Ons arbei op God se werksvloer!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2006-10-15
Text: 
Génesis 8:20-22
Preek Inhoud: 

Génesis 8:20-22

Ds HH van Alten - Sondag 15 Oktober 2006

Lees: Genesis 8:15-9:17, Genesis 8:20-22
Sing: Sien liturgie

Tema: Ons arbei op God se werksvloer! Ons let op:

  1. Die gebed voor die arbeid
  2. Die vastheid van die werksvloer
  3. Die spyskaart ná die arbeid
  4. Die toekoms van arbeid en werksvloer

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Nog nie so lank terug nie het iemand iets gesê wat, ek dink, maar vir almal van ons geld. Die trant van die persoon se woorde was: Op sondae is ons baie besig met die dinge van die Here, en fokus ons op Hom; maar sodra die week weer begin het, dan raak dit alles weg agter die bedrywighede van die daaglikse lewe. Wie van ons kan hom- of haarself nie hiermee assosieer nie? Almal van ons ken daardie gevoel om besig te raak met ons daaglikse arbeid – of dit nou by die kantoor, of by die skool of by die huis is – dat die Here sy eerste plek, wat Hy op Sondag gehad het, moet afstaan.

Ja… ons gaan dan wel nog een keer in ‘n week of twee weke bybelstudievereniging toe, en by die maaltyd lees ons uit die bybel en bid ons, en saans net voor slaaptyd gebeur dieselfde. Maar dit is asof ons vir onsself sulke geloofseilandjies skep – hier ‘n eilandjie op Sondag vir die eredienste, daar ‘n eilandjie op ‘n weeksaand vir manne- of vrouevereniging; hier ‘n eilandjie om 7 uur soggens, en dan weer ‘n eilandjie 6 uur saans vir bybellees en bid. En van die een geloofseilandjie na die volgende durf ons die woeste see van die lewe op eie houtjie aan om ons daaglikse arbeid te verrig, swem ons teen alle winde in om te doen wat ons moet doen. En wanneer ons dan doodmoeg by die volgende eilandjie aankom, dan kan ons daar ‘n paar oomblikke rus, vir ‘n oomblik asemskep, net om weer man alleen die volgende skof aan te pak. 

Gemeente, so gaan dit dikwels in ons lewens. Ons swem van eiland na eiland, maar die gróótste deel van ons tyd bring ons op eie kragte deur in die see van die lewe, besig om te arbei, besig om onsself op te werk in die maatskappy, besig om vir ons gesin kos op die tafel te bring, besig om te werk sodat die rekeninge betaal kan word. Soms swem ons vir vyf, ses, sewe dae aanmekaar sonder om by ‘n eiland uit te kom, swem ons asof God niks met ons arbeid van elke dag te make het nie.

En daarom is dit goed om vandag biddag vir gewas en arbeid te hou. Sodat ons kan besef dat ons daaglikse arbeid nie privaatterrein is nie; die werk wat ons elke dag doen staan nie los van God nie. God word ook nie tevrede gehou met eilandbesoekies nie. God wys dat Hy ten volle betrokke is by elke dag, nie een van sy kinders se dagtaak gaan buite Hom om nie. Want ons lewe en ons arbei vir Hom, ons daaglikse werk verrig ons op sy aarde, sy werksvloer!

Tema: Ons arbei op God se werksvloer! Ons let op:

  1. Die gebed voor die arbeid
  2. Die vastheid van die werksvloer
  3. Die spyskaart ná die arbeid
  4. Die toekoms van arbeid en werksvloer

1. Die water het die wêreld heeltemal oorspoel, selfs die hoogste bergtoppe het onder die watervlak weggeraak. Dit blyk duidelik uit die feit dat die duif, wat Noag uitgestuur het, die eerste keer gou weer teruggekom het, want hy het geen rusplek vir die holte van sy voet gevind nie (8:9). Maar geleidelik het die watervlak gedaal, en rofweg elf maande nadat Noag en sy familie in die ark gegaan het, het hulle vir die eerste keer die kans gekry om weer daar uit te gaan. Die Here het self aangedui wanneer die tyd reg was om die ark te verlaat. Al die diere het toe die ark verlaat, Noag en sy gesin het ook voet aan wal gesit op die top van die berg Ararat – u kan u self voorstel dat die sigbare bewyse van die verwoestende krag van die water hulle verstom het. Die Here het al die kragte van die natuur laat saamwerk om die sondige mensheid van die aardbodem af weg te vaag, uit te wis.

