Sondag 16
Ds HH van Alten - Sondag 21 Januarie 2007
Lees: Gen. 3:22-24, Lev. 16:20-22, Mark. 1:1-13
Teks: Sondag 16 HK
Sing: Sien liturgie
Tema: die dieptepunt van Christus se vernedering is die hoogtepunt van ons verlossing
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Ons gaan aan die einde van hierdie erediens weer saam met mekaar die Apostoliese Geloofsbelydenis sing. En terwyl u dit sing, en ons by die gedeelte kom oor Jesus se sterwe, begrafnis en neerdaling na die hel, moet u goed let op die musiek. Temmingh, die persoon wat die melodie vir die geloofsbelydenis geskryf het, het baie goed verstaan waaroor dit gaan, hy het baie mooi gelet op die woorde en die inhoud van die woorde, toe hy die musiek daarby geskryf het.
Hy begin naamlik met hoë note wanneer dit gaan oor ons Vader, die Skepper van hemel en aarde, en die hoogste note kom as ons sing van Jesus Christus, sy eniggebore Seun – die meeste van ons sukkel om daardie note te bereik. Maar van daar af raak die note al hoe laer: gebore uit die maagd Maria, gely onder Pontius Pilatus, gekruis, gesterf, begrawe en neergedaal na die hel – let maar daarop as ons dit sing. Soos wat ons dieper afdaal in Jesus se lyding en vernedering, hoe laer raak die note, totdat ons die dieptepunt bereik in Jesus se sterwe, begrafnis, en neerdaling na die hel. En van daar af gaan ons weer die hoogte in wanneer dit gaan oor Christus se opstanding en hemelvaart. U sien dus, die musiek, die note wat ons sing, is nie maar lukraak gekies nie; nee, dit is vol betekenis, dit komplementeer die woorde.
Dit is belangrik om te sien hoe pragtig die musiek weerspieël wat die woorde sê. Die dieptepunt van Christus se vernedering, waaroor Sondag 16 gaan, word weerspieël in die lae note wat ons sing. En tog, gemeente, is die dieptepunt van Christus se vernedering terselfdertyd ook die hoogtepunt van óns verlossing. Die lae note gee iets weer van Christus se vernedering, die diepte daarvan, maar hier in ons harte mag dit juig, want juis dáárdeur is daar vir ons versoening en nuwe lewe. Deur daardie diepe vernedering mag ons opklim tot die hoogtepunt van ons verlossing! Dit is dan ook die tema vir die preek van vanmiddag:
Tema: die dieptepunt van Christus se vernedering is die hoogtepunt van ons verlossing
(Lees Genesis 3:22-24)
Gemeente, die sondeval het meegebring dat die lewe van harmonie en vrede met God, met mekaar, en met die natuur, iets van die verlede geword het. Die mens is uit die paradys verban, en God self het daarvoor gesorg dat hulle nie meer daarna toe kan terugkeer nie. God het naamlik gerubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak – só het ons gelees in Genesis 3:24. Cherubs was engele wat as as’t ware as lyfwagte van God opgetree het. Ons kom hulle ook weer teë op die deksel van die ark, en op ander plekke in die bybel.
Die weg terug na God word dus deur engele bewaak; en die engele word op dié manier ‘n bedreiging vir die mens, niemand kan dit waag om hulle versperring te probeer deurbreek nie. Die engele vorm ‘n dodelike gevaar vir elkeen wat na die paradys wil deurdring. Gemeente, dit is die ellendige gevolge van die sondeval.
Maar wat in die een rigting nie moontlik is nie, is in die ander rigting wel moontlik. Die mens kan nie terug na God en die paradys nie (die mens wil nie eens nie), maar die Here gaan wel na die mens toe, Hy wil met die mens verder gaan. Hy gee aan hulle uitsig op terugkeer, op redding. Hy wys vir hulle dat alles nie verlore is nie, maar dat daar die moontlikheid is dat die paradys weer vir die mens oop kan gaan.
