Sondag 34
Ds HH van Alten - Sondag 19 Augustus 2007
Lees: Deuteronómium 6:20-25, Jesaja 28:1-13
Teks: HK Sondag 34 (v/a 92 en 93)
Sing: Sien liturgie
Tema: God se wet het blywende geldigheid!
- Die prioriteit van die bevryding
- Die handhawing van die vryheid
- Die struktuur van die wet van vryheid
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Die Kategismus eindig in Sondag 33 met die goeie werke, werke wat – so lees ons daar – nie op eie goeddunke of op oorgelewerde gebruike van mense gegrond is nie, maar wat volgens die wet van God gedoen word. Dit is aanleiding vir die Kategismus om vervolgens oor te gaan tot die behandeling van die wet van God, daardie wet wat elke Sondag-oggend in die erediens voorgelees en aangehoor word.
Alhoewel, as ons na stemme in ons susterkerke in Nederland luister, is dit nie meer so vanselfsprekend om elke Sondag-oggend die wet te lees nie. Al meer word daar vraagtekens by hierdie gebruik geplaas. Die gemeente van vandag staan mos nie meer by die berg Sinai nie? Ons is mos nie meer onder die wet nie, maar onder die genade? Ander, wat nie so ver wil gaan nie, is van mening dat die wetslesing afgewissel kan word met toepaslike gedeeltes uit die Nuwe Testament. Weer ander is van mening dat die predikant ‘n parafrase van die wet kan gee, sodat die sleur van die wetslesing deurbreek kan word.
Tog is dit opvallend dat die Nuwe Testament ons leer dat die wet van God, die tien gebooie, blywende geldigheid het. Dink maar net aan die uitleg wat Jesus self van die wet gee in sy bergrede (Matt. 5:17 e.v.), en aan sy opsomming van die vyfde tot die negende gebod in Mattheus 19. Dink ook aan die sesde tot negende gebod wat Paulus opnoem in Romeine 13 en aan die vermelding van die sesde en sewende gebod in Jakobus 2. Uit hierdie gedeeltes blyk baie duidelik dat God se tien verbondswoorde nie iets is wat met die koms van Christus verval het, soos wat met ander mosaiëse wette gebeur het nie. Nee, hierdie tien gebooie het blywende geldigheid, en daarom is dit ‘n treffende gewoonte om aan die begin van die Sondag-oggend erediens hierdie tien gebooie te lees, en dit elke jaar vanuit die Kategismus te behandel. En dit gaan ons daarom ook in die komende weke doen.
Tema: God se wet het blywende geldigheid!
-
Die prioriteit van die bevryding
-
Die handhawing van die vryheid
-
Die struktuur van die wet van vryheid
1. Wanneer Sondag 34 begin deur die vraag te stel: hoe lui die wet van die Here?, dan is dit opvallend dat die opstellers in die antwoord nie onmiddellik wegspring met die eerste gebod nie: “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie”. Nee, die antwoord begin met die sogenaamde ‘aanhef’ tot die wet: “God het al hierdie woorde gespreek: Ek is die HERE, jou God wat jou Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.” Of soos wat dit staan in Exodus 20:1: “Toe het God al hierdie woorde gespreek en gesê…” Maar, gemeente, wanneer was ‘toe’? Wanneer het God al hierdie woorde gespreek? Wel, die meeste van ons ken die antwoord op hierdie vraag. Natuurlik, by die berg Sinai, toe die volk op reis was vanaf Egipte na Kanaan. Aan die een kant was Egipte, die land van onderdrukking en van harde diensbaarheid waaruit die Here sy volk bevry het; en aan die ander kant was die land Kanaan, die land wat die Here aan sy volk belowe het, en waarheen die volk nou oppad was. En op hulle reis tussen dié twee, by die berg Sinai, het die Here aan sy volk die wet gegee; toe het God al hierdie woorde gespreek…
Broers en susters, dit is geen onbelangrike stukkie inligting nie; hierdie ongespesifiseerde datering in die aanhef van die wet is van groot belang vir ons verstaan van die wet. Want ons sien dat die Here sy wet nie aangekondig het vóórdat Hy die volk uit Egipteland bevry het nie. Sy verlossing van die volk uit Egipte was dus nie afhanklik van hulle onderhouding van die wet nie. As dít die Here se eis was, naamlik dat die volk eers die wet tot die einde toe moes nakom voordat Hy hulle sou verlos, dan sou die bevryding uit Egipte nooit plaasgevind het nie. Dan sou die volk vandag nog slawediens verrig het.
