Glo in die Here, glo sy boodskap!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2006-09-24
Text: 
2 Kronieke 20:20
Preek Inhoud: 

2 Kronieke 2:20

Ds HH van Alten - Sondag 24 September 2006

Lees: 2 Kron. 20; 2 Kron. 20:20
Sing: Sien liturgie

Tema: Glo in die Here, glo sy boodskap!

  1. Die vergeefsheid van verkeerde bondgenootskappe
  2. Die krag van opregte verootmoediging
  3. Die betrokkenheid by God se stryd

Gemeente van Pretoria Maranata, gemeente van Jesus Christus,

Die kerkraad van die VGK Kaapstad het besluit om die dag van verootmoediging vandag, op Erfenisdag, te laat plaasvind. So stel hulle dit ook eksplisiet in die brief wat aan die verskillende gemeentes gestuur is, en wat in die laaste Kerkblad gepubliseer is. ‘n Dag van verootmoediging op Erfenisdag!

Nou, Erfenisdag is ‘n openbare vakansiedag waartydens ons die diversiteit in kulturele erfenis van ons land en sy inwoners vier. Ons het naamlik in Suid-Afrika ‘n geweldige  verskeidenheid aan kulture, wat deur die eeue heen binne die verskillende bevolkingsgroepe oorgelewer is. Nêrens anders in die wêreld vind ons dat mense van soveel verskillende kleure, tale en kulture saam in een land woon nie. En op Erfenisdag vier ons hierdie verskeidenheid van oorgelewerde kulture, want – sê die regering – hierdie verskeidenheid is ‘n nasionale aanwins; hierdie diversiteit het die krag om ‘n nuwe nasie te bou.   

Maar miskien is dit goed om op Erfenisdag onsself af te vra: wat is werklik die erfenis van hierdie land? Is ons erfenis werklik so ryk as wat ons voorgee? Is ons erfenis iets om oor fees te vier? Want as ons om ons heen kyk, dan sien ons geweld en misdaad; ‘n mens raak amper afgestomp daarvoor wanneer jy die koerante deurblaai. Ons sien hoe die leiers van ons land immoreel lewe en ‘n bespotting maak van die gevare van Vigs, ‘n siekte waaraan daagliks honderde mense magteloos sterwe; ons sien hoe die regering die moontlikheid opper om wetgewing deur te voer wat my, as ouer, verbied om my kinders op ‘n gesonde manier te tugtig; ons sien ‘n 24-uur ekonomie wat hom nie laat keer deur respek vir die dag van die Here nie; ons sien wetgewing wat God se wette vir die huwelik totaal ignoreer en aan mense die lisensie gee om vrylik teenoor dié van dieselfde geslag te ontbrand. Dit wil vir my voorkom asof dít ons eintlike erfenis is!

En, gemeente, as ons op hierdie dag moet erken dat dít ons erfenis is, dan is dit heeltemal gepas om op Erfenisdag 2006 ‘n dag van verootmoediging te hou, om ons voor die Here te verootmoedig oor ‘n erfenis van sonde en die gevolge van die sonde, oor ‘n erfenis waaraan niemand van ons onskuldig is nie!

Ek verkondig aan u die Woord van die Here onder die volgende tema: 

Tema: Glo in die Here, glo sy boodskap!

  1. Die vergeefsheid van verkeerde bondgenootskappe
  2. Die krag van opregte verootmoediging
  3. Die betrokkenheid by God se stryd

1. In 2 Kronieke 20 lees ons van koning Josafat van Juda, die twee-stammeryk. Al vanaf die eerste vers van hierdie hoofstuk is dit duidelik dat Josafat in probleme verkeer. Want nie minder nie as drie volke is besig om saam teen hom op te trek met die doel om teen hom te veg. Wat sou die rede wees vir hierdie aanval? Gemeente, om dit te verstaan, moet ons vir ‘n oomblik teruggaan in die geskiedenis.  

