Die Woord van die waarheid

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2007-05-13
Text: 
Jakobus 1:18-27
Preek Inhoud: 

Jakobus 1:18-27

Ds HH van Alten - Sondag 13 Mei 2007 - Nagmaal

Lees: Jakobus 1:18-27
Teks: Jakobus 1:18-27
Sing: Sien liturgie

Tema: Die Woord van die waarheid

  1. Die Woord moet aangeneem word
  2. Die Woord moet in dade omgesit word,

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons lewe, ook al sterwe ons… Vir mense wat nie in Jesus Christus glo nie, eindig die lewe wanneer hulle die laaste asem uitblaas. Maar vir ons wat wel in Hom glo, gaan die lewe voort, ook ná ons sterwe. Daarbuite, in die wêreld, is die lewende dooies, maar hier in die kerk is die wedergebore lewendiges, dié wat die nuwe lewe deur ‘n tweede geboorte ontvang het. Ja, ons koop by dieselfde winkel as die lewende dooies, ons het ‘n rekening by dieselfde bank as hulle, ons werk op dieselfde rekenaars as hulle, maar die verskil is lewensgroot – lewe teenoor dood.

Jakobus maak in hoofstuk 1:18 van sy brief duidelik dat God hierdie nuwe lewe aan ons skenk deur middel van die woord van die waarheid – dit is dan die verkondigde woord in die prediking sowel as die sigbare woord in die sakramente. Die prediking, die nagmaal en die doop is dus die middele wat God gebruik om ons ‘voort te bring’, om ons wedergebore te laat word. In die prediking en in die sakramente het ons dus te make met ‘n lewegewende Woord, ‘n Woord – in hoorbare en sigbare vorm – wat aan ons die lewe gee! Vanaf vers 19 gaan Jakobus verder om nou aan sy lesers te verduidelik hoe hierdie lewegewende Woord verwerk moet word. Dus, wat moet hulle – en ons – met hierdie Woord doen?  

In die eerste plek moet hierdie Woord aangeneem word…

Jakobus roep sy lesers op: wees gou om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word. Dit is natuurlik – algemeente gesproke – ‘n baie goeie reël: jy het twee ore gekry en een mond, luister dus eers goed voordat jy praat en kwaad word. Maar Jakobus bedoel dit nie as algemene reël nie; nee, hy doen hierdie oproep spesifiek met die oog op die woord van die waarheid waardeur ons deur God wedergebore word – en waaroor hy sopas in vers 18 gepraat het. Jakobus wil hê dat sy lesers besonder goed na die verkondiging van hierdie Woord moet luister, daarop moet konsentreer. As daar gepreek word of as die sakramente bedien word, dan open Gód sy heilige mond om aan ons die lewe te gee, en dan pas dit ons om goed te luister en God nie in die rede te val nie. Selfs wanneer ons deur daardie Woord aangespreek en vermaan word, selfs wanneer daardie Woord ons op sekere sondes in ons lewens wys, dan moet ons nie te gou kwaad word nie. Immers, daarmee bereik jy niks voor God nie. Kan die toorn van ‘n mens die geregtigheid voor God bewerk? (vers 20) Dink jy dat jy, deur kwaad te word, iets tot jou redding voor God kan bydra?

Nee, broers en susters, doen dan eerder afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid waarop die Woord jou gewys het (vers 21). Die woord wat hier vertaal is met “afstand doen” kan dalk in hierdie konteks beter vertaal word met “uitruk” – ruk die vuiligheid en boosheid wat nog in jou lewe is, uit! Trek die onkruid uit die akker van jou lewe uit! Want die onkruid blokkeer die groei van die ingeplante Woord in die menslike lewe. Broers en susters, wat in ons lewens moet groei, is nie die boosheid en die vuiligheid nie. Nee, daardie onkruid moet uitgeroei word, sodat die goeie plant kan groei; die sonde moet weg, sodat die Woord ruimte kan kry. Dié twee kan nooit saam op een akker groei nie – altyd sal een van die twee die ander verslind. En as u nie ‘n lewende dooie wil wees nie, laat dit dan die Woord wees wat die sonde verslind. 

