Filippense 3:12-14
Ds C Kleijn - Sondag 29 April 2007
Lees: Filippense 3.
Sing: Ps 27:1,2; Ps 42:1,5; Ps 43:3,4; Ps 119:6,7;
Ps 119:39,62.
Tema: Paulus jaag na die volle kennis van Christus.
- Hy erken sy eie onvolmaaktheid
- Hy weet dat Hy deur Christus gegryp is
- Hy rig hom op die een hemelse doel
Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,
Hoe is die lewe van iemand wat hom tot God bekeer het? Jou
bekering word in die Bybel ook n wedergeboorte genoem, ja
n opstanding uit die dood. Jy is n nuwe mens. Jy ken
Christus. Jy het n lewende verhouding met Hom. Jy ken ook
die krag van Christus se opstanding in jou lewe. Christus het jou
mos deur sy krag opgewek tot n nuwe lewe. So kan pragtige
dinge van jou bekering gesê word. Met die Dordtse Leerreëls
bely ons: dit is n volkome bonatuurlike, baie
kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en
onbeskryflike daad van God, in sy krag nie minder as die skepping
of as die opwekking van die dooies nie. Hoe is dan die lewe
van n bekeerde mens? Is jy deur jou bekering nie eensklaps
binne nie? Gearriveer? Is jy daardeur nie bo die sonde en
swakheid verhef nie, volmaak nie? Teen elke verleiding opgewas
nie? En is elke onvolmaaktheid dan nie n vrug van ongeloof
en n bewys dat jy nog nie werklik bekeerd is nie?
Bowendien, as jy bekeerd is, beteken dit dat jou lewe deur
stille rus gekenmerk word? Jy is tog verlos? Christus het mos
alles vir jou gedoen? Dan hoef jy self tog niks meer te doen nie,
jou nie verder in te span nie? Jy kan dan tog lekker agteroor
gaan sit en ontspan? Is dit hoe die lewe van n Christen is?
Kom ons luister na die woorde van ons teks.
Ek verkondig vir julle: Paulus jaag na die volle kennis van
Christus.
- Hy erken sy eie onvolmaaktheid
- Hy weet dat Hy deur Christus gegryp is
- Hy rig hom op die een hemelse doel
Gemeente, wanneer ons kyk na wat Paulus oor sy eie lewe skryf,
dan moet ons besef dat dit hier nie net oor Paulus gaan nie.
Paulus wil nie net homself ten toon stel nie. Paulus wil met sy
eie lewe n voorbeeld gee wat deur ons nagevolg moet word.
Luister maar na vers 15: Laat ons almal wat volmaak (oftewel
volwasse) is, so gesind wees en 17: Wees ook my
navolgers, broeders, en let op die wat so wandel soos julle ons
tot voorbeeld het. Paulus hou hier dus sy eie lewe as
voorbeeld aan ons voor, om ons leiding te gee in die Christelike
lewe. Wat hier genoem word is n patroon wat ook in u en my
lewe gestalte moet kry.
In die voorafgaande gedeelte het Paulus duidelik gemaak dat hy
bou op die geregtigheid wat Christus aangebring het en wat net
deur die geloof verkry word. Dit het sy lewensideaal geword om
Christus te ken en die krag van sy opstanding. Die gemeente moet
hom egter nie verkeerd verstaan nie. Hy wil met dit alles nie sê
dat hy die einddoel reeds bereik het nie. Hy sê: Nie dat
ek dit al verkry het of al volmaak is nie. Paulus ken
homself. Hy ontdek in sy lewe dat hy dit nog nie verkry het nie.
Wat bedoel Paulus hier met dit? Wat het hy nog nie
verkry nie? Om n antwoord daarop te gee moet ons terug na
die verse 10 en 11. Die apostel wil Christus ken, dws die krag
van sy opstanding, die gemeenskap aan sy lyding en die heerlike
opstanding uit die dode. Feitelik gaan dit Paulus nie net om
iets nie, maar om Christus. Hy wil Christus ken, met
Christus verbind wees in heiligheid, in lyding en in heerlikheid.
Sover is ek nog nie sê Paulus in ons teks. Ek het
inderdaad Christus leer ken. Op pad na Damaskus het Christus my
kragdadig geroep. Hy het my uit die duisternis geroep tot God se
wonderbare lig. Deur die krag van Christus se opstanding is ek
tot n nuwe lewe opgewek. Maar die heerlike gebeurtenis het
nie daarvoor gesorg dat ek eensklaps binne is nie. Moenie dink
dat ek die doel al volkome bereik het nie. Nie dat ek dit
al verkry het of al volmaak is nie. Met die woordjie
volmaak bedoel Paulus dat hy die einddoel bereik het,
die volle kennis van en gemeenskap met Christus. Nee, sover is ek
nie, sê hy, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp.
