Deur die drie ontmoetings onderweg, maak Christus duidelik wat dit beteken om Hom te volg

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2007-02-18
Text: 
Lukas 9
Preek Inhoud: 

Lukas 9:57-62

Ds C Kleijn - Sondag 18 Februarie 2007

Lees: Lukas 9:51-10:12; 14:25-35.
Sing: Ps 138:1,4; Ps 96:1,2; Ps 25:2,4; Ps 143:7,8,9;
Ps 86:3,6.

Tema: Deur die drie ontmoetings onderweg, maak
Christus duidelik wat dit beteken om Hom te volg.

Hy wys op

  1. die omstandighede waarin sy volgelinge teregkom – jy
    moet goed weet wat jy doen
  2. die prioriteite wat hulle hulleself moet stel – die
    verspreiding van die evangelie moet eerste kom
  3. die gerigtheid wat hulle moet wys – jy moet vorentoe
    kyk, nie agtertoe nie

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wie ken nie die opdrag om Christus te volg nie? By elke doop
bid ons: “gee dat hierdie kind, terwyl hy Christus daagliks
navolg, sy kruis blymoedig sal dra deur Hom aan te hang met
opregte geloof, vaste hoop en vurige liefde.” Wanneer jong
mense geloofsbelydenis aflê gee hulle daarmee te kenne dat hulle
Christus wil volg. En dat hulle die konsekwensies daarvan
blymoedig aanvaar. Ja, feitelik doen ons dit elke keer wanneer
ons Christus se naam bely, bv wanneer ons die HN vier. My lewe as
’n Christen moet juis deur die navolging van Christus
gekenmerk wees.

Geliefdes, ons teks praat ook oor die navolging van Christus.
Julle moet egter wel let op die uitsonderlike situasie waarin
Christus hierdie woorde spreek. Die ontmoetinge van ons teks vind
plaas, lees ons, terwyl hulle op reis is. Die Here en sy
dissipels is op pad na Jerusalem. Sien vers 51. Jesus is
vasberade om die pad te loop wat tot sy kruisiging en hemelvaart
gaan lei. Met daardie doel voor oë, is Christus besig om deur
allerlei stede en dorpe te reis. Voor sy definitiewe afskeid, wil
Hy nog ’n laaste dringende beroep doen op die harte van die
verbondsvolk.

Die koms van God se koninkryk moet aan hulle verkondig word.
Dit word nou meer dringend, nou Christus op pad na Jerusalem is.
Die tyd van sy vertrek van die aarde kom naderby. Daar is geen
tyd om te verloor nie.

Nou, terwyl hy op pad is deur stede en dorpe, praat Christus
oor die volg van Hom. Tydens die reis praat Christus met drie
verskillende mense en deur hulle laat hy ons weet wat die beteken
om Hom te volg.

Ek verkondig vir julle: deur die drie ontmoetings onderweg,
maak Christus duidelik wat dit beteken om Hom te volg.

Hy wys op

  1. die omstandighede waarin sy volgelinge teregkom – jy
    moet goed weet wat jy doen.
  2. die prioriteite wat hulle hulleself moet stel – die
    verspreiding van die evangelie moet eerste kom
  3. die gerigtheid wat hulle moet wys – jy moet vorentoe
    kyk, nie agtertoe nie.

Volgens Mt is die eerste persoon wat Christus ontmoet ’n
skrifgeleerde. Uit eie inisiatief kom hy by Jesus en bied hy
homself spontaan aan as sy volgeling: Here, ek sal U volg waar U
ook mag gaan. Die man is blykbaar beïndruk met hierdie nuwe
Rabbi, Jesus. Hy wil hom vir goed by Jesus aansluit en hom volg.
Hy is bereid om daarvoor alles prys te gee. Hy beloof onbeperkte
lojaliteit. Ek sal u volg, waar U ook mag gaan. Dis geen sinekuur
nie.

