Efesiers 2:14
Ds C Kleijn - Sondag 12 November 2006
Lees: Efesiers 2:11-22; Efesiers 1:1-6 (1ste tafel); Efesiers 1:7-14 (2de); Efesiers 2:1-10 (3de)..
Sing: Ps 122:1; Ps 122:2; SB 27:5; Ps 105:1,2; SB 24:1 (1ste tafel); SB 24:6 (2de); Ps 89:7 (3de); Ps 133:1,2.
Tema: Christus is ons vrede.
Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,
Aan die Heilige Nagmaal vier ons die gemeenskap met Jesus Christus en met mekaar.
Die Formulier vir die viering van die Heilige Nagmaal benadruk die eenheid wat ons met mekaar het: “Verder word ons ook deur dieselfde Gees onderling as lede van een liggaam in ware broederlike liefde saamgebind, soos die apostel sê: Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood. Daarom moet ons almal wat deur ware geloof in Christus ingelyf is saam een liggaam wees.”
Dink jou in: jy sit langs mekaar aan die tafel van die Here. Mense met sulke verskillende agtergronde, karakters, persepsies en sienings sit sommer saam aan tafel en gee daarmee uitdrukking aan hul eenheid. Is dit nie wonderlik nie? Almal sondaars, tog een. Hoe is dit moontlik!
Wat is die geheim van hierdie eenheid? Dit is Christus. Want Hy is ons vrede. Let op die nadruk waarmee dit gesê word. Paulus sê nie net dat Christus vrede bring nie, maar dat Hy ons vrede is. Christus is die sleutel tot die vrede. Hy is die verpersoonliking daarvan. As jy vrede wil hê, dan moet jy by Hom wees. Op Hom moet jy jou rig: Christus ons vrede. Hy het ons met God en met mekaar versoen.
Sonder Christus is daar die muur wat skeiding bring, die muur van vyandskap. Ja, die wêreld is vol mure. ’n Muur verhinder kontak en gemeenskap tussen mense. Mure isoleer. Dit geld ook vir mure in ’n figuurlike sin. Daar is baie van sulke mure. Mure tussen rasse en nasies, mure tussen range en stande, mure tussen families, mure tussen mense met verskillende sienings. Al hierdie mure bring verdeeldheid en vervreemd mense van mekaar.
Die teks praat van die muur wat daar in die tempel kompleks van Jerusalem was. Die muur het die tempel gebied in twee gedeeltes geskei. Voor die muur was daar die sogenaamde voorhof van die heidene. Elkeen mog in daardie area kom. Maar net die Jode mog agter die muur in die binnenste voorhof kom. Dit was ’n weerspieëling van die strenge skeiding tussen Israel en die ander volke, tussen Jode en heidene. Israel was God se volk. Aan hulle het behoort die aanneming tot kinders, die heerlikheid, die verbonde, die wetgewing, die erediens en die beloftes.
Die skeidsmuur tussen Jode en heidene het vervreemding, selfs vyandskap beteken. Christus het hierin ’n groot verandering gebring. Ons lees in die teks dat Hy albei een gemaak het en die middelmuur van skeiding afgebreek het. Hy het Jode en nie-Jode by mekaar gebring in sy een katolieke kerk. Hy het ons – en onthou ons was ook van heidense afkoms – een gemaak. Heidene wat oorspronklik sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God, het nou medeburgers van die heiliges en huisgenote van God geword.
Wat ’n radikale verandering! Daar kan nog wel baie verskille wees, soos dit daar was tussen Jode en Grieke. Maar die eenheid oortref alles. In die lig van die eenheid in en deur Christus kan die verskille in liefde gehanteer word. So sê Paulus dat Christus die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep. Dit is ’n sterk uitdrukking vir die wegdoen van die vyandskap. As twee mense nie meer teenoor mekaar staan nie, maar een nuwe mens geword het, dan is dit duidelik dat alle vyandskap verby is. Daar is werklik “vrede gemaak”.
Hoe het Christus dit gedoen? Deur die wet van Moses te vervul. Die wet het gegaan oor die besnydenis, verskillende offers, die tempeldiens, die spysvoorskrifte en dergelike. Dit het as ’n muur tussen die Jode en die heidene gestaan. Christus het dit deur sy dood tot niet gemaak. Ons is nie meer onder die wet nie, maar onder die genade. In die lig van die kruis kan niemand sê dat jy gered word deur wat jy doen nie. Die kruis wys dat dit nie is: doen dit en jy sal lewe nie, maar glo in Jesus Christus en jy sal lewe.
Watter implikasies het dit vir ons vandag? Die eenheid van die kerk lê in Christus. Ons eenheid as broers en susters lê in Christus. Hy is ons vrede. Hy het ons met God en met mekaar versoen. Hy het die muur tussen Jode en heidene afgebreek. Hy het die verskille onder die lidmate van sy een katolieke kerk oortref. Hulle is werklik een in Christus. Een nuwe mens. ’n Hegte eenheid. Sonder Christus kan jy verwag dat mure opgaan. Sonder Christus kan jy vyandskap tussen mense verwag, vyandelikheid, wedersydse veragting. Waar jy nie uit Christus lewe nie, kan jy verwag dat mense hulleself bo ander verhef of ander haat. As jy Christus uit die oog verloor, val selfs die kerkgemeenskap in groepe of kampe wat teenoor mekaar staan.
In Christus word egter voormalige vyande een, medeburgers van die heiliges en huisgenote van God. Dit beteken nie dat alle verskille verdwyn nie. Hoe groot was nie die verskille tussen Jode en nie-Jode in die vroeg Christelike kerk nie. Verskille in taal en kultuur, verskille in gebruike en in sienings. Solank ons in hierdie sondige en gebroke wêreld lewe sal daar verskille bly. Ons het verskillende agtergronde en verskillende karakters. Ons geloof en kennis bly nog onvolkome. Maar vanuit die eenheid in Christus kan die verskille rustig bespreek word sonder wedersydse veroordeling. So kan ons saam groei in die eenheid van die geloof en in die kennis van die Seun van God (Ef 4:13). In die Christelike kerk is die skeidslyn nie waar mense van ons siening en praktyk verskil nie. In Christus se kerk is die skeidslyn daar waar mense weier om Jesus Christus te aanvaar soos Hy Homself in die Skrif geopenbaar het, waar mense weier om uit daardie geloof te lewe, en waar mense weier om uit die vergewing van sondes en die Gees van Christus te lewe.
Hoe kan jy dan geniet van die vreugde van die gemeenskap met Christus en met mekaar? Net in Christus. Net deur jou gemeenskaplike band in die Here Jesus raak te sien. Hy is ons vrede. Hy het ons een gemaak. Dink jou in hoe groot ’n wonder dit is. Hy het ons sondaars een gemaak. Neem daarom mekaar aan in Christus. Moenie net op die verskille fokus nie. Rig jou op Christus. Rig jou op sy kruis. Die kruis het eenheid gebring waar vyandskap was. Die kruis maak my nederig. Ek is self ’n sondaar. Christus moes ook vir my aan die kruis sterwe. Die kruis maak my vergewensgesind en barmhartig. Christus het nie net vir my gesterwe nie. Sy genade is ook vir ander, ook vir sondes wat hulle in onwetendheid gedoen het. Sien daar die wonder van die een liggaam van Christus. Leer om dit steeds weer te waardeer. Inderdaad, die volmaakte harmonie sal hier nog nie ten volle ervaar word nie. Maar dit sal eendag volle werklikheid word. Danksy die volmaakte werk van Christus ons vrede.
AMEN
(kyk in preek)