Die Vader van ons Here Jesus Christus is my God en Vader

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2007-04-29
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 9
Preek Inhoud: 

Sondag 9

Ds C Kleijn - Sondag 29 April 2007

Lees: Romeine 8:12-30; Sondag 9.
Sing: Ps 146:1,3; Ps 146:4,5,8; SB 10:3-6; SB 33;
Ps 103:7,9.

Tema: Die Vader van ons Here Jesus Christus is my God
en Vader

  1. Vader se liefde
  2. Ons vertroue

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Broer, suster, seun, dogter, hoe sien jy jouself? Wie is jy?
Wat is jou identiteit? Gewoonlik word ons na ons ouers genoem.
Ons is ’n seun of dogter van die of die. Wanneer jy glo in
die Here Jesus Christus mag jy jouself egter na jou God noem. Wie
is jy dan? Wat is jou identiteit? Jy is ’n seun of dogter
van God die Vader. Die Vader van ons Here Jesus Christus is jou
God en Vader.

Daaroor wil ek vanaand vir julle die evangelie verkondig: die
Vader van ons Here Jesus Christus is my God en Vader

Ons let eerstens op Vader se liefde

En tweedens op ons vertroue.

Sondag 9 begin met ’n moeilike sin: "Ek glo dat die
ewige Vader van ons Here Jesus Christus…ter wille van sy
Seun Christus my God en Vader is."

Wat beteken dit?

Dalk dink jy: dit beteken eenvoudig dat Hy die Vader van ons
Here Jesus Christus is en dat Hy dit altyd sal bly. Op sigself is
dit waar. Alleen dit is slegs die helfte van die verhaal. Dit
beteken meer as dit. Dit impliseer ook: jy moet nie van jou
hemelse Vader op ’n aardse manier dink nie. Oftewel: moenie
’n beeld van jou hemelse Vader vorm op grond van jou
persoonlike ervaring met aardse vaders nie. Dit kan wees dat jou
aardse vader ’n ontoereikende vader was, iemand wat amper
nooit tyd of aandag vir jou gehad het nie. Met sulke ervarings
kan dit moeilik wees om God as Vader te herken. Dit kan moeilik
wees om met God se vaderskap bly te wees.

Maar, Goddank, dit is nie onmoontlik om met sy vaderskap bly
te wees nie. Die kontras met jou eie vader kan veroorsaak dat jy
God se vaderskap des te meer leer waardeer. Die gedagte aan jou
Skepper as ’n volmaakte Vader, trou in liefde en sorg,
grootmoedig en bedagsaam, wat belangstel in alles wat jy doen,
wat jou individualiteit respekteer, wat volmaak wys in sy leiding
en altyd beskikbaar is ens. Die gedagte dat jou Skepper ’n
volmaakte Vader is, is ’n gedagte wat betekenis kan hê vir
elkeen van julle, of jy nou ’n geweldige aardse vader gehad
het of ’n vader wat jou teleurgestel het. In laasgenoemde
situasie kan jy sê: ek het nooit geweet wat dit is om ’n
egte vader op aarde te hê nie, maar, dank God, ek het nou wel
een in die hemel.

Daarom, moenie ooit jou hemelse Vader oordeel na jou
persoonlike ervaring met jou aardse vader nie. Want God is as
Vader so anders. Hy is die ewige Vader van ons Here Jesus
Christus. Dit beteken dat Hy altyd die Vader van ons Here Jesus
Christus was.

Dis iets wat ons nie kan verstaan nie. Manne word net vader op
’n sekere oomblik van hul lewe, jare later as hul eie vaders.
Maar dit is nie die geval met ons hemelse Vader nie. Hy was Vader
van ewigheid af. Die Vader was nooit sonder die Seun nie. Nee,
ons kan dit nie verstaan nie. Maar dit is wat ons glo volgens die
Skrif. En ons mag daaruit konkludeer dat die vaderskap van God
die Vader wesenlik by Hom behoort. Dis deel van sy wese van
ewigheid en dit sal nooit verander nie. Indien God die Vader nie
meer ’n Vader sou wees nie, indien Hy ons nie meer soos
’n vader sou behandel nie, vol van liefde en belangstelling,
dan sou Hy feitelik ophou om God te wees.