Tog was daar vir hierdie agt mense ‘n nuwe toekoms; immers, die Here het hulle bewaar. Die Here het die mensdom nie volledig uitgewis nie, maar enkeles bewaar om met hulle die geskiedenis voort te sit. Húlle mag verder gaan met die kultuuropdrag om vrugbaar te wees en te vermeerder en die aarde te vul – ons kom hierdie opdrag tot drie keer toe in hoofstukke 8 en 9 teë! Hier was ‘n nuwe begin vir die mensdom, ‘n nuwe dag het geroep tot arbeid. 

Tog spring Noag nie dadelik aan die werk nie, hoewel daar baie werk was; immers, hy het ‘n hele nuwe wêreld gehad om te ontwikkel, alles moes van vooraf opgebou word ná die verwoestende vloed; en daarby moes hy ook eenvoudig sorg vir die daaglikse onderhoud van sy gesin. Maar Noag begin nie onmiddellik met sy dagtaak om sy gesin van kos en ‘n dak oor hulle koppe te voorsien nie; hy het nie dadelik ‘n ontwikkelingsplan gereed om die wêreld weer bewoonbaar te maak nie. Nee, Noag begin heel eerste deur ‘n offer te bring! Noag bou ‘n altaar, en daarop bring hy sekerlik die grootste diere-offer van alle tye – ons lees in vers 20 dat hy van al die rein diere en al die rein voëls geneem en brandoffers op die altaar gebring het. Die hele bestaande skepping van daardie tyd word as’t ware aan die Here gewy.

Want, gemeente, Noag het geweet dat, alhoewel die sondvloed verby was, so iets wéér kan gebeur. Die sonde het immers nie uit die wêreld verdwyn nie; nee, agt mense is deur die Here bewaar, maar daardie selfde agt mense het nog steeds die sonde in hulle gedra. En daarom smeek Noag en sy familie die Here deur middel van hierdie brandoffer dat ‘n tweede vloed nooit meer sal kom nie. Noag kán nie aan die werk spring voordat hy nie die reuk van sy gebed tot die Here laat opgaan het nie, hy kan nie sy daaglikse arbeid op hom neem as die Here nie gunstig teenoor hom staan nie, Noag besef dat sy kultuurarbeid op hierdie skoongemaakte aarde sinloos is as hy nie die Here aan sy kant het nie. Broers en susters, Noag is diep deurdronge van die besef dat geen arbeid wat ná die sondvloed verrig word, vrug sal dra as dit nie met die hulp en seën van die Here gepaardgaan nie. En daarom laat hy die reuk van sy offer opgaan tot voor die troon van God…  

Is dit ‘n besef, gemeente, wat óns rofweg 4000 jaar later nog het? Want ons daaglikse werk, ons arbeid, staan in dieselfde kader as dié van Noag. Ja, ons doen miskien ander tipe werk – Noag het nog nie rekenmeesters en rekenaardeskundiges en prokureurs en onderwysers geken nie. Maar tog staan ons arbeid in dieselfde lig as Noag se arbeid na die sondvloed. Almal saam is ons besig met die een kultuuropdrag: vervul, bewoon en bewerk God se skepping! Dit is wat u, dit is wat jy, sáám met Noag mag doen wanneer jy soggens werk toe gaan, skool toe gaan, die huis skoonmaak en kinders opvoed. Gemeente, sou ons daarom minder afhanklik wees van die Here as Noag? Het ons nie, net soos Noag, nodig om die offer van ons lippe voor die Here te bring nie? Wie kan hierdie groot opdrag uitvoer sonder die seën van die Here?

Wanneer ons daarom leer sien dat ons daaglikse arbeid, waar dit ook al mag wees, deel is van die groter kultuuropdrag waaraan Noag ‘n nuwe begin gemaak het, wanneer ons leer sien wie ons eintlike Werkgewer is, dan kan ons nie anders as om elke werksdag in gebed voor die Here te begin nie. Biddag vir gewas en arbeid doen ons slegs een keer per jaar in die kérk, maar in ons huise en gesinne behoort dit elke oggend te gebeur. Elke oggend behoort ons in gebed tot die Here te gaan vir dié dag se werk, of jy nou die direkteur is of die skoonmaker. Want, gemeente, “as die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet…” (Ps. 127:1-2).  

