Psalm 130
Ds HH van Alten - Sondag 10 Desember 2006
Lees: Exo. 14:10-15:6; Rom. 6:1-9; Psalm 130
Sing: Sien liturgie
Tema: ‘n Lied van verwagting op die reis
- Leer ken die dieptes
- Ontmoet die God wat die dieptes oorwin het
- Verwag die verlossing van Israel
Geliefde gemeente van Jesus Christus,
Soos ek twee weke gelede reeds gesê het, is die tema van die adventsprediking: die verlange na die koms van die Verlosser. Toe het ons daardie verlange belig vanuit Genesis 49 – Jakob se verlange na die Verlosser in die lig van Dan se geskiedenis. Vandag wil ons ‘n bietjie verder in die heilsgeskiedenis gaan, na die boek van die Psalms, en dan spesifiek Psalm 130.
Psalm 130 is ‘n bedevaartslied, ‘n lied tydens die reis, ‘n lied wat spreek van verlange en verwagting. Dit is dan ook die tema vir die preek:
Tema: ‘n Lied van verwagting op die reis
- Leer ken die dieptes
- Ontmoet die God wat die dieptes oorwin het
- Verwag die verlossing van Israel
1. “Uit die dieptes roep ek U aan, o HERE!” – so begin die digter hierdie psalm. Dit is moeilik om te bepaal in watter dieptes die digter hier verkeer het. Die psalm self gee nie ‘n aanduiding of dit hier gaan oor siekte of vervolging of enige ander spesifieke situasie waarin die digter hom bevind het nie. Ons weet ook nie wie die digter is nie, dus kan ons ook nie in die lewe van ‘n spesifieke persoon gaan soek om te sien of daar dalk ‘n gebeurtenis is wat met die konteks van hierdie psalm ooreenkom nie. Die formulering is baie algemeen: uit die dieptes roep ek.
Maar daar is tog iets wat ons oor die dieptes kan sê. Kom ons slaan vir ‘n oomblik vers 2 oor en spring na vers 3; daar sê die digter: “As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?” Dit wil voorkom asof dít die verbinding is wat ons nodig het om die dieptes van die digter te verstaan. Of die digter nou siek is of vervolg word of hoe ook al – dit is nie die belangrikste nie – die belangrikste is dat die digter die dieptes waarin hy homself bevind, koppel aan die ongeregtighede, die sonde in sy lewe. Die digter besef dat die dieptes waarin hy homself bevind die direkte gevolg is van sy sondigheid.
Miskien is dit goed om vir ‘n oomblik hier stil te staan en te reflekteer…
Ons ken ook dieptes in ons lewens: ons ken die dieptes van finansiële nood – ‘n besigheid wat vou, of skuld wat opbou – en ons weet nie waar ons die geld vandaan gaan kry om daar uit te kom nie; ons ken die dieptes van depressie – en gemeente, depressie is ‘n diepte wat baie diep kan word, so diep dat jy nie meer die sin van die lewe kan raaksien nie, dat jy voel of die lewe nie meer die moeite werd is nie; ons ken die dieptes van gebroke huwelike en verhoudings – die pyn dat jy verwerp is, dat jy nog so lief was vir daardie persoon, maar hy of sy nie meer dieselfde gevoel het nie; ons ken die dieptes van eensaamheid – om nie werklik vriende te hê nie, om elke dag met jouself te moet praat, om nie by ‘n groep te behoort nie; ons ken die dieptes van siekte en dood – om te voel hoe siekte en ouderdom die liggaam aftakel, die magteloosheid dat jy nie meer kan doen wat jy wil doen nie, die hartseer om iemand aan die dood af te staan…
Ja, gemeente, ons mense ken dieptes! En ons weet wat dit is om te roep! Ons roep vanuit ons dieptes na enige iets of iemand wat ons kan help. Ons roep na die mediese wetenskap, ons roep na die finansiële wêreld, ons roep vir vriendskap, vir aanvaarding, ons skreeu dat die pyn moet weggaan, en somtyds, ja, somtyds roep ons selfs vir die dood om die dieptes te kom wegneem.
