Jesus roep ons op tot goeie werke

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2007-02-25
Text: 
Matthéüs 5:16
Preek Inhoud: 

Matthéüs 5:16

Ds HH van Alten - Sondag 25 Februarie 2007

Lees: Matthéüs 5:1-16
Teks: Matthéüs 5:16
Sing: Sien liturgie

Tema: Jesus roep ons op tot goeie werke

  1. ter wille van onsself
  2. ter wille van die mense
  3. ter wille van die Vader

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons het verlede week ‘n begin gemaak met die sogenaamde bergrede – Mattheus 5-7. Ons het gelet op Jesus se oproep aan die einde van hoofstuk 7 – verse 24-27 – wat vra dat ons ons nie net sal verwonder oor sy leer, en dan wegdraai nie, maar dat ons sal luister en doen! Ons het tot die besef gekom dat Christus se radikale Koninkrykswet nie net ‘n indrukwekkende preek is nie, maar daardie wet vra om gedoen te word. Christus soek nie bewonderaars nie, Hy soek volgelinge, mense wat hulle lewens in gehoorsaamheid op Hom bou! Jesus soek nie “Oeh!” en “Ah!” nie, Hy soek goeie werke! Dit is dan ook die oproep in ons teks – vers 16. Ek het die boodskap van die teks soos volg saamgevat:

Tema: Jesus roep ons op tot goeie werke

Maar wat bedoel Jesus hier met goeie werke? Is dit ‘n goeie daad hier en daar? Hier ‘n bietjie vir ma help, daar vir ‘n eensame persoon gaan kuier; vandag ‘n paar rand vir die karoppasser gee, môre ‘n ou tannie met haar inkopies help? Gaan dit hier oor sporadiese goeie werke? Werke wat nie noodwendig uit die hart kom nie, maar goed, daar is mos wat dit sien nie… Nee gemeente, Jesus leer ons dat goeie werke ‘n lewenswyse behoort te wees, ‘n styl van lewe wat uit ‘n nuwe hart kom. Nie net hier en daar goeie werke nie, maar ‘n nuwe lewensrigting. Kom ons kyk na ons Skrifgedeelte om te sien wat Jesus presies bedoel. 

Ons sien in ons vertaling dat die gedeelte met die saligsprekinge (verse 3-12) en die gedeelte net daarna, wat oor die sout en die lig gaan (verse 13-16), van mekaar geskei is. Die vertalers het ‘n nuwe opskrif bo verse 13-16 geplaas. Eintlik is dit nie reg nie. Want hierdie twee gedeeltes behoort bymekaar, en ons sal die inhoud daarvan ook baie beter verstaan wanneer ons dit só lees. Sowel die teks as die inhoud gee vir ons ‘n duidelike aanduiding dat ons dit saam moet lees.

Wat die teks betref sien ons dat al die saligsprekinge tot en met vers 10 in die derde persoon uitgespreek is: salig is dié (hy/sy) wat arm van gees is, salig is die vredemakers (hy/sy), ens. Maar in vers 11 en 12 skakel Jesus oor na die tweede persoon: salig is julle…, verbly en verheug julle. Deur die oorgang na die tweede persoon verbind Jesus hierdie gedeelte met die volgende gedeelte (verse 13-16), waar Hy Homself ook in die tweede persoon tot die skare rig.  

Maar ook inhoudelik is daar ‘n duidelike verband tussen hierdie twee gedeeltes. En in die lig van die tema van hierdie preek, naamlik dat Jesus ons oproep om goeie werke te doen, is dit belangrik om dít raak te sien.

Jesus se oproep tot goeie werke vind ons in vers 16. Maar watter goeie werke? Is dit ‘n ongekwalifiseerde oproep wat ons maar self moet invul? Nee, broers en susters, Jesus vul dit vír ons in, want sy oproep tot goeie werke verwys terug na die saligsprekinge. Die saligsprekinge? Hoe is dit moontlik? Die saligsprekinge is dan beloftes van Jesus, heerlike geskenke wat ons mag ontvang… Ja, maar nie onvoorwaardelike beloftes nie. Kyk maar na die saligsprekinge; daar staan nie net: salig is diegene aan wie die koninkryk van die hemele behoort, of: salig is dié wat vertroos word, of: salig is dié wat die aarde beërwe, nie. Nee, die beloftes in elk saligspreking word verbind met ‘n eienskap of ‘n deug wat Christus se volgelinge in hulle lewens moet vertóón! Die beloftes in die saligsprekinge is dus voorwaardelike beloftes: salig is die wat so en so lewe, want aan húlle behoort so en so… Die belofte-deel van die saligspreking is dus baie duidelik aan ‘n voorwaarde gekoppel. Kom ons gaan kyk na die voorwaardes in die verskillende saligsprekinge. 

