Die ewige heerlikheid gee betekenis aan ons lewe vandag, en ons lewe vandag laat ons uitsien na die ewige heerlikheid!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2007-03-25
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 22
Reference: 
HK 22-0
Preek Inhoud: 

Sondag 22

Ds HH van Alten - Sondag 25 Maart 2007

Lees: 2 Samuel 12:16-23
      2 Korinthiërs 4:7-5:10
Teks: Sondag 22 HK
Sing: Sien liturgie

Tema: die ewige heerlikheid gee betekenis aan ons lewe vandag, en ons lewe vandag laat ons uitsien na die ewige heerlikheid!

  1. Christus gee, in ons doodsbestaan, perspektief op die ewige heerlikheid
  2. Christus gee, in ons tentwoning, die versekering van die hemelse huis
  3. Christus gee, hier op aarde, hoop op die lewe by God

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

In hulle verduideliking van die laaste twee artikels van die Apostoliese Geloofsbelydenis soek die opstellers van die Kategismus voortdurend daarna om liggaam en gees, die liggaamlike en die geestelike, in nou verband met mekaar te sien, en verset hulle hul teen die beklemtoning van een van die twee ten koste van die ander. Dit kan naamlik maklik gebeur, en het ook al in die geskiedenis van die kerk gebeur, dat óf die liggaamlike óf die geestelike oorbeklemtoon is.

Aan die een kant is daar die gevaar van ‘n sekere oorgeestelikheid wat slegs oog het vir die siel. Hierdie eensydigheid meen dat Christus slegs gekom het om die siel salig te maak. Vir die liggaam, en in breër sin vir die stoflike lewe, het Christus eintlik geen betekenis nie. Vir die Koningskap van Christus op elke terrein van die lewe is daar weinig oog.

Aan die ander kant is daar die gevaar dat die vlees ‘n allesbeheersende rol begin speel. Die vlees het dan in alles die laaste woord; vir hierdie mense gaan dit oor niks anders as voedsel en klere, en hulle kla oor niks anders as die duur tye en die hoë belastings nie. Oor die geestelike dinge en die geestelike nood van hierdie wêreld kan hulle nie werklik saampraat nie. Dit is slegs die vlees wat praat.

Daarteenoor wys die Kategismus op pragtige wyse dat hierdie twee bymekaar behoort: nie alleen my siel nie, maar ook hierdie liggaam van my! Immers, na liggaam en siel is die mens beeld van God. En ons het ook reeds in Sondag 1 bely dat ek met ‘liggaam en siel’ die eiendom van Jesus Christus is; Jesus Christus sorg daarom ook vir sy hele eiendom! Vir die volledige mens gee Hy vandag reeds uitsig op ‘n lewe in heerlikheid.

Tema: die ewige heerlikheid gee betekenis aan ons lewe vandag, en ons lewe vandag laat ons uitsien na die ewige heerlikheid!

  1. Christus gee, in ons doodsbestaan, perspektief op die ewige heerlikheid
  2. Christus gee, in ons tentwoning, die versekering van die hemelse huis
  3. Christus gee, hier op aarde, hoop op die lewe by God

1. Gemeente, u ken die verhaal – van Dawid en Batseba, van die man na God se hart wat owerspel pleeg met die vrou van ‘n ander, en wat daarvoor sorg dat Uria, Batseba se man, in die oorlog vermoor word. ‘n Swart bladsy in die lewe van koning Dawid. Die vervolg op hierdie verval is minder bekend, maar daarom nie minder belangrik nie. Want Batseba word swanger en daar kom ‘n kind, ‘n seun. Maar omdat hierdie ding verkeerd was in die oë van die Here, stuur Hy vervolgens sy profeet Natan om Dawid van sy oortreding bewus te maak. Dawid se berou, nadat hy sy oortreding ingesien het, bring vir Hom byna oombliklik vergifnis by die Here, maar – so lees ons in vers 14 – tog sal die kind sterwe omdat die vyande van die Here deur hierdie saak aanleiding gekry het om grootliks te laster. En vervolgens word die kind ook ernstig siek.

