Matthéüs 7:24-27
Ds HH van Alten - Sondag 18 Februarie 2007
Lees: Deut.18:15-19, Matt. 4:12-5:2, Matt. 7:24-8:4
Teks: Matt. 7:24-27
Sing: Sien liturgie
Tema: Jesus gee op die berg die radikale wet van die Koninkryk
- Die dwaasheid om jou te verwonder en weg te draai
- Die wysheid om te luister en te doen
Geliefde gemeente van Jesus Christus, ons Here,
Is u ‘n volgeling van Jesus Christus? Niemand van ons sal op hierdie vraag ontkennend wil antwoord nie; ons is immers volgelinge van Jesus Christus, ons is immers christene! Goed, maar weet jy ook wat dit alles behels? Het jy ook die konsekwensies hiervan deeglik bereken? Want sien, om christen te wees behels radikale konsekwensies! Niemand kan Jesus vir 50, of 80 of selfs 90% volg nie. Nee, Jesus Christus soek radikale volgelinge! Ons praat dikwels van radikale moslems, en dan dink ons aan mense wat bereid is om vir hulle geloof selfmoordbomaanvalle uit te voer, en wat mekaar oproerig maak met krete van ‘n heilige oorlog. Maar besef u dat christen-wees nog meer radikaal is? Om volgeling van Jesus Christus te wees vra alles!
En gemeente, Jesus maak dít alreeds vanaf die allereerste begin van sy bediening baie duidelik. Kom ons kyk daarna soos wat Mattheus dit in hoofstuk 4 beskryf het.
Jesus het sopas verneem dat Johannes die Doper gevange geneem is. Vir Jesus is dit die teken… Johannes het immers gepreek van iemand wat “na my sal kom”. En noudat hierdie voorloper uit die verhaal teruggetrek word, is dit tyd vir die aangekondigde hoofrolspeler om na vore te tree. Gevolglik kom Jesus ook in aksie; ons lees in vers 17 dat Jesus van toe af begin preek het. En in sy prediking neem Hy die boodskap van Johannes die Doper letterlik oor: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” – dit is presies wat Johannes ook geleer het. Elkeen kan hoor dat Jesus die draad opneem wat Johannes, vanweë sy arrestasie, moes laat lê het. Daaruit blyk dat Hy Johannes se opvolger is. Elkeen wat dus goed na Johannes geluister het, kon geweet het: Hier is die Een wat ná Johannes sou kom, hier is die Sterkere, hier is die Een wat met die Gees sou doop.
Maar dit bly opvallend stil rondom Jesus. Ons lees nog niks van iemand wat hom by Jesus voeg nie. Inteendeel, Jesus moet hulle self gaan haal. Simon, Andreas, Jakobus en Johannes word deur Jesus geroep om Hom te volg. En saam met hierdie dissipels gaan Jesus dan oppad om ook die volk op te soek. Ons lees in vers 23 dat Jesus deur die hele Galilea rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en kwaal genees het. ‘n Baie ongewone werkwyse – vir joodse leraars was dit immers nie gebruiklik om langs die dorpe en stede te trek nie. Maar Jesus wys hier dat Hy werklik die Here is wat na sy volk toe sou kom, dat Hy werklik die Messias is wat tot by die mense sou kom.
En op hierdie punt begin daar dan ook beroering onder die volk kom, die volk begin reageer. Jesus se bekendheid en gewildheid neem toe. Waar sy prediking aanvanklik skynbaar geen (of weinig) effek gehad het, sien ons nou hoe die skares toestroom. Ons lees in vers 24 hoe die gerug aangaande Hom oor die hele Sirië versprei is. Selfs buite die grense van Israel word Jesus bekend. Hier gaan dit waarskynlik oor Jode wat buite die grense van Israel gewoon het, en wat van Jesus se prediking en wonderwerke gehoor het en daarop reageer. En dan sê Mattheus in vers 25: “En groot menigtes het Hom gevolg…” Van oral af kom die mense na Jesus toe. Gelukkig, dink ons. Die reaksie waarop ons gehoop het, het gekom; die volk soek hulle Messias op.