Dit is baie anders by ons. Op ’n seker tydstip word jy
miskien ’n vader. Miskien maak jy daar ’n gemors van,
maar jy bly nog steeds ’n mens, ook al sou jy jou regte as
vader verloor, verspeel. Met God die Vader is dit anders. Sy
Vaderskap is so fundamenteel vir sy bestaan dat as Hy as Vader
sou faal, Hy nie langer God sou wees nie. Dan sou Hy Homself
verloën. Maar Hy kan Homself nie verloën nie (2 Tim 2). Die
situasie sal daarom nooit voorkom nie dat God die Vader nie
langer ’n Vader vir ons sou wees nie. Wat ’n troos! Dis
eenvoudig onmoontlik vir Hom om nie ’n werklike Vader te
wees nie. God het ons heeltemal nie nodig gehad nie. Hy het ons
nie nodig gehad om sy liefde met ons te deel nie. Die Vader het
mos altyd sy Seun gehad. Maar Hy het besluit om ons te skep. Hy
wou sy liefde met ons deel. Is dit nie wonderlik nie? ’n
Wonder van liefde.

Broers en susters, God die Vader het ons ook nie laat gis oor
wat sy vaderskap beteken nie. Hy het die volle betekenis van die
verhouding deur ons Here Jesus Christus bekend gemaak. Wat
beteken dit dat Hy die Vader van ons Here Jesus Christus was en
is? Sy vaderskap behels gesag. Die Vader beveel en beskik. Die
Seun het nie gekom om sy eie wil te doen nie, maar die wil van
Hom wat Hom gestuur het. Dit was sy voedsel om die wil te doen
van Hom wat Hom gestuur het en om sy werk te volbring (Joh 4:34).

Vaderskap behels ook liefde. Die Vader het die Seun lief.
Christus sê dat Hy die gebooie van sy Vader bewaar en in Vader
se liefde bly (Joh 15:10).

Vaderskap beteken ook verbondenheid, gemeenskap. Ek is nie
alleen nie, sê Christus, maar die Vader is met my. "Hy wat
My gestuur het, is met My; die Vader het My nie alleen gelaat nie,
omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is" (Joh 8:29).

Vaderskap behels ook eer. Die Vader wil die Seun ook
verheerlik.

Wel geliefdes, dit alles geld ook vir ons God se aangenome
kinders. In en deur Jesus Christus het ons hemelse Vader ook
gesag oor ons, het Hy ons lief, laat Hy ons deel in sy gemeenskap,
wil Hy ons eer. As Jesus Hom aan die Vader onderwerp het, behoort
ons dit ook te doen. "Want dit is die liefde tot God, dat
ons sy gebooie bewaar" (1 Joh 5:3). Soos God die Vader sy
eniggebore Seun liefhet, so het Hy ook ons sy aangenome kinders
lief. Soos God die Vader gemeenskap met Jesus het, so het Hy ook
gemeenskap met ons. Soos God die Vader Jesus verheerlik het, so
verheerlik Hy Jesus se volgelinge, as broers en susters in die
een gesin.

Ja, God die Vader het ons in sy gesin en gemeenskap opgeneem.
As aangenome kinders en erfgename. Geborgenheid en liefde is in
die hart van die verhouding. God die Vader maak dit nie slegs reg
tussen Homself en ons deur Christus nie. Hy laat ons ook deel in
sy liefde en sorg. Dis baie meer en geweldiger: Om deur God die
Vader bemin en versorg te wees! Ons aanneming tot kinders bewys
die grootheid van God se liefde. God het ons as ‘t ware van
die straat af opgeraap, uit die geut gehaal. En ons tot kinders
in sy huis gemaak.

Gemeente, in die ou dae was aanneming iets wat gewoonlik net
kinderlose en ryke egpare gedoen het. Hulle het gewoonlik nie
klein kinders aangeneem, soos dit vandag gebruiklik is nie. Hulle
het jong volwassenes aangeneem wat hulleself reeds bewys het as
geskikte persone om die familie naam op ’n waardige manier
voort te sit. In ons geval neem God ons egter aan uit vrye liefde.
Nie omdat ons karakter en geskiedenis wys dat ons waardig is om
sy naam te dra nie, maar ondanks die feit dat ons karakter en
geskiedenis die teendeel wys. Ons is nie geskik vir ’n plek
in God se gesin nie. Die idee dat Hy my, ’n sondaar, liefhet
en vereer soos Hy die Here Jesus liefhet en vereer, klink absurd.
Tog is dit wat ons aanneming beteken.

