God profeteer die oorvloed van die Gees!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2007-05-27
Text: 
Sagaría 12:10
Preek Inhoud: 

Sagaría 12:10

Ds HH van Alten - Sondag 27 Mei 2007 - Pinksterfees

Lees: Handelinge 2:1-14, 37-40, Sagaría 12:1-13:6, Johannes 7:37-39
Teks: Sagaría 12:10
Sing: Sien liturgie

Tema: God profeteer die oorvloed van die Gees!

   Hierdie Gees

  1. veroorsaak ‘n oorvloed aan trane in feestyd
  2. verskaf ‘n oorvloed aan verkwikking na die berou
  3. gee ‘n oorvloed aan leiding in die waarheid

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Johannes maak in hoofstuk 7 van sy evangelie ‘n baie opvallende opmerking by een van Jesus se uitsprake. Jesus het naamlik op die laaste dag van die Loofhuttefees met ‘n groot stem uitgeroep: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” En dan lewer Johannes die volgende kommentaar by hierdie uitspraak: “En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.”

Hoe kan Johannes nou sê dat die Gees nog nie daar was nie, terwyl die Skrif tog baie duidelik aangee dat die Gees ook tydens die Ou Testament werksaam was? Dink maar net aan wat die Skrif sê oor Josua, die seun van Nun, wat vol van die Gees was; dink aan die Gees wat verskeie van die rigters gelei het, en wat in Saul en later in Dawid werksaam was; dink ook aan die Gees wat die profete gelei het om die woorde van God uit te spreek. Dit kan tog nie Johannes se bedoeling wees om te sê dat die Gees in die Ou Testament nog nie werksaam was nie? Nee gemeente, wat Johannes met hierdie opmerking wil sê is dat daar ‘n merkbare verskil is tussen die werk van die Gees vóór Jesus se verheerliking, en daarna. Jesus se verheerliking aan die regterhand van die Vader is as’t ware die skarnier wat ‘n duidelike verandering bring in die werksaamheid van die Heilige Gees. Maar wat is die verskil? 

Wel, die Ou Testament profeteer op ‘n paar plekke dat God in die laaste dae van sy Gees sal ‘uitgiet’ – ons lees dit in ons teks, maar ook in Joël 2:28 en 29 wat deur Petrus in sy toespraak op die Pinksterdag aangehaal word. Hierdie ‘uitgiet’ kan ons ook vertaal met ‘uitstort’. En hier lê dan ook die besondere van die periode ná Christus se verheerliking. Waar die Gees voor Christus se verheerliking slegs plek-plek, hier en daar, sigbaar en werksaam was, sal Hy Homself ná Christus se verheerliking baie uitbundiger en oorvloediger manifesteer. Om dit met ‘n bekende beeld te beskryf: die druppelende kraan word ‘n bruisende rivier

En die rivier ontspring by die verheerlikte Christus in die hemel; Hy is die bron van hierdie bruisende rivier. Die Gees is sy oorwinningsgawe in oorvloed vir elkeen wat in Hom glo. En daarom kon die rivier eers begin vloei toe Christus verheerlik is, toe Hy met sy hemelvaart sy plek as die Oorwinnaar langs God ingeneem het. Toe eers kon die triomf gevier word, toe kon die oorwinningsgawe begin vloei, toe het die sluise van die hemel oopgegaan. Christus het oorwin, en dáárom vier ons Pinksterfees! Pinksterfees is dus voluit Christusfees! En dit sal ons ook sien wanneer ek aan u die evangelie verkondig van God se profesie oor die tyd van oorvloed in Sagaria 12.

Tema: God profeteer die oorvloed van die Gees!