En, gemeente, dan is dit baie opvallend om te sien hoe Dawid reageer op die siekte en vervolgens ook op die dood van die seuntjie. Vir die sewe dae van die seuntjie se siekte wou Dawid niks eet nie en het hy die hele tyd net op die grond gelê. Sy dienaars het nog probeer om hom sover te kry dat hy sou opstaan en saam met hulle eet, maar hy wou nie. En wanneer die kind dan uiteindelik sterf, en die dienaars hierdie nuus aan Dawid moet gaan oordra, is hulle doodsbenoud om dit te doen. As Dawid al só gereageer het terwyl die kind nog gelewe het, hoe gaan hy dan nie reageer wanneer hy weet dat die kind dood is nie?! Wanneer Dawid hulle benoudheid opmerk en reguit vra of die kind dood is, dan moet hulle antwoord: “Hy is dood”.  

Maar in plaas daarvan dat Dawid se geween en rou in intensiteit toeneem, gebeur presies die teenoorgestelde. Hy het van die grond af opgestaan, hom gewas en gesalf en ander klere aangetrek en in die huis van die Here gegaan en aanbid. Daarop het hy in sy huis gekom en gevra dat hulle brood aan hom moet voorsit; en hy het geëet (vers 20). Die dienaars is stomverbaas, en vra dan ook van Dawid ‘n verklaring vir sy optrede. Dawid se antwoord is, om die minste te sê, opmerklik: terwyl die kind gelewe het, het hy gevas, want hy het gehoop dat die Here hom genadig sou wees. Maar toe die kind gesterf het, was daar geen rede meer om te vas nie. En dan lees ons in vers 23: “Sal ek hom nog kan terugbring? Ek gaan na hom, maar hy sal na my nie terugkeer nie.” Gemeente, Dawid het geweet dat ook hy eendag sou sterwe en dan sou hy teregkom waar die kind ook was, maar hy kan die kind nie terugbring na hom toe nie. Daar is dus ‘n brug van die lewe na die dood, mense beweeg voortdurend oor hierdie brug; maar dit is eenrigting-verkeer, daar is geen verkeer van daardie kant af hierheen nie. Wie die oorkant bereik het, kom nie meer terug nie. Die lewendes word wel by die dooies versamel, maar die dooies keer nie weer terug na die lewendes nie.  

Gemeente, dit was Dawid, en hy was heeltemal reg. Dawid het kans gesien om van hier na daar te kom, die pad van die lewe na die dood lê oop. Maar andersom? Nee, daar is nie ‘n pad uit die dood na die lewe nie. Die dood is die groot ontmoetingsplek, daar kom ons almal uiteindelik tereg. Maar, broers en susters, hoeveel meer is dan ons Here Jesus Christus in sy opstanding; Hy bewys Homself as Dawid se meerdere. Hy kom met sy lewe in ons doodsbestaan in, en slaan deur sy werk aan die kruis ‘n brug vanuit die dood na die lewe! Hy kom roep dit uit: die dood is nie die groot ontmoetingsplek nie, maar die lewe is die plek waar God ons bymekaar wil bring.

En dit is wat Paulus ook getuig in 2 Korinthiërs 4:14: “Want ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek en saam met julle voor Hom sal stel.” En dan sê Paulus dit nadat hy sopas ‘n opsomming gegee het van die liggaamlike moeite en pyn wat hulle moet verduur as getuies van die evangelie: hulle word verdruk, hulle is verleë, hulle word vervolg, hulle word neergewerp. Ons weet vanuit sy lewe dat Paulus nie oordryf nie; hoe dikwels het hy nie die dood in die gesig gestaar deur vervolging nie, hoe het hy nie die doodsbestaan aan sy eie liggaam gevoel nie… Maar dan weet Paulus dat, deur Christus, daar ‘n pad gekom het vanuit die doodsbestaan na die ewige heerlikheid waarvan hy in vers 17 praat.  

En gemeente, dít is nou ons enigste troos! Want die dood – dit bly ‘n groot donkerte; dit wat ons van die dood sien – nee, daar is geen glans aan die dood nie. Die dood kan so skielik kom; dit kan so afgryslik wees, soos ons so dikwels in ons land sien. So dikwels is afskeid nie meer moontlik nie. En ook al sterf iemand in goeie ouderdom, dan nog is daar geen glans aan die dood nie. En tóg skyn daar vir ons in elke sterwe van God se kinders die glans van die deurgang, die lig van die pad wat Christus gebaan het. As almal huiwer vir die dood, dan is daar vir die gelowige die troos van Sondag 22: die pad van die dood na die lewe is oopgebreek, my siel sal na hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem word. En dan maak dit nie saak hoe ons sterf nie – of dit nou is deur ‘n hartaanval, of deur ‘n koeël, of deur ‘n motorongeluk. Ons word, as kinders van God, versamel – nee, nie in die dood nie, maar in die ryk van die lewe! Ook al het óns nie kans gekry om geliefdes by hulle dood te groet nie, weet verseker dat niemand die welkomsgroet sal kan stilmaak nie wat hulle in ewige heerlikheid sal ontvang nie.