Maar dit is die wonderlike: Israel verkeer in Egipte in groot nood, die volk sug vanweë die harde diensbaarheid, hulle hulpgeroep is groot. Kom die Here nou tot hulle en sê: Ek sal julle verlos, maar dan moet julle eers die tien gebooie nakom? Nee, die Here praat nie van ‘n wet nie, Hy noem nie eens die gehoorsaamheid nie. Hy verlos eenvoudig hierdie sondige en ongehoorsame volk uit die slawehuis van Egipte. Ja, presies, dit is wat hulle was – ‘n sondige en ongehoorsame volk, niks beter as die Egiptenaars nie; immers, wanneer Josua baie jare later in sy afskeidstoespraak in Josua 24 die volk oproep om die Here te dien en Hom te vrees, dan sê hy daarby: “… en verwyder die gode wat julle vaders gedien het oorkant die Eufraat en in Egipte, en dien die HERE.” Die volk het dus dieselfde gode as die Egiptenaars gedien, hulle was nie trou teenoor die Here nie, hulle was nie trou aan die verbond wat Hy met Abraham, Isak en Jakob gesluit het nie. En tóg bevry Hy hulle net soos wat hulle was! En dáárom is die datering “toe het God al hierdie woorde gespreek…” so belangrik. Daarin sien ons: eers die genadige verlossing uit Egipte, en dan die afkondiging van die wet by die Sinai. Die bevryding het prioriteit, die bevryding kom eerste.
En dit sien ons pragtig terug wanneer die Here in Deuteronomium 6, net nadat Hy in hoofstuk 5 vir die tweede keer sy wet afgekondig het, die bepaling gee: “As jou seun jou later vra en sê: Wat beteken die getuienisse en die insettinge en die verordeninge wat die HERE onse God julle beveel het? dan moet jy aan jou seun sê…” Ja, wat moet die vader dan sê? Dan moet hy die verhaal van die bevryding vertel. Ons lees daar: “dan moet jy aan jou seun sê: Ons was slawe van Farao in Egipte; maar die HERE het ons deur ‘n sterke hand uit Egipte gelei. En die HERE het groot en onheilbrengende tekens en wonders voor ons oë in Egipte aan Farao en sy hele huis gedoen. En Hy het ons daarvandaan uitgelei om ons in te bring, sodat Hy ons die land kan gee wat Hy aan ons vaders met ‘n eed beloof het.” En dán eers kom die vader uit by die insettinge van die Here. Maar eers die bevryding, eers moet dit vertel word!
En, gemeente, hierdie selfde prioriteit vind ons in die verlossing deur Jesus Christus. Die Dordtse Leerreëls bely dit baie duidelik. Ons lees in hoofstuk 1, paragraaf 9 dat die uitverkiesing – ons bevryding uit die mag van die sonde en die dood dus – “nie op grond van ‘n vooruitgesiene geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid of enige ander goeie hoedanigheid of ooreenkoms tot stand gekom het asof dit as rede of voorwaarde vir die uitverkiesing van die mens vereis is nie.” God het nie vooraf iets in ons gesien wat Hom daartoe gebring het om ons te verlos nie; God het nie vooraf jou gehoorsaamheid aan sy wet gesien, en op grond daarvan besluit om jou te bevry uit die mag van die sonde nie. Nee, Paulus sê in Romeine 5:6-10 pragtig dat Christus, toe ons nog swak was, op die regte tyd vir die goddelose gesterf het, Christus het vir ons gesterf toe ons nog sondaars was, ons is met God versoen terwyl ons nog vyande was!