En hiervan getuig alreeds die moederbelofte in Genesis 3, hiervan getuig ook sy beloftes aan Abraham, hiervan getuig sy redding van die volk uit Egipte, maar hiervan getuig by uitstek die groot Versoendag, waarvan ons net hierna in Levitikus 16 sal lees. Op hierdie dag, wat eenmaal in ‘n jaar gevier is, het die hoëpriester die allerheiligste binnegegaan, het hy – met vrees en bewing – toegetree tot God se woonplek. Op hierdie dag het die hoëpriester agter die voorhangsel ingegaan en die bloed van die sondofferbok op die versoendeksel gesprinkel, die versoendeksel waaroor die cherubs as ‘lyfwagte’ gewaak het. Die hoëpriester het, as verteenwoordiger van die volk, op hierdie dag as’t ware weer die eerste tree in die paradys gesit.
Hoe was dit moontlik? Omdat daar versoening gedoen is, gemeente, versoening vir die sondes van die volk. Kom ons kyk hoe hierdie versoening plaasgevind het.
(Lees Levitikus 16:20-22)
In die paar verse wat ons nou uit Levitikus 16 gelees het, het ons waarskynlik van een van die mees opvallende handelinge tydens die groot Versoendag gelees, naamlik die wegstuur van die bok na die woestyn. Maar dis belangrik om te sien dat hierdie wegstuur van die bok deel was van ‘n groter versoeningshandeling. Dit het naamlik nie slegs oor hierdie een bok gegaan nie. Nee, u kan in Lev. 16:5 lees dat daar twee bokramme as sondoffer moes wees. Hierdie twee bokramme het sáám die sondoffer gevorm, hierdie twee bokramme moes sáám dien as versoening vir die sondes van die volk. Die een bok moes geslag en as sondoffer berei word en die ander bok moes die woestyn ingestuur word.
Maar, hoe het die volk geweet watter een geslag en watter een weggestuur moes word? Wel, vers 8: “… Aaron moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir die HERE en een lot vir Asásel.” Oor wat Asásel presies beteken, en waarop dit dui, is al baie geskryf en gespekuleer. Sommige is van mening dat Asásel ‘n pleknaam is, dus ‘n spesifieke plek waarheen die bok weggestuur is. Ander weer is van mening dat hierdie woord die betekenis het van “om weg te stuur”, maar as ons dit in verse 10 en 26 só vertaal, dan maak die verse glad nie meer sin nie. Nee, hoogswaarskynlik is Asasel die naam van ‘n woestyndemoon, en kan ons daarin ook ‘n verwysing sien na die satan self.
Dus, as ons terugkeer na die twee bokke: een moes vir die Here geoffer word, en die ander moes met die sondes van die volk weggestuur word na die woestyn om daar aan die satan oorgelewer te word. Die eerste bok is geslag om versoening te doen vir die sondes van die volk, en op die kop van die tweede bok is die reeds versoende sondes – let op: die rééds versoende sondes – neergelê, en hy is weggejaag die woestyn in.
Maar onthou, broers en susters, hierdie twee bokke saam was die één sondoffer. Eintlik was die gedagte dat net een bok beide aksies moes ondergaan: én geslag word, én weggestuur word. Maar aangesien die bok wat geslag is, dood was, en nie meer weggestuur kón word, is daarvoor ‘n tweede bok gekies. Aaron het eers sy hande op die kop van hierdie bok gelê, vervolgens het hy belydenis gedoen van alle ongeregtighede en oortredinge van Israel, en daarna is hierdie bok deur ‘n man wat gereedgestaan het, weggestuur na die woestyn toe. En – so lees ons in vers 22 – “so moet die bok dan op hom al hulle ongeregtighede na ‘n woeste land wegdra; en hy moet die bok in die woestyn los.”
