Die Gees werk deur bonatuurlike krag die wonder van geloof in God se kinders!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2007-04-22
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 25
Reference: 
HK 25-0 (2007)
Preek Inhoud: 

Sondag 25

Ds HH van Alten - Sondag 22 April 2007

Lees: Genesis 15:1-6; 2 Timotheus 3:14-4:5
Teks: Sondag 25
Sing: Sien liturgie

Tema: die Gees werk deur bonatuurlike krag die wonder van geloof in God se kinders!

  1. In hierdie goddelike werk gebruik die Gees skeppingsmiddele;
  2. God roep óns op om die skeppingsmiddele as genademiddele te gebruik.

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Die Kategismus het in Sondag 23 tot die konklusie gekom dat ons slegs deur die geloof geregverdig word. Maar – was die vraag in Sondag 24 – wat dan van ons goeie werke? Ons goeie werke dra tog sekerlik ‘n deel by aan ons verlossing? Maar nee, geen bydrae van ons goeie werke nie, want selfs ons beste werke is onvolmaak en met sondes besmet. Dus, ons word slegs deur die geloof geregverdig… Maar waar kom so ‘n geloof dan vandaan? Dit is asof die opstellers van die Kategismus sê: “Maar as dit is wat ons nodig het, waar kry ons dit dan? Wys ons die pad, hoe bekom ons dit?” En dan is die antwoord: die Heilige Gees werk dit in ons harte. “O, dit moet dus van bo-af kom… Maar dan is daar werklik niks wat ek kan bydra nie.” Inderdaad gemeente, en dit sal nie die eerste keer wees dat die Kategismus ons daaraan herinner nie.  

Kom, ek lees vir u uit die Dordtse Leerreëls, hoofstuk 3/4 paragraaf 12, waar juis hierdie punt nog duideliker vir ons uitgespel word. Luister mooi hoe aangrypend die vaders hierdie werking van die Gees verwoord het:

“Dit is die wedergeboorte, die nuwe skepping, die opwekking uit die dood en die lewendmaking, waarvan die Skrif so heerlik spreek, wat God sonder ons in ons werk… Dit is ‘n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God. Volgens die getuienis van die Skrif, wat deur Hom, die Outeur van hierdie werking geïnspireer is, is dit deur sy krag, wat nie minder of geringer as die skepping of as die opwekking van die dooies is nie. Die gevolg is dat almal in wie se harte God op hierdie wonderbaarlike wyse werk, sekerlik, onfeilbaar en kragdadig weergebore word en daadwerklik gló.” 

Erken ons hierdie bonatuurlike werking, broers en susters? Ervaar ons dit ook so in ons lewens? Nee, ek vra nie of almal van ons een of ander ingrypende en emosionele bekeringservaring gehad het nie – hoewel dit natuurlik nie onmoontlik is nie. Maar ek vra wel: beleef jy die feit dat jy glo ook werklik as ‘n Godswonder? Of is die geloof vir jou al so ‘n gewone ding dat die buitengewone, die bonatuurlike krag wat nodig was om dit te bewerk, verdwyn het? Wel, gaan lees dan maar weer ‘n slag hierdie paragraaf uit die Dordtse Leerreëls. Want waarmee vergelyk die Leerreëls die wedergeboorte en geloof? Ons lees daar: dit is deur sy krag nie minder of geringer as die skepping of die opwekking van die dooies nie. Die Dordtse Leerreëls vergelyk die wedergeboorte en geloof dus met die skepping en die opwekking van die dooies! Weet u hoeveel mense vandag ontken die skepping? Dit is ontmoontlik, sê hulle, dit kan nie wees dat God slegs gespreek het en dit het ontstaan nie. Nee, Genesis 1 is maar ‘n mite, ‘n primitiewe volk se ongeloofwaardige manier om die ontstaan van die wêreld te verklaar – só sê hierdie mense. En weet u hoeveel mense vandag ontken Jesus se opwekkingswonders? Die opwekking van Jairus se dogtertjie – dit kan tog nie wees nie. Die opwekking van die seun van die weduwee van Nain – onmoontlik. Die opwekking van Lasarus nadat hy al vier dae lank dood was – ag, dit is maar die geloofservaring van die verwarde dissipels, maar dit kon nie werklik gebeur het nie.  

