Deur die instelling van die Huttefees leer God sy volk ware dankbaarheid en vertroue

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2007-05-06
Text: 
Levítikus 23
Preek Inhoud: 

Levítikus 23:39-43

Ds C Kleijn - Sondag 6 Mei 2007

Lees: Levítikus 23.
Sing: Ps 95:1,2,3; Ps 95:4,5; Ps 85:3,4; Ps 68:9;
Ps 33:11.

Tema: Deur die instelling van die Huttefees leer God
sy volk ware dankbaarheid en vertroue

  1. die tydstip van die fees
  2. die vreugde van die fees
  3. die behuising tydens die fees

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanoggend dank ons die Here vir gewas en arbeid. Ons dank vir
die opbrengs van land en tuinbou, dank vir die kragte tot die
arbeid en vir die vrugte van die arbeid, dank vir God se
versorging.

Is hierdie tyd wel geskik om te dank vir gewas en arbeid?
Behalwe die verdriet en onsekerheid wat die boere al ken vanweë
die aanhoudende plaasmoorde of aanvalle, kom verskeie boere ook
in die moeilikheid vanweë die droogte wat hierdie somer
gekenmerk het.

Wat die arbeid betref mag ons bly wees dat in die afgelope
jaar nuwe werk geskep is waardeur verskeie werkloses werk kon kry.
Aan die ander kant was daar ook mense wat hulle werk verloor het.
Ondanks die toename in werkgeleentheid bly daar in ons land
’n skrynende werkloosheid. Ons sien ook dat die kloof tussen
ryk en arm net groter word. Rykes het die laaste jare steeds
ryker geword terwyl die meeste armes ewe arm gebly het. So bly
daar ’n groot aantal gesinne en persone wat finansiële
probleme ervaar vanweë ’n tekort aan inkomste en
lewenskoste wat steeds maar bly styg.

Kan ons in hierdie tyd dan wel rustig en gesamentlik dank vir
gewas en arbeid? Vir hulle wat dit nie breed het, kan dit amper
onmoontlik lyk. En wat van hulle wat dit wel breed het? Kan hulle
nog dank? Baie mense in ons samelewing het dit ook verleer. Pleks
om na bo te kyk, kyk baie mense na benede, na die menslike en
aardse vlak. Hulle wat sleg af is kyk maklik na mense wat beter
af is. Hulle wat goed af is, kyk maklik na die menslike faktore
wat ’n rol gespeel het. Ons het goeie besigheid gedoen. Ons
het daarvoor geleer. Ons het hard daarvoor gewerk. Ons het tog
maar goed gepresteer. Kan mense nog werklik dank in hierdie
mensgesentreerde samelewing?

Broer, suster, hoe is dit met jou, met my? Ja, ek bid wel en
ek dank ook wel. Ek kyk dus na bo. Maar hoe bewus doen ek dit? Is
daar nog steeds die opregte verwondering oor wat God in genade
bly skenk? Die besef van volkome afhanklikheid van God, dat alles
feitelik aan Hom behoort? Laat jy jouself werklik daardeur lei,
as dit goed gaan, maar ook as die sleg gaan? Toon jy dit in jou
doen en late, in jou woorde en werke. Ja, word jou lewe as
Christen werklik gekenmerk deur die dankbaarheid, soos God ons
daartoe oproep in bv 1 Thess 5:18 "Wees in alles dankbaar,
want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle."

Dit is nie maklik nie. Nie maklik wanneer ons swaarkry nie,
maar ook nie maklik wanneer ons voorspoedig is nie. Opregte dank
is iets wat ons steeds weer moet leer. Wat die Gees van God ons
moet leer. Daarom wil ek julle voorhou wat die Gees van God ons
leer deur die instelling van die Huttefees.

Ek verkondig vir julle: deur die instelling van die Huttefees
leer God sy volk ware dankbaarheid en vertroue.

  1. die tydstip van die fees
  2. die vreugde van die fees
  3. die behuising tydens die fees

In die Ou Testament prent die Here sy volk in, dat alles van
Hom is. Niemand kan roem in eie besit nie, want alles behoort aan
die Here en ons is slegs rentmeesters. En wat doen rentmeesters?
Hulle beheer die besit van ’n ander, in hierdie geval God.

Die Here prent dit in deur al die feeste en heilige dae in te
stel. Die hele maatskaplike lewe van die ou verbondsvolk sirkel
rondom die vaste dae en word daardeur bepaal. Dink aan die
weekliks terugkerende sabbat. Op die sabbat mog volstrek geen
werk verrig word nie, selfs nie in die drukke ploeg en oestyd nie.
Jy moet weet dat jy afhanklik en in diens van die Here is. Die
sabbat beheers nie slegs die jaar nie, maar ook die gang van die
jare, dink aan die sabbatsjaar – elke 7 jare – en die
jubeljaar na 7 sabbatsjare.