Gemeente, daar in die woestyn, daar was ‘n mens buite die kamp van Israel, dit wil sê buite die afgebakende terrein waar die volk hulle rondom die woonplek van die God van die lewe versamel het. Daar buite was die plek waar die dooies begrawe is, daar buite moes ook almal bly wat melaats en onrein was, daar buite het die gebied van die heidendom en van die satan begin. Daar buite het nie meer die Gees van God met sy reddende krag gewerk nie, maar daar was die bose geeste werksaam; Asasel, die woestyndemoon… Eensaamheid en verlatenheid het op daardie sondebok gewag, en uiteindelik… Ja, die dood was onvermydelik in daardie woeste land; wilde diere was ‘n voortdurende bedreiging in die woestyn. En dáárheen word die sonde verban. Die Here sê as’t ware vir die sonde: “Gaan weg van my volk; gaan terug na jou oorsprong, die satan. En bly daar!”
Gemeente, só is daar versoening gedoen vir die sondes van die volk. Die sonde is betaal en uit die midde van die volk verban, en dáárom kon die hoëpriester weer die eerste treetjie sit in die woonplek van God. God self het dit moontlik gemaak. Natuurlik, broers en susters, was dit alles slegs ‘n voorafskaduwing van die werklike versoening wat sou kom in Jesus Christus, en daarom wil ons nou ook saam uit Markus 1 lees. Maar hou die lyn vas: die mens is uit die paradys verban, maar God maak dit moontlik dat, wanneer die sonde uit die midde van sy volk weggestuur word, die weg terug na die paradys weer oopkom. Terwyl u dié gedagte vashou, laat ons nou saam lees uit Markus 1:1-13.
(Lees Markus 1:1-13)
Ons sien in hierdie gedeelte hoe die hele Joodse land en die inwoners van Jerusalem uitgegaan het na Johannes die Doper, en almal is deur hom gedoop in die Jordaanrivier met belydenis van hulle sondes. En in daardie selfde dae kom ook Jesus, vanuit Nasaret in Galilea, om deur Johannes in die Jordaan gedoop te word. Opvallend is egter dat ons niks lees van belydenis van sondes by Jesus se doop nie. Ons lees dat Jesus gedoop word en – vers 10 – “dadelik toe Hy opklim uit die water…” Jesus word dus gedoop, maar dit is nie vir Hom nodig om skuldbelydenis te doen nie. Deur die doop assosieer Hy Homself met die volk, met die sondaars, maar Hy is wel skuldeloos onder hulle. En dit word vervolgens ook beaam wanneer die hemele skeur en die Gees soos ‘n duif op Hom neerdaal. En God self verklaar dan: “U is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.” Sondeloos word Hy deel van sy volk; volledig een met hulle … uitgesluit die sonde.
Maar let nou op die vervolg… Ons lees in vers 12 dat die Gees Jesus dadelik uitgedryf het in die woestyn. Markus gebruik hier ‘n werkwoord wat letterlik beteken: uitgooi, verwerp of verdryf. En dit is opvallend… Die volk kom hier na die Jordaan, bely hulle sondes, word gedoop, en keer vol hoop en verwagting terug na hulle woonplek; daar is vir hulle uitkoms van die sonde. Jesus egter word op staande voet (dadelik) uitgegooi; so asof hy geen verblyfspermit het nie, geen reg het om in die land te bly nie. Dit is, gemeente, asof die sondes wat deur die volk bely is en in die water van die Jordaan afgewas is, nou skielik op sy rekening geplaas word. Hy wat geen sonde gedoen het nie, sodat Hy dadelik uit die water kon opklim, Hy word nou dadelik uit die land gegooi en na die woestyn verdryf.
Gemeente, deur Johannes die Doper se optrede het die volk gekom tot ‘n houding van boetvaardigheid, soos dit ook vir die groot Versoendag voorgeskryf was. En net soos die onskuldige bok op die groot Versoendag al die sondes van die volk op sy kop gekry het en die woestyn in gestuur is, so word Jesus as’t ware met die las van die sondes, wat die volk sopas bely het, die woestyn in verdryf. Weg met die sonde, weg na die woeste en verlate woestyngebied, terug na waar jy vandaan gekom het, terug na die satan toe. Jesus, die sondelose, word in die woestyn uitgewerp met die sonde van die volk, en daardeur was dit vir die volk moontlik om terug te keer na hulle stad en woonplek, terug na die land van die Here, terug na die huis van die lewende God!
