As die Here nie vir ons was nie…

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2006-08-27
Text: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 5
Reference: 
HK 5-0
Preek Inhoud: 

Sondag 5

Ds HH van Alten - Sondag 27 Augustus 2006

Lees: Psalm 124, HK Sondag 5
Sing: Sien liturgie

Tema: As die Here nie vir ons was nie…

  1. Die wanhopigheid om dit self te moet doen
  2. Die verwondering wanneer die Here dit doen

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Ons het intussen by die tweede deel van die Kategismus gekom. In Sondae 2-4 het die Kategismus ons sonde en ellende behandel, en nou kom vanaf Sondag 5 die vraag aan die orde hoe ons dan van hierdie sonde en ellende verlos word. En dan is dit opvallend om te sien dat hier, in die deel van die verlossing, vir die eerste keer in die Kategismusvrae ‘n belydenis van skuld is. Let wel, in die vrae; in die antwoorde is die hele tyd al op Skriftuurlike wyse die skuld van die mens bely, maar dit is die eerste keer dat die vraagsteller so ver kom om te erken dat elke mens in skuld verlore is. Ons sien naamlik in die deel van die ellende elke keer maar weer die soeke na uitkoms: eers in vraag 6 die suggestie dat God dalk die mens so sondig en verkeerd geskep het; en toe dit ontkrag is, toe kom die veronderstelling in vraag 9 dat God die mens eintlik onreg aandoen om van hom dinge te eis wat hy tog nie kan nakom nie; en toe dit beantwoord is, toe vind ons in vraag 11 nog die vraag of God dan nie ook barmhartig is nie.

Maar nou is dit verby; alle verontskuldiginge is beantwoord, alle vlugroetes is afgesny. Ons vind aan die begin van Sondag 5 iemand wat homself oorgegee het. Daar het erkenning gekom; lees maar vraag 12: “Aangesien ons volgens die regverdige oordeel van God die tydelike en ewige straf verdien het…” Ja, – sê die vraagsteller – dit is wat ek verdien, ek staan skuldig!  

So sien ons, gemeente, dat die deel oor die ellende nie verniet is nie, dit is nie maar die skadukant van die geloof nie, dit is nie maar die deel wat ons liewer stilhou nie. Nee, dit is voluit deel van ons prediking uit die Kategismus, van alle prediking. En as ons hierdie deel deeglik deurwerk en ons eie maak, dan bly dit nie sonder vrug nie. Nee, wie erns maak met die deel oor die ellende, word – soos die vraagsteller – op sy knieë voor God gebring; wie hierdie deel persoonlik ken, soek nie meer na uitvlugte nie, maar leer om te vlug… na God! Wie sy totale verdorwenheid voor God leer raaksien en bely, staan nie meer buite die heiligdom nie, maar het reeds ingegaan in die heiligdom van die verlossing. En daarom is dit so mooi om te sien dat die skuldbelydenis van die vraagsteller aan die begin staan van die deel oor die verlossing. Ja, wie deur die Here tot egte skuldbelydenis gebring word, mag die eerste stap sit op die pad van die verlossing! 

Want watter persoon, wat nie sy sonde besef nie, gaan vra hoe ons van God se straf bevry kan word? Watter ongelowige, wat nie besef dat hy in skuld verlore is nie, gaan vra hoe ons weer in genade aangeneem kan word? Niemand nie, want hy besef nie eens die straf wat op hom wag nie, hy besef nie eens die genade wat hy so dringend nodig het nie! Maar hy wat sy skuld sien en bely, by hom kom daar ruimte vir die vraag: maar is daar dan nie verlossing moontlik nie? En gemeente, op daardie soektog neem die Kategismus ons vanaand in Sondag 5.

Tema: As die Here nie vir ons was nie…

  1. Die wanhopigheid om dit self te moet doen
  2. Die verwondering wanneer die Here dit doen

1. Psalm 120 tot en met 134 word algemeen beskou as ‘n eenheid, ‘n bundel wat in ons bybel die ‘bedevaartsliedere’ genoem word. Die situasie waarin hierdie psalms gebruik is, was waarskynlik tydens die reis van die volk na Jerusalem, na die tempel, om daar die groot feeste te vier. Dan het die hele volk, waar moontlik, vanaf hulle woonplekke opgetrek na Jerusalem; en hoe nader hulle aan Jerusalem gekom het, hoe groter het die groepe geword. Amper soos ons spitsverkeer – hoe nader jy aan die sentrum van die stad kom, hoe groter word die stroom van motoriste. So het Israel dan ‘n groot stroom opgegaan na Jerusalem; en tydens hulle opgang het hulle hierdie bedevaartsliedere gesing.