Broers en susters, leef soos Paulus en die ander apostels vanuit hierdie troos wat ons in staat stel om deur ons omstandighede heen te kyk na die ewige heerlikheid: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie.” Wat in hierdie doodsbestaan ook al oor ons heen kan kom, Christus leef, en ons in Hom. En daarom, soos Paulus in verse 16 en 17 sê, gee ons nie moed op nie; al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word ons innerlike mens dag ná dag vernuwe. Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende gewig van heerlikheid! Ons en ons geliefdes wat in die Here sterwe, word nie in die dood versamel nie, maar by Hom wat die opstanding en die lewe is!

Kom ons sing nou eers saam oor hierdie perspektief uit Psalm 16:5.

Ons let vervolgens daarop dat Christus, terwyl ons nog in ons tentwoning is, aan ons die versekering van die hemelse huis gee.  

2. Paulus eindig 2 Korinthiërs 4 eintlik met ‘n oproep om nie te let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare. Want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. En, gemeente, dit word in die eerste vers van hoofstuk 5 ook bevestig: ons aardse tentwoning, die sigbare, word afgebreek en is dus tydelik. Maar die gebou van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, is ewig, in die hemele. Waaroor gaan dit hier?

Wel, Paulus gebruik hier die Ou Testamentiese beeld van ‘n tent; as tentmaker van beroep het Paulus geweet dat ‘n tent ‘n tydelike woonplek is wat enige tyd afgeslaan kan word. Ons kan dink aan Moses se tent van samekoms en aan die tabernakel wat, elke keer as die volk verder gegaan het op hulle reis na die Beloofde Land, afgeslaan en saamgedra is. So vergelyk Paulus ons fisiese liggame, en daarmee ook ons hele aardse bestaan, met ‘n tydelike verblyfplek. ‘n Verblyfplek wat enige oomblik, met ‘n enkele daad, afgebreek kan word.

Die manier waarop ons lewe, gemeente, wek egter die indruk dat ons nie altyd ewe oortuig is van die tydelikheid van ons woning hier op aarde nie. Ons lewe dikwels asof ons liggame vir altyd sal bestaan, asof ons verblyf hier op aarde onbeperk is. En dit is so tipies van die tyd waarin ons lewe – mense soek na maniere om hulle naam en eer hier op aarde te bevestig, daar word ywerig gesoek na kure en middele om veroudering teen te werk, ons bou koninkryke op wat lyk asof dit vir altyd gaan bestaan. Die tydelikheid van ons tentwoning word met alle moontlikhede tot ons beskikking bestry – maar nooit oorwin nie… Laat ons daarom ook nie verlei word om hieraan deel te neem nie, broers en susters.

Want vir die christen is die tydelikheid van sy tentwoning geen rede tot kommer of vrees nie. Ja, dat die dood ‘n verskrikking bly, dit het ons alreeds erken, maar ons beveg dit nie met aardse middele nie, ons beveg dit nie met anti-verouderingskure en groot rykdom en ‘n eervolle naam nie. Ons beveg dit slegs met die geloof dat – soos ons bely in vraag en antwoord 57 van die Kategismus – ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word. Ons beveg dit met die hoop op die gebou van God, ‘n hemelse huis wat nie met hande gemaak is nie!

En, gemeente, as ons dit bely dan verwag ons dit nie van die liggaam nie. Nee, die praktyk waarin ons lewe maak dit maar al te duidelik. Mense wat in die krag van hulle lewe in ‘n oomblik vernietig word, oopgeruk deur bomaanvalle, stukkend vanweë ‘n ongeluk, ontluister vanweë siekte. Ons aardse tentwoning ondergaan enkel en alleen aftakeling en degenerasie vanweë die sonde en die gevolge van die sonde. Die fokus wat ons tyd op die liggaam plaas, laat ons soms vir ‘n oomblik anders dink, maar elke keer word ons weer wreed daaraan herinner dat die menselewe kortstondig soos die gras is wat vandag daar is en môre weer weg is.  

