Openbaring 22:12 en 20
Ds HH van Alten - Sondag 24 Desember 2006
Lees: Efesiërs 5:8-16, 2 Petrus 1:19-21
Teks: Openbaring 22:12-21, spesifiek verse 12a en 20a
Sing: Sien liturgie
Tema: Jesus Christus is haastig oppad!
- Staan vroeg op
- Doen jou werk
- Bly by die handleiding
Geliefde gemeente van Jesus Christus,
Het u al ooit die kans gehad om bo op Tafelberg te staan? Pragtige uitsig van daar bo-af, nie waar nie? Maar somtyds gebeur dit dat jy al die moeite doen om tot bo te klim, of jy gee al die geld uit om met die kabelkarretjie tot bo te ry, en dan … ja, dan is daar niks om te sien nie. Die mis en die wolke het die pragtige uitsig bedek. Miskien, as jy gelukkig is, breek die wolke elke nou en dan oop en word jy ‘n kortstondige blik oor Kaapstad en die Waterfront gegun.
Gemeente, so gaan dit dikwels wanneer ons na die wêreldgeskiedenis kyk. Ons kyk vas in die wolke en die mis – die geweld en misdaad in ons land, wat vir ons gevoel al hoe nader aan ons eie lyf kom; die VIGS-pandemie waaraan duisende mense sterf; die armoede en hongersnood in Indië en Afrika; die oorlog in Irak met beelde van dooie liggame en uitgebrande motorwrakke; die realiteit van sonde en verval wanneer twee manne of twee vroue openlik hulle homoseksuele gevoelens verklaar deur al soenende op die voorblad van die koerant te verskyn; mense wat nie meer die Here wil dien en wat die kerk die rug toe keer. Sien u, die wolke en die mis? Dit belemmer dikwels ons sig op wat daaragter lê. Dit verhinder ons om die realiteit wat daaragter is, raak te sien. Die realiteit dat Christus in beheer is, dat Hy die owerste oor die konings van die aarde is, dat daar niks gebeur sonder sy wil nie. Dit sien ons dikwels nie meer raak nie, broers en susters, dít word dikwels aan ons sig – ons kort-sig-tigheid – onttrek…
Vat nou maar net die misdaad en geweld in ons land – u sal saamstem dat dit soms baie naby aan ons kom. ‘n Kennis, ‘n vriend, ‘n buurman, wat beroof, aangeval of selfs vermoor word. Of ons lei self onder misdaad. En dan raak ons paniekerig, ons raak bang, ons raak negatief, ons praat van emigreer, ons verbeter opnuut aan ons huis se veiligheid… En laat ons eerlik wees, dan is dit bitter moeilik om te sê: “Maar, Christus regeer, Hy lei my lewe en die lewe van my geliefdes!” En tog, gemeente, is dit die realiteit agter alles wat in die wêreldgeskiedenis gebeur, ook al sien ek dit nie altyd raak nie. Dis net soos op Tafelberg… Deur die wolke en die mis kan ons nie altyd Kaapstad sien nie, maar niemand sal tog betwyfel dat dáár, onder die wolke en die mis, Kaapstad is nie? Só is dit ook met Christus se regering – ons sukkel soms om deur die gebeure van ons tyd, deur die skare hongeriges, deur die wolke van oorlog, deur die trane van ellende, die perspektief te behou dat Christus regeer, dat Hy in beheer is. Maar daarmee is sy regering nog nie minder werklik nie!
En dit is nou spesifiek die boodskap van die boek Openbaring – Christus regeer die wêreldgeskiedenis. Die boek Openbaring wil die wolke en die mis, die rampe en ellende van hierdie wêreld duidelik teken – ons kom skrikwekkende beelde teë – maar dan wil dit tewens hierdie wolke en mis deurbreek, voor ons oë laat oopgaan, sodat ons kan sien Wie hieragter sit, Wie dit alles in sy hand hou: Jesus Christus. Is dit nie ‘n geweldige troos nie, broers en susters? – die geskiedenis van hierdie wêreld staan nie los van Jesus Christus nie; ons bestudeer nie hier die geskiedenis van Christus se regering, en daar die onafhanklike geskiedenis van die wêreld nie. Nee, die wêreldgeskiedenis is die geskiedenis van die regering van Jesus Christus vanuit die hemel!
