Christus se sesde kruiswoord: dit is volbring

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2007-04-06
Text: 
Johannes 19
Preek Inhoud: 

Johannes 19:30a

Ds C Kleijn - Friday 6April 2007

Lees: Johannes 19:17-30.
Sing: Ps 98:1,2; Ps 98:3,4; Ps 40:4; SB 7:4,5,8;
SB 8:1,2.

Tema: Christus se sesde kruiswoord: dit is volbring.

Die woord beteken paradysvreugde

  1. vir die Vader
  2. vir die kerk

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Goeie Vrydag is ’n donker dag, ’n dag van
verskriklik bitter lyding. Midde in dag word dit stikdonker. God
die Vader onttrek alle lig aan sy Seun aan die kruis. Hy sit sy
Seun in die duisternis. Jesus Christus moet die hel deurstaan. Is
dit alles wat ons oor Goeie Vrydag kan sê? Gelukkig nie. Daar is
baie meer wat ons kan sê. Anders sou ons op hierdie dag in rou
moet gaan. En sou ons nie van Goeie Vrydag praat nie. Nee, daar
is baie meer om oor Goeie Vrydag te sê. Na 3 ure duisternis skyn
op Golgotha die son weer. En ons hoor Jesus Christus
triomfantelik uitroep: dit is volbring.

Christus verrys uit die hel. Wat ’n heerlikheid. Dit het
nooit eerder gebeur nie: hier kom iemand uit die hel uit.
Christus klim daaruit en die eerste wat Hy sê is: Ek het dors.
Mense gee my iets om te drink. Waarom vra Hy nou vir iets om te
drink? Eerder het die soldate hom iets aangebied maar het hy dit
afgewys. Waarom vra Hy nou dan wel vir iets om te drink? Drie ure
gelede het Christus ’n drink geweier omdat hy nog werk gehad
het om te doen. Hy moes die toorn van God teen die sonde van die
wêreld dra en dit in volle bewussyn. Christus weet egter nou dat
alles volbring is, lees ons in vers 28. Vader se lig het
teruggekeer. Christus wil nou iets om te drink hê om publiek en
duidelik uit te kan roep dat alles volbring is. Die hele wêreld
moet dit weet, die kerk moet dit weet. Engele en demone moet dit
hoor. Daarom neem Christus die asyn. En dan hoor ons die
triomfantelike woord, die mooiste woord van alle eeue: dit is
volbring.

Vanoggend verkondig ek vir julle Christus se sesde kruiswoord:
dit is volbring.

Die woord beteken paradysvreugde

  1. vir die Vader
  2. vir die kerk

Dit is volbring. In die Grieks is dit net een woord. Maar die
inhoud is ongelooflik. Wanneer ons die woord hoor, dink ons
dikwels net aan wat dit vir ons beteken. Christus sou dit vir ons
gesê het. Die woord gee vir ons vrede en vreugde. Ons vind rus
in die werk wat Christus volbring het. Ons volkome verlossing is
nou gereed.

Tog geliefdes, die woord van Christus is nie net vir ons
bestem nie, selfs nie in die eerste plek nie. Dis opvallend dat
hierdie woord van Christus – in teenstelling tot die ander
kruiswoorde – nie aan spesifieke persone geadresseer is nie.
Dit beteken natuurlik nie, dat dit geen adres het nie. Nee, dit
is vir almal bestem, vir die hele kosmos, vir hemel en aarde.
Hierdie woord gee nie net vreugde vir ons hier op aarde nie, dit
gee ook vreugde in die hemel. Hierdie woord is in die eerste plek
vir die hemel bedoel, vir die Vader. Christus doen verslag van sy
werk as die Gesalfde van die Here.

Dit is volbring. In hierdie stadium het die Seun net een woord
vir sy Vader: volbring, voltooi. Christus sê nie eers: Ek het
dit volbring nie. Hy noem nie homself as die subjek nie. Hy praat
in die onpersoonlike vorm: dit is volbring.

Maar wat is nou volbring? Dit is die werk wat die Vader vir
hom gegee het om te doen, sy messiaanse werk. Dit is volbring.
Vader, die werk wat U my opgedra het, is voltooi.

Christus het reeds hiervan gepraat in sy hoëpriesterlike
gebed: “Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My
gegee het om te doen, het Ek volbring” (Joh 17:4). Met
daardie woord het Christus vantevore op hierdie kruiswoord
gesinspeel. Wat moes die Seun dan doen? Dit was die werk van
versoening deur voldoening. Met ander woorde hy moes dit weer
tussen God en ons reg maak (versoening) deur ons skuld ten volle
te betaal (voldoening). So moes Hy die verbond van genade
bekragtig, daaraan regskrag verleen.