Josafat het koning geword in die vierde regeringsjaar van koning Agab van die tien-stammeryk (1 Kon. 22:41). Terwyl Josafat ‘n koning was wat die Here gedien en in sy gebooie gewandel het, weet ons almal dat Agab waarskynlik die mees goddelose koning in die geskiedenis van Israel was. Maar interessant genoeg het dit nie verwydering gebring tussen Josafat en Agab nie. Inteendeel, ons lees in 1 Konings 22:45 dat Josafat juis vrede gesluit het met Agab, die koning van Israel. Volgens die gebruike van daardie tyd is hierdie vrede bevestig deurdat die betrokke partye ook familiebande aangeknoop het – Josafat se seun het getrou met Agab se dogter.

Dit is hierdie vredesooreenkoms wat aan Agab die vrymoedigheid gee om in 2 Kronieke 18 vir Josafat te vra om saam met hom ‘n bondgenootskap te vorm, om teen die Arameërs te gaan oorlog voer. Wanneer u hierdie hoofstuk lees, sal u sien dat dit ‘n bondgenootskap was met rampspoedige gevolge – soos die Here trouens ook voorspel het; Agab sterf in die geveg en die Arameërs behaal die oorwinning. En wanneer Josafat dan, ten spyte van die neerlaag, tog behoue na Jerusalem terugkeer, wag die siener Jehu hom daar in; hy het ‘n boodskap van die Here: “Moet ‘n mens die goddelose help, en het u lief die wat die Here haat?” (2 Kron. 19:2). Die Here betig Josafat dus, deur middel van Jehu, oor sy bondgenootskap met die goddelose Agab.

Maar ook ná Agab se dood word hierdie vriendskapsverhouding tussen die koningshuise van Juda en Israel voortgesit, weereens ten spyte van die feit dat Agab se twee seuns wat ná hom regeer het, naamlik Ahasia en Joram, óók goddeloos was.

Oor Josafat se bande met Ahasia het ons gelees in 2 Kronieke 20:35-37 (dieselfde verhaal vind u ook in 1 Konings 22:49-50). Daar het ons gelees dat Josafat saam met Ahasia ‘n skeepsbou-projek van stapel gestuur het; hulle het skepe laat bou om na Tarsus te vaar. Waarskynlik het Josafat vir die tewaterlating van die skepe na die skeepswerf in Eseon-Geber afgereis. Maar wanneer hy daar aankom, verskyn die profeet Eliëser, seun van Dodawa, aan hom met die woorde: “Omdat u ‘n bondgenootskap met Ahasia aangegaan het, verbreek die Here u werk.” Wat dan ook onmiddellik gebeur het; die projek het letterlik skipbreuk gely. Weereens wys die Here aan Josafat die vergeefsheid van bondgenootskappe met die goddelose konings van die tien-stammeryk. Daar is geen heil in sodanige bondgenootskappe nie, ook nie ekonomiese heil nie! Wanneer Ahasia te hore kom van die mislukte projek, opper hy die moontlikheid van ‘n nuwe projek. Maar Josafat gaan nie daarop in nie; hy het die vermaning klaarblyklik ter harte geneem.  

Maar dan, in 2 Konings 3, vind ons Josafat sowaar wéér in ‘n bondgenootskap, hierdie keer met Ahasia se opvolger, sy broer Joram. Joram wou die Moabiete, wat van hom afvallig geword het, gaan straf. En vir dié doel versoek hy Josafat om saam met hom te trek om teen die Moabiete te veg. En sowaar gee Josafat weer gewilliglik toe aan hierdie versoek. Sy antwoord was letterlik: “Ek sal optrek; ek sal wees soos u, my volk soos u volk, my perde soos u perde” (2 Kon. 3:7). Vir ‘n derde maal soek Josafat sy krag in menslike bondgenote… Uiterlik lyk dit asof hierdie bondgenootskap suksesvol afgeloop het, maar wanneer ons na die uiteinde van die geveg kyk – 2 Konings 3:27 – dan sien ons dat die toorn van die Here oor hierdie bondgenootskap gekom het. In hulle geveg teen die Moabiete het hierdie bondgenootskap so wreed opgetree, dat dit die koning van Moab gedwing het om die gruwelike daad te begaan om sy eie seun te offer. En daaroor toorn die Here, sodat ook hierdie bondgenootskap onverrigter sake die aftog moet blaas.  

