Die gemeente vandag leef in die duisend jaar

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2007-02-18
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 19
Reference: 
HK 19-0
Preek Inhoud: 

Sondag 19

Ds HH van Alten - Sondag 18 Februarie 2007

Lees: Efes. 4:1-16, Open. 20
Teks: Sondag 19 HK
Sing: Sien liturgie

Tema: die gemeente vandag leef in die duisend jaar

  1. Die begin van die duisend jaar
  2. Die seëninge van die duisend jaar
  3. Die afsluiting van die duisend jaar

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die mens, en ons as gelowiges net so goed, het die hartseer gewoonte om die perspektief op die lewe lelik te verwring. Ons sukkel soms om te relativeer en perspektief te behou. Dít wat eintlik maar klein dinge is, word vir ons alles; dít wat eintlik ‘n klein deeltjie van die groot geheel is, word vir ons dikwels die geheel.

Vat nou jou eie lewe: jy woon hier êrens in Pretoria, jy werk hier naby, jy speel sokker net hier anderkant… en so gou word Pretoria die sentrum van jou heelal, Pretoria word jou wêreld. Al roete wat jy ken is die roete waarlangs jy werk toe ry, of waarlangs jy jou kinders na al hulle aktiwiteite vervoer. En wat van jou lewensgeskiedenis – jou lewensgeskiedenis met sy goeie en slegte tye, met sy hartseer en vreugde, word so maklik die belangrikste geskiedenis wat daar is. En wat van ons kerke – ja, ons kerke word so maklik die enigste kerke wat bestaan, en ons word al meer ingetrek in die magtige masjien van die VGK… Verstaan my goed, die doel is nie om hierdie dinge te verkleineer nie, immers ons klein lewentjies en ons klein kerkverband is vir die Here belangrik. Maar dit is wel goed om so nou en dan weer gewys te word op die plek van my lewe en die plek van ons kerke in die groter geheel!

Broers en susters, Sondag 19 help ons om vir ‘n oomblik terug te staan, om vir ‘n oomblik die geheel te oorsien en weer nuwe perspektief te kry op waar ons vandaan kom en waarheen ons oppad is. Sondag 19 plaas ons naamlik in die hele periode tussen Christus se hemelvaart (oftewel, sy troonbestyging aan die regterhand van die Vader) en sy wederkoms. Die bybel praat in die boek Openbaring oor hierdie periode as “die duisend jaar” – ons het daarvan gelees in Openbaring 20.  

Miskien is dit goed om, voordat ons verder na Openbaring 20 luister in die konteks van Sondag 19, net iets te sê oor die duisend jaar. Openbaring 20 is naamlik ‘n gedeelte wat dikwels deur mense gebruik word om hulle opinie oor die eindtyd weer te gee.

In die algemene spreektaal praat ons van ‘die duisendjarige ryk’ of die ‘duisendjarige vrederyk’. Veral in chiliastiese kringe is die mening dan dat Christus op ‘n sekere tyd na die aarde gaan terugkeer en ‘n vrederyk hier op aarde gaan stig. Dit sal waarskynlik in Palestina wees, met Jerusalem as hoofstad, en die ryk sal 1000 jaar lank bestaan. In hierdie tyd sal al die onvervulde beloftes oor Israel en die beloofde land vervul word. Daar bestaan verskillende variasies van hierdie oortuiging.

Hoe moet ons hierop reageer? Wel, sonder om uitputtend te wees, kan ons sommer dadelik al ‘n paar dinge sê: 1. in die eerste plek wys die Skrif ons dat ons die getalle in Openbaring nie letterlik kan lees nie; dit is in die aard van die profesie, spesifiek die profesie oor die eindtyd, dat die getalle simbolies gebruik word. Die getal 1000 bestaan uit 10x10x10; 10 is die getal van die volheid; 10 tot die derde mag dui simbolies dus op ‘volle ontwikkeling’. Dat Christus duisend jaar regeer, sê eenvoudig dat Hy sal regeer totdat alle dinge tot volle ontwikkeling gekom het, totdat God se raad met die kerk en die wêreld vervul is; 2. in die tweede plek praat die Skrif nêrens van ‘n duisendjarige ryk nie, maar slegs van ‘duisend jaar’; daaruit hoef ons dus geensins af te lei dat dit oor ‘n aardse ryk gaan nie; 3. en in die derde plek sê die Skrif ook nie dat dit ‘n vrederyk sal wees nie; ja, die satan word gebind, maar ons sal later sien dat dit nog geensins vrede beteken nie. 

