Die doop – sintuiglik-waarneembare waarborg van God se beloftes!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2007-05-13
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 27
Reference: 
HK 27a-0 (2007)
Preek Inhoud: 

Sondag 27

Ds HH van Alten - Sondag 13 April 2007 - Nagmaal   

Lees: Kolossense 2:4-23, NGB, art. 33
Teks: HK Sondag 27 (v/a 72 en 73)
Sing: Sien liturgie

Tema: Die doop – sintuiglik-waarneembare waarborg van God se beloftes!

  1. Die gevaar van veruiterliking
  2. Die belang van die uiterlike teken

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Twee weke gelede het ons saam gekyk na die eerste Sondagsafdeling wat die Kategismus aan die doop gewy het (Sondag 26). Toe het ons gesien dat, om gedoop te wees, beteken om aan Christus te behoort. Jy dra nou nie meer die teken van jou slawedrywer – die Satan – nie, maar jy dra nou die teken van jou nuwe Meester, Jesus Christus. Dit bepaal dan ook jou identiteit as mens; dit bepaal wie jy werklik is. En deurdat jy aan Jesus Christus behoort, het jy ook die reg om te deel in alles wat Hy verdien het, naamlik vergifnis van sondes deur sy bloed, asook die vernuwing van die lewe deur die werk van die Heilige Gees.

Maar wanneer ons nou na Sondag 27 kyk, dan lyk dit asof die Kategismus in herhaling begin verval; behalwe vir die vraag en antwoord oor die kinderdoop, wil dit voorkom asof die Kategismus in Sondag 27 eintlik maar presies dieselfde sê as in Sondag 26. En inderdaad, om goed raak te sien wat die Kategismus ons in Sondag 27 nuut wil leer, is nie so eenvoudig nie.  

Miskien kan ons die ‘nuwe’ van Sondag 27 die beste saamvat met die woorde ‘teken en seël’ – dit is die bekende woorde wat die NGB in artikel 33 gebruik om die sakramente te beskryf. Ons lees daar: “[Die sakramente] is immers sigbare tekens en seëls van ‘n inwendige en onsigbare saak, en deur middel daarvan werk God in ons deur die krag van die Heilige Gees.” Tekens en seëls…

Die doop is dus enersyds ‘n teken om – soos art. 33 dit beskryf – “vir ons uitwendige sintuie des te beter voor te stel wat Hy aan ons deur sy Woord te kenne gee…” Die doop is as’t ware soos ‘n pragtige skildery van God se beloftes – elkeen kan met sy eie oë sien wat God daarin belowe, naamlik dat Hy ons reinig van al ons sondes.

En andersyds is die doop ‘n seël – nou, gemeente, ‘n seël op ‘n dokument waarborg die egtheid van daardie dokument. Net so is die doop God se seël waardeur ons mag weet dat die heil wat God vir ons belowe het, nie onseker is nie, maar vasstaan!  

Die doop is dus ‘n teken en ‘n seël – ‘n sintuiglik-waarneembare waarborg – van God se beloftes in sy Woord. Maar, gemeente, het God se beloftes in sy Woord dan nodig om gewaarborg te word? Is daar enige iets onseker aan God se beloftes? Nee, maar ons het dit nodig! En daarom begin artikel 33 ook deur te sê: “Ons glo dat ons goeie God, omdat Hy met ons stompsinnigheid en swakheid rekening hou, die sakramente vir ons ingestel het om sy beloftes aan ons te beseël, om tekens van sy goedheid en genade teenoor ons te wees en om ons geloof te voed en in stand te hou.”

Dus, ‘n sintuiglik-waarneembare waarborg – vir óns! Niks meer as dit nie, maar ook niks minder as dit nie… En juis hierop gaan Sondag 27 dieper in. Ek het die boodskap soos volg saamgevat:

Tema: Die doop – sintuiglik-waarneembare waarborg van God se beloftes!

  1. Die gevaar van veruiterliking
  2. Die belang van die uiterlike teken

1. “Is die uitwendige waterbad self dan die afwassing van die sonde? Nee, want alleen die bloed van Jesus Christus en die Heilige Gees reinig ons van alle sonde.” Broers en susters, in hierdie vraag en antwoord spreek die Kategismus baie duidelik die gevaar teë dat ons van die teken en seël van die doop meer maak as wat dit is, dat ons aan die doopwater ‘n waarde toeken wat God nie daaraan gegee het nie.