Hoe reageer Jesus op sy spontane en entoesiaste aanbod? Laat
Hy blyk dat Hy bly is oor so ’n groot entoesiasme? Nooi Hy
die man vriendelik uit om Hom te volg? Ons sou so ’n reaksie
verwag. Is dit nie wonderlik dat hierdie man homself aan Christus
aanbied nie? Wie is spontaan bereid om alles te verlaat om
Christus te volg? Dit moet tog met oop arms verwelkom word? As
een van ons kinders spontaan sê dat hy of sy Christus wil volg
en dien, of as een sê dat hy sy geloof openlik wil bely, laat
ons dan nie as eerste weet dat ons bly en dankbaar daaroor is nie?
Wonderlik dat jy dit wil doen.

Christus se reaksie is egter heeltemal anders. Dis soos
’n koue stort. Dis asof Christus met een klap die vlam doof.
Die man ontvang ’n teleurstellende antwoord. Jesus
konfronteer hom met die gevolge van sy keuse. Hy antwoord:
“die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste,
maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan
neerlê nie.”

Jesus verwys na sy eie omstandighede. Laat die volgeling hom
nie in sy Meester vergis nie. As jy Hom wil volg, dan moet jy ook
deel in sy omstandighede. Jy moet nie te ligvaardig daaroor dink
nie. Swerwende jakkalse het gate om in te bly, vlieënde voëls
het hul neste. Maar hierdie reisende Rabbi moet sonder rusplek
klaarkom. Hy moet aan die gang bly sonder rus. Christus word deur
die mense afgewys. Ons lees in die Skrifgedeelte wat aan ons teks
voorafgaan, dat die Samaritane Christus nie wil ontvang nie. Hy
word voortgedryf en orals wag daar werk vir hom.

Om die teenstelling te benadruk tussen homself en die jakkalse
en voëls, stel Christus homself voor as die Seun van die mens,
as die Messias koning van Daniël se profesie, as die Heer en
erfgenaam van die hele skepping. ’n Mens sou verwag dat die
Heer van die hele skepping die beste plek sou ontvang. Die
teendeel is waar. Jakkalse en voëls is beter af. Hulle het hul
eie rusplek. Nie Hy nie. Hy het geen huis van sy eie waar hy kan
rus nie. Hy ly ontbering en rusteloosheid.

As jy so ’n rabbi wil volg dan moet jy goed weet wat jy
doen. ’n Volgeling, ’n dissipel is nie meer as sy
Meester nie. Jy moet dan deel in die omstandighede van jou
Meester. Jy sal goed daaroor moet nadink, voordat jy jou
definitief by so ’n rabbi aansluit. Jy sal daar goed aan
doen om die koste voor die tyd te bereken om te sien of dit
werklik iets is wat jy wil doen. Op geen enkele manier is dit
goedkoop en maklik om die Here te volg nie. Christus self het
gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself
verloën en sy kruis opneem en My volg.” En “Elkeen wat
sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie
wees nie.”

Geliefdes, dis geen kleinigheid om daagliks jou kruis op te
neem nie. Dit beteken dat jy elke dag weer bereid moet wees om
met Christus te ly. Om aan die kant geskuif te word, om skade te
ly, om geminag, bespot en veroordeel te word selfs deur jou eie
klasmaats en kollegas terwille van Christus. Dis nie niks nie.
Nie tydens Christus se laaste reise nie, sy volgelinge moes
getuies wees sy uitsonderlike lyding en skande. Dis ook geen
kleinigheid vandag nie. Om Christus se naam te bely, om Hom as
die Heer van jou lewe te aanvaar, is geen sinekuur nie. Dit
beteken baie meer as om so nou en dan vir Christus op te kom.
Moenie ligtelik dink van jou belydenis van sy naam in die kerk en
in die samelewing nie. Daarmee bevestig jy publiek jou begeerte,
ja, broer, suster, seun dogter, dit moet jou begeerte wees om
daagliks jou kruis op te neem en Christus te volg. Dit beteken
dat jy daagliks jouself verloën. Jou ou natuur doodmaak. Elke
dag weer die konsekwensies aanvaar van ’n duidelike keuse
vir die Here, ook al sou dit beteken dat jy die aanvaarding van
die mense verloor, van jou vriende, van jou familie. Om Christus
te volg is geen kleinigheid nie. Jy sal baie moet prysgee en
verloor in hierdie wêreld. Die erfgename van die wêreld word
nog uit hul plek verdring, maar dit moet jou daaglikse vreugde
wees om dit vir Christus te ly. ’n Dissipel is nie meer as
sy Meester nie. ’n Christen is nie meer as Christus nie.

