Die Heer het waarlik opgestaan!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2007-04-08
Text: 
Lukas 24:5b-7
Preek Inhoud: 

Lukas 24:5b-7

Ds HH van Alten - Sondag 8 April 2007

Lees: Lukas 24:1-12
Teks: Lukas 24:5b-7
Sing: Sien liturgie

Tema: Die Heer het waarlik opgestaan!

  1. Soek Hom op die regte plek
  2. Luister na sy woorde
  3. Kyk na sy tekens

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

1 Korinthiërs 15 is altyd ‘n pragtige hoofstuk om te lees – as u weer ‘n tydjie het, doen dit gerus. Hierdie hoofstuk is een groot verkondiging van die opstanding van Christus, sy oorwinning oor die dood, en ons salige opstanding. Paulus sê daarin vir sy lesers dat dit in die evangelie gaan oor Christus wat vir ons sondes gesterf het, begrawe is, en op die derde dag opgewek is – alles volgens die Skrifte (verse 3-4). En dan borduur Paulus voort op die onderwerp van die opstanding deur vanuit die geskiedenis te wys aan wie Christus ná sy opstanding verskyn het. ‘n Hele reeks opstandingsgetuies word opgenoem.  

Maar duidelik het die Korinthiërs nie die nodige aandag en geloof aan die saak van die opstanding geskenk nie. Want Paulus vra in vers 12: “As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie?” Sien u, vir sommige Korinthiërs was dood dus dood – en dit terwyl Paulus en sy medewerkers wel die paasevangelie aan hulle verkondig het… Vervolgens gaan trek Paulus dan die konsekwensies uit hierdie ongeloof in die opstanding. Hy sê: as daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; en as Christus nie opgewek is nie – ja, luister goed – dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes, en dan is die gelowiges wat reeds gesterf het, verlore.

Gemeente, sien u hoe dwaas dit is om in Christus te glo sonder om die opstanding te erken en te bely? Dan beteken dit ons glo net in ‘n Verlosser vir hierdie lewe – dan is Christus ons Verlosser van geboorte tot sterfte, maar niks meer nie. As dít die geval is, sê Paulus, dan is julle die ellendigste van alle mense. Maar nou, só vervolg Paulus in 1 Kor. 15:20, Christus is opgewek uit die dode! Dit is dan ook die tema van die verkondiging van die paasevangelie uit die evangelie volgens Lukas. 

Tema: Die Heer het waarlik opgestaan!

  1. Soek Hom op die regte plek
  2. Luister na sy woorde
  3. Kyk na sy tekens

1. Dit was Sondagoggend, nog baie vroeg, waarskynlik so ses uur se kant. Verskeie vroue is oppad na Jesus se graf. Dit is dieselfde vroue van hoofstuk 23:49 en 55, met nog ‘n paar ander daarby. Hierdie vroue het Jesus vanaf Galilea gevolg en Hom gedien – hieronder kan ons verstaan dat hulle die koste vir die lewensonderhoud, klere en onderdak van Jesus se reisgeselskap gedra het, en dus was hulle nou betrokke by die lewe en werk van die Here Jesus.

Maar by die kruis was daar nie veel wat hulle kon doen nie; ons lees in 23:49 dat hulle ver weg gestaan en alles gade geslaan het wat aan Jesus gedoen is; en ook daarna, toe Josef van Arimathea Jesus se liggaam in linne toegedraai en in die graf neergelê het, kon hulle nie veel meer doen as om op ‘n afstand te volg en te sien waar Jesus begrawe word nie. Maar op hierdie vroeë Sondagoggend kom daar verandering; die vroue hoef nie meer nutteloos toe te kyk nie, hulle begin weer voel dat hulle ingeskakel is, betrokke is. Hulle kom – met die speserye en salf wat hulle op Goeie Vrydag gekoop en voorberei het – na die graf om Jesus se liggaam daarmee te behandel, om sodoende die reuk van die dood so lank as moontlik weg te hou. Inderdaad, hulle voel hulleself nou weer baie nader aan Jesus as op Golgota, hulle kan nou weer iets vir Hom doen! 