En, broers en susters, die wêreld waarin ons leef gaan ons hierin voor, gee vir ons die voorbeeld. Die wêreld skreeu na hulp, die wêreld soek vir elke diepte waarin mense moontlik mag beland ‘n oplossing, verkieslik ‘n kitsoplossing; vir elke diepte moet daar ‘n resep wees. En ons sien dit veral in hierdie tyd waarin ons weer oppad is na Kersfees, die gesekulariseerde fees van nostalgie en vrede. Mense probeer in hierdie tyd vir ‘n oomblik aan die dieptes ontkom deur vir mekaar geskenke te gee, deur vir ‘n slag weer as familie saam te kom, deur hulleself te bederf, deur hulleself in ‘n waan te plaas van harmonie en geluk.
Maar, gemeente, met dit alles het ons die digter van Psalm 130 nog nie reg verstaan nie. Die digter van Psalm 130 verkeer in groot nood, miskien siekte, miskien vervolging – dis moeilik om te sê. Maar hy noem dit doelbewus nie, want hy trek ons dieper af, hy vat ons saam na ons diepste diepte, hy vat ons saam na die wortel van alle dieptes in ons lewe – ons hartseer, ons gebroke verhoudings, ons depressie, ons finansiële nood – dít alles gaan die digter verby en hy bring ons tot heel onder, tot op die bodem van die oseaan – ons sónde, my sonde!
Gemeente, die lewe is nie een en al fees nie, almal van ons gaan deur ons eie dieptes, soms gaan ons as gemeente saam deur dieptes – maar as ons reg wil leer roep, as ons die werklike oplossing vir al ons dieptes wil vind, as ons die ware aard van Kersfees wil verstaan, dan moet ons dáár op die bodem eindig. Want, broers en susters, vir alle ander dieptes kan ons nog ‘n middeltjie vind, vir alle ander dieptes hoef ons nie te hoog en te ver te soek nie, kan ons nog hier op aarde regekom, vir al ons moeites is daar ‘n oplossing, selfs al soek ons daardie oplossing in die dood – maar dan het ons nog nie die dieptepunt geslaan nie. Ek slaan die dieptepunt eers as ek besef dat my hele lewe verdoemlik is voor God, as ek besef dat Hy die reg het om met een swaai van sy arm my sondige bestaan uit te wis.
Ons sien iets hiervan in die geskiedenis van die volk by die Skelfsee; hulle het sopas uit die slawehuis van Egipte weggetrek, hulle was verlos van hulle onderdrukkers, maar die volk het nog nie verstaan waarvan hulle werklik verlos is nie; en ons sien dit in die feit dat, onmiddellik toe daar teëspoed kom, die volk begin murmureer. En daarom laat die Here die volk deur die diepte gaan. By die Rooisee kom die volk voor ‘n onoorkomlike blokkade te staan; terug kan hulle nie, vorentoe bring hulle in die diepte van die see. En dit is dan ook presies die weg wat hulle moet gaan – die diepte in! Ek kom nog later hierop terug.
Broers en susters, dit is van daar onder af, vanaf daardie diepste dieptepunt, dat die digter van Psalm 130 leer om na die Here te roep; dit is wanneer hy besef dat hy die dieptepunt geslaan het, dat hy roep na die enigste Een wat nou nog kan help, smeek Hy Hom om te luister, om sy ore te rig op die stem van sy smekinge. Van daar onder af roep die digter na die God van die verbond: “Uit die dieptes roep ek U aan, o HERE!” Gemeente, dit is slegs wanneer ons dié diepte bereik wat die digter bereik het, dat ons leer raaksien waar ons eintlike probleem lê, dat ons onsself reg leer takseer – nie in die eerste plek eensaam nie, nie in die eerste plek finansieel bankrot nie, nie in die eerste plek liggaamlik siek nie. Nee, in die eerste plek sondaar! Dieper is nie moontlik nie! En dan kan ons tot niemand anders meer roep nie, as net tot die Here: “Wees my, arme sondaar, genadig!”