Dus, die ‘duisend jaar’ kan ons eenvoudig sien as die periode van Christus se heerskappy, waarin Hy alles tot volle ontwikkeling sal bring. Hierdie heerskappy begin met sy hemelvaart, sy troonbestyging, en dit eindig met sy wederkoms, wanneer Hy – volgens 1 Kor. 15:24 – die koninkryk aan God die Vader sal oorgee. Van hemelvaart tot wederkoms is Christus se 1000-jarige heerskappy. En, broers en susters, in hierdie periode leef ons; hierdie periode is die breër perspektief waarin ons ons kerklike en persoonlike lewe moet leer raaksien. Ons lewens is deel van die groter geheel van Christus se wêreldheerskappy! Ons lewens hier in Pretoria, ons werk, ons ontspanning, ons moeites en swaarkry hier, is alles deel van Christus se heerskappy oor alle dinge tot op die dag van sy wederkoms.

Tema: die gemeente vandag leef in die duisend jaar

  1. Die begin van die duisend jaar
  2. Die seëninge van die duisend jaar
  3. Die afsluiting van die duisend jaar

1. Christus se hemelvaart was sy triomftog; Hy het die sonde en die dood oorwin. Hy het die reg verwerf om aan God se regterhand plek in te neem om daar oor alles te regeer. Dit is die begin van die duisend jaar!

Johannes vertel ons in die eerste verse van Openbaring 20 dat daar egter nog iets ander met die aanvang van die duisend jaar gepaard gegaan het. Johannes sien naamlik ‘n engel uit die hemel neerdaal. Hierdie engel het die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. Dit is duidelik wat sy opdrag is: met die sleutel moet hy toesluit, en met die ketting moet hy boei. Maar wie moet geboei en toegesluit word? Wel, Johannes beskryf die gevangene baie uitvoerig: hy is die draak (dus, die monster wat soek om te verslind); hy is die ou slang (dit herinner ons aan die skade wat hy met die val van Adam en Eva in God se goeie skepping aangerig het); hy is die duiwel en die satan (dus, die aanklaer en die een wat verlei). Christus se teëstander wat al gedurende soveel eeue en in soveel lande aktief werksaam was, word met een greep gearresteer en geboei; soos ‘n hond wat graag byt, word hy aan ‘n ketting vasgemaak. Vervolgens word hy ook nog deur die engel in die afgrond gegooi, en die afgrond – die voorlopige verblyfplek van die satan tot op die jongste dag – word deur die engel verseël. Die satan is geboei en toegesluit… 

Eensklaps, met Christus se troonbestyging, sy oorwinningstog, word die satan se verderflike werksaamhede gestuit. Vir ‘n duisend jaar lank – dus, die hele periode van Christus se heerskappy – kry hy géén geleentheid om die nasies te verlei nie.

Maar, gemeente, wat word hiermee bedoel? Word hiermee bedoel dat die satan geen invloed meer in menselewens het nie? Nee, die praktyk bewys anders; die praktyk van ons eie lewens wys dat die satan nie magteloos is nie. Ten spyte van die feit dat die satan geboei en toegesluit is, kan hy homself nog steeds hier op aarde rondbeweeg; hy kan die mense, en ook die gelowiges, nog steeds persoonlik aanval en benou. Maar – en hier kom die verskil met voorheen – die heidenvolke as gehéél sal hy nie meer kan opsweep tot ‘n gemeenskaplike aanval op die gemeente van die Here nie. Ek herhaal dit: die heidenvolke as gehéél sal hy nie meer kan opsweep tot ‘n gemeenskaplike aanval op die gemeente van die Here nie. Dit sal hom belet word, daarin word hy verhinder – en in dié opsig word hy gebind en in die afgrond toegesluit. Hy is soos ‘n byterige hond aan ‘n ketting – sover as wat die ketting hom toelaat is daar nog beperkte ruimte vir beweging; hier en daar kan hy mense nog byt, maar dit is nie meer in sy mag om ‘n grootskaalse aanval te loods nie.   

