Die HERE bekroon die geskiedenis van Rut die Moabitiese met sy seën

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2006-10-15
Text: 
Rut 4
Preek Inhoud: 

Rut 4:13-22

Ds C Kleijn - Sondag 15 October 2006

Lees: Rut 4.
Sing: Ps 118:13,14; Ps 101:1,2,4; Ps 128; Ps 132:9-11;
(Apost Gel); Ps 133.

Tema: Die HERE bekroon die geskiedenis van Rut die
Moabitiese met sy seën

  1. Die seën vir Rut
  2. Die seën vir Naomi en haar huis
  3. Die seën vir Israel

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons kom nou by die einde van die boek Rut. ’n Gelukkige
einde. Nie omdat ’n menslike outeur sy verhaal met ’n
gelukkige einde wil afsluit nie. Maar omdat God hierdie
geskiedenis van Rut werklik tot ’n gelukkige einde gebring
het. Wanneer dit lyk asof alles doodloop, ontsluit God ’n
nuwe toekoms. So is God. Hy is die redder van ’n volk wat
die onmoontlike moontlik gemaak het. So het God in Jesus Christus
ingegryp tot ons verlossing, om vir ons verlore sondaars ’n
nuwe toekoms te ontsluit.

Ek verkondig vir julle:

Die HERE bekroon die geskiedenis van Rut die Moabitiese met sy
seën

  1. Die seën vir Rut
  2. Die seën vir Naomi en haar huis
  3. Die seën vir Israel

In die geskiedenis van Rut die Moabitiese het die Here die
laaste woord. In die voorgaande hoofstukke het ons Rut keer op
keer in aksie gesien. Nou mag sy dinge laat gebeur. Nou word sy
die ontvanger van God se liefdevolle sorg. God is besig om haar
geloof en gehoorsaamheid met sy seën te bekroon. Sy ontvang
’n drievoudige seën.

Eerstens: “So het Boas Rut dan geneem en sy het sy vrou
geword.” Na die amptelike en publieke seremonie by die
stadspoort, kan die huweliksbevestiging plaasvind. Boas hou sy
woord. Rut die arme, kinderlose weduwee uit Moab ontvang die
vreugde van ’n huwelik onder God se volk. Sy vind rus in die
huis van ’n ander man. Die Here gee haar ’n ander man.
’n Vermoënde man, maar wat meer is: ’n edelmoedige en
godsdienstige man, ’n ware Christen wat ter wille van die
Here haar tot vrou neem en haar sy liefde gee. Ja, dis die seën
van die Here op haar geloof en gehoorsaamheid.

Op pad van Moab na Kanaän het Naomi gesê: “dis
onmoontlik dat jy in Kanaän ’n ander man sal vind. Keer
terug na Moab.” Rut het geweier om daardie goddelose advies
op te volg. Sy het haarself aan die Here die God van Israel
toevertrou. Sy het onder sy vleuels skuiling gesoek. En die Here
het haar nie beskaam nie. Die Here gee haar in Kanaän meer as
wat sy gedurf het om te hoop: “So het Boas Rut dan geneem en
sy het sy vrou geword; en hy het by haar ingegaan.” Nadat
die Here hulle in die huwelik aan mekaar gegee het, gee hulle
hulself heeltemal aan mekaar oor, emosioneel en fisies. Die
fisiese geslagsgemeenskap behoort binne die huwelik, in die
konteks van ’n permanente en publiek erkende verhouding van
liefde en trou.

Dan is daar die tweede seën van die HERE: “En die Here
het vir haar swangerskap gegee, en sy het ’n seun gebaar.”
Die huwelik tussen Boas en Rut word met ’n seun geseën. Rut
se eerste huwelik, met Maglon, is deur kinderloosheid getref. God
het haar moederskoot toegesluit, haar kinders onthou. Dit was een
van die eerste dinge wat Rut van die kant van die Here ervaar het:
kinderloosheid, verdriet en uiteindelik die dood van haar man.
Dit alles het uit die hand van die Here gekom. As gevolg van die
ongehoorsaamheid van Elimeleg se huis.