Ons sien dit baie duidelik in die doopsleer van die Rooms Katolieke Kerk – volgens hulle is daar een of ander verborge krag in die doopwater, sodat die genade as’t ware in die dopeling ingegiet word wanneer hy gedoop word. En dit is vanselfsprekend dat – in die lig van hierdie siening – die doop onmisbaar word vir die saligheid. Hierdie genade-draende water moet in jou ingegiet word, jy kan nie daarsonder nie. En daarom kan, in die Rooms Katolieke Kerk, selfs ‘n gewone lidmaat die doop bedien wanneer lewensgevaar dreig en ‘n priester nie byderhand is nie.  

Maar, broers en susters, dit is nie slegs die Rooms Katolieke kerk wat aan hierdie soort van veruiterliking ly nie. Nee, deur eeue se geskiedenis moes God sy volk telkemale hiervoor waarsku. Dink byvoorbeeld aan die tyd toe die volk Israel deur die Filistyne verslaan is – 1 Samuel 4. Wat het hulle toe gedoen? Hulle het die ark laat haal om in hulle midde te wees, want met die ark is immers in die verlede ook al wonders verrig. Met die ark was God in hulle midde! Maar hulle het vergeet dat, aangesien hulle God verlaat het, die ark nie meer die teken van God se teenwoordigheid in hulle midde was nie. Dit was nou ‘n eenvoudige houtkis. En hierdie houtkis het hulle doodskis geword, want hulle het die fout gemaak om die téken wat God gegee het, die vórm dus, te beskou as die ware Jakob. Die ark het, vir hulle, Gód geword; die ark het ‘n soort towerstaffie geword. En dit terwyl hulle nie meer die God van die ark na waarheid gedien het nie! Ons ken die uiteinde van hierdie geskiedenis… 

En gemeente, dit is ook presies waarvoor Paulus die Kolossense waarsku in die gedeelte wat ons gelees het. Uit verskeie verse in hierdie hoofstuk blyk dit dat Paulus die gemeente van Kolosse waarsku vir die gevaar van dwaalleraars. Hy sê onder andere in vers 8: “Pasop dat niemand julle as buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie.” En dan sien ons ‘n paar verse later, in verse 16 en 17, wat Paulus bedoel met hierdie “oorlewering van mense” en die “eerste beginsels van die wêreld”: “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge…” Paulus waarsku dus sy lesers teen, waarskynlik, die Jode in Kolosse wat baie sterk op die uiterlike dinge gefokus het – die vorm – en wat van die gemeente daar verwag het om dieselfde te doen.

En een van die uiterlike dinge waarop hierdie Jode baie klem gelê het, was die besnydenis. Hulle het dit nodig geag dat die christene ook besny moes word. En daarby het dit vir hulle nie soseer oor die betekenis van die besnydenis gegaan nie, maar oor die uiterlike teken op sigself. Die teken het vir hulle die sáák geword. En in konfrontasie hiermee sê Paulus vir die gemeente van Kolosse: “Julle is al besny, maar met ‘n besnydenis wat baie meer beteken as die uiterlike besnydenis.” 

Sien u, gemeente, dat die Kategismus se waarskuwing teen veruiterliking van die doop – trouens, van ons hele godsdienstige lewe – geen ongegronde waarskuwing is nie. Die geskiedenis van God se volk, sowel as die geskiedenis van die kerk bewys die realiteit van hierdie gevaar. Die gevaar dat ons die die uiterlike vorm belangriker begin ag as die inhoud van daardie vorm; die gevaar dat ons die uiterlike doopsbediening belangriker ag as dít wat God deur die doop vir ons belowe. Die doopwater word belangriker as dít waarvoor die doopwater staan, naamlik dat dit ‘n teken en seël is van God se beloftes in Jesus Christus!

En, gemeente, dit is nie slegs die volk Israel en die Rooms-Katolieke Kerk wat aan hierdie veruiterliking gely het of steeds ly nie. Ook onder ons dreig voortdurend hierdie gevaar; die gevaar dat die uiterlike vorm die saak self word! Dan begin mense dink dat om gedoop te wees, genoeg is; dat die uitwendige water wat oor ons gesprinkel is die afwassing van die sonde self is; en mense begin dink dat om lidmaat van die kerk te wees, dieselfde beteken as om kind van God te wees. Dan begin ons die gedaante van godsaligheid vertoon, maar ons het die krag daarvan verloën – soos Paulus sê in 2 Tim. 3:5. Terloops, die Griekse woord wat Paulus hier vir ‘gedaante’ gebruik, is morfe; ons vind hierdie woord byvoorbeeld terug in ons Afrikaanse woord ‘morfologie’, wat ‘vormleer’ beteken. Paulus sê dus in 2 Timotheus 3 dat as ons slegs die vorm van godsdienstigheid vertoon, dan het ons die krag van die geloof verloën en verloor.  