Goddelose, sondaars, vyande… sien jy wat jou toestand was voordat en op die moment dat jy verlos is? Ons was, net soos die volk in die Ou Testament, in ‘n slawehuis waaruit ons nie in staat was om onsself te verlos nie. Meer nog, van nature wou ons selfs God se verlossing teenstaan deur die sonde. Dít was die slawerny van God se volk, van elkeen van ons. En ons het die slawerny gevoel, maar ons kon onsself nie verlos nie; ons het onder die verdrukking gely, maar ons het onsself tog nie bekeer nie.
En dan kom God in Christus om hierdie volk, hierdie sondige volk, te verlos! Hy verlos ons, deur Jesus Christus, uit die bande van die dood, Hy verlos ons van die tirannie van die owerste van hierdie wêreld. Maar hierdie verlossing is louter genade, en in geen enkele opsig ons verdienste nie! Dit is evangelie, broers en susters, en geen wet nie! Die wet word by hierdie verlossing nie eens genoem nie! Dít is die ryk evangelie wat vanaand, by die begin van die behandeling van die wet van God, tot ons kom: dat God sonder verdienste van ons kant, alleen uit genade, ons deur Christus uitgelei het uit die dienshuis van die sonde en die dood!
En dan sit daar vanaand mense in die gemeente vir wie dit ‘n voortdurende vraag bly of die verlossing vir hulle bedoel is. Hulle kyk na hulle eie lewens, en dan sien hulle hoe baie daarin ontbreek; hulle weet dat hulle al God se gebooie oortree het, en hulle harte kla hulle aan. En hulle kom nooit tot die vrymoedigheid van die geloof nie. Hoekom nie? Omdat hulle – en ons almal, broers en susters – by die wet begin… Maar dan vergeet ons hoe Israel uit Egipte verlos is, dan vergeet ons dat by die bevryding uit Egipte die wet nie eens genoem word nie. Dan vergeet ons dat Israel in Egipte selfs die afgode van die Egiptenaars gedien het. Gemeente, die verlossing van die volk uit die slawehuis van Egipte was slegs gegrond in God se liefde, sy vrye welbehae! En dit geld vir ons vandag nog net so… En dit is wat die Dordtse Leerreëls in hoofstuk 1, paragraaf 7 so pragtig verwoord: “Die uitverkorenes is dus nie beter of waardiger as ander nie maar verkeer saam met die ander in die gemeenskaplike ellende. Nogtans het Hy hulle, uit volkome vrye welbehae van sy wil en uit louter genade, tot die saligheid in Christus uitverkies.”
Gemeente, wanneer Sondag-oggende die wet van die Here voorgelees word, hoor dan elke keer die prioriteit van God se liefde in Christus Jesus: “Toe het God al hierdie woorde gespreek en gesê: Ek is die Here jou God, wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.” En waak daarteen om die berg Sinai in Egipte te gaan plaas – want toe het God al hierdie woorde gespreek… Eers die bevryding! U en ek is verlos sonder enige verdienste, sonder enige iets in ons. Soos die bekende lied sê: Genade onbeskryflik groot, het U aan my bewys: verlore seun, ‘n wegloopkind, weer in die vaderhuis! Genade onbeskryflik groot: daar’s fees, ek is weer tuis! U Seun bring my – verlore mens – weer na die vaderhuis.
En nou, in die tweede plek: die handhawing van die vryheid.