Maar, broers en susters, Jesus reageer anders. Hy het sopas elke siekte en kwaal onder die volk genees, en hoe mooi was dit nie! Daarmee het Hy gewys dat Hy die Een is wat God se herstel vir die volk kom bring, dat Hy nuwe lewe gee; die gebroke lewe kom maak Hy nuut! Dit is nie verniet dat die skare Hom gevolg het nie… Maar, nadat die skare saamgestroom het, blyk dat Hy nou ook iets van húlle verwag. Hulle is getrek deur die ervaring van sy wonders, maar nou trek Hy hulle ook verder saam in sy spoor. Hulle kan nie maar vryblywend na Hom toe kom nie, hulle kan nie maar vryblywend bly toekyk nie; nee, nou moet hulle Hom begin volg, nou moet hulle sy leerlinge word! Om die koninkryk binne te kan gaan, moet hulle nou ook werklik agter Hom aangaan!
En daarom vat Hy hulle saam na die berg – soos wat die volk van God eeue gelede by die berg Sinai vergader het om daar die wet van God te hoor, die riglyn van hulle lewe met die Here, só vat Jesus nou die skare saam na die ‘Jesus’-berg – die bekende berg waar Jesus dikwels vertoef het – om dáár aan hulle die wet van die Koninkryk te gee, om vir hulle te leer wat dit beteken om sy volgeling te wees. Dit is vir Jesus nie genoeg dat die skare toegestroom het nie; nee, hulle moet nou ook radikale volgelinge word.
Nadat Jesus gaan sit het – terloops, dit was die normale houding vir ‘n meester wat sy leerlinge wou onderrig – het sy dissipels na Hom toe gekom, en het Hy hulle begin onderrig. Gemeente, hierdie onderrig was nie slegs bedoel vir die dissipels wat na Jesus toe gekom en waarskynlik by sy voete gaan sit het nie; nee dit was vir die hele skare bedoel; hulle almal moes sy volgelinge word. Maar tog wys hierdie opstelling – Jesus wat sit, en die dissipels wat rondom Hom plek ingeneem het – dit wys wat Jesus van die skare verwag. Hy gee in die dissipels ‘n voorbeeld aan die skare watter houding hulle moet aanneem om goeie dissipels te word: kom na My toe en leer van My!
En dan volg, vanaf Matt. 5:3 tot aan die einde van hoofstuk 7, die sogenaamde bergrede, die radikale wet van die Koninkryk. Met gesag leer Jesus sy dissipels en die skare hoe hulle Hom behoort te volg, wys Hy aan hulle die weg na die Koninkryk. Voordat ons in die komende weke na die inhoud van die bergrede gaan kyk, wil ek vandag saam met u kyk na die slotakkoorde van hierdie indrukwekkende rede, verse 24-27. Met ‘n kort gelykenis stel Jesus sy hoorders hier voor ‘n keuse: wat maak julle met alles wat julle sopas gehoor het? Wat doen julle met My radikale wet?
Tema: Jesus gee op die berg die radikale wet van die Koninkryk
- Die dwaasheid om jou te verwonder en weg te draai
- Die wysheid om te luister en te doen
1. Jesus eindig die bergrede met ‘n kort gelykenis waarin Hy die mens vergelyk met die bouer van ‘n huis. Jesus gebruik hierdie beeld om aan te dui wat elkeen van ons met ons lewens doen. Immers, elke mens is besig om ‘n lewenshuis op te bou, ons is almal bouers, almal van ons is besig om iets op te bou… en dít is opsigself nie verkeerd nie. Inteendeel, van ons word gevrá om te bou. En sommige is oënskynlik baie suksesvol in hulle bouwerk, ander maak ‘n gemors daarvan; sommige bou uiterlik groot welvaartshuise, ander se huise bly armoedig.
Maar, gemeente, vir Jesus is nie bepalend hoe ons huis lyk nie; ja, vir ons is dit baie keer wel so, ons meet die lewens van mense dikwels aan wat ons sien, aan sukses en mislukking, aan welvaart en armoede. Maar Jesus onderskei nie tussen suksesvolle en mislukte lewens nie; Jesus vra nie wat ons met ons lewens gedoen het, en hoe geslaagd ons lewenshuis is nie. Nee, Hy vra dieper deur, Hy wil weet waarop ons lewenshuis gefundeer is! Hy vra dus nie wát ons gebou het nie; en u sal ook sien: in die gelykenis gaan dit nêrens oor die huise wat gebou is nie, maar wel oor die fondament. Dus nie wát ons gebou het nie, maar waaróp ons gebou het! Die vraag wat Jesus stel is: Is jou lewe veilig op die fondament waarop jy gebou het, of word jou lewe bedreig?