Maar nou gee die Here vir haar swangerskap. Dis ook iets wat
van die Here kom. God is die bron van lewe. Ja, vir elke
konsepsie is ’n mens van God afhanklik. Die lewe is ’n
gawe van God. Besef en erken julle dit nog vandag? Ons
geëmansipeerde wêreld dink dat hy dit in sy eie mag het. Mense
beplan wanneer hulle ’n swangerskap wil hê. Mense maak
kinders op hulle tyd en wyse. Maar ook vandag bly dit ’n
werklikheid: God skenk of weerhou kinders. Ook al het ons hierin
’n verantwoordelikheid, uiteindelik is dit in God se hande.
Wat ’n troos vir Christene. Dis in hande van ons getroue
Vader. Ook al verstaan ek nie al sy wee nie, ek weet dat dit in
goeie hande is, in die hande van een wat weet wat Hy doen en ook
werklik omgee.

Geliefdes, tydens daardie jare in Moab was God se hand besig
om af te breek, om uiteindelik weer te kan opbou. Nou is
dieselfde hand besig om op te bou en nuwe lewe te gee. Soos Hanna
later in haar lofsang sou sing: “die Here maak dood en maak
lewend. Die Here maak arm en maak ryk; Hy verneder, ook verhoog
Hy.” So is die Here. Ons sien dit in hierdie geskiedenis.
Die arm en kinderlose weduwee Rut ontvang ’n ander man, sy
word swanger en ontvang die vreugde van die geboorte van ’n
seun, ’n erfgenaam.

Dis nog nie die einde van God se seëninge nie. Daar volg iets
wat Rut op daardie oomblik nog nie kon geweet het nie, wat sy
eers later na haar dood in heerlikheid kon verneem. Ek verwys nou
na wat genoem word in vers 17: haar seun Obed “hy was die
vader van Isai, die vader van Dawid.”

Nee, Rut, die Moabitiese, kon toe Obed gebore is, selfs in
haar wildste drome nie gedink het dat hy die oupa van Israel se
toekomstige koning sou word nie. Nog minder kon sy gedink het dat
hierdie Obed die voorvader sou word van ons Here Jesus Christus.
Tog is dit wat gebeur het. Dis die wonderlike en verrassende
werklikheid van God, wat mag het om te doen ver bo alles wat ons
bid en dink (Ef 3:20). Wat ’n genade en eer vir Rut. Sy is
van geboorte ’n heidin, uit Moab. Sy word nie net in God se
volk ingelyf nie, maar die Here kies haar ook uit om ’n
voorouer van Jesus Christus ons Here te wees.

Sien hier, geliefdes die drievoudige seën waarmee God sy
genade wys. Genade neem immers nie in rekening ons eie
waardigheid of verdienste, ons verlede of afkoms nie. Genade,
daarom word dit ook genade genoem, beklemtoon juis ons eie
onwaardigheid en fokus op God se onverdiende guns. Genade vra net
een ding van ons: dat ons dit nederig, in geloof, aanvaar uit God
se hand. Rut die Moabitiese het dit gedoen. In haar nood het sy
haar toevlug onder God se vleuels gesoek, het sy haarself aan sy
sorg toevertrou.

Broers en susters, vertrou tog jul lewe en toekoms aan die
Here jul God. In geloof en gehoorsaamheid. Dan mag jy sy seën
verwag. Nee, nie die spesifieke seëninge wat Rut ontvang het nie.
God het ander seëninge vir elkeen. Hy bekroon die getroues met
sy seën. In goeie en kwade dae. Hoeveel duideliker is dit vandag
nou ons ons Here Jesus Christus mag ken. Het Hy ons nie met sy
kosbare bloed gekoop om ons uit die mag van die duiwel en van die
vloek te bevry nie.

