Die vrederyk kom slegs via geloof in Jesus Christus!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2007-04-01
Text: 
Matthéüs 5:38-42
Preek Inhoud: 

Matthéüs 5:38-42

Ds HH van Alten - Sondag 1 April 2007

Lees: Jesaja 2:1-4
Teks: Matthéüs 5:38-42
Sing: Sien liturgie

Tema: Die vrederyk kom slegs via geloof in Jesus Christus!

  1. God handhaaf die reg;
  2. maar Hy eis wel geweldlose geloof;
  3. en tog kan ons nie sê dat die kerk pasifisme moet voorstaan nie.

Gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Vanaand wil ons na nog ‘n “julle het gehoor dat gesê is…, maar Ek sê vir julle”-uitspraak van Jesus luister. Een wat, van al hierdie uitsprake van Jesus, sekerlik die meeste gebruik en ook misbruik word. “Oog vir oog, en tand vir tand”, “as iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe”, en “elkeen wat van jou een myl afdwing, loop met hom twee myl saam” is uitsprake wat selfs onder nie-gelowiges algemeen bekend is. Meer nog, as daar een punt is, waar die wêreld met die onderrig van die Skrif saamstem, dan is dit hierdie punt.

Volgens baie in die wêreld het dit hoogtyd geword dat die Ou Testamentiese houding van vers 38 – ‘oog vir oog, en tand vir tand’ – uiteindelik ‘n slag deurbreek word. Daarom steun hulle Jesus in sy boodskap van lyding en geweldloosheid. Hoeveel vredesbewegings is daar nie wat hierdie tekste gebruik om die bewapeningswedloop te deurbreek nie? Die bergrede word op hierdie punt gebruik teen die kernbom.  

En gemeente, natuurlik het Jesus gekom om vrede op aarde te bring. Jesaja profeteer alreeds van die toekomstige vrederyk: “… en hulle sal van hulle swaarde pikke smee en van hulle spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.” En daardie nag in Betlehem het die engele nie verniet gesing nie: “vrede op aarde in die mense ‘n welbehae.” Natuurlik bring Jesus vrede, maar dit is slegs ‘n vrederyk wat verkry word in geloof aan Hom en in gehoorsaamheid aan sy gebooie. Mense bereik nie vrede met mekaar wanneer hulle geen vrede met God het nie; volke word nie met mekaar versoen wanneer hulle nie eers met hulle Skepper versoen is nie. Daarom het Jesus mens geword om te ly en te sterf vir ons sondes; die weg na die vrederyk loop slegs via Hom! 

Tema: Die vrederyk kom slegs via geloof in Jesus Christus!

  1. God handhaaf die reg;
  2. maar Hy eis wel geweldlose geloof;
  3. en tog kan ons nie sê dat die kerk pasifisme moet voorstaan nie.

1. Jesus begin hierdie deel van sy onderrig met ‘n woord wat tot die mense van die ou tyd gespreek is: oog vir oog en tand vir tand. U herinner u dat ons verlede week gesê het dat dit hier nie gaan oor die Fariseërs en skrifgeleerdes se interpretasie van die wet nie, maar eenvoudig oor die wet soos die HERE dit aan sy volk by die Sinai afgekondig het. Jesus soek ook nie daarna om hierdie wette omver te gooi nie, maar om dit te vervul, om die volle omvang en betekenis daarvan na vore te bring.

So is dit dan ook met sy uitspraak: oog vir oog en tand vir tand, wat ons net na die afkondiging van die tien gebooie in Exodus 21:24 teëkom. Die volledige uitspraak lui: “Maar is daar letsel, dan moet jy gee lewe vir lewe, oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet, brandplek vir brandplek, wond vir wond, kwesplek vir kwesplek.” Ons vind dieselfde wet ook weer in Levitikus 24 en Deuteronomium 19.  

Hierdie voorskrif van die Here in die Ou Testament mag vir ons miskien hard in die ore klink. Maar, gemeente, as ons mooi gaan kyk na die doel van die Here met hierdie wet, dan sal ons agterkom dat dit eintlik ‘n milde en billike voorskrif is. Want – en dit is belangrik om raak te sien – hierdie voorskrif staan téénoor geweld; geweld is hard, geweld is onbillik… Gaan kyk maar na Kain wat uit woede sy broer Abel doodslaan; en luister na Lameg wat teenoor sy vroue spog: “Voorwaar, ek slaan ‘n man dood wat my wond en ‘n seun wat my kwes” (Gen. 4:23). Sien u, geweld is ongebalanseerd en redeloos – Lameg wil iemand wat hom maar net wond, al doodslaan; en erger nog: ‘n jong seun wat hom ‘n klap gee, wil hy doodmaak.