* Salig is die wat arm van gees is (vers 3a) – dit is duidelik dat dit hier nie gaan oor mense wat sosiaal arm is nie; ook nie oor mense wat vrywillig armoede op hulle neem, soos wat ons in die Rooms-Katolieke bedelordes vind nie. Nee, dit gaan hier oor mense wat in geestelike opsig bedelaars is. En dit pas ook presies in die konteks waarin die bergrede uitgespreek is: die skare het Jesus gevolg, soos bedelaars en hulpbehoewendes het hulle agter Hom aangeloop na die berg toe. Salig is hierdie mense wat niks méér het om te bied nie as net om te vra/te smeek vir genesing, vir hulp, vir onderrig. God se ryk is nie ‘n beloning vir sterkes nie, maar ‘n aalmoes vir bedelaars. Salig is elkeen van ons wat nie kom om die Koninkryk te verdien nie, maar wat met bakhande kom om dit as genadegawe uit God se hand te ontvang!

* Salig is die wat treur (vers 4a) – hierdie saligspreking kan moeilik beperk word tot diegene wat treur oor die gemis van ‘n geliefde. Nee, dit gaan hier oor almal wat rou en treur oor ‘n geestelike tekort en gemis by hulleself. Johannes die Doper het, vóór Jesus, die volk ook alreeds daartoe opgeroep, want daar is immers niks in die volk waaroor hulle bly of positief kan wees nie. Salig is elkeen wat dít in berou voor God bely. Salig is elkeen van ons wat in berou treur dat hy niks het om aan te bied nie, wat in berou bely dat hy geestelik bankrot is.

* Salig is die sagmoediges (vers 5a) – hier gaan dit oor die houding wat ons inneem teenoor iemand anders; ‘n houding van vriendelikheid sonder agressie, ‘n houding van mildheid sonder toorn. Hierdie saligspreking dring dus aan op ‘n vriendelike lewe, sonder die drang om jouself te wil laat geld. En Jesus self gee vir ons hierin die voorbeeld – Hý het immers in alle sagmoedigheid gekom; kyk maar na sy oproep in Matt. 11:20: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart…” Dieselfde houding word nou van ons gevra. En dit is ‘n moeilike opgawe, gemeente, in ‘n wêreld waar dit lyk asof krag en geweld jou die verste bring. Maar salig is elkeen van ons wat nie met geweld ons pad probeer oopveg nie, maar wat met sagte vriendelikheid die naaste benader.

* Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid (vers 6a) – in hierdie saligspreking gaan dit oor ‘n persoonlike gevoel van te kort: ek honger en dors, ek kort kos en water! En hierdie gevoel van honger en dors word slegs weggeneem wanneer jy versadig word. Jesus wys hier dat die saligheid vir hulle is wat besef dat hulle nie versadig kan word met eie middele nie. Die wetgeleerdes en Fariseërs het gedink dat hulle die geregtigheid besit. Maar salig is elkeen van ons wat weet dat hy ‘n groot gebrek het aan geregtigheid, wat weet dat hy nie in die regte verhouding tot God en die naaste staan nie, en wat weet dat hy slegs van buite-af versadig kan word.

* Salig is die barmhartiges (vers 7a) – dit gaan hier daaroor dat jy in jou optrede teenoor jou naaste nie hard en genadeloos is nie, ook al is hy jou vyand. Die beste voorbeeld hiervan vind ons sekerlik in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Hierdie man was bereid om by sy vyand te stop en hom te help. Dit is wat barmhartigheid doen: dit soek daarna om die gevolge van sonde in die lewe van ander te verlig; barmhartigheid laat jou op jou knieë gaan om die waardigheid te herstel van iemand wie se lewe deur die sonde verbreek is. Salig is elkeen wat so teenoor elkeen van sy naaste optree.

* Salig is die wat rein van hart is (vers 8a) – Christus leer hier vir die skare dat ware geregtigheid moet blyk uit die reinheid van die hart. Die Fariseërs en Skrifgeleerdes het van buite-af rein gelyk, maar aan die binnekant was hulle vol skynheiligheid en wetteloosheid (Matt. 23:28). Jesus vergelyk hulle met gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is. Gemeente, uiterlike reinheid word deur die mense gesien, maar wie se lewe op God gerig is, sal deur Gód in die hart gekyk word. Salig is elkeen wat in sy hart nie kompromieë tref en akkomoderend optree nie, maar wat onverdeeld aan Jesus toegewyd is.