En gemeente, juis hierdie laaste bondgenootskap se optrede teen Moab is die oorsaak daarvan dat die Moabiete, saam met die Ammoniete en ‘n deel van die Meüniete, nou uit wraak teen Josafat optrek in 2 Kronieke 20. En Josafat is bang – hy is bang vir hierdie groot menigte wat oppad is na Jerusalem; en wat hom nog banger maak, is dat hulle ongemerk al baie naby gekom het (kyk maar vers 2). Wat gaan Josafat nou maak? Drie bondgenootskappe het vir hom al lelik skeefgeloop, drie keer het die Here al duidelik gemaak dat daar geen heil is in bondgenootskappe met die goddeloses nie – wat nou? 

Gemeente, op hierdie dag van verootmoediging word ons vanuit die Skrif gedwing om onsself te ondersoek op die punt van ons eie bondgenootskappe. Met wie sluit ons bondgenootskappe? Wie is ons bondgenote in hierdie land? Want, broers en susters, ons is nie soveel anders as koning Josafat nie. Ons wil, net soos hierdie koning, die Here dien en in sy weë wandel, maar intussen soek ons ook ons heil elders. Ons sluit bondgenootskappe met die finansiële welvaart waarin ons, as ‘n minderheid in hierdie land, mag deel – ons bank en ons beleggings en ons besighede is so dikwels ons bondgenote. Ons sluit bondgenootskappe met veiligheidsinstansies soos ADT en NNW – húlle moet ons beskerm teen die misdaad en geweld waaronder ons land gebuk gaan. Ons sluit bondgenootskappe met versekeringsmaatskappye – my korttermynversekering, my pensioen, en my medies is my bondgenote wat aan my sekuriteit verskaf. Ons sluit bondgenootskappe met voorbehoedmiddels om te verseker dat ons veilige seks het. Ons sluit bondgenootskappe met ‘n ieder en ‘n elk wat lyk asof hy of sy of dit ons verder kan help tydens ons verblyf hier op aarde.

Gemeente, die Here wys ons hier in die lewe van koning Josafat op die futiliteit, die vergeefsheid, van hierdie bondgenootskappe. Telkens moet Josafat uit die mond van die Here se profete hoor dat sy verbintenisse met die goddeloses geen heil bring nie, telkens moet hy aan sy lyf ervaar dat hy nie op hierdie bondgenootskappe kan bou nie. En Josafat het uiteindelik sy les geleer. Die laaste woorde wat van hom in die Skrif opgeteken is, naamlik die woorde in ons teks, is daarom ook woorde van geloof, ‘n oproep tot verbondenheid met die Hére en met diegene wat sy woord bring: “Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Glo in die Here julle God, dán sal julle bevestig word; glo aan sy profete, dán sal julle voorspoedig wees.” Broers en susters, leer uit die lewe van Josafat om die gevare van ons aardse bondgenootskappe te onderskei, sien in dat hierdie bondgenootskappe geen ewigheidswaarde het nie, sien in dat hierdie bondgenote ons in ‘n wurggreep kry waarvan dit dikwels baie moeilik is om te ontkom, sien in dat die gevaar wesenlik is dat ons van die Here, ons God, afgetrek word. Slegs in Hóm word ons bevestig, slegs in sy evangelie is ons voorspoedig!

[Kom ons sing nou hiervan uit Psalm 146:1 en 2]

Ons let vervolgens op die krag van egte verootmoediging. 

2. Vrees – is dit nie maar deel van elke Suid-Afrikaner se emosionele pakket nie, ook elke gelowige Suid-Afrikaner? Vrees oor die toekoms, vrees of ek my werk gaan behou, vrees wanneer ek ‘n slagoffer van misdaad geword het, vrees oor die veiligheid van my kinders, vrees oor ons finansiële welstand… Maar gemeente, wat doen ons met ons vrees? Hoe gaan ons daarmee om? En dan is dit mooi om te sien wat Josafat doen met die vrees wat hom beetgekry het nadat hy die nuus van die aanstormende vyand ontvang het: hy roep ‘n dag van verootmoediging uit. Hy gaan namens die volk in ‘n indringende gebed tot die Here, hy beoefen die “ver”bondgenootskap met sy God! Geen vlug na aardse bondgenote nie, nee, hy vlug saam met die volk na die God van die verbond.  

