te bevry. Lidmate laat hulleself mislei deur
’n ander evangelie.

Broers en susters, moenie dink dat hulle bewus van die
evangelie van genade afgekeer het nie of dat hulle daarvan bewus
is dat hulle nou ’n ander evangelie aanhang nie. Nee, soos
ons vandag, dink hulle dat hulle die ware evangelie vashou. Hulle
is nie bewus van enige dwaling nie.

Die apostel open hulle oë: daar is net een evangelie en dit
wat hulle nou aanhang is ’n perversie van die evangelie. Dit
is in werklikheid geen evangelie nie. Wat van die oorspronklike
prediking afwyk, kan nie reg wees nie. Want dit is God se eie
Woord wat Paulus gepreek het. Daarom kom die vloek van God op
hulle wat anders leer. Laat hom wat julle ’n evangelie
verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het ’n
vervloeking wees.

Maar, geliefdes, wat gaan dan aan in Galasië? Gestel dat die
apostel sulke dinge vir jou sou sê, terwyl jy dink dat jy
’n getroue Christen is. Gestel dat Paulus vir jou sou sê:
Jy is besig om ’n evangelie te aanvaar wat geen evangelie is
nie.

Blykbaar het die gemeente onder die invloed van Judaiste gekom.
Judaiste is Joodse Christene wat glo dat die besnydenis en
’n aantal ander OT iese praktyke nog vir die Christene uit
die heidene bindend is. Uit hoofstuk 6 blyk dit dat die Joodse
Christene deur vrees gedryf word. Hulle vrees vervolging van die
kant van hul volksgenote wat weier om hulle tot Christus te
bekeer. Die Joodse Christene kom in die moeilikheid vanweë die
omgang wat hulle met onbesnede Christene het. Hulle moet ’n
keuse maak: of breek met hul eie volksgenote of breek met hul
geloofsgenote. Blykbaar is dit baie moeilik vir ’n aantal
Jode om sonder die aanvaarding van hul volksgenote te lewe.
’n Mens kan verstaan dat hulle, hoewel hulle in Jesus
Christus glo, amper nie durf om met hul eie volk te breek nie.
Sou dit hulle nie vervreemd van God se verbond met vader Abraham
nie? Om die moeilikheid te vermy probeer die Joodse Christene hul
medechristene uit die heidene te oortuig om soos die Jode te word.
Laat hulle as ‘t ware soos die Jode word deur besnydenis.
Dan kan die Joodse Christene rustig saam met hulle die nagmaal
vier, sonder om die bande met hul eie Joodse volksgenote te
verloor.

’n Mens kan vra: is dit verkeerd van Christene van
heidense oorsprong om hulleself te laat besny ter wille van hul
Joodse broeders? Waarom kan hulle vir hul joodse geloofsgenote
nie die guns bewys nie? Hulle mag tog sekere Joodse praktyke
nakom? Paulus het mos ook Timotheüs laat besny ter wille van die
Jode in Klein Asië?(Hand 16:3). Paulus het kennelik ook die
Joodse praktyk van die gelofte in ag geneem met die daarby
behorende gebruike (Hand 18:18; 21:23 ev).

In die brief aan die Galasiërs is Paulus egter onverbiddelik.
Waarom? Omdat die saak hier nie so onskuldig is soos dit lyk nie.
Hier is die evangelie van genade in geding. Die kwessie is: wat
is die waarde van die verlossing in Jesus Christus?

In Gal 5 wys Paulus wat dit beteken wanneer jy in die situasie
sulke praktyke aanvaar. Wat die gevolge is. Dis geen
onverskillige saak nie. Paulus sê heel ernstig en nadruklik:
"as julle jul laat besny, sal Christus vir julle tot geen
nut wees nie." Die verleiding was vir die Christene groot om
hulle hul te laat besny. Was die Joodse volk nie God se
uitverkore volk nie? Besit hulle nie die oudste geloofsbriewe nie?
Is dit dan nie ’n veilige pad om te volg om jouself te laat
besny om so in die ou verbondsvolk ingelyf te word nie?