Téénoor sulke soort van geweld is hierdie voorskrif van ‘oog vir oog en tand vir tand’ ‘n billike regsreël, ‘n regsreël waarin redelose bloedwraak en willekeurige vergelding vervang word met eerlike herstel van die reg. Want met hierdie voorskrif sorg die Here daarvoor dat die straf in verhouding staan tot die omvang van die oortreding. Dít is regverdig: om elke oortreding volgens sy eie gewig te straf. Dit is iets wat alle ons ouers en onderwysers maar in gedagte kan hou – straf ooreenkomstig die oortreding. Om – soos Lameg – ‘n seun, wat jou klap, te straf deur hom dood te slaan, is nie regverdig nie; jy sou hom hoogstens kon straf met ‘n klap. En, broers en susters, om hierdie Lameg-mentaliteit wat in elkeen van ons sit, in bedwang te hou, gee die Here vir sy volk die voorskrif van ‘oog vir oog en tand vir tand’. Die volk kon dus straf, maar altyd billik, altyd in ooreenstemming met die gewig van die oortreding. En gemeente, as ons daaroor nadink dan sien ons dat hierdie voorskrif tot vandag tot die aanspreeklikheidsreg beheer. Die wetlike aanspreeklikheid wat ons in ons tyd ken is eintlik niks anders nie as ‘n uitwerking van hierdie billike reël.  

Skaf Jesus nou hierdie voorskrif in die bergrede af? Talle vredesbewegings in hierdie wêreld dink so, en hulle ondersteun Jesus in sy afskaffing van hierdie ‘primitiewe’ Ou Testamentiese gebod van God. Gaan kyk maar op die internet hoe dikwels vredesbewegings van hierdie en die volgende verse in Mattheus 5 gebruik maak – nie meer oog vir oog en tand vir tand nie, sê hulle, maar lydsaamheid, draai die ander wang, loop twee myl saam… Maar gemeente, dit is nie wat Jesus hier doen nie. Jesus skaf nie hierdie voorskrif van sy Vader af nie. Vanweë die geweld wat deur die sonde die wêreld binnegedring het, leer God aan die mense om dit deur reg en geregtigheid terug te dring, in bedwang te hou. En dit bly ook onder Jesus se heerskappy van krag!  

Selfs in die eindoordeel waar Jesus die Regter gaan wees, volgens ons belydenis (kyk maar na die Apostoliese Geloofsbelydenis en ook v/a 52 van die Kategismus), selfs in die eindoordeel bly die wysheid van hierdie Ou Testamentiese regsreël staan. In die laaste oordeel sal elke mens naamlik kry wat hom toekom, elkeen sal ontvang wat in verhouding staan tot sy lewe en sy lewenswandel. Die Regter sal regverdig oordeel op grond van elkeen se werke. Lees maar Openbaring 20:12 en 13: “En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke.” Sien u, die Regter bars nie los in woede nie, Hy oordeel nie in ‘n oomblik van blinde wraaksug nie; nee, elke mens word voor die regverdige Regter gedaag – soos wat die Skrif op verskeie plekke van die Here praat – en hy ontvang wat hom toekom. Selfs in die eindoordeel sal dit wees: ‘oog vir oog en tand vir tand’. In die koninkryk van die hemele, waarvan Christus die Wetgewer is, bly die inhoud en wysheid van hierdie Ou Testamentiese regsreël dus van krag! 

Maar, broers en susters, wie kan dán gered word? As God, ook in die eindoordeel, die reg handhaaf, vir wie sal daar dan uitkoms wees? Voordat ons moedeloos en bang word, gemeente, kom ons gaan bietjie terug na Jesus, na sy lewe en sterwe. Hy handhaaf immers hierdie voorskrif van God in die bergrede – dit het ons sopas gesien – maar Hy doen dit tot ons behoud!