Broers en susters, Paulus gebruik hier n beeld wat hy
aan die atletiek ontleen, die beeld van n hardloopwedstryd.
Omring deur duisende toeskouers, supporters, stel die gespierde
deelnemers hulle op. Sodra die wegspringsein gegee word, skiet
hulle weg soos pyle uit die boog. Met inspanning van alle kragte
jaag hulle na die finish.
Die apostel vergelyk homself met so n hardloper in die
wedstryd. Paulus jaag met die inset van sy hele wese na die
einddoel. Hy strek hom daarna uit om Christus volkome te ken en
te deel in sy heerlikheid.
Dis n treffende aanduiding van die lewe van n
Christen. Om Christen te wees is nie n saak van eenmalig
jou hart aan Christus gee en dan binne wees. As Christen is jy
juis op n wedloopbaan gesit. Jy moet n wedloop loop.
Die Here keer nie alles in een keer uit nie, maar Hy gee aan jou
sy skatte in n lewenslange proses. Die verse 10 en 11 het
ons reeds op die proses gewys. Paulus ken Christus en die krag
van sy opstanding. Maar tegelyk skryf hy dat hy daarop uit is om
Christus te ken en die krag van sy opstanding.
Die verse 10 en 11 leer ons ook dat jy as Christen nie net die
krag van Christus se opstanding ervaar nie, maar ook die
gemeenskap aan Christus se lyding. Telkens weer is daar die
lyding om Christus ontwil, met die verleiding om toe te gee en te
sondig, wat jy nooit moet onderskat nie. As Christen moet jy nog
steeds vernuwe word, jou daagliks bekeer.
Die Here plaas jou nie eensklaps in die volmaaktheid nie. Hy
plaas jou op n weg. Hy laat jou n lewenslange wedloop
loop. Hy wil dat jou kennis van Christus steeds verder sal groei,
dat jou band met Christus juis deur verdrukking steeds hegter sal
word. Hy wil dat jy lewenslang sal besef dat jy op Christus
aangewys is en dat jy nooit sal dink dat jy ook sonder Hom kan
reg kom nie.
Daarom moenie ooit vooruit gryp op die volmaaktheid nie.
Moenie ooit maak asof jy bo sonde en swakheid verhef is nie en
dat jy teen verleiding wel opgewasse is nie. So van: dit kan ek
wel hanteer, niks kan my onderkry nie.
En as jy in sonde val, moet jy ook nie aan jou bekering of
Christen wees gaan twyfel nie. Asof n Christen hier reeds
volmaak behoort te wees. Die kerk is geen vergadering van
perfekte mense nie. Die kerk is n vergadering van sondaars
wat Christus vasgryp en by Hom hul heil soek. Verwag dan ook nie
die volmaaktheid van ander nie. Dit sou onbillik wees. Daarom
gaan jy ook nie uit die hoogte vit op wat jy beskou as n
lae geestelike vlak by ander in die gemeente nie.
Christene is dus geen perfeksioniste nie. Beteken dit dat ons
nou op ons louere kan gaan rus? Dat ons ons nie meer hoef in te
span nie? Paulus gebruik in ons teks die woord jaag.
Ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp. Hy span hom in, hy is een
en al konsentrasie en aksie om sy doel te bereik: die eindstreep.
Broer, suster, deur jou geloof en bekering kom daar juis groot
vaart in jou lewe. Jy word daar onrustig van. Wanneer jy glo, lê
jy jou nie neer by die status wat jy bereik het nie. Jy wil
steeds verder. Jy wil Christus steeds meer en steeds beter leer
ken. Jy is bereid om vir Christus te ly en te stry.
Maar, gemeente, is Paulus hier dan tog nie weer die selfdoener
nie? Hy staan maar nie stil nie. Hy bly maar jaag na die doel of
hy dit ook kan gryp. Ons kan iets dergeliks voorstel van Paulus
toe hy op pad na Damaskus was. Hy het toe dreiging en moord
geblaas teen die dissipels van die Here. Hy het gejaag na
volmaaktheid. Daarom het hy op die volgelinge van Christus gejaag.
Maar pas hierdie gejaag wel by die bekeerde Paulus? Val hy
daarmee nie terug in die doen dit self patroon nie? Paulus het
netnou die Judaïste bestry. Vir hulle het Christus nie die
deurslag gegee nie. Hulle het geroem op hul afkoms en prestasies:
Laat jou besny. Leef na die wet. Doen dit self. Paulus ontken dit
met klem. Ek is nie gered deur die wet na te leef nie, maar deur
die geloof in Christus.
Maar waarom dan tog al die onrus en gejaag in Paulus se lewe?
Dit sien ons in die tweede punt: Paulus weet dat hy deur Christus
gegryp is.
Paulus sê: Ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp omdat ek ook
deur Christus Jesus gegryp is.