Gemeente, in sy eerste ontmoeting maak Christus duidelik in
watter omstandighede sy volgelinge sal teregkom. Jy moet goed
weet wat jy doen. In sy tweede ontmoeting wys Christus op die
prioriteit wat sy volgelinge hulleself moet stel – die
verspreiding van die evangelie moet eerste kom.

Christus neem nou self die inisiatief. Hy sê vir iemand: volg
my. Daardie man moet hom nou definitief by Christus aansluit en
hom volg op al sy reise.

Die man is nog nie gereed nie. Hy wys die uitnodiging nie af
nie, maar vra om uitstel: Laat my toe om eers my vader te gaan
begrawe. Die versoek van hierdie man lyk meer as billik te wees.
In die wet het die Here bevel gegee dat die kinders hul vader en
moeder moes eer. Behoort ’n goeie begrafnis nie tot die
verskuldigde eerbetoon nie?

Jesus antwoord is verbasend. Dit lyk so ongevoelig en hard.
Dink jou in dat dit vir jou gesê sou word: Laat die dooies hul
eie dooies begrawe. Laat die begrafnis van jou vader aan ander
oor, aan die dooies, dws aan hulle wat nie die ware lewe ken nie
en nie deur die evangelie in beweging gebring is nie. Sulke
onbekeerdes, wat die diens van die Here afwys, bly dood,
geestelik dood. Laat hulle dan in die huidige situasie sorg dra
vir die begrafnis.

Broers en susters, ’n mens kan sulke skynbaar ongevoelige
woorde net verstaan indien jy die historiese konteks raaksien.
Ons het reeds gesien dat Jesus met sy laaste reise besig is, voor
sy definitiewe afskeid. Die tyd vir Hom om opgeneem te word is
naby. Nog een keer wil Hy die evangelie van die koms van God se
koninkryk verkondig. As ’n laaste dringende oproep. Daar is
geen tyd om te verloor nie. Onmiddellik na ons teks lees ons van
die sending van die 70. Die oes is groot maar die arbeiders min.
Geen arbeider kan gemis word nie.

Daarom die opdrag van Christus: volg my. Neem deel aan hierdie
groot offensief waarvoor ons gereed staan. Kom saam met ons in
diens van die evangelie. Laat ander mense sorg dra vir die
begrafnis. Daar is nou belangriker sake om te doen. Dis nou die
tyd vir God se koninkryk. Die sending van die 70 staan nou op die
program. Gaan en verkondig die koninkryk van God. Hierdie opdrag
duld geen uitstel nie. As jy nou nie saamkom nie, dan is dit te
laat.

Indien hierdie man aan die begrafnis sou deelneem, dan sou hy
behoorlik wat tyd verloor. Die begrafnis seremonies van die Jode
het ’n lange tyd gevat. Dit het beteken dat ’n mens
sewe dae onrein was, 7 dae afgesonder van die gemeenskap en
ongeskik vir werk. Maar dan sal hierdie man nie langer as God se
boodskapper kan optree nie. Dan sal hy nie langer ingeskakel kan
wees op hierdie reis nie.

Daarom, gaan jy en verkondig die koninkryk van God. Doen dit
nou, onmiddellik. Alles moet nou wyk vir die diens van die
evangelie. Die belang daarvan duld geen uitstel nie. Die
verkondiging van die evangelie moet nou eerste wees. Die man moet
nou hierdie prioriteit stel. Hy het nou iets belangriker om te
doen as om ’n dooie te begrawe. Hy moet die woord verkondig
wat dooies lewend maak.