En dan beroep Josafat hom ook op hierdie verbond, wat God al met Abraham gesluit het: “HERE, God van ons vaders, … het U nie die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uit verdrywe en dit vir altyd aan die nageslag van Abraham, u vriend, gegee nie?” Maar… wat is die sin daarvan om nou, terwyl die vyand al nader kom, ‘n betoog te hou oor die geskiedenis? Is daar nie dringender sake vir die gebed nie? En as ons kyk na daardie geskiedenis – is dit eintlik ‘n geskiedenis om op te roem? Nee, broers en susters, Josafat beroem hom ook nie op die geskiedenis nie, maar op die God van die geskiedenis, die God wat deur alle eeue heen trou gebly het, sy volk gelei en bewaar het! Op Hóm rig Josafat sy gebed. En ja, dit is sinvol, want hierdie God het Homself immers oor en oor bewys as die God wat kan en wil help.

En wanneer Josafat hom wél beroep op die dade van die volk, dan noem hy daardie een daad waaruit blyk dat die volk die intensie gehad het om die Here te dien, naamlik die oprigting van die tempel – dáár kon die volk in tye van swaard of straf of pes of hongersnood die Here opsoek in die wete dat hulle God die krag het om hulle te red. Hy is immers in die hemel, Hy is immers Heerser oor al die koninkryke van die nasies? Hulle kon Hom aanroep uit hulle benoudheid, en Hy sou hoor en verlos!

En dan is dit opvallend om te sien dat Josafat hom ook nog op God se regverdigheid beroep. Want, wie is die volke wat hier teen God se volk optrek? Moab en Ammon – die volke wat uit die twee seuns van Lot gebore is, waarvan die Here die volk tydens hulle reis na die Beloofde Land beveel het om hulle nie aan te val nie. En die ander volk wat saam met Moab en Ammon opgetrek het, is die mense uit die gebergte van Seïr, dit is die nakomelinge van Esau, aan wie die Here die gebergte van Seïr as woonplek gegee het – ook hulle word tydens Israel se reis na Kanaän deur die Here gespaar (lees maar Deuteronomium 2). En nou is dit hierdie einste volke, wat uit genade deur die Here gespaar is, nou is dit húlle wat God se volk aanval. Hulle het geen rede hiervoor gehad het nie; inteendeel, hulle het eerder rede tot dankbaarheid gehad. En daarom die woorde van Josafat in vers 12: “Onse God, sal U nie teen hulle strafgerig oefen nie?”

Josafat beroep hom in sy gebed op God se verbond, God se krag, en God se geregtigheid. 