En daarom is die Kategismus se waarskuwing baie nuttig op hierdie punt: “Pasop, die uitwendige waterbad is nie sélf die afwassing van die sonde nie!” Slegs die bloed van Jesus Christus en die Heilige Gees reinig ons van alle sonde. Ja, dit is ‘n sigbare teken en seël, maar – soos NGB, artikel 33, sê – dit is ‘n sigbare teken en seël van ‘n inwendige en onsigbare saak. Dank God daarom vir die vorm, die teken en seël van die doop, maar stoot ook dieper deur na die ware inhoud daarvan. Die doop word ons verderf as ons slegs aan die uiterlike teken bly vashou en nie verder kom as die water nie. Moet daarom nie stop by die feit dat jy gedoop is nie; nee, jou doop is die poort wat vir jou toegang verleen tot die heerlike geheim van Christus se bloed en van die Heilige Gees – vir jou! En daarom – soos Paulus sê – ons besnydenis is nie met hande nie, maar ons het deur die doop deel aan die besnydenis van Christus – dit beteken dat ons saam met Hom begrawe is en die liggaam van die sondige vlees afgelê het, en ons is saam met Hom opgewek in ‘n nuwe lewe!

Ons let vervolgens op die belang van die uiterlike teken

2. Die waterbad is dus nie self die afwassing van die sonde nie; hierdie watertjies in die doopvont was nie self die sonde af nie. Nee, die water is die teken en die seël – die vorm, dus – en nie die saak self nie. En tog kan ons nie ontken dat die Gees wel op dié manier in die Skrif daaroor praat nie. En dit is dan ook die volgende vraag van die Kategismus: “Waarom noem die Heilige Gees die doop dan die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes?” (v/a 73) En dan verwys dit terug na die laaste twee teksverse wat in antwoord 71 aangehaal word, naamlik Titus 3:5 en Handelinge 22:16. Waarom sou die Here dit in die Skrif laat klink asof die vorm die saak self is, terwyl dit dit nie is nie?  

Wel, gemeente – in die woorde van die Kategismus – God het dit nie sonder gewigtige redes gesê nie. God het presies geweet wat Hy doen toe Hy só die doop beskryf het. Want teenoor veruiterliking aan die een kant – waarna ons sopas in die eerste punt gekyk het –dreig aan die ander kant die groot gevaar dat die waarde van die doop uitgehol word – ons doop ons kindertjies en almal dink dis pragtig: hierdie klein babatjie met die water op die kop, en ons sing Ps. 105:5 wat selfs die jong kinders kan saamsing. Alles is baie mooi, maar later dink ons eintlik nooit meer daaraan nie. Die doop word so maklik iets wat lank gelede gebeur het, maar wat vir ons geen Goddelike waarborg vir die res van ons lewens inhou nie; ‘n seremonie sonder inhoud, maar geen werklikheid vir elke dag nie.  

En tog behoort ons doop ‘n realiteit van elke dag te wees. En daarom is dit so mooi dat Paulus die doop in Kolossense 2 die “besnydenis van Christus” noem. Die besnydenis het naamlik in die menslike vlees gesny, God het sy eiendomsmerk in die lewens van mense ingekerf – in die Ou Testament natuurlik net die manlike lede van die volk. En tog kon geen Israeliet hierdie persoonlike litteken negeer nie. Daardeur het elkeen geweet: God wil my as mens hê, Hy neem my op in sy familie, Hy sny my sondige bestaan weg en gee vir my ‘n nuwe hart.