Die situasie waarin Dawid hierdie psalm egter oorspronklik geskryf het, is nie vir ons bekend nie. Hy gee vir ons ook nie ‘n spesifieke aanduiding nie. Wat wel uit die psalm blyk, is dat ons hier te make het met ‘n situasie van groot moeite en verdrukking, waaruit die Here sy volk verlos het. Miskien dat Dawid nie ‘n spesifieke situasie nie, maar ‘n meer algemene situasie op die oog gehad het; Dawid weet immers dat dit in die geskiedenis al voorgekom het, en weer sal voorkom, dat Israel deur vyande omring sal word. Ja, daar was dikwels vyande wat Israel omring het, van alle kante het hierdie volke nader gekom en Israel in hulle mag probeer kry, hetsy met groot mag of deur geestelike verleiding.   

Dawid wys dus hier op die voortdurende gevare waaraan die volk, die kerk van daardie tyd, blootgestel was. En hy doen dit in beeldende taal.

Dawid beskryf die vyande in die eerste plek as ‘n bende wilde diere – hy wys in vers 3 dat hulle daarna gesoek het om God se volk lewendig te verslind, en in vers 6 praat hy van die tande waaraan die volk blootgestel was. Dit dui dus op die ongelooflike krag van die vyande, maar ook op die barbaarse manier waarop hulle te werk gegaan het. Hulle was bereid om deur bloed en trane te gaan om die volk te verslind; hulle het hul woede uitgehaal op die volk Israel, wat volledig onbekwaam was om enige weerstand te bied. Hulle was soos wilde en wrede diere wat hulle deur niks laat stuit het nie.

‘n Ander beeld wat Dawid gebruik, is die beeld van ‘n geweldige watermassa, ‘n watermassa wat met geweld teen ‘n berghelling afstort. Hierdie watermassa het so ‘n krag dat niks en niemand daarvoor kan standhou nie; alles word saamgesleep en verpletter. So ‘n watermassa verander rustige riviertjies in bruisende bergstrome, en wie nie vroegtydig vlug nie, word ‘n prooi van die onstuimige waters, so iemand word heeltemal deur die water verswelg.

‘n Laaste beeld wat Dawid gebruik om die vyande, die teenstanders, te beskryf, is die beeld van ‘n voëlvanger, ‘n voëlvanger wat êrens sy strik opstel, ‘n lokmiddel daar by sit en dan maar afwag. Dit dui daarop dat die vyande wat Israel omring het, nie slegs sterk is nie, maar nog slinks ook. Hulle het die vangnet reg gesit met lokaas daarin; en die verleiding was so groot vir die voël om die lokaas te gryp, maar met die gevolg dat die vangnet bo hom toegeklap het.  

Gemeente, sien u hoe Dawid hier in alle geure en kleure probeer duidelik maak aan watter gevare die volk van die Here blootgestel was? Hy gebruik tot drie verskillende beelde om te wys dat die vyande gewetenloos, sterk en slim was. Hulle het gesoek na die bloed van God se volk, hulle het daarna gesoek om God se volk te vernietig, nie slegs met brute krag nie. Nee, selfs op slinkse maniere het hulle probeer om die volk van die Here af te trek, hulle te verlei. Dawid wys hier dat dit enersyds ‘n fisiese stryd was – dink maar aan die oorloë met die volke wat Israel teëgekom het op hul pad na die beloofde land, dink aan die volke wat Israel onderdruk het in die tyd van die rigters, dink aan Dawid se eie stryd teen die reus Goliat… Maar benewens die feit dat dit ‘n fisiese stryd was, was dit ook ‘n geestelike stryd – dink maar aan die verleiding van die Moabiete wat Israel tot afgodediens en hoerery verlei het toe hulle oppad was na die beloofde land (Num. 25), dink aan die tyd van die rigters, toe die volk telkens maar weer verlei is tot diens aan die afgode.