Alle familie verpligtings moet wyk vir God se koninkryk. In
die wet het die Here reeds ’n voorbeeld hiervan gegee. Die
hoëpriester en nasireërs was verbied om hulleself deur die dood
te verontreinig, ook al was dit van hul eie pa of ma. So kan dit
ook gebeur dat ’n mens se familie verpligtings soms moet wyk
terwille van die veiligheid van ons land en volk. In ’n tyd
van oorlog bv ontvang die verdediging van ons land prioriteit. Jy
verlaat dan nie sommer jou pos aan die front terwille van jou
familieverpligtings nie. Die juiste prioriteite moet gestel word.
Hoeveel te meer geld dit nie vir die koninkryk van die hemele nie.
Volgelinge van Christus moet voorrang gee aan dit wat op daardie
oomblik die belangrikste in God se koninkryk is.

Om Christus te volg beteken vir ons vandag natuurlik nie
presies dieselfde as vir die dissipels tot wie hy op daardie
oomblik praat nie. Vir hulle het dit beteken dat hulle tydelik
hul huis verlaat het om ’n evangelis te word in diens van
Christus. Die Here Jesus eis vandag nie van ons dat ons ons
gesinne en daaglikse werk verlaat nie. Ons bly in ons gesinne en
by ons daaglikse werk.

Tog, volg my, is ’n eis wat ook tot ons kom. Ons moet
agter Christus aangaan. Dit beteken ook vir ons dat ons die
juiste prioriteite moet stel. Die Here het haas. Ons taak as
profete en profetesse duld geen uitstel nie. Die lewende
evangelie wat dooies lewend maak moet versprei word. Dit is nie
’n stokperdjie vir enkelinge nie, maar ’n roeping vir
elke gelowige. Soos die eerste Christene die evangelie van God se
koninkryk verkondig het orals waar hulle gekom het. En ons lees
in die boek Handelinge dat die Woord van God toegeneem het.

Die instruksie om die evangelie te versprei begin dig by huis,
vir elkeen persoonlik in sy eie gesinslewe, in die kontakte
tussen man en vrou, broers en susters, ouers en kinders. In eie
omgewing, ook in eie gemeente. As daar ’n mens in nood is,
in geestelike nood vanweë die sonde, moet ons onsself geen rus
gun totdat die lewendmakende, genesende evangelie gebring is nie.

Daar is haas met die saak van God se koninkryk. Elkeen op sy
eie plek met sy eie gawes moet die juiste prioriteite stel. Daar
is geen tyd om te verloor nie. Hoe lank sal die tyd van genade
nog voortduur?

Ten slotte, wys Christus in die derde ontmoeting die
gerigtheid wat sy volgelinge moet wys – jy moet vorentoe kyk,
nie agtertoe nie.

Die derde persoon wat Jesus op sy reis ontmoet, bied aan om
Hom te volg, maar vra uitstel om van sy familie en dalk van sy
bedryf afskeid te kan neem.

Christus se antwoord lyk opnuut teleurstellend en radikaal.
Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is
geskik vir die koninkryk van God nie.

Christus gebruik ’n beeld wat aan die boerebedryf ontleen
is. As jy besig is om te ploeg dan moet jy jou aandag en oë by
jou werk hou. Jy moet goed let op wat voor jou lê. As jy steeds
agtertoe kyk, sal jy die klippe op die land nie kan vermy nie. So
’n boer is ongeskik vir sy werk.

Dieselfde geld vir die dienaars van die Here, sy volgelinge.
Ons moet met ons hele hart en met volle toewyding die pad loop
wat voor ons is. As ons voortdurend agtertoe kyk, is ons ongeskik
vir God se koninkryk. Ons is dan nie bruikbaar vir die Here nie.
Sulke burgers is nie van nut in God se koninkryk nie.

Maar broers en susters, word ons dan verbied om terug te kyk?
Mag ons dan nie terugdink aan dinge uit die verlede nie? Moet ons
die verlede dan uitwis?

Ons mense is geneig om agtertoe te kyk. As ons lewe ’n
drastiese wending gemaak het, kyk ons dikwels met hunkering of
verdriet terug. Wanneer ons omstandighede of gesondheid
agteruitgaan, versleg, dan kan ons met hunkering kyk na die dae
wat verby. Toe was alles soveel beter.