   Hierdie Gees

  1. veroorsaak ‘n oorvloed aan trane in feestyd
  2. verskaf ‘n oorvloed aan verkwikking na die berou
  3. gee ‘n oorvloed aan leiding in die waarheid

1. In Sagaria 12:1-9 – dus die gedeelte voor ons teks – laat die Here deur Sagaria profeteer dat Hy die vyande van sy volk sal verslaan. Deur twee gepaste beelde wys die Here dat die vyande pogings sal aanwend om Jerusalem te oorwin, maar hulle sal self die slegste daarvan afkom. Die Here sal selfs die vyandige ruitermag, wat normaalweg ‘n teken van krag en mag is, met onmag slaan. Terwyl die Here sy oë in guns sal oopmaak oor sy volk, sal Hy die perde van die vyandige mag met blindheid slaan. Dan sal die volk hulleself ook in die stryd werp en daarvoor sorg dat hulle – soos ‘n pan met vuur onder ‘n hoop hout, en soos ‘n brandende fakkel onder gerwe – die vyand volledig verslaan, niks van hulle laat oorbly nie. Die Here sal sy volk sterk maak in hierdie stryd, hulle sal wees soos hemelwesens, soos die Engel van die Here wat in die woestyn voor die volk uitgetrek het. En dan sal die aanval van die vyande op Jerusalem uitloop op hulle eie vernietiging. 

Waarop die profeet met hierdie beskrywing presies dui, is moeilik om te bepaal. Moontlik is daar ‘n voorlopige vervulling van hierdie profesie in die tyd voor die koms van Christus, in die tyd van die Makkabeërs toe die vyandige mag, wat Jerusalem en die land beset het, verslaan en verdryf is. Maar die Engel van die Here, waarvan in vers 8 gepraat word, behoort vir ons ‘n aanduiding te wees dat ons ook verder moet kyk. Verder, na die Engel van die Here in eie Persoon, ons Here Jesus Christus – Hy is die Een wat die vyande van God se volk verslaan. Hy besit die krag om die gewapende vyande te vernietig. 

Broers en susters, as ons nou hierdie houding van God teen die vyande van sy volk vergelyk met sy houding teenoor sy volk, waaroor dit in vers 10 en verder gaan, dan is die kontras opvallend, ‘n kontras wat met die woordjie ‘maar’ aangedui word. In die laaste dae sal God sy verskriklike toorn laat blyk teen die vyande van sy volk, Hy sal die nasies wat teen Jerusalem aankom, verdelg! “Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge…” Dít is dus wat God se volk op daardie dag mag beleef: die vyand is verslaan, die oorwinning is behaal, God het aan sy volk genade bewys.

Wat anders kan ons dan in die strate van Jerusalem verwag as ‘n fees, wat anders kan ons verwag as ‘n feesvierende menigte… Soos ons sing in Psalm 68: “Die HEER sal opstaan tot die stryd; Hy sal sy haters ver en wyd, laat wegvlug voor sy oë… Maar al Gods volk, in Hom verheug, sal opspring in hul sielevreug en huppel voor sy oë.” Wat anders…? 

Maar, gemeente, dit is nie die stemming wat Sagaria aan ons beskryf nie. Die enigste klanke wat ons verneem, is die hartstogtelike snikke soos van ouers wat bitterlik ween oor ‘n eersgeborene, en rou bedryf oor ‘n enigste seun. Op die dag van die oorwinning, op die dag van die fees, wanneer die Gees van genade en smekinge oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem uitgegiet sal word, dan sal die rouklag groot wees in Jerusalem (vers 11).

Sagaria vergelyk die rouklag wat op daardie dag in Jerusalem sal wees met die rouklag van Hadad-Rimmon in die laagte van Megiddo. Dit verwys na die rou wat bedryf is oor die geliefde koning Josia wat in die slag teen Farao Nego van Egipte baie erg beseer is by Hadad-Rimmon, en uiteindelik in Jerusalem gesterf het. Ons lees hieroor in 2 Kronieke 35:24 en 25 die volgende: “… en hy het gesterwe en is begrawe in die grafte van sy vaders, terwyl die hele Juda en Jerusalem oor Josia gerou het. En Jeremia het ‘n klaaglied op Josia gedig, en al die sangers en sangeresse het in hulle klaagliedere van Josia gespreek tot vandag toe en dit tot ‘n insetting in Israel gemaak…” Hierdie was dus ‘n klaagsang op die dag van nederlaag, ‘n klaagsang by sterfte – heeltemal begryplik. Maar hoekom gebruik Sagaria dít as vergelykingsmateriaal? Hoekom is daar ‘n klaagsang op die dag van oorwinning? Hoekom rou elke geslag afsonderlik? Hoekom is daar ‘n nasionale rouklag op die feesdag? 