Sedert Christus se hemelvaart, en in besonder sedert die Pinksterdag, is daar inderdaad ‘n duidelike remming van die optrede van die satan. Hy kan nie voorkom dat die evangelie tot aan die eindes van die aarde verkondig word nie. Hy kan nie verhinder dat die kerk vergader word nie. Natuurlik, die satan kan nog baie doen, en hy mobiliseer soms indrukwekkende magte teen Christus se kerk, maar hy kan die voortgang van Christus se kerkvergaderende werk nie verhinder nie. Natuurlik val daar steeds martelare, bloedgetuies, maar – so sien Johannes in die volgende verse – húlle wat onder die wolke in diens van Christus val, sal bo die wolke saam met Hom heers! 

Gemeente, vandat Christus sy plek aan die regterhand van die Vader ingeneem het, word die mag van die satan ingeperk, kry hy nie geleentheid om die kerk en die kinders van die Here te oorweldig nie.

Ons Koning en Hoof laat nie toe dat hierdie gemeente onder die mag van die satan val nie. Watter troos is dit nie, broers en susters, veral wanneer ons die toestand van die kerklike situasie om ons heen sien, wanneer ons sien hoe die satan tog nog soveel dinge stukkend maak in ons gemeente en kerkverband. Dan bely ons – let wel, ons sien dit nie altyd nie, maar ons bely: die heilige, algemene, christelike kerk. En oor hierdie kerk bely ons in artikel 27 van die Nederlandse Geloofsbelydenis: “… hierdie heilige kerk word deur God teen die woede van die hele wêreld bewaar, alhoewel dit soms ‘n tyd lank baie klein is en dit in die oë van mense lyk asof dit tot nie gegaan het – soos die Here vir Hom gedurende die gevaarlike tyd onder Agab sewe duisend mense bewaar het wat nie voor Baal gekniel het nie”. Gemeente, Christus betoon Homself telkens weer as Hoof van die christelike kerk!

En ook elkeen van God se kinders afsonderlik sal nie onder die mag van die satan val nie. Ons bely immers nie verniet die volharding van die heiliges nie! Die Dordtse Leerreëls sê in hoofstuk 5, paragraaf 3 so pragtig: “Vanweë die oorblyfsels van die inwonende sonde en ook vanweë die aanvalle van die wêreld en die Satan kan die bekeerdes nie in hierdie genade volhard as hulle aan hulle eie kragte oorgelaat was nie. Maar God is getrou. Uit barmhartigheid bekragtig Hy hulle in die genade wat eenmaal aan hulle gegee is, terwyl Hy hulle ook tot die einde toe kragtig daarin bewaar.” Moet daarom nie sê, broers en susters, dat kinders van die Here van die geloof afvallig kan word nie. Hulle kan nie! Christus hou u vas! 

Ons Bewaarder sluimer en slaap nie. Die HERE is jou Bewaarder, die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand. Die HERE sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar. Die HERE sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid (Ps. 121:4-8). Ons Bewaarder is die Koning van hemel en aarde, Hy is die Hoof van sy kerk, Hy is die Een wat sy lewe gegee het vir sy kerk. As kerk en as persoonlike gelowiges hoef ons nie te vrees nie. Die satan is gebind, die Here regeer die duisend jaar lank!

Ons let vervolgens op die seëninge van die duisend jaar. 

2. Die chiliaste, dié wat glo in ‘n ryk van letterlik duisend jaar, gaan verlore in hulle droom wat êrens ver in die toekoms lê. Daarmee misken hulle die feit dat Christus ons nou reeds laat geniet van die seëninge onder sy duisendjarige heerskappy. Een van die seëninge het ons hierbo alreeds aangeraak: die feit dat Christus sy kerk teen die mag van al sy en ons vyande beskerm en bewaar.  

Maar die Kategismus noem ook nog iets anders, naamlik dat Christus, as ons Hoof, deur sy Heilige Gees die hemelse gawes in ons, sy lede, uitstort. Hoor u dit: hoof en lede; ons is as lede van Christus se liggaam aan Hom, die Hoof, verbonde. Ons het daarvan gelees in Efesiërs 4:15 en 16 waar Paulus ons oproep om op te groei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus, uit wie die hele liggaam goed saamgevoeg en saamverbind is. Deur die geloof bestaan daar dus ‘n onlosmaaklike band tussen Christus en ons. Jesus self gebruik in Johannes 15 die beeld van ‘n wynstok met sy lote; soos wat die lote stewig aan die wynstok verbonde is, so is ons aan Christus verbonde. Dus, gemeente, ook al is Christus in die hemel en ons op die aarde, is daar ‘n onlosmaaklike band tussen ons en Hom.