Paulus antwoord die vrae met ’n radikale nee. Kyk, ek,
Paulus, sê vir julle met apostoliese gesag, dat as julle jul
laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie. Gestel
dat dit vir jou gesê sou word! Jy dink dat sekere praktyke nodig
is en dan hoor jy sulke skerp woorde.

Broers en susters, in die gemeente is daar allerlei gedagtes
oor die manier waarop jy as Christen moet leef, wat ons vir God
moet doen, of oor die manier waarop dinge in ons midde behoort
gedoen te word. Dit kan so maklik gebeur dat ons ons kerklike
tradisies tot norm verhef, selfs tot voorvereistes. Ons beskou
dan ons gedagtes en tradisies as die kenmerk van ware christendom.
Dit sou vir alle lidmate vereis wees. Hulle wat anders handel,
lidmate wat nie ooreenkomstig ons standaarde leef nie, word as
tweederangs Christene beskou. Ja, as iemand suggereer om die ou
patrone te wysig, word hy met argwaan benader. Is hy nog wel
werklik gereformeerd? ’n Oop gesprek op grond van die Skrif
word onmoontlik gemaak. Die ou vaste patrone moet gehandhaaf bly.

’n Mens kan ook die ander uiterste hê. Gedeeltelik uit
reaksie teen die bogenoemde gedagtes gaan sekere mense hulleself
bewus ander standaarde stel. Hulle maak seker dat hulle nie die
standaarde wat van hulle verwag word nakom nie. Hulle het hul eie
standaarde. En hulle is baie tevrede met wat hulle doen. Hulle
beskou dit as werklik christelik, meer nog en opregter as die
ander. Laat niemand met hulle oor hierdie saak debatteer nie.
Hulle is heeltemal tevrede met hulleself. En Christus moet ook
wel met hulle tevrede wees. Hulle is tenminste eerlik, anders as
die geveinsdes wat net maak asof hulle glo.

Geliefdes, hoe verstaanbaar hierdie twee standpunte ook al mag
wees, hulle kom verskriklik naby die dwaling wat Paulus in sy
brief aan die Galasiërs bestry. Gesien ons agtergrond en posisie
is dit dikwels verstaanbaar. Soos die gewoonte in die kerk van
Galasië teen die agtergrond van die Joodse tradisie verstaanbaar
is. Dis nie maklik om jou los te maak van jou verlede, om jouself
vry te maak van die geestelike klimaat waarin jy grootgeword het
nie. As ek groot geword het in ’n wettisistiese klimaat waar
dit steeds vir my gesê is: jy moet dit doen, anders…,
’n omgewing van wet op wet, reël op reël, sonder positiewe
motivering vanuit die liefde en genade van God, dan sal dit vir
my des te moeiliker wees om van die ou, vertroue patrone,
tradisies af te wyk. Dan sal ek groot moeite hê om in die
christelik vryheid die ou patrone vanuit die Skrif te toets. Dit
is verstaanbaar. En ons moet dit in rekening bring wanneer ons
met mekaar omgaan. Soos ons ook die reaksie houding in rekening
moet bring, waarby mense uit reaksie teen verstarde tradisies in
die ander uiterste val van skynbaar totale vryheid, sonder reëls
en patrone. Die christelike vryheid word dan misbruik vir
wetteloosheid.

Geliefdes, maak nie saak hoe verstaanbaar ons posisies mag
wees, wanneer ons dink dat ons tradisies en gewoontes die ware
ding is en verplig is, wanneer ons bly benadruk wat ons vir God
moet doen, dan sou Paulus sê: besef jy wel waar jy mee besig is?
Wanneer jy krampagtig vashou aan jou vaste tradisies omdat dit
oud en vertroud is en wanneer jy weier om die aan die toets van
die Skrif te onderwerp, stel jy dan nie teveel vertroue daarop
nie? Is jy nie besig om jou saligheid en heil in jou manier van
doen te soek nie, ja in wat jy vir God doen nie? Miskien is jy
trots op wat jy doen. Of jy voel jou daarby veilig. Moenie jou
vergis nie. Dis baie maklik om in die slaggat te val om jou heil
in jou gedrag te soek. God moet wel tevrede met jou wees. Jy doen
tenminste dit en dit en jy doen dit op daardie manier. Jy doen
wat van gereformeerde christene verwag word. Jy voldoen aan die
vrye gereformeerde standaarde. Jy konformeer. Of jy konformeer
bewus nie en daar is jy trots op.