Sagaria gee die rede: hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het. Johannes haal hierdie woorde aan in hoofstuk 19:36 en 37 van sy evangelie om die kruisiging van Jesus Christus te beskryf. Die Een wat deurboor is, is dus Jesus Christus, die Messias, die Koning van die Jode! Oor Hóm sal die inwoners van Jerusalem rouklaag. Nee, nie onmiddellik nie… Wanneer Johannes hierdie woorde in sy evangelie aanhaal, was daar nog geen rou oor die Deurboorde nie, en nog minder berou oor wat hulle Hom aangedoen het. Maar dit kom… op die Pinksterdag. Op die dag as die Gees van genade en smekinge uitgegiet word, dán sal hulle opsien na Jesus Christus, vir wie hulle deurboor het. Dan sal hulle besef wat hulle gedoen het. En dan sal die rouklag nog baie groter wees as die rouklag oor Josia; die droefheid van Megiddo word nog baie swaarder en erger, want dan sal die selfverwyt aan die inwoners van Jerusalem knaag: ons het ons eie Koning deurboor. 

En ons sien dit op die Pinksterdag. Nadat Petrus vir die Jode vanuit die Skrifte aangetoon het wat hulle met Jesus gedoen het – dat hulle Hom gekruisig en omgebring het – dan lees ons in Handelinge 2:37: “Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?”

Maar was hierdie verslaenheid en droefheid nie onvanpas op die fees nie? Was dit nie ‘n wanklank op die fees nie? Nee, inteendeel, dit was juis die voorbereiding op die fees! Die Gees wat sopas uitgestort is, open die oë van die inwoners van Jerusalem vir die verskriklike sonde van die verwerping van Jesus Christus. Hulle verslae harte word die vrugbare grond vir die evangelie: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” Die rouklag wat so uit toon geklink het met die oorwinning wat God geskenk het, bewerk dus die eintlike fees: mense kom tot bekering, mense sien wat hulle hul Verlosser aangedoen het. Die fees begin eers wanneer die verlore seun terugkeer met die snik van berou: ek het gesondig teen die hemel en voor U. 

Gemeente, moet dus nie die oorvloed aan rouklag, wat Pinkster bring, wegskuif nie. Dit is deel van die verlossing wat God deur sy Gees skenk, naamlik dat mense voor Hom kom en sê: “Wees my arme sondaar genadig; wees my genadig, want ek het my Verlosser deurboor.” Om voor die Here te gaan en jou sondes te bely – sondes wat jou miskien al so lank druk, sondes waarvan niemand anders weet nie, sondes wat jou verslae laat – om dit te bely, is werk van die Gees van genade en smekinge. Hy is die Gees van genade wat ons laat smeek om genade. Trane en rouklag hoort dus by Pinksterfees; die Gees word nie die Gees van tale en genesinge en wonder genoem nie. Nee, Hy word die Gees van genade en smekinge genoem. Pinksterfees bring ons op ons knieë voor God in berou oor ons sondes, en dan kom daar ruimte vir die Gees van die Deurboorde om ‘n oorvloed aan verkwikking te verskaf.

Daarop let ons vervolgens.  

2. Die eerste wat die Gees dus by sy uitstorting bewerk, is die belydenis van sonde en skuld – op die Pinksterdag is dit baie konkreet die belydenis van die sonde van die kruisiging van Jesus Christus.  

Maar die Pinksterfees eindig nie daar nie; nee, dit was maar net die begin van die fees, die fees begin nou eers mooi word. En hiervan lees ons in hoofstuk 13:1. In hierdie vers vind ons die heerlike belofte van ‘n geopende fontein teen die sonde en onreinheid van die huis van Dawid en die inwoners van Jerusalem. Ons vind in hierdie beeld ‘n pragtige beskrywing van die oorvloed van verkwikking, van lafenis, wat die Gees kom aanbied. Hierdie verkwikking – die vergewing van sondes, dus – sal oor die hele volk vloei soos ‘n waterstroom uit ‘n borrelende fontein. Die fontein verwys natuurlik na die bloed van Jesus Christus, waardeur ons van alle sondes gereinig word – soos Johannes in sy eerste brief sê.