Dit is aangrypend! ‘n Kind van God wat bid tot sy God. Ons sien hom daar staan, te midde van die vergadering namens wie hy bid. En hulle bid saam, die manne en die vroue, en selfs die klein kinders. Hulle beroep hulle op sy verbond, hulle beroep hulle op sy krag, hulle beroep hulle op sy geregtigheid! Hulle werp hulleself volledig in die arms van God,  “want – so sluit Josafat af – in ons is geen krag teenoor hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet doen nie…” Sien u: ons weet nie wat ons moet doen nie! Dit is die belydenis van iemand wat die vergeefsheid van aardse bondgenootskappe leer ken het, dit is die belydenis van iemand wat die onvermoë van menslike bondgenote ervaar het. Ons ervaar dit tog ook? Banke en beleggings stel teleur, ADT kom te laat, oor 40 jaar is ons pensioen nie meer wat dit vandag lyk nie, ons medies raak uitgeput, ons besighede vou, voorbehoedmiddels is nie 100% veilig nie… Ons weet nie wat ons moet doen nie – tot hierdie besef moet ons kom, tot hierdie besef dwing die Here ons telkens weer. En dán, gemeente, slegs dan leer ons saam met Josafat bely: “… maar ons oë is op U!” Gelukkig is elkeen wat hom so verootmoedig, salig hy wat in die lewe, sonder hulp en sonder raad, as hom alles wil begewe, vlug tot God sy toeverlaat; en ook in die swartste nag op die Here alleen bly wag. Want dís dit Heer wat aarde en hemel, die getuies van sy mag, met die see en wat daar wemel, voortgebring het deur sy krag; wat, onwrikbaar in sy trou, altyd sy beloftes hou. Dís die Heer wat aan die arme in sy druk laat reg geskied, wat uit liefderyke erbarme hongeriges spyse bied; wat gevangenes vryheid skenk en hul in hul smart gedenk. Dis die Héér se mededoë wat die blinde oog verlig; wie in stof lê neergeboë, word deur Hom weer opgerig. Hy bemin die wat opreg, wandel in sy woord en weg. Dís die Heer wat vreemdelinge met ‘n wakende oog aanskou, weduwees in twisgedinge, met hul wese, staande hou. Maar sy arm, hul steun en hoop, stuit die bose in sy loop. Dís die God der leërmagte, troue Bondsgod van weleer, God van wordende geslagte, tot in ewigheid die Heer!

Gemeente, te midde van soveel sonde, moeite en ellende in ons land, Suid-Afrika, is ons oë op hierdie God; ons verootmoedig ons vandag voor Hóm, want óns weet nie wat ons moet doen nie, óns het geen krag teen die magte wat hierdie land op sy knieë bring nie. Daarom gee ons onsself volledig oor aan die God wat die krag het om uit te red, wat daardie krag in die geskiedenis van sy kerk hier in Suid-Afrika ook al telkemale bewys het. Ons werp onsself in die arms van die God wat regverdig sal oordeel, en wat vír sy kinders sal stry. Ons oë is op Hom!

[Laat ons hiervan sing uit Psalm 146:3 en 8]

Ons let ten slotte op ons betrokkenheid by God se stryd. 

3. Die Here se antwoord op Josafat se gebed is onmiddellik! Skaars het Josafat klaar gepraat, of die Here antwoord. Hy laat sy Gees kom op ‘n leviet met die naam Jahásiël. Jahasiël spreek dus nie namens homself nie, nee, hy spreek die woorde van die Here: “So sê die Here aan julle: Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van Gód! Pragtig! God stry vir sy volk! Wanneer Josafat en die volk erken dat hulle nie meer weet watter kant toe nie, wanneer hulle hulself volledig aan die Here oorgee, dan stel die Here hulle nie teleur nie. Wanneer hulle al hulle bekommernisse op Hom werp, dan neem Hy ook eienaarskap van hierdie stryd ter wille van sy volk. 

Maar dan is dit interessant om te sien dat, wanneer die Here vir sy volk stry, Hy daarmee nie sy volk uitskakel nie. Nee, hoewel die stryd aan die Here behoort, kry die volk die opdrag om die volgende môre teen die vyand af te trek. Om wat te doen…? U kan die spanning voel. Die volk het hulself waarskynlik die ergste voorgestel: ons sal afgeslag word deur die vyand. Wat moet ons daar op die slagveld gaan maak? As die oorlog aan die Here behoort, laat Hy dit dan ook heeltemal alleen doen, dan hoef ons nie daar te wees nie. Maar die volk moet gaan! En hulle moet aanskou! Nie sommer neutrale, onpartydige toeskouers wees nie; nee, wie aanskou, vervul ‘n opdrag. Dit is die táák van die gelowiges om die Here te sien stry, om daarvan getuies te wees. Getuies van Gód se werk!

En dan gaan hulle. Na die woestyn van Tekoa. Daar gaan die leër van die Here wat nie hoef te stry nie, maar tog deelneem deur sy God te sien stry! Aktief deelneem deur die geloof. Deur die geloof, nie deur werke nie! En dít is ook wat Josafat op daardie oomblik van die volk vra: Gló in die Here julle God, dan sal julle bevestig word; gló aan sy profete (dus, die draers van sy boodskap), dan sal julle voorspoedig wees.  