Mense, moenie dink dat dit van my inspanning afhang nie. Nee,
Christus het my gegryp. Op grond daarvan span ek my in om die
groot doel te bereik.
Die apostel dink hier ongetwyfeld aan wat op pad na Damaskus
met hom gebeur het. Hy was die groot vervolger van die Christene.
Hy wou die Christene gryp, arresteer. Maar hy is self gegryp.
Christus het hom gegryp, gearresteer. Die vervolger word
volgeling. Hy word Christus se uitverkore werktuig om sy naam
onder die heidene te verkondig.
Wat is nou die geheim van Paulus se lewe en strewe? Dit dat hy
deur Christus gegryp is, dat hy in Christus die vergewing van
sondes en die Heilige Gees ontvang het. Nou kan hy nie anders
meer as om uit Christus te lewe nie. Die krag van Christus se
opstanding deurdring sy lewe. In Christus is daar immers n
onuitputlike volheid. Jy ontvang nie net vergewing van sondes nie,
maar Christus gaan ook in jou lewe. Hy word die dryfkrag van jou
nuwe bestaan. Jy staan op uit die dood tot n nuwe lewe,
elke dag wanneer jy agter Hom aangaan. Jy soek in die gebed jou
krag in Hom. Jy luister daagliks na sy stem. Jy is bereid om met
Hom te ly en te stry. Want juis daarin sien jy Christus groei in
jou lewe. Jy strek jou uit na die groot toekoms, na die
eindoorwinning, die finish wanneer Christus terugkom. Dan ontvang
jy die einddoel van jou lewe: die finale heerlikheid saam met
Christus. Jy kan nie anders as om daarna te jaag nie. Christus is
mos besig in en met jou. Hy is deur sy Gees besig om jou na sy
beeld te vernuwe.
Moenie sê: ek is verlos, dus is ek binne, gearriveer nie.
Christus het my verlos dus hoef ek self niks meer te doen nie.
Nee, na die verlossing begin dit juis. Jou verlossing is die
wegspringsein vir die goeie stryd van die geloof. Inderdaad jou
verlossing is 100% die werk van Christus. Maar juis daarom gaan
jy aan die slag. Agter Christus aan. Dankbaar. Deur die krag van
Christus se Gees. Jy jaag na geregtigheid, liefde en vrede. Jy
jaag na wat goed is teenoor mekaar sowel as teenoor almal (1
Thess 5:15). Jy jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking,
waarsonder niemand die Here sal sien nie (Hebr 12:14).
Ja, so gaan dit in die lewe van n Christen. As jy die
heiligmaking skrap, verskeur jy die werk van Christus. Dan skeur
jy n wesenlike deel van sy werk af. As jy die heiligmaking
skrap, skrap jy die verlossing self. Dit is n ernstige saak!
Waar daar geen heiligmaking is nie, daar sal jy die Here nie sien
nie. Jy kan dan dink: ek is binne, gearriveer. Maar jy bereik dan
nie die bestemming nie. Jy het Christus blykbaar nie geken nie,
nie uit Hom geleef nie.
Paulus praat van n jaag, n inspanning van alle
kragte om die eindstreep te bereik. Hier is dit goed om mekaar te
herinner aan die doel waarna Paulus jaag. Jaag hy na die sedelike
volmaaktheid? Dit word dikwels so gestel. Maar wat is die
dit waarna Paulus jaag om dit te gryp? Uit die verse
10 en 11 het ons geleer dat dit gaan oor die kennis van Christus:
die krag van sy opstanding, die gemeenskap aan sy lyding en die
opstanding uit die dode. Paulus rig hom dus nie soseer op
iets nie, maar op Christus. Hy wil Christus ken. Hy
wil aan Christus verbonde wees in heiligheid, in lyding en in
heerlikheid. Die groot prys aan die einde van die wedloop is om
met Christus te wees, om die volle gemeenskap met Hom te ken, om
in sy heerlikheid te deel. Paulus jaar dus nie soseer na sedelike
volmaaktheid nie, maar na die staat van volmaaktheid, om by
Christus te wees in volle glorie.
Nou die derde gedagte van die preek: Paulus rig hom op die een
hemelse doel.
In die laaste twee verse van ons teks herhaal Paulus eers
n bietjie: Broeders, ek reken nie dat ek dit self
gegryp het nie. Judaiste, wat vertrou op hul afkoms, status
en prestasies mag die van hulleself dink, ek nie. Maar een
ding: Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat
voor is en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë
roeping van God in Christus Jesus.
Een ding. Wanneer Christus jou lewe binnegekom het, vind daar
n opvallende vereenvoudiging van die lewe plaas. Jou hele
lewe en strewe, al jou sorge en inspanning word teruggebring tot
een ding. Wat is dit dan? Paulus verdeel hierdie een ding in drie.