En daarom Jakobus se oproep: ontvang met ‘sagmoedigheid’ – dus met ‘n hart wat oopstaan vir die Here – die Woord van God, ook wanneer ons dit hierna in die vorm van brood en wyn gaan eet en drink. Aanvaar eenvoudig wat in die brood en wyn vir u aangebied word – en dit is dieselfde as wat in die doop vir u aangebied word, en wat elke Sondag in die prediking vir u aangebied word – Jesus Christus, die gekruisigde! Rig u geloof en vertroue op sy volmaakte offer wat eenmaal aan die kruis volbring is. Dít is die enigste grondslag van ons saligheid, en dit kom in sowel die hoorbare as die sigbare woord na u toe. Neem dit aan, want hierdie woord is in staat om ons siele te red – soos wat Jakobus aan die einde van vers 21 sê. Wat u nou hoor, en wat u hierna gaan eet en drink, is lewe! Wees dus aan die nagmaal ‘n bewuste ontvanger van die lewe wat God verniet uitdeel aan almal wat in Jesus Christus glo.

Ons het nou gesien dat hierdie lewegewende Woord aangeneem moet word. Maar in die tweede plek moet hierdie Woord ook in dade omgesit word.  

2. Jakobus roep sy lesers op om, nadat hulle die Woord aangeneem het, nou ook daders van die Woord te wees. Die ingeplante woord wat in staat is om ons siele te red, moet nou ook begin vrugte dra. Die preek, asook die brood en die wyn aan die nagmaal, moet gestalte kry, moet hande en voete kry, in die lewe van elke dag. En ons nagmaalsformulier is hieroor ook baie duidelik en uiters konkreet: “Omdat Christus, ons geliefde Saligmaker, ons eerste so uitnemend liefgehad het, moet ons ook aan mekaar liefde bewys en nie alleen met woorde nie, maar ook met die daad.” Sien u, die woord moet vrug dra… En dan bid die nagmaalsformulier ons ook nog die krag van God hierin toe: “Mag die barmhartige God en Vader van ons Here Jesus Christus deur sy Heilige Gees ons daartoe help.” Inderdaad, broers en susters, mag die Gees ons hiertoe help… Want Jakobus maak in die res van hoofstuk 1 duidelik dat ons verhouding met die Here hiervan afhang.  

Jakobus vergelyk naamlik die hoorder, wat nie moeite doen om ook ‘n dader van die woord te wees nie, met ‘n man wat na homself in die spieël kyk. En hy gebruik ‘n werkwoord wat daarop dui dat hierdie man baie noulettend besig is om na homself te kyk; hy kyk na elke detail van sy gesig – letterlik: die gelaat waarmee hy gebore is. Maar nadat hy homself goed bekyk het, draai hy hom om en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Duidelik het dít wat hy gesien het nie ‘n groot indruk op hom gemaak nie; ook al het hy hoe goed en noukeurig gekyk, verdwyn die herinnering aan die beeld sommer vinnig weer.

Gemeente, so gaan dit ook met iemand wat slegs ‘n hoorder van die woord is. Van die preek, waarna hy sopas goed geluister het, bly daar nie baie oor in sy herinnering nie; die brood en wyn, wat hy sopas geëet en gedrink het, het duidelik nie ‘n groot indruk op hom gemaak nie. Hierdie is die soort mens wat meen dat hy baie godsdienstig is, baie vroom en godvrugtig – hy kyk immers gereeld in die spieël. Maar intussen is hy iemand – en op hierdie punt word Jakobus amper skrikwekkend konkreet – intussen is hy iemand wat nie sy tong in toom kan hou nie (vers 26). Hy is onwys in sy opmerkings, hy maak ander seer met sy woorde, hy is voordurend besig om oor elke saak te kibbel en te baklei. Jou godsdiens, jou vroomheid – sê Jakobus vir hierdie man – is waardeloos voor God.  
 

Teenoor hierdie man wat wegloop en vergeet wat hy gesien het, plaas Jakobus die man wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid. Hier kry ons die beeld van ‘n man wat homself vooroor buig om die boekrol wat voor hom op die tafel lê, goed te kan bestudeer. Hy maak seker dat hy verstaan wat die Here van hom eis, en hy gaan doen dit. En, gemeente, dan gaan dit hier nie oor wettisisme of moralisme wat van buite-af opgelê word nie, maar dit gaan oor die effek van die Woord wat aangeneem word. Die ingeplante woord wat met sagmoedigheid aangeneem word, maak ‘n mens van binne-uit vry en gewillig om konkreet God en die naaste te kan dien. Hierdie omsit van woorde in dade kom dus van binne-uit, die Gees skryf immers die wet – die wil van God – op ons harte, sodat ons oortuigde daders daarvan word. Nie slawe wat gedwing word nie, maar nuwe mense wat uit oortuiging doen wat die Here vra.

