Verwagting van Christus se wederkoms

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2007-08-12
Text: 
Openbaring 19:6-9
Preek Inhoud: 

Openbaring 19:6-9

Ds HH van Alten - Sondag 12 Augustus 2007 - Nagmaal

Lees: Openbaring 19:1-10
Teks: Openbaring 19:6-9
Sing: Sien liturgie

Verwagting van Christus se wederkoms

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Wanneer ons net hierna aan die nagmaalstafel gaan kom sit, dan geniet ons daar – só sê die nagmaalsformulier – ‘n voorsmaak van die oorvloedige vreugde wat Christus ons belowe het. Inderdaad, ‘n voorsmaak… Meer as ‘n voorsmaak is ons hier op aarde nie beskore nie. En, gemeente, dit gee aan ons altyd maar weer gemengde gevoelens wanneer ons die nagmaal vier. Aan die een kant is daar die heerlike voorsmaak – ‘n voorsmaak wat ons met verlange laat uitsien na Christus se verskyning in heerlikheid, na die bruilofsmaal van die Lam, wanneer Hy die wyn saam met ons sal drink in die koninkryk van sy Vader. Maar aan die ander kant is daar ook nog die bysmaak, die bysmaak van die sonde en die gevolge van die sonde in ons lewens. By die soet van die uitsig op die ewige heerlikheid, is daar ook die bitter van die dikwels harde realiteit waarin ons vandag nog lewe.  

Daar is die bitter van my eie sondigheid; ek kan moedeloos raak wanneer ek in my lewe opmerk dat die sonde nog so ‘n groot invloed op my het, en dat ek van sekere sondes net nie ontslae kan raak nie. Daar is die bitter van die verlies van ‘n geliefde, saam met wie ek nie meer die brood en die wyn kan geniet nie. Daar is die bysmaak van hartseer oor geliefdes wat die weg van die Here verlaat het, sodat ons nie meer saam met hulle een is in die geloof nie. Daar is die bysmaak van die hartseer werklikheid dat ons mense met die sleutels van die koninkryk moet uitsluit sodat hulle nie saam met ons hier aan die tafel mag sit nie.

Ja, broers en susters, die voorsmaak en die bysmaak veg hier op aarde om voorrang. Trane van vreugde en trane van hartseer is tydens die viering van die nagmaal dikwels met mekaar vermeng. En die groot rede hiervoor is dat ons vandag nog tussen Jesus se hemelvaart en sy wederkoms lewe. Ons lewe vandag nog tussen, aan die een kant, Openbaring 5 – waar die Lam voor ons oë geskets word asof geslag – en, aan die ander kant, Openbaring 19 – waar die bruilof van daardie Lam sy verskyning maak. Ons lewe vandag reeds met die beginsel van die oorwinning wat Christus verdien het, maar intussen wag ons nog vir die beginsel om volle werklikheid te word. In hierdie fase van die ‘reeds’ en die ‘nog nie’ vier ons die nagmaal – dikwels met gemengde gevoelens… 

Maar, gemeente, ten spyte van die feit dat die bitter bysmaak vandag dikwels nog so sterk is – en niemand van ons sal dit ontken nie – wil die Here tog graag gee dat die soet voorsmaak in die nagmaal voorrang geniet. Die Here wil gee dat die voorsmaak, wat ons laat verlang na die volmaakte toekoms, sterker is as die bysmaak. Dit is immers die perspektief wat die Here Jesus sélf by die nagmaal gegee het. By die instelling van die nagmaal het die Here Jesus naamlik die voorsmaak van vandag onlosmaaklik verbind aan die volmaakte toekoms wat oppad is; Hy het hede en toekoms na mekaar toe getrek deur in sy instellingswoorde te belowe dat Hy die vrug van die wynstok eers weer saam met sy geliefdes nuut sal drink in die koninkryk van die Vader.

Broers en susters, hiermee het Jesus die toekomsperspektief tot een van die belangrikste elemente van die nagmaal gemaak! Wanneer ons in geloof die nagmaal vier, dan maak die Here Jesus vir ons die vensters na die toekoms wawyd oop. Nêrens is die toekoms naderby nie, as juis in die viering van die nagmaal. Juis in die viering van die nagmaal, terwyl ons die brood eet en die wyn drink, word ons verwagting tot die uiterste toe gespan! In die viering van die nagmaal hou die kerk van alle tye as’t ware die asem op om te sien wat gaan gebeur: Is dit sover? Gaan ons dalk nou die vrug van die wynstok nuut drink saam met die Here Jesus? Gaan die voorsmaak van die geloof dalk vandag oor in die smaak van die aanskouing? Gaan ons nou bruilof vier?