Nou, dit is volbring. Aan die eise van die verbond is voldaan.
Die skuld s volkome betaal. Christus het die straf gedra vir ons
verbondsongehoorsaamheid. Christus het die afsprake nagekom wat
binne die heilige drie-eenheid gemaak is. Ja, die drie-enige God,
die Vader, die Seun en die Heilige Gees het in hul ewige liefde
reëlings getref, afsprake gemaak vir ons verlossing, om die
vrede in die nuwe paradys te herstel. In daardie vredesverbond (soos
ons dit noem) tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees het
die Seun homself aangebied om die sondes van die wêreld te
versoen.

Nou doen die Seun verslag van sy werk. Vader, dit is volbring.
Die werk wat Ek aangebied het om te doen en wat U vir my gegee
het om te doen, is volbring, voltooi. Voldoening het geskied.

Maar geliefdes, is Christus nie voorbarig hiermee nie? Moet Hy
nie eers sterwe en begrawe word nie? Is sy dood ook nie deel van
die vereiste betaling vir ons sondes nie? Hoe kan Christus dan
voor sy dood uitroep: dit is volbring? In daardie woord vat
Christus sy hele lyding vir verlore sondaars saam. Christus dink
nie net aan die lyding wat Hy reeds agter hom het nie. Christus
sluit ook in die lyding wat nog moet kom: sy dood en begrafnis.

Maar hoe kan Christus hierdie woord reeds voor sy dood uitroep?
Christus kan dit doen omdat die belangrikste en beslissende deel
van sy lyding voltooi is. Die helse pyn van Godverlatenheid is
verby. Hy het reeds die hel deurstaan. Hy het daar deurheen gekom,
triomfantlik daaruit geklim. Daarmee het Hy die beslissende daad
voltooi. Hy het in beginsel reeds oorwin. Niks en niemand kan hom
meer skade doen nie. Geen hel, geen duiwel, geen dood nie. Hy het
alle magte oorwin. Hulle het geen enkele kans teen hom meer nie.
Die son skyn weer op Golgota. Die oorwinning is behaal . Die saak
is beslis. Dit is volbring.

Inderdaad, Christus moet nog die liggaamlik dood sterwe as
deel van sy betaling vir ons sondes. Hy moet nog publiek sy werk
afrond. Maar dit is geen enkele probleem meer nie. Die fisiese
dood hoef hom geen angs aan te jaag nie. Want die ewige dood is
reeds agter hom. Hy het reeds duiwel wat die mag oor die dood het,
onttroon. Hy het oorwin.

Daarom is sy fisiese dood, onmiddellik daarna, geen lot nie,
soos dit by ons dood die geval is. Daarom is sy dood nie iets wat
met hom gebeur en waaraan Hy niks kan doen nie. Nee, vir Jesus
Christus is die fisiese dood ’n bewuste, vrywillige daad. Hy
gee bewus sy gees aan die Vader oor: Vader, in U hande gee ek my
gees oor. Na sy oorwinning oor die hel, het Christus die mag oor
die fisiese dood. Hy het dit in sy hande. Daarom kan hy uitroep,
selfs voor sy fisiese dood: dit is volbring.

Gemeente, hierdie woord gee vreugde in die hemel. Hulle kan
daar reeds begin sing. Nog nie publiek nie. Dit sal met Pase
gebeur. Maar nou reeds gaan die hemel vir hom oop. En die engele,
die dienaars, kan begin om hulle voor te berei op hul dienswerk
op die Paasoggend.

Ja, dit beteken paradys vreugde vir die Vader. Julle weet hoe
dit met die ou paradys gegaan het. Na die 6 skeppingsdae is
gerapporteer: “So is dan voltooi die hemel en die aarde met
hulle ganse leërmag.” Gen 2:1. En God kan sy rus ingaan. Hy
kan van sy skepping geniet. Hy sien alles wat Hy gemaak het, en
– dit was baie goed. Op die 7de dag kan God rus van die sy
werk en saam met sy skepsels geniet van volmaakte geluk en vrede.

Maar wat ’n skade het die sonde in God se volmaakte
wêreld veroorsaak. Die paradys vreugde is vernietig. Die mense
kan nie langer soos voorheen in die gemeenskap met God verkeer
nie. Dis waar, God gryp onmiddellik in met sy genadeverbond. Maar
baie moet gebeur om dit moontlik te maak. Die saad van die vrou
– die Seun van God – moet borg word. Die “dit is
volbring” van die skepping moet nou deur die “dit is
volbring” van die herskepping gevolg word. Die “dit is
volbring” van die eerste paradys moet deur die “dit is
volbring” van die nuwe paradys gevolg word.