Dan mag ons vervolgens die God ontmoet wat die dieptes oorwin het.
2. Die digter van Psalm 130 stel in vers 3 ‘n retoriese vraag: “As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?” Die digter gebruik hier die beeld van ‘n regter wat alles tot in die fynste besonderhede neerskryf en onthou – as God só sou wees, as God soos die regter met die grootste noukeurigheid die sondes sou opskryf en onthou, wie sou onskuldig by die hofsaal kon uitloop? Dit sê die digter wanneer hy vanuit die dieptepunt sy lewe oorsien. Wie kan dan bestaan? Almal van ons weet die antwoord is: niemand!
Maar gemeente, dan roep die digter ons op om vanuit hierdie dieptepunt tóg die Here aan te roep, want – vers 4 – by Hom is daar vergewing. En, soos vers 7 sê: “… by die HERE is die goedertierenheid” [dit beteken iets soos ‘voortdurende lojaliteit’]; dus, by die HERE is voortdurende lojaliteit en by Hom is daar veel verlossing.” Vir die diepste van alle dieptepunte is daar net een oplossing – die Here! Hoekom die Here?
Wel gemeente, die geskiedenis van Israel by die Rooisee kan ons leer waarom ons juis in die diepste diepte by die Here ons redding moet soek. Die volk Israel het, soos ek reeds hierbo gesê het, uit Egipteland weggetrek, hulle was van hul onderdrukkers bevry. Maar wanneer hulle by die Rooisee kom, staan hulle skielik voor ‘n onoorkomlike blokkade. Agter hulle is die Farao met sy manne, links en regs die woestyn, en voor hulle die diep see. Watter kant toe? Die volk begin teenoor Moses murmureer: “Wat het u ons nou aangedoen, dat u ons uit Egipte uitgelei het? Is dít nie die woord wat ons aan u in Egipte gesê het nie: Laat ons met rus, dat ons die Egiptenaars kan dien? Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe” (Ex. 14:11-12). Die volk is bereid om hulself aan die Farao oor te gee, hulle wil terug na die slawehuis. Maar dan wys die Here deur Moses die pad vorentoe: deur die Rooisee. Die volk moes deur die dieptes gaan om te besef dat hulle krag en redding by die Here lê, om te besef dat hulle in hierdie donker uur na die Here moes geroep het!
Maar, let op, gemeente, die volk gaan nie alleen deur die Rooisee nie. Hulle móét daardeur, dis waar, maar nie alleen nie. Want die Here self gaan saam met hulle deur die Rooisee. Die HERE self maak vir hulle ‘n weg deur die diepte; met goddelike krag sorg Hy daarvoor dat die water wegvloei en ‘n droë pad sigbaar word. En wanneer die volk dan daar deurtrek, dan trek die Engel van God saam met hulle – kyk maar na Exodus 14:19. Die Engel van God – dit is die Seun van God! God self gaan deur die dieptes, en deur sy krag bereik die volk die oorkant en verdrink die Egiptenaars in die waters wat terugvloei.
Gemeente, wanneer ons deur die digter van Psalm 130 na die diepste diepte geneem word, die diepte van ons totale verdorwenheid, dan gaan ons nie alleen nie. Ons móét daardeur, dit is waar, maar ons doen dit nie alleen nie. En, broers en susters, dít is die wonder van Kersfees; die wonder van Kersfees is nie dat ons in ons dieptes na strooihalmpies gryp nie: groot geskenke, familiebyeenkomste, ‘n gees van nostalgie. Nee! Die wonder van Kersfees is dat God self in die Persoon van Jesus Christus gebore is om vir ons deur die dieptes te gaan. Christus het vanaf sy allereerste begin, en daarná gedurende sy hele lewe op aarde, maar veral aan die einde daarvan vir ons gely, die toorn van God oor die sondes gedra. Hy was van God en mens verlate! Hy het neergedaal na die hel, Hy moes deur die diepte gaan – vir ons! Geen duisternis was donkerder as syne nie, geen diepte was dieper as syne nie. En gemeente, in en deur Hom is dit vir ons moontlik om deur die dieptes te gaan, dit te peil, en daar uit te kom.