Broers en susters, as jy op hierdie manier jou heil in jou eie
manier van dink en doen soek, dan kom Paulus met sy gesaghebbende
woord: Christus sal vir jou tot geen nut wees nie. Ook al roem jy
met die mond in Hom. Want dan soek jy jou heil is iets naas Jesus
Christus. Dit word: Jesus plus jou goeie gedrag soos by die RK.
Dan verloën jy met die daad dat Jesus Christus jou volkome
verlosser is. Jy wyk af van die evangelie van genade alleen. Jy
sal moet kies. Dis een of die ander. Jesus is alles vir jou of
niks nie. Sy werk kan nie deur sekere werke van ons kant aangevul
word nie. Sy genade is genoeg. Ons moet deur genade alleen lewe.

Geliefdes, dit sal die Galasiërs verras het. Dit is in stryd
met die bewerings van die Judaiste en met hul eie gevoelens. Maar
die saak is van die grootste belang. Daarom herhaal Paulus:
"En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat
hy onder die verpligting is om die hele wet te onderhou."
Verlossing is nie: gedeeltelik deur Christus en gedeeltelik deur
eie werke nie. Dis deur Jesus Christus alleen, sonder enige
verdienste van ons kant, of heeltemal nie deur Hom nie. In die
laaste geval moet jy dan wel die hele wet onderhou sonder enige
beperkings. As jy dit nie heeltemal in Jesus Christus soek nie,
dan moet jy die hele wet self vervul om vryspraak te kry. Die
reël van die wet is mos: doen dit en jy sal lewe. Bowendien:
"vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in
die boek van die wet om dit te doen nie" (Gal 3:10). Jakobus
skryf: "Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig
struikel, het aan almal skuldig geword" (Jak 2:10).

Die vooruitsig is dus nie goed vir hulle wat van die wet
afhanklik is nie, ook al mag hulle nog met die mond in Jesus
Christus roem. Dis nie soos sommiges sê: gedeeltelik die wet en
gedeeltelik genade nie. "Gedeeltelik die wet" is in
stryd met die evangelie van genade. Vergelyk dit met die woorde:
jy kan hierdie motor heeltemal verniet kry, jy hoef slegs 20,000
rand daarvoor te betaal. Dis ’n leuen, onmoontlik. As jy
iets gratis kry dan hoef jy niks te betaal nie. Dan is dit dwaas
en teenstrydig om te sê dat jy slegs R20,000 hoef te betaal. God
se genade sluit betaling van ons kant uit.

Paulus waarsku baie indringend in Gal 5:4: "Julle wat
geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus;
julle het van die genade verval." Wanneer jy probeer om deur
die wet God se guns te wen, dan het jy jou band met Christus
verbreek, jy het die genade van God verbeur. Wie van die
Galasiers sou verwag het om so iets te hoor: losgemaak van
Christus, van die genade verval? Was hulle nie troue christene
nie? Hulle glo tog nog die evangelie van genade?

Paulus wys hulle die ernstige gevolge van hul dwaling: wanneer
jy die pad volg is jy besig om jouself los van Christus te maak,
om van die genade te verval.

Geliefdes, in die lig van Paulus se ernstige prediking kan ons
die woorde van die kat verstaan. Die woorde lyk dalk hard en
radikaal. Daar word gevra: "Glo die mense wat hulle
saligheid en heil by die heiliges, by hulleself of iewers anders
soek, ook in die enigste Verlosser, Jesus." Daarop word
geantwoord: "Nee, maar hulle verloën met die daad die
enigste Verlosser en Heiland, Jesus, alhoewel hulle met die mond
in Hom roem." Hierdie woorde herhaal wat God self deur
Paulus in sy Woord sê. Hier word die skerp, tweesnydende swaard
bedien. Dit is een of die ander. Jesus Christus is vir my alles
of niks nie. In die laaste geval is daar vir my geen hoop nie.
Hulle wat dit van die werke van die wet verwag, is onder die
vloek, want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in
alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.