Deur dít te ontken, broers en susters, word ook die moontlikheid tot geloof ontken! Maar u en ek is dan die lewende bewyse dat geloof moontlik is! Die feit dat ons glo staan niks terug vir hierdie wonders wat ek sopas genoem het nie, in krag staan dit op gelyke vlak daarmee. U en my geloof is ongelooflik… Maar erken ons dit nog? Beleef ons dit nog op dié manier? Beleef ons nog wat die Skrifte ons leer: “Die HEER se woord is skeppingsmagtig, wat lewe uit die dood gebied” (Ps. 33), en Psalm 104: “… as u Gees weer oor hul sweef, dan leef hul en die aarde herleef”, en Skrifberyming 14: “Nuwe harte gee Ek aan julle, en Ek gee ‘n nuwe gees; Ek sal die hart van klip verwyder, aan jul gee ‘n hart van vlees” (Eseg. 36). Broers en susters, sien ons nog die wonder van geloof wat deur die Gees van God gewerk word? Laat ons die Here bid dat Hy aan ons die kleinheid sal gee om elke dag opnuut sy grootheid in ons geloof raak te sien.  

Tema: die Gees werk deur bonatuurlike krag die wonder van geloof in God se kinders!

  1. In hierdie goddelike werk gebruik die Gees skeppingsmiddele;
  2. God roep óns op om die skeppingsmiddele as genademiddele te gebruik.

1. Ons het nou vanuit die Dordtse Leerreëls gehoor dat ons geloof deur bonatuurlike krag bewerk word. Die besef hiervan hou ons klein en nederig. Maar nou moet ons oppas om te sê dat die manier waardeur die Gees hierdie wonder werk, ook bonatuurlik moet wees. Dit is dikwels hoe mense hieroor redeneer: die Gees is God, Hy werk goddelike dinge, en daarom is dit benede sy stand om van aardse, natuurlike middele gebruik te maak om die geloof te bewerk. Die Gees, as God, staan bo die skepping, en daarom is dit oneerbiedig om te dink dat Hy van ons geskape werklikheid gebruik sou maak. Die Gees kan – wannneer Hy wedergeboorte en geloof werk – nie middele gebruik wat minder as Hy is nie.

En wat sien ons dan by mense en groepe wat só redeneer? Wel, ons sien hoe hulle begin om die eenvoudige aardse/natuurlike middele waarmee die Gees gekies het om die geloof te werk – naamlik die Woord en die sakramente – ‘n minder prominente plek in hulle persoonlike en kerklike lewe te verleen; hierdie middele word deur sommige selfs minderwaardig geag. Volgens hierdie mense werk die Gees nie middellik (deur middele) nie, maar onmiddellik (sonder middele); die Gees werk dus regstreeks die goddelike wonder van geloof in mense.  

Nou, gemeente, natuurlik is die Gees God, en uiteraard moet daar by ons groot eerbied wees vir hierdie derde Persoon van die Drie-eenheid. Maar dit beteken nog nie dat Hy nie van aardse middele gebruik kan maak nie. Juis omdat die Gees van God Gód is, daarom is Hy magtig om deur sy eie keuse en beskikking uit sy eie skepping middele te neem om my tot geloof te bring en my in daardie geloof te versterk.

Hoe weet ek dit? Hoe kan ek dit sê? Broers en susters, ek kan dit sê, omdat ek weet dat God méns geword het, die Woord het vlees geword; die Seun het nie bo die menslike en die vleeslike gesweef nie, nee, Hy het werklik daarin ingegaan. Die Seun van God – God self, wat deel is van die enkelvoudige gééstelike Wese, waarvan NGB art. 1 praat – het vlees geword; jy kon aan Hom vat, Hy kon ook sy toon stamp, daar het ook trane oor sy wange gerol, Hy het ook ‘n maag gehad wat met kos gevul moes word.