Juis in ons tyd, broers en susters, waar die arbeidsmark soveel eise aan ons stel, waak daarvoor om te vergeet vir Wie jy werk, moenie vergeet om te bid tot die Een vir Wie jy werk nie! Want ons is vroeg op, laat tuis, die lewe is besig, die tyd vir mekaar ontbreek, wat nog van tyd vir die Here? Kyk dan na Noag – Noag het ‘n hele nuwe wêreld gehad om te bewerk en ontwikkel, meer werk as enige een van ons, ons sou lankal aan die werk gespring het as ons in Noag se skoen was; en tog begin hy deur ‘n altaar te bou, tog begin hy deur die tyd te vat om die grootste diere-offer van alle tye te bring. Hoe meer werk hy het, hoe groter is die offer wat hy bring; amper soos Luther wat ‘n slag gesê het: “Normaalweg bid ek ‘n uur elke oggend, maar as ek ‘n besige dag het, bid ek twee ure.” Laat dit ook ons houding wees, gemeente, waar die pas van die lewe onhoudbaar vinnig en die druk van ons daaglikse arbeid baie groot geword het – laat ons bid; bid op grond van die grootste offer van alle tye, die offer van ons Here Jesus Christus. Hy het Homself opgeoffer sodat ons arbeid nie nutteloos is nie, Hy het aan die kruis gesterf sodat die verhouding met God sodanig herstel is dat ons van Hom krag mag afbid om ons arbeid te verrig. Bly altyd, in die Naam van Jesus Christus, bid vir jou daaglikse arbeid; dan mag u seën verwag.

Ons let nou vervolgens op die vastheid van die werksvloer.  

2. Ons lees in vers 21 van ons teks dat die HERE die lieflike geur van Noag se offer geruik het. Natuurlik was dit nie soseer die verskriklike reuk van verbrande diervleis wat vir die Here aangenaam was nie, maar hier word ‘n menslike voorstelling gebruik om uit te druk dat Noag se offer die Here behaag het. En dit is op grond van hierdie offer van Noag dat die Here by Homself besluit om die aarde nie weer te verwoes nie. Die Here sê: “Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie, want – en dit wat nou volg was die aanvanklike rede waarom die Here die aarde vervloek het – die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af. En Ek sal verder nie meer al die lewende wesens tref soos Ek gedoen het nie. Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.” Gemeente, dít is God se reaksie op Noag se offer; natuurlik, daaragter lê God se ewige raadsbesluit, maar vanuit menslike oogpunt word God se reaksie beskryf as verhoring van Noag se gebed.  

Op grond van Noag se offer belowe die Here om die aarde nie meer te vervloek en te verwoes nie; ook die lewende wesens sal nie meer op só ‘n skaal getref word nie. Die Here rig selfs ‘n verbond op om dit te bevestig; kyk maar na hoofstuk 9:11: “Ek rig my verbond met julle op, dat alle vlees nie meer deur die waters van die vloed uitgeroei sal word nie, en dat daar geen vloed meer sal wees om die aarde te verwoes nie.” En daarby kry Noag en sy nageslag ook nog ‘n teken, die teken van die reënboog. Gemeente, let op dat hierdie belofte ‘n eensydige beskikking van die Here is wat verseker vervul sal word, onafhanklik van die ontvangers daarvan.

En dit is vir elke kind van die Here ‘n groot troos. Want die aarde is die plek waarop ons woon, die aarde is die werksvloer waarop ons ons dagtaak verrig. En as ons die hele tyd moes wonder hoe standhoudend hierdie aarde is, as ons die hele tyd moes lewe met die vrees dat die sluise van die hemel enige oomblik weer sal oopgaan vir ‘n tweede sondvloed of dat die aarde op ‘n ander manier vernietig sou word, as ons die hele tyd moes wonder of die somer ooit sou kom en die reën die lande vrugbaar sou maak, of die dag sou kom om te werk en die nag sou kom om te rus, of die koue sou kom om die hitte te verlig en die hitte sou kom om die koue te verdryf – gemeente, watter lewe sou ons gehad het? As ons die opdrag sou kry om die aarde te bewerk en te bewoon en te vervul, maar elke oomblik was daar ‘n kans dat alles weggevaag sou word, waarom sou ons dan werk?  

