Matthéüs 2:1-12
Ds HH van Alten - Kersdag 25 Desember 2006
Lees: Mattheus 2:1-12
Teks: Mattheus 2:1-12
Sing: Sien liturgie
Tema: Wees soos die wyse manne en vind die kindjie!
- Die wyses uit die Ooste
- Die wyses in Jerusalem
- Die wyses by die kindjie
Geliefde gemeente van Jesus Christus, ons Verlosser,
Altyd weer ‘n pragtige verhaal, die geskiedenis oor die drie wyse manne uit die Ooste. Ja, drie…? Ons weet nie of dit drie was nie. Deur die loop van die geskiedenis het die tradisie ontstaan dat daar drie manne was, op grond van die feit dat daar drie geskenke was – goud, wierook en mirre. Later is aan elkeen van die drie nog name ook toegeken. En ons kinderbybels het hierdie tradisie oorgeneem – ons ken die prentjies van die drie manne met hulle kamele.
Maar hoe dit ook al sy – of dit nou drie was of nie, is nie die belangrikste nie – hierdie het ‘n baie geliefde verhaal geword om tydens die Kerstyd te lees. Maar wanneer dit gaan oor die betekenis van hierdie verhaal – vir toe, maar ook vir vandag – dan raak dit effens moeiliker. Dit is nie so maklik om die boodskap van hierdie gedeelte goed vas te vat nie. Miskien dat die koms van die wyse manne ‘n boodskap bevat het vir Herodes en vir Jerusalem, dat hulle iets moes leer – ‘n deel daarvan is waar. Miskien dat die koms van die wyse manne ‘n boodskap bevat het vir Maria – daar sit sekerlik ‘n gedeelte van waarheid in. Maar is dit die kern? Want op so ‘n manier verdwyn die wyse manne op die agtergrond – hulle vervul slegs ‘n funksie om ‘n boodskap aan ander oor te dra.
Laat ons hulle daarom vandag van die agtergrond af weghaal en hulle op die voorgrond plaas. Wie was hierdie wyse manne, wat het hulle gedoen, waarby het hulle uitgekom? Ja, maar wat weet ons eintlik van hulle?, sal u miskien opmerk. U is reg, Mattheus vertel ons baie min. En tog is dit opvallend dat húlle, en nie Herodes of die Joodse geleerdes of die inwoners van Jerusalem nie, nee, dat hierdie geleerdes uiteindelik by die kindjie in Betlehem uitkom. Húlle vind Hom!
Tema: Wees soos die wyse manne en vind die kindjie!
- Die wyses uit die Ooste
- Die wyses in Jerusalem
- Die wyses by die kindjie
1. Die wyse manne uit die Ooste – waar uit die Ooste weet ons nie. Daaroor is baie gespekuleer en geskryf, maar ons kan nie met sekerheid sê nie. Miskien dat Mattheus ook doelbewus baie algemeen geformuleer het, omdat dit nie soseer van belang is presies waar vandaan hulle kom nie. Wat wel van belang is, is dat hulle uit die Ooste kom, want die Ooste was in daardie tyd die bakermat van die wysheid, daar in die Ooste was die ou kultuurlande van daardie tyd. Ons lees byvoorbeeld in 1 Konings 4:30 hoe groot die wysheid van koning Salomo was, en dit is dan opvallend om te sien dat die wysheid van die kinders van die Ooste as vergelykingsmateriaal gebruik word. Salomo se wysheid word dus vergelyk met dié van die Ooste om die grootheid daarvan aan te dui. Só belangrik was die Ooste as tuiste van die wysheid.
En dít, broers en susters, moet ook die manier bepaal waarop ons na die wyse manne kyk. Letterlik staan daar in die Grieks magoi – dus, magiërs of towenaars. Maar dan moet ons nie dink aan manne wat allerhande truuks gedoen het, persone met bo-natuurlike gawes nie. Nee, hierdie manne was wetenskaplikes, manne wat die heelal en die sterre bestudeer het, manne wat eeue se wysheid agter hulle gehad het. En laat ons asseblief nie met hoogmoed op hulle neerkyk nie asof dit maar primitiewe wetenskap was nie. Nee, hulle wetenskaplike vermoëns en akkuraatheid is verstommend. Ons het vandag nog tabelle van hierdie wetenskaplikes waardeur ons presies kan bepaal wanneer drieduisend jaar gelede daar ‘n volmaan of sonsverduistering was, of wanneer daar ‘n planeet verskyn het. Dit was egte wetenskaplikes…
En hierdie wyses uit die Ooste, waarvan Mattheus ons vertel, hulle het die sterre bestudeer. Nie op die manier waarop ons dit vandag in die Huisgenoot of ander tydskrifte vind nie – “die sterre voorspel” – dit is absolute onsin. Nee, op wetenskaplike manier het hulle het die sterrestelsel in verskillende lande en gebiede verdeel. En hulle het verbande gelê tussen die sterre en gebeurtenisse in die volkerewêreld. En op grond hiervan kon hulle sien dat die nuwe ster wat opgekom het, gedui het op die geboorte van ‘n koning in Israel.