As ons ’n geliefde moet mis, ons pa of ma, ons man of
vrou of een van ons kinders, dan kan ’n sterk verlange ons
beheers. Christus wys ons egter tereg. Die verlede kan as ’n
verhindering vir die hede en die toekoms funksioneer. Die gevaar
dat ons die toekoms moet sy verantwoordelikhede probeer ontvlug
deur in ons herinneringe te vlug is nie denkbeeldig nie. Ons wil
dan aan die verlede vashou, in die verlede bly leef. Ons kan so
besig wees daarmee dat ons nie ons nuwe posisie en taak raaksien
nie, laat staan dat ons dit aanvaar. Dis daarom baie gevaarlik om
terug te bly kyk. Deur dit te doen sal ons verhinder word in die
vervulling van ons huidige take. Daardeur is ons nie in staat om
ons heeltemal te gee aan die nuwe verantwoordelikhede wat God vir
ons gee. Daar is ’n gevaar dat ons dan ons nuwe roeping
heeltemal verwaarloos en ons situasie net erger maak. Wie
konstant besig is met wat hy moet mis en nie sy God gegewe take
hier en nou sien nie, dreig om die pad byster te raak. Soos die
boer wat voortdurend agtertoe kyk. Hy kan die vore nie trek soos
dit behoort nie. As jy steeds terugkyk sal jy selfs slegter
daaraan toe wees. Dit help niemand nie, jou familie nie, jou
omgewing nie en wat erger is God nie. Jy maak jouself ongeskik
vir die koninkryk van God.

Daarom los die verlede en moenie terugkyk vir sover dit jou
kan verhinder by jou take nou en in die toekoms. Dit beteken nie
dat jy die verlede volkome moet uitwis nie. Ons kan ook so aan
die verlede terugdink dat ons ons daardeur laat bemoedig of
waarsku. Dan ontvang die verlede ’n totaal ander funksie in
ons lewens. Ons koester dan nie net ons eie gevoelens van
verdriet nie, ons soek nie onsself nie, maar in die verlede
ontmoet ons dan ons God wat ons vandag nog tot sy diens roep en
wat ook vandag ons daarby wil begelei met sy genade en Gees.

Geliefdes, die woord van God wil ons oefen om nie agtertoe
gerig te wees nie, maar vorentoe. Die man van die teks word
geroep om hom met sy hele wese aan sy nuwe taak te wy. Dit sal
hom net ophou as hy huis toe sou gaan, miskien ook na sy
boerebedryf om afskeid te neem van sy mense. Daar is geen
geleentheid daarvoor nie. As hy hom laat trek deur sy huis en
bedryf dan is hy ongeskik vir God se koninkryk, onbruikbaar.

Werkers moet nou uitgestuur word. En hulle moet al hulle
aandag gee vir hulle nuwe taak.

Vir ons vandag is die situasie anders. Ons hoef ons huis nie
te verlaat nie. Maar ook vir ons geld dat ons die gerigtheid moet
wys wat pas by Christus se volgelinge. Ons word geroep om
vorentoe te kyk sodat ons ons vore reg trek. Ons grootste
verlange moet wees om bruikbaar te wees in God se koninkryk. Dan
is ons tevrede met die plek wat God nou vir ons gee ook al mag
dit baie anders wees as wat ons gehad het of begeer het. Dis nie
vir ons om te besluit oor ons plek en omstandighede nie.

Daarom, broers en susters, laat ons hier en nou ons wy aan die
take wat God ons gegee het. Laat ons ons konsentreer op die werk
wat ons in God se koninkryk ontvang. Laat ons getrou agter
Christus bly aangaan. Ons het die bewyse van sy trou in die
verlede. Daar is geen rede om moed te verloor nie. Vertrou
jouself met ’n gerus hart toe aan jou nuwe Meester, jou
Verlosser en haas jou na sy groot dag.

AMEN

Kopiereg word
voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)