Dit is egter opvallend dat Sagaria sê: “In die dag sal daar ‘n geopende fontein wees.” Was hierdie fontein dan nie nog altyd oop nie? Het die mense van die Ou Testament dan nie van die bloed van Christus gelewe nie? Ja, broers en susters, ook hulle het van die bloed van Christus gelewe, maar dit was in die Ou Testament natuurlik nog iets waarna die gelowiges uitgesien het, dit was nog iets wat moes kom. En elke keer maar weer moes die volk daaraan herinner word deur die bloed van die offerdiere. En ook moet ons onthou dat die volk telkens van hierdie belofte van die Here afgedwaal het, hulle eie verlossing gaan soek het. Ons lees byvoorbeeld in Jeremia 2:13 hoe die Here kla: “… My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.” Die fontein was dus alreeds daar, maar dit was asof dit nog toe gehou is, asof die volk dit dikwels deur hulle sonde en afval toegedruk het.  

Maar op die Pinksterdag kom maak die Heilige Gees hierdie fontein, wat al eeue lank net uit wil stroom, oop. Die woord wat hier met ‘geopende’ vertaal is, beteken ‘om oop te maak’ of ‘vry te laat’. Dit is as’t ware asof die verlossende bloed van Jesus Christus al eeue lank toegesluit is, vasgevang is. Maar op die Pinksterdag kom haal die Gees die steen van die fontein af, en stroom die water onkeerbaar in alle rigtings. Vanaf Pinkster voer die Gees die water van die lewe, die bloed van Christus, in oorvloed na alle mense tot vergifnis van sonde en onreinheid, en nooi Hy hulle uit om met vrymoedigheid daarvan te kom drink.  Na die bitter rouklag, ná lange tyd van somerdroogte, is daar die uitkoms weer. Lafenis, vergifnis…

Ook u, ook jy, broer en suster, word uitgenooi om – ná die rouklag oor die sonde – van hierdie water te kom drink. Die sondes is bely, die Gees het ‘n stortvloed aan trane bewerk, maar nou is daar die lafenis van die vergifnis. Kom drink van hierdie water, kom neem van hierdie verdienste van Christus, wat die Gees in oorvloed aanbied. Hoor die aanbod van die Gees aan die nagmaalstafel en in die prediking: “Neem, eet! Neem, drink almal daaruit! Gedenk en glo dat die liggaam en bloed van ons Here Jesus Christus gegee is tot ‘n volkome versoening van al jou sondes!” Ja, jou sondes, jou sondes wat soveel pyn en worsteling bring, is weg. Kom geniet van hier lafenis!

Ons let ten slotte daarop dat die Gees vir ons ‘n oorvloed aan leiding in die waarheid gee. 

3. In Sagaria 13:2-6 lees ons ook nog wat die uitwerking van die berou en vergifnis is. In vers 2 sien ons dat God self die sondes van afgodery en valse profesie uit die land uitroei. Hy verwyder dus alles wat sy kerk van Hom aftrek, alles wat hulle moontlik tot sonder kan verlei. Maar in verse 3-6 wys Sagaria ook nog hoe die gelowiges self, as nuwe mense, met die sonde sou breek. En dan gee hy as voorbeeld die houding wat die gelowiges teen die valse profesie sal inneem. Die valse profesie het onder die volk van God baie ellende en moeite veroorsaak. Want deurdat die volk voortdurend na die misleidende woord van die valse profete geluister het, het die volk ‘n dwaalweg ingeslaan, het hulle van die Here afgedwaal. Die ballingskap was in werklikheid die gevolg van die navolging van die valse profete.

En daarom dat die gelowiges in die laaste dae ver weg sal bly van die valse profete. As iemand nog die moed sou hê om homself as valse profeet aan te bied, dan sou selfs sy eie pa en ma nie skroom om die doodstraf op hom toe te pas nie – soos wat die Here trouens ook beveel het in Deuteronomium 18. Die band met die Here sou dus sterker wees as die bande van bloed, en die gelowiges sou die woord van Christus eerstehands beleef: wie vader of moeder, en dus ook seun of dogter, bo My liefhet, is my nie waardig nie. Maar die gelowiges sal in hierdie laaste dae die Here liefhê, en hulle sal daarom tug uitoefen oor die sonde, hulle sal die sonde terugdring in die gemeente van die Here, sodanig dat die sondelus verdwyn. Niemand sal in hierdie tyd meer as valse profeet bekend wil staan nie.  