Maar… dit was mos nie toegelaat nie? Die Here het dan so duidelik in Deuteronomium 4, en ook in Deuteronomium 18, verbied dat die volk hulle voor die sterre sou neerbuig en hulle met waarsêery sou ophou? Ja, broers en susters, maar dat dit nie toegelaat is nie, is nog iets anders as om te sê dat dit nie moontlik is nie… Die Here het sy kinders dit verbied – “julle moet na My luister, Ek het my openbaring aan julle gegee.” Maar, dit beteken nog nie dat daar geen verbinding is tussen die geskiedenis en die sterre nie… In elke geval, die Here gebruik hierdie wetenskap om tot die wyses uit die Ooste te spreek. Hy gebruik die sterre, Hy gebruik die boek van die natuur, om tot hulle te spreek. Die Here spreek die magiërs daar in die Ooste in hulle eie taal toe. En hulle herken hierdie spreke van die Here – daar is ‘n nuwe koning onder die Jode!
Maar gemeente, kom ons wees eerlik, dit alles is nog geen rede om op jou kameel te klim en ‘n lang en vermoeiende reis te onderneem nie. Die wyses kon mos maar eenvoudig kennis geneem het van hierdie nuwe ster en die boodskap daaraan verbonde? Maar nee, hierdie nuwe ster gee daartoe aanleiding dat hulle opstaan, en begin om ‘n lang en vermoeiende reis te onderneem. Hoekom? Omdat, broers en susters, hierdie manne in ‘n god geglo het! Ja, gebrekkig, daar het nog geweldig baie ontbreek in hulle beeld van die ware God, soos wat ons dit ken vanuit die Skrifte. Maar hulle het daarvoor oopgestaan dat Hy daar is, dat Hy tot ons kan spreek, en dat Hy eer verdien!
En dit is presies wat so baie mense vandag mis – ‘n openheid na God toe! Mense van vandag staan oop vir alles – alle nuwe idee’s, alle nuwe dinge – maar hulle is absoluut toe vir die moontlikheid van God. God kan spreek soos wat Hy wil in die boek van die natuur, God kan rampe en plae bring – en ons sien om ons heen hoe God se hand besig is: bomaanvalle in Irak, bure of kennisse wat beroof of aangerand word, hongersnood in die ergste graad in Afrika, orkane en aardbewings, oorloë en siektes – maar mense staan nie daarvoor oop om te sien dat Gód daarin tot hulle spreek nie, mense kom nie daardeur in beweging om na God opsoek te gaan nie. Mense is so besig met hulleself en die lewe hier, dat daar geen opening meer is vir die Allerhoogste God nie. En dít het die wyses uit die Ooste wel gehad. Wetenskaplikes – en nie hoe nie! – en tog was daar in hulle siel ‘n opening na die hoëre, na die meerdere, na God. En dít bring hulle in beweging!
Broers en susters, laat ons daardie opening in ons siel hê, laat ons oopstaan vir God. Ons kan so betrokke wees by die dinge van elke dag en by die sorge van die lewe, dat ons nie meer tyd kry om onsself vir Hom oop te stel nie, dat ons nie meer tyd kry om na die hemel op te kyk en die asemrowende sterrestelsel te bekyk nie. As wetenskaplikes het die wyses uit die Ooste dáárvoor tyd gehad, hulleself daarvoor oopgestel. En daarom gaan hulle na Israel om aan die koning van die Jode eer te gaan bring. Wees daarom soos die wyse manne, staan innerlik oop vir die God van hemel en aarde: Ek glo in God, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde – en vind so die kindjie in Betlehem, die Koning van jou lewe.
Ons let vervolgens op die wyses in Jerusalem.