Paulus skryf so pragtig daaroor in Romeine 6: “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood…” Paulus wil dus sê dat sy lesers, by hulle doop deur onderdompeling, aan Christus verbind is; soos ‘n drenkeling in die water ondergaan, só word die gelowige deel van Christus. Maar hierdie Christus aan wie die gelowige verbind word, is die Gekruisigde, Hy is die Meester wat ten onder gegaan het, wat deur die dieptes gegaan het. Sy dóód word dus hulle doop! Deur die doop kry die gelowiges deel aan sy dood. En omdat hulle deel het aan sy dood, het hulle ook deel aan sy begrafnis. Die doopwater wat vir die dopeling oopgaan, is soos die mond van die graf: die doop wat ons verenig met die dooie Jesus Christus, word op aarde ons seegraf.
Máár wat is die doel daarvan? Die doel, gemeente, is dat ons ‘n ander, ‘n nuwe lewe, ontvang. Paulus sê dit in Romeine 6:4: “… sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding…” Ons wat aan Christus verbonde is in sy dood en graf, wat deur Hom in die dieptes van ons sondigheid neergedaal het, ons sal ook saam met Hom deel in die nuwe lewe aan die ander kant van die dood en die graf. Dit is ‘n vaste belofte, broers en susters, dat ons ‘n nuwe lewensidentiteit ontvang, ons mag deel in sy oorwinning.
Sien u, broers en susters, wie in Jesus Christus glo het saam met Hom gesterwe, is saam met Hom deur die dieptes, kan in sy krag die dieptes van sy eie sondigheid peil. Ons hoef nie alleen deur ons Rooisee nie, Christus het ons daarin voorgegaan, Hy gaan saam met ons. En in sy krag kom ons ook weer daaruit.
En daarom kan die digter van Psalm 130, ná sy retoriese vraag wat die verdorwenheid van elke mens geïmpliseer het, tog so triomfantlik reageer: “Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word” – Christus het vir ons deur die dieptes gegaan, Hy het die vergewing moontlik gemaak. Die oorwinning vanuit die dieptes kom van die Here alleen. En daarom mag ons saam met Moses en die Israeliete sing nadat hulle die oorkant van die dieptes bereik het: “Ek wil sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Die perd en sy ruiter het Hy in die see gewerp. Die HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem; die God van my vader, Hom sal ek verhef” (Ex. 15:1-2).
Gemeente, ek herhaal wat ek vroeër gesê het: Vir die diepste van alle dieptepunte is daar net een oplossing – die Here! Want Hy het daardie dieptes oorwin, sy Seun het daardeur gegaan. Hy het neergedaal in die hel, “sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking wat Hy ook aan sy siel deur sy hele lewe maar veral aan die kruis gely het, van die helse angs en pyn verlos (HK, antw. 44). Wat ‘n pragtige belydenis – in my swaarste aanvegtinge weet ek: Christus is reeds daardeur, Hy het dit oorwin! Hy verlos ook my daarvan. Gemeente, verwag daarom die verlossing van Israel!
Daarop let ons nou nog ten slotte.
3. In verse 5-8 van Psalm 130 spreek die digter nie meer tot die Here nie, maar oor Hom. Dit wil voorkom asof hy hom in hierdie verse rig tot die mense om Hom heen; dit word baie duidelik in verse 7 en 8. En sentraal in hierdie tweede helfte van die psalm is die woordjie ‘wag’. Die diger is self wagtende en hy roep ook dié om hom heen op om saam met hom te wag. Hy wag vir die vergewing, hy wag vir verlossing; en hy weet dat dit die moeite werd is om te wag, want – vers 7 – by die Here is die goedertierenheid, en by Hom is daar veel verlossing. Die digter vertrou vas en seker dat dit gaan kom, en daarom wag hy daarop.