2. Wie by die wet begin, sal nooit die evangelie vind nie – so het ons in die eerste plek gesien. Maar, gemeente, wie die evangelie vind, vind op die weg van vryheid vervolgens ook die wet. Daardie persoon is verlos uit genade alleen, maar dan kom vervolgens ook die wet in sy lewe, die wet wat gehoorsaamheid van hom vra. Kyk maar na Israel. Israel het nie vanuit Egipte onmiddellik Kanaan binne gegaan nie. Nee, eers moes hulle nog verby die Sinai gaan, waar die Here aan sy volk die wet gegee het. Tussen die begin van die verlossing – Egipte – en die einde van die verlossing – Kanaan – het die berg van die wetgewing gelê. Die volk is uit Egipte bevry deur genade alleen, maar om Kanaan binne te kan gaan, moes daar gehoorsaamheid aan die wet wees, of ten minste ‘n begin van daardie gehoorsaamheid.
En daarom was daar baie Israeliete wat Kanaan nooit gesien het nie; hulle het wel die begin van die verlossing geken, maar nie die einde nie. Hulle kon nie ingaan nie, sê die Skrif, vanweë hulle ongeloof. Hulle het in opstand teen die Here gekom, hulle het hulself nie aan sy wet onderwerp nie. So iemand bly nie binne die vryheid wat die Here uit genade geskenk het nie.
Ons sien dit baie duidelik in Jesaja 28, wat ons saam gelees het. Jesaja begin in die eerste ses verse van hierdie hoofstuk deur terug in die geskiedenis te kyk na Samaria, die hoofstad van die tienstammeryk. Ons moet onthou dat die tienstammeryk in Jesaja se tyd al in ballingskap weggevoer is. En tog kyk Jesaja nog ‘n slag terug na die tyd toe die hierdie ryk nog bestaan het. En dan veroordeel hy die leiers van hierdie ryk oor hulle dronkenskap, hy veroordeel die dekadensie van Samaria se samelewing.
In vers 7 keer Jesaja sy aandag terug na Jerusalem met sy leiers. En dan skrik ons… Want Jerusalem, wat na ons mening altyd gunstig teen die tienstammeryk afgesteek het, lyk glad nie beter nie. En dan begin ons verstaan hoekom Jesaja, as inleiding tot hierdie hoofstuk, eers na Samaria gekyk het. Want in Jerusalem gaan dit geensins beter nie… Ons lees in vers 7: “En ook die manne hier wankel deur die wyn en waggel deur sterk drank; priester en profeet wankel deur sterk drank, hulle is verward van die wyn…” En die tempel, wat ‘n toonbeeld van reinheid en heiligheid moes gewees het, is bevuil deur die uitbraaksel van die priesters. Ons kan aanneem, gemeente, dat as dit by die priesters en die profete al so gelyk het, dit onder die gewone volk nie veel beter gegaan het nie.
Tot hierdie priesters en profete rig Jesaja nou sy profesie. Maar hulle hou nie daarvan nie. Hulle skreeu vir Jesaja: “Vir wie wil hy dan kennis leer, en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar maak?” Húlle is immers die leraars van die wet, húlle is die manne wat die geheime van God kenbaar maak. Dink hy dat hulle klein kinders is, klein kinders wat pas klaar gespeen is? Hulle is keelvol vir Jesaja, hulle wil hê hy moet sy mond hou. Hy het in elk geval niks beters as die wet om aan hulle te verkondig nie, “want dit is gebod op gebod, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie.” Die priesters en profete kla dat dit vir Jesaja slegs oor die wet gaan. Gister was dít verkeerd, vandag weer iets anders; nooit het hy ‘n goeie boodskap nie. En dan profeteer hierdie Jesaja ook nog die wegvoering na Babilonië – wat se onsin! Het die Here sy volk uit Egipte gelei om hulle nou weer na ‘n ander slawehuis te bring? En so jou hulle Jesaja uit as sedemeester: gebod op gebod, reël op reël.