En die rede hoekom Jesus hierdie vraag stel, is omdat alle lewenshuise, alle lewens van mense, bedreig word deur die geweld van die oorstroming. Alle menselewens word bedreig deur ‘n onverwagse ramp. Jesus waarsku dus vir wat mense eintlik nie verwag nie, en waarmee hulle ook nie rekening hou by die bou van hulle lewenshuis nie: en dit is die ramp van die gerig van God wat, sonder aansien van die persoon, oor alle lewens sal gaan. God se regverdige oordeel kom oor elke menselewe, daardie oordeel kom oor wat elkeen gebou het, of dit nou onder mense as geslaagd beskou word of nie… En as daardie oordeel kom, is jou lewenshuis dan veilig, of word dit bedreig deur ‘n groot val? Dit is nie ‘n algemene vraag nie, broer en suster, dit is ‘n vraag vir jou persoonlik: waarop staan jou lewenshuis? Die gebou van jou lewe wat jy besig is om op te trek – waarop is dit gefundeer? ‘n Kritieke vraag…
Maar wat is dan die fout van die man wat op sand gebou het? Dit is tog nie so vreemd om op sand te bou nie? Die man uit Jesus se gelykenis is ‘n goeie bouer; hy bou op goeie sandgrond, ‘n stewige bodem. En inderdaad, dit is goed genoeg vir hierdie lewe, en vir sy lewenshuis hier. Hierdie man het net een probleem: hy het nie rekening gehou met die ekstreme omstandighede wat gaan kom nie: die orkaansterkte wind gepaardgaande met ‘n geweldige oorstroming.
Natuurlik, teoreties gesproke kan so ‘n ramp kom, maar wie hou nou rekening met so ‘n onwaarskynlike risiko? Gemeente, so is daar baie mense wat baie mooi en suksesvol hulle lewenshuis bou, maar wat nie rekening hou met die komende gerig van God nie. Vir hierdie lewe is hulle huis stewig – dit is nie die probleem nie – maar hulle huise hou nie stand wanneer die Koninkryk van God finaal kom nie. Hulle het nie hiermee rekening gehou nie, hulle het nie die risiko van God se oordeel in hulle lewens bereken nie. En juis dít word hulle ondergang. Hulle was nalatig. En die gevolge is dodelik, want “die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot.” Hierdie mense se lewenshuis, hoe mooi en suksesvol dit ook al is, sal nie standhou wanneer die laaste oordeel kom nie. En die probleem is nie die huise nie, broers en susters, o nee, daaraan skort by baie mense niks nie. Nee, dit is die fondament! Dáár lê die probleem!
“En toe Jesus hierdie woorde geëndig het, was die skare verslae oor sy leer…” (vers 28) Tereg, “want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie.” Die wet van die Koninkryk, soos Jesus dit sopas in die bergrede uiteengesit het, was vir die skare indrukwekkend; die Wetgewer van die Koninkryk was nog indrukwekkender. En die skare was verslae, verstom…
Gemeente, dikwels roep die skare se reaksie ons bewondering op – dit is tog pragtig as ‘n mens só op Jesus se onderrig kan reageer. En daar is inderdaad iets bewonderingswaardig in hulle reaksie. Maar daar is ook ‘n groot tekort in hierdie reaksie. Want Mattheus sê, merkwaardig genoeg, naamlik niks oor die feit of die skare nou ook die wet van die Koninkryk gaan doen het nie. Die skare het gedink dat hulle sopas die wonderlikste preek in hulle lewe gehoor het, en tereg, maar Jesus het dit nie gepreek om bewonder te word nie; Hy het dit gepreek om gehoorsaam te word! Hy het dit gepreek sodat die gesag wat die mense daarin herken het, ook in hulle lewens gerealiseer kon word! Die verslaenheid van die hoorders was ‘n gat in hulle lewens wat gevul moes word met gehoorsaamheid en navolging!