Nou die tweede gedagte: die seën vir Naomi en haar huis.

Naomi was waarskynlik nog meer gespanne oor die geboorte van
Rut se kind as Rut self. Sy kan nie wag nie. Hier is immers meer
in geding as net die geluk van haar liewe skoondogter. Hier is
die toekoms van haar man se familie in geding. Indien Rut
kinderloos sou bly dan sou dit die einde van Elimeleg se huis
wees. Dit sou uitsterf en uit Israel verdwyn. Maar as Rut ’n
seun ontvang, dan is die toekoms van Elimeleg se huis
menslikerwys gesproke gewaarborg. Want daardie kind geld dan as
die wettige seun van Maglon, kleinseun en erfgenaam van Elimeleg.
So kan Elimeleg se geslag voortleef en bydra aan Israel se groot
toekoms. Ja, daar is baie in geding vir Naomi. Hoe groot is dan
ook die vreugde in Elimeleg se huis.

Gemeente, wanneer jy hierdie Skrifgedeelte lees, is dit
opvallend dat Naomi alle aandag kry. Die vroue van Betlehem wens
Naomi geluk. Dit beteken natuurlik nie dat hulle nalaat om Boas
en Rut geluk te wens nie. Maar in hierdie nuwe geboorte herken
hulle bo alles die werk van die Here in die huis van Elimeleg.
Daardie huis was op die punt om uit te sterf. Maar nou is daar
’n seun gebore, ’n erfgenaam. Geen wonder dat die vroue
deel in die vreugde.

Hulle sê vir Naomi: “Geloofd sy die Here wat aan jou
vandag ’n losser nie laat ontbreek het nie!” Daardie
besoek van die vroue is baie bemoedigend. Wat ’n verskil met
’n jaar gelede toe Naomi uit Moab teruggekeer het. Al wat
die vroue toe kon sê was: “Is dit Naomi? Kyk wat van haar
geword het.” Nou is die eerste wat hulle doen om die Here te
prys: Geloofd sy die Here. Hulle aarsel nie om die naam van die
Here te noem nie. Met vreugde bely hulle openlik die Naam van die
Here: “Geloofd sy die Here.” Hier is daar weer ware
Christelike verbondsgemeenskap – die gemeenskap van die
heiliges - in aksie. En dit in die dae van die rigters.

Julle weet dat die tyd van die rigters deur individualisme en
selfsug gekenmerk was: elkeen het gedoen wat reg was in sy eie
oë. Elkeen het sy eie ding gedoen. So het Elimeleg sy eie weg
gegaan en homself en sy gesin aan die kerk onttrek. Hulle het dit
buite die kerk gesoek, in Moab. Hulle het die gemeenskap van die
heiliges nie nodig geag nie. Maar wat sien ons in ons teks? God
oorwin die individualisme en selfsug. Hy dryf die mense weer na
mekaar toe. Deur sy Gees skep Hy ’n ware gemeenskap van
heiliges. Hy leer die mense om nie te doen wat reg is in eie oë
nie, maar om te doen wat reg is in sy oë en daarom ook tot heil
van ander. En hoe gelukkig word dit dan. Wat ’n vreugde is
dit dan om by die kerk, die gemeenskap van die heiliges, te
behoort. Hier sien ons iets van God se werk van reformasie in
’n tyd van massale deformasie. Dis net ’n begin, maar
’n mooi begin. ’n Wonderwerk van God se Gees, wat mense
weer in sy naam saambind.

Die vroue van Betlehem besoek die ma en ouma van hierdie
pasgebore seun en prys die Here wat sy guns aan Naomi gewys het.
Die Here het tot haar redding gekom. In Rut se seun ontvang Rut
’n losser. Daardie seun sal immers haar huis verlos. Dis
waar dat Boas ook die losser genoem word. Maar hierdie lossing is
net effektief deur die kind. Indien Boas en Rut geen kinders sou
ontvang het nie, dan sou Naomi se familie tog uitgesterf het.
Daarom word Rut se kind die losser genoem. “Hy sal vir jou
een wees wat jou siel verkwik en jou grysheid versorg”, sê
hulle vir Naomi.