En dan, reg aan die einde van hierdie indrukwekkende openbaring aan die kerk van die Nuwe Testament, as slot van hierdie boek, kom gee Christus aan sy kerk die bemoediging: Ek is nie slegs in beheer nie, maar Ek is ook oppad om dit alles tot volmaaktheid te lei. Verse 12-21, ons Skrifgedeelte vir vandag, is as’t ware die slotakkoord van hierdie indrukwekkende boek. En hierdie hele slotakkoord word omarm, eers deur die belofte in vers 12: “En kyk, Ek kom gou…” en dan deur dieselfde belofte in vers 20: “Ja, Ek kom gou.” En let op, broers en susters, Christus praat hier nie in die toekomstige tyd nie – Ek sal kom. Nee, Ek kom – teenwoordige tyd; Ek is besig om te kom, Ek is oppad, en Ek is haastig! En tussen hierdie twee ryke beloftes in, vind ons aanwysings oor hoe die kinders van die Here hierdie koms tegemoet moet gaan, leer sien ons hoe ons onsself op daardie groot dag moet voorberei.
Tema: Jesus Christus is haastig oppad!
- Staan vroeg op
- Doen jou werk
- Bly by die handleiding
1. Christus noem Homself in ons Skrifgedeelte met baie verskillende name: Hy noem Homself byvoorbeeld die Alfa en die Omega – in terme van ons alfabet sal dit die a en die z wees; Hy noem Homself verder ook die begin en die einde, die eerste en die laaste, en in vers 16 ook nog die wortel en die geslag van Dawid. En dan is daar aan die einde van vers 16 ‘n benaming wat spesifiek betrekking het op die beloftes in verse 12 en 20, en daarom ook spesifiek betrekking het op die tema van hierdie preek. Christus noem Homself daar “die blink môrester”.
Nou, gemeente, die môrester is in ons sonnestelsel dieselfde as die planeet Venus, maar mense ken dit in die omgangstaal eenvoudig as die môrester – daardie besonder blink ster wat voor dagbreek hoog bo die oosterkim in die hemelruim te sien is. Om die môrester te kan sien, moet jy egter vroeg opstaan. As dit dan ‘n helder nag is, sien jy ontelbare sterre, die hemelruim is vol daarvan. Maar hoog in die ooste is daar een ster wat die aandag trek: die môrester, wat helderder blink as al die ander sterre. En as jy lank genoeg wag terwyl jy hierdie ster bewonder, dan begin geleidelik die eerste tekens van die nuwe dag verskyn; die donker lug begin verkleur en geleidelik begin jy die rooi en oranje en geel van die nuwe dag waarneem. Die duisende sterre verdof, maar daar is een ster wat vir lank daarna nog helder skyn: die môrester. Die môrester is as’t ware die wagter van die nuwe dag, die aankondiger dat ‘n nuwe dag oppad is. En nou sê Jesus van Homself: Ek is die blink môrester. Jesus is dus die voorteken van die nuwe dag, Hy is die bewys dat die nuwe dag oppad is.
O ja, gemeente, daar was al voorheen ‘n ander môrester! Of miskien moet ons dit anders stel: daar was voorheen al iemand wat graag ‘n môrester wou wees, wat homself as ‘n môrester voorgedoen het – ons lees daarvan in Jesaja 14:10-12 [lees]. In hierdie profesie van Jesaja gaan dit oor die val van die koning van Babel, en dan word sy val vergelyk met die val van die môrester uit die hemel.
Maar op ‘n dieper vlak gaan dit hier oor meer as net die koning van Babel; dit gaan hier ook oor die satan. Die satan het homself, meer nog as die koning van Babel, as ‘n môrester gesien. Maar hy het uit die hemel neergeval, soos wat Jesus dit ook beskryf in Lukas 10:18: “Ek het die Satan soos ‘n bliksem uit die hemel sien val.” En soos wat Jesaja die koning van Babel as ‘n oorweldiger van die nasies beskryf, so weet ons dat die Satan by uitstek die een is wat deur verleiding die nasies oorweldig (lees maar Openb. 12:9).