Maar daarvan hoor ons niks nie. Die skare was verslae, hulle het die verskil met die skrifgeleerdes gesien, maar hulle het weggegaan en dit het nie verder ‘n invloed op hulle lewens gehad nie. Hulle het verder gegaan om hulle lewenshuis te bou, uiterlik selfs ‘n baie mooi en suksesvolle lewenshuis, maar uiteindelik nie ‘n lewenshuis wat bestand is teen die oordeel van God nie. Nie ‘n lewenshuis wat geskik is om die Koninkryk te kan ingaan nie. Die skare het nie rekening gehou met die radikale eise van die Koninkryk nie, hulle het nie raakgesien dat Christus meer as verwondering vra nie. Hy het hulle lewe gevra, hulle lewe agter Hom aan, waar daardie pad ook al voer…
Gemeente, so maklik maak die wet van die koninkryk ons verslae – en ons hoor dit soms as gelowiges na die bergrede luister: sjoe, dit is radikaal… “As jou regteroog jou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af…” Of: “as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe…” So maklik is ons verwonderd oor hierdie soort uitsprake, en ons twyfel of ons dit sal kan doen. Maar intussen gaan ons weg en vergeet ons daarvan. So graag wil ons, soos die skare, agter Jesus aangaan, maar die radikaliteit wat Hy van sy leerlinge vra, gaan by ons verby. En intussen bou ons pragtige lewenshuise, en die mense bewonder ons daarvoor, maar wanneer die orkaan en die vloed sal kom, kan moontlik blyk dat ons nie daarmee rekening gehou het nie.
Hoe dwaas kan ons tog wees om ons te verwonder oor die Here Jesus en sy radikale leer, en dan weg te draai asof dit niks beteken nie, asof dit niks aan ons gedoen het nie. En, gemeente, dan moet ons nie buitentoe kyk om die dwase te sien nie; nee, hulle is hier binne, kerkmense, mense wat opgegroei het in die leer van Christus, mense wat hulle geloof in Jesus en sy radikale leer bely het, en dan tóg elke sondag by die kerk uitgaan, elke keer die Skrif toemaak, elke aand gaan slaap – verslae, maar sonder om die keuse te maak om Jesus Christus in alles, radikaal, te volg. Gemeente, laat ons verslaenheid ons nie verlam nie, maar laat ons luister én doen!
Daarop let ons vervolgens: die wysheid om te luister en te doen.
2. Die teëbeeld van die man wat sy huis op die sand bou, is die man wat op die rots bou. En let op, gemeente, dit gaan hier nie oor iemand wat ‘n ander bouterrein gekies het nie. Nee, dit is een en dieselfde bouterrein, maar hierdie man lê sy fondamente dieper, hy grawe deur tot op die rots wat onder die sandlaag loop. Dit moes ‘n bietjie verregaande gelyk het om ‘n eenvoudige oosterse woning so te veranker, maar hierdie wyse man berei hom voor op die vuurproef, hy berei hom voor op die ekstreme omstandighede wat gaan kom. En daarom investeer hy baie in die diepgang van sy fondament. Jesus gebruik hierdie beeld om te dui op dié mens wat sy woorde hoor én dit doen! Hierdie mens het goed nagedink, hy het leer raaksien dat geen lewenshuis, geen menselewe, op sy eie voor God kan standhou nie, en daarom veranker hy sy hele lewe in die eerbied vir Jesus, sy Heiland, en in die liefde en naleef van sy gebooie. Hy het diep gegrawe om sy lewenshuis stewig te fundeer!
Broers en susters, hoekom bly hierdie huis staan wanneer die oordeel kom? Omdat die rots dit vashou en dra. In die Ou Testament word die Here dikwels die Rots van Israel genoem. Hy dra sy volk. Net so belowe Jesus nou dat sy leer, dit wat Hy hier in die bergrede geleer het, die rots is vir die kerk van die nuwe verbond en daarom ook vir elke gelowige. In die navolging en nalewing daarvan staan die kerk stewig, staan elke gelowige se lewenshuis stewig. Wie Jesus se gebooie, die wet van die koninkryk, ter harte neem vir die inrigting van sy lewe, mag sê: “Hy is my Rots, ek sal nie vrees nie, ook al kom daar geweldige waters op my af.” Let wel, gemeente, dit is nie ons eie gehoorsaamheid wat ons stewig laat staan nie, maar dit is die Rots waarop ons in geloof bou, wat ons vashou! As ons lewens in Christus veranker is, dan deurstaan dit die gerig en erf ons eendag die koninkryk van die hemele!