Maar die Here verseker ons dat, wanneer ons tot Hom bid vir krag, ons arbeid, op grond van sy vaste belofte, nie tevergeefs is nie; wanneer ons, met ons werk van elke dag, in sy Koninkryk besig is, dan doen ons dit op ‘n vaste werksvloer; die voortgang van God se Koninkryk en ons arbeid daarin word deur God self verseker in die verbond met Noag en sy nageslag. Elke keer as u die reënboog sien, gaan dan weer vol ywer en vol moed aan die werk, want u werk op vaste grond; elke keer as u die reënboog sien, weet dan dat saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag mekaar reëlmatig sal opvolg – die Here sorg daarvoor. En ook al maak die mens dikwels ‘n gemors daarvan, ook al veroorsaak die mens deur sy wanpraktyke en besoedeling dat baie dinge skeefloop op aarde, dan nog hoef u nie ongerus te raak wanneer die doemprofete van hierdie wêreld voorspel dat die aarde oor soveel jaar nie meer leefbaar gaan wees nie. Die Here het die aarde gegrondves sodat dit nie wankel nie; ons ontvang ‘n vaste werksvloer!

Ons let nou op die spyskaart ná die arbeid. 

3. U sal onthou dat die Here, by die skepping, aan die mens die volgende gegee het om te eet: al die plante wat saad gee en al die bome waar boomvrugte aan is. Dít, sê die Here in Genesis 1:29, sal julle voedsel wees! En dit sê Hy onmiddellik nadat Hy aan die mens sy taak op aarde gegee het: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Gen. 1:28). Dus, eers die taak en direk daarna die spyskaart! Nou, nadat Noag sy offer voor die Here gebring het, herhaal die Here hierdie taak in verkorte vorm in hoofstuk 9:1. En net soos in Genesis 1, volg daar ook onmiddellik weer iets oor die mens se dieet.

Arbeid en voedsel is dus nóú met mekaar verbonde. Paulus wys dit ook duidelik in sy tweede brief aan die Thessalonicense, wanneer hy in hoofstuk 3:10 sê: “as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” Paulus het in sy tyd te kampe gehad met mense wat nie meer wou werk nie, omdat hulle verwag het dat die wederkoms op hande was. Vir ons tyd, waarin mense nie meer kan ophou werk nie omdat hulle so vasgevang is in die gejaag van elke dag, is dit miskien sinvol om Paulus se woorde positief te stel: as iemand werk, dan mag hy ook eet.  

Gemeente, Ou en Nuwe Testament leer ons dus dat die lewe nie net oor werk gaan, soos wat die hedendaagse 24-uur ekonomie ons wil laat glo nie. Ons lewe nie om te werk nie! Daar is méér aan die lewe as my daaglikse arbeid – die Here gee ook voedsel en ander genietinge, ontspanning en rus ná die dag se arbeid. Ons is nie slawe van ons dagtaak nie, ons is diensknegte van God wat tot op ‘n redelike tyd mag werk, om daarna ook te kan geniet wat die Here gee. En gemeente, laat ons dit ook gebruik! Die Here het geweet wat Hy doen toe Hy ná die arbeid ook die voedsel en die rus gegee het; die Here het geweet dat dit heilsaam is wanneer ons redelike ure werk, maar daarna eet en ontspan – heilsaam vir ons liggame wat nuwe krag nodig het, heilsaam vir ons kinders met wie pa en ma die nodige tyd kan deurbring, heilsaam vir ons huwelike waar ons aan mekaar mag skaaf en aan mekaar liefde mag bewys, heilsaam vir die kerk waar ons die Here en mekaar kan dien. Die struktuur wat die Here gee, is duidelik: eers werk, daarna óók eet! 

En gemeente, hierdie struktuur het na die sondvloed nie weggeval nie. Die geweldige omvang van Noag se taak om die aarde opnuut op te bou, maak nie dat die Here hierdie heilsame struktuur ophef nie. Inteendeel, die Here gee selfs nog meer gewig aan die feit dat daar óók tyd moet wees vir eet. Ons sien dit pragtig in hoofstuk 9:2-4 waar die Here die spyskaart, wat Hy in die paradys aan die mens gegee het, uitbrei: by die saad en die boomvrugte kom daar nou ook vleis op die mens se spyskaart: “Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen plante, gee Ek dit alles aan julle.” Die mens mag, elke dag as hy hom besiggehou met sy kultuuropdrag, van nou af ook die vleis van die diere eet.