Nou, daardie oomblik het nou gekom: Hoor Christus uitroep: dit
is volbring. Die herskepping is bekragtig, vas veranker. Dit waar
mense eeue lank op gewag het, is nou werklikheid. Die
genadeverbond het ’n vaste basis: God se reg en waarheid.
Deur sy dood en bloedstorting het Christus die verbond van genade
bekragtig toe hy gesê het: dit is volbring. Die nuwe paradys is
in orde. Dit is gefinaliseer. Niks kan dit meer wysig nie. Dit
staan vas. Niemand kan dit ongedaan maak nie. Die oorspronklike
sonde vorm geen blokkade meer nie. Aan die oorspronklike skuld is
voldaan. Die mag van die sonde kan dit nie verhinder nie, want
die mag is gebreek. Geen Satan of hel kan God se nuwe paradys in
die pad staan nie. Dit is volbring. God se lig kan weer op die
aarde oor die mensdom skyn. God kan weer vrylik met mense omgaan:
paradys herstel.

So beteken Christus se 6de kruiswoord paradysvreugde in die
hemel, vir die Vader. Dit beteken in die tweede plek ook
paradysvreugde op aarde, vir die kerk.

Ons vra opnuut: wat is volbring? Dit word nie uitdruklik
genoem nie. Dit bly algemeen, onpersoonlik: dit is volbring. Die
werk wat God die Vader opgedra het, die werk van versoening deur
voldoening, is volbring.

Nou wil ons nader let op die tydvorm van die werkwoord wat
Christus gebruik. Die werkwoord maak duidelik: dit is volbring,
eens en vir altyd, met blywende effek en resultaat. Die woord kan
nooit teruggeneem word nie. Gedane sake neem geen keer nie.
Christus het die werk van versoening voltooi. Dit is gereed.
Versoening is vir alle tye tot stand gebring. Hier het jy ’n
permanente bron waaruit jy lewe en vrede kan verkry. Wat ’n
groot vreugde vir die kerk.

Hoe het dit immers voor die tyd in die kerk gegaan? Daagliks
moes die bloed van stiere en bokke vloei. Dit was ’n
eindelose herhaling. Die priesters kon nooit sê: dit is volbring
nie. Hulle was nooit klaar nie. En na hul dood, moes ander
oorneem. Daar was geen einde daaraan nie. Want die bloed van
stiere en bokke kon die sonde nie wegneem nie. Ander bloed was
daarvoor nodig. Die OT-iese erediens was ’n eindelose geroep
om die bloed wat die sonde van die wêreld werklik sou wegneem.
’n Mens moes homself as offer aanbied. Priester en offer
moes saamgaan. Maar hulle het twee gebly.

Totdat Jesus gesê het: kyk, Ek kom om u wil te doen, o God.
By die instelling van die heilige Nagmaal het Christus homself as
die ware paaslam geïdentifiseer: dit is my liggaam wat vir jou
gegee is. Dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament wat
vir baie uitgestort word tot vergewing van sondes. Dit is nou
volle werklikheid. Noudat die bloed van die nuwe verbond
uitgegiet gaan word, die bloed wat werklik die sonde van die
wêreld wegneem, die bloed wat die volle gemeenskap met God weer
herstel. Christus is besig om homself voor te berei op die unieke
offer. Een woord volg die ander: Ek het dors; dit is volbring,
Vader in u hande gee ek my gees oor. En Hy buig sy hoof en gee
die gees. Op daardie oomblik skeur die voorhangsel van die tempel
in twee. God self gryp in en skeur die voorhangsel van bo tot
onder. Die priesters kan met hul werk ophou. Hulle word van hul
diens onthef. Hul offerdiens met sy eindelose herhaling het sy
tyd gehad. Die lange bloedstroom word nou vir goed gestop. Geen
offer hoef meer gebring te word nie. Dit is volbring.

Broers en susters, probeer om in te dink hoe diep en ryk die
evangelie van die sesde kruiswoord is. Hier praat Jesus Christus
die tweede Adam, die beloofde Redder. En Hy praat hier vir ons,
in my en jou plek. Hoe dikwels is daar nie my tekorte, my
mislukkings nie. Ek het my voorgeneem om anders te gaan praat,
anders op te tree, nie negatief te dink nie. Maar ek het sommer
weer in my ou sondes teruggeval. Ek het weer in liefde vir God en
my naaste tekort geskiet. Ek wou so vir die Here leef, maar my
eie nood of begeertes het my so gaan beheers dat daar min van
tereggekom het. Ek voel myself ondankbaar of ’n mislukking.