Dan het die Israeliete elke jaar nog die groot feeste wat
hulle moes onderhou. Dit het begin met die Paasfees. Die Paasfees
het die mense herinner aan die uittog uit Egipte. Dit was ook
’n oesfees. Op die Paasfees moes hulle die eerstelingsgerf
van hul oes na die priester bring om dit voor die aangesig van
die Here te beweeg. Die eerstelingsgerf van die nuwe oes –
en daarmee simbolies die hele toekomstige oes – moet aan die
Here aangebied word. Die volk moet weet dat alles van die Here is.
Hulle mag geen brood of gebraaide koring of vars graan eet nie
totdat hulle die offer aan die Here gebring het (vers 14). Hulle
mag dus niks van die nuwe oes eet nie voordat die eerstelingsgerf
aan die Here aangebied is, met die offers wat daarby behoort.
Want die land en alles wat daarop groei is van die Here.

Sewe weke daarna was daar die 2e oesfees, die fees van die
weke, die Pinksterfees. Dan moet hulle twee beweegbrode saambring.
Terwyl op die Paasfees slegs ’n gerf, ’n bondel
graanhalms, as eersteling van die oes, aan die Here aangebied is,
was dit op die Pinksterfees brood wat aangebied is, gebakte brood.
Op die Paasfees moes Israel iets van die vroegste graansoorte,
naamlik die gars, aanbied. Op die Pinksterfees moes hulle die
laaste ryp graansoort aanbied, naamlik die koring.

Die derde en laaste oesfees was die Huttefees. Dan was nie
slegs die graanoes verby nie maar ook die vrugte, olie en wyn
ingebring. Huttefees was dus die oesfees by uitstek. Die oes van
die hele jaar was daarmee afgesluit en daarin opgeneem: naamlik
die opbrengs van die land, dorsvloer en wynpers. Die fees word
dan ook die fees van die insameling genoem.

In ons hoofstuk word die fees gedateer op die 15e dag van die
7e maand. Dit is goed om kortliks by die datering stil te staan.
Dan sien jy dat die fees moes plaasvind kort na die Groot
Versoendag. Die Groot Versoendag was naamlik op die 10e van
dieselfde maand. En op die 15e van die maand het die Huttefees
begin.

Gemeente, die volgorde van hierdie twee feeste is nie
toevallig nie. Die volgorde is veelseggend. Dis ’n
indringende prediking. Israel mag die groot oesfees eers vier na
die Groot Versoendag. Eers moet die hoëpriester homself, die
volk en die heiligdom reinig met die bloed van versoening. Eers
moet die versoening aangebring word. Eers moet dit tussen die
Here en sy volk reg gemaak word. Alleen daardeur is die lewe
moontlik en kan die lewe bloei. Dit wil sê: geen Huttefees
sonder versoening nie. God se volk moet besef: die hele oes is
net genade. Ons het self niks verdien nie. Ons kan slegs eet en
drink en geniet van die oes omdat God ons met Homself versoen het.

Gemeente, hierdie prediking geld ook vir ons as Nuwe
Testamentiese gemeente. Alles wat jy vandag het, hang saam met
die bloed van ons Here Jesus Christus. Christus het naak en
berooid aan die kruis gehang om jou met God te versoen en om jou
hande weer te vul. Sy genade laat die lig deurbreek deur die
duisternis van die vloek. Indien God geen versoening in hierdie
wêreld sou aangebring het nie, dan was daar geen oes gewees nie.
Dan sou dit met ons en met die wêreld ’n afgedane saak wees.
My daaglikse brood is daarom vrug van die versoenende werk van
Christus. Ek het niks verdien nie. Slegs ’n ewige honger en
kommer. Alles wat ek in my lewe ontvang en het is enkel genade.

Wie durf dan nog die reg van die mens of die reg op welvaart
te benadruk? Wie kan nog praat van eie regte? Alleen Jesus
Christus kan dit doen en wel vir hulle wat aan Hom behoort. Dit
gaan nie om my regte hier op aarde nie, maar om die regte van my
Here. Hy het reg op al my besit. Dit is van Hom. En Hy het reg
daarop dat ek dit gebruik tot sy eer en tot heil van die naaste.

So moet jy op hierdie dankfees klein wees voor die Here en
dankbaar: alles wat jy het is genade.

Die Huttefees is by uitstek ’n fees van vreugde. Dit
bring ons by die 2e gedagte van die preek: die vreugde van die
fees.