Hy ontvang die naam Obed, wat dienaar beteken. Blykbaar stel
die vroue die naam voor. Hulle noem hom Obed. Obed vat mooi die
boodskap van hierdie boek Rut saam. Naomi het na haar bekering
diensbaar geword in haar begeleiding van Rut. Rut het haarself
diensbaar gestel deur nie die jongmanne agterna te loop nie, maar
’n huweliksmaat te soek wat die geslag van haar skoonouers
kan red. Boas het hom ook as dienaar opgestel deur die lossing
van Elimeleg sy geslag en erfdeel te aanvaar. Obed, dienaar, vat
dus mooi saam die boodskap van die boek Rut. Obed self sal ook
dienaar wees, hy sal Naomi dien, die geslag van haar man herstel
en haar in haar ouderdom versorg. Elke keer as sy Obed sien, sal
sy aan die trou van God herinner word, God wat die vloek van haar
huis weggeneem het en in seën verander het. Wat ’n
bemoediging.

Naomi is vol vreugde. Sy neem die kind op haar skoot en
versorg hom. Sy aanvaar verantwoordelikheid vir die kind uit
liefde en dankbaarheid. Met skaamte sal sy aan haar klag oor die
Here gedink het. Toe sy net uit Moab teruggekom het, het sy gekla:
“Noem my nie Naomi nie; noem my Mara, want die almagtige het
my baie bitterheid aangedoen.” Nou besef sy: as jy wil kla,
kla nie oor die Here nie, kla eerder oor jou self en jou sondes.
Die Here het haar inderdaad swaar gekasty. Maar dit was
kastydings wat sy verdien het vanweë haar gebrek aan vertroue en
gehoorsaamheid. Dit was kastydings wat God gebruik het om haar en
haar geslag terug te roep, na die Here toe, na gehoorsaamheid aan
Hom. Wanneer sy weer die Here volg, verander die vloek in seën.
Wat kan Naomi anders doen as om saam met haar besoekers God te
prys

Ja, broers en susters, laat elkeen van ons tog saam die Here
prys. Hy kan ons soms hard slaan, op ’n pynlik manier ons
kasty. Maar ook in die kastydings is Hy besig in sy vaderlike
ontferming. Hy is besig om ons na homself te roep, weg van die
sonde vandaan. As dinge moeilik gaan in jou lewe, moenie kla oor
God nie. Ondersoek jouself of jy nie moontlik bewus of onbewus
God verlaat het nie. Indien wel, moenie kla oor God nie, maar kla
oor jou sondes. Vlug tot Hom in berou en bekering. Indien jy die
Here nie in ongeloof of ongehoorsaamheid verlaat het nie, moet
ook dan nie oor God kla nie. Hy is nie onregverdig nie. Onthou
hoe groot jou daaglikse sondes van swakheid is, ondanks al jou
getrouheid. God is besig om in en aan jou te werk. Verneder jou
onder sy magtige hand. Onthou dat God juis sy geliefde kinders
beproef om hulle te vorm en mooier te maak, tot verheerliking van
sy naam. Bekeer jou daagliks van jou sondes, en sien uit na sy
verlossing. Jesus Christus het gekom en betaal. Volkome
verlossing sal kom. Op sy tyd. God sal dit tot stand bring. Wag
op die Here. Hoop op sy woord.

Nou die derde gedagte: die seën vir Israel.

Die boek Rut eindig met ’n geslagsregister wat van Peres
na Dawid loop. Aanvanklik kan ’n mens dit jammer vind. Wie
laat so ’n mooi boek eindig met ’n dor lys van name?
Was dit wat in vers 17 oor Obed die vader van Isai, die vader van
Dawid gesê is, nie genoeg nie? Waarom moet hierdie
geslagsregister daaraan toegevoeg word?