Die satan het homself dus baie hoog geag, ‘n môrester; hy het hoë aspirasies gehad. Maar God het hom neergewerp. Want hy is geen egte môrester nie; die lig wat hy uitstraal, is in werklikheid ‘n skynlig, ‘n skynlig waarmee hy die nasies verlei. Tot vandag toe doen die satan homself nog steeds voor as ‘n engel van die lig, maar in wese is hy een en al duisternis. Hy hou van die duisternis, hy wil nie hê dat dit dag word nie, want dan kom sy bose werke aan die lig. En met sy skynlig verlei hy mense om saam met hom deel van die duisternis te wees. Die satan is heer en meester van ‘n wêreld wat in duisternis lewe, ‘n wêreld wat ronddwaal in duisternis en wat weghardloop vir die lig. En dit is ook waarin ons deel, gemeente, as ons die werke van die satan doen, as ons die sonde doen – dan doen ons werke van duisternis, werke wat nie pas by die lig nie. Dan is ons deel van hierdie duister wêreld, dan volg ons die valse lig van die gevalle môrester.
En daarom is dit so belangrik, broers en susters, om te sien dat God vir ons die ware môrester gegee het – geen skyn nie – nee, die egte voorteken dat die dag oppad is: Jesus Christus. Deur sy koms op hierdie aarde, sy geboorte in Betlehem, deur sy werk aan die kruis, deur sy oorwinning oor die duisternis, is Hy ons môrester. Daar pryk Hy aan die hemel as die duidelike bewys dat die dag aan die kom is, dat die lig oppad is om finaal die duisternis te verdryf. Jy kan Hom sien! Maar… dan moet jy wakker wees! Dan moet jy vroeg opstaan, terwyl dit nog donker is, om teen die donker hemelruim die bewys te kan sien: die dag kom beslis.
En, gemeente, dit is presies waartoe Paulus sy lesers in Efesiërs 5 ook aanspoor. Hy waarsku die broers en susters in Efese om nie meer in die duisternis te wandel nie, maar om soos kinders van die lig te wandel en die bose werke van die duisternis te bestraf. En om soos kinders van die lig te kan wandel, rig Paulus vervolgens ook sy oproep in vers 14: “Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.” Wie slaap, leef nog in die duisternis; wie slaap, word onverhoeds betrap, omdat die dag aanbreek sonder dat hy dit agterkom; wie slaap, is nie gereed vir die dag nie. En, gemeente, dit is wat ons doen as ons in ons sondes volhard, as ons onsself nie wil bekeer van ons verkeerde weë nie, as ons nie soos kinders van die Here lewe nie – dan slaap ons, dan is ons nie wakker om te sien dat die môrester ‘n nuwe dag aankondig nie, en dan is ons ook nie gereed wanneer daardie dag aanbreek nie.
Ontwaak daarom – nie eers wanneer die dag al daar is nie – nee, dan is dit te laat… Ontwaak nou! Moenie uitstel nie! Al voel dit vir jou asof dit nou nog donker is – en u weet hoe dit gaan: jy word in die nag wakker, sien dat dit nog donker is, draai lekker om en slaap verder. Maar in die lewe van die geloof kan ons dit nie bekostig nie – ons kan nie ons oë oopmaak, sien dat dit nog donker is en dan lekker verder sondig nie; ons kan nie dink dat daar nog genoeg tyd is om te bekeer nie, ons mag nie weer wegsluimer in ‘n lewe van sonde nie. Want Christus is elke oomblik aan die kom, dit is aktueel! Daarom moet ons nou opstaan! Ontwaak, staan op, kyk na die hemelruim, sien daar die blink môrester – en verheug u self, want die dag is amper hier!
Gemeente, wees wakker gelowiges, en Christus, ons môrester, sal oor jou skyn. Hy is die lig wat vir ons die weg aanwys in hierdie donker wêreld, terwyl dit nog nag is. Wandel nougeset in hierdie lig – soos Paulus oproep in Ef. 5:15-16 – nie as onwyse nie, maar as wyse. En koop die tyd uit – maak maksimaal gebruik van die tyd wat God gee, benut elke lewensmoment ten volle voordat die dag aanbreek.
Dit is waaroor dit vervolgens gaan: doen jou werk!
2. Christus belowe dus dat Hy gou kom, dat Hy aan die kom is. Hoe reageer die kerk hierop? Hoe reageer elke gelowige hierop, u en ek? Ons lees in Openbaring 22:17: “En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom!…” Dit wil voorkom asof die Gees en die bruid – dit is die kerk – in hierdie vers reageer op Christus se belofte dat Hy aan die kom is. Christus sê dus: “Kyk, Ek kom gou”, en dan reageer die Gees en die kerk daarop met: “Kom!” Maar dit is nie waaroor dit hier gaan nie, broers en susters. Die kerk, gelei deur die Gees, reageer nie hier teenoor Christus nie. Nee, Christus se belofte is aanleiding vir die kerk om die wêreld aan te spreek. Die gelowiges weet dat Christus aan die kom is, hulle oog is immers gerig op die môrester, maar dan sien hulle ook die duisternis om hulle heen, hulle sien diegene wat in hierdie duisternis wandel, en tot húlle gaan die oproep uit: “Kom!”