Gemeente, kom ons luister vanoggend na Openbaring 19, waarin dit juis gaan oor die aanbreek van die bruilofsmaal van die Lam, om daaruit te leer hoe ons die voorsmaak skerp en die toekomsperspektief suiwer kan hou…

-----------------------

Wanneer ons Openbaring 19:1-10 goed wil verstaan, is dit belangrik dat ons dit sal lees in samehang met Openbaring 17 en 18. Openbaring 17:1-19:10 vorm ‘n eenheid. In hoofstukke 17 en 18 gaan dit oor die val van die groot hoer, die stad Babilon. Uit Johannes se beskrywing kan ons aflei dat hy die stad Rome van sy dae op die oog het, maar dit hoef nie slegs tot Rome beperk te word nie. Wanneer ons Johannes se beskrywing deurtrek na ons eie tyd verwys hierdie hoerstad na die toppunt van die wêreld se verleidelike krag – ekonomies, polities en godsdienstig. Hierdie hoerstad is die dryfkrag agter die goddelose wêreld, sy tipeer die gees van die samelewing waarbinne ons, ook vandag nog, lewe.

Maar hoewel hierdie stad groot en uiters verleidelik is, sal sy uiteindelik tog onder die oordeel van God val. Ons lees in hoofstuk 17:14 dat die Lam die oorwinning teen hierdie stad sal behaal, ‘n oorwinning wat in hoofstuk 18:2 deur die engel aangekondig word met die woorde: “Geval, geval het die groot Babilon.”  

Ons sien vervolgens twee soorte reaksies op die val van hierdie hoerstad – ‘n klaagsang en ‘n loflied. In hoofstuk 18, vanaf vers 9, vind ons die klaagsang; dit is afkomstig uit die mond van drie groepe, naamlik regeerders, handelaars en seelui, almal mense wat groot belang gehad het by die mag en rykdom van Babilon; drie groepe wat munt geslaan het uit die verleidelike mag van die hoerstad treur oor haar val. Maar daarteenoor, in hoofstuk 19:1-10, vind ons die loflied; weereens gesing deur drie groepe, naamlik die engele, die hemelse lyfwag en die gelowiges. In teenstelling tot die treurendes besing hulle God se lof oor die val van Babilon.

Aan die een kant is daar dus drie keer “wee, wee die groot stad” deur dié wat aan die hoerstad verbonde was, en aan die ander kant drie keer “halleluja” deur dié wat aan God en sy Seun, Jesus Christus, verbonde is. En, gemeente, hier loop dan ook die skeidslyn tussen wie tot die bruilof van die Lam toegelaat sal word, en wie nie. En daarom word die kinders van die Here in hoofstuk 18:4 ook gewaarsku om uit die hoerstad uit te gaan, dus om hulleself nie bloot te stel aan haar verleiding van weelde, mag en afgodery nie.  

Dit is ‘n dringende oproep! Ook vir kinders van die Here is daar ‘n wesenlike gevaar dat ons in die kloue van die hoerstad Babilon kan val. Maar laat ons onsself, deur die krag van die Gees, daarvan weerhou; laat ons onsself nie beklee met die weelde van die hoer nie – kyk maar na die uitvoerige beskrywing daarvan in hoofstuk 18. Laat ons onsself eerder beklee met regverdige dade; dít sal immers eendag die klere van die hemelse bruid wees (19:8). Die regverdige dade van die heiliges sal die rein en blink fyn linne wees waarmee die bruid haarself vir die Bruidegom sal tooi. En, broers en susters, begin vandag reeds hiermee, tooi u self elke nuwe dag met hierdie klere, want die bruilof van die Lam kan enige oomblik kom – dit is die perspektief wat die nagmaal bied: dit is naby! Op die oomblik van die val van Babilon, op daardie oomblik sal die bruilof van die Lam sy opwagting maak, en almal wat hulle van die afvallige Babilon onttrek het, sal dan toegelaat word tot die hemelse bruilof. Die ondergang van Babilon beteken – op daardie selfde oomblik – die verheerliking van die kerk. En daarom dat dit in Openbaring 19 die hallelujas oor die val van Babilon vermeng is met hallelujas oor die bruilofsmaal van die Lam.  