Wanneer die vroue by die graf kom, vind hulle dat die steen van die graf afgerol is. Nou gemeente, ons kan onsself die graf waarin Jesus neergelê is die beste só voorstel dat daar eers ‘n soort voorportaal in die rots was, vanwaaruit daar dan een of meerdere openinge was na die eintlik grafkamer(s) waar die lyke neergelê is. Elkeen van hierdie grafkamers is toegemaak met behulp van ‘n swaar klip wat, indien nodig, weggerol kon word in ‘n soort nis. Die deur van die grafkamer waarin Jesus se liggaam neergelê is, het dus oopgestaan, en die liggaam van Jesus was maklik bereikbaar. Wanneer ons Markus se weergawe van hierdie gebeurtenis lees, sien ons dat dit juis iets was waaroor die vroue hulle bekommer het – hoe gaan ons daardie swaar steen weggerol kry? Wel, hierdie struikelblok was nou vir die vroue uit die weg geruim – hoe, weet hulle nie. By nader ondersoek blyk egter dat die liggaam van die Here Jesus nie meer in die grafkamer is nie. Die vroue het dus ingegaan en na sy liggaam gesoek, maar kon dit nie vind nie. Terwyl hulle egter hieroor in verleentheid is, staan daar skielik twee manne by hulle in blink klere. En hulle het baie bevrees geword en met hulle aangesigte na die aarde gebuig. 

Broers en susters, dit is belangrik om hier te let op die volgorde van die gebeure: eers kom die vroue by die graf, dan gaan hulle die graf binne en soek na die liggaam van Jesus, en ten slotte verskyn die engele aan hulle. Hierdie patroon vind ons, as ons goed lees, ook by Mattheus en Markus. Die engele is dus nie haastig om die vroue te keer nie; nee, die engele laat hulle eers ‘n volledig grafondersoek doen, voordat hulle hulself kenbaar maak. Hoekom? Wel, gemeente, sodat die vroue later kan verstaan en ervaar hoe dwaas hulle in feite was! Want hulle wás dwaas!

Hulle wou so graag betrokke wees by die Here Jesus, hulle het niks gehou van die gevoel van onbetrokkenheid wat hulle op Golgota en kort daarna gehad het nie. Nee, hulle wou – soos van ouds – die Here Jesus dien, selfs nadat Hy gesterf het. Dáárom het hulle speserye en salf gebring om die liggaam van die Here Jesus te salf. En in hierdie salwing van Jesus se liggaam kan ons sekerlik iets sien van hulle geloof in die opstanding van die liggaam, maar dit was by die vroue ‘n geloof wat gereken het dat Jesus op die jongste dag, saam met alle ander mense, uit die dood sou opstaan. Hulle het egter nie besef nie, dat as hierdie mens nie as eersteling uit die dood sou opstaan nie, hulle verwagting van die opstanding van die dooies in werklikheid ‘n ydele hoop was!  

En daarom, gemeente, kan ons in die optrede van die engele, nadat die vroue die hele grafkamer deursoek het, ‘n ligte bestraffing sien, ‘n bestraffing wat hulle vervolgens ook in woorde uitspreek: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies?” Wat doen julle hier by die versamelplek van die dooies? Ja, die vroue het baie nader aan Jesus gevoel noudat hulle weer iets vir Hom kon doen, selfs al was dit vir sy dooie liggaam… Maar in feite het hulle nog steeds net so “ver weg gestaan” as waarvan ons lees in hoofstuk 23:49. Naby die dooies was hulle in werklikheid ver van die Lewende!

Gemeente, ons hoef die geesdrif en oorgawe van die vroue aan die Here Jesus nie te betwyfel nie; daaroor het die engele hulle ook nie bestraf nie. Maar hulle word bestraf oor hulle dwaasheid om – in hulle ywer en geesdrif – die Lewende by die dooies te soek. Hulle het Jesus op die verkeerde plek gesoek! Hierdie gesoekery in die graf was misplaas. Hulle soek ‘n dooie, maar hulle moes eintlik die Lewende gesoek het, en daarvoor moet ‘n mens nie tussen die grafte wees nie.  

Broers en susters, hoe dikwels sien ons dit nie by die kinders van die Here nie: geesdrif, ywer om Hom te dien. Maar dikwels so misplaas… Ons geesdrif kan ons verblind oor waar Jesus te vinde is, ons ywer kan ons op die verkeerde plek laat soek, as ons nie mooi na Jesus se stem luister en op sy tekens let nie – hieroor meer in die tweede en derde punt. Paasfees, gemeente, is daarom nie die dag van geesdrif nie, maar wel van Geesgedrewenheid om Jesus Christus op die régte plek te soek. So dikwels soek ons tussen die grafte na die liggaam van ons Meester – Hy is dood, ja, maar ons wil Hom tog so graag dien! En let dan op hoe ons vol geesdrif betrokke raak, ons wil die werk klaarmaak wat Christus vanweë sy sterwe nie kon voltooi nie; so graag wil ons ‘n deel bydra – in ons eie lewe, maar ook in die wêreld. Dit is wat gebeur as jy ‘n dooie Meester dien: dan moet jy sy werk voorsit, dit waarvoor hy geveg het, word dan jou geveg; jy moet sy legende lewendig hou!