En juis daarom kan ons deel aan al sy skatte en gawes. Hy het naamlik met sy dood en opstanding gawes verdien, buit gemaak. Hy het dit met sy hemelvaart saamgeneem na die hemel toe. En nou deel Hy dit van daar af aan ons, sy lede, uit. Die grootste gawe is sekerlik die Heilige Gees, wat Hy reg vanaf die begin, met die Pinksterdag, vanaf die hemel uitgegiet het. En vervolgens laat die Gees ons nou ook in al die kleiner gawes van Christus deel. Die Gees sorg vir ‘n konstante vloei van gawes uit die hemel. Gedurende die hele periode van die duisend jaar, staan die sluise van die hemel oop vir al God se kinders om te deel in wat Christus verdien het!  

Gemeente, sien u hoe ryk ons is? Ons het die Koning van die wêreld as ons Bron, as ons Verskaffer! Hy seën ons met alle geestelike en liggaamlike seëninge. En Hy kan dit doen; hoor maar hoe praat Hy in Psalm 50: “Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie; want al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende. Ek ken al die voëls van die berge, en wat roer op die veld, is van my. As Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid.” Die wêreld en sy volheid behoort aan die Here – en dáárin laat Hy ons deel! Dít laat Hy na ons toe deurvloei, soos wat ‘n wynstok sy sappe na die lote laat deurvloei. So is ons geseënde mense wat deel in die heerlikheid van ons Hoof Christus.  

Maar, broers en susters, nie net op die aarde ontvang ons sy seëninge nie; nee, juis ook in die hemel word daar in sy seëninge gedeel. Johannes sien naamlik in die hemel trone; daar word ‘n regsitting gehou. En die resultaat van die regsitting is dat die siele van dié wat onthoof is, saam met Christus mag leef en regeer! Hier word spesifiek die slagoffers van die gewelddadige vervolging deur die draak genoem, die onthoofdes. Maar dit geld nie net vir hulle nie; ook die ander gestorwe gelowiges, dié wat getrou was in hulle getuienis tot die dood toe, sal priesters van God en van Christus wees, en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank! Gemeente, ons geliefdes wat al gesterf, hulle na wie ons dikwels so verlang, hulle regeer saam met Christus, hulle deel in sy heerlikheid. Hulle siele leef! Die vyand het gedink hulle is dood, hulle is dan onthoof, maar die vyand was verkeerd. Johannes jubel: hulle leef! Hulle dood was ‘n deurgang na die ewige lewe.

Vind hierin troos, broers en susters: ons sal in lewe en in sterwe, Gods eiendom vir altyd wees; ons sal wat Hy beloof het erwe, verseël deur die Heilige Gees. Vir die gelowige is daar, in lewe en in sterwe, altyd die verbondenheid met Christus. Nooit kom hy kort nie, nooit is daar gebrek nie – want Christus, ons Koning, laat ons deel in al sy skatte en gawes! Sy heerskappy is met reg ‘n heerskappy ter wille van ons! Ons, die kerk, is die begunstigdes van sy heerskappy aan die regterhand van die Vader. Sien dit raak: die Gees wat in ons woon en werk, die Woordverkondiging elke Sondag, ‘n gesonde kerklike lewe, ‘n nuwe ampsdraer, kos in oorvloed, huise, ‘n werk, ‘n gereformeerde skool, en noem dit maar op. Ons is ryk, gemeente! Ons is geseënd! En dit alles deur Christus wat gely het, gesterf het, opgestaan het uit die dood, opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van die Vader. Hy het nie van die koningstroon weggeskram nie; Hy regeer daar vir u en my.

Ons let ten slotte nog op die afsluiting van die duisend jaar. 