Maar, gemeente, kan daar werklik vreugde in die hemel wees terwyl die ongelowiges in groot ellende verkeer? Kan die verheerlikte kerk werklik juig as sy die verskriklike val van Babilon voor haar oë sien? Hoe kan die bruilof hemels wees, terwyl die hel tog voortdurend voor oë is? Om hierdie vrae te beantwoord is dit baie belangrik dat ons ons vreugde oor die val van Babilon nooit sal losmaak van God nie. Die val van Babilon is nie maar net die ellende van ‘n onskuldige party nie; nee, die val van Babilon is God se regverdige oordeel oor die sondaars en hulle sonde! Dit is God se antwoord op die bede van die siele onder die altaar in Openbaring 6:10: “Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?”  

Vir die soetsappige en sentimentele mens is dit onaanvaarbaar dat God geprys word wanneer Hy sy vyande verdelg. Maar, broers en susters, wanneer ons die Skrif lees, kom ons hierdie gedagte verskeie kere teë. Lees maar Psalm 149:7-9: “om wraak te oefen onder die heidene, strafgerigte onder die volke; om hulle konings met kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie; om ‘n vonnis wat opgeskrywe is, aan hulle te voltrek.” En dan sluit hier psalm net daarna af met: halleluja! In God se wraakoefening gaan dit dus oor die handhawing van sy reg. Daardie reg het Hy ook gehandhaaf toe Hy sy eie Seun aan die kruis laat sterf het. Dit is daarom ons behoud dat God sy reg handhaaf, dat Hy regverdig oordeel. Daardeur vergaan Babel, maar daardeur is daar tegelykertyd ontkoming vir die bruid! En daarvoor loof ons die Here! Daarvoor loof die engele, die hemelse lyfwag en die kerk van alle tye en plekke Hom met die woorde: “die heil en die heerlikheid en die eer en die krag aan die Here onse God!” 

Gemeente, op die moment dat Babilon dus ondergaan, dan daag die bruilof van die Lam op. Ons sien voor ons geestesoog hoe die Bruidegom (Jesus Christus) sy bruid (die kerk) onthaal. Sy lyk pragtig, bekleed met rein en blink fyn linne. Dit is nie haar eie klere nie, hoewel dit wel die regverdige dade van die heiliges genoem word. Dit is klere wat vir haar gegee is, deur Christus se verdienste. Nogtans mag sy haarself daarmee beklee om haar Bruidegom daarmee te verbly.

Gemeente, gelukkig is hierdie bruid, salig is elkeen wat deel mag wees van hierdie bruilofsmaal van die Lam. Die bruilofsmaal van die Lam simboliseer die volmaakte, vreugdevolle gemeenskap tussen Christus en sy gemeente in die ryk van ewige heerlikheid. Dan is die tyd van wag verby, dan is die tyd van voorsmake en bysmake verby. Dan dra ons nie meer die letsels van die sonde en die gevolge van die sonde nie. Dan is daar nie meer die trane oor die hartseer in ons lewens nie. Dan is die hoer weg, en die dier is verslind, en die dood is verslaan. Dan sal die maaltyd vir altyd duur. Salig is elkeen wat genooi is na hierdie maaltyd.  

Laat ons daarom vandag nagmaal vier met die oog op die toekoms, laat ons vol verwagting uitkyk terwyl ons van die brood eet en uit die beker van die Here drink. Laat ons bly wees, ons vreugde wys en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam kom.

Amen 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 113
Wet + v/a 99 oor 3de gebod
Gebed om vergifnis en seën oor die erediens
Nagmaalsformulier:

  • Lees by “Verwagting van Christus se wederkoms”: Openbaring 19:1-10
  • Preek
  • Amenlied Skr. 29:1-3

Verder nagmaalsformulier
Sing:

  • Terwyl tafel in gereedheid Skr. 29:4-5
  • 1ste tafel Skr. 29:6
  • 2de tafel Skr. 29:7
  • 3de tafel Skr. 29:8-9

Voltooi nagmaalsformulier + gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 135:1-2
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)