Maar gemeente, die werk is volbring, die sonde en die dood is oorwin. Goeie Vrydag moes uitloop op Paassondag; Christus het nie gesterf om dood te bly nie, maar om weer op te staan. Die Lewende is nie meer hier op aarde nie; inteendeel, die Gees wat Hy deur sy opstanding verdien en uitgestort het, rig ons oë op na die hemel waar Hy as eersteling die volle verlossing en die nuwe lewe bepleit vir almal wat Hom volg. Ons lewe lê nie tussen die grafte nie; waak daarom ook daarteen om – dikwels onbewustelik – ‘n dooie Meester te dien. Wie ‘n dooie Meester dien, soek in werklikheid vol geesdrif sy eie verlossing; maar wie die opgestane Here dien, vind in Hom die lewe, want Hy is die opstanding en die lewe. Wie in Hom glo, sal lewe al het hy ook gesterwe.

Ons word vervolgens opgeroep om na Jesus se woorde te luister. 

2. “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan.” Gemeente, deur die vroue só aan te spreek, veronderstel die engele eintlik dat die feit, dat Jesus uit die dood sou opstaan, bekend was. Hulle bring dit nie as iets nuuts nie; nee, die vroue kon uitgegaan het van die opstanding. En veral op hierdie dag, die derde dag ná die kruisiging. As die vroue en die dissipels mooi geluister het, dan kon hulle dit geweet het. As hulle maar net na die woorde van Jesus geluister het, dan kon hulle vooraf geweet het wat op daardie Paasmôre sou gebeur.

Die opstanding op die derde dag was, net soos die lyding en sterwe, immers al deur Jesus aangekondig toe Hy nog in Galilea was. Hierdie vroue, en ook sy dissipels, reis al vanaf Galilea saam met Hom; juis húlle moes geweet het dat die reis nie in die graf sou eindig nie. Gaan lees maar Jesus se woorde in Lukas 9:22: “… die Seun van die mens moet baie ly en verwerp word deur die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes en gedood word en op die derde dag opstaan.” Presies dieselfde vind ons ook in Mattheus en Markus se weergawes. Vanaf die begin was die gedagte van ‘n opstanding op die derde dag deel van sy lydensaankondigings. So vroeg as Johannes 2 hoor ons alreeds sy woorde aan die Jode: “Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig.”  

Maar, gemeente, in onbegrip het die leerlinge hierdie uitsprake langs hulle neergelê, sodat dit vir hulle ‘n geslote boek gebly het. Dit lees ons ook in Lukas 9: “Maar hulle het hierdie woord nie verstaan nie, en dit was vir hulle bedek, sodat hulle dit nie sou begryp nie; en hulle was bang om Hom iets te vra oor hierdie woord” (vers 45). Tog was hierdie woorde wel in hulle geheue, want as die engele die vroue daaraan herinner, dan onthou hulle dit weer. Hulle het dit dus gehoor, maar nie goed geluister en genoeg moeite daarmee gedoen nie. Dit is dieselfde onbegrip wat Jesus daartoe bring om vir die Emmausgangers te sê: “o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo…” (Luk. 24:25), en wat Hom in vers 44 van daardie selfde hoofstuk vir die apostels laat sê: “Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was…” 

Maar, broers en susters, die vroue en die dissipels het, in hulle gedagtes en gevolglik ook in hulle dade, gestop by die kruisiging en dood van hulle geliefde Meester. Verder as dit kon hulle nie dink nie. En dit is nie so vreemd nie – laat ons nie op die leerlinge neerkyk nie, laat ons nie neerbuigend van die dissipels en die vroue se onbegrip praat nie. Want vir ons menslike verstand is die dood die einde van die aardse lewe, vir ons menslike verstand eindig dit ook daar by die graf. Dit is logies dat hulle Jesus se liggaam daar by die graf gaan soek het. Ja, logies in menslike terme… Maar – en dit is die wonder, maar ook die groot moeite – Jesus se woorde deurbreek die menslike logika; die werklikheid wat in sy woorde vir ons geskets word, gaan verby enige iets wat ons onsself kan voorstel. Vir ons menslike redeneervermoë en begrip eindig die lewe in die graf, vir ons logika moes die engele eintlik gesê het: “Dit is mooi dat julle die dooie hier in sy graf die laaste eer kom bewys.” Maar dit is nie wat die engele sê nie; nee, “waarom soek julle die Lewende by die dooies? Onthou dan wat Hy vir julle gesê het!”