Eers praat hy oor die vergeet van die dinge wat agter is. Hier
sal Paulus veral dink aan die dinge waarop hy in die verlede voor
sy bekering geroem het. Sy status as Fariseër en al sy
prestasies. Nie dat Paulus probeer om dit te verdring nie. Hy het
netnou in die verse 5 en 6 daardie dinge uit die verlede opgesom.
Maar as Christen hou Paulus hom nie meer besig met die dinge wat
hy vroeër as Jood so belangrik gevind het nie. Hy is nou so
gekonsentreer op die toekoms dat hy heeltemal geen aandag aan sy
verlede gee nie. Dit beïnvloed hom nie meer nie en hy beskou dit
as waardeloos wanneer hy dink aan die toekoms. Hy is soos die
atleet wat geen aandag skenk aan die pad wat hy reeds afgelê het
of aan die mededingers om hom heen nie, maar net gefokus is op
een ding: die finish. Om tydens die wedloop agtertoe te kyk is
vir n hardloper nie net dom nie maar ook gevaarlik. Jy
verloor daardeur jou spoed en jy kan struikel.
So kan ons vandag ook ons vordering in die pad staan deur
agtertoe te kyk. Dinge wat vir ons mense dikwels so belangrik is,
bv musiek, sport, klere, jou fisiese aantreklikheid, jou loopbaan,
jou status, jou rykdom ens, kan jou so in die greep hou of kry
dat jy as Christen geen vordering maak nie. Daardie dinge hoef op
hulleself nie verkeerd te wees nie, maar hulle vorm n
belemmering vir jou omdat jy dit oorskat en daar n soort
afgod van maak. So kan ook bitterheid oor kwaad wat in die
verlede jou aangedoen is of skaamte oor sondes uit die verlede
jou vandag belemmer in jou vordering. Laat daarom elkeen van ons
soos die hardloper vergeet die dinge wat agter is en ons uitstrek
na wat voor is. Dis die tweede wat Paulus noem: ek strek my
uit na wat voor is. Jy sien die hardloper, vooroor gebuig,
alle spiere gespan op pad na die finish.
So is daar die laaste wat Paulus noem: Ek jaag na die
doel om die prys te verkry. Jy sien hier n uiterste
konsentrasie op die doel. Afleiding kan gevaarlik of rampspoedig
wees. Jy moet jou heeltemal konsentreer op jou doel. Anders kan
jy jouself verhinder om die doel te bereik. Wat is dan die doel?
Om Christus te ken, om te deel in sy heerlikheid. Nie n
aardse doel nie, maar n hemelse doel.
Eintlik wys die doel en die prys albei op Christus. Dit word
net bekyk vanuit twee gesigspunte. Wanneer van doel gepraat word
dan lê die nadruk op die menslike inspanning, op die wedloop
hier op aarde. By die woord prys lê die nadruk op iets wat ons
kry, die gawe van God se genade en die heerlikheid hierna.
Die prys word in die teks verbind aan die roeping van God. God
roep jou. Hy roep jou van bo, vanuit die hoë hemel. God roep jou
elke dag as Christen. Jou hele lewe is n kwessie van
roeping. Jy volg nie jou eie inisiatiewe nie. Jy doen nie wat jy
lekker of oulik vind nie. Jy laat jou lei deur God wat jou roep.
Jy luister na sy stem en jy bid vir gehoorsaamheid. God roep jou
in Christus Jesus, sê Paulus. In gemeenskap met Christus.
Broer, suster, seun, dogter, wat is die lewe van die Christen
tog mooi en vol. En wat n doel om na te jaag. Jaag daar dan
na. Na die een ding: om Christus steeds meer en dieper te ken, om
uit sy volheid te lewe, om steeds meer van sy krag deurdring te
word, om te deel in sy heerlikheid op die laaste dag. Wat kom
daar dan n vaart in jou lewe. Dan is jy nooit gearriveer
nie. Dan bly jy ook nooit staan by wat jy bereik het nie. Dan wil
jy steeds verder kom in Christus se diens. Jy is dan soos die
bruid wat haar voorberei op die bruilof. Jy rig jou voortdurend
op die bruidegom. Jy wil hom in alles gelukkig maak en jy verlang
na hom.
Broer, suster, seun, dogter, hoe is jou lewe as Christen? Word
dit gekenmerk deur die jaag na die einddoel? Ons het n hele
lewe nodig om steeds meer te groei in die kennis van Christus en
om uiteindelik die volle heerlikheid met Christus te deel.
Niemand kan sê: ek is verlos, punt. Nee, dan begin die eers. Jou
verlossing is die wegspringsein vir die wedloop. En daardie
wedloop is nie sonder resultaat nie. Jy behaal langs die pad die
prys. Die volle gemeenskap met Christus.
AMEN
Kopiereg word
voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.
(kyk in preek)