Die Here wys deur hierdie geslagsregister dat hierdie
geskiedenis van Rut nie net ’n persoonlike, private
geskiedenis van ’n gelukkige gesin in Betlehem is nie. Die
Here gee om vir sy volk. Hy is besig om geskiedenis te maak vir
sy volk, vir sy kerk. Dit alles is deel van sy eeue omvattende
verlossingswerk.

Die geslagsregister begin met Peres, die seun van Juda. Ja,
die seun van Juda oor wie Jakob gesê het: “Juda, jy is dit!
Jou sal jou broers loof. Die septer sal van Juda nie wyk nie, nog
die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom
sal die volke gehoorsaam wees” (Gen 49:8-10).

Die vervulling van die messiaanse beloftes was aan Juda se
stam verbind. Die geslagsregister loop via Boas en Obed na Dawid,
aan wie God duideliker as ooit tevore die vervulling van die
messiaanse beloftes verbind het.

Gemeente, wanneer die Here die name van Boas en Obed in
hierdie geslagsregister noem wys hy: moenie fokus op hulle alleen
nie. Die geskiedenis van Rut is net ’n skakel in die goue
ketting van God se liefde en trou vir sy volk. Ja, let veral op
God se trou. Kyk hoe die Here Sy beloftes nakom. Hoe Hy deur die
eeue heen bly werk aan die heilige linie, die heilige linie
waardeur die Messias gaan kom.

Let ook daarop hoe Hy daaraan werk tydens daardie donkere dae
van die rigters. Hoe Hy besig is om aan ’n oplossing te werk
vir daardie droewige stand van sake. Ondanks die ontrou van sy
volk, gaan God aan met sy werk van verlossing. Ja, Hy maak selfs
gebruik van die sondige werk van mense. Dink aan die geskiedenis
rondom die geboorte van Peres en die geskiedenis rondom Rut se
inlywing by God se volk. Sondes van mense word deur God gebruik
in sy plan van verlossing. Daarin sorg God vir waardevolle
skakels in die goue ketting van verlossing.

Daarom mense van God, vertrou in die Here wat nie die werke
van sy hande laat vaar nie, wat sy verbond deur die eeue heen hou.
Wat aan sy koninkryk bou totdat dit voltooi is. Wat gee die
geslagsregister so ’n bemoedigende boodskap! ’n
Boodskap wat in die hele Bybel en in die geskiedenis van die kerk
bevestig word.

Daarom, vertrou op jul getroue God wat sy werk van verlossing
sal voltooi. Wanneer jy die afval van die Christendom en van die
kerk sien, dan kan dit jou onrustig maak. Wanneer jy sien dat
antichristelike kragte in die samelewing steeds sterker word,
wonder jy waar dit alles heen sal lei. Wat sal van die kerk van
Christus hier op aarde word? Watter nut het dit om jou nog te
beywer vir die opbou van God se kerk en koninkryk?

Luister dan na wat die Here deur die eenvoudige
geslagsregister van Rut sê: my volk, skep moed. Ek hou my
beloftes. Ek sal my werk van verlossing voltooi. Geen vyand, geen
sonde, geen ontrou kan dit verhinder nie. Ek bring my volk tot
heerlikheid. Vertrou op My. Vertrou jouself toe aan my leiding.
Beskou dit as ’n eer om die opbou van my kerk en koninkryk
te dien met die gawes wat jy ontvang het. Wie weet wat Ek daarmee
nog sal doen, wat Ek daardeur tot stand sal bring. Laat dit aan
My oor. Doen net wat jou hand vind om te doen in vertroue op My
en in getrouheid. Juis hulle wat bereid is om klein te wees en te
dien, is groot in die koninkryk van die hemele.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)