* Salig is die vredemakers (vers 9a) – hier gaan dit nie oor bemiddelaars tussen twee strydende partye nie, maar oor mense wat met hulle eie vyande vrede maak en nie voortdurend opsoek is na stryd nie. So het God immers vrede met ons gemaak. Die koms van Jesus na die aarde bewys dat God daarna soek om vrede te maak met mense wat skuldig staan teenoor Hom. Salig is elkeen wat in navolging hiervan daarna soek om vrede te maak. Salig is elkeen van ons wat goed doen aan wie hom haat, en nie kwaad met kwaad vergeld nie (Matt. 5:38-42).

* Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid (vers 10a) – tot dusver het al die saligsprekinge gegaan oor ‘n lewenshouding, maar in hierdie laaste saligspreking gaan dit oor wat die gelowige op sy lewenspad sal ondervind en wat hy moet trotseer. Om Christus na te volg sal nie lei tot hoë posisies en groot aansien nie, maar eerder tot vervolging. Christus het ons daarin voorgegaan as die lydende Messias. Die satan soek daarna om die kinders van die Here te verslind. Salig is elkeen wat die stryd nie sal probeer ontduik nie, maar wat dit met die krag van God aanpak. Hierdie saligspreking word vervolgens in verse 11-12 verder uitgewerk. En daar blyk dat dit ‘n vervolging is om Christus ontwil! Mense wat Christus wil navolg en in Hom hulle heil wil vind, moet weet dat ook vervolging wag – só het hulle immers ook al die profete tot op Johannes vervolg. Jesus se volgelinge kan daarom dieselfde verwag.  

Gemeente, dit was in kort die voorwaardes van elkeen van die saligsprekinge. Dít is die verskillende eienskappe en deugde wat Christus se volgelinge moet vertoon. Dít is die goeie werke, waarna ons teks verwys, wat in die lewens van elkeen van Christus se volgelinge sigbaar moet word. Sien u, dis nie sommer ‘n goeie daad hier, en ‘n goeie daad daar nie. Dan was dit maklik; dan kon ek baie maklik my lewe met Christus geskei hou van my eie lewe, my eie dingetjies. En hoe graag doen ons dit nie… Ons sus ons gewetens met goeie werke hier en daar, plek-plek… Maar gemeente, hier word ‘n komplete lewenshouding sigbaar, ‘n lewensrigting wat elke aspek van my lewe raak. Jesus verkondig hier ‘n lewenshouding en –rigting wat totaal anders is as dié van my ongelowige kollega, buurman of mede-student. Ek en hy lewe in totaal verskillende wêrelde; en dit is logies: want hy lewe as ongelowige in hierdie sondige wêreld, maar ek lewe as christen, as volgeling van Christus, in die koninkryk van die hemele!

Wanneer ek ‘n burger word van hierdie koninkryk dan vernuwe Christus alles. My verhouding tot myself, my verhouding tot my naaste, my verhouding tot God – dít álles word omgedolwe, dít álles moet ‘n nuwe vorm kry. En dit begin in die hart… Vanuit ‘n rein hart, vanuit ‘n hart wat deur Christus rein gemaak is, word ek ‘n chroniese bedelaar by God, treur ek daagliks oor my eie tekorte en verlang ek na die geregtigheid wat God gee; vanuit ‘n rein hart word ek elke oomblik van elke dag ‘n sagmoedige, ‘n vredemaker, ‘n barmhartige. En dan kan die vervolging en die spot maar kom, dan kan hulle my maar uitjou oor my christenskap, ter wille van Christus staan ek nie vir ‘n oomblik terug nie, staan ek vas want ek kan nie anders nie! Gemeente, dít is goeie werke! Hiertoe roep Jesus Christus my op. Radikaal – ja! Lewensveranderend – ja! Maar só heilsaam! Dit is só heilsaam wanneer mense op aarde weer hemels begin lewe! Laat ons aan hierdie oproep tot goeie werke gehoor gee:

  1. ter wille van onsself
  2. ter wille van die mense
  3. ter wille van die Vader

Na hierdie drie punte wil ons vervolgens kyk, maar kom ons sing nou eers van Jesus se oproep tot ‘n nuwe lewensstyl uit Skr. 26:10 en 11.