’n Sterk aksent val op die blydskap. God se volk moet op
hierdie fees vrolik wees, sewe dae vrolik wees voor die aangesig
van die Here, hul God. Hulle moet die fees ook optooi met
sierlike takke en vrugte.

Deut 14 vertel ons hoe hulle aan die vreugde vorm moet gee.
Juis by die fees moet hulle die tiende deel van die hele opbrengs
van die oes na die heilige plekke bring. En van die tiende mag
hulle eet en geniet. Hulle mag eet wat hul hart begeer. Die Here
wil hê dat sy volk vrolik is uit dankbaarheid vir die seën wat
hulle ontvang het.

Hulle moet vrolik wees voor die aangesig van die Here, dit wil
sê, in sy teenwoordigheid op ’n heilige plek. Daar moet
hulle saamkom. So wil die Here as Gewer geëer word. Die tiende
verteenwoordig die hele oes. Deur ’n deel na God se huis te
bring en dit daar te nuttig, bely die Israeliet dat hy alles van
Hom ontvang het. Bowendien, gee hy uiting aan sy vreugde oor die
seën van die Here. Jy kan dit vergelyk met kinders wat nuwe
klere ontvang. Hoe kan jy as kind laat blyk dat jy bly met die
klere is? Jy toon jou blydskap deur die klere aan te trek en te
wys. So moet die Israeliete hul blydskap oor God se gawes toon
deur met die gawes voor die Here te verskyn.

God se volk mag sewe dae onbesorg voor die aangesig van die
Here fees vier. Daarmee is hul oesfees heeltemal anders as die
oesfees van die heidense volke rondom. Die Kanaänietiese feeste
was beheers deur besorgdheid ten aansien van die toekoms. Wat het
sentraal gestaan in die feeste? Die magiese poging om hul lewe
vir die komende seisoen te verseker. Met toorkuns of
vrugbaarheidsrituele het hulle gepoog om die magte te besweer.

God se kinders mag hulle daarenteen onbesorg voor God se
aangesig verheug. Jy ken immers die Here die lewende God, wat vir
die toekoms sal sorg. In die fees voor die aangesig van die Here
pas geen onrus nie. Jy moet onbesorg, in dankbaarheid en vertroue
fees vier. Dit moet ’n sigbare belydenis wees van jou geloof
dat die Here sorg.

Geliefdes, deur die praktiese voorskrif wil die Here sy volk
inprent dat hulle nie oor die toekoms bekommerd hoef te wees nie.
Wie op Hom vertrou, sal nie beskaamd word nie. Die vertroue sal
egter wel moet blyk. Ook in tye van teenspoed. Die dae van
Maleagi was moeilike dae vir God se volk. In die dae het die
Israeliete iets van die tiende agtergehou. As ek dit nie breed
het nie, dan is daar ook by my die neiging om ’n groter
persentasie vir myself agter te hou en om minder aan die Here te
gee. As die opbrengs min is, dan bly daar tog min of niks oor om
aan die Here te gee? So gebeur dit dikwels dat as iemand in
finansiële nood raak, hy eerstens die bydrae vir die Here
stopsit. Is dit reg? Wat moet die profeet Maleagi tot die volk
wat hulle bydrae inhou sê? Dit: "Bring die hele tiende na
die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My
tog hierin, sê die Here van die leërskare, of Ek vir julle nie
die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n
oorvloedige seën sal uitstort nie." (Mal 3:10).

Dit moet blyk dat God se volk op God vertrou. Waaruit moet dit
blyk? Hieruit, dat elkeen sy verpligtings teenoor die diens van
die Here nakom. Dit geld ook vandag. Julle is vandag nie gebind
aan die reël van die tiende nie. Julle moet egter ook nou jul
dankbaarheid en vertroue laat blyk. Hoe sal dit blyk? Nie deur
alles wat jy het of kry vir jouself te hou of te gebruik nie. Die
kerklike bydrae is regtig nie so vryblywend as mense soms dink
nie. Jou dankbaarheid en vertroue moet tog blyk!

Tot slot wil ek nog aandag gee aan die behuising tydens die
Huttefees. Die derde gedagte.

Van takke en twye moes die Israeliete vir hulself hutte of
afdakkies maak. Hulle moes sewe dae daarin woon. Dit moes hulle
herinner aan die verblyf in die woestyn, na die uittog uit Egipte.

Broers en susters, as jy dink aan die verblyf in die woestyn,
waaraan dink jy dan? Ons dink gou aan die ontberings en moeite
wat in die woestyn ervaar is. “Woestyn” laat ons dink
aan iets wat ontbreek. Dit is egter beslis nie die bedoeling van
ons teks nie. Hier word nie gewys op wat die Israeliete ontbeer
het nie, maar juis op wat hulle ontvang het. Die Here het in die
woestyn vir sy volk gesorg. Hy het voedsel gegee, beskerming en
onderdak. Die Here het hulle in hutte laat woon.