2. So tref ons dan die wyse manne daar in Jerusalem aan. Natuurlik dat hulle na Jerusalem gegaan het, dit was immers die hoofstad van die joodse volk. Daar sou hulle tog sekerlik die nuwe koning teëkom?! Wel, broers en susters, die reaksie wat die wyse manne alom in Jerusalem ontvang het, moes vir hulle soos ‘n koue emmer water gewees het: “Waar is die koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys” – weinig reaksie…
Die Jode in Jerusalem het nie moeite gedoen om meer oor hierdie ster in die Ooste te wete te kom nie. Nee, dit is vir hulle ‘n opvallende berig, maar hulle neem dit nie ernstig op nie. Niemand daar in Jerusalem wat sê: “Verskoon my menere, ek het u hoor praat oor die ster; waaroor gaan dit, waarvandaan kom u?” nie. Nee, slegs wanneer Herodes reageer, dán word hierdie geboorteberig vir die Jode van belang. Want, ja, ‘n joodse koning – dit is ‘n bedreiging vir Herodes, die Edomiet, die afstammeling van Esau. En die Jode weet wat gebeur wanneer Herodes bedreig voel – hy sal nie skroom om die bedreiging met geweld te onderdruk nie. In sulke omstandighede wil die inwoners van Jerusalem hulle nie met die wyse manne uit die Ooste assosieer nie; in elk geval, wat kon hulle van heidense sterrekykers verwag? Nee, die inwoners van Jerusalem wil eerder in Herodes se goeie boekies bly – wanneer Herodes daarom ontsteld op hierdie berig reageer, dan is die hele Jerusalem saam met hom ontsteld (vers 3)! Jerusalem volg die reaksie van Herodes, ter wille van die vrede…
Herodes is dan ook die enigste een wat verdere stappe neem. Op sy inisiatief kom al die owerpriester en skrifgeleerdes bymekaar vir ‘n soort teologiese beraad. Terwyl die inwoners van Jerusalem nie daartoe gekom het om die berig van die wyse manne aan die Skrifte te toets nie, word hulle nou deur Herodes daartoe gedwing. En op sy vraag waar die Christus gebore sou word, kom ‘n eenparige en amptelike antwoord: te Betlehem in Judea – en hulle gebruik Miga 5 om hulle antwoord te onderbou.
En tog trek niemand uiteindelik saam met die wyse manne na Betlehem nie; niemand beskou dit as belangrik genoeg om hulle op hulle reis te vergesel nie. Hoekom nie?
Wel, vir Herodes, alhoewel hy die bedreiging gevoel het, was daar nog geen rede tot paniek nie. Kyk maar na Mattheus 2:7 – Herodes het die wyse manne in die geheim geroep en hulle na die tyd van die ster se verskyning uitgevra. En wat die wyse manne hom oor die tyd van die ster meegedeel het, het hom gerusgestel, want dit was duidelik dat die nuwe koning nog maar ‘n klein kindjie was – nog genoeg tyd om inligting in te win en, indien nodig, hierdie bedreiging uit te skakel. Geen rede vir Herodes om saam te gaan nie.
Maar ook niemand van die volk trek saam met die wyse manne na Betlehem nie. Selfs nie die leiers nie. Want, ja, hulle het baie goed die antwoord geken: Betlehem – hulle kon dit sonder moeite vir Herodes sê. Hulle het ook die Skrifte geken: Miga 5. En tog reageer hulle nie daarop nie, tog doen hulle niks daarmee nie. En om dit te kan verstaan, moet ons die konteks van Miga 5 goed raaksien. Want vir ons lyk dit na ‘n pragtige teks vir Kersfees: “En jy, Betlehem Efrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees…” Pragtig! Maar wat het dit vir die Jode beteken? Vir hulle was dit glad nie so pragtig nie. Vir hulle het hierdie vers beteken om die klok terug te draai, om weer van voor af te begin… Want Betlehem, ja, dit is waar Dawid oorspronklik vandaan gekom het, dit is vanwaaruit hy oorspronklik sy opgang gemaak het, sy tuisdorp. Vervolgens het hy toe eers koning oor Juda geword, in Hebron – sewe jaar lank. En ná die sewe jaar het hy koning oor die hele Israel geword, in Jerusalem! Jerusalem, dit is tog die setel van die koningskap van Dawid!? Ja, die owerpriesters en Skrifgeleerdes het geweet dat Miga van Betlehem gepraat het, maar hulle het niks daarvan gehou nie. Want dit het agteruitgang beteken, dit het ‘n terugkeer beteken na die nederige begin, dit het ‘n afgang beteken vir die koningshuis van Dawid, waarop hulle so trots was…
En tog was dit God se bedoeling – die huis van Dawid moes afgekap word, slegs die stomp van Isai moes oorbly – terug na die begin. En daaruit sou ‘n takkie uitspruit, ‘n loot uit sy wortels sou vrugte dra (lees maar Jesaja 11:1). Daar moes ‘n nuwe begin gemaak word… in Betlehem. Maar hierdie boodskap het die volk nie aangestaan nie – nie in Miga se tyd nie, ook nie in die tyd van die wyse manne nie. Die oproep in daardie boodskap, naamlik dat die volk hulle moes bekeer, dat hulle hulself moes buig voor hierdie nederige nuwe begin, dit het duidelik nie oorgekom nie. Gemeente, en daarom dat die leiers van die volk ook nie verder reageer op die navraag van die wyse manne nie.