Gemeente, wanneer ons op hierdie biddag die Here se seën oor ons arbeid vra, dan vra ons ook dat daardie arbeid die régte plek in ons lewens sal inneem. Ons vra nie vir ‘n seën op onmenslike ure se arbeid waar God en gesin en huwelik afgeskeep word nie… Ons vra die Here se seën oor elke dag wat ons hard, eerlik en verantwoordelik werk – en ‘n deel van sy seën is dan om op ‘n redelik tyd huis toe te kan gaan, en saam met my geliefdes ‘n heerlike bord kos te kan geniet, ‘n deel van sy seën is om te ontspan met die spyskaart wat Hy gee!

Ons let nog ten slotte op die toekoms van arbeid en werksvloer. 

4. Wanneer ons vers 22 van ons teks lees, dan is dit opvallend dat die Here daar praat van “al die dae van die aarde”. Die aarde ken dus ‘n vasgestelde aantal dae. Die verbond met Noag open wel die moontlikheid van lewe en geskiedenis, die aarde staan wel vas, maar nie tot in ewigheid nie, nie tot in onbeperkte vertes nie. Daar kom ‘n einde…

Maar gemeente, wat word dan van die aarde, die werksvloer? Wat word van ons arbeid wat ons op hierdie werksvloer verrig het? Sal dit alles tot niet gaan? Arbei ons vandag dan tog verniet? Nee, gemeente, hoewel hierdie aarde en ons werk daarop vol sonde en gebreke is, is dit nie verniet nie. Van die aarde bely ons immers in artikel 37 van die NGB dat dit aan vuur en vlam prysgegee sal word, om dit te suiwer – op só ‘n manier kom daar ‘n nuwe aarde! Ook die werk wat ons op hierdie aarde verrig het, sal deur vuur gesuiwer word – kyk maar na 1 Korinthiërs 3:11-15 – op só ‘n manier hou ons werke stand.  

Beide aarde en werke word gesuiwer! Maar suiwering is iets anders as vernietiging. Wie vandag in die Here arbei, wie vandag sy kultuurtaak op aarde verrig, verrig geen futiele arbeid nie; wanneer ons ons daaglikse arbeid verrig dan doen is dit nie maar net om onsself besig te hou tot tyd en wyl die Here terugkom op die wolke nie. Nee gemeente, u en my dagtaak is ingeskakel in die groot plan van die Here om sy Koninkryk te bou, om sy heerskappy hier op aarde te vestig! Hoe onbelangrik jou taak ook al in menslike oë is, hoe sinloos dit ook al in jou eie oë lyk, werk met ywer vir die Here, en nie vir mense nie! Werk elke dag voluit vir die Here, ook al kan die Here vandag nog terugkom. Daarom kan Luther ook sê: “As ek weet dat die Here môre terugkom, dan sal ek vandag nog ‘n appelboom plant.” En dit het Luther nie gesê omdat hy gedink het dat hy voor môre nog appels gaan kry nie, maar omdat oortuig was dat ons arbeid hier op aarde ewigheidswaarde het!  

Vandag, gemeente, mag ons alreeds saam met God aan die nuwe aarde bou; môre, wanneer u kantoor toe gaan en hard werk, dan lê u nog ‘n bousteen vir God se Koninkryk; as jy hierdie week weer pligsgetrou studeer, dan gee jy vorm aan die nuwe aarde; wanneer jy weer ‘n week binnegaan van kinders opvoed en kosmaak, dan bou jy aan God se Ryk! Dít, broers en susters, is die waarde van ons daaglikse werk; daarom moet ‘n biddag vir gewas en arbeid ook altyd hierdie komponent hê, dat ons God bid om aan ons daaglikse arbeid ewigheidswaarde te gee, dat ons Hom bid om die werk van ons hande te bevestig as werk, tot in ewigheid!

En wanneer die Here terugkom, dan wag daar vir ons die ewige rus; nie slegs ‘n aandjie af van die taak wat môre weer hervat moet word nie, maar ‘n werksame rus en ‘n rustende werksaamheid wat vir ewig sal duur, in die aangesig van ons God. Dan sal ons ewig in God se diens besig wees sonder om moeg te word, sonder om mekaar af te skeep, sonder om honger te word.

Mag die Here u arbeid seën!

Amen 

Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 121:1 en 4
Wetslesing
Sing Ps. 126:1-3
Gebed
Lees: Genesis 8:15-9:17
Sing Ps. 29:1, 2 en 5
Teks: Genesis 8:20-22
Preek
Amenlied Ps. 127:1 en 2
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 65:4, 6 en 7
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)