Nee, ek glo nie in die vlees nie, maar ek glo wel in die Heilige Gees, in die Gees wat Here is en lewend maak, die Gees wat Christus uit die dood opgewek het. En gaan kyk dan maar hoe Jesus voor sy sterwe gelyk het: ook ‘n afgetakelde liggaam, bebloed, geslaan, gegesel, sodanig dat Hy nie eens meer self sy kruis na Golgota toe kon dra nie; en toe volg nog die hamer en die spykers, die urelange blootstelling aan die skroeiende son, die spiessteek in sy sy; en dan kan ons onsself nie eens voorstel hoe die hel, waarin Christus neergedaal het, die liggaam moes gesloop het nie. Sy vlees was stukkend, ‘n afgetakelde liggaam, tekenend van die aftakeling van elke mens. 

Maar drie dae later – ons sal oor enkele weke op Paassondag hierdie geskiedenis lees – drie dae later het Hy Hom aan sy dissipels vertoon, lewend en verheerlik! Tyd en ruimte kon sy verheerlike liggaam nie meer inperk nie. Die Gees van God het in Hom gewerk en Hy leef! Dit moes vir die dissipels so onwerklik gewees het, sodanig dat hulle aanvanklik gedink het dis ‘n spook. Maar toe laat Jesus hulle nader kom en na sy wonde kyk en aan hom voel, en vervolgens het hulle Hom ook kos sien eet. Nee, daar was geen twyfel moontlik nie: hierdie selfde liggaam – let op: ek gebruik die woorde van v/a 57 van die Kategismus – hierdie selfde liggaam van hulle Meester …  opgewek en verheerlik! En, gemeente, ons mag weet dat dieselfde krag wat in Jesus Christus werksaam was, ook in ons werksaam sal wees. Die Gees van Christus sal daarvoor sorg dat eendag ons met die gebou van God oorklee sal word. Geen tydelike tentwoning meer nie, maar ‘n verheerlikte liggaam, gelykvormig aan die heerlike liggaam van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. 

En, gemeente, terwyl ons daarop wag, sug ons (vers 2) – ja, daar is ook by kinders van die Here nog baie ellende en baie sorge in hulle aardse liggame en hul aardse bestaan. Ons voed ons liggame, ons hou ons liggame in stand deur dit te was en te klee, deur medisyne en operasies, maar ten slotte bly dit ‘n tydelike en gebrekkig woning, nie slegs vir gestremdes nie; nee, ook vir ons… Maar ons sug nie sonder hoop nie; nee, die sug waarvan Paulus hier praat is ‘n verlangende sug, ‘n sug van verlange, want ons verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word. En ons weet dat dit kom, ons weet dat eendag liggaam en siel weer in volmaaktheid verenig sal wees, ware mense volgens God se beeld, ware mense soos God dit in die paradys bedoel het. Ons weet dat wat by ons sterwe in verganklikheid gesaai word, in onverganklikheid opgewek sal word; wat in oneer gesaai word, in heerlikheid opgewek sal word; wat in swakheid gesaai word, in krag opgewek sal word. Christus se opstanding deur die krag van die Gees, verseker ons daarvan! Ook sal my vlees, as hier my stryd gestry is, nog veilig woon, omdat die Heer naby is!

Kom ons sing hiervan uit Psalm 16:4.

Ons let ten slotte daar dat Christus, hier op aarde, hoop gee op die lewe by God.  

3. 2 Korinthiërs 5:3 is ‘n tussensinnetjie, maar daarom nie onbelangrik nie: “… as ons ten minste gekleed en nie naak bevind sal word nie.” Paulus het hier oorgegaan na ‘n volgende beeld, die beeld van klere. En daarin lê ‘n bedekte waarskuwing: om uiteindelik die hemelse woning te kan ontvang, moet ons wel bekleed wees – daarmee bedoel Paulus dat ons wel oortrek moet wees met die geregtigheid van Christus, ons moet ware gelowiges wees. Die mens wat naak is, is die onveranderde mens, die mens wat buite Christus staan, die ongelowige – daardie mens ontvang uiteindelik nie die hemelse woning nie. En dit is iets waarmee die christen sy lewe lank worstel – daar is ‘n voortdurende worsteling om met Christus oorklee te wees. Christene word nie sorgeloos nie, hulle bly altyd teen die sonde stry. En daardie stryd kan ons laat sug… 