Broers en susters, dit sal inmiddels duidelik wees dat die
dwaling wat die kat aanspreek vir ons nie vreemd is nie. Hoe
maklik gebeur dit nie dat ons begin met genade om dan te eindig
met die vertroue in ons nakoming van sekere reëls en voorskrifte.
As jy vir God aanvaarbaar wil wees, moet jy dit vir Hom doen of
so lewe. Aanvanklik het die Galasiërs ook goed geloop. Later het
hulle gedink dat hulle nog steeds besig was om goed te loop.
Hulle was oortuig dat hulle nog die evangelie van Christus
vasgehou het. Maar Paulus was deur God geroep om hul oë oop te
maak. Hulle was in feite besig om die evangelie van genade in te
ruil vir wat geen evangelie is nie, vir ’n nuwe wettisisme,
’n nuwe slawerny. Hulle was besig om hulle van Christus los
te maak, om van die genade te verval.

Gemeente, laat hierdie skerp prediking julle aanspoor om
waaksaam te wees en getrou. Die evangelie van genade kan so
maklik bedreig word. Of liewer, ons kan so maklik onsself in
gevaar bring deur ons misleidende gedagtes en praktyke. Paulus
waarsku: ’n Bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur.
Beslissend is die beginsel waardeur jy jou laat lei. Die beginsel
werk deur. Dit infekteer jou lewe of dit vernuwe jou lewe. As jy
deur wettisisme gedryf word, dan het dit ernstige gevolge. Dit
lei tot selfregverdiging en ’n veroordelende houding teenoor
ander. Om op ons eie gedagtes en gedrag te vertrou, lei tot die
vloek van die wet. As ek my egter deur genade alleen laat lei,
dan sal my lewe floreer. As ek werklik Christus aanvaar as my
volkome verlosser, vir die volle 100%, dan sal my lewe rype
vrugte dra. Vrugte van dankbaarheid. "Want in Christus Jesus
het nog die besnydenis nog die onbesnedenheid enige krag, maar
die geloof wat deur die liefde werk."

Ja, die geloof werk deur die liefde, dis wat genade tot stand
bring. Dit bevry van ’n krampagtige en senuagtige houding.
Dit bring jou daartoe om alle selfregverdiging aan die kant te
sit, dat jy ander nie meer meet na jou selfgemaakte standaarde
nie. Dit maak die omgang binne die gemeente soveel meer ontspanne
en oop. Jy waardeer dit wanneer jy op grond van die woord van God
aangespreek word. Jou vaste en vertroude patrone staan nie bo
diskussie nie. Nee, jy verwelkom ’n gesprek daaroor op grond
van die Skrif.

Om deur genade alleen te leef beteken dat jou geloof deur
liefde tot dade oorgaan. Jy maak nie asof deur net te doen wat
van jou verwag word nie. Jy wil alles uit liefde doen, uit dank
tot God. Dan wil jy niks met wettisisme te doen hê nie, ook nie
met slapheid of wetteloosheid nie. Albei pas nie by die evangelie
van genade nie. Jy wil jou dank aan God so goed as moontlik wys.
Niks is dan teveel vir jou nie. So lank as jou God maar ontvang
wat Hom toekom. Jou hele lewe is tot sy beskikking.

Dan sal jy meer en meer die vrug van die Gees wys. Die vrug
van die Gees, wat volgens Gal 5:22 bestaan uit liefde, blydskap,
vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid,
sagmoedigheid en selfbeheersing. Geliefdes, laat ons dan ons
belydenis uitleef. Bewys die evangelie van genade alleen met
’n geloof wat deur die liefde werk.

AMEN

Kopiereg word
voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)