Sien u, broers en susters, die feit dat die kerk weet dat Christus aan die kom is, maak haar nie passief nie, laat haar nie na binne keer om haar tassies te pak vir die reis na die hemelryk nie. Nee, die feit dat die kerk weet dat Christus oppad is, bring haar juis tot groot bewoënheid oor dié wat nog nie in sy lig deel nie. Die Gees laat die kerk getuienis aflê teenoor die omgewing waarin sy haar bevind, die Gees laat die kerk oopstaan na buite: Kom julle, kom deel saam met ons in die heil!
En dan is dit nie net die kerk wat dit moet doen nie, broers en susters. Johannes vervolg immers: “En laat hom wat hoor, sê: Kom!” Hom wat hoor – dit is elkeen aan wie hierdie boek voorgelees is in die verskillende gemeentes in Klein-Asië, dit is elkeen wat die evangelie hoor verkondig in die kerk oor die hele wêreld, dit is u en ek wat hier in die kerk sit. Almal saam en elkeen afsonderlik kry ons die opdrag om die oproep te laat hoor: Kom! Kom jy, my buurman wat nie die Here ken nie; kom jy, my huishulp of my tuinman wat dors na verlossing; kom jy, my kollega wat soveel lewenspyn ervaar. Kom, almal wat dors is, en drink van die water van die lewe, verniet!
Gemeente, die blink môrester waarop ons oog gerig is, maak ons nog nie blind vir die duisternis om ons heen nie. Inteendeel, dit bring juis die duisternis aan die lig, dit wys vir ons die diepte van die duisternis. En laat daardie duisternis ons asseblief aan die hart gaan; laat ons nie soos Jona sit en wag dat God se straf moet kom nie, maar laat ons getuienis aflê van die hoop wat in ons is, sodat ander ook in daardie hoop kan deel. Ek het al voorheen genoem dat die kerkraad tans worstel met die saak van ‘n evangelisasiekommissie. Maar, gemeente, moenie daarop sit en wag nie, moenie wag totdat u deur die evangelisasiekommissie ingeskakel word nie, moenie wag tot die kerkraad daarmee klaar is nie. U taak is nou! Vir u wat besef hoe naby Christus al gekom het, hoe naby die dag al is, vir u is daar nou werk om te doen. Van u moet daar die roep uitgaan na elkeen wat in duisternis lewe: Kom!
En gemeente, let daarop dat u getuienis nie aan krag wen wanneer dit nie ondersteun word deur ‘n lewe in gehoorsaamheid aan Christus se gebooie nie. Johannes roep in vers 14 daarom ook op om sy gebooie te doen, sodat ons reg kan hê op die boom van die lewe en in kan gaan deur die poorte in die stad. Ja, daar buite die stad, daar is die honde – en dan moet ons nie dink aan “die mens se beste vriend”, soos ons die hond vandag ken nie. Nee, die oosterse swerfhonde was aasvreters wat geminag is; hulle moes buite die stad bly. En buite die stad was ook die towenaars en hoereerders en moordenaars en afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen. Maar laat ons ons getuienis deur ‘n gehoorsame lewe ondersteun, sodat die getuienis van die Gees, wat Hy deur ons laat klink, geen skade hoef te lei nie.
Dus, staan vroeg op, doen jou werk in woord en daad, maar – en daarop let ons ten slotte - doen dit altyd aan die hand van die handleiding.
3. Aan die adres van “elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor” word ‘n ernstige waarskuwing gerig om hierdie boek ongeskonde te laat. Christus self waarsku hier teen die verdraaiing van die boodskap van hierdie boek, op watter manier ook al. Hierdie openbaring is immers die handleiding vir die gelowiges – u sal onthou dat ek in die inleiding genoem het hoe maklik die gebeure in hierdie wêreld, die wêreldgeskiedenis, ons sig kan belemmer op Christus wat dit alles regeer. En daarom is hierdie openbaring – wat vertel van die plae en ellende, maar ook van die Een wat dit alles regeer – daarom is dít die handleiding vir die gelowiges wat nog in hierdie wêreld lewe, waardeur hulle steeds die perspektief behou.