Aan al hierdie gevare en verleidings, fisies en geestelik, het die volk gedreig om ten onder te gaan, hulle kon nie hierteen weerstand bied nie, hulle kon nie self staande bly nie. As dit van hulself afgehang het, sou daar niks van hierdie volk oorgebly het nie; immers, wie kan staande bly teen ‘n verskeurende roofdier? Wie kan op sy voete bly staan, wanneer ‘n kolkende watermassa hom tref? Wie kan ontkom wanneer jy deur die voëlvanger uitoorlê word? Niemand nie! Nee gemeente, in hierdie aanslae – wat in wese ‘n stryd was tussen lig en duisternis, tussen God en satan – kon die volk nie staande bly nie, meer nog, dikwels wou hulle selfs nie eens staande bly nie. Die satan het die omringende volke gebruik om Israel op alle moontlike maniere van die Here af te trek; fisies en geestelik het hy die felste aanslae op hulle gepleeg, hulle siel was in gevaar – kyk maar na verse 4 en 5 waar die digter wys dat die kolkende watermassa nie slegs die liggaam bedreig het nie, maar meer nog die siel! En Israel kon nie staande bly nie, die volk het geswig.  

Gemeente, sien u die toestand waarin ons verkeer? Ons toestand is immers nie anders as dié van die volk nie. Die wilde diere van ons tyd verskeur om hulle heen, sonder om die persoon in ag te neem – die satan self gaan rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind; die watermassas van ons tyd is onweerstaanbaar, dit sleep alles saam in sy val; die voëlvangers se strikke is geraffineerder as ooit te vore, en ons gee onsself gewillig daaraan oor. Dink aan die wêreld, waarvan ons vanoggend ook gehoor het, dink aan die verleidings, dink aan al die sonde in die wêreld, dink aan u sondige hart…

Sien u die hopeloosheid? Voel u hoe die leeus die vleis uit u liggaam skeur? Voel jy hoe jy probeer asem skep in die kolkende watermassa en slegs water sluk? Sien jy hoe klap die vangnet bo jou toe wanneer jy toegegee het aan die verleiding van die lokaas? Dit is die drie doodsvyande, waarvan die Kategismus in Sondag 52 praat: die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur. Hulle het ons in hulle greep, en hulle druk die lewe uit ons uit.  

Dit maak vraag 13 van die Kategismus half lagwekkend, nie waar nie? “Kan ons deur onsself betaal?” Dit is die vraag van iemand wat reddeloos ondergaan, en dan tog dink dat hy self daar uit kan kom. Maar gemeente, lagwekkend of nie, dit is wat ons almal dink. Dit is wat die Jodendom gedink het, toe hulle met hul offers en seremonies probeer het om God se guns te wen; dit is wat die Rooms Katolieke lidmaat gedink het toe hy in die tyd net voor die begin van die Reformasie die aflaatbriewe van Tetsel gekoop het om op so ‘n manier afbetaling by God te doen; dit is wat elkeen van ons dink wanneer ons ons gebede, ons bydrae vir die kerk en die armes, ons aktiwiteite in die kerkraad en ander kommissies, ons ywer vir God se koninkryk voor Hom gaan neerlê om so ons skuld by Hom af te betaal. Maar die Kategismus sny hierdie onmoontlike moontlikheid by die wortel af: “Kan ons deur onsself betaal? Nee, glad nie; ons maak juis ons skuld elke dag nog groter.” Elke oomblik van elke dag sak ons dieper in die watermassa weg – nee, gemeente, nie self nie!

Maar dalk ‘n ander skepsel? Sien u, tog nog maar weer probeer of iemand van ons soort nie dalk kan help nie, ‘n ander skepsel; miskien ‘n ander mens, miskien ‘n dier of ‘n engel? Nee, ook nie! Geen ander skepsel kan u en my sonde dra nie, geen ander skepsel kan ons uit die bek van die leeu ruk nie, ons uit die watermassa trek nie. Daarvoor is ons toestand eenvoudig te hopeloos, daarvoor is God se toorn oor ons sonde en afval te groot. Nee, broers en susters, God ruk alle valse steunpunte weg: ons goeie dade in die kerk, die kerk waarin ons meen om veilig te wees, ons geboorte uit gelowige ouers waarvan ons meen dat dit ons veilig stel. Alles waar ons hoop om houvas te vind, word een vir een uit ons hande geslaan. Hopeloos – voel u dit? Volledig hopeloos! Dit is die toestand van die volk in Dawid se beskrywing, dit is die toestand van u en van my… En tog staan dit in die deel van die verlossing! Want wie hierdie hopeloosheid persoonlik beleef, wie dit in sy lewe, in die lewe van die mense om hom heen, en in die wêreld sien, sy oë gaan oop vir die wonder wanneer die Here dit doen!