Herodes bly dus by die huis, die inwoners van Jerusalem bly by die huis, die leiers van die kerk bly by die huis… Net die wyse manne uit die Ooste gaan oppad. Hoekom net hulle? Omdat hulle na die Skrif geluister het. Hulle het gehoor dat die Koning van die Jode in Betlehem gebore sou word. Nou ja, dan gaan hulle na Betlehem. So eenvoudig… Hulle het geluister na die Skrif, hulle het dit geglo en daarop gereageer. En dit was die probleem daar in Jerusalem. O ja, die Skrifte het nog oopgegaan, die Skrifte is nog ondersoek – anders sou die leiers ook nie so vinnig kon antwoord nie. Hulle het ook die historiese feitelikheid van Miga se profesie aanvaar, maar hulle kon nie in nederigheid glo dat dit ook só moes gebeur nie. Maar die wyse manne, nee, hulle het nie gely aan die historiese hoogmoed waaraan die leiers van die volk gely het nie. Hulle het nie moeite daarmee gehad om eenvoudig en nederig die pad te gaan wat die Skrifte hulle gewys het nie.
En dit is belangrik, broers en susters! Laat ons die bybel lees, die Skrifte wat vir ons die weg wys. Laat ons hierdie bybel ken, en laat ons gehoorsaam die weg volg wat hierdie Woord van God aan ons wys. So dikwels sukkel ons om onsself hieraan te onderwerp; so dikwels is daar dinge in die Skrifte wat ons net nie kan glo nie – wonders, profesieë, die eindtyd; so dikwels gaan die Skrifte nog oop, maar staan ons nie meer oop om werklik die stem van God te hoor nie. En so dikwels loop ons dan ook by Betlehem verby. Gemeente, wees soos die wyse manne uit die Ooste – ‘n voorbeeld vir die kerkvolk daar in Jerusalem, ‘n voorbeeld vir elkeen van ons vandag. Wees soos die wyse manne en vind die weg na Betlehem, wees soos die wyse manne en vind so die Koning van jou lewe!
Ons let ten slotte op die wyses by die kindjie.
3. U kan u self voorstel hoe die wyse manne moes gevoel het. Hulle kom bring die nuus van die geboorte van ‘n Koning vir die Jode, en die uiteinde daarvan? Hulle vertrek stoksiel alleen… Was hulle dan tog verkeerd? Het hulle dan tog verniet gekom? Maar, broers en susters, op daardie oomblik kom die Here hulle te hulp, en vertoon Hy weer die ster aan hulle. Hoe dit presies gewerk het, is moeilik om te sê, maar die ster gaan hulle voor en wys hulle presies waar hulle moet wees. En dit was vir die wyse manne ‘n geweldige bevestiging. Ons lees in vers 10 dat hulle hul, by die sien van die ster, met baie groot blydskap verheug het – ‘n ongewone uitdrukking om die blydskap van die wyses uit te druk.
Vervolgens vind ons die wyse manne in die huis by Maria en die kind – Josef word nie vermeld nie. Selfs Maria kry verder geen aandag nie. Nee, die aandag word ten volle gerig op die pasgebore Koning; soos die gewoonte in daardie tyd, val die wyse manne voor die Koning neer en bewys aan Hom hulde. Die Koning, so klein as wat Hy is, kry al die eer, die lof en die heerlikheid wat Hy verdien.