En dit is hoekom so baie mense moeite het om die opstanding van Jesus uit die dood te glo as feitlike gebeure; dit gaan eenvoudig hulle verstand te bowe. En omdat dit hulle verstand te bowe gaan, kon dit nie werklik gebeur het nie.  

Maar, gemeente, Jesus, God self dus, laat Hom nie bind deur ons begripsvermoë nie. Ons moet besef dat ons begrip en dít wat God sê en doen nie saamval nie; God doen dinge wat ver bo ons verstand uitgaan. God sê nie verniet in Jesaja 55 nie: “… my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.” God doen dinge wat nie menslik is nie, maar goddelik! God doen dinge wat slegs vir ons ‘n werklikheid gaan word as ons na sy wóórde luister en daardie woorde in geloof aanvaar.

Hierdie bybel, broers en susters, vertel vir ons dinge wat vele as ‘fantasie en onwerklik’ afmaak – dit is maar net die geloofservaring van die dissipels. Die satan verslaan talle deurdat hulle nie kan aanvaar wat hierdie boek ons leer nie – omdat hulle dit nie kan verstaan en verklaar nie. Selfs dié wat die naaste aan die Here Jesus was, het moeite gehad met die werklikheid van sy opstanding – hulle het Jesus se woorde daaroor langs hulle neergelê en dit het hulle ingehaal. Luister daarom na die woorde van die Here Jesus, want slegs op dié manier kom ons in voeling met die goddelike werklikheid van die opstanding. Luister in geloof – geloof wat nie altyd verstaan nie, wat nie altyd die volle omvang daarvan omvat nie, maar wat wel die werklikheid van wat gesê word, erken! Die Heer het waarlik opgestaan – hoe?, ek weet nie… Maar dát dit gebeur het omdat Hy so gesê het, dit glo ek vas. En daardeur is Jesus my Lewende Heer! Daardeur wórd Hy vir my die lewe.

Gemeente, dit wat Jesus gedoen het en steeds doen, stem nie altyd ooreen met my belewing van die werklikheid nie; Jesus se woorde val nie altyd saam met wat ek kan verstaan nie. En daarom vra dit geloof om werklik na sy woorde te luister. Luister en glo na wat Hy vir u sê, en ontvang dan die onmoontlike en onbegrypbare van Paasfees: lewe in oorvloed oor die grense van die dood heen. U ontvang nie die ewige lewe deur vol ywer en geesdrif ‘n dooie Christus te vereer nie; nee, u ontvang die lewe wanneer u, sonder om dit altyd te verstaan, eenvoudig na die stem luister van Hom wat opgestaan het uit die dood. U word getroos oor die dood van geliefdes wat in die Here geglo het – nie omdat u verder iets vir hulle kan doen nie, maar omdat die lewende Here gesê het dat elkeen wat in Hom sterwe, vandag alreeds lewe! Luister en glo, broers en susters – nou in die prediking, wanneer u persoonlik of in die gesin die bybel lees, wanneer julle saam in bybelstudieverenigings die Woord bestudeer, of waar ook al die bybel oopgaan. Luister en glo – dit is u lewe saam met Christus. 

Ons word ten slotte opgeroep om na sy tekens te kyk.  

3. Behalwe Jesus se woorde was daar nóg dinge op daardie Sondagmôre wat die vroue en die dissipels aan die dink moes gesit het. Daar was duidelike tekens wat hulle moes laat besef het dat hier iets besonders aan die gang is.

Immers, wie het daardie steen voor die graf weggerol? Die vroue was tereg bekommerd oor wie die steen vir hulle sou wegrol, want dit was nog vroeg; daar sou nog niemand anders by die graf wees nie, niemand anders om hulle met die steen te help nie. En toe hulle daar kom, was die steen alreeds weggerol… Watter betekenis het hierdie ontdekking wat die vroue gemaak het? Moes hierdie ontdekking hulle nie aan die dink gesit het nie? Want wie sou tog hierdie steen weggerol het? Wie het die graf in daardie vroeë ure van Paassondag oopgemaak? God natuurlik! Paasfees het in die hemel begin, broers en susters. Die Here het engele na die aarde gestuur om sy Seun uit die graf te laat opstaan. Ons moet, saam met die vroue en die dissipels, baie goed let op die deur van die hemel wat op daardie Paasoggend oopgegaan het. Ja, op Vrydagaand het die deur van die graf agter Jesus toegeval; daardie steen, wat voor die graf gerol is, was die einde van alle menslike moontlikhede. En ons hoor dit net hierna in die woorde van die Emmausgangers: “En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het” (vers 21) – ons hoor in hierdie woorde ‘n soort moedeloosheid; ja, ons het gehoop, maar helaas… Maar die deur van die hemel het oopgegaan en daarna – en daarom – ook die deur van die graf! Goddelike werk in die vroeë oggendure… ‘n Teken uit die hemel! 