Maar dan mag ons verseker wees, broers en susters, dat God sy Gees as onderpand, as waarborg, gegee het dat ons tot die einde toe Christus sal vashou. Die Gees waarborg die volharding van die heiliges. En daarom het ons altyd goeie moed – kyk maar vers 6 en vers 8 – ook al het ons die volmaaktheid nog nie bereik nie. Inderdaad, terwyl ons nog hier op aarde is, woon ons nog in die liggaam. En terwyl ons nog tuis is in die liggaam is ons nog nie tuis by die Here, ons Verlosser nie. Ja, deur die geloof natuurlik wel, en dit sê vers 7 ook: deur geloof het ons gemeenskap met Christus, hoewel ons dit nog nie kan sien nie; ons wandel dus deur die geloof en nie deur aanskouing nie. En die Kategismus sê dit ook pragtig in antwoord 58: nou alreeds ervaar ek die begin van die ewige vreugde in my hart.  

Maar ons woon nog nie fisies by die Here nie, en as gelowiges sou ons dit wel verkies het. Soos Paulus in vers 8 sê: ons verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon. Ons sou baie eerder by die Here wou gewees het as om nog in hierdie doodsbestaan te woon. Dit is ons voorkeur. Maar hoe ook al, of ons inwoon of uitwoon, bo alles wil ons die Here welbehaaglik wees (vers 9). Of ons nou in die liggaam woon of dat ons by die Here woon, ons soek bo alles die eer van God. En as dit die Here se wil is om ons nog in die liggaam te laat woon, dan doen ons dit met die beginsel van die ewige vreugde reeds in ons harte. Ja, gemeente, met die vreugde wat ons vandag reeds mag ervaar gaan lewe ons as kinders van God in hierdie wêreld. Ons deel met broers en susters, maar ook met ons naaste daarbuite, hierdie vreugde. Hierdie vreugde word sigbaar in die manier waarop ek ‘n man vir my vrou is en ‘n vrou vir my man – ek probeer daarin ‘n weerspieëling wees van die verhouding tussen Christus en sy gemeente. Hierdie vreugde word sigbaar in die manier waarop ek ‘n pa of ma vir my kinders is – ek soek daarna om die liefde van my hemelse Vader aan my kinders uit te straal. Hierdie vreugde word sigbaar in die manier waarop ek my werk doen – met ywer, nie om mense te behaag nie, maar om God te eer. Hierdie vreugde word vandag reeds sigbaar op elke terrein van my lewe.  

En ná hierdie lewe? Na hierdie lewe sal ek die volkome saligheid besit. Hoe dit gaan wees? Ek weet nie – immers, geen oog het dit al gesien nie, geen oor het dit al gehoor nie, en dit het nie sy ontstaan in die hart van ‘n mens nie. En wat ons gaan doen? ‘n Tipiese vraag waarop ons vir ‘n groot deel die antwoord skuldig bly. Of ons gaan trou en of ons mekaar gaan herken – onbelangrik. Maar ons gaan die Here ewig prys – dit weet ons verseker. Klink dit vervelig, eentonig? Ag, broers en susters, wat is mooier as dit? Wat is mooier as om elke oomblik van die ewigheid jou volle aandag op God te kan rig, nooit moeg te raak nie, nooit deur hartseer afgelei te word nie, nooit deur liggaamlike moeites gekwel te word nie, nooit deur depressie gepla te word. As volmaakte mens mag ek dan die volmaakte God dien. Laat die begin van die ewige vreugde nou reeds daardie lof op ons lippe plaas: Ek loof die Heer wat deur sy raad my lei; selfs in die nag as alles sluimer rustig, dan wek opnuut my niere die verlange om God te dank in stille lofgesange!

Amen 

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 84:1, 3 en 6
Gebed
Lees: 2 Samuel 12:16-23
      2 Korinthiërs 4:7-5:10
Sing Ps. 49:4-6
Teks: HK, Sondag 22
Preek

  • Na 1ste punt Ps. 16:5
  • Na 2de punt Ps. 16:4
  • Amenlied Ps. 16:1 en 3

Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Skr. 9:4-6
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)