En as bewys vir hulle eer, voeg die wyse manne ook nog geskenke toe. Die Koning van die Jode kry geskenke van heidense wyses – ‘n belofte dat Jesus sy onderdane uit alle plekke van die wêreld sal vergader. Maar ook ‘n waarskuwing – want ons sien nêrens ‘n owerpriester of Skrifgeleerde met ‘n korreltjie goud in sy hand nie, en dít terwyl hulle wel die boodskap van sy geboorte ontvang het, en daarby ook nog deeglik bepaal is by die profesie van Miga. Die afwesigheid van die leiers en die inwoners van Jerusalem is ‘n voorteken van wat gaan kom, naamlik die uiteindelike verwerping van Jesus Christus deur die leiers en die volk.
Maar die heidense wyses is hier – en hulle voeg die daad by die woord deur aan hierdie Kindjie koninklike geskenke te bring – goud, wierook en mirre. Daarmee kan die Kindjie natuurlik niks doen nie. Maar, broers en susters, die wyse manne bring hier geskenke van geloof. Die geloof dat hierdie Kindjie wat in alle nederigheid gebore is, tóg – volgens die Woord van God – die Koning is, wat eendag so groot sal word dat Hy hierdie geskenke sal kan gebruik. Gemeente, die wyse manne uit die Ooste gaan ons hier voor in daadwerklike eerbewys aan die Koning. Nie net lippetaal nie, nie slegs woorde nie – nee, hulle gee hulle rykdom weg vir hierdie Koning. Daarmee bewys hulle dat hulle hele reis, hulle moeite in Jerusalem, hulle koms na Betlehem nie slegs nuuskierigheid was nie, maar ‘n opregte soeke na die Koning. Dit is as’t ware die proef op die som van hulle hele reis. En so word hulle sy onderdane, so begin hulle by Hom behoort – deurdat hulle iets van hulleself aan Hom weggee.
Broers en susters, dit is natuurlik nie so dat ons gawes ons by die Koning bring nie. Nee, deur ons oop te stel vir God, deur te luister na sy Woord, só kom ons by die Koning – en dit is genade. Maar dan kan ons nog steeds afstandelik bly staan, dan kan ons steeds veraf voel, wanneer ons dan nie ook aan die Koning alles aanbied wat ons het nie: Hy is ons Koning; nou ja, dan gaan ons ook aan Hom die eer bewys wat Hom toekom!
Laat daarom, as die proef op die som van ons toewyding aan die Koning, ook u geskenke volg. En dan kom dit uit wanneer ons hierna ons kollekte gaan gee, dit kom uit in ons vrywillige bydraes, dit kom uit in die manier waarop ons ons finansiële middele aanwend in die Koninkryk van God. Gee aan u Koning wat Hom toekom, die eer en die heerlikheid, en daarmee saam al u kosbare gawes. Hy verdien dit!
Intussen moet ons weer afskeid neem van die wyse manne uit die Ooste. God sorg daarvoor dat hulle, wat aan Jerusalem Jesus se geboorteberig kon bring, nie onbedoeld ook medewerkers word aan sy vroegtydige dood nie. Langs ‘n ander pad (dus, nie via die hoofstad nie) keer hulle na hul land terug. God het dit in ‘n droom aan hulle bekend gemaak. Ook hier sien ons dus hulle openheid en gehoorsaamheid aan God. Soos wat hulle gekom het, so verdwyn hulle ook weer.
Maar, broers en susters, laat ons wees soos wyse manne. Laat ons, ook nou teen die einde van hierdie jaar, op hierdie Kersdag, maar ook in die komende dae soos wat ons na die einde van die jaar toe beweeg, die tyd vat om besig te wees met ons God, onsself vir Hom oop te stel. Laat ons sy Woord oopmaak, en onsself in alle eenvoud laat lei op die weg na die Koning. Laat ons onsself ondersoek oor ons toegewydheid aan ons Koning. Wees soos die wyses, broers en susters, en vind die Kindjie; wees soos wyses en vind só die Koning van jou lewe.
Amen
Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Skr. 1:1, 3 en 6
Geloofsbelydenis
Sing Ps. 89:7, 10 en 11
Gebed
Lees: Mattheus 2:1-12
Sing Skr. 4:4 en 5
Preek
Amenlied Ps. 72:1, 8, 10 en 11
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 149
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
(kyk in preek)