Want uiteindelik sterf Hy, vergiet Hy sy bloed aan die kruis, as betaling vir die onbetaalbare skuld van die mens – Hy ly, tydens sy hele lewe, maar veral aan die einde daarvan, Hy is van God verlate, Hy dra die volle las van die toorn van God oor ons sondes. Broers en susters, Hy ontvang van God die ‘oog vir oog en tand vir tand’ wat God se reg eintlik van óns geëis het. Ons, u en ek, het eintlik die helse straf verdien wat met ons sondes ooreenstem, ons het eintlik die straf verdien wat pas by ons oortreding – maar Hy het dit gedra. Die ‘oog vir oog en tand vir tand’ het Jesus in ons plek in die godverlatenheid van Gologota gedra!  

Dink daaraan as dit weer Goeie Vrydag is, en dank God dat Hy sy reg handhaaf, dank God vir die voorskrif van ‘oog vir oog en tand vir tand’, en dank Jesus Christus daarvoor dat Hy as Wetgewer van die hemelse Koninkryk hierdie voorskrif nie afskaf nie, maar onverswak handhaaf. God handhaaf sy reg, maar daarin blyk ook sy groot barmhartigheid oor ons, sy kinders. Want daardeur is daar vir ons behoud, daardeur hoef ons nie ewig onder die toorn van God te vergaan nie, maar kan ons weer lewe!

Ons sien nou, tweedens, hoe God wil hê dat ons, as gelowiges, sal lewe, nl. geweldloos.

2. Ons het reeds hierbo gesê dat Jesus die voorskrif ‘oog vir oog en tand vir tand’ nie ongeldig wil verklaar nie, en tog sukkel ons om hierdie voorskrif in ooreenstemming te bring met wat Jesus vervolgens in vers 39 sê: “Maar Ek sê vir julle dat julle ‘n slegte mens nie moet weerstaan nie…” Aan die een kant handhaaf Jesus dus die reg, maar aan die ander kant vra Hy van ons tog ‘n soort geweldloosheid.

Gemeente, om dit goed te verstaan moet ons iets sê oor die vertaling van die woorde ‘’n slegte mens’. Altans, so is dit in ons vertaling vertaal. Maar letterlik staan daar in die Grieks ‘bose’. Hierdie ‘bose’ kan natuurlik dui op ‘n slegte mens, maar dan lees die res van die sin nie vlot nie: moenie ‘n slegte mens weerstaan nie; maar as iemand… Wie is die ‘iemand’? Nog steeds die slegte mens? Maar hoekom sê die Here Jesus dit dan nie eenvoudig nie? Nee, gemeente, by die woordjie ‘bose’ kan ons die beste dink aan die satan, die groot teenstander van God se vrederyk. En dit pas ook beter in die konteks – immers, net hiervoor in vers 37 was daar ook al ‘n verwysing na die Bose, en net hierna in hoofstuk 6:13 vind ons weer ‘n verwysing na die Bose in die sesde bede van die Onse Vader (“lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose”). Dus, ons kan vers 39 die beste soos volg vertaal: “Maar Ek sê vir julle dat julle die Bose [met ‘n hoofletter] nie moet weerstaan nie.

Maar beteken dit dan dat ons nie teen die satan en die sonde moet stry nie? Dit is wel waartoe die Skrif ons oproep; lees maar Jakobus 4:7: “weerstaan die duiwel…” Gemeente, in Jakobus gaan dit oor die weerstand teen die kwade, die sondige, waartoe die satan ons wil verlei. In Mattheus 5:39 gaan dit egter oor die onreg wat die satan ons – dikwels via mense – aandoen. En as dít die geval is, dán geld Jesus se opdrag: moenie jou verset nie, moenie op jou regte staan nie (die woord wat hier met ‘weerstaan’ vertaal is, is ‘n wetlike term wat beteken om iemand by die regter aan te kla of getuienis teen iemand te lewer). In die geval van onreg wat die Bose die kinders van God aandoen, in hierdie besondere geval moet die reël ‘oog vir oog en tand vir tand’ nie toegepas word nie. God se voorskrif word dus nie afgeskaf nie, maar is nie geldig in die besondere geval van die onderdrukking deur die Bose nie.  

En, gemeente, die Bose het baie slinkse maniere waarop hy die kinders van die Here onderdruk, hy het baie gewillige onderdane wat maar al te graag die lewe van God se kinders moeilik maak. Jesus gee daarom ook ‘n aantal voorbeelde waarin die volle aksent lê op die bereidheid om onreg te verdra ter wille van die geloof.