1. Ons het nou na die vóórwaardes van elkeen van die saligsprekinge gekyk, maar aan elkeen van die voorwaardes is ook ‘n heerlike belofte verbonde. Beloftes waarin u en ek mag deel, waarna ons mag uitsien. Elkeen van ons wat hierdie goeie werke wil doen, word salig genoem; elkeen wat hierdie nuwe lewensrigting wil volg, ontvang die geluk van die koninkryk van die hemele!

Gemeente, nou moet ons nie dink dat die hemelryk dieselfde is as die hemel nie. Nee, die koninkryk van die hemele is ‘n aanduiding vir dié gebied waar die hemel die toon aangee, waar God mense se lewens bepaal. Vanaf die sondeval het die mense hulself losgeworstel van God, die wêreld het werklik ‘n mensewêreld geword. Maar God het nooit vrede daarmee gemaak nie, Hy soek daarna om die wêreld steeds meer en meer terug te kry onder sy heerskappy. En Hy het dit gedoen deur sy Seun na die aarde te stuur; in Hom het die Koninkryk naby ons gekom! Deur sy werk breek die tyd aan waarin mense – deur sy volgelinge te word – weer God se paradys kan beërf! En binnekort breek die tydperk aan wanneer die hemel vir ewig op aarde sal kom, wanneer daar op aarde vir ewige hemels geleef sal word. Gelukkig / salig is elkeen wat daarin mag deel! Gelukkig is elkeen wat vandag reeds mag deel in die koninkryk van die hemel.  

Hierdie belofte van die koninkryk van die hemele vind ons in die eerste en laaste saligsprekinge (verse 3 en 10). En, broers en susters, wanneer ons nou na die saligsprekinge tussen-in kyk, dus tussen verse 3 en 10, dan sien ons dat elkeen van hulle ‘n sekere aspek van daardie hemelryk belig.

In die hemelryk word mense getroos (vers 4b) – God droog al die trane van ons oë af, die trane wat vandag nog vloei vanweë die sonde en die gevolge van die sonde wat soveel pyn in ons lewens veroorsaak. In die hemelryk sal ons die aarde beërwe (vers 5b) – hierdie aarde, waarin soveel dinge verwoes word deur oorlog, geweld, misdaad en magsmisbruik, sal dan nuut wees; die paradys sal terugkeer. In die hemelryk sal ons versadig word met geregtigheid (vers 6b) – ons kom nou nog baie ongeregtigheid kort, maar dan sal ons vol wees van geregtigheid, dan sal ons niks anders kan doen nie as die wil van God. In die hemelryk sal aan ons barmhartigheid bewys word (vers 7b) – dáár sal niemand meer hard en genadeloos wees nie, daar sal ons almal die beste vir die ander soek. In die hemelryk sal ons God sien (vers 8b) – soos wat God nou in ons rein harte kan sien, so sal ons eendag God sien van aangesig tot aangesig, een en al lewe en lig! In die hemelryk sal ons kinders van God genoem word (vers 9b) – ons kry dan ‘n nuwe naam, nie meer mensekinders nie, maar Godskinders.

Gemeente, dit is die hemelse geluk waarin elkeen ten volle sal deel wat vandag volgeling van Christus wil wees. ‘n Hemelse geluk wat ons vandag al proe, maar wat ons eendag ten volle sal indrink, waarmee ons versadig sal word! Wees navolgers van Christus, doen goeie werke, en wees dan gelukgewens, want die koninkryk van die hemele met al sy rykdom is joune! Nie deur jou werke nie, maar omdat jy ‘n volgeling is van Jesus Christus wat dit alles vir jou verdien het.

Doen ook goeie werke ter wille van die mense. 

2.  Jesus gebruik twee beelde om aan te toon dat ons die goeie werke nie slegs ter wille van onsself doen nie, maar dat ons dit ook ter wille van die mense moet doen. Hy gebruik die beelde van sout en lig. Met hierdie twee beelde wys Jesus dat God, deur middel van sy volgelinge, ook by die volke, by die wêreld, wil uitkom. Sout word immers nie op sigself gewaardeer nie (niemand sal sommer ‘n handvol sout vir die lekker daarvan wegsluk nie), die lig skyn ook nie vir homself nie. Nee, sout word gewaardeer wanneer die kos daardeur smaaklik gemaak word, en lig word gewaardeer wanneer ons mekaar daardeur kan sien. Sout en lig is daar vir iets of iemand anders… En dít is wat Jesus by sy leerlinge en die volk wil inskerp. Julle moet sout en lig wees vir die nasies! Die Here wil deur julle ook die volke bereik!