Nou, net soos wat die Seun in sy barmhartigheid werklik mens geword het, werklik in ons wêreld en bestaan ingekom het, net so kom die Gees ná Hom en sê: “Die aarde en sy volheid behoort aan die Here, en daarom sal Ek ook in hierdie wêreld ingaan, en daarvan gebruik maak en dit aanwend tot geloof en bekering van vele!” En dit is presies wat Hy gedoen het – die Heilige Gees het aardse middele gekies om die wonder van geloof in mense te werk. Hy gebruik gewone skeppingsmiddele, en daardeur word hierdie skeppingsmiddele genademiddele! 

Ons sien dit so pragtig by Abraham in Genesis 15. Ons lees in vers 6 dat Abraham in God geglo het; die bonatuurlike wonder het dus in Abraham se lewe plaasgevind. Maar hoe? Soos ‘n bliksemstraal uit die hemel? Nee, eers sien ons dat God met Abraham praat: “Vrees nie, Abram, Ek is vir jou ‘n skild en jou loon is baie groot.” En dan antwoord Abraham – ja, soos in ‘n goeie verhouding vind hier kommunikasie plaas. Abraham het moeite met die Here se belofte van loon: “Here HERE, wat sal U my gee, aangesien ek sonder kinders heengaan en die erfgenaam van my huis die Damaskener Eliëser is?” En dan reageer die Here weer: “Hierdie een sal jou erfgenaam nie wees nie, maar die een wat uit jou liggaam sal voortkom, hy sal jou erfgenaam wees.” Sien u, eenvoudige woorde in die taal wat Abraham verstaan het, beloftes in gewone mensetaal – dít is die skeppingsmiddel wat die Gees hier gebruik om geloof in die hart van Abraham te laat ontvlam.

Maar daar is nog meer: die Here wil Abraham ook nog in sy geloof versterk, en daarom lei Hy hom buitentoe en Hy wys vir hom die sterre: “Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. So sal jou nageslag wees.” Sterre, gewone sterre soos wat ons hulle in ons tyd nog in die nag aan die hemelruim kan sien vonkel, word deur die Gees gebruik tot versterking van die geloof. 

Gemeente, woorde en sterre – skeppingsmiddele word genademiddele…! En dit sien ons so dikwels in die Skrif: dink aan Moses – woorde en ‘n staf wat ‘n slang word (Exodus 4); dink aan Gideon – woorde en ‘n wolvlies (Rigters 6); dink aan Jesus se volgelinge – woorde wat gepaardgaan met wonders en genesings.

Nou, op soortgelyke wyse het die Gees vir die kerk van die Nuwe Testament ook skeppingsmiddele gegee waardeur die geloof wil bewerk. Hy het gekies vir ‘n boek, Hy het gekies vir gewone water, Hy het besluit op eenvoudige brood en wyn; en verder het Hy besluit om gebruik te maak van eenvoudige menslike handelinge soos prediking, nagmaalsbediening en doopsbediening. Só – en nie anders nie – wil Hy u en my en nog soveel duisende ander mense tot geloof bring en in die geloof versterk.

Beteken dit dan die Gees kan nie op ander maniere mense tot geloof bring nie? Niemand van ons sal dit wil beweer nie. Natuurlik is die Gees by magte om in ‘n oogwink die geloof in mense in te stort. Hy is dan God! Maar dit is nie die manier wat Hy gekies het nie, dit is nie die manier waaraan Hy ons gebind het nie – die Gees bind ons aan die bybel, aan die doop, aan die nagmaal. Die vraag is dus nie: kan die Gees dit nie anders doen nie?, maar eerder: hoe het die Gees dit vir ons bepaal? Só, en nie anders nie, en daarom wil ons gehoorsaam hierdie skeppingsmiddele as genademiddele tot geloof en versterking van die geloof gebruik. 