En wat van dít wat Petrus gesien het? Die vroue het naamlik die elf en al die ander gaan vertel wat hulle by die graf meegemaak het. Die meeste glo nie werklik wat hulle hoor nie; dit klink vir hulle maar na onsinnige praatjies. Tog word Petrus effens onrustig; hy hardloop daarom na die graf om die dooie by die dooies te gaan soek. En toe hy neerbuk, sien hy die doeke alleen lê. Gemeente, ons moet goed besef wat Petrus – en volgens die vierde evangelie was Johannes by hom – wat hulle daar in die grafkamer gesien het. Sommige meen dat hulle die linnedoeke, waarmee die lyk toegedraai is, daar sien lê het, miskien netjies opgevou daar in ‘n hoekie. Maar, dit sou nog nie iets baie besonders gewees het nie.

Nee, ons moet verstaan dat die linnedoeke met salf en speserye behandel is en daarna om die lyk gedraai is; so het dit dan die vorm van die liggaam aangeneem en na ‘n rukkie styf geword, amper soos ‘n kokon waarin die liggaam gelê het. Petrus sien nou hierdie liggaamsvormige kokon, maar – en dit vertel Johannes se evangelie ons – die sweetdoek wat oor die kop gedrapeer was, het apart gelê. Dit is wat Lukas bedoel wanneer hy sê dat Petrus die doeke – die lykkokon dus – alleen sien lê het. U moet u self dit probeer voorstel: dit is amper asof daar niks gebeur het nie; die linne kokon is nog intakt, die sweetdoek is nog in vorm. Maar die geheel is uitmekaar geskuif, en die kokon is leeg… Met hierdie gewaarwording word die moontlikheid van grafroof – dus, die verhaal wat deur die Jode versprei is – onmiddellik uitgeskakel. Niemand kan immers ‘n lyk uit die kokon en die sweetdoek haal, sonder om dit te skeur of te beskadig nie. Nee, hierdie lykkleed is die teken van ‘n Godswonder. Jesus het feitlik en liggaamlik opgestaan. Daar is meer as net ‘n leë graf: daar is ‘n leë lykkleed!  

Gemeente, twee duidelike tekens wat as bevestiging van Jesus se woorde moes dien dat Hy werklik op daardie dag uit die dood sou opstaan. As sy leerlinge dit maar net raakgesien het…

Broers en susters, hierdie tekens is ook vir ons gegee as bevestiging van die woorde van Christus. Gaan lees maar u bybel – dit is vol van die tekens wat die woord begelei. Laat dit as versterking dien van ons klein geloof, ons geloof wat so dikwels maar weer twyfel en onseker word oor die opstanding van Jesus Christus, ons hardkoppigheid wat so dikwels nie aan die woorde van die Here wil vashou nie. Laat die tekens ons bevestig in ons oortuiging dat die Here werklik opgestaan het, dat sy opstanding ook ons salige opstanding en dié van ons geliefdes in die vooruitsig stel. Goddelike tekens, ja, maar daarom nog nie onmoontlike tekens nie.

Gemeente, net hierna – aan die einde van Lukas 24 – lê Jesus al hierdie dinge vir sy dissipels uit. Hy open hulle verstand om die Skrifte te verstaan. En dan, nadat Hy dit gedoen het, stuur Hy hulle uit om getuies van al hierdie dinge te wees. Laat ook ons lewende getuies wees van die wonder van Paasfees. Nie passiespele en paaseiers nie, maar die getuienis van God se kinders wat nie kan stilbly nie: “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.”

Amen.  

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 69:12-14
Wetslesing
Sing Ps. 32:3, 4 en 6
Lees: Lukas 24:1-12
Kollekte
Sing Ps. 21:3, 4 en 9
Gebed
Teks: Lukas 24:5b-7
Preek
Amenlied Skr. 39:1, 4 en 5
Gebed
Slotsang Ps. 118:12-14
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)