Maar, geliefdes, aanneming is na sy aard ’n daad van
onverdiende goedheid vir die persoon wat aangeneem word. As jy
’n vader word deur ’n kind aan te neem, doen jy dit
omdat jy dit kies, nie omdat jy dit moet doen nie. So neem God
ons aan omdat Hy kies om dit te doen. Hy het geen verpligting om
dit te doen nie. Hy het niks aan my sondes hoef doen nie, behalwe
om my my verdiende straf te gee. Maar Hy het my liefgehad. Hy het
my verlos. Hy het my vergewe. Hy het my as sy seun of dogter
aangeneem. Hy het Homself as Vader aan my gegee.

En sy genade hou nie daar op nie. Om ons in sy gesin op te
neem is net die begin. Soos met menslike ouers wat ’n kind
aanneem. Wanneer die kind amptelik jou eie kind word, dan begin
die ware taak: om ’n egte ouer-kind verhouding met die
aangenome kind op te bou. Dis wat jy veral wil sien gebeur.
Daarom lê jy jouself daarop toe om die kind se liefde te wen
deur liefde te gee. Jy wil die toegeneentheid opwek deur self
toegeneentheid te wys. So is dit met God. Deur jou hele lewe heen
wil Hy jou steeds meer en meer sy liefde wys op watter manier ook
al. Daarmee wil Hy jou liefde vir Hom voortdurend laat groei. Ons
uitsig as aangenome kinders van God is ‘n ewigheid van
liefde.

Menslike ouers kan faal met betrekking tot hul aangenome
kinders. Ook as hulle natuurlike kinders het. So is dit nie by
God nie. Soos die verlore seun uit die gelykenis kan dit gebeur
dat ek slegs kan sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en
voor u, ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my
soos een van u huurlinge. (Lk 15:18,19). Maar God ontvang ons as
seuns en dogters en het ons lief soos Hy sy eniggebore Seun
liefhet.

Dis klink soos ’n sprokie. Die regerende koning neem
verdwaalde kinders aan om hulle tot prinse en prinsesse te maak.
Maar Goddank dit is geen sprokie nie. Dit is ’n werklikheid,
gegrond op vrye en soewereine genade. Dis wat aanneming beteken.
Geen wonder dat Joh uitroep: "Kyk wat ’n groot liefde
die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan
word." Wanneer jy die aanneming verstaan, sal jou hart
dieselfde woorde sing.

Dit bring ons by die tweede gedagte: Ons vertroue. God se
liefde lei tot die vertroue. In liefde het God ons tot sy kinders
gemaak. Hy is ’n volmaakte Vader. Dit beteken dat die
familie verhouding ’n blywende verhouding is. Volmaakte
ouers verstoot nie hul kinders nie. Ek, ’n christen, tree
miskien op soos die verlore seun, soos ’n deurbringer. Maar
God sal nie ophou om op te tree soos die verlore seun se pa nie.
Hy wil ons sien terugkom, huis toe, en ons weer met oop arms
verwelkom.

Bowendien, soos ’n volmaakte vader, sal God alle moeite
doen om ons van sy liefde te verseker en om ons ons voorreg as
lede van sy gesin te laat weet. Aangenome kinders het die
versekering nodig dat hulle daarby behoort. ’n Volmaakte
ouer sal die versekering nie weerhou nie.

Rom 8 praat van die sekerheid. Daar sê Paulus vir ons dat
hulle wat God vantevore (in liefde) geken het, Hy ook vantevore
verordineer het om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te wees,
sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders. Met ander
woorde: God het van ewigheid af besluit om hulle as seuns in sy
gesin op te neem, naas sy eniggeborene. Wel, die wat Hy vantevore
verordineer het, die het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het,
die het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, die
het Hy ook verheerlik.

Let daarop dat al die werkwoorde, ook die werkwoord
“verheerlik” in die verlede tyd staan (het Hy
verheerlik), hoewel dit nog ’n saak van die toekoms is. Dit
wys hoe seker dit is. Dit het so te sê reeds gebeur omdat dit in
God se besluit vasstaan. Daarom spreek Paulus in vertroue uit:
"Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of
owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte
of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde
van God wat daar in Christus Jesus, ons Here, is nie."