Nou, broers en susters, dieselfde behandeling ondergaan die christene, volgens Paulus, wanneer hulle gedoop word. Die ‘besnydenis van Christus’ – die doop, dus – is ‘n persoonlike gebeurtenis waarby jy saam met Hom begrawe, en saam met Hom opgewek word. Wanneer jy in die Naam van Jesus gedoop word, word die resultate van Jesus se dood en opstanding jou persoonlik toegereken. God kerf sy Naam op jou lewe in! Sommige mense kies vir tatoeermerke; dikwels is dit die naam van ‘n meisie of ‘n ou; ander kies weer vir ringetjies in hulle lip of neus of wenkbrou. Christene word gedoop! Daarmee kerf God sy eiendomsmerk in jou in!

En daarom, as jy gedoop is, kan jy dit nie negeer nie, dit is nie iets waarby jy onverskillig verby kan loop nie. Want daardie water wat oor jou uitgegiet is, is geen leë teken en seël nie; God skilder nie vir sy kinders lugkastele nie. Nee, die doop is teken en seël van ‘n geweldige groot werklikheid! Ja, heeltemal reg, ons het reeds hierbo gesien dat die uitwendige waterbad nie self die afwassing van die sonde is nie. Die water is nie self die werklikheid nie. Maar die water bring wel daardie werklikheid met hom saam! In die doop gaan God se skatkis van genade vir jou oop, en die skatte van genade lê daar om geglo en aangeneem te word.  

Kom ons doen gou die moeite om te luister na wat die doopsformulier sê oor die inhoud van die skatkis. Ek lees vir u die volgende uit die doopsformulier:

“As ons in die Naam van die Vader gedoop word, verklaar en verseël die Vader aan ons dat Hy ‘n ewige genadeverbond met ons oprig, ons tot sy kinders en erfgename aanneem en ons daarom met alle goeie dinge wil versorg en alle kwaad van ons wil afweer of tot ons beswil beskik. En as ons in die Naam van die Seun gedoop word, verseker die Seun aan ons dat Hy ons in sy bloed was en reinig van al ons sondes. Hy maak ons een met Homself in sy dood en opstanding, sodat ons van ons sondes bevry en voor God regverdig gereken word. Net so ook as ons in die Naam van die Heilige Gees gedoop word, verseker die Heilige Gees ons dat Hy in ons wil woon en ons tot lewende lidmate van Christus wil maak. Want Hy maak tot ons eiendom wat ons in Christus het, naamlik die afwassing van ons sondes en die daaglikse vernuweng van ons lewe. So sal ons eendag volkome rein ‘n plek ontvang in die gemeente van die uitverkorene in die ewige lewe.”

Sien u dit? Sien u wat alles in die doop na ons toe kom? In jou doop ontvang jy selfs die werklikheid van jou uitverkiesing! En, gemeente, God se skatkis gaan nie toe die dag nadat jy gedoop is nie. Nee, sy skatkis bly jou hele lewe lank oop, jou hele lewe lank bly die vonkelende skatte van genade jou wink, jou doopnaam staan selfs op daardie kis. Dít is die werklikheid wat in die doop na ons toekom. Geen onsekerheid nie; nee, net so seker as wat die water oor die kop uitgegiet word, net so seker word hier skatte vir jou aangebied, word hierdie skatte in jou lewe gewerk deur die Heilige Gees.  

Beteken dit niemand kan verlore gaan nie? Wel, ons weet almal dat gedooptes verlore kan gaan. Maar is die skatte van genade dan nie eg nie? Nee, dit is lewenseg, dit is die grootste werklikheid wat daar bestaan. Maar die werklikheid soek wel ‘n antwoord, die doop vra om beleef en geleef te word. God soek jou geloof en jou antwoord: “Ja, Here, ek glo dat hierdie skatte ook vir my is!”

Dus, gemeente, geen veruiterliking van die doop nie, maar ook geen vervlakking daarvan nie. Sien die doop vir wat dit werklik is: ‘n sigbaar-waarneembare waarborg van al God se beloftes vir jou. God het gespreek, en Hy doen dit nog daagliks; wat is jou antwoord daarop?

Amen 

Liturgie (aand) 

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 46:1-3
Kort nagmaalsformulier
Nagmaalsviering

    • Sing terwyl tafel in gereedheid: Ps. 30:3 en 8
    • Voltooi nagmaalsformulier met die sing van Ps. 103:1, 2, 5, 6 en 7
    • Laaste sin van formulier & gebed

Lees:  Kolossense 2:4-23
      NGB, art. 33
Teks: HK, Sondag 27 (v/a 72 en 73)
Preek
Amenlied Ps. 102:8, 9 en 12
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 81:1, 11 en 12
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)