So kan ons tal van situasies bedink waarin my tekorte duidelik
merkbaar is. Maar nou hoor ek: dit is volbring. Dit bly as
‘t ware deur die hele wêreld, in ons daaglikse lewe,
gesoneer. Dit is volbring. Alle geregtigheid van God se wet is
vervul. Ja, God reken my die ‘volbring’ toe asof ek
self al die gehoorsaamheid volbring het, wat Christus vir my
volbring het. Aan al God se eise is voldaan. Eens en vir altyd.
Geen mag in die wêreld kan iets daaraan verander nie. Ook geen
Satan of hel nie. Dit kan nie ongedaan gemaak word nie. Dit is
volbring. Versoening is aangebring.

En, gemeente, dit laat hom nie herhaal soos in die roomse kerk
met sy priesters nie. Dit kan en hoef ook nie aangevul te word
nie. Christus se 6e kruiswoord slaan alles uit hande wat ons sou
wil aanbied om onsself met God te versoen. Die 6e kruiswoord haal
’n streep deur elke poging om ’n eie bydrae te lewer.
Dit is volbring. Voldaan. Daar is geen betaling meer nodig nie.
En ek kan ook nie self betaal nie. Sou ek self een sug aan my
verlossing moet bydra, dan was ek vir ewig verlore. Christus het
gesorg vir die nuwe paradys. Dit lê in Hom kant en klaar.

Die apostel Paulus sê daarom in 2 Kor 5: "Daarom, as
iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge
het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. En dit alles is
uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus."
Let daarop: versoen het, in die verlede tyd. "En ons die
bediening van die versoening gegee het. Ons bid julle om Christus
wil: laat julle met God versoen". Met ander woorde: leef uit
die versoening wat reeds aangebring is. Leef uit die evangelie:
‘dit is volbring’ alle dae van jou lewe.

Hier op aarde word ek nog voortdurend deur twyfel en
kleingeloof gepla. Satan en ons eie hart hou nie op om ons aan te
val nie. Is dit werklik reg tussen God en my? Het ek dit nie
verbeur nie? Het ek wel deel aan die nuwe paradys? Kan ek wel
voor God verskyn? Kan ek wel met God omgaan sonder verskrikking?

Gemeente, Christus kom ons in ons swakheid tegemoet deur ons
die sakramente te gee. Ons lees in die doopsformulier: "En
as ons soms uit swakheid in sondes val, moet ons nie aan die
genade van God twyfel of in die sondes bly lê nie: die doop is
immers ’n seël en volkome betroubare getuienis dat ons
’n ewige verbond met God het." Toe God my in sy verbond
opgeneem het, het Hy geweet hoe ek was en hoe ek sou wees. En tog
het Hy gesê: Ek wil vir jou ’n Vader wees en jou sondes
vergewe. Die vergewing is nie afhanklik van my prestasies nie.
Jesus Christus het daarvoor gesorg. Ek hoef dit slegs in geloof
aan te neem.

In die nagmaalsformulier lees ons: "Dat ons vas kan glo
dat ons tot hierdie genadeverbond behoort, het die Here Jesus
tydens sy laaste paasmaaltyd brood geneem, en nadat Hy gedank het,
het Hy dit gebreek, aan sy dissipels gegee en gesê: Neem, eet,
dit is my liggaam wat vir julle gebreek word." Die verbond
lê vas in die offer wat Ek eenmaal gebring het. "Hierdie
beker is die nuwe testament in my bloed." Drink almal
daaruit. Dit moet jy doen. Want die verbond lê vas in my bloed.
"Ek het vir julle my liggaam in die dood gegee en My bloed
gestort." Daar kan niemand iets van wegneem nie. Jou
sondeskuld, broer, suster is versoen. Dit is volbring. Die
vreugde van die paradys mag jou deel wees.

Rig jou daarom op jou enige Priester en Lam, Jesus Christus.
Hoor die Lam van God uitroep: dit is volbring. Dit gee jou
vrymoedigheid om na die Vader te gaan. Jy mag in die verbond
vrylik met Hom omgaan. Die duiwel gaan nog rond en probeer om die
verhouding stukkend te breek. Maar die nuwe verbond lê vas, ewig
vas. Christus se offer reinig van alle sondes, reinig van die
skuld en smet van die sonde. Met daardie offer kan jy leef en
werk. Met die offer kan jy voor God verskyn, sonder verskrikking.
Wat ook al in jou lewe gebeur het of nog gebeur. Leef vanuit die
woorde: dit is volbring. Laat die woorde jou vreugde en vrede gee.
Dis nie verniet dat Christus aan die kruis uitgeroep het: dit is
volbring nie. Daardie woord beteken paradysvreugde vir die Vader
en vir die kerk. So ook paradys vreugde vir elkeen wat glo.

AMEN

Kopiereg word
voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)