In Rom 8 vertel Paulus ons ook dat die Gees self hier en nou
getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En as ons
kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename
van Christus.

Broers en susters, indien julle kinders en erfgename van God
is, dan mag julle versekerd wees van Vader se sorg. "Hy wat
selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal
oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles
genadiglik skenk nie?" (vs 32). In Mt 6 sê die Here Jesus:
Moenie julle kwel oor jul lewe – wat julle sal eet en wat
julle sal drink nie; of oor jul liggaam – wat julle sal
aantrek nie." (vs 25).

By tye sê of dink jy miskien: Dis nie realisties nie. Hoe kan
ek dit help dat ek my bekommer oor sekere dinge in my lewe of oor
my omstandighede? Maar die Here Jesus antwoord: jou geloof is te
klein. Het jy vergeet dat God jou Vader is? "Kyk na die
voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle
bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader
hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?" (vs 26).
As God sorg vir die voëls, sal Hy dan nie vir jou, sy kind, sorg
nie?

Die punt word positief geformuleer in die verse 31-33: "Daarom
moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons
drink, of wat sal ons aantrek nie? … want julle hemelse
Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers
die koninkryk van God en sy geregtigheid en al hierdie dinge sal
vir julle toegevoeg word."

Vergelyk die situasie van ouers wat saam met hul dogtertjie in
die motor ry. "Ons gaan verongeluk", sê die dogtertjie
bekommerd, terwyl die motor van haar ouers hom met spoed
voortbeweeg tussen die besige verkeer. "Vertrou op papa, hy
is ’n goeie bestuurder", antwoord haar ma. Die jong
meisie is gerusgestel en ontspan. Broer of suster, vertrou jy op
gelyke manier op jou hemelse Vader? Indien nie, waarom nie? Is Hy
nie ’n volmaakte en almagtige Vader nie.

Geliefdes, om God as jou Vader te ken gee ’n heerlike
perspektief. Ons aanneming tot kinders maak ons tot erfgename.
Dit waarborg vir ons die erfenis wat God vir ons bestem het.
"As ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en
mede-erfgename van Christus." (Rom 8:17). Wat hou die
beloofde erfenis in? Dit kom hierop neer dat jy die heerlikheid
met Christus kan deel. "Mede-erfgename van Christus …
sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word." Ons sal
soos ons ouer broer gemaak word. Die sonde en verganklikheid sal
tot niet gemaak word. "Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal
wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal
wees" (1 Joh 3:2).

"Ons wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug in
onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die
verlossing van ons liggaam." Dan sal ons aanneming tot
kinders in sy volheid ervaar word. Dan sal ons ten volle die
werklikheid en heerlikheid van ’n kind by Vader tuis ervaar,
die hemelse lewe, wat nou deur ons ouer broer Jesus Christus
geniet word.

Paulus staan stil by die heerlikheid van die gebeure. Hy
verseker ons dat die hele skepping met reikhalsende verlange
uitsien na die openbaarmaking van die kinders van God. Want die
skepping self sal vrygemaak word van die slawerny van die
verganklikheid tot die heerlike vryheid van die kinders van God (Rom
8:19vv). Wat ’n groot dag sal dit wees. "Wat ’n
heerlikheid." Vir God se aangenome seuns en dogters. Dan sal
ons werklik sigbaar wees as seuns en dogters van God en broers en
susters van Jesus Christus. Dan sal ons werklik deel in sy
heerlikheid.

Besef jy, broer of suster, seun of dogter, wie jy is, wat jou
ware identiteit is? Ken jy jou ware bestemming? As jy glo, dan
kan jy sê: Ek is ’n kind van God, ’n seun of dogter
van die hemelse Vader. God is my Vader. Die Hemel is my tuiste.
Elke dag is ’n dag nader. My Verlosser is my broer. Bly
jouself daaraan herinner. Ook wanneer jy snags wakker lê en tob.
Want dit is die geheim van ’n christelike lewe, van ’n
lewe wat God verheerlik. Mag hierdie geheim steeds meer en meer
jou en my geheim wees. Sodat ons saam daarvan geniet om seuns en
dogters van die hemelse Vader te wees.

AMEN

Kopiereg word
voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)