En ná die saligsprekinge hoef daar nie meer onduidelikheid te wees oor hoe die sout moet smaak en watter kleur die lig moet hê nie. Nee, die sout moet na Jesus smaak – sagmoedig, barmhartig, vredeliewend ens. En die lig moet die glans van Jesus versprei – soekers na God se geregtigheid, treurend oor die sonde, bedelaars voor God. Gemeente, ons word opgeroep om ons goeie werke vir die wêreld te wys; ons word opgeroep om die radikale lewensvernuwing wat Christus in ons lewens bewerk aan die wêreld te vertoon.  

En dit is nie ‘n vryblywende oproep nie. Nee, Jesus verbind ‘n waarskuwing aan hierdie oproep: smaaklose sout is nutteloos en word buite gegooi. Soos so baie afval in die Ooste, beland dit op die strate en word deur die mense vertrap. Jesus sê letterlik dat hierdie sout ‘dwaas’ geword het. Mense – en selfs volke – word dus dwaas wanneer hulle nie die radikale oproep van Jesus tot goeie werke navolg nie, wanneer hulle nie deur goeie werke Jesus aan die mense vertoon nie. En dit is wat met die volk Israel gebeur het, hulle het dwaas geword. In die jaar 70 na Christus is die stad wat op ‘n berg gebou is, en wat die lig vir die nasies moes gewees het, verwoes – Israel het in sy volksbestaan smaakloos geword.  

Gemeente, ook ons, as kerk van die Nuwe Testament, val onder die wet van sout en lig. Laat ons nie kerk wees asof ons op onsself belangrik is nie. Laat ons nie smaakloos word en ons lig onder ‘n maatemmer verberg nie. Maar laat ons ‘n stad op ‘n berg wees – ‘n stad deur God gebou waarna die nasies toestroom omdat hulle sien dat dit hier heilsaam is, dat hier werklik lewe is.

Die jeug het juis afgelope Vrydagaand hieroor nagedink in die konteks van evangelisasie. Evangelisasie – ‘n woord wat ons altyd ‘n effens kriewelrig maak, want dan sien ons al hoe ons moet uitgaan, op mense se deure moet gaan klop, en hulle moet vertel van die VGK. Maar, broers en susters, evangelisasie – dus, om sout en lig te wees – is nie maar ‘n opsionele ekstra nie, dis nie vryblywend nie. Om christen te wees, beteken per definisie om sout te wees en jou lig te laat straal. As ons sê dat ons kerk van Christus is, dan kan en mag dit nie anders wees nie of ons moet deur ons goeie werke (wat trouens ook woorde insluit) vir mense wys dat daar ‘n alternatiewe, ‘n beter lewe, in hierdie wêreld moontlik is. Laat nie van ons gesê word dat ons smaakloos geword het of onsself onder ‘n maatemmer begrawe het nie. Nee, laat julle lig skyn onder die mense, wees volgelinge wat nie skaam is om die Lig van die wêreld te laat skyn nie.

En dit doen ons – daarop let ons ten slotte – ter wille van die Vader. 

3. Jesus sluit in ons teks af met die hoofdoel waarom ons en alle mense lewe – naamlik om God te verheerlik! Dit is dan ook die uiteindelike doel waarna al die voorafgaande strewe. Ons doen goeie werke ter wille van onsself want daardeur word ons ergename van die koninkryk; ons doen goeie werke ter wille van die mense, sodat ook hulle daarin kan deel. Maar uiteindelik gaan dit oor die eer van God. So het Hy ons gemaak in die paradys, so wil hy ons weer maak. Skepsels wat nie in totale selfgesentreerdheid hulleself soek nie, skepsels wat nie net in selfsug vir hulleself lewe nie, maar koninkryksburgers wat aan hulle Koning alle eer gee wat Hom toekom.

Gemeente, ons lewe om te loof! En ons soek daarna dat soveel as moontlik ander mense saam met ons die Here loof. En as hulle dit nie vandag wil doen nie, weet dat eendag elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Jesus Christus die Here is! Maar intussen hef ons alreeds die loflied aan, intussen sing ons alreeds die loflied op God. Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid.

Amen. 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 76:1, 5 en 6
Wetslesing
Sing Ps. 4:2 en 3
Gebed
Lees: Mattheus 5:1-16
Sing Ps. 1:1 en 2
Teks: Mattheus 5:16
Preek

  • Na die eerste punt Skr. 26:10-11
  • Amenlied Ps. 150

Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 97:4, 6 en 7
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)