En gemeente, ons sien hier ‘n baie besondere aspek van die geloof, naamlik dat die geloof  nie onnatuurlik is nie. Inteendeel, dit is natuurlik om te glo, en daarteenoor is dit onnatuurlik – selfs teennatuurlik – om nie te glo nie. Wanneer die Gees uit die skepping middele kan gebruik – ‘n boek, water, brood en wyn – dan is die geloof die natuurlikste ding op aarde. En dit terwyl die wêreld ons so dikwels wil laat glo dat dit vreemd is om te glo, dat gelowiges eintlik maar snaakse mense is. Seuns en dogters, jongmense op universiteit, miskien voel julle soms so, en daarom bly julle ook maar liewer stil oor die geloof. Maar dan wys die Gees hier dat gelowiges die normale mense in hierdie wêreld is, terwyl ongelowiges eintlik abnormaal is, onnatuurlik is. Geloof is in! In God se skepping val jy nie uit die bus as jy ‘n gelowige is nie!

Immers, wanneer die Heilige Gees geloof in ons werk en dit versterk dan doen Hy nie iets nuuts nie, Hy kom gee nie ‘n nuwe uitvindsel op aarde nie; nee, Hy kom herstel eenvoudig wat vanaf die begin normaal was! Die skeppingsmiddele as genademiddele kom maak van my weer die mens wat ek oorspronklik was – ek word weer die paradysmens wanneer ek ‘n goeie preek gehoor het, ek word weer normaal wanneer ek die brood en die wyn aan die nagmaalstafel van die Here geniet het. Broers en susters, moet daarom nie die middele wat die Gees gekies het om u en my weer normaal te maak, verag nie. Hy het in sy wysheid besluit op ‘n bybel om te lees, Hy het gekies vir water om oor die koppies van ons kinders uit te giet, Hy het gekies vir brood en wyn om geëet en gedrink te word. Moet nie wyser as God wil wees en hierdie middele verwaarloos nie. Dít is hoe Hy ons tot geloof bring en by die geloof behou!

Hierop let ons vervolgens: God roep ons op om die middele te gebruik. 

2. Gemeente, as ons in die geloof wil vasstaan tot die einde toe, dan moet ons bly by die middele wat die Géés gekies het om aan ons geloof te gee, en ons in daardei geloof te behou. Te dikwels sien ons dat mense Woord en sakramente as ‘n stasie sien waarby hulle verby is, en waarna hulle ook nie hoef terug te kyk nie. Kindertjies in die geloof, ja hulle het nog die Woord en sakramente nodig, maar ons wat al volwasse is…? Nee, ons is verby daardie begintyd… Paulus, die groot apostel van Christus, die man van die regverdiging deur die geloof alleen, dink egter anders hieroor. Hy roep vir Timotheus baie ernstig op met die woorde: “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is…” Bly daarin – Woord en sakramente, die genademiddele van die Gees kan ons nie agter ons laat as onbelangrik nie. Ons het altyd weer hierdie middele nodig.

Immers, die Skrif is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid. En die uiteindelike doel? “Sodat die mens van God volkome kan wees…” (vers 17). Die mens van God – dit is die mens soos hy in die paradys was, goed en aan God toegewy. Ons het hierbo ook al daarvan gehoor. Wie dus so ‘n mens van God wil wees, normaal en natuurlik, hy het die Woord en die sakramente nodig, hy het die genademiddele nodig.  

En gemeente, daarom dat Paulus vervolgens vir Timotheus met soveel nadruk beveel om nie op te hou om daardie genademiddele te bedien nie: “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus…: verkondig die woord!”