Die woon in hutte op die Huttefees was dus nie bedoel om hulle
te herinner aan die ontberinge, nood en moeite van die swerwe
bestaan in die woestyn nie. Dit kan nooit ’n rede tot
vreugde wees nie. Die woon in hutte was bedoel as ’n
herinnering aan die genade, aan die sorg en beskerming van die
Here tydens die groot en verskriklike woestynreis. Tydens sy tog
deur die dorre woestyn het Israel nooit kort gekom nie.
Inteendeel. Dit volk was daar onder God se hoede. Die dorre
woestyn het vir hulle ’n oord van bronne geword. Die Here
het versorg en beskerm.

Daarom moet ons, broers en susters, die Huttefees nie tot
’n fees van vrywillige armoede maak nie. So ’n karakter
het die Huttefees nie gehad nie. Dit was juis ’n uitbundige
dankfees tot eer van die Here. Die hutte was nie gemaak van die
skrale woestyn struike nie, maar van sierlike takke, takke van
vrugtebome, palmbome, digte bome en rivierwilge, vrug van die
goeie land waarin God hulle laat woon het. Die takke was ’n
lewende beeld van die oorvloedige seën waarmee die Here sy volk
verryk het. By hulle wat in die hutte woon, moet die volheid van
seën voor oë staan. Waarom? Sodat hulle nie in hul land sou
dink nie: My krag en die sterkte van my hand het vir my hierdie
rykdom verwerwe (Deut 8:17). Deur hierdie praktiese les maak die
Here duidelik dat sy volk volkome uit sy hand moet lewe. Hy het
sy volk in die woestyn versorg, ja mense, in die woestyn. Probeer
om dit in te dink. God het sy volk in die woestyn versorg. Sou jy
nog aan jou God twyfel of in eiewaan dink dat jy dit sonder Hom
kan red?

Die hutte van die Huttefees het dus niks te make met ’n
vrywillige versobering nie. Hoe belangrik so ’n versobering
ook mag wees. By versobering dink jy aan iets wat jy prysgee,
iets wat ontbreek. So ervaar ouers die woon in tente as ’n
agteruitgang. Dit kan mooi wees vir ’n kort tydjie maar dan
wil jy tog graag weer terug na jou eie huis toe. Hier word egter
in positiewe sin van die hutte gespreek. Jy sou dit kan vergelyk
met hoe kinders tente ervaar. Vir hulle is dit juis ’n fees
om in tente te woon. So het Israel fees gevier tydens die sewe
dae.

En gemeente, hy wat die fees goed gevier het, uitbundig gevier
het, as fees van die Here, hy sal juis ook aandag vir die armes
hê, vrygewig en mededeelsaam wees. Dit lyk miskien vreemd. Ons
kan tog beter ’n vasdag organiseer om solidêr met die armes
te wees? Dit lyk tog of dit eerder vrugte sal afwerp. Tog is dit
nie so nie, ook al is daar as sodanig niks verkeerds met ’n
vasdag nie. Maar by ’n vasdag dreig die aandag gerig te wees
op wat ek laat staan en wat ek afstaan. Ek gee ’n deel van
my besit aan ander mense.

By die Huttefees en by ons Christelike dankdag leer jy om nie
langer te praat van eie besit nie. Of van eie prestasies nie. Jy
word daarby bepaal dat alles van die Here kom. God het die
Israeliete tussen die uittog uit Egipte en die intog in Kanaän,
in die woestyn, versorg en beskerm. So wil God ook ons vandag
tussen die bevryding uit die slawehuis van die sonde en die intog
in die hemelse Kanaän, versorg en beskerm. In Openb 12 word ons
huidige blyplek selfs ’n woestyn genoem waar God ons
onderhou. Dit alles is ’n vrug van Christus se
versoeningswerk. Wie die Huttefees verstaan, roem nie langer in
wat die mens vermag het nie. In die woestyn was daar werklik niks
wat die mens kon presteer nie. God het gesorg. Alles kom van Hom.
God leer ons om opreg dankbaar te wees en vol vertroue. In
dankbaarheid en vertroue mag jy voor die aangesig van die Here
feesvier. As jy weet wat dit beteken, dan sal jy ook uitmunt in
naasteliefde. Alles behoort immers aan die Here, wat ons alles
ryklik verleen om te geniet; om goed te doen en ryk te wees in
goeie werke, vrygewig en mededeelsaam. (1 Tim 6: 17,18).

AMEN

Kopiereg word
voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)