In teenstelling tot die verwonderde skare, sien ons dit so pragtig in die geskiedenis van hoofstuk 8:1-4. Jesus het die bergrede voltooi en juis toe Hy van die berg afkom, kom daar ‘n melaatse na Hom toe. Die eerbiedige manier waarop Hy voor Jesus neerkniel staan in skrille kontras met die skare wat verslae was, maar intussen eenvoudig met hulle lewens voortgegaan het. Die skare was verwonderd, hulle het hulle voortdurend afgevra wie hierdie man tog kan wees, en waar Hy sy gesag vandaan kry, maar die melaatse glo eenvoudig in Jesus se woorde. Immers, wanneer hierdie Jesus gekom het om die wet en die profete te vervul (soos Hy in 5:17 gesê het), dan is dit vir Hom tog ook moontlik om te doen wat geen priester in die Ou Testament kon doen nie, naamlik om ‘n melaatse te reinig. Die melaatse vertrou dat Jesus meer is as Moses, en daarom ook meer kan doen.
Vervolgens raak Jesus die melaatse aan, Hy trek die man se onreinheid as’t ware na Homself toe, en sy wil is genoeg om die melaatse in ‘n oogwink te genees. En wanneer Jesus die melaatse daarna opdra om dadelik na die priester te gaan en die offer, wat Moses ingestel het, te gaan bring, dan gehoorsaam hy. Hy is nie soos die skare wat ook almal hulle sieke en krankes gebring het en wat ook almal genees is, maar wat nog steeds maar net verslae gebly het nie. Nee gemeente, hierdie was ‘n wyse man! Sy lewenshuis was nie mooi nie, sy lewenshuis was nie suksesvol nie – hy was immers ‘n verworpene in Israel – maar sy lewenshuis was goed gefundeer. Hy het na Jesus geluister, hy het in Hom geglo, en Hy het Hom gehoorsaam. Hy is die wyse man wat hoor en doen – hy het Jesus se onderrig gehoor, hy het geweet dat slegs hier genesing is, en dan draai hy nie weg wanneer Jesus hom klaar genees het nie; nee, dan gaan doen hy blindelings wat Jesus hom opdra. Sy lewenshuis sal vasstaan wanneer die oordeel van God kom, hy sal ingaan in die Koninkryk van die hemele.
Broers en susters, wanneer ons in die komende weke na die inhoud van die bergrede gaan kyk, wanneer ons na Jesus se wet vir die koninkryk gaan luister, dan gaan daar radikale gebooie op ons afkom, dan gaan daar van ons ‘n radikale gehoorsaamheid geëis word. En die vraag is: hoe gaan ons daarop reageer? Ons kan verwonderd wees en intussen voortgaan sonder dat dit ons lewens raak; en hoe dikwels doen ons dit nie: “Ja, die preek was mooi”, maar wanneer Maandag kom, is dit al lankal vergete; of ons praat mooi oor die goedheid en genade van die Here, maar oor die sigbaarheid daarvan in die lewe moet ons maar liewer swyg.
Of ons kan Jesus se radikale onderrig ter harte neem, en vir altyd in ‘n veilige huis woon. Jesus is immers die profeet waarvan Moses alreeds in Deuteronomium 18 gesê het dat Hy sou kom; Hy maak aan ons bekend alles wat God Hom beveel het. En God waarsku ons: “… die man wat nie luister na my woorde wat Hy in My Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis” (Deut. 18:19). Broers en susters, laat ons daarom soos leerlinge by die voete van Jesus gaan sit, laat sy radikale koninkrykswet in ons harte geskrywe word, laat ons daarvolgens lewe, al kos dit ook om in eie vlees te sny. Laat ons dit ons kinders leer, ook julle klein dogtertjie wat vanoggend gedoop is. Ons werk nie in die eerste plek dat ons kinders ryk en gemaklik hier op aarde kan lewe nie; nee, ons leer hulle om radikale volgelinge van Christus te wees, ons leer hulle dat dit heilsaam is om radikaal te wees. Só mag jy weet dat jou lewenshuis veilig sal staan in die oordeelsdag, so mag ons as kerk weet dat ons stewig staan – en die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots!
Amen
Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 108:1, 2 en 4
Wetslesing
Sing as antwoord en voorbereiding op gebed Ps. 143:1, 2, 8
Gebed om skuldbelydenis en seën oor erediens
Doopsformulier en –bediening
Dankgebed + sing Skr. 2:2
Lees: Deuteronomium 18:15-19
Mattheus 4:12-5:2
Mattheus 7:24-8:4
Sing Skr. 2:3-5
Teks: Matt. 7:24-27
Preek
Amenlied Ps. 62:1, 4, 5 en 8
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 73:7, 8 en 11
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
(kyk in preek)