3. Aan die einde van die duisend jaar word die satan nog vir ‘n kort tydjie uit sy gevangenis ontbind. Let op, hy ontsnap nie; nee, op God se bevel word hy vrygelaat. En baie gou word duidelik dat die satan nog glad nie verander het nie. Hy het sy bose planne nog nie laat vaar nie. Dit wil voorkom asof hy net nog meer gedrewe is om die tyd, wat hy verloor het, in te haal. Hy mobiliseer al die heidennasies teen die gelowiges. Die volke wat met hierdie verleidingstaktiek van die satan bewerk word, kry die naam Gog en Magog, volgens die profesie van Esegiël 38-39. Johannes sien dus hoe hier, teen die einde van Christus se regering, ‘n laaste magtige stryd teen Christus se gemeente ontstaan. Daar sal dus waarskynlik ‘n laaste, geweldige magskonsentrasie teen Christus se gemeente wees.

Maar, broers en susters, hierdie antichristelike mag kom nie eens sover om tot die aanval oor te gaan nie. Vuur uit die hemel verteer hulle, voordat hulle selfs tot daardie punt kan kom. Selfs as al die volke teen God en sy Gesalfde opstaan, dan nóg lag hulle maar net vanuit die hemel. Niks en niemand kan Christus van sy troon afstoot nie.  

En dan volg Christus se eindgerig. Johannes sien ‘n groot, skitterende troon. Al die dooies, klein en groot, jonk en oud, aansienlikes en minder aansienlikes, word daarvoor gedaag; ook ons sal daar wees… En dan word die boeke oopgemaak; eers die boeke waarin elkeen se werke staan. Aan elke mens word sy hele doen en late voor oë gestel, op só ‘n manier dat niemand dit kan ontken nie. Almal sal moet erken: “Ja, inderdaad, dit is wat ek gedoen het, dit is hoe ek gelewe het.” Dit blyk dus dat alles – woorde, dade en gedagtes – sorgvuldig geregistreer is. En die gerig vind dan ook plaas volgens die werke! Laat ‘n mens nadink voor jy praat of doen…

Maar, broers en susters, ons Regter is ook ons Redder; Hy is my Regter wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem het. Deur Hom is daar ook nog ‘n ander boek: die boek van die lewe, die register met die name van die gelowiges.  

Met hierdie twéé boeke sien ons sowel God se regverdigheid as sy barmhartigheid. Regverdigheid in die sin dat elkeen ontvang na sy werke; barmhartigheid omdat sekeres deur God uitverkies en deur Christus verlos is. Die verwysing na die boek met elkeen se werke vermaan ons om trou te wees; ons kan nie met die genade speel nie, want net dalk vérspeel ons dit… Die verwysing na die lewensboek is ‘n bemoediging vir die gelowiges: jou naam staan opgeskryf in die registers van die burgerlike stand van die hemelse Jerusalem.

Gemeente, die afsluiting van die duisend jaar hoef dus nie vrees by ons in te boesem nie. Natuurlik, ook ons werke gaan aan die lig kom, alles, ook dit wat u in die verborgene gedoen het. Maar voordat die ewige oordeel uitgespreek kan word, word die boek van die lewe voor die Regter ingeskuif, en daarin staan jou naam, gedoop in die bloek van die Lam. Vir die goddeloses wag die poel van vuur, die tweede/ewige dood. Vir u en vir my, kinders van die Here deur Christus se genade, wag die hemelse blydskap en heerlikheid. Daarna mag ons uitsien, broers en susters, as ons siek en oud is, maar ook as ons jong en sterk is, en die toekoms nog voor ons lê.

Christus kom weer om te oordeel oor die lewendes en die dooies. Al sien ons mekaar nooit weer nie, daar sal ons weer saam wees. Dan sal Christus die heerskappy oorgee aan die Vader; die duisend jaar is dan verby, dan kom die ewigheid!

Amen 

Liturgie (aand) 

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 101:1, 2, 4 en 6
Gebed
Lees:  Efesiërs 4:1-12
      Openbaring 20
Kollekte
Sing Skr. 45:1, 3, 7 en 10 (Openb. 21: nuwe Jerusalem; vers 10 ook toepaslik by kollekte)
Teks: HK, Sondag 19
Preek
Amenlied Skr. 43:1, 4, 5 en 6
Gebed
Belydenis van geloof
Instemming- en slotsang Ps. 121
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)