Maar, broers en susters, hoe kom die gelowiges daartoe om só teenoor die sonde te staan? Wie bring hulle daartoe? Wel, ook hier kry ons te make met die oorvloed van Pinksterfees. Wanneer die Gees ‘n oorvloed aan trane veroorsaak, en daarna ‘n oorvloed aan verkwikking verskaf, dan gee Hy ten slotte ook ‘n oorvloed aan leiding in die waarheid. Dit is die Gees wat die gelowiges help om nou ook as bekeerde mense te gaan lewe, mense wat in staat is om die sonde en die verleiding te herken en hulleself met alle mag daarteen op te stel. Dit is immers presies wat Christus belowe het in Johannes 16:13: “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die waarheid lei…”

Gemeente, ek staan as nuwe mens, as gelowige, dus nie alleen in hierdie wêreld nie. Christus se werk deur sy Gees is nie afgehandel wanneer jy gedoop is nie. Ja, dit is die een deel waarvan antwoord 70 van die Kategismus praat: “… ek ontvang van God vergewing van sonde uit genade ter wille van die bloed van Christus wat Hy in sy offer aan die kruis vir ons gestort het.” Maar daar is nog ‘n tweede deel: “verder word ek deur die Heilige Gees vernuwe en as lede van Christus geheilig, sodat ek die sonde hoe langer hoe meer afsterwe en godvresend en onbesproke lewe.” Sien u, ek is nie alleen nie! By elke tweesprong in my lewe – u onthou verlede week se preek uit die bergrede – elke keuse waarvoor ek gestel word, is ‘n keuse waarin die Gees my lei. Hy is die Een wat in oorvloed die padtekens voor my neersit, die gevaartekens aantoon, die rigting wys, sodat ek weet wat voor God goed en welgevallig is. Ek gaan dus nie alleen op die pad van daaglikse bekering en vernuwing nie; ek stry nie alleen nie! Nee, God self woon deur sy Gees in my, en Hy lei my in die waarheid.  

Gemeente, ek hoop dat duidelik geword het wat God in die Ou Testament deur middel van Sagaria geprofeteer het as die wonder van Pinksterfees. Ons soek by Pinkster dikwels die skouspelagtige, die ongelooflike, dít wat ons by Pinkstergroepe en selfs in die hoofstroomkerke om ons heen raaksien. Maar God wys wat die skouspelagtige is, naamlik dat dooie sondaars in rou is oor hulle sondes, dat sondaars vlug na die Deurboorde, dat sondaars vergewe word en ‘n nuwe lewe begin lei. Dít is ongelooflik! Die Dordtse Leerreëls vergelyk hierdie wonder met die wonder van die skepping en die opwekking van dooies. Sien daarom in die gemeente en by u self die wonder van die Pinksterfees. En dit is dat Christus se werk aan die kruis deur die Gees van Christus toegepas word in die lewens van mense. Die Gees vat wat Christus verdien het, en kom werk dit in mense: berou, vergewing, vernuwing, en eendag… verheerliking!

Amen 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 106:1 en 2
Pinksterverhaal: lees Handelinge 2:1-14, 37-40
Sing Skr. 13:4-9
Gebed
Lees:  Sagaria 12:1-13:6
      Johannes 7:37-39
Sing Ps. 68:1, 4 en 5
Teks: Sagaria 12:10
Preek
Amenlied Ps. 65:1-3
Gebed
Wetslesing
Kollekte
Slotsang Skr. 14
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.   

Liturgie (aand) 

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 106:1 en 2
Pinksterverhaal: lees Hand. 2:1-14, 37-40
Sing Skr. 13:4-9
Gebed
Lees: Sagaria 12:1-13:6
      Johannes 7:37-39
Sing Ps. 68:1, 4 en 5
Teks: Sagaria 12:10
Preek
Amenlied Ps. 65:1-3
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Skr. 14
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. 

Liturgie: 

(kyk in preek)