  • Die eerste voorbeeld: “… as iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe” – Jesus teken vir ons hier ‘n man wat met die agterkant van die hand op die regterwang geslaan word. So ‘n daad was in daardie tyd meer ‘n belediging as ‘n geweldsmisdaad, maar wel ‘n belediging waarvoor jy iemand hof toe kon vat – soos wat ons vandag iemand vir laster of naamskending kan aankla. En die boete op hierdie oortreding was meer as ‘n gemiddelde man se jaarlikse salaris. Maar in plaas van om op jou regte te staan en die persoon, wat jou beledig het, hof toe te vat, roep Jesus ons op om ook die ander wang na hom te draai. Bedoel Jesus dat ons onsself doelbewus meer lyding op die hals moet haal? Nee, Jesus wys vir ons dat om op ons regte te staan en die ander te dwing om ons in ons waardigheid te herstel, nie die christelike manier is om op lyding ter wille van die evangelie te reageer nie. Laat jou reaksie op belediging welwillend wees, net soos wat God se reaksie op ons sondige belediging welwillend en genadig was. Só wen jy jou naaste vir Christus.
  • ‘n Tweede voorbeeld: “En hy wat met jou na die gereg wil gaan en jou onderkleed wil neem, laat hom ook die bo-kleed kry” – hier teken Jesus vir ons ‘n man wat vir sy onderkleed gedagvaar word. Gee dan ook jou bo-kleed, sê Jesus. Ons moet onthou dat die bo-kleed vir die Jood amper ‘n heilige besitting was. Ons lees in Exodus 22:26 dat as jy ooit jou naaste se gewaad – dit dui op sy bo-kleed – as pand moes neem, jy dit voor sononder aan hom moes teruggee, “want dit is sy enigste bedekking, dit is die bedekking vir sy vel. Waarin moet hy anders slaap?” Die Here sorg dus deur wetgewing daarvoor dat die Israeliet nooit sonder sy bo-kleed gaan slaap het nie; dit het as beskutting gedien deur die koue winternagte. En dáárvan sê Jesus nou: as iemand jou onderkleed wil neem, gee hom ook die bo-kleed. Wees bereid om ten volle benadeel te word by enige inbeslagneming van jou besittings.
  • ‘n Derde voorbeeld: “En elkeen wat van jou een myl afdwing, loop met hom twee myl saam” – die Romeinse leër wat Palestina beheer het, het die reg gehad om mense te dwing om hulle te help. So is Simon van Cirene gedwing om Jesus se kruis te dra (Mk. 15:21). Die Jode het hierdie praktyk gehaat want daardeur is openlik gedemonstreer dat hulle ‘n onderdrukte nasie was. Maar Jesus gebied die skare om, wanneer hulle die verpligte duisend treë wat deur Romeinse regulasies vasgestel is, geloop het, die las nóg ‘n duisend treë te dra. Geen soldaat kon dit afdwing nie; nee, doen dit vrywillig! So wys jy dat jy aan ‘n ander heerser as die keiser behoort, en aan ‘n Koninkryk wat totaal ander soort wette het!
  • ‘n Laaste voorbeeld: “Gee aan hom wat jou iets vra, en wys hom nie af wat van jou wil leen nie” – hier gaan dit nie eenvoudig oor sorg vir die armes nie, maar oor mense wat met verkeerde motiewe jou wil uitsuig. En met die oog op sulke situasies roep Jesus op: Gee! Die woorde van Hebreërs 10:34 is hier baie gepas: “… julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself ‘n beter en blywende besitting in die hemele het.”

Gemeente, in al vier hierdie voorbeelde is die reël duidelik: moenie jouself teen die lyding verset met behulp van die regter nie, maar dra die onreg vrywillig. Kies hier vir lyding en geweldloosheid. Ja, tussen mense onderling en tussen volke bly die plig om op te kom vir die reg en die geweld billik te straf, maar in die stryd van Christus se kerk teen die bose geld hierdie reël nie. Wanneer die Bose ons onderdruk, wanneer hy deur sondige mense die lewe vir God se kinders moeilik maak, wanneer hy ons laat vervolg en ons laat spot, dan sê ons as kinders van die Here nie: “Oog vir oog en tand vir tand – julle ontvang dieselfde as wat julle ons aangedoen het” nie. Ons is nie Jode of Moslems wat as gevolg van onreg ‘n heilige oorlog begin nie. Nee, op hierdie punt gaan die kerk van Christus die pad van vervolging, diskriminasie, dwangarbeid en martelaarsbloed: “salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.”