Maar, gemeente, om te wag is geen passiewe niksdoenery nie; nee, dit is ‘n aktiewe proses. Soos wat die wagters, wat die stad moes bewaak, gedurende die laaste ure van die nag, ywerig gespeur het na die eerste teken van lig, met verlange uitgekyk het na daardie eerste sonstraaltjie, só wag die digter op die Here. En nog sterkter, sê hy selfs: méér as wagters op die môre – die wagters is vir sy gevoel nog nie ywerig genoeg nie – méér as die wagters, wag my siel op die Here. Sy hele wese is hierby betrokke, hy is met hart en siel besig om te wag.
Gemeente, die digter het rede gehad om saam met die hele volk te wag, te hoop; immers, die woord van die Here, waarvan hy in vers 5 praat, het belowe dat die verlossing van Israel oppad is. Die digter het daarop staat gemaak, want hy het geweet dat die Here nooit ligsinnig iets belowe nie. Wat die Here belowe, word ook waar! En gemeente, die Here het ons broeder uit Psalm 130 nie teleurgestel nie – die verlossing het gekom! Die Verlosser het gekom en Hy het Israel van al sy ongeregtighede verlos – en daarom mag ons Kersfees vier.
Maar daarmee is die wag nog nie heeltemal verby nie, broers en susters. Deur Christus word ons uit die diepte van ons sondes uitgetrek, die diepste diepte is oorwin! Maar ons weet almal dat daar in ons lewens nog baie ander dieptes oorgebly het – ek vroeër enkele van hierdie dieptes by name genoem. Die nuwe lewe waarvan Paulus in Romeine 6 praat, is nog nie volmaak nie; en Paulus besef dit self ook. Kyk maar na Romeine 7 – “want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek (vers 19); …as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig… (vers 21) Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” (vers 24). Paulus voel nog die diepte van die sonde en die gevolge van die sonde – dit is oorwin, ja, maar daarmee is dit nog nie weg nie. En daarom sien ons in Romeine 8 by Paulus die verwagting, die verlange na die volmaaktheid: die hele skepping sug daarna (vers 22), die gelowiges sug daarna (vers 23). Maar dit is geen moedelose sug nie; nee, ons sug in hoop, en as ons hoop dan wag ons met volharding (vers 25). Ons wag met groot verlange, ons speur die horison af na die koms van die Here Jesus.
En terwyl ons wag, broers en susters, weet verseker dat niks u sal kan skei van die liefde van Christus nie – nie verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard nie (vers 35). Ook nie dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel nie (verse 38 en 39). Geen diepte in u lewe kan u skei van die liefde van Christus nie – geen depressie, geen finansiële diepte, geen diepte van eensaamheid of verwerping of siekte nie. Hy het immers in die diepste diepte neergedaal, niemand was dieper as Hy nie, juis sodat Hy in staat is om enige diepte in u lewe te kan dra. Wag daarom op Hom! Wag op die koms van die Here Jesus op die wolke! Terwyl u die Here vrees (Ps. 130:4), terwyl u gelowig lewe en u werk doen, terwyl u as kind van God vakansie hou, terwyl jy met jou dieptes worstel – wag op Hom!
En nie net elkeen op sy eie nie. Nee, laat ons ook almal saam wag! Ons is immers die Israel van God. Ons is die gemeente van die Here aan wie die verlossing beloof is, ons is die kerk wat die woord van God ontvang het, die beloftewoord wat altyd waar word. Laat ons daarom ook as gemeente saam wag, aktief wag, uitsien. En die dieptes waarin ons nog moontlik verkeer – laat ons mekaar se laste dra, en laat ons mekaar in gebed aan die Here opdra. Hy is lojaal en by Hom is daar veel verlossing!
Amen
Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 92:1 en 2
Wetslesing (lig 10de gebod toe vanuit v/a 113)
Sing Ps. 131
Gebed
Lees: Exodus 14:10-15:6, Romeine 6:1-9
Kollekte
Sing Ps. 106:3-5
Teks: Psalm 130
Preek
Amenlied Ps. 40:1, 6 en 8
Gebed
Slotsang Ps. 69:7, 12 en 14
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.
(kyk in preek)