Dit is ons tweede gedagte: die verwondering wanneer die Here dit doen. 

2. As die Here nie vir ons was nie – daarmee begin Dawid psalm 124. En dan stop hy, want hy wil die volk saam met hom hê wanneer hy dit uitroep: Kom Israel, sê dit, bely dit: As die Here nie vir ons was nie… dan het hulle ons lewendig verslind, dan het die waters ons oorstroom, dan het die trotse waters oor ons siel gegaan.

Dawid sien die reddelose toestand van die volk deur die hele geskiedenis heen, hy sien dat hulle nie bekwaam is om teen die vyande weerstand te bied nie, hy sien dat hulle nie sterk genoeg is om die verleidings van die nasies te weerstaan nie – en dit is ook die rede waarom die Here die volk aanvanklik gebied het om al die nasies uit die beloofde land uit te roei, want die Here het die gevare gesien, en Hy wou sy volk nie met ‘n ander deel nie. Hy sê deur Josua in Josua 23:11: “Neem julle dan terdeë in ag ter wille van julle siele – daar het ons weer die ‘siele’ – om die Here julle God lief te hê.”

Maar die volk het nie die erns hiervan ingesien nie, en toegelaat dat sommige van die volke bly leef het; hulle met die volke omgegaan en hulle gode gedien, hulle is deur dié volke aangeval en verslaan. Broers en susters, ek het dit al verskeie male in preke gesê: die geskiedenis van die volk Israel was nie juis iets om op trots te wees nie, dit was nie ‘n geskiedenis wat spreek van geloof en gehoorsaamheid aan die Here nie.  

En tog is daar uitkoms… Tog bestaan die volk nog, tog is hulle nog die volk van God! En daarom wil Dawid dit op die hart van die volk bind: “Hou dit vas, Israel, maak dit julle daaglikse belydenis: as dit nie vir die Here was nie, as dit nie vir die Here is nie…” Daar mag geen twyfel bestaan oor Israel se Verlosser nie, die volk kan nie hulle verlossing aan ‘n ander oorsaak toeskryf nie, want niks was of is in staat om te help in die nood waarin Israel verkeer het nie. Hulle het slegs een Redder in hierdie verskriklike toestand: Israel, besef dit, as die Here nie vir ons was en is nie, as…

En, gemeente, hierdie ‘as’ waartoe Dawid die volk oproep, dit wys nie slegs op die redding in die verlede nie, nee, dit hou ook die weg oop na die toekoms, na die Messias. As die Here nie vir sy volk gestry het nie, as Hy hulle nie uit alle gevare en verleidings verlos het nie, as Hy hulle behandel het soos wat hulle verdien het, dan sou die geboorte van die Messias uit Israel lankal skipbreuk gely het, dan sou die hopelose situasie hopeloos gebly het. Maar die Here is getrou, die Here gaan voort met sy werk, die Here het die mag om sy volk uit alle situasies te red, Hy het die lyn na die Messias oopgehou.  

Gemeente, laat ons ook elke dag weer deurdronge wees van hierdie ‘as’ van die geloof: as die Here ons nie uit ons hopelose toestand gehaal het nie, ja, sê dit, bely dit: as die Here ons nie gered het nie, dan was ons verlore, sou ons doodsvyande (die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur) ons verwoes het. O, ons sou nog gelewe het, ons sou nog gewerk het, ons sou nog gespeel en ontspan het, ons sou deelgeneem het aan die dinge van die wêreld, ons sou onsself gewerp het in die verleidinge om ons heen, ons sou toegegee het aan die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur, maar daardie einste dinge sou ons verslind het, die duiwel sou sy tande in ons geslaan het, ons sou oop oë in die lokval van die satan geloop het, ons sou verdrink het…