En hoekom, gemeente? Hoekom ‘n geweldlose geloof? Wel, het u al ooit ‘n generaal gesien wat sy troepe beveel het om hulle wapens te laat sak voordat die stryd beslis is? Nee, eers wanneer die oorwinning behaal is, dán kan hulle die wapens laat sak. As Jesus dus sê dat ons geweldloos moet glo, dan is dit blykbaar veilig genoeg om die wapens te laat sak, en te volstaan met lyding. Hy het die bose oorwin. Deur ons bereidheid tot lyding lê ons getuienis af van ons vaste oortuiging dat Christus die oorwinning behaal het. Die poorte van die doderyk sal die kerk en God se kinders nie oorweldig nie. Gemeente, gaan pas hierdie reël ook toe in u lewe – ons gaan nie koninkryk van die hemele binne met geweld en hofsake nie, ons is nie salig wanneer ons ons ‘man’ kan staan nie. Nee, salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Deur lyding tot heerlikheid, broers en susters, en verbly u dan dat u waardig geag is om vir sy Naam oneer te ly (Hand. 5:41).

Ten slotte: tog kan ons nie sê dat die kerk pasifisme moet voorstaan nie. 

3. Is dit nou alles rede om te sê dat die kerk pasifisties moet wees, dat die kerk in alle gevalle oorlog moet teenstaan? Beteken dit dat geen christen in die weermag kan dien nie? Let wel, ek sê daarmee nie dat die kérk oorlog moet gaan voer nie; as die kerk op die punt kom waar sy begin om geldelike steun te verleen aan vryheidsbewegings sodat hulle daarmee wapens kan koop, dan is dit sonde! Nee, die kerk leun nie op wapens nie, sy gaan die pad van lydsaamheid, gewillig en met vreugde, sy bou op haar enigste Rots, Jesus Christus.

Maar dit beteken nog nie dat die kerk ook elke oorlog sonde hoef te noem nie, en dit beteken ook nie dat ‘n christen nie in die weermag kan dien nie. Immers, tussen mense en volke onderling moet die reg gehandhaaf word, tussen mense en volke onderling geld nog steeds oog vir oog en tand vir tand, selfs al moet dit met die wapen gebeur. Daarom bid ons ook vir die owerheid wat die swaardmag van God ontvang het om nasionaal en internasionaal gevare af te weer en veiligheid te verseker. En ons bid ook vir die regters en regstelsel van ons land – dat God mag gee dat reg en geregtigheid mag heers. Laat ons nie, soos pasifiste vandag, sê dat elke oorlog per definisie ook sonde is nie.  

Maar gemeente, intussen weet ons dat ware vrede en veiligheid, dat goddelike reg en geregtigheid, eers sal heers wanneer hierdie wêreld oorgegaan het in die vrederyk van God. In daardie ryk sal die moordenaars geen plek hê nie, hulle sal daar uitgewerp word. Hier op aarde soek ons na handhawing van die reg vir mense en volke, want dit maak die aarde leefbaar. Maar eendag sal ons lewe waar die volle vrede en ewige geregtigheid sal heers. Laat ons daarvoor bly bid, en laat ons intussen lewe soos mense wat nie ons reg hier op aarde soek nie, maar wat weet dat ons reg in die hemel is. En dan mag ons saam met Paulus sê, in 2 Timotheus 4:8: “… vir my is weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.” Dan sal ons saam as konings heers oor die nuwe aarde, nie met swaarde en spiese nie, maar met pikke en snoeimesse, besig om te bewoon en te bewerk, besig om druiwe te verbou, die vrug van die wynstok wat ons saam met ons Heiland sal geniet aan die bruilofsmaal van die Lam.

Amen 

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 99:1, 3 en 4
Gebed
Lees: Jesaja 2:1-4
Teks: Matt. 5:38-42
Sing Skr. 16:7-10
Preek
Amenlied Ps. 75:2, 3, 4 en 6
Gebed
Belydenis van geloof
Kollekte
Slotsang Skr. 8:1 en 2
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)