Gemeente, kom ons gebruik ‘n voorbeeld: as ek nie baie tegnies is nie, en ek koop vir my ‘n nuwe rekenaar, dan het ek die handleiding nodig om dit alles inmekaar te sit en aan die gang te kry. Totdat dié ding nie volledig werk nie, is ek nog besig om die handleiding te lees en te bestudeer. Die rekenaarkundige het dit nie nodig nie, maar die leek wel! So is dit ook met die gelowige wat oppad is om Christus te ontmoet – terwyl ons nog oppad is, terwyl die reis nog voortduur en alles nog nie volmaak is nie, het ons die handleiding nodig. Ons kan nie sonder die handleiding klaarkom nie; ons is nie geloofsdeskundiges nie, ons is nie supergelowiges nie – terloops, daar bestaan nie sulke mense nie.
U en ek het nodig om die handleiding te lees om te weet waarheen ons oppad is, na Wie ons oppad is. Dit sou dom en gevaarlik wees om hierdie handleiding, wat God gegee het, te negeer en self ‘n weg deur die duister van hierdie wêreld te probeer soek. En dit is waarop Petrus ook aandring by sy lesers: “… ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn” – die handleiding, die Woord van die Here, is dus die lamp wat die weg vir ons aanwys – “totdat…” Totdat wanneer? Totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte. Petrus wys hier dus op ‘n spesifieke termyn wat tot ‘n einde kom wanneer dit dag geword het. Wanneer dit dag word, dus wanneer Christus terugkom na die aarde, eers dan word die profetiese woord oorbodig. Want op die nuwe hemel en aarde, sal ons almal van aangesig tot aangesig met Christus lewe. Wanneer die groot oggend aanbreek, dan gaan vir ons die groot Lig op. Eers dan kan ons die handleiding toemaak.
Maar tot daardie tyd, broers en susters, het ons daardie handleiding nog so bitter hard nodig. Ons kan nie sonder die Woord van die Here regkom nie. En gaan kyk maar in u eie lewe – hoe dikwels word ons perspektief vertroebel, hoe dikwels sien ons die dinge verkeerd, hoe dikwels verloor ons sig op waarheen ons oppad is. Nee, ons is nog te swak om self die pad te vind. Moet daarom ook nie swig voor die krete van verskillende sektariese groepe wat meen dat die Woord nie meer die belangrikste is nie; moenie gehoor gee aan diegene wat roem op ekstra openbarings nie; moenie toegee aan diegene wat meen dat dele van die Woord onbelangrik geword het nie – kyk dan maar net na wat Christus sê oor die strawwe wat bygevoeg sal word vir dié wat by die Woord iets byvoeg, kyk maar net na wat diegene ontneem sal word wat iets uit die Woord wegneem… Daar is geen heil daarin om sonder die handleiding oppad te wil gaan nie, gemeente.
Bly daarom by die Woord van die Here, ook in hierdie vakansietyd. Moenie dink dat u vakansie kan hou sonder die handleiding nie. Moenie dink dat Christus tydens u vakansie minder haastig is om terug te kom nie. Hy is ook in hierdie tyd, en miskien juis in hierdie tyd, haastig oppad.
En slegs wanneer u die handleiding lees, slegs wanneer u met die Skrif besig bly, kan u gelowig antwoord op die belofte van sy koms: Amen, ja kom, Here Jesus. Kom, want ek verlang na U; kom, want daar is soveel ellende; kom, want ek is so swak. Broers en susters, bly by die handleiding totdat die môrester opgaan in u hart, bly by die handleiding op u reis na die nuwe dag! U word ‘n goeie reis toegewens. Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal.
Amen.
Liturgie (aand)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 75:1, 2, 4
Gebed
Lees: Efesiërs 5:8-16
2 Petrus 1:19-21
Kollekte
Sing Ps. 104:8, 9, 19 en 20
Teks: Openbaring 22:12-21, spesifiek verse 12a en 20a
Preek
Amenlied Skr. 50:1, 4-7
Belydenis van geloof
Bevestig met Ps. 43:3 en 4
Gebed
Slotsang Skr. 43:4-6
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.
(kyk in preek)