Die Here roep ons dus op: “Neem die ingeplante Woord met sagmoedigheid aan!” Maar vervolgens vra Hy ook: “Bring dit nou tot uiting in die lewe van elke dag. Wys nou ook dat jy wedergebore is deur die woord van die waarheid!”  

Jakobus maak dit konkreet deur te wys dat dít die mens is wat die wese en weduwees in hulle verdrukking besoek. In Jakobus se tyd was die wese en die weduwees by uitstek die mense wat in druk verkeer het; hulle was die verontregtes en die onbeskermdes in die samelewing. Dit gaan dus oor dié mense wat in die grootste nood verkeer – by húlle moet die ingeplante woord heel eerste in dade omgesit word. Hier lê dan ook die toets, gemeente. Is die ingeplante woord werklik met sagmoedigheid aangeneem? Indien nie, moet u self dan nie om die bos lei ten opsigte van u eie saligheid nie… Maar laat dit by ons wees soos by die diaken Laurentius wat in die eerste eeu deel was van die gemeente in Rome. Toe hy tydens die vervolging onder keiser Decius gevra is om die skatte van die kerk aan die owerheid te oorhandig, was sy antwoord: die enigste skatte wat ons besit, is die armes. Laat die armes, die eensames, die verdruktes ons skat wees, gemeente. Laat ons liefde teenoor mekaar en ons naaste bewys, nie net in woorde nie, maar ook met die daad.

‘n Tweede kenmerk wat Jakobus gee van die mens wat werklik vroom is, is dat hy homself vlekkeloos bewaar van die wêreld. Met die wêreld bedoel Jakobus dan die mensheid wat vreemd en vyandig teenoor God staan. Dit gaan dus daaroor dat iemand nie slegs ‘n Sondagschristen moet wees nie, iemand wat slegs onder die woord kom nie, maar dit moet ook uitwerking vind in sy lewe op Maandag by die werk, en tydens Vrydagaand se partytjie en Saterdag se sokkerwedstryd. Só iemand se vroomheid is rein en onbesmet voor God die Vader.  

Gemeente, terwyl u op hierdie oomblik die woord hoor, en wanneer u dit net hierna aan die tafel gaan proe, gee die Woord van die Here aan u ‘n penskets van twee soorte mense: enersyds die mens wat die ingeplante woord ontvang, maar wat dit in sy lewe laat oorwoeker deur die onkruid sodat hy slegs ‘n hoorder bly; en andersyds die mens wat die ingeplante woord ontvang, en wat ruimte maak dat dit in sy lewe kan groei, wat sorg dat dit ook sigbaar word in dade. Wees soos hierdie tweede mens; maak ruimte dat die Gees, wat u in ware gemeenskap met Christus laat lewe en u in al sy rykdom laat deel, u nou ook bring tot ware liefde in woorde, maar ook met die daad. Laat dit blyk dat u nie ‘n lewende dooie is, maar ‘n wedergebore lewendige! Laat die effek van die brood en die wyn in u lewe deurwerk, lank nadat die smaak daarvan al verdwyn het. Buig u self oor die nagmaalstafel om goed te kan sien waar die ingeplante woord ook sigbaar moet word in u lewe. En laat so die nagmaal, wat ons elke drie maande vier, ‘n fees vir elke dag berei. ‘n Daaglikse fees waarin hoorders daders word, ‘n daaglikse fees waarin die gemeenskap om hierdie tafel sigbaar word in ons lewe in hierdie wêreld. Laat die maaltyd van ons Here Jesus Christus ‘n léwe vir ons Here Jesus Christus teweeg bring.

Mag die barmhartige God en Vader van ons Here Jesus Christus deur sy Heilige Gees ons daartoe help.

Amen 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 8:3, 4, 5 en 7
Gebed
Nagmaalsformulier:

  • Lees wet by “die volgende sondaars word genoem:”
  • Sing Ps. 6:1-3
  • Lees by “Onderwysing”: Jakobus 1:18-27
  • Preek
  • Amenlied Skr. 41:1, 2, 5 en 7

Verder nagmaalsformulier
Sing:

  • Terwyl tafel in gereedheid Ps. 115:1 en 6
  • 1ste tafel Ps. 115:7
  • 2de tafel Ps. 115:8
  • 3de tafel Ps. 115:9

Voltooi nagmaalsformulier + gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 37:2, 17, 23, 25
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. 

Liturgie: 

(kyk in preek)