Gemeente, hierdie oproep geld vir die bedienaar van die Woord, die predikant – hy moet aanhou, of dit nou geleë is of nie, om God se Woord te bring, dié middel by uitstek waardeur die Gees geloof in ons wil bewerk en versterk. En u kan maar gerus weet dat nie almal dit altyd geleë vind nie, veral nie wanneer daardie woord sonde in mense se lewens aanraak en wil wegsny nie. Dan probeer mense om daarvan weg te vlug, hulle daarvan te onttrek. Paulus roep egter elke Woordbedienaar op om hom nie daarby aan te pas nie, om aan te hou om te verkondig: “weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering…” 

Maar, gemeente, elke gelowige word daarmee sáám opgeroep om, of dit nou geleë is of nie, ook daarna te luister, daaraan gehoor te gee, werklik jou lewe onder daardie woord te stel. Waar die prediker besweer word om nie ontrou in sy bediening te wees nie, só word die gemeente besweer om haarself getrou onder daardie Woord te stel, getrou die middele sal bly gebruik. Wie ophou om die genademiddele te gebruik, waaraan die Gees ons gebind het, moet nie verwag om die genade in sy lewe te ervaar nie. Wie die eredienste versuim sonder om daarvoor gegronde redes te hê, wie sonder goeie rede die nagmaal mis, wie deur ‘n onbewustelike lewe sy doop verwaarloos, hy bedroef die Gees. Wie die genademiddele verwaarloos, veragter in die genade. Om te sê: “Ek is ‘n christen, maar ek gaan nie kerk toe nie” is ‘n onmoontlikheid; om te sê: “Ek is ‘n kind van God, maar ek gebruik nie eintlik die nagmaal nie” kan nie wees nie. Gemeente, as ons die Here wil vind in geloof en bekering, dan moet ons Hom soek waar Hy te vinde is.

Maar hoe erg is dit nou om maar een keer ‘n Sondag weg te bly van die eredienste? Dit is darem nie te erg as ek een keer op ‘n Sondag reis nie, as ek hierdie keer die nagmaal mis nie, as ek hierdie Sondagoggend laat slaap nie. Broers en susters, laat ons nie dwaas wees nie! Die Woordverkondiging en die sakramentsbediening is die weg wat die Gees gekies het. Natuurlik, die Gees waai waar Hy wil, maar vir óns het Hy gesê: “Dít is die manier hoe Ek in jou wil waai – deur die prediking, deur gewone water, deur die brood en die wyn.”  

Laat ons daarom getrou wees in ons gebruik van die middele! Bid die Here dat Hy in ons mag werk sodat die gebruik van die middele al hoe meer ons hartsbegeerte sal wees. Bid die Here dat Hy mag bewerk dat niemand van ons meer die eredienste of die sakramentsbediening wíl mis nie. Ja, natuurlik gaan ons dit vanweë aanvaarbare omstandighede soms moet mis, maar laat dit dan so wees dat dit met pyn is. Laat ‘n dag in die voorhowe van die Here vir ons beter wees as duisend waar ons sonder Hom moet klaarkom. Gebruik die middele, gemeente, en ervaar dan dat die Here goed is. Mag die Here ons daarvan bewaar dat die getroue verkondiging van die evangelie en die suiwer bediening van die sakramente in hierdie gemeente ooit vervang sal word deur uiterlike vertonings en afgewaterde boodskappe. Mag Hy gee dat ons sal voortgaan met die dwaasheid van die prediking, want dit het God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red. Is dit vir u dwaasheid om elke week twee keer na ‘n preek te luister, om rondom ‘n tafel te sit en brood te eet en wyn te drink, om water op ‘n pap babatjie se kop te gooi? Waarskynlik is u nie die enigste nie… Maar ons gaan voort! Kom u volgende week weer? 

Amen 

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 34:1, 2 en 4
Gebed
Lees: Genesis 15:1-6
      2 Timotheus 3:14-4:5
Sing Ps. 111:1, 2 en 5
Teks: HK, Sondag 25
Preek
Amenlied Skr. 14
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 33:1, 5 en 11
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)