Hoe hartseer… Diegene wat deur die Here aangestel is om aan die volk sy wet voor te hou, hulle spot met daardie wet en hulle lei die volk op ‘n dwaalweg. En hulle noem Jesaja, wat wel met die wet van God tot hulle kom, ‘n sedemeester, ‘n kritikus. En dit terwyl die wet juis deur die Here gegee is om die vryheid van die volk te handhaaf. Kyk maar na vers 12: “Dit is die rus, gee rus aan die vermoeides, en dit is die verkwikking. Maar hulle wou nie luister nie.” En daarom, só verkondig Jesaja, omdat julle die wet, wat aan julle rus en vryheid moes gegee het, verag het, daarom sal julle agteruit struikel en verbreek en verstrik en gevang word (vers 13). Hulle het gedink die wet bring slawerny. Wel, hulle sal agterkom wat slawerny is wanneer hulle in ballingskap weggevoer word.
Gemeente, wanneer God ons uit genade bevry uit die dienshuis van die sonde, dan gee Hy vervolgens aan ons sy wet om daardie vryheid te handhaaf, om ons binne daardie vryheid te bewaar! Bevry uit Egipte was Israel nie onmiddellik in Kanaan nie; nee, eers moes hulle die pad deur die woestyn gaan. En om hulle uiteindelik veilig in die vryheid van die beloofde land te bring, gee God by die Sinai aan sy volk die wet – daardie wet moes hulle behoue in Kanaan bring. Soos wat die vader in Deuteronomium 6:24 aan sy seun vertel: “Die HERE het ons beveel om al hierdie insettinge te volbring, om die HERE onse God te vrees, dat dit met ons altyd goed mag gaan, om ons in die lewe te hou soos dit vandag is.” Gemeente, God se wet is nie ‘n nuwe slawehuis nie, dit is nie ‘n nuwe juk nie. Nee, Jakobus noem die wet nie verniet die “wet van vryheid” nie! Die wet wil u vry hou tot op die dag van die wederkoms!
Kom ons gebruik die voorbeeld van ‘n pretloop, een van hierdie 10km-pretlope wat ‘n mens soms op ‘n Saterdagoggend sien. Dit kan gebeur dat iemand tydens so ‘n pretloop ‘n verkeerde afdraai vat en heeltemal verdwaal. Maar gelukkig vind een van die organiseerders hom en bring hom terug na die wedlooproete. En dan sê hierdie organiseerder vir hom: “Volg net die oranje padtekens wat oral langs die pad aangebring is, dan sal jy vanself by die eindpunt aankom.” Gemeente, wat dink u gaan hierdie hardloper sê? “Ag, die oranje padtekens belemmer net my vryheid, ek volg liewer my eie roete”? Nee, natuurlik nie, hierdie hardloper wil die eindpunt bereik, hy wil die medalje wen, en daarom is hy al te dankbaar dat hy nou duidelik weet hoe om die wedloop te voltooi – volg net die oranje padtekens. Nou, dit is presies wat die wet van die Here doen. Die wet van die Here is die merkers langs die pad wat presies wys wat die roete is wat die Here uitgestippel het om op sy verlossingpad te bly en uiteindelik die eindpunt te bereik. En wie in eiewysheid die wet wil ignoreer, ja, hy sal – soos die volk in Jesaja se tyd – moet voel wat ballingskap is, gevange in jou eie sondigheid. Maar hy wat daarby bly, gemeente, vir hom wag uiteindelik die eindpunt – die vryheid van die beloofde Kanaan, die nuwe hemel en aarde. Ons word van die sonde bevry uit genade alleen, maar vervolgens word ons by die vryheid bewaar deur God se goeie wet. Gemeente, luister na daardie wet – wanneer dit elke Sondag voorgelees word, en ook wanneer elkeen van die gebooie in die komende maande vanuit die Kategismus behandel sal word. Luister daarna en doen dit in jou lewe van elke dag, sodat dit met jou goed mag gaan en sodat jy in die lewe mag bly, die lewe met die Here.
Ten slotte nog kortliks: die struktuur van die wet van vryheid.