Gemeente, Jesus moes die woestyn in; veertig dae lank is Hy deur die satan versoek. Markus gee verder geen besonderhede oor die versoeking nie, maar ons weet vanuit die evangelie volgens Mattheus, asook Lukas, genoeg hiervan om te weet dat Jesus groot versoeking moes weerstaan. Hier sien ons alreeds iets van die onuitspreeklike angs, smarte en verskrikkinge wat ons Here Jesus tydens sy hele lewe op aarde, maar veral aan die einde tydens sy kruisiging, gedra het (ons het daarvan gelees in antw. 44 van die Kategismus). Iets hiervan ervaar Jesus alreeds reg aan die begin van sy bediening wanneer Hy in die woestyn uitgewerp word; reg aan die begin word Hy daaraan herinner dat dít is waarvoor Hy bestem was: verwerping, godverlatenheid… Hy is die sondebok!
Gemeente, dit is wat ons Verlosser ondergaan het. Hy het skaars die eerste treë in sy bediening gesit of God self – ja, want die Gees het Hom in die woestyn uitgewerp – God self herinner Hom daaraan wat sy taak op aarde was. Hy moes ly, Hy moes sterf vir ons sondes, Hy moes neerdaal na die hel, Hy moes van God verlate wees. Hoekom? Sodat elkeen wat glo, wat van harte berou het oor sy sondes, wat dit voor God bely, kan terugkeer na die Vaderhuis.
Gemeente, ons hoef nie rond te swerf in eensaamheid nie, ons hoef nie van God verlate te wees nie. Christus het dit gedoen! Hy is in die woestyn uitgewerp! Die nagmaalsformulier sê dit so pragtig: Hy het die vervloeking wat op ons was, op Hom gelaai om ons met sy seën te vervul. Aan die kruishout het Hy Hom na liggaam en siel, tot in die allerdiepste smaad en angs van die hel verneder. Toe het Hy uitgeroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” sodat ons deur God aangeneem en nooit meer deur Hom verlaat sou word nie.
Sien dit raak, broers en susters, die volk wat hulle sondes bely het en in die Jordaan gedoop is, kon terugkeer na hulle woonplek rondom die huis van die Here; die volk wat op die groot Versoendag ootmoedig voor God gebuig het, het nie nodig gehad om self die verlatenheid van die woestyn in te vaar nie, hulle was veilig in die leërkamp waar die Here gewoon het. Die mens wat vandag op sy knieë gaan en God om genade smeek, mag op grond van Christus se werk, terugkeer na die Vaderhuis! Daardie mens is oppad terug na die paradys.
Ons het gesien dat dit vir die mens self onmoontlik is om terug te kom in die paradys, maar God het uitgekom na die mens toe, agter hom aangekom, om hom terug te bring. Christus het mens geword, Hy het die woestyn ingegaan, sy lot was vir Asasel, vir die satan, sodat ons lot vir God kan wees, sodat u en ek weer aan God mag behoort. Ons wat glo hoef nie in die wildernis van hierdie wêreld rond te dwaal nie. En hoe dikwels doen ons dit nie aan onsself nie. Ons dink dat ons dit nie werd is om na God terug te keer nie; ons kyk na ons lewe, en dan weet ons dat ons die woestyn verdien, en dan hardloop ons met alle mag weg van God af, die woestyn. Of somtyds soek ons selfs doelbewus die woestyn van die lewe op; ons gaan soek die plesier op van die kroeë, die flieks, die disko’s; ons hardloop die woestyn van seksuele plesiertjies en huweliksontrou in; ons hardloop die woestyn van sonde in net om van God af weg te kom.