Broers en susters, besef daarom wat dit is om sonder God te lewe; moenie uself bluf en dink dat die ongelowiges so ‘n lekker lewe het nie, moet hulle nie beny omdat hulle skynbaar soveel vryheid het nie; jongmense, moenie jaloers wees op jou ongelowige mede-studente en kollegas wat skynbaar kan doen wat hulle wil nie; moenie jaloers wees op vriende wat op Sondae nie twee keer in die kerk hoef te sit nie, of Woensdae nie katkisasie hoef by te woon, of ‘n Vrydag-aand vir jeugvereniging hoef op te offer nie. Dit is geen lewe nie! Dit is om nog te probeer geniet terwyl die leeu jou verskeur, dit is nog om te probeer goed lyk terwyl die water jou platslaan. Dit is pateties! En ons sou ook pateties gewees het as die Here nie vir ons was nie. As die Here nie vir ons ingestaan het nie, dan was ons ook oorgegee aan die leeu, die waters, die voëlvanger, hoe mooi dit ook al van buite-af lyk.  

Maar ons is verlos deur die Here – Hy het die bekke van die leeus gestop, Hy het ons uit die kolkende watermassa weggeruk, Hy het ons uit die voëlvanger se net verlos. Geloofd sy daarom die Here – dit is die oproep van vers 6; hier kom Dawid by die hoogtepunt van die psalm, kom hy by sy oproep om die Here te prys vir sy genadige verlossing. Gemeente, die Here verdien slegs die hoogste eer en lof vir sy uitredding, Hy verdien niks minder nie as ons geloof en volle oorgawe, want u en ek, ons almal saam, leef van sy genade. Hy het ons vrygemaak! Die ouer mense ken hierdie psalm, en spesifiek hierdie woorde, as die vrymakingspsalm. Die Vrijmaking, daardie stuk geskiedenis in die veertigerjare van die vorige eeu in Nederland, waarin die Here ‘n wonder gewerk het deur sy kerk te bevry van die mag van die sinodale oorheersing. Vanuit daardie geskiedenis het ons eie Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika ons ontstaan. Dit is ook waarvoor die woordjie Vrye by ons kerk se naam staan – ons is nie vrysinnig nie; nee, ons is vry van menslike oorheersing om na die Here alleen te luister. En daarom het, tydens die Vrijmaking in Nederland, hierdie psalm 124 dikwels opgeklink – ons het vrygeraak.

Maar laat ons besef dat die woorde van hierdie psalm ‘n baie groter basis het as net daardie stuk geskiedenis; want behalwe dat ons vry is van menslike oorheersing, het ons bo alles vrygeraak van die sonde en die dood waaraan ons gebonde was. Hierdie psalm spreek voor alles van mense wat van die Here afvallig geword het met alle konsekwensies van dien, maar deur die Here teruggebring word op die pad van die lewe. Hierdie psalm spreek van die feit dat Here ons gered het van ‘n gewisse dood om weer met Hom om te gaan! 

En daarom, broers en susters, is dit so pragtig om elke keer wanneer ons op ‘n besondere manier met die Here omgaan hier in die kerk, elke erediens, te begin met die laaste woorde van Psalm 124: “Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het.” Die kerk leef van God se genade, ons lewe hang daarvan af, ons kan nie daarsonder nie – en daarvan wil ons belydenis aflê tydens elke erediens. Met elke erediens bely ons dat God aktief aanwesig is ter wille van sy volk wat Hy verlos het. Ons bely dit met hart en mond: Ons hulp is in sy Naam! 

Gemeente, as dit nie vir hierdie God was nie, as Hy ons nie verlos het nie, as Hy nie ons hulp was en is nie… Miskien moet ons dit positief stel as ons enigste houvas vir die komende week: as God vir ons is, wie kan teen ons wees?

Amen 

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 30:1 en 3
Gebed
Lees: Psalm 124
Kollekte
Sing Ps. 94:8-10
Teks: HK, Sondag 5
Preek
Amenlied Ps. 121
Belydenis van geloof (lees en staan)
Sing Ps. 9:1 en 7
Gebed
Slotsang Ps. 124
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)