3. In vraag 93 vra die Kategismus nog: “Hoe word hierdie gebooie ingedeel?” Dit wil dus voorkom asof die tien gebooie nie maar net lukraak agter mekaar geplaas is nie, maar dat die Here, met sy eie vinger, ‘n bepaalde struktuur aan sy wet gegee het. En dit blyk ook uit die antwoord: “In twee tafels, waarvan die eerste in vier gebooie ons leer hoe ons ons teenoor God moet gedra, die tweede, in ses gebooie, wat ons aan ons naaste verskuldig is.” En, gemeente, dan is dit baie belangrik om te let op die volgorde van hierdie twee tafels. Daar bestaan soms onder ons die neiging om aan die gebooie van die tweede tafel meer aandag te skenk as aan die gebooie van die eerste tafel. Daar is soms meer skuldbesef oor wat ons teen ons naaste gedoen het, as teen God. Moord, egbreuk en diefstal vind onder ons algemene veroordeling, terwyl ons oor eiewillige godsdiens of die ydellike gebruik van die Naam van die Here of degradasie van die sabbat soms baie ligtelik oordeel. Maar, let dan op, in die tien gebooie staan “hoe ons ons teenoor God moet gedra” heel eerste, en daarna eers “wat ons aan ons naaste verskuldig is”. In die wet word eers die band met God gelê, eers die godsdiens, en daarna die band met die naaste, die moraal. Die laaste kan nie bestaan sonder die eerste nie; daar kan nie regte moraal wees sonder egte godsvrug nie. In die gelykenis van die onregverdige regter lees ons dat hierdie regter “God nie gevrees en geen mens ontsien het nie” – dit is geen toevallig kombinasie; hierdie twee gaan altyd saam. As God nie meer gevrees word nie, word geen mens ontsien nie. Die gemis aan vrede met die Here lei tot onvrede, haat en oorlog tussen mense onderling.
Gemeente, laat ons daarom hierdie verdeling – wat nie maar net ‘n formele verdeling is nie, maar ‘n teologiese orde – laat ons dit handhaaf en in ons lewens na vore bring. Die wet van die Here reël heel eerste hoe ons, op die pad van die vryheid, met die Here moet lewe. Hy is immers die een wat uit genade die vryheid aan ons geskenk het. En van daaruit, en daarmee saam, leer ons ook hoe ons met mekaar behoort om te gaan. Bou daarom voor alles aan u verhouding met die Here – dien Hom alléén (1ste gebod), dien Hom op die wyse soos wat Hy dit in sy Woord voorskryf (2de), eer Hom in die regte gebruik van sy Naam (3de), en eerbiedig die dag wat Hy ingestel het (4de). En dan volg van daaruit ook die lewe met die naaste – eerbied vir ouers en ander gesagsdraers (5de), respek vir die lewe van die ander (6de), eerbied vir die liggaam en huwelik van die ander (7de), eerbied vir die besittings van die ander (8ste), eerbied vir sy naam (9de), en tevredenheid met wat die Here jou toebedeel het (10de).
Gemeente, wanneer ons só na die wet van die Here leer kyk – ‘n wet wat Hy gegee het nadat Hy ons verlos het, ‘n wet wat Hy gegee het om ons by die verlossing te hou, ‘n wet waarin Hy die lewe met Hom en mekaar reël – dan begin ons ook verstaan waarom die digter van Psalm 119 vir 176 verse lank die skoonheid en goedheid van die wet van die Here kan besing: “Ek sal my verlustig in u insettinge” (vers 16), “die wet van u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer” (vers 72), en “die wat u wet liefhet, het groot vrede” (vers 165). Broers en susters, gaan op hierdie weg van vrede.
Amen
Liturgie (aand)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 9:1, 8-10
Gebed
Lees: Deuteronomium 6:20-25
Jesaja 28:1-13
Sing Ps. 80:5 en 10
Teks: HK, Sondag 34 (v/a 92 en 93)
Preek
Amenlied Ps. 105:23 en 24
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 68:4 en 9
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.
(kyk in preek)