Gemeente, die sondebok het jou reeds voorgegaan. Christus is reeds die woestyn ingestuur; Hy het deur sy dood vir ons sondes betaal. Laat jou sondes daar in die woestyn, laai dit op Hom, laat dit daar, maar keer self terug na die veiligheid by God. Jou ou mens, ja, laat dit saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe word, maar wy jouself as dankoffer aan God toe! Glo in die diepte van Christus se vernedering, en besef só die hoogtepunt van jou verlossing!
Ons keer nog een keer terug na Markus 1, spesifiek vers 13. Ons sien daar vir Jesus in die woestyn, besig om te worstel met die versoekinge van die satan. Maar die satan kan Hom nie oorwin nie, Jesus is immers die sterkere waarvan Johannes die Doper in vers 7 gepraat het. En dan is daar twee interessante opmerkings aan die einde: “en Hy was saam met die wilde diere, en die engele het Hom gedien.” Gemeente, ons sien hier iets van die gevolge wanneer die lewe van God se kinders nuut word, ons sien hier alreeds iets van die terugkeer van die paradystoestand.
In die eerste plek word aan ons vertel dat Jesus sonder enige vrees tussen die wilde diere kon wees – só was dit ook in die paradys; toe was die diere nog geen bedreiging vir die mens nie, toe was Adam nog onderkoning wat aan elke dier sy naam gegee het. Iets daarvan keer alreeds terug by die Here Jesus, en so ook by elkeen wat in Hom glo. Nie dat leeus en krokodille en ander wilde diere geen bedreiging meer vir ons inhou nie. Maar wel dat ons herstel word in ons amp as onderkoning, dat ons die taak wat die Here ons gegee het hier op aarde mag nakom. Jy mag as gelowige die stryd teen die sonde en die sondige begeertes aangaan, jy mag in Christus se Naam oorwin, en dan mag jy in die lewe en werk van elke dag jouself aan Hom as dankoffer toewy.
In die tweede plek word aan ons vertel dat die engele vir Jesus gedien het – ons weet vanuit Genesis 3:24 dat dit ná die sondeval anders was. Toe het die cherubs vir Adam en Eva ‘n bedreiging ingehou, toe kon hulle vir die mens sy dood beteken. Maar nou sien ons hier die engele besig om Jesus te dien. En dit doen hulle ook vir elkeen wat in Jesus glo. Ons lees daarvan in artikel 12 van die Nederlandse Geloofsbelydenis: God het die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te dien! Deur Jesus Christus en sy werk, is die engele vir ons geen bedreiging meer nie, maar word hulle die boodskappers van die goeie nuus van die verlossing. En ook vir elkeen van ons persoonlik word die engele gegee, nie as bedreiging nie, maar tot beskerming. Soos ons lees in Psalm 91: “Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.”
Sien u hoe word die lewe nuut deurdat die sonde die woestyn in gestuur is, deur Jesus Christus die woestyn in gestuur is! Daar kom weer uitsig op ons taak hier op aarde, die werk wat jy môre weer op jou gaan neem. Daardie dagtaak word weer in ‘n groter perspektief geplaas as werk in die Koninkryk van God. En dan kry ons ook nog die bemoediging van God se goedgesinheid daarby wanneer Hy sy engele uitstuur om ons te dien. Vanuit die diepte van Christus se vernedering, mag ons met hoë tone opklim na die rykdom van die nuwe lewe: Ek glo in die Heilige Gees, ek glo aan ‘n heilige algemene, christelike kerk, die gemeenskap van die heilige, die vergewing van sondes, die opstanding van die liggaam en ‘n ewige lewe!
Amen
Liturgie (aand)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 3
Gebed
Teks: HK, Sondag 16
Sing Ps. 63:1, 5 en 6
Preek
Amenlied Ps. 107:2, 3 en 10
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Skr. 8:1, 4 en 5
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.
(kyk in preek)