Gemeente, wanneer ons erken dat ons nie opgewasse is teen die verwoestende magte van geld en mag en seks en geweld, wat in hierdie land werksaam is nie, wanneer ons bely dat die Here vir ons moet stry, dan word ons daarmee nog nie passief nie. Nee, dan skakel God ons in in sy stryd, dan mag ons aktiewe geloofsgetuies wees. Ons mag getuies wees, deur te sien hoe die Here in hierdie land werk ten spyte van alle teëwerking; ons mag getuies wees, deur te vertel watter wonderdade die Here verrig het en steeds verrig. Aanskou en verkondig, sien en vertel, wees verwonderd en bring ‘n wonderlike boodskap. Ons stry saam met God deur gelowig op sy werke te let.

En wanneer ons in geloof stry, dan sal u sien dat die kerk ook op ‘n totaal ander manier in ons land aan die werk gaan. Kyk maar na Josafat en die volk in vers 21 – nadat hy hulle opgeroep het tot geloof in God en sy profete, dan gaan beraadslaag hy met die volk. En dan herorganiseer hulle die leër volledig. Waarskynlik het die gewapendes aanvanklik aan die voorpunt gestaan, net vir in geval, ‘n mens weet maar nooit waarvoor dit goed is nie, miskien moet hulle tog veg. Maar nadat Josafat die geloof beklemtoon het, dan word die sangers op die voorpunt gestel; hulle moet die geloof waarmee die volk na die slagveld optrek, verwoord: “Loof die Here, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!” Nie deur krag of deur geweld nie, maar ons bely dat die Here in sy ewige goedheid vir ons stry!

En op die moment toe die sangers daardie geloofsbelydenis namens die volk aangehef het, toe het die Here tot die stryd toegetree, soos net Hy dit kan. Deur ‘n hinderlaag en deur onderlinge gevegte het die Here daarvoor gesorg dat die vyande mekaar in die verderf gehelp het. En wanneer die volk by die slagveld aankom, tref hulle ‘n bloedbad aan, ‘n dal vol met lyke – hulle het geen vinger verroer nie, slegs in geloof gekom om te aanskou die dade van die Here! En dan mag hulle selfs nog vir drie dae lank die buit insamel. Dis nie verniet dat hulle daardie plek Lofdal genoem het nie…  

Broers en susters, weet dat in hierdie land, wat onder soveel spanning en moeite gebuk gaan, die Here vir ons stry! Ons hoef nie die wapens op te neem nie, ons hoef nie te gaan veg nie; ons stryd in hierdie land is om in die geloof vas te staan, en te aanskou wat die Here gedoen het en steeds doen. Aan die kruis het sy Seun die oorwinning behaal, daar het die bloed gevloei – daarvan mag ons getuies wees in ons woorde en ons dade; ons mag getuig van die Here se werk deur sy boodskap te verkondig aan mense in groot duisternis, ons mag getuies wees van die Here se werk deur sy liefde uit te straal na die armes en die siekes en die eensames, ons mag getuig van die Here se oorwinning deur die buit binne te haal, op die sendingsveld en hier in die kerk! Die Here is ons bondgenoot, by Hom is die oorwinning seker, by Hom is daar toekoms vir ons land, Suid-Afrika! Glo in Hom, glo aan sy Woord! En – soos Johannes sê in 1 Joh. 5:4 – dan is dit die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof; dit is ook die oorwinning wat ons land sal oorwin, naamlik die geloof!

Amen  

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 72:1, 7 en 10
Wetslesing
Sing Ps. 17:2 en 3
Gebed
Lees: 2 Kronieke 20
Sing Ps. 136:1, 3 en 18
Teks: 2 Kronieke 20:20
Preek

    • Na eerste punt: Ps. 146:1 en 2
    • Na tweede punt: Ps. 146:3 en 8
    • Amenlied: Ps. 18:3, 7, 15 en 16

Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 68:1, 2 en 5
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)